Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/12 bl. 16-19
  • Middeleeuse meesters van die sterrekunde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Middeleeuse meesters van die sterrekunde
  • Ontwaak!—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pioniers van die sterrekunde
  • Staatsbefondsing
  • Die opmeting van die aarde
  • Die nalatenskap van Middeleeuse sterrekundiges
  • Hoe Arabies die taal van die geleerdes geword het
    Ontwaak!—2012
  • My stokperdjie is sterrekunde
    Ontwaak!—1996
  • Kartering van die hemele—In die verlede en die hede
    Ontwaak!—2000
  • Die sterre en die mens—Is daar ’n verband?
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 4/12 bl. 16-19

Middeleeuse meesters van die sterrekunde

MENSE is deur die geskiedenis heen met ontsag vervul wanneer hulle die son, die maan en die sterre aanskou het. Deur die posisies en bewegings van hierdie hemelliggame te bestudeer, kon die mens bepaal wanneer dae, maande en jare verstryk het.

Die Arabiere was een van talle volke wat die naghemel bestudeer het. Die goue era van wetenskap in die Midde-Ooste het in die negende eeu HJ begin, en Arabiessprekende sterrekundiges van daardie tydperk is as meesters van die sterrekunde beskou. Hulle bydraes het ’n uiters belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van hierdie fassinerende wetenskap. Kom ons kyk hoe.

Pioniers van die sterrekunde

Gedurende die sewende en agtste eeu HJ het Islam weswaarts versprei vanaf Arabië deur Noord-Afrika en tot in Spanje, en ooswaarts tot by Afganistan. Geleerdes in hierdie uitgestrekte gebied het baat gevind by die wetenskaplike nalatenskap van die Perse en die Grieke, wat grootliks beïnvloed is deur die Babiloniërs en die Egiptenare.

Later, gedurende die negende eeu, is belangrike wetenskaplike geskrifte in Arabies vertaal, insluitende die werke van die Griekse sterrekundige Ptolemeus.a Die Abbasiede-dinastie, wie se ryk van Afganistan tot by die Atlantiese Oseaan gestrek het, het Sanskritiese geskrifte van Indië verkry, wat ’n magdom inligting oor wiskunde, sterrekunde en die ander wetenskappe bevat het.

In Islam is daar groot waarde aan sterrekunde geheg. Waarom? Een rede het met die Moslems se aanbidding verband gehou. Hulle glo dat hulle hulle in die rigting van Mekka moet keer wanneer hulle bid, en sterrekundiges kon die rigting van Mekka haarfyn aanwys, ongeag waar hulle was. Teen die 13de eeu het party moskees selfs ’n professionele sterrekundige, of muwaqqit, in diens geneem wat aanbidders gehelp het om op die gepaste Islamitiese wyse te bid. Sterrekundiges kon ook hulle kennis gebruik om die datums van godsdiensvieringe en -gebruike, soos die vastydperk gedurende die maand Ramadan, vas te stel. Daarbenewens kon hulle pelgrims wat na Mekka gereis het, help om te bepaal hoe lank hulle reis sou duur en om die beste roete te kies.

Staatsbefondsing

In Bagdad het sterrekunde teen die vroeë negende eeu deel uitgemaak van elke student se opvoeding. Die kalief Al-Mamoen het ’n sterrewag daar opgerig, en toe nog een naby Damaskus. Die aardrykskundiges en wiskundiges wat vir hom gewerk het, het die sterrekundige inligting wat hulle van die Perse, Indiërs en Grieke ontvang het, bestudeer, vergelyk en teenstrydighede probeer uitstryk. Sterrewagte is ook in ’n aantal ander Midde-Oosterse stede gebou.b

Die geleerdes wat in hierdie sentrums gewerk het, het merkwaardige resultate vir daardie tyd behaal. Byvoorbeeld, reeds in 1031 het Aboe Raihan al-Biroeni die moontlikheid gemeld dat planete in ellipsvormige eerder as sirkelvormige wentelbane beweeg.

Die opmeting van die aarde

Die verspreiding van Islam het belangstelling gewek in kartografie en navigasie. Kartograwe het daarna gestreef om uiters akkuraat te wees wat hulle opmetings betref, en hulle het dit dikwels reggekry. Die kalief Al-Mamoen het twee spanne landmeters in die Siriese Woestyn ingestuur omdat hy ’n akkurate wêreldkaart wou maak en breedtegrade daarop wou aanbring. Toegerus met astrolabiums (sterrehoekmeters), meetstokke en meetsnoere, het die spanne in teenoorgestelde rigtings gestap totdat hulle ’n verandering van een graad in die graadhoogte van die Poolster gesien het. Hulle het geredeneer dat die afstand wat hulle gestap het, gelykstaande is aan een breedtegraad, of 1/360 van die aarde se omtrek. Hulle het bereken dat die polêre omtrek 37 369 kilometer is—baie naby aan die eintlike syfer van 40 008 kilometer!

Midde-Oosterse sterrewagte het ’n indrukwekkende verskeidenheid gesofistikeerde toerusting gehad—astrolabiums, kwadrante, sekstante, sonwysers en ander instrumente wat gebruik is om hemelliggame te bestudeer en hulle bewegings te volg. Party van hierdie instrumente was baie groot. Die ontwerpers daarvan het geredeneer: Hoe groter die instrument, hoe groter die akkuraatheid daarvan.

Die nalatenskap van Middeleeuse sterrekundiges

Ja, wat hierdie Middeleeuse meesters van die sterrekunde bereik het, was waarlik indrukwekkend. Hulle het ’n lys en tekeninge gemaak van die sterrebeelde, die sterre name gegee, akkurater kalenders opgestel en tabelle wat die bewegings van hemelliggame aandui, verder verfyn. Hulle kon enige tyd van die dag of nag sê presies waar die son, maan en vyf sigbare planete is—’n waardevolle hulpmiddel in navigasie. Deur die posisies van hemelliggame waar te neem, kon hulle ook sê hoe laat dit is en ’n kalender maak.

Die teorieë wat Arabiessprekende sterrekundiges ontwikkel het om die bewegings van die planete te verklaar, het byna die teenstrydighede wat hulle in Ptolemeus se model van die heelal gevind het, uit die weg ruim. Wat hulle nie geweet het nie, is dat die planete om die son wentel, nie om die aarde nie. Nietemin het hulle die bewegings van sterre met ongekende akkuraatheid opgeteken, en hulle bevindings was deur daaropvolgende geslagte heen van onskatbare waarde vir sterrekundiges regoor die wêreld.

[Voetnote]

a Die Grieke het reeds vasgestel dat die aarde bolvormig is. ‘Wat anders kan verklaar dat die Poolster al laer in die hemel hang namate ’n mens suidwaarts reis?’ het hulle geredeneer.

b Hierdie sterrewagte is dikwels opgerig as gevolg van ’n heerser se belangstelling in sterrewiggelary.

[Venster/Prente op bladsy 19]

’N EERTYDSE “SAKREKENAAR”

Die astrolabium, die voorganger van die sekstant, is al “die belangrikste sterrekundige instrument voor die koms van die teleskoop” genoem. Middeleeuse wetenskaplikes in die Midde-Ooste het hierdie instrument gebruik om vraagstukke in verband met tyd en die posisies van hemelliggame op te los.

Die astrolabium het bestaan uit ’n gepoleerde metaalplaat waarop ’n eenvoudige model van die hemelruim geprojekteer is. Grade, of soms die ure van die dag, is gegraveer al om die buiterand van die basis waarop die plaat aangebring is. ’n Draaibare aanwyser (die visierliniaal) is gebruik om die graadhoogte van ’n sekere ster te bepaal deur die toestel ’n armlengte van jou af omhoog te hou. Die resultate is dan afgelees met behulp van ’n maatverdeling, soortgelyk aan dié op ’n rekenliniaal.

Die veelsydige astrolabium het ’n persoon in staat gestel om sterre te identifiseer, die tyd van die sonsopkoms en sonsondergang op ’n sekere dag te voorspel, die rigting te bepaal waarin Mekka lê, landopmetings te doen, die graadhoogte van voorwerpe te bereken en te navigeer. Dit was die “sakrekenaar” van daardie tyd.

[Prente]

’n Astrolabium uit die 13de eeu

’n Astrolabium-kwadrant uit die 14de eeu

[Erkennings]

Astrolabium: Erich Lessing/Art Resource, NY; astrolabium-kwadrant: © New York Public Library/Photo Researchers, Inc.

[Prent op bladsy 16]

’n Tekening uit die 16de eeu van Ottomaanse sterrekundiges wat metodes gebruik wat deur Arabiese geleerdes ontwikkel is

[Prent op bladsy 17]

Sterrekundiges het van planetêre bewegings verslag gehou in ’n toenemende aantal almanakke wat in alle Islamitiese lande opgestel is

[Prent op bladsy 18]

Hemelbol, 1285 HJ

[Prent op bladsy 18]

Blaaie uit ’n Arabiese manuskrip oor sterrebeelde, geskryf deur die sterrekundige Abd al-Rahman al-Soefi, omstreeks 965 HJ

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Bladsye 16 en 17: Art Resource, NY

[Foto-erkennings op bladsy 18]

Manuskrip: By permission of the British Library; aardbol: © The Bridgeman Art Library

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel