Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ct hfst. 3 bl. 28-44
  • Wat is die oorsprong van lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die oorsprong van lewe?
  • Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ontstaan van lewe in die laboratorium?
  • Menings verander—raaisels duur voort
  • Waarom die raaisels?
  • Inligting en intelligensie
  • Kan lewe per toeval ontstaan?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Hoe het lewe begin?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • Lewe—’n Verstommende versameling kettings
    Ontwaak!—2005
  • Spanwerk vir lewe
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
Sien nog
Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
ct hfst. 3 bl. 28-44

Hoofstuk Drie

Wat is die oorsprong van lewe?

ONS aarde wemel van lewe. Van die sneeubedekte Noordpool tot die Amasone-reënwoud, van die Sahara-woestyn tot die Everglades-moeras, van die donker oseaanbodem tot sonnige bergpieke is daar volop lewe. En dit het beslis die vermoë om ons te verstom.

Dit kom voor in soorte, groottes en hoeveelhede wat die verbeelding te bowe gaan. ’n Miljoen insektesoorte gons en woel op ons planeet. In die waters om ons swem meer as 20 000 vissoorte—party so klein soos ’n ryskorrel, ander so lank soos ’n vragmotor. Ten minste 350 000 plantsoorte—party eienaardig, die meeste wonderlik—versier die aarde. En meer as 9 000 voëlsoorte vlieg in die lug. Hierdie wesens, die mens inkluis, maak die panorama en simfonie uit wat ons lewe noem.

Maar wat nog verbasender as die verruklike verskeidenheid om ons is, is die besliste eenheid wat hulle verbind. Biochemici, wat die aarde se wesens bestudeer, verduidelik dat alles wat lewe—hetsy dit amebes of mense is—afhanklik is van ’n ontsagwekkende wisselwerking: die spanwerk tussen nukleïensure (DNS en RNS) en proteïenmolekules. Die ingewikkelde prosesse met betrekking tot hierdie komponente kom in feitlik al ons liggaamselle voor, net soos dit in die selle van kolibries, leeus en walvisse voorkom. Hierdie eenvormige wisselwerking bring ’n pragtige verskeidenheid lewensvorme voor. Hoe het hierdie harmoniese organisering van lewe tot stand gekom? Trouens, wat is die oorsprong van lewe?

Jy aanvaar waarskynlik dat daar ’n tyd lank geen lewe op die aarde was nie. Die wetenskaplike opvatting is dit hiermee eens, en so ook talle godsdiensboeke. Maar jy besef moontlik dat hierdie twee bronne—die wetenskap en godsdiens—verskil in hulle verklaring van hoe lewe op die aarde begin het.

Miljoene mense van elke opvoedingsvlak glo dat ’n intelligente Skepper, die oorspronklike Ontwerper, lewe op die aarde voortgebring het. Baie wetenskaplikes sê daarenteen dat lewe bloot toevallig deur verskillende chemiese reaksies uit nielewende materie ontstaan het. Watter een van die twee opvattings is reg?

Ons moenie dink dat hierdie kwessie ons en ons soeke na ’n sinvoller lewe nie eintlik raak nie. Soos reeds gemeld is, is een van die heel basiese vrae waarop mense ’n antwoord soek: Waar het ons as lewende mense vandaan gekom?

Die meeste wetenskapkursusse vestig die aandag op die aanpassing en oorlewing van lewensvorme in plaas van op die belangriker kwessie van die oorsprong van lewe. Jy het dalk al opgemerk dat pogings om te verklaar waar lewe vandaan gekom het gewoonlik uit veralgemenings bestaan soos: ‘Met die verloop van miljoene jare het botsende molekules op die een of ander manier lewe voortgebring.’ Maar is dit werklik bevredigend? Dit sou beteken dat lewelose materie, in die aanwesigheid van energie van die son, weerlig of vulkane, beweeg, verbind en uiteindelik begin lewe het—alles sonder regstreekse hulp. Wat ’n groot sprong sou dit tog nie gewees het nie! Van nielewende materie tot iets lewends! Kon dit gebeur het?

In die Middeleeue sou dit miskien nie moeilik gewees het om so ’n idee te aanvaar nie, want selfontstaan—die gedagte dat lewe vanself uit nielewende materie kan ontstaan—was ’n algemene opvatting. Uiteindelik het die Italiaanse geneesheer Francesco Redi in die 17de eeu bewys dat maaiers slegs in verrotte vleis verskyn het nadat vlieë eiers daarop gelê het. Geen maaiers het in vleis ontwikkel waarby vlieë nie kon kom nie. As diere so groot soos vlieë nie sommer vanself verskyn het nie, wat dan van die mikrobes wat voortdurend in voedsel verskyn het—hetsy dit bedek was of nie? Hoewel latere eksperimente getoon het dat mikrobes nie vanself ontstaan nie, het dit ’n omstrede kwessie gebly. Toe het die werk van Louis Pasteur gekom.

Baie mense onthou die werk wat Pasteur gedoen het om probleme in verband met gisting en besmetlike siektes op te los. Hy het ook eksperimente gedoen om vas te stel of mikro-organismes vanself kon ontstaan. Soos jy moontlik al gelees het, het Pasteur getoon dat selfs uiters klein bakterieë nie in gesteriliseerde water ontstaan wat teen besmetting beskerm word nie. In 1864 het hy aangekondig: “Die leerstelling van selfontstaan sal nooit herstel van die doodhou wat hierdie eenvoudige eksperiment dit gegee het nie.” Daardie verklaring is steeds waar. Geen eksperiment het al ooit lewe uit nielewende materie voortgebring nie.

Hoe kon lewe dan op die aarde ontstaan het? Hedendaagse pogings om hierdie vraag te beantwoord, kan tot die twintigerjare teruggevoer word, tot die werk van die Russiese biochemikus Aleksander I. Oparin. Hy en ander wetenskaplikes ná hom het iets soos ’n dramateks van drie bedrywe aangebied wat uitbeeld wat kwansuis op die verhoog van planeet Aarde plaasgevind het. Die eerste bedryf beeld die aarde se elemente, of grondstowwe, uit wat in groepe molekules omskep word. Dan kom die sprong tot groot molekules. En die laaste bedryf van hierdie drama beeld die sprong tot die eerste lewende sel uit. Maar is dit werklik hoe dit gebeur het?

Die grondslag van hierdie drama is die verduideliking dat die aarde se vroeë atmosfeer baie anders was as wat dit vandag is. Een teorie veronderstel dat daar feitlik geen vry suurstof was nie en dat ammoniak en metaan deur die elemente stikstof, waterstof en koolstof gevorm is. Die idee is dat suikers en aminosure ontstaan het toe weerlig en ultraviolet lig ’n atmosfeer van hierdie gasse en waterdamp getref het. Maar onthou dat dit ’n teorie is.

Volgens hierdie teoretiese drama het sulke molekulêre verbindings in die oseane of ander watermassas gespoel. Mettertyd het suikers, sure en ander verbindings ’n “prebiotiese sop” gevorm waar aminosure byvoorbeeld verbind het om proteïene te word. Hierdie teoretiese proses is verder gevoer deurdat ander verbindings wat nukleotiede genoem word kettings gevorm en ’n nukleïensuur, soos DNS, geword het. Dit alles het glo die weg gebaan vir die laaste bedryf van die molekulêre drama.

Hierdie laaste bedryf, waarvoor daar geen bewyse is nie, kan as ’n liefdesverhaal beskryf word. Proteïenmolekules en DNS-molekules ontmoet, herken en omhels mekaar. Dan, net voor die gordyn laat sak word, word die eerste lewende sel gebore. As jy hierdie drama gevolg het, sou jy dalk gewonder het: ‘Is dit ’n ware verhaal of fiksie? Kon lewe op die aarde werklik só ontstaan het?’

Die ontstaan van lewe in die laboratorium?

In die vroeë vyftigerjare het wetenskaplikes Aleksander Oparin se teorie op die proef begin stel. Dit was ’n vasstaande feit dat lewe net van lewe af kom, en tog het wetenskaplikes bespiegel dat lewe dalk stadig van nielewe af kon gekom het as toestande in die verlede anders was. Kon dit bewys word? Wetenskaplike Stanley L. Miller, wat in die laboratorium van Harold Urey gewerk het, het waterstof, ammoniak, metaan en waterdamp geneem (in die veronderstelling dat die primitiewe atmosfeer daaruit bestaan het), dit in ’n fles verseël met kookwater onderin (om ’n oseaan te verteenwoordig) en elektriese vonke (soos weerlig) deur die dampe gestuur. Binne ’n week was daar spore van ’n rooierige, klewerige massa, wat Miller ontleed het en ryk in aminosure—die boustene van proteïene—gevind het. Jy het miskien al van hierdie eksperiment gehoor, want dit word jare al in wetenskaphandboeke en skoolkursusse aangehaal asof dit verklaar hoe lewe op die aarde begin het. Maar is dit die geval?

Die waarde van Miller se eksperiment word vandag in werklikheid ernstig in twyfel getrek. (Sien “Klassiek maar twyfelagtig”, bladsye 36-7.) Maar die oënskynlike sukses daarvan het tot ander proefnemings gelei wat selfs komponente voortgebring het wat in nukleïensure (DNS of RNS) gevind word. Deskundiges op die gebied (wat soms ‘die oorsprong van lewe’-wetenskaplikes genoem word) was optimisties, want hulle het skynbaar die eerste bedryf van die molekulêre drama gedupliseer. En dit het gelyk asof laboratoriumweergawes van die ander twee bedrywe sou volg. ’n Chemieprofessor het beweer: “Die oorsprong van ’n primitiewe lewenstelsel sal binnekort deur middel van evolusionêre prosesse verklaar word.” En ’n wetenskapskrywer het gesê: “Kritici het bespiegel dat wetenskaplikes weldra, net soos Mary Shelley se dr. Frankenstein, lewende organismes in hulle laboratoriums sal voortbring en so in besonderhede sal toon hoe lewe ontstaan het.” Baie het gedink dat die raaisel van die selfontstaan van lewe opgelos is.—Sien “Regsdraaiend, linksdraaiend”, bladsy 38.

Menings verander—raaisels duur voort

Maar hierdie optimisme het intussen verdwyn. Dekades het verloop en die geheime omtrent die oorsprong van lewe is nog nie opgeklaar nie. Ongeveer 40 jaar ná sy eksperiment het professor Miller vir Scientific American gesê: “Die kwessie van die oorsprong van lewe was op stuk van sake baie moeiliker as wat ek, en die meeste ander mense, verwag het.” Ander wetenskaplikes het eweneens van mening verander. In 1969 was biologieprofessor Dean H. Kenyon byvoorbeeld die medeskrywer van Biochemical Predestination. Maar in onlangser tye het hy tot die gevolgtrekking gekom dat dit “in wese onwaarskynlik [is] dat materie en energie hulleself sonder hulp in lewende stelsels georganiseer het”.

Laboratoriumwerk staaf inderdaad Kenyon se bevinding dat daar “’n wesenlike leemte in alle huidige teorieë oor die chemiese oorsprong van lewe” is. Nadat Miller en ander deur sintese aminosure verkry het, het wetenskaplikes onderneem om proteïene en DNS te maak, wat albei nodig is vir lewe op die aarde. Wat was die uitslag van duisende eksperimente met sogenaamde prebiotiese toestande? The Mystery of Life’s Origin: Reassessing Current Theories sê: “Die groot welslae wat met die sintetisering van aminosure behaal word, vorm ’n skerp teenstelling met die vergeefse pogings om proteïene en DNS te sintetiseer.” Laasgenoemde pogings word deur “eenvormige mislukking” gekenmerk.

In werklikheid behels die raaisel nie net hoe die eerste proteïen- en nukleïensuurmolekules (DNS of RNS) ontstaan het nie. Dit sluit ook in hoe hulle saamwerk. “Dit is slegs die vennootskap van die twee molekules wat vandag lewe op die Aarde moontlik maak”, sê The New Encyclopædia Britannica. Maar hoe daardie vennootskap tot stand gekom het, bly volgens die ensiklopedie “’n kritieke en onopgeloste probleem wat die oorsprong van lewe betref”. Ja, inderdaad.

Aanhangsel A, “Spanwerk vir lewe” (bladsye 45-7), hersien ’n paar basiese besonderhede van die fassinerende spanwerk tussen proteïene en nukleïensure in ons selle. Selfs so ’n vlugtige kykie in ons liggaamselle wek bewondering vir die werk van wetenskaplikes op hierdie gebied. Hulle het lig gewerp op buitengewoon ingewikkelde prosesse waaraan min van ons selfs dink maar wat elke oomblik van ons lewe plaasvind. Maar uit ’n ander standpunt laat die verstommende ingewikkeldheid en presisie wat nodig is ons terugkeer tot die vraag: Hoe het dit alles tot stand gekom?

Jy weet moontlik dat ‘die oorsprong van lewe’-wetenskaplikes nie opgehou het om ’n aanneemlike scenario te probeer formuleer vir die drama oor die ontstaan van lewe nie. Maar hulle nuwe dramatekste is nie oortuigend nie. (Sien Aanhangsel B, “Vanuit ‘die RNS-wêreld’ of ’n ander wêreld?” bladsy 48.) Klaus Dose van die Instituut vir Biochemie in Mainz, Duitsland, het byvoorbeeld gesê: “Op die oomblik loop alle besprekings oor die vernaamste teorieë en eksperimente op hierdie gebied op ’n dooie punt of op ’n erkenning van onkunde uit.”

Selfs by die Internasionale Konferensie oor die Oorsprong van Lewe wat in 1996 gehou is, is geen oplossings gebied nie. Inteendeel, die tydskrif Science het berig dat die feitlik 300 wetenskaplikes wat saamgekom het, “geworstel het met die raaisel van hoe [DNS- en RNS-]molekules aanvanklik verskyn het en hoe hulle tot selfvoortplantende selle geëvolueer het”.

Intelligensie en gevorderde opleiding was nodig om te bestudeer en selfs te begin verklaar wat op die molekulêre vlak in ons selle plaasvind. Is dit redelik om te glo dat ingewikkelde stappe ongerig, vanself en per toeval vir die eerste keer in ’n “prebiotiese sop” plaasgevind het? Of was meer daarby betrokke?

Waarom die raaisels?

’n Mens kan vandag terugkyk op feitlik ’n halfeeu van bespiegeling en duisende pogings om te bewys dat lewe vanself ontstaan het. As jy dit doen, is dit moeilik om nie saam met Nobelpryswenner Francis Crick te stem nie. Crick het van ‘die oorsprong van lewe’-teorieë gepraat en gesê dat daar “te veel bespiegeling op grond van te min feite” is. Dit is dus te begrype dat party wetenskaplikes wat die feite ondersoek tot die gevolgtrekking kom dat lewe gans te ingewikkeld is om selfs in ’n georganiseerde laboratorium eensklaps en vanself te verskyn, wat nog te sê van in ’n onbeheerde omgewing.

As die gevorderde wetenskap nie kan bewys dat lewe vanself kan ontstaan nie, waarom hou party wetenskaplikes dan nog aan sulke teorieë vas? ’n Paar dekades gelede het professor J. D. Bernal ’n mate van insig hierin gegee in die boek The Origin of Life: “As die streng maatstawwe van die wetenskaplike metode op hierdie onderwerp [die selfontstaan van lewe] toegepas word, is dit moontlik om op etlike plekke in die verslag afdoende te bewys hoe lewe nie kon ontstaan het nie; die onwaarskynlikhede is te groot, die kanse dat lewe kon verskyn het te klein.” Hy het bygevoeg: “Ongelukkig vir dié wat hierdie beskouing handhaaf, bestaan lewe wel hier op die Aarde in al sy veelvuldige vorme en bedrywighede, en die argumente moet aangepas word om die bestaan daarvan te steun.” En die situasie het nie verbeter nie.

Beskou die onderliggende betekenis van so ’n redenasie. Dit is so goed as om te sê: ‘Dit is wetenskaplik korrek om te sê dat lewe nie vanself kon begin het nie. Maar die selfontstaan van lewe is die enigste moontlikheid wat ons sal oorweeg. Die argumente moet dus aangepas word om die veronderstelling te steun dat lewe vanself ontstaan het.’ Is jy tevrede met sulke logika? Vereis so ’n redenasie nie baie ‘aanpassing’ van die feite nie?

Daar is egter goed ingeligte, hooggeagte wetenskaplikes wat dit nie nodig vind om feite aan te pas sodat dit met ’n heersende filosofie oor die oorsprong van lewe kan strook nie. Hulle laat die feite eerder op ’n redelike gevolgtrekking dui. Watter feite en watter gevolgtrekking?

Inligting en intelligensie

Professor Maciej Giertych, ’n beroemde genetikus by die Instituut vir Boomkunde van die Poolse Akademie vir die Wetenskappe, het tydens ’n onderhoud in ’n dokumentêre film geantwoord:

“Ons het bewus geword van die ontsaglike hoeveelheid inligting wat die gene bevat. Die wetenskap kan nie verklaar hoe daardie inligting vanself kan ontstaan nie. Dit vereis ’n intelligente wese; dit kan nie weens toevallige reaksies ontstaan nie. As letters bloot bymekaargegooi word, vorm dit nie woorde nie.” Hy het bygevoeg: “Die uiters ingewikkelde DNS-, RNS-, proteïenreplikasiestelsel in die sel moes byvoorbeeld heel van die begin af volmaak gewees het. Anders sou lewenstelsels nie kon bestaan nie. Die enigste logiese verklaring is dat hierdie ontsaglike hoeveelheid inligting van ’n intelligente wese gekom het.”

Hoe meer jy van die wonders van lewe leer, hoe logieser is dit om saam te stem met die gevolgtrekking: Die oorsprong van lewe vereis ’n intelligente bron. Watter bron?

Soos vroeër gemeld is, kom miljoene geleerde mense tot die gevolgtrekking dat iemand met ’n hoër intelligensie, ’n ontwerper, lewe op die aarde moes voortgebring het. Ja, nadat hulle die saak op redelike wyse ondersoek het, het hulle aanvaar dat dit selfs in ons wetenskaplike eeu redelik is om met die Bybeldigter saam te stem wat lank gelede van God gesê het: “Want by u is die bron van die lewe.”—Psalm 36:9, NW.

Of jy nou al tot ’n vaste gevolgtrekking daaroor gekom het of nie, kom ons kyk na ’n paar wonders wat jou persoonlik raak. Dit is uiters bevredigend om dit te doen en kan baie lig werp op hierdie saak wat ons lewe raak.

[Venster op bladsy 30]

Kon dit toeval gewees het?

“Toeval, en toeval alleen, het dit alles tot stand gebring, van die oersop tot die mens”, het Nobelpryswenner Christian de Duve gesê toe hy oor die oorsprong van lewe gepraat het. Maar is toeval ’n redelike verklaring vir die oorsaak van lewe?

Wat is toeval? Party dink aan ’n wiskundige waarskynlikheid, soos die kans dat ’n muntstuk wat opgeskiet word per toeval reg sal val. Dit is egter nie hoe baie wetenskaplikes “toeval” met betrekking tot die oorsprong van lewe gebruik nie. Die vae woord “toeval” word gebruik in plaas van ’n presieser woord soos “oorsaak”, veral wanneer die oorsaak onbekend is.

“Die verpersoonliking van ‘toeval’ asof ons van ’n oorsaaklike agens praat”, sê biofisikus Donald M. MacKay, “is ’n ongeoorloofde oorskakeling van ’n wetenskaplike na ’n kwasigodsdienstige mitologiese begrip.” Robert C. Sproul sê eweneens: “Omdat mense die onbekende oorsaak so lank al ‘toeval’ noem, begin hulle vergeet dat ’n plaasvervanging gedoen is. . . . Die veronderstelling: ‘Toeval is gelyk aan ’n onbekende oorsaak’, het vir talle ‘toeval is gelyk aan oorsaak’ geword.”

Die Nobelpryswenner Jacques L. Monod is een van dié wat hierdie ‘toeval is gelyk aan oorsaak’-argument gebruik het. “Blote toeval, heeltemal vry maar lukraak, [lê] die verbasende struktuur van evolusie ten grondslag”, het hy geskryf. “Die mens weet uiteindelik dat hy alleen in die heelal se gevoellose onmeetlikheid is, waaruit hy slegs per toeval te voorskyn gekom het.” Let op dat hy sê: ‘PER toeval.’ Monod doen wat baie ander doen—hy verhef toeval tot ’n skeppende beginsel. Toeval word aangebied as die manier waarop lewe op die aarde ontstaan het.

Trouens, “toeval” is volgens woordeboeke “die veronderstelde onpersoonlike, doellose mag waardeur onverklaarbare gebeure bepaal word”. As iemand dus sê dat lewe per toeval ontstaan het, sê hy dat dit ontstaan het weens ’n oorsaaklike mag wat nie bekend is nie. Kan dit wees dat party “Toeval” as ’t ware met ’n hoofletter spel—en in werklikheid sê: Skepper?

[Venster op bladsy 35]

“[Die kleinste bakterie] is baie meer soos mense as Stanley Miller se mengsel van chemikalieë, want dit het reeds hierdie stelseleienskappe. Dit is dus vir ’n bakterie ’n kleiner sprong om tot mense oor te gaan as vir ’n mengsel van aminosure om tot daardie bakterie oor te gaan.”—Biologieprofessor Lynn Margulis

[Venster/Prent op bladsy 36, 37]

Klassiek maar twyfelagtig

Stanley Miller se eksperiment in 1953 word dikwels aangehaal as bewys dat selfontstaan in die verlede kon plaasgevind het. Die geldigheid van sy verklaring berus egter op die veronderstelling dat die aarde se oeratmosfeer “gereduseer” het. Dit beteken dat dit slegs die kleinste hoeveelheid vry (chemies ongebinde) suurstof bevat het. Waarom?

The Mystery of Life’s Origin: Reassessing Current Theories wys daarop dat as daar baie vry suurstof was ‘nie een van die aminosure eens sou kon gevorm het nie, en as hulle dalk wel gevorm het, sou hulle vinnig ontbind het’.a Hoe gegrond was Miller se veronderstelling oor die sogenaamde primitiewe atmosfeer?

In ’n klassieke verhandeling wat twee jaar ná sy eksperiment gepubliseer is, het Miller geskryf: “Hierdie idees is natuurlik bespiegeling, want ons weet nie of die Aarde ’n reduserende atmosfeer gehad het toe dit gevorm is nie. . . . Geen regstreekse bewyse is nog gevind nie.”—Journal of the American Chemical Society, 12 Mei 1955.

Is bewyse ooit gevind? Ongeveer 25 jaar later het die wetenskapskrywer Robert C. Cowen berig: “Wetenskaplikes moet nou party van hulle veronderstellings heroorweeg. . . . Min getuienis het te voorskyn gekom wat die idee van ’n waterstofryke, hoogs reduserende atmosfeer steun, maar daar ís getuienis wat die teendeel bewys.”—Technology Review, April 1981.

En sedertdien? In 1991 het John Horgan in Scientific American geskryf: “Gedurende die afgelope dekade of wat het twyfel oor Urey en Miller se veronderstellings ten opsigte van die atmosfeer toegeneem. Laboratoriumeksperimente en gerekenariseerde rekonstruksies van die atmosfeer . . . dui daarop dat ultravioletstraling van die son, wat vandag deur atmosferiese osoon gekeer word, molekules met ’n waterstofbasis in die atmosfeer sou vernietig het. . . . So ’n atmosfeer [koolstofdioksied en stikstof] sou nie bevorderlik gewees het vir die sintese van aminosure en ander voorlopers van lewe nie.”

Waarom glo baie dan nog dat die aarde se vroeë atmosfeer reduserend was en min suurstof bevat het? In Molecular Evolution and the Origin of Life antwoord Sidney W. Fox en Klaus Dose: Die atmosfeer moes ’n gebrek aan suurstof gehad het, omdat, om maar een ding te noem, “laboratoriumeksperimente toon dat chemiese evolusie . . . grootliks deur suurstof geïnhibeer sou word” en omdat verbindings soos aminosure “nie oor geologiese tye in die aanwesigheid van suurstof stabiel is nie”.

Is dit nie sirkelredenering nie? Die vroeë atmosfeer was reduserend, word daar gesê, want anders sou lewe nie vanself kon ontstaan het nie. Maar daar is in werklikheid geen sekerheid dat dit reduserend was nie.

Hier is nog ’n treffende gedagte: As die gasmengsel die atmosfeer voorstel, die elektriese vonk weerlig naboots en kookwater die see verteenwoordig, wat of wie stel die wetenskaplike wat die eksperiment reël en uitvoer dan voor?

[Voetnoot]

a Suurstof is uiters reaktief. Dit verbind byvoorbeeld met yster en vorm roes of met waterstof en vorm water. As daar baie vry suurstof in ’n atmosfeer sou wees wanneer aminosure vorm, sou dit gou met die organiese molekules verbind en hulle afbreek terwyl hulle vorm.

[Venster op bladsy 38]

Regsdraaiend, linksdraaiend

Ons weet dat daar regsdraaiende en linksdraaiende skroewe is. Dit is ook die geval met aminosuurmolekules. Slegs 20 van die ongeveer 100 bekende aminosure word in proteïene gebruik, en almal is linksdraaiend. Wanneer wetenskaplikes aminosure in laboratoriums maak, in nabootsing van wat hulle meen moontlik in ’n prebiotiese sop plaasgevind het, vind hulle ewe veel regsdraaiende en linksdraaiende molekules. “Hierdie soort gelykopverspreiding”, berig The New York Times, is “nie kenmerkend van lewe nie, wat slegs van linksdraaiende aminosure afhanklik is”. Die rede waarom lewende organismes slegs uit linksdraaiende aminosure saamgestel is, is “’n groot raaisel”. Selfs aminosure wat in meteoriete gevind is, “het meer linksdraaiende vorme gehad”. Dr. Jeffrey L. Bada, wat probleme met betrekking tot die oorsprong van lewe bestudeer, het gesê dat “die een of ander invloed buite die aarde moontlik ’n rol gespeel het in die bepaling van die draairigting van biologiese aminosure”.

[Venster op bladsy 40]

“Volgens hierdie eksperimente . . . is abiotiese sintese glo verantwoordelik vir wat in werklikheid deur die hoogs intelligente en onteenseglik biotiese mens voortgebring en ontwerp is in ’n poging om idees te staaf waartoe hy in groot mate verbonde was.”—Origin and Development of Living Systems.

[Venster/Prent op bladsy 41]

“’n Doelbewuste intellektuele daad”

Die Britse sterrekundige sir Fred Hoyle het dekades lank die heelal en lewe daarin bestudeer en het selfs die teorie voorgestaan dat lewe op die aarde vanuit die buitenste ruimte gekom het. In ’n lesing by Kalifornië se Instituut vir Tegnologie het hy die volgorde van aminosure in proteïene bespreek.

“Die groot probleem in die biologie”, het Hoyle gesê, “is nie soseer die redelik ooglopende feit dat ’n proteïen uit ’n ketting aminosure bestaan wat op ’n sekere manier met mekaar verbind is nie, maar dat die bepaalde volgorde van die aminosure die ketting merkwaardige eienskappe gee . . . As aminosure na willekeur aan mekaar gebind het, sou daar ’n ontsaglike aantal verbindings gewees het wat vir ’n lewende sel nutteloos sou wees. As jy daaraan dink dat ’n tipiese ensiem ’n ketting van moontlik 200 bindings het en dat daar 20 moontlikhede vir elke binding is, is dit maklik om te sien dat die aantal nuttelose verbindings ontsaglik is, meer as die aantal atome in al die sterrestelsels wat deur die grootste teleskope sigbaar is. Dit is vir één ensiem, en daar is meer as 2 000, wat merendeels heeltemal uiteenlopende gebruike het. Hoe het die huidige situasie dan ontstaan?”

Hoyle het bygevoeg: “Dit wou voorkom of dit beter is om te veronderstel dat die oorsprong van lewe ’n doelbewuste intellektuele daad was as om die ongelooflike klein waarskynlikheid te aanvaar dat lewe weens toevallige natuurkragte ontstaan het.”

[Venster op bladsy 44]

Professor Michael J. Behe het gesê: “Vir iemand wat hom nie gedwonge voel om sy soeke tot onintelligente oorsake te beperk nie, is die eenvoudige gevolgtrekking dat baie biochemiese stelsels ontwerp is. Hulle is nie deur die natuurwette ontwerp nie, ook nie per toeval en uit behoefte nie; hulle is eerder beplan. . . . Lewe op die aarde op sy mees fundamentele vlak, in sy mees kritieke komponente, is die produk van intelligente bedrywigheid.”

[Diagram/Prent op bladsy 42]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Selfs net ’n vlugtige kykie in die komplekse wêreld en ingewikkelde funksies in elke liggaamsel laat die vraag ontstaan: Hoe het dit alles tot stand gekom?

• Selmembraan

Beheer wat die sel binnegaan en verlaat

• Kern

Die sel se beheersentrum

• Chromosome

Bevat die DNS, die genetiese totaalplan

• Ribosome

Die plek waar proteïene gemaak word

• Nukleolus

Die plek waar ribosome opgebou word

• Mitochondrion

Produksiesentrum vir die molekules wat energie aan die sel verskaf

[Prent op bladsy 33]

Baie wetenskaplikes erken nou dat die ingewikkelde molekules wat onontbeerlik vir lewe is nie vanself in ’n prebiotiese sop kon ontstaan het nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel