Die euro—’n nuwe geldeenheid vir ’n ou vasteland
’N JUBELENDE Franse Minister van Finansies het die nuwe munt gebyt en gesê: “Dit is die ware Jakob, dit is nie ’n vervalsing nie. Dit is die eerste een wat in Frankryk sowel as in Europa gemunt is.” Die munt was die eerste euro wat by Frankryk se amptelike munt geslaan is. Die datum was Maandag, 11 Mei 1998.
Wat is die euro? Hoe sal huisvrouens, arbeiders, toeriste en sakeondernemings regoor Europa daardeur geraak word? Sal dit enige nasleep in die wêreldekonomie hê? Voordat jy jou Duitse mark, lire of frank weggooi, sal dit dalk verstandig wees om eers die antwoorde op hierdie vrae te vind.
Hoe het die gedagte ontstaan?
Toe die Maastricht-verdrag op 1 November 1993 die Europese Gemeenskap in die Europese Unie (EU) verander het, was een van die hoofdoelwitte dat die lidlande een geldeenheid moet hê.a Europa het laas in die Romeinse tyd een geldeenheid gehad. Daar is besluit dat die naam van die nuwe geldeenheid die euro sal wees. Nie al die EU-lande neem aan hierdie monetêre samesmelting deel nie. Slegs 11 van die 15 EU-lande is nou in staat om die euro in gebruik te neem. Hierdie lande is België, Duitsland, Finland, Frankryk, Ierland, Italië, Luxemburg, Nederland, Oostenryk, Portugal en Spanje. Griekeland het nie aan die ekonomiese vereistes vir deelname voldoen nie. Die ander drie—Brittanje, Denemarke en Swede—het verkies om vir eers nie daaraan deel te neem nie.
Die euro sal geleidelik in gebruik geneem word. Vanaf 4 Januarie vanjaar is die euro op internasionale markte in niekontant-transaksies verhandel. Euromunte en -banknote sal vanaf 1 Januarie 2002 oor ’n tydperk van ses maande uitgereik word—waarna hierdie lande se vorige geldeenhede waarskynlik net in museums en gedenkkissies gevind sal word. Na raming sal die euro 12 miljard banknote en 70 miljard munte met ’n gesamentlike gewig van 300 000 ton vervang. Daar word gehoop dat die oorblywende EU-lande mettertyd ook in staat sal wees om ’n deel van die euroklub te word.
Oostenryk se Minister van Finansies het oor die oorskakeling na die euro gesê: “Ons staan aan die vooraand van ’n nuwe era wat die integrasie van Europa betref.” Maar in Europa is die openbare mening oor die euro verdeel tussen die 47 persent wat voel dat een geldeenheid Europa in ’n ekonomiese reus sal verander en die 40 persent wat meen dat die euro die Europese ekonomie sal lamlê. Party het selfs gesê dat een geldeenheid tot oorlog kan lei! Die res is die besluitelose “Euroskeptici”, diegene wat die voordele van een geldeenheid in Europa erken, maar twyfel of dit uiteindelik suksesvol sal wees.
Party beskou dit as ’n seën . . .
Die hoogste uitvoerende liggaam van die EU, die Europese Kommissie, het gesê: “Deur een geldeenheid te skep, sal Europa sy burgers, sy kinders en sy vennote . . . ’n tasbaarder simbool gee van die gemeenskaplike koers wat hulle vryelik gekies het om in te slaan: naamlik om ’n gemeenskap te bou wat op vrede en voorspoed gebaseer is.”
Voorstanders van die euro noem die talle moontlike voordele van een geldeenheid. Die uitskakeling van kommissie op buitelandse betaalmiddele sal die mees regstreekse invloed hê. Die voorbeeld wat soms aangehaal word, is dié van die onvermoeide Europese reisiger wat al 14 lande van die EU buite sy land besoek. As hy byvoorbeeld met 1 000 Duitse mark begin en in elke land sy geld wissel, sal hy slegs 500 mark oorhê ná al die kommissie afgetrek is!
Die koste van uitvoere en invoere sal eweneens nie meer deur die wisselkoers beïnvloed word nie. Een geldeenheid sal ook die indirekte koste van valutaskommeling uitskakel. Wanneer die waarde van ’n land se geldeenheid afneem, word ingevoerde goedere in daardie land duurder. Dit lei dikwels tot inflasie. Gevolglik behoort Europa, met een geldeenheid sonder die risiko van wisselkoersveranderinge, aantrekliker vir buitelandse beleggers te word.
Voorstanders van die euro verwag ook dat pryse regoor Europa sal daal. Dit is nou maklik vir klante en sakemanne om pryse te vergelyk, en wanneer euromunte en -note in 2002 in gebruik geneem word, sal dit selfs makliker wees. Prysverskille van dieselfde produk in verskillende dele van Europa sal na verwagting kleiner word tot voordeel van die verbruiker.
. . . ander beskou dit as ’n vloek
Wat sê die kritici? Hulle voel dat die euro die Europese ekonomie aan bande sal lê, sy buigsaamheid tot niet sal maak en sy groei sal onderdruk. Hulle voorspel dat een geldeenheid werkloosheid sal vermeerder, spekulante sal beweeg om die geldmarkte uit te buit en politieke spanning sal veroorsaak. Sulke politieke spanning het alreeds begin kop uitsteek. Neem byvoorbeeld die geskil tussen Duitsland en Frankryk oor wie die hoof van die Europese Sentrale Bank, die bewaker van die euro, moet wees. Nog geskille soos daardie een kan verwag word namate elke EU-lidland sy eie belange probeer bevorder.
In party EU-lande was daar nog nooit soveel werkloosheid nie. Baie blameer die kostebesnoeiings en belastingverhogings wat nodig was om vir deelname aan die eurogeldstelsel te kwalifiseer as die oorsaak hiervan. Regoor Europa is daar besware teen streng finansiële beleide wat die drastiese inkorting van groot welsyns-, pensioen- en gesondheidsorgprogramme insluit. Hoe lank kan sulke streng finansiële dissipline hou? Sal party lande in die versoeking kom om hierdie maatreëls ’n bietjie te verslap nadat die euro ’n werklikheid geword het? Sal so ’n onstabiele beleid dan ’n verwoestende uitwerking op die enkele Europese geldstelsel hê?
Ander noem die diepgewortelde sentimentele band wat mense met hulle land se geldeenheid het. Geld is meer as net dít wat in jou sak is. Vir baie mense is dit ook hulle land se geskiedenis, ’n simbool wat so belangrik soos ’n vlag is. Die geldeenheid van ’n land is die stelsel waarin mense geld verdien, tel, begroot, handel dryf en spaar. Terwyl die Duitsers byvoorbeeld met die oorskakeling na die euro sal sien hoe die getalle op hulle bankrekening met die helfte verminder, sal die Italianers se getalle drasties verminder as dit deur 2 000 gedeel word wanneer die lire uitgefaseer word. Volgens een studie sal die oorskakeling na die euro vir baie Europeërs ’n “traumatiese” ondervinding wees.
Sal dit almal pas?
Hoewel daar aansienlike politieke ondersteuning vir een geldeenheid is, beklemtoon party ekonome in die EU en in die Verenigde State dat Europa se ekonomieë versplinter is, sy mense in hulle geboortelande gevestig is en sy kulture heeltemal verskillend is. Anders as inwoners van die Verenigde State is dit dus minder waarskynlik dat mense in Europa wat hulle werk verloor hulle goed sal pak en lang afstande sal reis om werk te vind. Party deskundiges glo dat hierdie versplintering die euro-nasies die skokbrekers ontneem wat nodig is om ’n ekonomie asook ’n geldeenheid te deel.
Onder een geldstelsel, sê kritici, sal afsonderlike regerings hulle buigsaamheid verloor om ekonomiese probleme te hanteer. Hulle sê dat die euro mag van afsonderlike lande na die nuwe Europese Sentrale Bank, in Frankfurt, Duitsland, sal verskuif. Dit sal weer die druk vergroot om belastingwette en ander ekonomiese beleide regoor die vasteland te beheer. Die kritici voer aan dat die uitvoerende en wetgewende liggame in Brussel en Straatsburg mag sal verkry. Die Maastricht-verdrag vereis in werklikheid ’n politieke eenheid wat uiteindelik vir buitelandse en verdedigingsbeleide asook vir ekonomiese en maatskaplike beleide verantwoordelik sal wees. Sal hierdie oorskakeling glad en probleemvry verloop? Net die tyd sal leer.
“’n Groot waagstuk”
Intussen skakel banke en supermarkte alreeds oor na die euro deur eurorekenings te open en europryse langs dié in plaaslike geldeenhede te vertoon. Die doel is om die oorskakeling in die jaar 2002 so glad as moontlik te maak. ’n Gewilde Franse tydskrif het alreeds meer as 200 000 sakrekenaars versprei wat geprogrammeer is om die Franse frank in die euro te omreken.
Sal die euro eendag met die Amerikaanse dollar wedywer? Baie mense meen dat die Verenigde State waarskynlik nie wêreldekonomieë so sal oorheers nadat die euro ingang gevind het nie. Hulle voorspel dat die euro ’n wêreldwye reserwegeldeenheid naas die dollar sal word. Jill Considine, van die New Yorkse Verrekeningsvereniging, sê: “Daar gaan ’n nuwe mededingende terrein wees.”
Wat sal die toekoms van die euro wees? Die Duitse redakteur Josef Joffe noem die een geldeenheid “Europa se enorme muntopskietery” en “’n groot waagstuk”. Hy voeg by: “As dit faal, sal dit dalk baie van wat Europa in die laaste 50 jaar bereik het tot niet maak.” Die Franse Minister van Finansies het die gevoelens van baie Europeërs uitgespreek toe hy gesê het: “Daar is baie optimisme en baie vrees.”
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1979, bladsye 4-8, en 22 Desember 1991, bladsye 20-4, vir meer inligting oor die Europese Gemeenskap.
[Venster op bladsy 14]
EUROFEITEBLAD
• Een euro is ’n bietjie meer as een Amerikaanse dollar werd
• Euronote sal in sewe waardes beskikbaar wees: 5, 10, 20, 50, 100, 200 en 500 euro
• Een kant van die euronote sal ’n kaart van Europa op hê met ’n paar kenmerkende brûe en aan die ander kant voorstellings van vensters of poorte
• Beide die woorde “EURO” en “ΕΥΡΩ” sal op die banknote verskyn om die Romeinse en Griekse letters te verteenwoordig
• Euromunte sal in agt waardes beskikbaar wees: 1, 2, 5, 10, 20 en 50 sent sowel as 1 en 2 euro
• Die munte sal ’n universele Europese voorstelling aan een kant hê en ’n nasionale simbool aan die ander kant
[Kaart op bladsy 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
EUROPESE UNIE
BRITTANJE
DENEMARKE
SWEDE
GRIEKELAND
Huidige deelnemers aan die monetêre samesmelting
IERLAND
PORTUGAL
SPANJE
BELGIË
FRANKRYK
NEDERLAND
DUITSLAND
LUXEMBURG
FINLAND
OOSTENRYK
ITALIË
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Alle geldeenhede op bladsye 12-14: © European Monetary Institute