Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 4 bl. 38-53
  • Kan lewe per toeval ontstaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan lewe per toeval ontstaan?
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe vorm van spontane generasie
  • Die primitiewe atmosfeer
  • Sou ’n “organiese sop” ontstaan?
  • Waarskynlikheid en spontane proteïene
  • Die merkwaardige genetiese kode
  • Verbasende fotosintese
  • Is intelligensie by die saak betrokke?
  • Is dit wetenskaplik?
  • Nie alle wetenskaplikes aanvaar dit nie
  • Wat is die oorsprong van lewe?
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Hoe het lewe begin?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • Lewe—’n Verstommende versameling kettings
    Ontwaak!—2005
  • Is enige lewensvorm werklik eenvoudig?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 4 bl. 38-53

Hoofstuk 4

Kan lewe per toeval ontstaan?

1. (a) Wat het Charles Darwin oor die oorsprong van lewe toegegee? (b) Watter idee het die hedendaagse evolusieteorie laat herleef?

TOE Charles Darwin sy evolusieteorie bekend gestel het, het hy toegegee dat lewe moontlik “oorspronklik deur die Skepper in ’n paar vorme of in een geblaas is”.⁠1 Maar die hedendaagse evolusieteorie maak oor die algemeen geen melding van ’n Skepper nie. In plaas daarvan is die teorie oor die spontane generasie van lewe, ’n teorie wat eens verwerp is, in ’n ietwat gewysigde vorm laat herleef.

2. (a) Watter vorige oortuiging in verband met spontane generasie is verkeerd bewys? (b) Wat neem evolusioniste aan, al erken hulle dat lewe nie vandag spontaan ontstaan nie?

2 Geloof in ’n vorm van spontane generasie kan eeue ver teruggespoor word. In die 17de eeu G.J. het selfs gesiene wetenskaplikes, onder meer Francis Bacon en William Harvey, die teorie aangeneem. Maar teen die 19de eeu het Louis Pasteur en ander wetenskaplikes dit oënskynlik die nekslag gegee toe hulle deur eksperimente bewys het dat lewe slegs van vorige lewe af kom. Die evolusieteorie neem nietemin noodgedwonge aan dat mikroskopiese lewe lank gelede op die een of ander manier spontaan uit lewelose materie moes ontstaan het.

’n Nuwe vorm van spontane generasie

3, 4. (a) Watter uiteensetting is al gegee van die stappe wat na die oorsprong van lewe lei? (b) Waarmee hou evolusioniste vol, ondanks die onwaarskynlikheid dat lewe per toeval kon ontstaan?

3 ’n Heersende evolusionistiese standpunt oor die begin van lewe word deur Richard Dawkins opgesom in sy boek The Selfish Gene. Hy bespiegel dat die aarde aan die begin ’n atmosfeer gehad het wat uit koolstofdioksied, metaan, ammoniak en water bestaan het. Deur energie wat deur sonlig voorsien is, en moontlik deur weerlig en ontploffende vulkane, het hierdie eenvoudige verbindings ontbind en hulle toe tot aminosure herskik. ’n Verskeidenheid van hierdie aminosure het geleidelik in die see opgehoop en mettertyd proteïenagtige verbindings gevorm. Hy sê dat die oseaan eindelik ’n “organiese sop” geword het, hoewel steeds leweloos.

4 Volgens Dawkins se beskrywing is “’n besonder merkwaardige molekule toe per ongeluk gevorm”—’n molekule wat die vermoë gehad het om homself voort te plant. Hoewel hy erken dat so ’n ongeluk uiters onwaarskynlik is, hou hy vol dat dit nietemin moes gebeur het. Soortgelyke molekules het ’n tros gevorm, en toe, weer deur ’n uiters onwaarskynlike ongeluk, ’n beskermende laag wat uit ander proteïenmolekules bestaan as ’n membraan om hulself gevou. So, word daar beweer, het die eerste lewende sel homself voortgebring.⁠2

5. Hoe word die oorsprong van lewe gewoonlik in druk aangebied, maar wat sê een wetenskaplike?

5 Op hierdie stadium kan ’n leser Dawkins se kommentaar in die voorwoord tot sy boek begin verstaan: “Hierdie boek moet gelees word amper asof dit ’n wetenskapsroman is.”⁠3 Maar mense wat baie oor die onderwerp gelees het, sal vind dat sy benadering nie uniek is nie. Die meeste ander boeke oor evolusie gly ook heen oor die verstommende probleem om die ontstaan van lewe uit lewelose materie te verklaar. Professor William Thorpe van die dierkunde-afdeling aan die Cambridge-Universiteit het gevolglik vir medewetenskaplikes gesê: “Al die simplistiese bespiegelinge en besprekings wat gedurende die afgelope tien tot vyftien jaar gepubliseer is en wat die ontstaanswyse van lewe verklaar, is gans te eenvoudig bevind en dra min gewig. Dit lyk trouens of die probleem nog net so onopgelos is soos altyd.”⁠4

6. Wat toon vermeerderende kennis?

6 Die onlangse groot vermeerdering van kennis het bloot die kloof tussen lewelose en lewende dinge vergroot. Daar is bevind dat selfs die oudste bekende eensellige organismes ongelooflik ingewikkeld is. “Die biologie se probleem is om ’n eenvoudige begin te bereik”, sê sterrekundiges Fred Hoyle en Chandra Wickramasinghe. “Fossieloorblyfsels van eertydse lewensvorme wat in rotse ontdek is, toon nie ’n eenvoudige begin nie. . . . Die evolusieteorie het dus nie ’n behoorlike fondament nie.”⁠5 En namate informasie toeneem, word dit al hoe moeiliker om te verklaar hoe mikroskopiese lewensvorme wat so ongelooflik ingewikkeld is per toeval kon ontstaan het.

7. Wat is die vernaamste stappe wat na bewering die oorsprong van lewe voorafgegaan het?

7 Die vernaamste stappe wat die oorsprong van lewe voorafgegaan het, vanuit die oogpunt van die evolusieteorie, is (1) die bestaan van die regte primitiewe atmosfeer en (2) ’n opeenhoping in die oseane van ’n organiese sop van “eenvoudige” molekules wat nodig is vir lewe. (3) Dit bring proteïene en nukleotiede (ingewikkelde chemiese verbindings) voort wat (4) saamkom en ’n membraan verkry en dan (5) ’n genetiese kode ontwikkel en begin om kopieë van hulself te maak. Klop hierdie stappe met die beskikbare feite?

Die primitiewe atmosfeer

8. Waarom het ’n beroemde eksperiment deur Stanley Miller, en ander eksperimente, nie aan die verwagtinge voldoen nie?

8 In 1953 het Stanley Miller ’n elektriese vonk deur ’n “atmosfeer” gestuur wat uit waterstof, metaan, ammoniak en waterdamp bestaan het. Die resultaat was sommige van die talle aminosure wat bestaan en die boustene van proteïene is. Hy het egter net 4 van die 20 aminosure gekry wat nodig is sodat lewe kan bestaan. Meer as 30 jaar later was wetenskaplikes nog steeds nie in staat om eksperimenteel al 20 noodsaaklike aminosure voort te bring onder toestande wat as aanneemlik beskou kan word nie.

9, 10. (a) Wat was volgens sommige die moontlike samestelling van die aarde se primitiewe atmosfeer? (b) In watter dilemma bevind evolusie hom, en wat is omtrent die aarde se primitiewe atmosfeer bekend?

9 Miller het aangeneem dat die aarde se primitiewe atmosfeer ooreengekom het met dié in sy proefbuis. Waarom? Omdat, soos hy en ’n medewerker later gesê het: “Die sintese van verbindings wat van biologiese belang is slegs onder reduserende toestande [waar daar geen vry suurstof in die atmosfeer is nie] plaasvind.”⁠6 Ander evolusioniste teoretiseer weer dat suurstof aanwesig was. Die dilemma wat dit vir evolusie skep, is deur Hitching uitgedruk: “Met suurstof in die lug, sou die eerste aminosuur nooit ontstaan het nie; sonder suurstof sou dit deur kosmiese strale uitgewis word.”⁠7

10 Die feit is dat enige poging om die aard van die aarde se primitiewe atmosfeer vas te stel slegs op raaiwerk of aannames kan berus. Niemand weet vir seker waaruit dit bestaan het nie.

Sou ’n “organiese sop” ontstaan?

11. (a) Waarom is dit onwaarskynlik dat ’n “organiese sop” in die oseaan sou ontstaan? (b) Hoe het Miller daarin geslaag om die paar aminosure wat hy gekry het, te red?

11 Hoe waarskynlik is dit dat die aminosure wat vermoedelik in die atmosfeer gevorm is, sou neerdaal en ’n “organiese sop” in die oseane vorm? Baie onwaarskynlik. Dieselfde energie wat die eenvoudige verbindings in die atmosfeer sou skei, sou enige ingewikkelde aminosure wat gevorm is selfs vinniger laat ontbind. Dit is interessant dat Miller, in sy eksperiment waar hy ’n elektriese vonk deur ’n “atmosfeer” gestuur het, die vier aminosure wat gevorm is, gered het slegs deur hulle uit die omgewing van die vonk weg te neem. As hy hulle daar gelaat het, sou die vonk hulle laat ontbind het.

12. Wat sou met aminosure gebeur het indien sommige wel die oseane bereik het?

12 Maar gestel dat aminosure wel op die een of ander manier die oseane bereik het en teen die vernietigende ultraviolet straling in die atmosfeer beskerm is. Wat dan? Hitching verduidelik: “Onder die oppervlak van die water sou daar nie genoeg energie wees om verdere chemiese reaksies te laat plaasvind nie; water verhinder in elk geval dat ingewikkelder molekules ontwikkel.”⁠8

13. Wat moet aminosure wat in water is, doen om proteïene te vorm, maar met watter ander gevaar het hulle dan te kampe?

13 Wanneer aminosure in die water is, moet hulle dus daaruit kom as hulle groter molekules wil vorm en tot proteïene wil evolueer wat nuttig is vir die vorming van lewe. Maar wanneer hulle uit die water kom, is hulle weer in die vernietigende ultraviolet lig! “Met ander woorde”, sê Hitching, “die teoretiese kans dat hierdie eerste en betreklik maklike stadium [die ontwikkeling van aminosure] in die evolusie van lewe suksesvol kon verloop, is uiters gering.”⁠9

14. Wat is gevolglik een van die hardnekkigste probleme waarmee evolusioniste te kampe het?

14 Hoewel daar algemeen beweer word dat lewe spontaan in die oseane ontstaan het, is water eenvoudig nie bevorderlik vir die nodige chemiese prosesse nie. Skeikundige Richard Dickerson het verduidelik: “Dit is gevolglik moeilik om te sien hoe polimerisasie [die vereniging van kleiner molekules om groteres te vorm] kon geskied in die waterige omgewing van die primitiewe oseaan, aangesien die teenwoordigheid van water depolimerisasie [die ontbinding van groot molekules tot kleineres] eerder as polimerisasie begunstig.”⁠10 Biochemikus George Wald stem met hierdie beskouing saam en sê: “Spontane ontbinding is baie waarskynliker, en geskied dus baie vinniger as spontane sintese.” Dit beteken dat daar geen akkumulasie van organiese sop sou wees nie! Wald meen dat dit “die hardnekkigste probleem is waarmee ons [evolusioniste] te kampe het”.⁠11

15, 16. Watter groot probleem bestaan daar om die lewensproteïene uit die aminosure in so ’n veronderstelde organiese sop te kry?

15 Die evolusieteorie het egter met nog ’n hardnekkige probleem te kampe. Onthou, daar is meer as 100 aminosure, maar slegs 20 is nodig vir die proteïene in lewende dinge. Hulle kom daarbenewens in twee vorme: Sommige van die molekules is “regshandig” en ander is “linkshandig”. Indien hulle lukraak gevorm word, soos in ’n teoretiese organiese sop, is dit heel waarskynlik dat helfte regshandig en helfte linkshandig sou wees. En daar bestaan, sover bekend, geen rede waarom lewende dinge die voorkeur aan enige van die twee vorme sou gee nie. Tog is die 20 aminosure wat gebruik word om die lewensproteïene voort te bring, almal linkshandig!

16 Hoekom sou slegs dié soorte wat nodig is toevallig in die sop verenig word? Fisikus J. D. Bernal erken: “Ons moet erken dat die verklaring . . . steeds een van die onverklaarbaarste dele van die strukturele aspekte van lewe is.” Hy het die gevolgtrekking gemaak: “Ons sal dit moontlik nooit kan verklaar nie.”⁠12

Waarskynlikheid en spontane proteïene

17. Watter illustrasie toon die omvang van die probleem?

17 Wat is die moontlikheid dat die korrekte aminosure bymekaar sou kom om ’n proteïenmolekule te vorm? Dit sou wees soos om ’n groot, behoorlik gemengde hoop te hê wat uit gelyke hoeveelhede rooi boontjies en wit boontjies bestaan. Daar is ook meer as 100 verskillende soorte boontjies. Wat dink jy sal jy kry as jy ’n skeplepel in hierdie hoop insteek? Om die boontjies te kry wat die basiese komponente van ’n proteïen voorstel, moet jy slegs rooi boontjies opskep—glad geen wittes nie! Jou skeplepel moet ook slegs 20 soorte van die rooi boontjies bevat, en elkeen moet op ’n spesifieke, voorafbepaalde plek in die skeplepel wees. In die wêreld van proteïene sal ’n enkele fout in enige van hierdie vereistes meebring dat die proteïen wat gevorm word nie behoorlik funksioneer nie. Sou dit help om ons hipotetiese hoop boontjies voortdurend te roer en kort-kort ’n klomp op te skep? Nee. Hoe sou dit dan in die hipotetiese organiese sop moontlik wees?

18. Hoe realisties is die moontlikheid dat selfs ’n eenvoudige proteïenmolekule per toeval kan ontstaan?

18 Die proteïene wat vir lewe nodig is, het baie ingewikkelde molekules. Wat is die moontlikheid dat selfs ’n eenvoudige proteïenmolekule toevallig in ’n organiese sop gevorm sal word? Evolusioniste erken dat dit slegs een uit 10113 (1 gevolg deur 113 nulle) is. Maar enige gebeurtenis waarvoor die moontlikheid een uit net 1050 is, word deur wiskundiges beskou as iets wat nooit sal gebeur nie. Die algehele onwaarskynlikheid van so ’n gebeurlikheid blyk uit die feit dat die getal 10113 groter is as die geskatte getal atome in die heelal!

19. Wat is die moontlikheid om die nodige ensieme vir ’n lewende sel te kry?

19 Sommige proteïene dien as boumateriaal en ander as ensieme. Ensieme versnel nodige chemiese reaksies in die sel. Sonder sulke hulp sal die sel sterf. Nie net ’n paar nie, maar 2 000 proteïene wat as ensieme dien, is nodig vir die funksionering van die sel. Wat is die moontlikheid om hulle almal toevallig te kry? Een uit 1040 000! “’n Belaglik klein waarskynlikheid”, sê Hoyle, “wat nie moontlik sou wees nie selfs al het die ganse heelal uit organiese sop bestaan.” Hy voeg by: “As ’n mens nie deur sosiale oortuigings of deur ’n wetenskaplike opleiding voorberei is om te glo dat lewe [spontaan] op Aarde ontstaan het nie, sal hierdie eenvoudige berekening die gedagte heeltemal uitskakel.”⁠13

20. Waarom vererger die membraan wat die sel nodig het die probleem?

20 Die moontlikheid is egter baie skraler as wat hierdie “belaglik klein” syfer aandui. Die sel moet deur ’n membraan omhul word. Maar hierdie membraan is uiters ingewikkeld en bestaan uit proteïen-, suiker- en vetmolekules. Evolusionis Leslie Orgel het geskryf: “Hedendaagse selmembrane sluit kanale en pompe in wat spesifiek die invloei en uitvloei van voedingstowwe, afvalstowwe, metaalione, ensovoorts beheer. Hierdie gespesialiseerde kanale het hoogs spesifieke proteïene nodig, molekules wat nie reg aan die begin van die evolusie van lewe teenwoordig kon gewees het nie.”⁠14

Die merkwaardige genetiese kode

21. Hoe moeilik sou dit wees om die histone te kry wat DNS nodig het?

21 Iets wat moeiliker is om te verkry as die voormelde dinge, is nukleotiede, die boustene van DNS, wat die genetiese kode dra. Vyf histone is betrokke by DNS (histone speel vermoedelik ’n rol by die beheer van die gene se werking). Die kans dat selfs die eenvoudigste van hierdie histone vanself sou ontstaan, is glo een uit 20100—nog ’n reusesyfer “groter as al die atome in al die sterre en melkweë wat deur die grootste sterteleskope sigbaar is”.⁠15

22. (a) Hoe hou die ou raaisel oor ‘die hoender of die eier’ met proteïene en DNS verband? (b) Watter oplossing doen een evolusionis aan die hand, en is dit redelik?

22 Maar iets wat vir die evolusieteorie selfs groter probleme skep, staan in verband met die oorsprong van die volledige genetiese kode—’n vereiste vir selvoortplanting. Die ou raaisel oor ‘die hoender of die eier’ steek sy kop uit in verband met proteïene en DNS. Hitching sê: “DNS is nodig vir die vorming van proteïene. Maar DNS kan nie tot stand kom as daar nie proteïene is nie.”⁠16 Dit skep die paradoks wat Dickerson opper: “Wat was eerste”, die proteïen of die DNS? Hy beweer: “Die antwoord moet wees: ‘Hulle het gelyktydig ontwikkel.’”⁠17 Hy sê in werklikheid dat ‘die hoender’ en ‘die eier’ gelyktydig geëvolueer het en dat die een nie van die ander kom nie. Klink dit vir jou redelik? ’n Wetenskapskrywer som dit soos volg op: “Die oorsprong van die genetiese kode lewer ’n yslike hoender-en-eier-probleem op wat op die oomblik nog heeltemal onopgelos is.”⁠18

23. Wat sê ander wetenskaplikes oor die genetiese raderwerk?

23 Skeikundige Dickerson het ook hierdie interessante kommentaar gelewer: “Die evolusie van die genetiese raderwerk is die stap waarvoor daar geen laboratoriummodelle is nie; ’n mens kan dus eindeloos bespiegel, onbelemmerd deur hinderlike feite.”⁠19 Maar is dit goeie wetenskaplike prosedure om hope “hinderlike feite” so maklik opsy te skuif? Leslie Orgel noem die bestaan van die genetiese kode “die verbysterendste aspek van die probleem rakende die oorsprong van lewe”.⁠20 En Francis Crick het die gevolgtrekking gemaak: “Ondanks die feit dat die genetiese kode feitlik universeel voorkom, is die raderwerk wat nodig is om dit te vergestalt gans te ingewikkeld om met een slag in aansyn te kon kom.”⁠21

24. Wat kan oor natuurlike teeltkeuse en die eerste reproduserende sel gesê word?

24 Die evolusieteorie probeer om die nodigheid dat die onmoontlike “met een slag” moes plaasvind, uit te skakel deur ’n stapsgewyse proses voor te staan waardeur natuurlike teeltkeuse sy werk geleidelik kon doen. Maar sonder die genetiese kode om voortplanting aan die gang te sit, kan daar geen materiaal vir natuurlike teeltkeuse wees om te kies nie.

Verbasende fotosintese

25. Watter proses is volgens evolusie deur ’n eenvoudige sel aan die gang gesit?

25 Nou ontstaan daar nog ’n hindernis vir die evolusieteorie. Op die een of ander stadium moes die primitiewe sel iets uitdink wat ’n omwenteling in lewe op aarde teweeggebring het—fotosintese. Hierdie proses, waardeur plante koolstofdioksied opneem en suurstof afgee, word nog nie ten volle deur wetenskaplikes begryp nie. Dit is, soos bioloog F. W. Went gesê het, “’n proses wat niemand nog in ’n proefbuis kon nadoen nie”.⁠22 Daar word egter geglo dat ’n eenvoudige selletjie daarmee vorendag gekom het.

26. Watter revolusionêre verandering het hierdie proses teweeggebring?

26 Hierdie fotosinteseproses het ’n atmosfeer wat geen vry suurstof bevat het nie verander in ’n atmosfeer waarin een molekule uit elke vyf suurstof is. Diere kon gevolglik suurstof inasem en lewe, en ’n osoonlaag kon tot stand kom om alle lewe teen die skadelike uitwerking van ultraviolet straling te beskerm. Kan hierdie merkwaardige reeks omstandighede eenvoudig deur blinde toeval verklaar word?

Is intelligensie by die saak betrokke?

27. Waar laat die getuienis sommige evolusioniste?

27 Wanneer hulle gekonfronteer word met die astronomiese onwaarskynlikheid dat ’n lewende sel per toeval sou ontstaan, voel sommige evolusioniste hulle verplig om die saak te laat vaar. Die skrywers van Evolution From Space (Hoyle en Wickramasinghe) gooi byvoorbeeld die handdoek in en sê: “Hierdie kwessies is te ingewikkeld om getalle daaraan te heg.” Hulle het bygevoeg: “Daar bestaan nie ’n manier . . . waarop ons eenvoudig met ’n groter en beter organiese sop kan deurkom, soos ons ’n jaar of twee gelede gehoop het moontlik sou wees nie. Die getalle wat ons hierbo bereken het, is wesenlik net so vergesog vir ’n universele sop as vir ’n aardse.”⁠23

28. (a) Wat sit waarskynlik agter die weiering om te erken dat intelligensie nodig was? (b) Wat word deur evolusioniste wat glo dat ’n hoër intelligensie nodig was, verwerp as die bron van daardie intelligensie?

28 Nadat die skrywers gevolglik erken het dat intelligensie op die een of ander wyse ’n rol moes gespeel het by die totstandkoming van lewe, sê hulle voorts: “So ’n teorie is in werklikheid so voor-die-hand-liggend dat ’n mens wonder waarom dit nie algemeen as vanselfsprekend aanvaar word nie. Die redes is sielkundig eerder as wetenskaplik.”⁠24 ’n Waarnemer kan dus die gevolgtrekking maak dat ’n “sielkundige” hindernis die enigste aanneemlike verklaring is waarom die meeste evolusioniste ’n toevallige oorsprong vir lewe aanhang en enige “ontwerp of doel of bestiering”,⁠25 soos Dawkins dit gestel het, verwerp. Trouens, nadat Hoyle en Wickramasinghe erken het dat intelligensie nodig was, sê selfs hulle dat hulle nie glo dat ’n persoonlike Skepper vir die oorsprong van lewe verantwoordelik is nie.⁠26 Na hulle mening is intelligensie onontbeerlik, maar ’n Skepper onaanvaarbaar. Vind jy dit teenstrydig?

Is dit wetenskaplik?

29. Wat is die wetenskaplike metode?

29 Indien ’n spontane begin van lewe as ’n wetenskaplike feit aanvaar moet word, moet dit deur die wetenskaplike metode bevestig word. Hierdie metode is al soos volg beskryf: Neem waar wat gebeur; vorm op grond van daardie waarnemings ’n teorie oor wat moontlik is; beproef die teorie deur verdere waarnemings en deur eksperimente; en kyk of die voorspellings wat op die teorie gebaseer is, bewaarheid word.

30. In watter opsigte skiet spontane generasie te kort wanneer daar gepoog word om die wetenskaplike metode daarop toe te pas?

30 In ’n poging om die wetenskaplike metode toe te pas, was dit nie moontlik om die spontane generasie van lewe waar te neem nie. Daar is geen bewys dat dit nou plaasvind nie, en daar was natuurlik geen menslike waarnemer op die toneel toe dit, volgens evolusioniste, plaasgevind het nie. Geen teorie daaromtrent is deur waarneming bevestig nie. Laboratoriumeksperimente kon dit nie nadoen nie. Voorspellings wat op die teorie gebaseer is, is nie bewaarheid nie. Is dit eerlike wetenskap om so ’n teorie tot die vlak van feit te verhef as die wetenskaplike metode glad nie daarop toegepas kan word nie?

31. Watter teenstrydige beskouings oor spontane generasie word deur een wetenskaplike gehuldig?

31 Daar is andersyds oorgenoeg getuienis om die gevolgtrekking te steun dat die spontane generasie van lewe uit lewelose materie nie moontlik is nie. “’n Mens hoef maar net oor die omvang van hierdie taak na te dink”, het professor Wald van Harvard-Universiteit erken, “om toe te gee dat die spontane generasie van ’n lewende organisme onmoontlik is.” Maar wat glo hierdie voorstander van evolusie werklik? Hy antwoord: “Maar hier is ons—myns insiens as gevolg van spontane generasie.”⁠27 Klink dit na objektiewe wetenskap?

32. Hoe erken selfs evolusioniste dat sulke redenering onwetenskaplik is?

32 Britse bioloog Joseph Henry Woodger het sulke redenering bestempel as “loutere dogmatisme—wanneer ’n mens volhou dat wat jy wil glo inderdaad gebeur het”.⁠28 Hoe het wetenskaplikes dan hierdie duidelike skending van die wetenskaplike metode in hulle eie gedagtes aanvaar? Die welbekende evolusionis Loren Eiseley het erken: “Nadat hy die teoloog berispe het omdat hy op mite en wonderwerk vertrou, bevind die wetenskap hom in die onbenydenswaardige posisie waar hy sy eie mitologie moet skep: naamlik die aanname dat dit wat niemand, na veel inspanning, kon bewys as iets wat vandag plaasvind nie, in der waarheid in die oertyd plaasgevind het.”⁠29

33. Watter gevolgtrekking moet op grond van al die voorgaande getuienis bereik word oor spontane generasie en die toepassing van die wetenskaplike metode?

33 Op grond van die getuienis lyk dit of die teorie oor die spontane generasie van lewe eerder in die wêreld van wetenskapsromans tuishoort as by wetenskaplike feite. Talle ondersteuners het klaarblyklik die wetenskaplike metode in sulke sake laat vaar om te glo wat hulle wil glo. Ondanks die oorweldigende onwaarskynlikheid dat lewe per toeval kon ontstaan, heers onversetlike dogmatisme eerder as die versigtigheid wat die wetenskaplike metode normaalweg vereis.

Nie alle wetenskaplikes aanvaar dit nie

34. (a) Hoe openbaar een fisikus wetenskaplike openhartigheid? (b) Hoe beskryf hy evolusie, en wat sê hy oor talle wetenskaplikes?

34 Maar nie alle wetenskaplikes het die alternatief geheel en al verwerp nie. Fisikus H. S. Lipson, wat besef hoe onwaarskynlik dit is dat lewe spontaan sou ontstaan, het byvoorbeeld gesê: “Die enigste aanneemlike verklaring is die skepping. Ek weet dat dit vir fisici, net soos ook vir my, ’n vervloeking is, maar ons moet nie ’n teorie waarvan ons nie hou nie, verwerp as die eksperimentele getuienis dit staaf nie.” Hy het verder gesê dat evolusie ná Darwin se boek, The Origin of Species, “in ’n sin ’n wetenskaplike godsdiens geword het; feitlik alle wetenskaplikes het dit aanvaar en baie is bereid om hulle waarnemings effens ‘aan te pas’ sodat dit daarby inpas.”⁠30 Dit is ongelukkig die waarheid.

35. (a) Watter gedagte het ’n universiteitsprofessor dit pynlik gevind om te laat vaar? (b) Hoe lig hy die moontlikheid dat lewe per toeval kon evolueer toe?

35 Chandra Wickramasinghe, professor aan University College, Cardiff, het gesê: “Reg van die begin van my opleiding as ’n wetenskaplike is ek baie sterk gebreinspoel om te glo dat die wetenskap nie met enige soort doelbewuste skepping kan strook nie. Ek moes daardie gedagte pynlik laat vaar. Ek is baie ongemaklik in die situasie, die gemoedstoestand, waarin ek my nou bevind. Maar daar is geen logiese uitweg nie. . . . Vir lewe om ’n chemiese ongeluk op aarde te wees, is soos om na ’n bepaalde sandkorreltjie op al die strande van al die planete in die heelal te soek—en dit te vind.” Met ander woorde, dit is eenvoudig nie moontlik dat lewe uit ’n chemiese ongeluk kon ontstaan nie. Wickramasinghe maak dus die gevolgtrekking: “Daar is geen ander manier waarop ons die presiese orde van die chemikalieë van lewe kan verstaan as om te aanvaar dat daar skepping op kosmiese skaal plaasgevind het nie.”⁠31

36. Wat sê Robert Jastrow?

36 Dit is soos sterrekundige Robert Jastrow gesê het: “Wetenskaplikes het geen bewys dat lewe nie die gevolg van ’n skeppingsdaad is nie.”⁠32

37. Watter vraag word oor evolusie gestel, en waar kan ons die antwoord vind?

37 Maar gestel dat ’n eerste lewende sel wel op die een of ander wyse spontaan sy verskyning gemaak het. Is daar bewys dat dit geëvolueer het tot al die lewensvorme wat ooit op die aarde bestaan het? Fossiele verstrek die antwoord, en die volgende hoofstuk bespreek wat die fossielverslag werklik sê.

[Lokteks op bladsy 44]

“DNS is nodig vir die vorming van proteïene. Maar DNS kan nie tot stand kom as daar nie proteïene is nie”

[Lokteks op bladsy 45]

“Die oorsprong van die genetiese kode lewer ’n yslike hoender-en-eier-probleem op wat op die oomblik nog heeltemal onopgelos is”

[Lokteks op bladsy 46]

Die genetiese kode: “die verbysterendste aspek van die probleem rakende die oorsprong van lewe”

[Lokteks op bladsy 47]

Tydens fotosintese gebruik plante sonlig, koolstofdioksied, water en minerale om suurstof en voedsel voort te bring. Kon ’n eenvoudige sel dit alles uitgedink het?

[Lokteks op bladsy 50]

Sommige wetenskaplikes sê in werklikheid: ‘Intelligensie is onontbeerlik, maar ’n Skepper is onaanvaarbaar’

[Lokteks op bladsy 53]

’n Wetenskaplike het erken: “Die enigste aanneemlike verklaring is die skepping”

[Lokteks op bladsy 53]

Jastrow: “Wetenskaplikes het geen bewys dat lewe nie die gevolg van ’n skeppingsdaad is nie”

[Venster/Prent op bladsy 48, 49]

Die ongelooflike sel

’n Lewende sel is geweldig ingewikkeld. Bioloog Francis Crick probeer om die werking daarvan eenvoudig te beskryf, maar hy besef eindelik dat hy nie verder kan gaan nie, “omdat dit so ingewikkeld is dat die leser nie moet probeer om met al die besonderhede te worstel nie”.⁠a

Indien die instruksies in die DNS van die sel uitgeskryf sou word, sou dit “duisend boeke met 600 bladsye elk vul”, verduidelik National Geographic. “Elke sel is ’n wêreld wat tot tweehonderdbiljoen groepies atome genaamd molekules bevat. . . . Ons 46 chromosoom-‘drade’ sal saam langer as [twee meter] wees. Tog is die kern wat hulle bevat minder as [een honderdste van ’n millimeter] in deursnee.”⁠b

Die tydskrif Newsweek gebruik ’n illustrasie om ’n mens ’n idee van die sel se bedrywighede te gee: “Elk van daardie 100 biljoen selle funksioneer soos ’n ommuurde stad. Kragstasies wek die sel se energie op. Fabrieke produseer proteïene, noodsaaklike eenhede van chemiese handel. Ingewikkelde vervoerstelsels neem spesifieke chemiese stowwe van punt tot punt binne en buite die sel. Skildwagte by die versperrings beheer die invoer- en uitvoermark, en kontroleer die buitewêreld vir gevaartekens. Gedissiplineerde biologiese leërs staan gereed om indringers aan te pak. ’n Sentrale genetiese regering handhaaf die orde.”⁠c

Toe die hedendaagse evolusieteorie die eerste keer aan die hand gedoen is, het wetenskaplikes nie juis ’n idee gehad van die ongelooflike ingewikkeldheid van ’n lewende sel nie. Op die volgende bladsy is ’n paar dele van ’n tipiese sel—almal verpak in ’n houer slegs 1/40 van ’n millimeter in deursnee.

SELMEMBRAAN

Die omhulsel wat beheer wat die sel binnegaan en verlaat

RIBOSOME

Strukture waarop aminosure tot proteïene saamgevoeg word

KERN

Dit word deur ’n dubbele membraan omhul en is die beheersentrum wat die sel se funksies rig

CHROMOSOME

Hulle bevat die sel se DNS, die genetiese totaalplan

NUKLEOLUS

Die plek waar die ribosome opgebou word

ENDOPLASMIESE RETIKULUM

Membraanlae wat sorg vir die berging en vervoer van die proteïene wat gemaak is deur die ribosome wat aan hulle vasgeheg is (sommige ribosome dryf vry in die sel rond)

MITOCHONDRIA

Produksiesentrums vir ATP, die molekules wat energie aan die sel verskaf

GOLGI-LIGGAAMPIE

’n Groep plat membraansakke wat die proteïene wat deur die sel vervaardig is, verpak en versprei

SENTRIOLE

Hulle is naby die kern geleë en is belangrik by selvoortplanting

[Prent]

Het jou 100 000 000 000 000 selle sommer toevallig ontstaan?

[Venster op bladsy 52]

Evolusioniste van die verlede en hede lewer kommentaar oor die oorsprong van lewe

“Die hipotese dat lewe uit anorganiese materie ontwikkel het, is op die oomblik steeds ’n geloofsartikel.”—Wiskundige J. W. N. Sullivan⁠d

“Die waarskynlikheid dat lewe per ongeluk ontstaan het, kan vergelyk word met die waarskynlikheid dat ’n onverkorte woordeboek tydens ’n ontploffing in ’n drukkery geskep sal word.”—Bioloog Edwin Conklin⁠e

“’n Mens hoef maar net oor die omvang van hierdie taak na te dink om toe te gee dat die spontane generasie van ’n lewende organisme onmoontlik is.”—Biochemikus George Wald⁠f

“’n Eerlike man, toegerus met al die kennis wat nou tot ons beskikking is, kan slegs sê dat die oorsprong van lewe op die oomblik in sekere sin feitlik na ’n wonderwerk lyk.”—Bioloog Francis Crick⁠g

“As ’n mens nie deur sosiale oortuigings of deur ’n wetenskaplike opleiding voorberei is om te glo dat lewe [spontaan] op Aarde ontstaan het nie, sal hierdie eenvoudige berekening [die wiskundige kanse daartéén] die gedagte heeltemal uitskakel.”—Sterrekundiges Fred Hoyle en N. C. Wickramasinghe⁠h

[Diagram/Prent op bladsy 47]

Mense en diere asem suurstof in en koolstofdioksied uit. Plante neem koolstofdioksied op, gee suurstof af

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Lig

Koolstofdioksied

Waterdamp

Suurstof

[Prent op bladsy 40]

Geen groot gebou kan sonder ’n fondament staan nie. ‘Die evolusieteorie het nie ’n behoorlike fondament nie’, sê twee wetenskaplikes

[Prent op bladsy 42]

Almal rooi, almal van die regte soort, elkeen op sy voorafbepaalde plek—per toeval?

[Prente op bladsy 43]

Die lewe gebruik slegs “linkshandige” aminosure: “Ons sal dit moontlik nooit kan verklaar nie”

[Prente op bladsy 45]

Wat was eerste?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel