Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 3 bl. 25-37
  • Wat sê Genesis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat sê Genesis?
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe lank is ’n Genesis-“dag”?
  • Die eerste “dag”
  • Die tweede “dag”
  • Die derde “dag”
  • Landplante op die derde “dag”
  • Die vierde “dag”
  • Die vyfde “dag”
  • Die sesde “dag”
  • Hoe het Genesis geweet?
  • Wanneer het God die heelal begin skep?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Het elke skeppingsdag altyd voltooi waarmee dit begin het?
    Ontwaak!—1991
  • Die wetenskap en die Genesisverslag
    Is lewe geskep?
  • Weerspreek die wetenskap die Genesisverslag?
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 3 bl. 25-37

Hoofstuk 3

Wat sê Genesis?

1. (a) Wat is die doel van hierdie bespreking van Genesis, en wat moet ons onthou? (b) Hoe word gebeure indie eerste hoofstuk van Genesis beskryf?

NET soos ander dinge wat verkeerd voorgestel of verkeerd verstaan word, verdien die eerste hoofstuk van die Bybel om onpartydig aangehoor te word. Ons moet ondersoek instel en vasstel of dit met bekende feite ooreenkom, en nie probeer om dit so te vertolk dat dit in die een of ander teoretiese raamwerk pas nie. Ons moet ook onthou dat die Genesisverhaal nie geskryf is om te toon “hoe” die skepping plaasgevind het nie. Dit behandel eerder belangrike gebeure progressief en beskryf wat gemaak is, die orde waarin hulle gemaak is en die tydperk, of “dag”, waarin elk die eerste keer verskyn het.

2. (a) Uit wie se standpunt word die gebeure in Genesis beskryf? (b) Hoe toon die beskrywing van die ligte dit?

2 Wanneer ons die Genesisverhaal ondersoek, is dit nuttig om in gedagte te hou dat dit sake uit die standpunt van mense op aarde benader. Dit beskryf dus gebeure soos dit vir mense sou lyk indien hulle aanwesig was. Dit blyk uit die beskrywing van gebeure op die vierde Genesis-“dag”. Daar word die son en die maan beskryf as groot ligte vergeleke met die sterre. Talle sterre is egter baie groter as ons son, en die maan is onbeduidend vergeleke met hulle. Maar nie vir ’n waarnemer op aarde nie. Vanaf die aarde gesien, lyk die son dus na ’n ‘groot lig wat oor die dag heers’ en die maan na ’n ‘klein lig wat oor die nag heers’.—Genesis 1:14-18.

3. Hoe word die aarde voor die eerste “dag” beskryf?

3 Die eerste deel van Genesis toon dat die aarde duisendmiljoene jare voor die eerste Genesis-“dag” kon bestaan het. Dit sê egter nie hoe lank nie. Maar dit beskryf wel wat die aarde se toestand was net voor daardie eerste “dag” begin het: “Die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.”—Genesis 1:2.

Hoe lank is ’n Genesis-“dag”?

4. Watter aanduiding is daar in die skeppingsverhaal self dat die woord “dag” nie net ’n tydperk van 24 uur bedoel nie?

4 Baie meen dat die woord “dag” wat inGenesis hoofstuk 1 gebruik word, op 24 uur dui. Maar inGenesis 1:5 word daar gesê dat God self die dag in kleiner tydperke verdeel het en slegs die deel wat lig was “dag” genoem het. InGenesis 2:4 word al die skeppingstydperke een “dag” genoem: “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag [al ses skeppingstydperke] toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het.”

5. Wat is een betekenis van die Hebreeuse woord vir “dag” wat toon dat dit op langer tydperke kan slaan?

5 Die Hebreeuse woord jôm, wat met “dag” vertaal word, kan op verskillende tydperke dui. William Wilson se Old Testament Word Studies sluit die volgende onder die moontlike betekenisse in: “’n Dag; dit word dikwels gebruik vir tyd oor die algemeen, of vir ’n lang tydperk; ’n hele tydperk onder bespreking . . . Dag word ook gebruik vir ’n bepaalde seisoen of tyd wanneer ’n buitengewone gebeurtenis plaasvind.”⁠1 Hierdie laaste betekenis pas skynbaar die “dae” van die skepping, want hulle was beslis tydperke waarin buitengewone gebeure plaasgevind het. Dit maak ook voorsiening vir tydperke wat baie langer as 24 uur is.

6. Waarom beperk die gebruik van “aand” en “môre” ’n “dag” nie noodwendig tot 24 uur nie?

6 Genesis hoofstuk 1 gebruik die uitdrukkings “aand” en “môre” in verband met die skeppingstydperke. Gee dit nie te kenne dat hulle 24 uur lank was nie? Nie noodwendig nie. Op sommige plekke praat mense dikwels van ’n man se lewe as sy “dag”. Hulle praat van “my vader se dag” of “in Shakespeare se dag”. Hulle verdeel soms daardie ‘lewensdag’ deur te sê “in die daeraad [môre] van sy lewe” of “in die skemer [aand] van sy lewe”. ‘Aand en môre’ inGenesis hoofstuk 1 beperk dus nie die betekenis tot ’n letterlike 24 uur nie.

7. Watter ander gebruike toon dat ’n “dag” langer as 24 uur kan wees?

7 Soos dit in die Bybel gebruik word, kan “dag” somer en winter, die verloop van seisoene, insluit (Sagaria 14:8). “’n Oesdag” sluit baie dae in. (VergelykSpreuke 25:13 en Genesis 30:14.) Duisend jaar word met ’n dag vergelyk (Psalm 90:4; 2 Petrus 3:8, 10). “Die oordeelsdag” duur baie jare (Mattheüs 10:15; 11:22-24). Dit lyk redelik dat die “dae” van Genesis eweneens lang tydperke—millenniums—kon wees. Wat het dan gedurende daardie skeppingstydvakke plaasgevind? Is die Bybel se verhaal daaroor wetenskaplik? Hier volg nou ’n oorsig van hierdie “dae” soos Genesis dit beskryf.

Die eerste “dag”

8, 9. Wat het op die eerste “dag” verskyn, en sê Genesis dat die son en maan toe eers geskep is?

8 “Laat daar lig wees! En daar was lig. . . . en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.”—Genesis 1:3, 5.

9 Die son en die maan was natuurlik lank voor hierdie eerste “dag” in die buitenste ruimte, maar hulle lig het nie die oppervlak van die aarde bereik sodat ’n waarnemer op aarde dit kon sien nie. Op hierdie eerste “dag” het lig klaarblyklik van die aarde af sigbaar geword, en die draaiende aarde het begin om om die beurt dag en nag te hê.

10. Hoe kon hierdie lig gekom het, en watter soort lig word aangedui?

10 Die lig het skynbaar geleidelik oor ’n lang tydperk gekom, en nie skielik soos wanneer ’n mens ’n elektriese lig aanskakel nie. Vertaler J. W. Watts se weergawe van Genesis dui dit aan waar dit sê: “En gaandeweg het daar lig gekom” (A Distinctive Translation of Genesis). Hierdie lig het van die son af gekom, maar die son self kon nie deur die wolklae gesien word nie. Die lig wat die aarde bereik het, was dus “gedempte lig”, soos getoon deur ’n kommentaar oorvers 3 in Rotherham se Emphasised Bible.—Kyk voetnoot b vanvers 14.

Die tweede “dag”

11, 12. (a) Wat word vir die tweede “dag” beskryf? (b) Hoe is die Hebreeuse woord vir hierdie ontwikkeling soms verkeerd vertaal, en wat beteken dit in werklikheid?

11 “Laat daar ’n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. En God het die uitspansel hemel genoem.”—Genesis 1:6-8.

12 Sommige vertalings gebruik die woord “gewelf” in plaas van “uitspansel”. Dit is op grond hiervan dat sommige aanvoer dat die Genesisverhaal ontleen is aan skeppingsmites wat hierdie “gewelf” as ’n metaalkoepel voorstel. Maar selfs die King James Version, wat “gewelf” gebruik, se kanttekening sê “uitspansel”. Dit is omdat die Hebreeuse woord raqiʹa‛, wat met “uitspansel” vertaal word, beteken om uit te strek of uit te sprei of uit te sit.

13. Die uitspansel kon dit laat lyk asof wat gebeur het?

13 Die Genesisverhaal sê dat God dit gedoen het, maar dit sê nie hoe nie. Hoe die gemelde skeiding ook al plaasgevind het, dit het gelyk of die ‘waters daarbo’ van die aarde af opgestoot is. En daar kon later gesê word dat voëls “langs die uitspansel van die hemel” vlieg, soosGenesis 1:20 dit stel.

Die derde “dag”

14. Hoe word die derde “dag” beskryf?

14 “Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so. En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem” (Genesis 1:9, 10). Die verhaal beskryf soos gewoonlik nie hoe dit gedoen is nie. Geweldige grondverskuiwings het ongetwyfeld plaasgevind tydens die vorming van landgebiede. Geoloë sal sulke groot omwentelinge as katastrofisme beskryf. Maar Genesis toon dat ’n Skepper dit bestuur en beheer het.

15, 16. (a) Watter gedagtes oor die aarde is vir Job gemeld? (b) Hoe diep strek die wortels van vastelande en berge, en wat word met ’n “hoeksteen” vir die aarde vergelyk?

15 In die Bybelse verhaal waar God Job uitvra na sy kennis van die aarde, word ’n verskeidenheid ontwikkelinge in die aarde se geskiedenis beskryf: sy afmetinge, sy wolkmassas, sy seë en hoe die golwe daarvan deur droë grond beperk word—baie dinge oor die skepping in die algemeen wat oor lang tydperke strek. Die Bybel sê onder meer dat God die aarde met ’n gebou vergelyk en vir Job gevra het: “Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?”—Job 38:6.

16 Dit is interessant dat die aarde se kors, net soos “fondamentklippe”, baie dikker onder vastelande en veral onder bergreekse is en tot diep in die onderliggende mantel stoot, net soos boomwortels in die grond. “Die gedagte dat berge en vastelande wortels het, is herhaaldelik getoets en waar bewys”, sê Putnam’s Geology.⁠2 Die oseaankors is slegs sowat 8 kilometer dik, maar vastelande se wortels strek ongeveer 30 kilometer diep en berge se wortels strek twee maal dieper. En al die aarde se lae druk uit alle rigtings na binne op die aarde se kern, sodat dit soos ’n groot “hoeksteen” is wat steun bied.

17. Wat is belangrik omtrent die verskyning van droë grond?

17 Watter middele ook al gebruik is om die droë grond op te lig, die belangrike saak is: Die Bybel sowel as die wetenskap erken dit as een van die stadiums in die vorming van die aarde.

Landplante op die derde “dag”

18, 19. (a) Wat benewens droë grond het op die derde “dag” verskyn? (b) Wat doen die Genesisverhaal nie?

18 Die Bybelverhaal voeg by: “Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so.”—Genesis 1:11.

19 Teen die einde van hierdie derde skeppingstydperk was drie breë kategorieë landplante dus geskep. Die gedempte lig sou teen daardie tyd heeltemal sterk geword het, genoeg vir die fotosinteseproses wat so noodsaaklik vir groen plante is. Terloops, die verhaal meld nie al die “soorte” plante wat op die toneel verskyn het nie. Mikroskopiese organismes, waterplante en ander word nie spesifiek gemeld nie, maar is waarskynlik op hierdie “dag” geskep.

Die vierde “dag”

20. Watter tydsverdelings het moontlik geword weens die verskyning van die ligte aan die uitspansel?

20 “Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.”—Genesis 1:14-16; Psalm 136:7-9.

21. Hoe het die lig van die vierde “dag” verskil van dié van die eerste “dag”?

21 Vroeër, op die eerste “dag”, is die uitdrukking “Laat daar lig wees” gebruik. Die Hebreeuse woord wat daar vir “lig” gebruik is, is ’ôr, wat op lig in ’n algemene sin sien. Maar op die vierde “dag” verander die Hebreeuse woord na ma·’ôrʹ, wat die bron van die lig beteken. In ’n voetnoot oor “Ligte” sê Rotherham in die Emphasised Bible: “Invers 3, ’ôr, gedempte lig.” Dan toon hy voorts dat die Hebreeuse woord ma·’ôrʹ invers 14 iets aandui wat “lig verskaf”. Op die eerste “dag” het gedempte lig klaarblyklik deur die windsel gedring, maar as gevolg van die wolklae wat steeds die aarde omring het, kon die bronne van daardie lig nie deur ’n waarnemer op aarde gesien word nie. Nou, op hierdie vierde “dag”, het dinge klaarblyklik verander.

22. Watter ontwikkeling op die vierde “dag” kon bygedra het tot die koms van dierelewe?

22 ’n Atmosfeer wat aanvanklik ryk was aan koolstofdioksied kon aardwyd ’n warm klimaat veroorsaak het. Maar gedurende die derde en vierde skeppingstydperke sou die welige plantegroei van hierdie hittehoudende koolstofdioksiedkombers geabsorbeer het. Die plante sou weer suurstof vrystel—’n vereiste vir dierelewe.

23. Watter groot veranderinge word vir hierdie tyd beskryf?

23 As daar nou ’n waarnemer op aarde was, sou hy die son, maan en sterre, wat sou “dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare”, kon onderskei (Genesis 1:14). Die maan sou die verloop van maanmaande aandui, en die son die verloop van sonjare. Die seisoene wat nou op hierdie vierde “dag” ontstaan het, sou ongetwyfeld baie matiger gewees het as wat hulle later geword het.—Genesis 1:15; 8:20-22.

Die vyfde “dag”

24. Watter soorte skepsele het volgens berig op die vyfde “dag” verskyn, en binne watter perke sou hulle voortplant?

24 “Laat die waters wemel met ’n gewemel van lewende wesens [siele, NW], en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte.”—Genesis 1:20, 21.

25. Wat is die wesens wat op die vyfde “dag” verskyn het, genoem?

25 Dit is interessant om op te let dat die nie-menslike wesens waarmee die waters moes wemel “lewende siele” genoem word. Hierdie uitdrukking geld ook vir die “voëls [wat] oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel”. En dit sluit ook die vorme van see- en luglewe in, soos die “groot seediere”, waarvan wetenskaplikes onlangs die fossieloorskot gevind het.

Die sesde “dag”

26-28. Wat het op die sesde “dag” plaasgevind, en wat was merkwaardig omtrent die laaste skeppingsdaad?

26 “Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so.”—Genesis 1:24.

27 Op die sesde “dag” het landdiere, wat vee en wilde diere genoem is, verskyn. Maar hierdie laaste “dag” was nog nie verby nie. Een laaste, merkwaardige ‘soort’ moes nog kom:

28 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”—Genesis 1:26, 27.

29, 30. Hoe kan die verskil tussenGenesis hoofstuk 2 en hoofstuk 1 verstaan word?

29 Hoofstuk 2 van Genesis voeg klaarblyklik enkele besonderhede by. Dit is egter nie, soos sommige afgelei het, nog ’n skeppingsverhaal wat met dié van hoofstuk 1 bots nie. Dit neem eenvoudig die verhaal êrens in die derde “dag” op nadat droë grond verskyn het maar voordat landplante geskape is, en verstrek besonderhede wat verband hou met die koms van mense—Adam die lewende siel, sy tuintuiste, Eden, en die vrou Eva, sy eggenote.—Genesis 2:5-9, 15-18, 21, 22.

30 Die voorgaande word aangebied om ons te help om te verstaan wat Genesis sê. En hierdie heeltemal realistiese verhaal toon dat die skeppingsproses nie net oor ’n tydperk van 144 uur (6 × 24) gestrek het nie, maar oor etlike millenniums.

Hoe het Genesis geweet?

31. (a) Hoe stel sommige die Genesisverhaal verkeerd voor? (b) Wat toon dat hulle bewerings onjuis is?

31 Baie vind dit moeilik om hierdie skeppingsverhaal te glo. Hulle voer aan dat dit aan die skeppingsmites van antieke volke, hoofsaaklik dié van antieke Babilon, ontleen is. Maar soos een onlangse Bybelwoordeboek gesê het: “Daar is nog nie ’n mite gevind wat uitdruklik van die skepping van die heelal praat nie” en die mites “word gekenmerk deur politeïsme en gode se stryd om opperheerskappy in skerp teenstelling met die Hebr[eeuse] monoteïsme van [Genesis] 1-2.”⁠3 Aangaande Babiloniese skeppingslegendes het die kurators van die Britse Museum gesê: “Die fundamentele begrippe van die Babiloniese en Hebreeuse verhale is wesenlik verskillend.”⁠4

32. Hoe is daar getoon dat die skeppingsverhaal in Genesis wetenskaplik betroubaar is?

32 In die lig van wat ons bespreek het, blyk dit dat Genesis se skeppingsverhaal ’n dokument is wat wetenskaplik betroubaar is. Dit beskryf die groter kategorieë plante en diere, met hulle talle variëteite, wat slegs “volgens hulle soorte” voortplant. Die fossielverslag bevestig dit. Trouens, dit toon dat elke ‘soort’ skielik verskyn het, met geen ware oorgangsvorme wat dit met enige vorige ‘soort’ verbind, soos die evolusieteorie vereis nie.

33. Waar alleen kon die informasie in die Genesis-skeppingsverhaal vandaan kom?

33 Al die kennis van die wyse manne van Egipte kon nie vir Moses, die skrywer van Genesis, van ’n leidraad oor die skeppingsproses voorsien nie. Die skeppingsmites van eertydse volke toon geen ooreenkoms met wat Moses in Genesis geskryf het nie. Waar het Moses dan al hierdie dinge geleer? Klaarblyklik van iemand wat daar was.

34. Watter ander soort bewys onderstreep die betroubaarheid van die breë trekke in Genesis?

34 Die wetenskap bekend as wiskundige waarskynlikheidsrekening bied treffende bewys dat Genesis se skeppingsverhaal moes kom van ’n bron wat kennis van die gebeure gedra het. Die verhaal meld 10 hoofstadiums in hierdie volgorde: (1) ’n begin; (2) ’n primitiewe aarde in duisternis en omhul deur swaar gasse en water; (3) lig; (4) ’n uitspansel of atmosfeer; (5) groot gebiede droë grond; (6) landplante; (7) son, maan en sterre sigbaar aan die uitspansel, en seisoene begin; (8) groot seediere en vlieënde skepsele; (9) wilde en mak diere, soogdiere; (10) die mens. Die wetenskap stem saam dat hierdie stadiums in hierdie algemene volgorde voorgekom het. Wat is die kanse dat die skrywer van Genesis hierdie volgorde bloot geraai het? Dieselfde as wanneer jy geblinddoek die nommers 1 tot 10 uit ’n houer sou haal en in die regte volgorde neersit. Die kanse dat jy dit met die eerste probeerslag sal regkry, is 1 uit 3 628 800! Dit is dus nie realisties om te sê dat die skrywer toevallig die voormelde gebeure in die regte volgorde aangegee het sonder om die feite êrens te kry nie.

35. Watter vrae word geopper, en waar word die antwoorde bespreek?

35 Die evolusieteorie maak egter nie voorsiening vir die moontlikheid dat ’n Skepper aanwesig was, die feite geken het en dit aan mense kon openbaar nie. Dit skryf eerder die verskyning van lewe op aarde toe aan die spontane generasie van lewende organismes uit lewelose chemikalieë. Maar kon onbeheerde chemiese reaksies wat van blote toeval afgehang het lewe skep? Is wetenskaplikes self daarvan oortuig dat dit kon gebeur? Kyk asseblief die volgende hoofstuk.

[Lokteks op bladsy 25]

Die Genesisverhaal is geskryf uit die standpunt van ’n waarnemer op aarde

[Lokteks op bladsy 36]

Die fossielverslag bevestig dat voortplanting slegs “volgens hulle soorte” geskied

[Venster op bladsy 35]

Die Babiloniese skeppingsmite wat volgens sommige die grondslag vorm vir die skeppingsverhaal in Genesis:

Die god Apsoe en die godin Tiamat het ander gode gemaak.

Later het hierdie gode Apsoe beangs gemaak en het hy probeer om hulle om die lewe te bring; hy is egter deur die god Ea gedood.

Tiamat wou wraak neem en het probeer om Ea dood te maak; sy is egter deur Ea se seun Mardoek om die lewe gebring.

Mardoek het haar liggaam in twee verdeel, en van die een helfte het hy die hemel en van die ander helfte die aarde gemaak.

Met Ea se hulp het Mardoek toe die mensdom uit ’n ander god, Kingoe, se bloed gemaak.a

Lyk dit vir jou of hierdie soort storie enige ooreenkoms met die skeppingsverhaal in Genesis toon?

[Venster op bladsy 36]

’n Bekende geoloog het die volgende oor die skeppingsverhaal in Genesis gesê:

“Indien daar vir my as ’n geoloog gevra is om ons hedendaagse idees oor die oorsprong van die aarde en die ontwikkeling van lewe daarop kortliks aan ’n eenvoudige, landelike volk, soos die stamme tot wie die boek Genesis gerig is, te verduidelik, sou ek nouliks beter kon vaar as om die taal vandie eerste hoofstuk van Genesis taamlik getrou te volg.”b Hierdie geoloog, Wallace Pratt, het ook gesê dat die volgorde van gebeure—van die oorsprong van die oseane, tot die verskyning van droë grond, van seelewe en dan van voëls en soogdiere—wesenlik die volgorde is van die vernaamste afdelings van geologiese tyd.

[Prent op bladsy 27]

Die eerste dag: “Laat daar lig wees”

[Prent op bladsy 28]

Die tweede dag: “Laat daar ’n uitspansel wees”

[Prent op bladsy 29]

Die derde dag: “Laat . . . die droë grond sigbaar word”

[Prent op bladsy 30]

Die derde dag: “Laat die aarde voortbring grasspruitjies”

[Prente op bladsy 31]

Die vierde dag: “Laat daar ligte wees aan die uitspansel . . . die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag”

[Prent op bladsy 32]

Die vyfde dag: ‘Laat die waters wemel met lewende siele en laat die voëls oor die aarde vlieg’

[Prent op bladsy 33]

Die sesde dag: ‘Vee en wilde diere volgens hulle soorte’

[Prent op bladsy 34]

Die sesde dag: “Man en vrou het Hy hulle geskape”

[Prent op bladsy 37]

Die kans om dit met die eerste probeerslag reg te kry, is 1 uit 3 628 800

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel