Hoofstuk 7
“Aapmense”—Wat was hulle?
1, 2. Wat was volgens die evolusieteorie ons voorouers?
BAIE jare lank is daar al berigte dat die fossieloorblyfsels van aapagtige mense gevind is. Wetenskapliteratuur wemel van kunstenaarsvoorstellings van sulke dierasies. Is dit die evolusionêre oorgangsvorme tussen dier en mens? Is “aapmense” ons voorouers? Evolusionistiese wetenskaplikes sê so. Dit is waarom ons dikwels uitdrukkings soos die volgende artikelopskrif in ’n wetenskaptydskrif lees: “Hoe aap mens geword het.”1
2 Sommige evolusioniste meen weliswaar dat hierdie teoretiese voorouers van die mens nie tereg “ape” genoem moet word nie. Sommige van hulle kollegas is egter nie so noukeurig nie.2 Stephen Jay Gould sê: “Mense . . . het uit aapagtige voorouers geëvolueer.”3 En George Gaylord Simpson het gesê: “Die gemeenskaplike voorouer sal beslis in die omgangstaal ’n aap genoem word deur enigiemand wat hom gesien het. Aangesien die woord aap deur volksgebruik gedefinieer word, was die mens se voorouers ape.”4
3. Waarom word die fossielverslag as belangrik beskou om die mens se afstamming te bepaal?
3 Waarom is die fossielverslag so belangrik in die poging om die bestaan van aapagtige voorouers vir die mensdom te dokumenteer? Omdat die hedendaagse lewende wêreld niks bevat wat die gedagte steun nie. Soos in Hoofstuk 6 getoon, is daar ’n yslike kloof tussen mense en enige diere wat vandag bestaan, die aapfamilie inkluis. Aangesien die lewende wêreld nie ’n skakel tussen mens en aap bevat nie, is daar gehoop die fossielverslag sou.
4. Waarom is die afwesigheid van lewende “aapmense” uit die standpunt van evolusie so vreemd?
4 Uit die standpunt van evolusie is die duidelike kloof tussen mens en aap vandag vreemd. Die evolusieteorie voer aan dat namate diere teen die evolusieleer op beweeg het, hulle beter daartoe in staat was om aan die lewe te bly. Waarom bestaan die “laer” aapfamilie dan nog, maar nie ’n enkele van die vermeende tussenvorme, wat dan glo verder geëvolueer het nie? Ons sien vandag sjimpansees, gorillas en orang-oetangs, maar geen “aapmense” nie. Lyk dit waarskynlik dat een van die meer onlangse en kwansuis meer gevorderde “skakels” tussen aapagtige skepsele en die hedendaagse mens sou uitsterf, maar nie die laer ape nie?
Hoeveel fossielgetuienis?
5. Watter indruk wek die verslae oor die fossielgetuienis vir die evolusie van die mens?
5 Uit die verslae in wetenskapliteratuur, in museumuitstallings en op televisie sou dit wil voorkom of daar beslis oorvloedige getuienis bestaan dat mense uit aapagtige skepsele geëvolueer het. Is dit werklik so? Watter fossielgetuienis was daar byvoorbeeld hiervoor in Darwin se dag? Was dit sulke getuienis wat hom beweeg het om sy teorie te formuleer?
6. (a) Was vroeëre teorieë oor die evolusie van die mens op fossielgetuienis gebaseer? (b) Waarom is evolusie sonder gegronde getuienis aanvaar?
6 The Bulletin of the Atomic Scientists deel ons mee: “Die vroeë teorieë oor die evolusie van die mens is werklik baie eienaardig, as ’n mens hulle ondersoek. David Pilbeam het die vroeë teorieë as ‘fossielvry’ beskryf. Met ander woorde, hier was teorieë oor die evolusie van die mens wat ’n mens sou dink fossielgetuienis verg, maar daar was in werklikheid so min fossiele dat hulle geen invloed op die teorie uitgeoefen het nie, of daar was hoegenaamd geen fossiele nie. Tussen die mens se vermeende naverwante en die vroeë mensefossiele was daar slegs die verbeelding van negentiende-eeuse wetenskaplikes.” Hierdie wetenskappublikasie toon waarom: “Mense wou aan evolusie, die evolusie van die mens, glo, en dit het die resultate van hulle werk beïnvloed.”5
7-9. Hoeveel fossielgetuienis is daar nou vir die evolusie van die mens?
7 Hoeveel fossielgetuienis van “aapmense” is daar nou, na meer as ’n eeu se gesoek? Richard Leakey het gesê: “Diegene wat op hierdie terrein arbei, het so min getuienis waarop hulle hulle gevolgtrekkings kan baseer dat hulle dikwels hulle gevolgtrekkings moet verander.”6 New Scientist het gesê: “Te oordeel na die hoeveelheid getuienis waarop dit gebaseer word, verdien die studie van fossielmense nouliks om meer as ’n onderafdeling van die paleontologie of die antropologie te wees. . . . die versameling is so verloklik onvolledig, en die eksemplare self dikwels so fragmentaries en onoortuigend.”7
8 Die boek Origins erken eweneens: “Namate ons verder met die pad van evolusie langs na mense toe beweeg, neem die onsekerheid duidelik toe, weer eens as gevolg van die gebrek aan fossielgetuienis.”8 Die tydskrif Science voeg by: “Die vernaamste wetenskaplike getuienis is ’n armsalige hopie bene waaruit die mens se evolusionêre geskiedenis opgebou moet word. Een antropoloog het die taak vergelyk met dié om die knoop van War and Peace te rekonstrueer met 13 bladsye wat lukraak gekies is.”9
9 Hoeveel getuienis bevat die fossielverslag van “aapmense”? Let op die volgende. Newsweek: “‘Jy kan al die fossiele bo-op ’n enkele lessenaar sit’, het Elwyn Simons van Duke-universiteit gesê.”10 The New York Times: “Die bekende fossieloorblyfsels van die mens se voorsate sal op ’n biljardtafel pas. Dit vorm ’n swak verhoog van waar daar in die newel van die afgelope paar miljoen jaar getuur moet word.”11 Science Digest: “Die merkwaardige feit is dat al die fisiese bewyse wat ons van die evolusie van die mens het steeds in ’n enkele doodkis gesit kan word, en dan sal daar nog plek daarin oorbly! . . . Hedendaagse ape, byvoorbeeld, het oënskynlik uit die niet verskyn. Hulle het geen verlede, geen fossielverslag nie. En as ons met onsself eerlik wil wees, is die ware oorsprong van hedendaagse mense—van regop, naakte wesens wat werktuie maak en ’n groot brein het—’n ewe groot raaisel.”12
10. Wat toon die getuienis oor die verskyning van die mens soos ons hom ken?
10 Hedendaagse mense, met die vermoë om te redeneer, te beplan, dinge uit te vind, op vorige kennis voort te bou en ingewikkelde tale te gebruik, verskyn skielik in die fossielverslag. In sy boek The Mismeasure of Man sê Gould: “Ons het geen bewys van biologiese verandering in breingrootte of -struktuur sedert Homo sapiens om en by vyftigduisend jaar gelede in die fossielverslag verskyn het nie.”13 Die boek The Universe Within vra gevolglik: “Wat het veroorsaak dat evolusie . . . die hedendaagse mensdom met sy baie besondere brein feitlik oornag voortgebring het?”14 Evolusie kan nie antwoord nie. Maar is die antwoord moontlik die skepping van ’n baie ingewikkelde, verskillende skepsel?
Waar is die “skakels”?
11. Wat is, soos toegegee, “die reël” in die fossielverslag?
11 Maar het wetenskaplikes dan nie die noodsaaklike “skakels” tussen aapagtige diere en die mens gevind nie? Nie volgens die getuienis nie. Science Digest praat van “die gebrek aan ’n ontbrekende skakel om die betreklik skielike verskyning van die hedendaagse mens te verklaar.”15 Newsweek het gesê: “Die ontbrekende skakel tussen die mens en die ape . . . is bloot die opsigtelikste van ’n hele hiërargie drogwesens. In die fossielverslag is ontbrekende skakels die reël.”16
12. Wat het die gebrek aan skakels tot gevolg gehad?
12 Omdat daar geen skakels is nie, moet “drogwesens” uit bitter min getuienis versin word en moet daar voorgegee word dat hulle werklik bestaan het. Dit verklaar waarom die volgende weerspreking kon plaasvind, soos in ’n wetenskaptydskrif berig is: “Mense het stap vir stap uit hulle aapagtige voorouers geëvolueer en nie, soos sommige wetenskaplikes aanvoer, in skielike spronge van die een vorm tot die ander nie. . . . Maar ander antropoloë, wat met wesenlik dieselfde gegewens werk, het volgens berig presies die teenoorgestelde gevolgtrekking gemaak.”17
13. Wat was die gevolg omdat “ontbrekende skakels” nie gevind kon word nie?
13 Nou kan ons die opmerking van gesiene anatomis Solly Zuckerman in die Journal of the Royal College of Surgeons of Edinburgh beter verstaan: “Die gesoek na die spreekwoordelike ‘ontbrekende skakel’ in die mens se evolusie, daardie heilige graal van ’n nimmer sterwende sekte anatomiste en bioloë, laat bespiegeling en mite vandag net so geil floreer as wat 50 jaar gelede en meer die geval was.”18 Hy het gesê dat feite alte dikwels geïgnoreer is en idees wat op daardie tydstip gewild was, verdedig is ondanks bewys van die teendeel.
Die mens se “stamboom”
14, 15. Wat het die getuienis aan die mens se evolusionêre “stamboom” gedoen?
14 Die “stamboom” wat dikwels van die mens se beweerde evolusie van laer diere af opgemaak word, verander gevolglik gedurig. Richard Leakey het byvoorbeeld gesê dat ’n onlangse fossielvonds “die gedagte dat alle vroeë fossiele in ’n ordelike opeenvolging van evolusionêre verandering gerangskik kan word, verpletter”.19 En ’n koerantberig oor daardie ontdekking het gesê: “Die laaste boek oor die antropologie, elke artikel oor die evolusie van die mens, elke tekening van die mens se stamboom sal op die ashoop gegooi moet word. Hulle is blykbaar verkeerd.”20
15 Die teoretiese stamboom van die evolusie van die mens is besaai met die afgedankte “skakels” wat voorheen aanvaar is. ’n Hoofartikel in The New York Times het gesê dat die evolusionêre wetenskap “soveel plek vir bespiegeling laat dat teorieë oor hoe die mens ontstaan het vir jou meer van die outeur as van die onderwerp vertel. . . . Dit lyk dikwels asof die ontdekker van ’n nuwe skedel die mens se stamboom oormaak met sy vonds op die hooflyn wat na die mens lei en al die ander se skedels op sytakke wat nêrens heen lei nie.”21
16. Waarom het twee wetenskaplikes ’n stamboom vir evolusie uit hulle boek weggelaat?
16 In ’n resensie van The Myths of Human Evolution deur evolusioniste Niles Eldredge en Ian Tattersall het die tydskrif Discover gesê dat die skrywers enige evolusionêre stamboom uitgeskakel het. Waarom? Nadat die publikasie gesê het dat “daar maar net geraai kan word oor die skakels wat die voorouers van die mensespesie uitmaak”, het dit gesê: “Eldredge en Tattersall hou vol dat die mens tevergeefs na sy voorouers soek. . . . As die getuienis daar was, so beweer hulle, ‘kon ’n mens met vertroue verwag het dat die verhaal van die evolusie van die mens duideliker sou word namate meer mensagtige fossiele gevind word. Maar eintlik het die teenoorgestelde plaasgevind.’”
17, 18. (a) Hoe kan dit wat sommige evolusioniste meen “verlore” is, “gevind” word? (b) Hoe bevestig die fossielverslag dit?
17 Discover het die gevolgtrekking gemaak: “Die mensespesie, en alle spesies, sal in sekere sin weeskinders bly, daar die identiteit van hulle ouers in die verlede verlore geraak het.”22 Moontlik verlore uit die standpunt van die evolusieteorie. Maar het die Genesis-alternatief nie ons ouers “gevind” soos hulle in der waarheid in die fossielverslag is nie—ten volle mens, net soos ons?
18 Die fossielverslag toon ’n onderskeie, aparte oorsprong vir ape en vir mense. Dit is waarom daar geen fossielgetuienis van ’n skakel tussen die mens en aapagtige diere is nie. Die skakels het in werklikheid nooit bestaan nie.
Hoe het hulle gelyk?
19, 20. Waarop word tekeninge van “aapmense” gebaseer?
19 Maar hoekom is wetenskappublikasies en museums rondom die wêreld vol prente en replikas van “aapmense” as die mens se voorouers nie aapagtig was nie? Waarop word hulle gebaseer? Die boek The Biology of Race antwoord: “Die vlees en hare van sulke rekonstruksies moet voorsien word deur van die verbeelding gebruik te maak.” Dit voeg by: “Velkleur; die kleur, vorm en verspreiding van die hare; die gestalte; en die gelaatstrekke—van hierdie trekke van enige prehistoriese mens weet ons hoegenaamd niks.”23
20 Science Digest het ook gesê: “Die oorgrote meerderheid kunstenaarsvoorstellings is meer op verbeelding as op getuienis gebaseer. . . . Kunstenaars moet iets tussen ’n aap en ’n mens skep; hoe ouer die onderwerp vermoedelik is, des te aapagtiger maak hulle dit.”24 Fossieljagter Donald Johanson het erken: “Niemand kan seker wees hoe enige uitgestorwe hominide presies gelyk het nie.”25
21. Wat is die voorstellings van “aapmense” in werklikheid?
21 New Scientist het inderdaad berig dat daar nie “genoeg getuienis van fossielmateriaal is om ons bespiegelinge uit die ryk van die fantasie te neem nie”.26 Die afbeeldings van “aapmense” is, soos een evolusionis erken het, “blote verdigsel in die meeste opsigte . . . pure versinsel.”27 In Man, God and Magic het Ivar Lissner gevolglik gesê: “Net soos ons gaandeweg leer dat die primitiewe mense nie noodwendig barbare was nie, moet ons tot die besef kom dat die vroeë mense van die Ystyd nie redelose diere of half-ape of kretins was nie. Vandaar die onbeskryflike dwaasheid van alle pogings om die Neanderdal- of selfs die Peking-mens te probeer rekonstrueer.”28
22. Hoe is baie voorstanders van evolusie bedrieg?
22 In hulle begeerte om bewys van “aapmense” te vind, is sommige wetenskaplikes om die bos gelei deur skaamtelose bedrog, soos die Piltdown-mens in 1912. Ongeveer 40 jaar lank het die meeste lede van die evolusionistiese gemeenskap dit as eg aanvaar. In 1953 is die bedrog eindelik aan die kaak gestel toe moderne tegnieke getoon het dat menslike en aapbene saamgevoeg en kunsmatig verouder is. In ’n ander geval is ’n aapagtige “ontbrekende skakel” opgebou en in die pers aangebied. Maar daar is later erken dat die “getuienis” bestaan het uit een tand wat aan ’n uitgestorwe soort vark behoort het.29
Wat was hulle?
23. Wat was sommige wesens wat as die voorouers van die mens beskou is in werklikheid?
23 Indien “aapmens”-rekonstruksies nie geldig is nie, wat was daardie oerwesens waarvan fossielbene gevind is dan? Een van die vroegste soogdiere wat na bewering ’n voorsaat van die mens is, is ’n knaagdieragtige diertjie wat glo nagenoeg 70 miljoen jaar gelede gelewe het. In hulle boek Lucy: The Beginnings of Humankind het Donald Johanson en Maitland Edey geskryf: “Hulle was insekvretende, viervoetige diere wat in grootte en vorm met eekhorinkies ooreengekom het.”30 Richard Leakey het die soogdier ’n “rotagtige primaat” genoem.31 Maar is daar enige gegronde bewys dat hierdie diertjies die voorouers van mense was? Nee, eerder net gissings. Geen oorgangstadiums het hulle ooit verbind met enigiets anders as wat hulle was nie: knaagdieragtige soogdiertjies.
24. Watter probleme ontstaan wanneer daar gepoog word om te toon dat Aegyptopithecus ’n voorouer van die mens was?
24 Volgende op die algemeen aanvaarde lys, met ’n erkende gaping van nagenoeg 40 miljoen jaar, is fossiele wat in Egipte gevind en Aegyptopithecus—Egiptiese aap—genoem is. Hierdie dierasie het glo om en by 30 miljoen jaar gelede gelewe. Tydskrifte, koerante en boeke het prente van hierdie diertjie bevat met opskrifte soos: “Aapagtige dier was ons voorouer” (Time).32 “Aapagtige primaat uit Afrika is ’n gemeenskaplike voorouer van mens en ape genoem” (The New York Times).33 “Aegyptopithecus is ’n voorouer wat ons met lewende ape deel” (Origins).34 Maar waar is die skakels tussen hom en die knaagdier wat hom voorafgegaan het? Waar is die skakels met dit wat hom in die evolusionêre rangskikking volg? Nie een is nog gevind nie.
Die opkoms en val van “aapmense”
25, 26. (a) Watter bewering is oor Ramapithecus gemaak? (b) Op grond van watter fossielgetuienis is dit gerekonstrueer om soos ’n “aapmens” te lyk?
25 Na nog ’n reusegaping in die fossielverslag word ’n ander fossieldier as die eerste mensagtige aap voorgehou. Hy het glo ongeveer 14 miljoen jaar gelede gelewe en heet Ramapithecus—Rama se aap (Rama was ’n mitiese prins van Indië). Fossiele daarvan is omtrent ’n halfeeu gelede in Indië gevind. Uit hierdie fossiele is ’n regop, aapagtige wese op twee bene opgebou. Origins sê daaromtrent: “Sover ons op die oomblik weet, is dit die eerste verteenwoordiger van die mensegeslag.”35
26 Wat was die fossielgetuienis vir hierdie gevolgtrekking? Dieselfde publikasie het gesê: “Daar is aansienlike getuienis vir Ramapithecus—hoewel dit in absolute terme geweldig min is: fragmente van die bo- en onderkaak, plus ’n versameling tande.”36 Dink jy dat hierdie “getuienis” “aansienlik” genoeg was om ’n regop “aapmens”-voorouer van die mens op te bou? Tog is hierdie oorwegend denkbeeldige dierasie deur kunstenaars as ’n “aapmens” voorgestel, en prente daarvan het oral in evolusionistiese literatuur voorgekom—alles op grond van kakebeenfragmente en tande! Ramapithecus het nogtans, soos The New York Times berig het, “so stewig soos kan kom aan die onderpunt van die mens se evolusionêre boom gesit”.37
27. Wat het latere getuienis omtrent Ramapithecus bewys?
27 Dit is egter nie meer die geval nie. Onlangse en vollediger fossielvondste het getoon dat Ramapithecus baie met die hedendaagse aapfamilie ooreengekom het. New Scientist sê dus nou: “Ramapithecus kon nie die eerste lid van die mensegeslag gewees het nie.”38 Sulke nuwe informasie het die tydskrif Natural History die volgende vraag laat stel: “Hoe het Ramapithecus, . . . wat slegs uit tande en kake opgebou is—sonder dat ons geweet het hoe sy bekken, ledemaatbene of skedel gelyk het—ingesluip in hierdie ontwikkeling wat tot die mens gelei het?”39 Dit is duidelik dat wensdenkery ’n groot rol gespeel het by so ’n poging om die getuienis te laat sê wat dit nie sê nie.
28, 29. Wat is omtrent Australopithecus beweer?
28 Nog ’n geweldige gaping lê tussen daardie dierasie en die volgende een wat as ’n “aapmens”-voorouer aangegee is. Hy heet Australopithecus—suidelike aap. Fossiele hiervan is vir die eerste keer in die 1920’s in Suider-Afrika gevind. Hy het ’n klein, aapagtige harsingkas en ’n groot kakebeen gehad en is uitgebeeld as ’n geboë, harige, aapagtige gedierte wat op twee bene loop. Daar is gesê dat hy sowat drie- of viermiljoen jaar gelede gelewe het. Hy is mettertyd deur feitlik alle evolusioniste as die mens se voorouer aanvaar.
29 Die boek The Social Contract het byvoorbeeld gesê: “Op een of twee uitsonderinge na is alle bevoegde navorsers op hierdie terrein dit nou eens dat die Australopithecus-groep . . . in werklikheid die mens se voorouers is.”40 The New York Times het berig: “Dit was Australopithecus . . . wat eindelik tot Homo sapiens, of die hedendaagse mens, geëvolueer het.”41 En in Man, Time, and Fossils het Ruth Moore gesê: “Te oordeel na al die getuienis het mense eindelik hulle langverlore, vroeë voorouers gevind.” Sy het uitdruklik gesê: “Die getuienis is oorweldigend . . . die ontbrekende skakel is uiteindelik gevind.”42
30, 31. Wat toon latere getuienis oor Australopithecus?
30 Maar wanneer die getuienis vir enigiets inderdaad karig is of nie bestaan nie, of op skaamtelose bedrog gebaseer is, word die bewering vroeër of later blootgelê. Dit was die geval met talle voorbeelde van vermeende “aapmense” in die verlede.
31 Dit was ook die geval met Australopithecus. Meer navorsing het aan die lig gebring dat sy skedel “in meer opsigte van mense s’n verskil as net in kleiner breinvermoë”.43 Anatomis Zuckerman het geskryf: “Wanneer die Australopithecus-skedel met mense- en aapskedels vergelyk word, is die voorkoms daarvan oorweldigend aapagtig—nie menslik nie. Om die teenoorgestelde te sê, is soos om te sê dat swart wit is.”44 Hy het ook gesê: “Ons bevindinge laat min twyfel dat . . . Australopithecus nie met Homo sapiens ooreenkom nie, maar met lewende ape.”45 Donald Johanson het ook gesê: “Die Australopithecus-groep . . . was nie mense nie.”46 Richard Leakey het eweneens gesê dat dit “onwaarskynlik is dat ons onmiddellike voorouers die evolusionêre afstammelinge van Australopithecus was.”47
32. Hoe sou sulke skepsele beskou geword het indien hulle vandag nog gelewe het?
32 Indien enige eksemplare van Australopithecus vandag lewend gevind sou word, sou hulle saam met ander ape in dieretuine gesit word. Niemand sou hulle “aapmense” noem nie. Dieselfde geld vir ander, soortgelyke fossiele soos die kleiner soort Australopithecus genaamd “Lucy”. Robert Jastrow sê daaromtrent: “In absolute terme was die brein nie groot nie; dit was ’n derde van die grootte van ’n mensebrein.”48 Ook dít was duidelik net ’n “aap”. Trouens, New Scientist het gesê dat “Lucy” ’n skedel gehad het wat “baie met ’n sjimpansee s’n ooreenkom”.49
33. Watter fossielsoort kon menslik gewees het?
33 Nog ’n fossielsoort heet Homo erectus—regop mens. Die grootte en vorm van sy brein kom ooreen met die kleiner skedels van die hedendaagse mens. Die Encyclopædia Britannica het ook gesê dat “die ledemaatbene wat tot dusver ontdek is nie van dié van H[omo] sapiens onderskei kan word nie”.50 Dit is egter nie duidelik of dit menslik was of nie. Indien dit wel menslik was, was dit bloot ’n vertakking van die mensegeslag en het dit uitgesterf.
Die mensegeslag
34. Hoe het gedagtes oor die Neanderdal-mens verander?
34 Die Neanderdal-mens (vernoem na die Neander-streek in Duitsland waar die eerste fossiel gevind is) was ongetwyfeld menslik. Hy is aanvanklik uitgebeeld as ’n geboë, harige en aapagtige skepsel wat onnosel lyk. Dit is nou bekend dat hierdie verkeerde rekonstruksie gebaseer was op ’n fossielskelet wat erg misvorm was as gevolg van siekte. Sedertdien is talle Neanderdal-fossiele gevind wat bevestig dat hy nie veel van hedendaagse mense verskil het nie. In sy boek Ice het Fred Hoyle gesê: “Daar is geen bewys dat die Neanderdal-mens enigsins ons mindere was nie.”51 Onlangse sketse van Neanderdal-mense laat hulle gevolglik meer modern lyk.
35. Wat was Cro-Magnon-tipes?
35 Nog ’n fossielsoort wat ons dikwels in wetenskaplike literatuur teëkom, is die Cro-Magnon-mens. Dit is vernoem na die gebied in suidelike Frankryk waar sy bene die eerste keer uitgegrawe is. Hierdie eksemplare “is so ononderskeibaar van dié van vandag dat selfs die mees skeptiese persone moes toegee dat hulle mense was”, het die boek Lucy gesê.52
36. Wat is die feite omtrent aapagtige fossiele, en omtrent mensagtige fossiele?
36 Die getuienis is dus duidelik dat geloof in “aapmense” ongegrond is. Mense het eerder al die kenmerke dat hulle geskape is—apart en onderskeie van enige dier. Mense bring slegs volgens hulle eie soort voort. Dit is vandag die geval en was nog altyd die geval. Enige aapagtige gediertes wat in die verlede gelewe het, was bloot ape en nie mense nie. En fossiele van oermense wat effens van hedendaagse mense verskil, lig bloot die verskeidenheid in die mensegeslag toe, net soos daar vandag baie variëteite naas mekaar bestaan. Daar is mense van meer as twee meter lank, en daar is pigmeë, met skelette wat wissel in grootte en vorm. Maar almal behoort tot dieselfde mense-“soort”, nie ’n “diere”-soort nie.
Wat van die jaartalle?
37. Hoe lank is die mens volgens Bybelchronologie op aarde?
37 Bybelchronologie toon dat ongeveer 6 000 jaar verstryk het sedert die mens geskep is. Waarom lees ’n mens dan dikwels van veel langer tydperke sedert erkende menslike fossiele verskyn het?
38. Toon jaartalle wat deur radioaktiewe verval bepaal word en wat met Bybelchronologie bots dat die Bybel verkeerd is?
38 Voordat jy die gevolgtrekking maak dat Bybelchronologie verkeerd is, moet jy in gedagte hou dat sommige wetenskaplikes radioaktiewe dateringsmetodes skerp kritiseer. ’n Wetenskaptydskrif het verslag gelewer oor studies wat getoon het dat “jaartalle wat deur middel van radioaktiewe verval bepaal is, verkeerd kan wees—nie net met ’n paar jaar nie, maar sommer geweldig baie”. Dit het gesê: “In plaas daarvan dat die mens al 3,6 miljoen jaar op die aarde is, is hy moontlik slegs ’n paar duisend jaar hier.”53
39. Is die radiokoolstofdateringsmetode altyd betroubaar?
39 Die radiokoolstofdateringsmetode is ’n voorbeeld hiervan. Dit is oor ’n tydperk van twee dekades deur wetenskaplikes dwarsoor die wêreld ontwikkel. Dit is allerweë toegejuig vir die akkurate datering van kunswerke uit die mens se antieke geskiedenis. Maar toe is ’n konferensie van die wêreld se deskundiges, waaronder radiochemici, argeoloë en geoloë, in Uppsala, Swede, gehou om ervaringe uit te wissel. Die verslag oor hulle konferensie het getoon dat die fundamentele aannames waarop die datering gebaseer word in ’n meerdere of mindere mate onbetroubaar bevind is. Daar is byvoorbeeld bevind dat die tempo waarteen radioaktiewe koolstof in die atmosfeer vorm nie in die verlede bestendig was nie en dat hierdie metode nie betroubaar is om voorwerpe van ongeveer 2000 v.G.J. of vroeër te dateer nie.54
40. Hoe steun geskiedverslae Bybelchronologie waar dit by die ouderdom van die mens kom?
40 Hou in gedagte dat waarlik betroubare getuienis van die mens se bedrywigheid op aarde nie in terme van miljoene jare nie, maar in terme van duisende jare gegee word. In The Fate of the Earth lees ons byvoorbeeld: “Slegs ses- of seweduisend jaar gelede . . . het die beskawing te voorskyn gekom en ons in staat gestel om ’n mensewêreld op te bou.”55 The Last Two Million Years sê: “In die Ou Wêreld is die meeste van die ingrypende stappe in die landbourevolusie tussen 10000 en 5000 v.C. gedoen.” Dit sê ook: “Die mens het slegs die afgelope 5 000 jaar skriftelike verslae nagelaat.”56 Die feit dat die fossielverslag toon dat die mens skielik op aarde verskyn het, en dat betroubare geskiedverslae volgens erkenning nie baie oud is nie, strook met die Bybel se chronologie vir menselewe op aarde.
41. Wat het ’n baanbreker op die terrein van radiokoolstofdatering oor “prehistoriese” jaartalle gesê?
41 Let in hierdie verband op wat kernfisikus W. F. Libby, ’n Nobelpryswenner en een van die baanbrekers op die gebied van radiokoolstofdatering, in Science gesê het: “Die navorsing ter ontwikkeling van die dateringstegniek het uit twee stadia bestaan—die datering van monsters onderskeidelik uit die historiese en die prehistoriese epogge. Ek en Arnold [’n medewerker] het ons eerste skok gekry toe ons raadgewers ons meegedeel het dat die geskiedenis slegs 5 000 jaar terugdateer. . . . Jy lees verklarings dat hierdie of daardie samelewing of argeologiese terrein 20 000 jaar oud is. Ons het baie skielik uitgevind dat hierdie getalle, hierdie oerouderdomme, nie akkuraat bekend is nie.”57
42. Wat het ’n Engelse skrywer oor die verskil tussen evolusieverslae en die Genesisverhaal gesê?
42 Toe Engelse skrywer Malcolm Muggeridge ’n boek oor evolusie geresenseer het, het hy kommentaar gelewer oor die gebrek aan bewyse vir evolusie. Hy het gesê dat wilde bespiegelinge nietemin floreer. Toe het hy gesê: “Die Genesisverhaal lyk, in vergelyking daarmee, nugter genoeg en het ten minste die verdienste dat dit grondig verband hou met wat ons oor mense en hulle gedrag weet.” Hy het gesê dat die ongegronde bewerings oor miljoene jare vir die evolusie van die mens “en wilde spronge van skedel tot skedel, vir enigiemand wat nie deur die [evolusie]mite aangegryp is nie na niks anders as loutere fantasie kan lyk nie”. Muggeridge het die gevolgtrekking gemaak: “Die nageslag sal beslis verbaas, en ek hoop baie geamuseerd, wees dat sulke onpresiese en onoortuigende bespiegeling twintigste-eeuse verstande so maklik betower het en so algemeen en onbesonne toegepas is.”58
[Lokteks op bladsy 84]
Waarom het “laer” ape behoue gebly, maar nie ’n enkele “hoër” “aapmens” nie?
[Lokteks op bladsy 85]
Vroeë teorieë oor die evolusie van die mens was “die verbeelding van negentiende-eeuse wetenskaplikes”
[Lokteks op bladsy 85]
“Die vernaamste wetenskaplike getuienis is ’n armsalige hopie bene”
[Lokteks op bladsy 87]
‘Die gesoek na die spreekwoordelike “ontbrekende skakel” laat bespiegeling en mite floreer’
[Lokteks op bladsy 88]
“Elke tekening van die mens se stamboom sal op die ashoop gegooi moet word”
[Lokteks op bladsy 90]
Daar is nie ‘genoeg getuienis van fossielmateriaal om ons bespiegelinge uit die ryk van die fantasie te neem nie’
[Lokteks op bladsy 93]
“Ramapithecus kon nie die eerste lid van die mensegeslag gewees het nie”
[Lokteks op bladsy 95]
“Daar is geen bewys dat die Neanderdal-mens enigsins ons mindere was nie”
[Lokteks op bladsy 98]
“Die nageslag sal beslis verbaas . . . wees dat sulke onpresiese en onoortuigende bespiegeling twintigste-eeuse verstande so maklik betower het”
[Venster/Prente op bladsy 94]
Australopithecus is eens as ’n mensevoorouer, “die ontbrekende skakel”, beskou. Sommige wetenskaplikes is dit nou eens dat sy skedel “oorweldigend aapagtig—nie menslik nie” was
Australopithecus-skedel
Sjimpanseeskedel
Menseskedel
[Diagram/Prent op bladsy 90]
Die Piltdown-mens is 40 jaar lank as ’n “ontbrekende skakel” beskou totdat dit as ’n vervalsing aan die kaak gestel is. Dele van ’n orang-oetang se kakebeen en tande is met dele van ’n menseskedel gekombineer
[Diagram]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die donker dele is fragmente van ’n menseskedel
Die hele ligte deel is uit gips gefabriseer
Die donker dele is fragmente van ’n orang-oetang se kakebeen en tande
[Prent op bladsy 84]
Aangesien die lewende wêreld geen skakel tussen mens en dier bevat nie, het evolusioniste gehoop fossiele sou
[Prent op bladsy 86]
’n Evolusionis het erken: ‘Ons het geen bewys van biologiese verandering in breingrootte of -struktuur sedert Homo sapiens in die fossielverslag verskyn het nie’
[Prent op bladsy 89]
Waarop word tekeninge van “aapmense” gebaseer? Evolusioniste antwoord: “die verbeelding”, “blote verdigsel in die meeste opsigte”, “pure versinsel”
[Prente op bladsy 91]
’n Knaagdier soos ’n skeerbekmuis is glo die mens se voorouer. Maar daar is geen fossielgetuienis van so ’n verwantskap nie
Hierdie aapagtige gedierte is een van ons voorouers genoem.
Daar bestaan geen fossielgetuienis vir hierdie bewering nie
[Prente op bladsy 92]
Ramapithecus, wat net op tande en stukkies kakebeen gebaseer was, is “die eerste verteenwoordiger van die mensegeslag” genoem. Verdere getuienis het getoon dat dit nie die geval is nie
[Prent op bladsy 96]
Net soos in die geval van die fossielverslag bestaan daar vandag groot verskeidenheid in die grootte en vorm van mense se beenstruktuur. Maar almal behoort tot die mense-“soort”
[Prent op bladsy 97]
Mense het al die kenmerke wat daarop dui dat hulle apart en onderskeie van ape geskep is