Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/12 bl. 26-28
  • Hoe Arabies die taal van die geleerdes geword het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe Arabies die taal van die geleerdes geword het
  • Ontwaak!—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Smeltkroes van idees
  • Arabiese bydraes
  • Nuwe sentrums van geleerdheid
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Middeleeuse meesters van die sterrekunde
    Ontwaak!—2012
  • Middeleeuse meesters van die geneeskunde
    Ontwaak!—2012
  • Die biblioteek van Aleksandrië herleef
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 2/12 bl. 26-28

Hoe Arabies die taal van die geleerdes geword het

ARABIES was eeue lank die vernaamste taal van die geleerdes. Vanaf die agtste eeu HJ het Arabiessprekende geleerdes in verskeie Midde-Oosterse stede wetenskaplike en filosofiese tekste vertaal en nagesien, waarvan party in die dae van Ptolemeus en Aristoteles geskryf is. Sodoende het Arabiessprekende geleerdes verseker dat die werk van eertydse denkers behoue sou bly en het hulle dit verryk.

’n Smeltkroes van idees

In die sewende en agtste eeu van die huidige jaartelling het nuwe magte in die Midde-Ooste aan die bewind gekom in die vorm van twee dinastieë—eers die Omajjade- en toe die Abbasidiese dinastie. Aangesien hulle onderdane in Arabië, Egipte, Irak, Klein-Asië, Palestina en Persië eens onder Griekse sowel as Indiese invloed was, het die nuwe heersers toegang gehad tot ’n skatkis van kennis. Die Abbasiede het ’n nuwe hoofstad, Bagdad, gebou, en dit het ’n smeltkroes van idees geword. Hier het Arabiere idees uitgeruil met Armeniërs, Berbers, Chinese, Grieke, Indiërs, Jode, Kopte, Perse, Turke en Sogdiërs, van oorkant die Oxusrivier, wat nou bekend staan as die Amoe Darja, in Sentraal-Asië. Saam het hulle die wetenskappe bestudeer en daaroor gedebatteer, en sodoende het ’n kruisbestuiwing van hulle uiteenlopende intellektuele kulture plaasgevind.

Bagdad se Abbasidiese heersers het begaafde denkers, ongeag waar hulle vandaan gekom het, aangespoor om tot die intellektuele vooruitgang van die ryk by te dra. Stelselmatige pogings is aangewend om tienduisende boeke oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe, insluitende alchemie, filosofie, fisika, geneeskunde, meetkunde, musiek en rekenkunde, te versamel en dit in Arabies te vertaal.

Die kalief Al-Mansoer, wat van 754 tot 775 HJ geheers het, het gesante na die Bisantynse hof gestuur om Griekse wiskundige tekste te verkry. Die kalief Al-Mamoen (813-833 HJ) het sy voorbeeld gevolg en sodoende stukrag gegee aan ’n beweging om Griekse tekste in Arabies te vertaal, ’n beweging wat meer as twee eeue lank aangehou het. Gevolglik was byna al die Griekse filosofiese en wetenskaplike tekste wat destyds beskikbaar was, teen die einde van die tiende eeu in Arabies vertaal. Maar Arabiese geleerdes het nie net vertaal nie. Hulle het ook self tot die skatkis van kennis bygedra.

Arabiese bydraes

Talle Arabiese vertalers het noukeurig en met verbasende spoed gewerk. Daarom het party geskiedkundiges aangevoer dat die vertalers met die onderwerpe vertroud moes gewees het. Wat meer is, ’n aantal geleerdes het vertaalde tekste gebruik as ’n wegspringplek vir hulle eie navorsing.

Byvoorbeeld, die geneesheer en vertaler Hoenain ibn Isjak (808-873 HJ), ’n Siriese Christen, het ’n betekenisvolle bydrae gelewer tot ons begrip van sig. Sy werk, wat akkurate anatomiese diagramme van die oog ingesluit het, het ’n standaardnaslaanwerk oor oogheelkunde geword in die Arabiese wêreld sowel as Europa. Die filosoof en geneesheer Ibn Sina, wat in die Weste bekend staan as Avicenna (980-1037 HJ), het tientalle boeke oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe geskryf, van etiek en logika tot geneeskunde en metafisika. Sy groot versameling geskrifte, die Kanon van Geneeskunde, was gegrond op die mediese kennis wat destyds beskikbaar was, insluitende die idees van die beroemde Griekse denkers Galenus en Aristoteles. Die Kanon was sowat 400 jaar lank die standaard- mediese handboek.

