“Kyk net daardie neus!”
DIT is gewoonlik mense se eerste reaksie wanneer hulle die neusaapmannetjie met sy hangende, vlesige neus sien.a By party mannetjies kan hierdie aanhangsel tot 18 sentimeter lank word—omtrent ’n kwart van die dier se liggaamslengte. Omdat die neus oor die mannetjie se mond en ken hang, moet hy dit eenkant toe stoot wanneer hy eet! As jou neus so groot was in verhouding tot jou liggaam, sou dit byna halfpad teen jou bors afgehang het.
Van watter nut is hierdie neus vir die neusaapmannetjie?b Daar is verskillende teorieë. Dit is moontlik dat sy neus oortollige liggaamshitte uitstraal of hom ’n kragtiger stem gee. Of dit dien dalk as ’n sigbare waarskuwing vir ander mannetjies. Trouens, die dominante mannetjie se neus swel en word rooi wanneer hy kwaad of opgewonde raak. Nog ’n moontlikheid is dat die neus die teenoorgestelde geslag aantrek en ’n wyfie se hart vinniger laat klop! Maar die neus vervul heel waarskynlik meer as een funksie, wat dalk ’n paar insluit waarvan ons min of niks weet nie.
Groot boeppense
Neusape—mannetjies sowel as wyfies—het ook ’n onmiskenbare boeppens. Trouens, die inhoud van hulle maag kan tot ’n kwart van hulle liggaamsgewig uitmaak. Gevolglik lyk dit asof mannetjies sowel as wyfies altyd dragtig is! Waarom het hulle sulke boeppense?
Die neusaap se maag, soos dié van ’n bees, is vol van ’n sopagtige mengsel plante en bakterieë. Die bakterieë laat die kos gis en breek sellulose af, sowel as sekere gifstowwe in plante wat ander diere sou doodmaak. Danksy hulle verbasende spysverteringstelsel kan neusape blare en die suikerlose vrugte en saad van peulplante, palms en ander plante eet—voedselsoorte waarvan ape met ’n ander soort maag nie sou kon lewe nie.
Die neusaap se sterk spysverteringstelsel hou egter ook ’n nadeel in. Die dier moet wegbly van soet vrugte, wat vinnig gis. Sulke soet vrugte sal die aap se maag laat opswel en dalk selfs tot ’n pynlike dood lei.
Omdat hulle dieet ryk is aan sellulose en hulle ’n komplekse maag het, het neusape baie tyd nodig om hulle kos te verteer. Ná ’n stewige ontbyt geniet hulle dus ’n slapie—soms ure lank—voordat hulle weer eet.
’n Sosiale dier
Hetsy hulle eet of rus, neusape is byna nooit alleen nie. Dominante mannetjies het ’n harem van tot agt wyfies en hulle kleintjies. Mannetjies wat in hierdie groep gebore word, word uitgeskop wanneer hulle oud genoeg is om vir hulleself te sorg. Hierdie jong mannetjies sluit aan by ander jong mannetjies en vorm groepe waarin daar ook een of twee groter mannetjies is. Vir iemand wat nie ’n kenner is nie, lyk sulke groepe dalk na ’n harem.
Neusape het ’n buitengewone sosiale gewoonte—harems meng dikwels met mekaar, veral wanneer hulle in die aand saam by riviere is. As ’n mannetjie dan voel dat ’n ander mannetjie belangstelling in sy wyfies toon, sal hy ’n vertoning van sy krag maak. Gewoonlik sal die mannetjie—wat omtrent 20 kilogram kan weeg—op al vier pote vorentoe leun en sy teenstander met sy mond wyd oop aanstaar. “As dit nie die gewenste uitwerking het nie”, sê die boek Proboscis Monkeys of Borneo, “sal die mannetjie skielik en onverwags deur die bome begin spring, dikwels met ’n harde gebrul terwyl hy op dooie takke land wat met ’n skerp klapgeluid breek, wat tot die rumoer bydra.” Soms veg die mannetjies wel, maar dit gebeur blykbaar selde.
“Neusape het nie net ’n buitengewone voorkoms nie; hulle maak ook die vreemdste geluide”, sê die boek wat vroeër aangehaal is. Die diere grom, kwetter, brul en skreeu, veral in die aand wanneer hulle naby riviere bymekaarkom. Te midde van al die rumoer sal die wyfies moontlik rustig sit en hulle kleintjies, met hulle blouerige gesiggies, voer en versorg. Uiteindelik, teen die tyd dat skemer oor die woud daal, het die diere al gerieflike slaapplekkies gevind in die bome—gewoonlik hoë bome by ’n rivier—waar hulle die nag sal deurbring.
Ape met gewebde pote!
Benewens hulle neus het neusape nog ’n eienaardige kenmerk—gedeeltelik gewebde pote. Dit stel die diere nie net in staat om goed te swem nie, maar ook om veilig op die modder van wortelboommoerasse te loop. Wanneer jy aan tropiese wortelboommoerasse dink, dink jy natuurlik ook aan krokodille. Krokodille is volop in die neusaap se gebied. Wat doen hierdie ape sodat hulle nie krokodilkos word nie?
Een strategie wat hulle gebruik, is om stilletjies in ’n rivier in te glip en in ’n ry na die oorkant te swem terwyl hulle skaars ’n rimpel op die water maak. Maar daar is al gesien dat hulle ’n ander strategie gebruik as die rivier smal is. Hulle klim hoog in ’n boom op, hardloop op ’n tak, wat tot nege meter bokant die water kan wees, spring dan deur die lug en val op hulle maag in die rivier, waarna hulle so vinnig as wat hulle kan na die oewer swem. Selfs wyfies met kleintjies gebruik hierdie taktiek. Soms sal ’n hele trop in die water spring en inderhaas na die ander kant toe swem! Hulle grootste vyand is egter nie die krokodil nie.
’n Bedreigde spesie
Neusape is amptelik op die lys van bedreigde spesies, aangesien daar net ’n paar duisend in hulle natuurlike habitat oor is, en hulle getalle bly afneem—hoofsaaklik as gevolg van mense. Die menslike oorsake is onder meer brande, houtkappery, onbeheerde toerisme en die ontbossing van woude om oliepalmplantasies aan te plant. Nog ’n faktor is dat daar op neusape jag gemaak word. Party mense maak neusape sommer vir die sport dood. Ander maak hulle dood vir kos of vir gebruik in tradisionele medisyne. Omdat die diere dikwels in bome langs riviere slaap, waar hulle duidelik sigbaar is, is hulle ’n maklike prooi. In een gebied waar jagters dikwels vanuit motorbote jag, het die aantal ape in vyf jaar met 50 persent afgeneem!
Natuurbewaarders probeer mense bewus maak van die dier se dilemma, en in Borneo word neusape deur die wet beskerm. Maar is hierdie maatreëls voldoende? Net die tyd sal leer. Hoe tragies sal dit tog wees as hierdie dier uit die natuur verdwyn, aangesien die neusaap ’n interessante dier met talle eienaardige kenmerke is! Wat meer is, die dier vaar gewoonlik nie goed in aanhouding nie.
Die neusaap is natuurlik net een van baie diere wat ’n duister toekoms in die gesig staar. Tallose ander spesies het reeds verdwyn. Maar dit is God se voorneme om volle beheer oor die aarde oor te neem, die goddeloses te verwyder en sy volk te leer hoe om op die regte manier na hulle aardse tuiste om te sien (Spreuke 2:21, 22). “Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie”, belowe Jehovah God, “want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”—Jesaja 11:9.
[Voetnote]
a Die neusaap word aangetref op die eiland Borneo. Plaaslike mense noem die dier orang belanda, of “Hollander”.
b Wyfies het ook ’n groot neus, maar dit is nie so groot soos dié van die mannetjie nie.
[Prent op bladsy 12]
Neusape het ’n onmiskenbare neus en boeppens
[Erkenning]
© Peter Lilja/age fotostock
[Prent op bladsy 13]
Die mannetjie se neus hang oor sy mond. Hy moet dit eenkant toe stoot wanneer hy eet
[Erkenning]
© Juniors Bildarchiv/Alamy
[Prent op bladsy 14]
Hetsy hulle eet of rus, neusape is selde alleen
[Erkenning]
© Peter Lilja/age fotostock