EURO 2012—’n Geskiedkundige gebeurtenis
GENIET jy dit om na ’n goeie sokkerwedstryd te kyk—of om selfs aan een deel te neem? Indien wel, weet jy heel moontlik van UEFA (die Europese Sokkervereniging) se EURO 2012-toernooi, wat op 8 Junie in Warskou, Pole, sal afskop en waarvan die eindwedstryd gespeel sal word op 1 Julie, in Kiëf, die Oekraïne. Wat is EURO 2012, en watter voorbereidings is daarvoor getref? Waarom sal dit ’n geskiedkundige gebeurtenis wees?
“Maak saam geskiedenis”
Die Europese sokkerkampioenskap word elke vier jaar sedert 1960 in Europa gehou. Van die verskillende lande waar hierdie toernooi al gehou is, is België, Duitsland, Engeland, Frankryk, Italië, Joego-Slawië, Nederland, Oostenryk, Portugal, Spanje, Swede en Switserland.
Hierdie jaar sal Pole en die Oekraïne die gesamentlike gasheer wees vir die eindtoernooi. In Pole sal die wedstryde plaasvind in Gdańsk, Poznan, Warskou en Wroclaw. In die Oekraïne sal die wedstryde gespeel word in Charkif, Donetsk, Kiëf en L’viv.
Volgens UEFA sal dit “die derde keer wees dat twee lande die gesamentlike gasheer sal wees van die eindtoernooi (België/Nederland in 2000 [en] Oostenryk/Switserland in 2008)”. Nogtans sal EURO 2012 ’n geskiedkundige gebeurtenis wees. Waarom? Hierdie jaar se eindtoernooi sal nie net die hoogtepunt wees van baie noue samewerking tussen die twee gasheerlande en die organiseerders nie, maar is ook die eerste toernooi wat in Sentraal- en Oos-Europa gehou sal word. Die amptelike slagspreuk vir hierdie jaar se geleentheid is dus “Maak saam geskiedenis”.
Voorbereidings
Een van die belangrikste voorbereidings vir enige toernooi is natuurlik om geskikte stadions te vind. Met hierdie doel voor oë het die gasheerstede Poznan en Charkif bestaande stadions opgeknap, terwyl die stadions in die ander ses stede splinternuut is. Hierdie stadions het sitplek vir ongeveer 358 000 toeskouers.
Aangesien soveel toeskouers verwag word, het die gasheerstede baie tyd en moeite aan veiligheidsmaatreëls bestee. Duisende sekuriteitspersoneellede word vir hierdie geleentheid opgelei. Volgens Science & Scholarship in Poland het hulle opleiding onder andere bestaan uit “die toepassing van veiligheidsmaatreëls by 140 samekomste, waar hulle . . . skares moes beheer, veiligheidsones moes skep en met buitelandse sekuriteitspanne moes saamwerk”.
Waarom is sulke maatreëls nodig? Om maar een ding te noem, owerhede besef dat groot sportbyeenkomste potensiële terroristeteikens is. Hulle weet ook dat rumoerige toeskouers dikwels ’n bedreiging vir mekaar inhou, soos vorige voorvalle van geweld en boewery al getoon het.
’n Gebalanseerde beskouing
Ongelukkig gaan baie toeskouers tot uiterstes wanneer dit by sport kom. “Wanneer my [sokker]span sleg vaar, voel ek ongelukkig en ontevrede met die lewe”, sê een sokkerentoesias. “As ’n kernoorlog ons in die gesig sou staar, dink ek eerlikwaar dat my grootste bekommernis sou wees of die volgende naweek se wedstryde daardeur geraak sal word.”
Kyk, in teenstelling hiermee, na die gebalanseerde beskouing van ontspanning wat ons vind in ’n ou boek van wysheid—die Bybel. Dit erken dat heilsame ontspanning nuttig is en sê dat daar “’n tyd [is] om te lag . . . en ’n tyd om rond te huppel” (Prediker 3:1-4). Die Bybel spoor ons ook aan om matigheid voor oë te hou (1 Timoteus 3:2, 11). Wanneer ons dus besluit watter dinge eerste in ons lewe sal kom, sal dit verstandig wees om die Bybel se raad te volg om te “onderskei tussen wat belangrik is en wat onbelangrik is” en om dan te “kies wat belangrik is”.—Filippense 1:10, Easy-to-Read Version.
[Venster/Prent op bladsy 25]
GEEN TABAK BY EURO 2012
Op 20 Oktober 2011 het UEFA aangekondig dat daar “’n algehele verbod [sal wees] op die gebruik, verkoop en bevordering van tabakprodukte in al die stadions wat UEFA vir EURO 2012 sal gebruik”. Die rede vir die verbod? “Die doel van ’n tabakvrye EURO 2012 is om respek te toon vir die gesondheid van ons toeskouers en al die ander wat by die toernooi betrokke is”, het Michel Platini, die president van UEFA, gesê. Die verbod word ook ondersteun deur die Europese Kommissaris Androulla Vassiliou, wat gasheerstede aangespoor het om die rookvrye sone verder uit te brei, soos na restaurante en openbare vervoermiddele. “Sokker en sport hou verband met gesondheid en fiksheid”, sê Vassiliou, “en tabak hou verband met die teenoorgestelde: die twee is eenvoudig nie versoenbaar nie.”
[Kaart op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
POLE
WARSKOU
Gdańsk
Poznan
Wroclaw
DIE OEKRAÏNE
KIËF
L’viv
Charkif
Donetsk
[Prent op bladsy 24]
Die EURO 2008-eindwedstryd tussen Duitsland en Spanje, by die Ernst Happel-stadion in Wene, Oostenryk
[Prent op bladsy 25]
Olimpiese Stadion in Kiëf, die Oekraïne
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Bladsye 24 en 25, albei foto’s: Getty Images