Arabiese navorsers het die eksperimentele metode van wetenskaplike navorsing gebruik, wat die grondslag van wetenskaplike vooruitgang vorm. Dit het daartoe gelei dat hulle die aarde se omtrek herbereken het en aardrykskundige inligting in die werk van Ptolemeus hersien het. “Hulle het selfs gedurf om Aristoteles te bevraagteken”, sê die geskiedkundige Paul Lunde.

Akademiese vooruitgang kon gesien word op talle praktiese gebiede, soos die bou van reservoirs, akwadukte en waterwiele, waarvan party tot vandag toe behoue gebly het. Nuwe tekste oor landbou, plantkunde en veldkunde het boere in staat gestel om die beste gewasse vir ’n spesifieke gebied te kies, wat groter oeste tot gevolg gehad het.

In 805 HJ het die kalief Haroen ar-Rasjied ’n hospitaal geopen, die eerste in sy uitgestrekte ryk. Kort voor lank was daar een in elke groot stad in sy ryk.

Nuwe sentrums van geleerdheid

’n Aantal stede in die Arabiese wêreld het gespog met biblioteke en gespesialiseerde sentrums van geleerdheid. In Bagdad het die kalief Al-Mamoen die vertalings- en navorsingsinstituut Bait al-Hikma gestig, wat “Huis van wysheid” beteken. Die personeel het betaalde geleerdes ingesluit. Die vernaamste biblioteek in Kaïro het na bewering meer as ’n miljoen geskrifte bevat. Córdoba, die hoofstad van Omajjade-Spanje, het 70 biblioteke gehad, wat geleerdes en studente van regoor die Arabiese wêreld gelok het. Córdoba was meer as twee eeue lank ’n toonaangewende intellektuele sentrum.

In Persië het Griekse wiskundige tradisies vermeng geraak met dié van Indië, waar wiskundiges vorendag gekom het met ’n stelsel vir die gebruik van die syfer nul, asook die plekwaarde-getallestelsel. Volgens hierdie stelsel om getalle te skryf, kry individuele syfers verskillende waardes afhangende van hulle posisie en die posisie van die nul. Die syfer een kan byvoorbeeld een, tien, honderd, ensovoorts voorstel. Hierdie stelsel “het nie net allerhande soorte berekeninge vereenvoudig nie, maar het ook die ontwikkeling van algebra moontlik maak”, skryf Lunde. Arabiese geleerdes het ook baie vooruitgang gemaak in meetkunde, driehoeksmeting en navigasie.

Die goue eeu van Arabiese wetenskap en wiskunde het ’n teenstelling gevorm met die intellektuele duisternis in die res van die wêreld. In Middeleeuse Europa is soortgelyke pogings, hoofsaaklik in kloosters, aangewend om die werke van eertydse geleerdes te bewaar. Min is egter vermag in vergelyking met die Arabiese wêreld. Maar reeds in die tiende eeu het dinge begin verander toe ’n klein stroompie vertalings van Arabiese vakkundige werke die Weste bereik het. Mettertyd het hierdie stroompie ’n rivier geword wat tot die Europese wetenskaplike renaissance gelei het.

Ja, uit die geheelbeeld wat die geskiedenis ons gee, sien ons dat geen enkele nasie of volk al die eer kan kry vir die kennis wat ons nou van die wetenskappe en verwante velde het nie. Vandag se meer geleerde kulture is baie verskuldig aan vroeëre kulture wat navorsing bevorder het, gevestigde opvattings bevraagteken het en mense aangespoor het om te dink.

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

◼Omajjade-invloed

◻Abbasidiese invloed

SPANJE

Córdoba

BISANTYNSE RYK

Rome

Konstantinopel

Oxusrivier

PERSIË

Bagdad

Jerusalem

Kaïro

ARABIË

[Prent op bladsy 27]

Hoenain ibn Isjak se diagram van die oog

[Prent op bladsy 27]

’n Bladsy uit Avicenna se “Kanon van Geneeskunde”

[Prent op bladsy 28]

Arabiese geleerdes in ’n biblioteek in Basra, 1237 HJ

[Erkenning]

© Scala/White Images/Art Resource, NY

[Foto-erkennings op bladsy 27]

Diagram van die oog: © SSPL/Science Museum/Art Resource, NY; Kanon van Geneeskunde: © The Art Gallery Collection/Alamy

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel