Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • su hfst. 22 bl. 167-174
  • Moenie verlang na wat agter is nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moenie verlang na wat agter is nie!
  • Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • „OPGESKRYWE AS ’N WAARSKUWING AAN ONS”
  • ‚HULLE HET NA ’N BETER PLEK GESTREWE’
  • So ’n groot wolk van getuies!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Glanspunte uit die boek Genesis—II
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Het jy geloof soos dié van Abraham?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Dink aan die vrou van Lot
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
su hfst. 22 bl. 167-174

Hoofstuk 22

Moenie verlang na wat agter is nie!

1. (a) Watter seëninge lê vir getroue knegte van God voor die deur? (b) Wat het sommige persone nogtans gedoen?

DIE vervulling van Bybelprofesie toon onmiskenbaar dat ons vandag op die drumpel van God se heerlike nuwe stelsel staan. Die bose wêreld sal binnekort verby wees, en daarmee saam die hartseer, die frustrasie en die leed wat dit veroorsaak het. Die aarde sal omskep word in ’n paradys waarin aanbidders van die ware God vir ewig as volmaakte mense sal kan lewe. Aangaande die sekerheid van sy beloftes oor hierdie dinge het Jehovah vir die apostel Johannes gesê: „Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar” (Openbaring 21:1-5). Maar eienaardig genoeg keer sommige persone wat hierdie waarhede ken, terug na die lewenswyse van die wêreld wat God sê dat hy gaan vernietig. Hoe jammer tog! Waarom doen hulle dit?

2. (a) Wat moet ’n persoon doen nadat hy die waarheid geleer het, indien hy so ’n uiteinde wil vermy? (b) Wat kan sy denke oorheers as hy versuim om dit te doen, en met watter gevolg?

2 Toe hulle die eerste keer gehoor het van die goeie nuus omtrent God se Koninkryk en wat dit gaan doen, het hulle dit met blydskap aanvaar. Maar dit is ook belangrik om voort te gaan tot Christelike rypheid, om ’n beter begrip van God se Woord te verkry en om na maniere te soek om dit ten volle in jou eie lewe toe te pas (Hebreërs 6:1, 11, 12, NW). As iemand weens gebrek aan waardering versuim om dit te doen, sal die voorreg om God te dien eerlank nie meer vir hom iets kosbaars wees nie. Hy kan dalk nie wag dat die fisiese seëninge wat God beloof het, verwesenlik moet word nie, en tog besef hy nie hoe belangrik dit is dat hy geestelik groei en soveel moontlik deelneem aan die predikings- en dissipelmaakwerk wat God ons beveel het om nou te doen nie. Die bevrediging van sy begeerte na materiële besittings en na sogenaamde pret kan al hoe meer van sy tyd in beslag neem. Geestelike belange word op die agtergrond geskuif. Geleidelik, nie meteens nie, sak hy terug in die wêreld in.—1 Timotheüs 6:9, 10.

3. (a) Waarom is dit gevaarlik om persone wat Jehovah nie aanbid nie as vriende te kies? (b) Wanneer kan ’n persoon hom maklik in ontspanne omgang met sulke mense bevind?

3 ’n Persoon sê miskien dat hy tot in die „nuwe aarde” wil oorleef, dat hy in ’n wêreld wil lewe waar geregtigheid woon. Maar toon sy keuse van vriende dat hy bedoel wat hy sê? Ons het natuurlik elke dag onvermydelike kontak met mense wat Jehovah nie dien nie—by die werk, by die skool, wanneer ons inkopies doen, selfs by die huis. Maar wie se geselskap kies ons gedurende pouses by die werk, voor en na skool, wanneer ons vriende bel of besoek of wanneer ons wil ontspan? Maak dit werklik saak? Die Bybel maan: „Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korinthiërs 15:33, NW). Maar wat is „slegte omgang”? Maak dit enigsins verskil dat sekere mense Jehovah nie aanbid nie, dat hulle bloot doen wat reg is in hulle eie oë? Op grond van wat ons reeds geleer het, weet ons dat sulke mense nie tot in die „nuwe aarde” sal oorleef nie. Persone wat Jehovah se standaarde geringskat wanneer hulle vriende kies, sal hulle gou weer in die wêreld bevind wat hulle eens gedink het hulle agtergelaat het. Maar ons kan teen so ’n gebeurlikheid beskerm word indien ons ag slaan op die waarskuwende voorbeelde wat in die Skrif opgeteken is.—1 Korinthiërs 10:11.

„OPGESKRYWE AS ’N WAARSKUWING AAN ONS”

4. (a) Watter soort lewe het die Israeliete ná die dood van Josef in Egipte gelei? (b) Waarom het „’n menigte mense van gemengde bloed” met Israel saamgegaan toe hulle uit Egipte verlos is? (c) Hoe is daardie profetiese drama in ons dag vervul?

4 Dit moes ongetwyfeld vir die Israeliete ’n groot verligting gewees het toe Jehovah hulle uit slawerny in Egipte bevry het. Die wrede onderdrukking wat hulle ná die dood van Josef moes verduur, het Egipte soos ’n smeltoond gemaak waarin hulle gewerp is (Exodus 1:13, 14; Deuteronomium 4:20). Maar toe het Jehovah tien plae oor Egipte gebring. Die kontras tussen die ware God en die gode van Egipte het duidelik geword. Dit het „’n menigte mense van gemengde [nie-Israelitiese] bloed” beweeg om saam met die Israeliete uit die land te trek, net soos die „groot menigte” hulle vandag van die wêreld afskei en by die oorblyfsel van geestelike Israel skaar (Exodus 12:38). Maar wat het kort na die Uittog in die laer gebeur?

5. (a) Hoe het hulle kort na hulle verlossing „na Egipte teruggekeer”? (b) Waarom het dit gebeur?

5 Die Christendissipel Stefanus het verduidelik: „Hulle het . . . met hulle harte na Egipte teruggekeer.” Dit was net ’n paar maande na hulle verlossing (Handelinge 7:39, 40). Hoe het hulle dit getoon? Hulle het ’n goue kalf gemaak—die soort ding waaraan hulle in Egipte gewoond was—en gesê dat hulle ’n „fees tot eer van [Jehovah]” hou. Maar eintlik het hulle die Egiptenaars nageboots (Exodus 32:1-6). Jehovah was baie ontevrede met hulle. Hulle gedrag was reëlreg in stryd met die Wet wat by die berg Sinai gegee is. Duisende het hulle lewe verloor. Waarom het dit gebeur? Hoewel hulle Jehovah se gebooie geken het, het hulle klaarblyklik nie ’n hartgrondige waardering opgebou vir daardie gebooie en vir die feit dat die ware God hulle gelei het nie.

6. (a) Watter voorsienings het Jehovah in die woestyn vir hulle gemaak? (1 Korinthiërs 10:3, 4). (b) Waarom het party begin terugverlang na wat hulle in Egipte gehad het?

6 Toe hulle Egipte verlaat het, het sowel Israel as die mense van „gemengde bloed” wat saam met hulle gegaan het, geweet dat dit die regte ding is om te doen. Maar na ’n jaar was hulle nog nie in die Beloofde Land nie; hulle het nog nie huise gehad in die „land wat oorloop van melk en heuning” nie. Hulle het almal oorgenoeg gehad om te eet, en daar was veral geestelike oorvloed. Die wolk- en vuurkolom was ’n voortdurende bewys dat Jehovah hulle lei. By die Rooi See en by die berg Sinai het hulle ontsagwekkende vertonings van Jehovah se mag gesien. Die Wetsverbond het hulle geestelik gevoed en verkwik. Dit het hulle ook baie gegee om persoonlik te doen, aangesien dit hulle gewys het waar hulle hulle gedrag, hulle denke en hulle beweegredes moes verander om vir Jehovah welgevallig te wees. Maar in plaas daarvan dat hulle waardeer het wat Jehovah alles vir hulle gedoen het, het hulle begin verlang na die fisiese dinge wat hulle in Egipte gehad het. Selfsugtige begeerte het baie se ondergang beteken.—Numeri 11:4-6, 31-34, vergelyk NW.

7. (a) Waarom wou die mense na Egipte terugkeer toe die verkenners hulle verslae gelewer het? (b) Waartoe het dit gelei? (Hebreërs 3:17, 19).

7 Kort hierna het Moses manne uitgestuur om die Beloofde Land te verken. By hulle terugkeer het hulle almal saamgestem dat dit inderdaad „oorloop van melk en heuning”. Maar tien van die verkenners was bang vir die inwoners van die land en is deur hulle versterkte stede afgeskrik. Hulle het nie met hulle hele hart op Jehovah vertrou nie en het ander se harte laat bewe van angs. Weer het hulle begin terugdink aan Egipte, en hulle het planne beraam om daarheen terug te keer. Weens hulle gebrek aan geloof het daardie ganse geslag van 20 jaar en ouer uiteindelik in die woestyn gesterf en nooit die Beloofde Land binnegegaan nie.—Numeri 13:27-33; 14:1-4, 29.

8. (a) Wat moes Lot en sy gesin doen om aan Sodom se vernietiging te ontkom? (b) Hoekom het Lot se vrou in ’n soutpilaar verander? (c) Watter waarskuwende boodskap bevat dit vir ons?

8 Meer as 400 jaar tevore het daardie selfde les in ander omstandighede na vore gekom. Abraham se broerskind Lot het hom in Sodom, ’n sedelik verdorwe maar materieel welvarende stad, gevestig. So erg was die onsedelikheid in Sodom en sy omstreke dat Jehovah besluit het om dit te vernietig sodat dit nooit weer herbou sou word nie. Engele is gestuur om Lot en sy gesin te red. Toe Lot sy aanstaande skoonseuns gewaarsku het, was hy in hulle oë „soos een wat gekskeer”. Maar dit was geen gekskeerdery nie. Met sonop het die engele Lot en sy gesin inderhaas uit die stad gelei en hulle beveel om te vlug sonder om om te kyk. Hulle lewe het van gehoorsaamheid afgehang. Lot en sy twee dogters het gedoen soos hulle beveel is en is gespaar. Maar Lot se vrou was blykbaar onwillig om haar los te skeur van die materiële dinge wat sy agtergelaat het. Sy het omgekyk en haar lewe verloor toe sy in ’n soutpilaar verander het. Het ons persoonlik die betekenis hiervan ter harte geneem? Om seker te maak dat ons die punt snap, het Jesus dit ingesluit in ’n waarskuwing oor die dringendheid daarvan om in ons dag uit die ou stelsel te vlug. Hy het sy hoorders vermaan om nie te besorg te wees oor materiële besittings nie, en toe bondig bygevoeg: „Dink aan die vrou van Lot!” (Genesis 19:12-26; Lukas 17:31, 32). Wat kan ons beskerm teen die strikke waarin die Israeliete en Lot se vrou getrap het?

‚HULLE HET NA ’N BETER PLEK GESTREWE’

9. Wat is geloof, en hoe kan ons dit aankweek?

9 As ons die versoeking wil weerstaan om om te kyk, moet ons groter geloof aankweek in wat voorlê. Hebreërs 11:1 omskryf geloof as „’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Dit is ’n versekering of ’n waarborg, soos ’n eiendomsbewys, dat ons die dinge sal verkry wat God beloof het. Geloof berus op onomstootlike getuienis, en daarom het ons goeie redes om te glo aan dinge wat ons nie met die letterlike oë kan sien nie. Dit is nie goedgelowigheid of ’n gewilligheid om te glo bloot omdat iets goed klink nie. As ons ware geloof wil hê, moet ons bereid wees om persoonlik vertroud te raak met die bewyse waarop sulke geloof berus. Ons moet ook goed nadink oor hoe die dinge wat ons leer op ons eie lewe van toepassing is, en ons moet hartgrondige waardering daarvoor verkry.

10. (a) Hoe het Abraham bewys gelewer van sy geloof, en hoe lank? (b) Hoe weet ons dat hy reg opgetree het?

10 Abraham het sulke geloof gehad. As gevolg daarvan het Abraham op Jehovah se bevel die welvarende stad Ur in Chaldea verlaat en na vergeleë Kanaän getrek, na ’n land wat hy nog nooit gesien het nie. Daar het hy as ’n vreemdeling gewoon sonder om hom ter wille van beveiliging met enige van die stadsryke te verbind. „Hy het die stad verwag wat fondamente het [Jehovah se Messiaanse Koninkryk], waarvan God die boumeester en oprigter is.” As hy bly terugverlang het na die lewe in Chaldea, sou hy ongetwyfeld daarheen teruggekeer het. Hy het eerder „na ’n beter plek gestrewe, naamlik een wat tot die hemel behoort” (Hebreërs 11:8-16, vergelyk NW). Dit was nie net ’n paar jaar, of selfs tien of twintig jaar, wat Abraham na daardie „beter plek” gestrewe het nie. Hy het dit tot met sy dood gedoen, 100 jaar of meer ná sy vertrek uit Ur. Hy het nie net gesê dat hy geloof het nie; hy het dit deur sy werke getoon. Gevolglik is sy beloning verseker. So seker is dit dat hy ’n opstanding sal kry dat Jesus kon sê dat Abraham in God se oë ,lewe’.—Lukas 20:37, 38; Jakobus 2:18.

11. Hoe het Isak en Jakob getoon dat hulle ook geloof gehad het?

11 Maar wat van Abraham se seun Isak, en Isak se seun Jakob? Hulle het nooit die Chaldeeuse lewenswyse geken nie. Maar hulle het dit nie beskou as ’n rede om self te gaan uitvind hoe dit was nie. Toe hulle by hulle ouers geleer het van Jehovah se beloftes, het hulle dit ter harte geneem. Hulle het geloof gebou soos dié van Abraham. Hulle het ook „na ’n beter plek gestrewe”. God het hom nie vir hulle geskaam nie.—Hebreërs 11:9, 16, 20, 21, vergelyk NW; Genesis 26:24, 25; 28:20-22.

12. Waarom het Esau en Dina vir hulleself ernstige probleme op die hals gehaal?

12 Jakob se broer Esau het daarenteen nie geestelike dinge waardeer nie. Hy het met vroue getrou wat nie aanbidders van Jehovah was nie. In plaas daarvan om heilige dinge kosbaar te ag, het hy sy eersgeboortereg vir een maaltyd verkoop (Genesis 25:29-34; 26:34, 35; Hebreërs 12:14-17). Hy was iemand wat dadelik vleeslike bevrediging wou hê. Jakob se dogter, Dina, het ook in groot moeilikheid beland. Waarom? Omdat sy graag omgegaan het met die heidense „dogters van die land”.—Genesis 34:1, 2.

13. (a) Wat hou die lewe werklik in vir mense wat vandag ’n deel van die wêreld is? (b) Wat sal ons beskerm sodat die wêreld ons nie teruglok nie?

13 As jy, soos Abraham, Isak en Jakob, waarlik ‚na ’n beter plek strewe’, na lewe onder Jehovah se Messiaanse Koninkryk, moet jy nie toelaat dat die wêreld jou teruglok nie. Onthou, die wêreld bied geen blywende toekoms nie. „Maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” En wat ’n uiters bevredigende lewe sal dit tog nie wees nie!—1 Johannes 2:17.

[Prent op bladsy 172]

Dink aan die vrou van Lot!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel