Dierenavorsing—Seën of vloek?
AS JY onder die baie miljoene mense is wat hulle eerste asemteug teen die begin van hierdie eeu geneem het, weet jy heel moontlik dat jou lewensduur die verwagtinge van jou ouers en die dokter of vroedvrou wat jou verlos het ver oortref het. As jy in die Verenigde State, Kanada of Europa gebore is, was jou lewensverwagting in die jaar 1900 omtrent 47 jaar. In ander lande was die lewenskans selfs minder. Vandag is die lewensverwagting in baie lande oor die 70 jaar.
Wat jou ouderdom ook al is, jy leef in ’n paradoksale tyd. Jou grootouers of oorgrootouers het die onbeteuelbare gevolge van talle siektes aanskou wat hulle geslag uitgedun het. Pokke het byvoorbeeld elke jaar die lewe van ontelbare duisende geneem en miljoene ander lewenslank geskend. Griepepidemies het ook lewens geëis—een epidemie alleen het in een jaar (1918-19) 20 miljoen mense se dood beteken. Na die Eerste Wêreldoorlog het epidemiese tifus driemiljoen mense in Rusland laat sterf. Tifusepidemies het in baie ander lande gedurende die Tweede Wêreldoorlog voorgekom. Daar word geskat dat 25 uit elke 100 mense wat gedurende tifusepidemies besmet is, gesterf het.
Die verskriklike siekte kinderverlamming, wat later bekend geword het as poliomiëlitis, het die wêreldbevolking jaarliks met sowat 30-000 mense verminder en duisende ander, veral kinders, kreupel gelaat. Daar was sommige bloedjong kinders wat nie hulle eerste aanval van buiktifus of witseerkeel, skarlakenkoors of masels, kinkhoes of longontsteking oorleef het nie. Die lys lyk eindeloos. Ongeveer 10-000 uit elke 100 000 babas wat in 1915 gebore is, het voor hulle eerste verjaarsdag gesterf. Daar kon nie aan breingewasse geopereer word nie. Hulle het nie geweet hoe om verstopte are oop te maak nie. Dokters was magteloos om hartaanvalslagoffers te red, en kanker het ’n gewisse dood beteken.
Ten spyte van die dodelike plae wat die wêreld sedert die eeuwisseling en daarvoor geteister het, het die mens se lewensverwagting vandag met omtrent 25 jaar toegeneem. In baie dele van die wêreld is ’n kind wat vandag gebore word se lewensverwagting dus omtrent 70 jaar.
Die prys wat betaal word om lewens te red
Gelukkig het die meeste jongmense wat vandag leef baie van die dodelike siektes vrygespring wat verantwoordelik was vir die vroeë dood van baie van hulle voorouers. Maar hulle sal moontlik minder gelukkig wees oor die wete dat baie van die mens se dierevriende—honde, katte, konyne, ape en ander—geoffer is vir die saak van die mediese wetenskap, ‘sodat mense vandag langer en gesonder lewens kan lei’, soos die wetenskaplikes geneig is om dit uit te druk.
Feitlik al die siektes wat in hierdie eeu geëlimineer of onder beheer gebring is—polio, witseerkeel, pampoentjies, masels, rubella, pokke en ander—is deur dierenavorsing baasgeraak. Narkosemiddels en pynstillers, binneaarse voeding en geneesmiddels, bestralingsterapie en chemoterapie vir kanker is alles eers op diere getoets en doeltreffend bewys. En hierdie is maar ’n paar voorbeelde.
“Daar is feitlik geen belangrike behandeling of chirurgiese metode in hedendaagse geneeskunde wat sonder dierenavorsing ontwikkel kon word nie”, het ’n bekende neuroloog, dr. Robert J. White, gesê. “Werk met honde en ander diere het gelei tot die ontdekking van insulien en die beheer van diabetes, opehartchirurgie, die hartpasaangeër en die hele gebied van orgaanoorplanting. Polio . . . is amper heeltemal in die Verenigde State uitgeroei deur voorkomende entstowwe wat op ape vervolmaak is. Deur diere te gebruik, het navorsers die genesingsyfer vir kinders met limfosietleukemie van vier persent in 1965 tot 70 persent vandag laat styg”, het dieselfde dokter gesê.
Die rol van dierenavorsing word bevestig deur voormalige laboratoriumassistent Harold Pierson, wat onder dr. F. C. Robbins aan die Western Reserve-Universiteit, Cleveland, Ohio, VSA, gewerk het. Hy het aan Ontwaak! gesê dat hulle program om ’n mondelike entstof vir polio te ontdek, behels het dat hulle aapniere moes gebruik. Die weefsel van een nier kon vir duisende toetse gebruik word. Hy het verduidelik: “Die ape is in menslike omstandighede gehou en was altyd onder narkose wanneer daar op hulle geopereer is. Daar was beslis geen opsetlike wreedheid nie. Maar op grond van hulle operasies was hulle onwillekeurig slagoffers van wetenskaplike wreedheid.”
Hartchirurgie en Alzheimer-siekte
As ’n direkte gevolg van dierenavorsing is nuwe chirurgiese vaardighede ontwikkel om slagare wat deur cholesterolneerslae verstop is, oop te maak en sodoende baie hartaanvalle—die hoofoorsaak van sterfgevalle in die Westerse wêreld—te voorkom. Deur eers op diere te eksperimenteer, leer dokters hoe om massiewe gewasse suksesvol uit die mensebrein te verwyder en hoe om afgesnyde ledemate—arms, bene, hande en vingers—weer aan te heg. Dr. Michael DeBakey, wat die eerste suksesvolle koronêre omleiding gedoen het, het gesê: “Op my gebied van kliniese navorsing is feitlik elke pioniersontwikkeling in kardiovaskulêre chirurgie op diereproefneming gebaseer.”
Dr. Zaven Khachaturian van die Amerikaanse Nasionale Instituut van Veroudering het aangaande Alzheimer-siekte gesê: “Agt jaar gelede het ons feitlik niks geweet nie. Daar is ongelooflike vordering gemaak met Alzheimer-navorsing omdat ons belê het in basiese navorsing omtrent breinwerking wat na die dertigerjare teruggaan.” Die grootste gedeelte van die werk het diere behels, en die dokter het opgemerk dat hulle die sleutel tot voortgesette vordering is.
Vigs en Parkinson-siekte
Die soeke na ’n entstof om die afgryslike siekte Vigs te bestry, wat volgens party kenners se skatting teen 1991 omtrent 200 000 mense in die Verenigde State alleen sal laat sterf, is op die oomblik die kritiekste en laat wetenskaplikes en immunoloë oortyd werk. In 1985 het wetenskaplikes aan Nieu-Engeland se Streekprimaatsentrum daarin geslaag om die STLV-3-virus (die soort virus wat Vigs in ape veroorsaak) in makaakape te isoleer en aan ander oor te dra. Dr. Norman Letvin, immunoloog aan Nieu-Engeland se Streekprimaatsentrum, het gesê: “Noudat die virus geïsoleer is, het ons ’n dierlike model waarin ons entstowwe vir ape en vir mense kan ontwikkel. Dit is moontlik om heelwat meer van ’n baie klein aantal diere in ’n beheerde studie uit te vind as wat jy sal uitvind deur honderde menslike Vigs-pasiënte waar te neem.”
Dokters aan Yerkes se Streekprimaatsentrum vir Navorsing van Atlanta se Emory-Universiteit was die eerste om deur hulle navorsing op resusape te demonstreer dat die inplanting van dopamien-produserende weefsel in die brein ’n moontlike behandeling vir Parkinson-siekte is. Neurochirurge voer hierdie chirurgie al sedert 1985 by die Emory-Universiteitshospitaal op mense uit. Dokters meen dat dit tot ’n deurbraak in die soeke na ’n genesing vir die siekte kan lei.
Die mens het hom tot die diere gewend in sy soeke na antwoorde op kwellende vrae oor hoe hy sy eie onvolmaakte lewe, selfs tydelik, kan verbeter en onderhou. Maar die gebruik van diere in mediese navorsing laat belangrike morele en etiese geskille ontstaan wat nie maklik opgelos kan word nie.
[Venster op bladsy 5]
Dierenavorsing—’n Eeue-oue gebruik
DIE algemene gebruik van diere deur dokters en wetenskaplikes om die fisiologie van mense te verstaan, is nie eie aan hierdie 20ste eeu nie. Diere word al ten minste 2000 jaar lank in mediese navorsing gebruik. Verslae uit die derde eeu v.G.J. in Alexandrië, Egipte, toon dat die filosoof en wetenskaplike Erasistratus diere gebruik het om liggaamlike funksies te bestudeer en gevind het dat hulle op mense van toepassing is. In die vierde eeu het die beroemde Griekse wetenskaplike Aristoteles waardevolle inligting omtrent die struktuur en funksionering van die menseliggaam verkry deur diere te bestudeer. Vyf eeue later het die Griekse geneesheer Galenus ape en varke gebruik om sy teorie te staaf dat are bloed eerder as lug vervoer.