Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 17 bl. 199-215
  • Kan jy die Bybel vertrou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy die Bybel vertrou?
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel en die wetenskap
  • Die Bybel en gesondheid
  • Die Bybel en die geskiedenis
  • Eerlikheid en harmonie
  • ’n Unieke bron van hoër wysheid
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Deel 2—Wrede Assirië—die tweede groot wêreldmoondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Waarom jy die Bybel kan vertrou
    Waarom jy die Bybel kan vertrou
  • Kan hierdie boek vertrou word?
    ’n Boek vir alle mense
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 17 bl. 199-215

Hoofstuk 17

Kan jy die Bybel vertrou?

1. (a) Hoe beskou baie die Bybel, in teenstelling met die Bybel se aansprake? (b) Watter vraag ontstaan?

BAIE beskou die Bybel bloot as ’n boek wat deur wyse manne van lank gelede geskryf is. ’n Universiteitsprofessor, Gerald A. Larue, het beweer: “Die beskouings van die skrywers wat in die Bybel uitgedruk is, weerspieël die idees, opvattings en begrippe wat in hulle tyd gewild was en word beperk deur die omvang van kennis in daardie tye.”⁠1 Die Bybel maak egter daarop aanspraak dat dit deur God geïnspireer is (2 Timotheüs 3:16). As dit die geval is, sal dit tog seker vry wees van die verkeerde beskouings wat gehuldig is toe die verskillende dele daarvan geskryf is. Kan die Bybel ondersoek in die lig van teenswoordige kennis deurstaan?

2. Hoe raak nuwe informasie dikwels die geskrifte van mense oor wetenskaplike aangeleenthede?

2 Terwyl ons hierdie vraag bespreek, moet jy in gedagte hou dat namate kennis vermeerder, mense voortdurend hulle beskouings moet verander sodat dit ooreenkom met nuwe informasie en ontdekkings. Die Scientific Monthly het eenkeer gesê: “Dit is te veel om te verwag dat artikels wat in sommige gevalle [slegs] vyf jaar gelede geskryf is nou aanvaar kan word as verteenwoordigend van die jongste denke op die terreine van die wetenskap waaroor hulle handel.”⁠2 Die Bybel is egter oor ’n tydperk van sowat 1 600 jaar geskryf en saamgestel, en is ongeveer 2 000 jaar gelede voltooi. Wat kan vandag oor die akkuraatheid daarvan gesê word?

Die Bybel en die wetenskap

3. Hoe het mense van die ou tyd gedink dat die aarde gestut word, maar wat sê die Bybel?

3 Toe die Bybel geskryf is, is daar nog bespiegel hoe die aarde in die ruimte gehou word. Sommige het byvoorbeeld geglo dat die aarde op vier olifante rus wat op ’n groot waterskilpad staan. Maar in plaas van die eienaardige, onwetenskaplike beskouings te weerspieël wat destyds bestaan het, het die Bybel eenvoudig gesê: “[God] wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor ’n niks” (Job 26:7). Ja, meer as 3 000 jaar gelede het die Bybel korrek gesê dat die aarde geen sigbare steun het nie, ’n feit wat strook met die wet van die swaartekrag en bewegingswette wat maar onlangs eers begryp is. “Hoe Job die waarheid geweet het”, het een godsdiensgeleerde gesê, “is ’n vraag wat nie maklik beantwoord kan word deur diegene wat die inspirasie van die Heilige Skrif loën nie.”⁠3

4, 5. (a) Wat het mense eens oor die vorm van die aarde geglo, en wat het hulle gevolglik gevrees? (b) Wat sê die Bybel oor die vorm van die aarde?

4 Aangaande die vorm van die aarde sê The Encyclopedia Americana: “Die vroegste denkbeeld wat mense van die aarde gehad het, en wat aan ons bekend is, was dat dit ’n plat, vaste verhoog in die middel van die heelal is. . . . Die begrip van ’n bolvormige aarde is eers tydens die Renaissance algemeen aanvaar.”⁠4 Sommige vroeë seevaarders was selfs bang dat hulle oor die rand van die plat aarde sou seil! Maar toe het die koms van die kompas en ander verbeteringe langer seereise moontlik gemaak. ’n Ander ensiklopedie verduidelik dat hierdie “ontdekkingsreise” “getoon het dat die wêreld rond is, nie plat soos die meeste mense geglo het nie”.⁠5

5 Maar lank voor sulke reise, trouens, ongeveer 2 700 jaar gelede, het die Bybel gesê: “Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane” (Jesaja 40:22). Die Hebreeuse woord chugh, wat met “kring” vertaal is, kan ook “sfeer” beteken, soos naslaanwerke soos Davidson se Analytical Hebrew and Chaldee Lexicon toon. Ander vertalings sê gevolglik “die aardbol” (Douay Version), en “die ronde aarde” (Moffatt). Die Bybel is dus nie beïnvloed deur die verkeerde beskouing, naamlik dat die aarde plat is, wat geheers het toe dit geskryf is nie. Dit was akkuraat.

6. Watter wonderlike kringloop, wat in die ou tyd merendeels onbekend was, beskryf die Bybel?

6 Mense weet al lank dat die riviere na die seë en oseane vloei en dat laasgenoemdes tog nie dieper word nie. Totdat daar vasgestel is dat die aarde bolvormig is, het sommige geglo dat dit die geval was omdat ’n gelyke hoeveelheid water oor die kant van die aarde gestort het. Later is daar geleer dat die son elke sekonde duisendmiljoene liters water van die seë af “oppomp” in die vorm van waterdamp. Dit veroorsaak wolke wat deur die wind na die landgebiede gewaai word waar die vog as reën en sneeu val. Die water loop dan in die riviere in en vloei weer na die seë. Hierdie wonderlike kringloop, wat in die ou tyd merendeels onbekend was, word in die Bybel gemeld: “Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer.”—Prediker 1:7.

7, 8. (a) Hoe is daar getoon dat die Bybel se verklarings oor die oorsprong van die heelal akkuraat is? (b) Wat is die reaksie van sommige sterrekundiges oor hierdie nuwer informasie, en waarom?

7 Aangaande die oorsprong van die heelal sê die Bybel: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). Maar baie wetenskaplikes het dit as onwetenskaplik beskou en gesê dat die heelal geen begin gehad het nie. Sterrekundige Robert Jastrow het egter die aandag op nuwer informasie gevestig en verduidelik: “Die wese van die eienaardige ontwikkelinge is dat die Heelal in ’n sekere sin wel ’n begin gehad het—dat dit op ’n sekere oomblik in tyd begin het.” Jastrow praat hier van die ontploffingsteorie, wat in Hoofstuk 9 gemeld word en nou algemeen aanvaar word. Hy voeg by: “Ons sien nou hoe die astronomiese getuienis op ’n Bybelse beskouing van die oorsprong van die wêreld dui. Die besonderhede verskil, maar die wesenlike aspekte van die astronomiese verslag en die Bybelse Genesisverhaal is dieselfde.”⁠6

8 Wat was die reaksie op sulke ontdekkings? “Sterrekundiges is, eienaardig genoeg, ontsteld”, skryf Jastrow. “Hulle reaksies bied ’n interessante voorbeeld van die reaksie van die wetenskaplike verstand—wat veronderstel is om ’n baie objektiewe verstand te wees—wanneer getuienis wat deur die wetenskap self gevind word strydig is met die geloofsartikels van ons beroep. Dit blyk dat die wetenskaplike net soos die res van ons optree wanneer ons opvattings strydig is met die getuienis. Ons raak ergerlik, ons maak of die teenstrydigheid nie bestaan nie, of ons verdoesel dit met sinlose uitdrukkings.”⁠7 Maar die feit bly staan dat hoewel “getuienis wat deur die wetenskap self gevind” is nie gestrook het met wat wetenskaplikes lank oor die oorsprong van die heelal geglo het nie, dit bevestig het wat duisende jare gelede in die Bybel opgeteken is.

9, 10. (a) Wat sê die Bybel oor ’n groot vloed? (b) Watter getuienis staaf nou dat die Bybel die waarheid praat?

9 Die Bybel sê dat ’n groot vloed in die dae van Noag die aarde se hoogste berge bedek het en alle menselewe buitekant die groot ark wat Noag gebou het, vernietig het (Genesis 7:1-24). Baie het met hierdie verhaal gespot. Seeskulpe word egter op hoë berge aangetref. En verdere bewys dat ’n vloed met geweldige afmetings nie te lank gelede plaasgevind het nie, is die groot getal fossiele en karkasse wat in ysige, slykerige stortplekke gevind is. The Saturday Evening Post het gesê: “Baie van hierdie diere was heeltemal vars, heel en ongeskend, en het òf nog gestaan òf ten minste regop gekniel. . . . Hier is ’n werklik skokkende beeld—skokkend vir ons vorige denkwyse. Groot kuddes yslike, uitgevrete diere wat nie spesifiek ontwerp is vir bitter koue nie, rustig besig om in sonnige weivelde te vreet . . . Hulle is almal skielik sonder enige sigbare teken van geweld gedood voordat hulle eens die laaste bek vol kos kon afsluk, en toe is hulle so gou gevries dat elke sel van hulle liggame volmaak bewaar is.”⁠8

10 Dit strook met wat tydens die groot Vloed gebeur het. Die Bybel beskryf dit soos volg: “Al die fonteine van die groot watervloed [is] oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen.” Die stortreën “het heeltemal die oorhand gekry op die aarde” en het ongetwyfeld gepaard gegaan met ysige winde in die poolstreke (Genesis 1:6-8; 7:11, 19). Die temperatuurverandering sou daar die vinnigste en mees drastiese wees. Verskeie lewensvorme is gevolglik verswelg en in bevrore slyk bewaar. Die mammoet waarop opgrawers in Siberië afgekom het en wat in die prent hier langsaan gesien kan word, was moontlik een van hulle. Daar was nog steeds plante in sy bek en maag, en sy vleis was selfs eetbaar nadat dit ontdooi het.

11. Watter ander verklarings in die Bybel is deur toenemende kennis bevestig, en watter gevolgtrekking het selfs sommige wetenskaplikes hieruit gemaak?

11 Hoe nader ons die Bybel ondersoek, des te verbasender is die merkwaardige akkuraatheid daarvan. Soos op bladsye 36 en 37 in hierdie boek getoon is, gee die Bybel die skeppingstadia aan in presies dieselfde orde wat nou deur die wetenskap bevestig word, ’n feit wat moeilik sou wees om te verklaar indien die Bybel bloot by mense ontstaan het. Dit is nog ’n voorbeeld van die talle besonderhede in die Bybel wat deur toenemende kennis bevestig is. Een van die grootste wetenskaplikes van alle tye, Isaac Newton, het dus met goeie rede gesê: “Geen wetenskap word beter gestaaf as die godsdiens van die Bybel nie.”⁠9

Die Bybel en gesondheid

12. Hoe het ’n geneesheer ’n teenstelling getref tussen algemene bygelowe oor gesondheid en verklarings in die Bybel?

12 Deur die eeue heen het daar groot onkunde oor sake rakende gesondheid bestaan. ’n Geneesheer het selfs gesê: “Baie mense glo nog steeds aan talle bygelowe, byvoorbeeld dat ’n perdekastaiing in die sak rumatiek sal voorkom; dat die hantering van paddas vratjies veroorsaak; dat rooi flanel om die nek ’n seer keel sal genees”, en ander. Hy het egter verduidelik: “Geen verklarings van hierdie aard word in die Bybel aangetref nie. Dit op sigself is merkwaardig.”⁠10

13. Watter gevaarlike mediese behandeling het die eertydse Egiptenaars voorgeskryf?

13 Dit is ook merkwaardig wanneer ’n mens gevaarlike mediese behandelings wat in die verlede toegepas is, vergelyk met wat die Bybel sê. Die Papirus Ebers, ’n mediese dokument van die eertydse Egiptenaars, het byvoorbeeld die gebruik van uitwerpsels voorgeskryf by die behandeling van verskillende siektes. Dit het voorgeskryf dat mensedrek wat met vars melk gemeng is as ’n pap gesit moet word op letsels wat oorgebly het nadat rowe afgeval het. En ’n raat om splinters uit te trek, lui: “Wurms se bloed, kook en druk fyn in olie; mol, maak dood, kook en laat afloop in olie; ’n esel se mis, meng met vars melk. Sit dit aan die wond.”⁠11 Dit is nou bekend dat sulke behandeling ernstige infeksies tot gevolg kan hê.

14. Wat sê die Bybel moet met uitwerpsels gedoen word, en hoe was dit ’n beskerming?

14 Wat sê die Bybel oor uitwerpsels? Dit het beveel: “As jy jou buite wil gaan ontlas, moet jy ’n gat grawe met die stok en as jy klaar is, moet jy alles toekrap” (Deuteronomium 23:13, NAV). Die Bybel het dus beveel dat daar op ’n veilige manier van uitwerpsels ontslae geraak moet word en dit hoegenaamd nie vir mediese behandeling voorgeskryf nie. Reg tot hierdie eeu was dit nie algemeen bekend dat dit gevaarlik is om uitwerpsels oop te laat lê sodat vlieë daarby kan kom nie. Dit het gelei tot die verspreiding van ernstige kwale wat deur vlieë versprei word en tot die dood van baie mense. Die eenvoudige raat was egter die hele tyd in die Bybel, en die Israeliete het dit meer as 3 000 jaar gelede toegepas.

15. Watter mediese gebruik wat talle sterfgevalle tot gevolg gehad het, sou vermy gewees het indien Bybelraad oor die aanraking van dooies gevolg is?

15 Gedurende die vorige eeu het mediese personeel ondersoeke in die kraamkamer uitgevoer onmiddellik nadat hulle lyke in die ontleedkamer hanteer het, en hulle het nie eens hulle hande gewas nie. Infeksies is gevolglik van die dooies af oorgedra, en baie ander het gesterf. Selfs toe daar getoon is hoe belangrik dit is om hande te was, het baie lede van die mediese gemeenskap hulle teen sulke gesondheidsmaatreëls verset. Sodoende het hulle, ongetwyfeld onwetend, die wysheid in die Bybel verwerp, aangesien Jehovah se wet aan die Israeliete beveel het dat enigiemand wat ’n dooie aanraak onrein geword het en homself en sy klere moes was.—Numeri 19:11-22.

16. Hoe het die bevel dat besnydenis op die agtste dag moes plaasvind wysheid geopenbaar wat mensekennis oortref het?

16 As ’n teken van ’n verbond met Abraham het Jehovah God gesê: “’n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word.” Hierdie vereiste is later aan die nasie Israel herhaal (Genesis 17:12; Levitikus 12:2, 3). Daar is geen verduideliking gegee waarom dit juis op die agtste dag moes gebeur nie, maar ons verstaan nou waarom. Mediese navorsing het ontdek dat die bloedstollende element vitamien K eers dan in voldoende hoeveelhede aanwesig is. Nog ’n noodsaaklike stolelement, protrombien, is skynbaar op die agtste dag in groter hoeveelhede aanwesig as te enige ander tyd in ’n kind se lewe. Op grond van hierdie getuienis het dr. S. I. McMillen die gevolgtrekking gemaak: “Die volmaakte dag vir besnydenis is die agtste dag.”⁠12 Was dit blote toeval? Glad nie. Dit was kennis wat oorgedra is deur ’n God wat weet.

17. Watter ander ontdekking van die wetenskap staaf die Bybel?

17 Nog ’n ontdekking van die hedendaagse wetenskap is die mate waarin ’n mens se gesindheid en emosies jou gesondheid beïnvloed. ’n Ensiklopedie verduidelik: “Sedert 1940 het dit al hoe duideliker geword dat die fisiologiese funksie van organe en die orgaanstelsels ten nouste verbonde is aan die gemoedsgesteldheid van die individu en dat selfs weefselveranderinge kan plaasvind in ’n orgaan wat so beïnvloed word.”⁠13 Die Bybel het egter lank gelede van hierdie noue verband tussen gesindheid en liggaamlike gesondheid gepraat. Dit sê byvoorbeeld: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog is ’n verrotting vir die gebeente.”—Spreuke 14:30; 17:22.

18. Hoe spoor die Bybel mense aan om skadelike emosies te vermy en beklemtoon dit die betoning van liefde?

18 Die Bybel raai mense dus aan om skadelike emosies en gesindhede te vermy. “Laat ons welvoeglik wandel”, vermaan dit, “nie in twis en nydigheid nie.” Dit vermaan ook: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar” (Romeine 13:13; Efesiërs 4:31, 32). Die Bybel staan veral liefde voor. Dit sê: “Beklee julle bo dit alles met die liefde.” As die grootste voorstander van liefde het Jesus vir sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê, soos Ek julle liefgehad het.” In sy Bergpredikasie het hy selfs gesê: “Julle moet jul vyande liefhê” (Kolossense 3:12-15; Johannes 13:34; Mattheüs 5:44). Baie spot hiermee en noem dit swakheid, maar hulle betaal ’n prys. Die wetenskap het geleer dat ’n gebrek aan liefde ’n belangrike faktor by talle geesteskwale en ander probleme is.

19. Wat het die hedendaagse wetenskap omtrent liefde ontdek?

19 Die Britse mediese tydskrif Lancet het eenkeer gesê: “Verreweg die betekenisvolste ontdekking van die geesteswetenskap is die krag van liefde om die verstand te beskerm en te herstel.”⁠14 ’n Beroemde spesialis op die gebied van stres, dr. Hans Selye, het eweneens gesê: “Dit is nie die gehate persoon of die frustrerende baas wat aan maagsere, hoë bloeddruk en hartkwaal sal ly nie. Dit is die een wat haat of die een wat toelaat dat hy gefrustreer word. ‘Jy moet jou naaste liefhê’ is een van die verstandigste stukkies mediese raad wat ooit gegee is.”⁠15

20. Hoe het ’n dokter Christus se leer in die Bergpredikasie met psigiatriese raad vergelyk?

20 Die Bybel se wysheid is hedendaagse ontdekkings inderdaad ver voor. Dr. James T. Fisher het eenkeer geskryf: “Indien jy al die gesaghebbende artikels neem wat ooit deur die mees gekwalifiseerde sielkundiges en psigiaters oor die onderwerp van geestesgesondheid geskryf is—indien jy dit sou kombineer en suiwer en al die oortollige woorde uithaal—as jy al die vleis en niks van die pietersielie neem nie, as jy hierdie onverwaterde stukkies suiwer wetenskaplike kennis akkuraat deur die bekwaamste van alle lewende digters sou laat uitdruk, sou jy ’n lomp en onvolledige opsomming van die Bergpredikasie hê.”⁠16

Die Bybel en die geskiedenis

21. Hoe het kritici die geskiedkundige waarde van die Bybel ongeveer honderd jaar gelede beskou?

21 Nadat Darwin sy evolusieteorie gepubliseer het, is die Bybel se geskiedverslag allerweë aangeval. Argeoloog Leonard Woolley het verduidelik: “Teen die einde van die negentiende eeu het daar ’n ekstremistiese groep kritici na vore gekom wat gereed was om die geskiedkundige grondslag van feitlik alles wat in die vroeëre boeke van die Ou Testament verhaal is, te loën.”⁠17 Trouens, sommige kritici het selfs beweer dat die skryfkuns eers in die dae van Salomo of daarna algemeen gebruik is; en daarom kon ’n mens nie die vroeë Bybelverhale vertrou nie aangesien hulle eers eeue ná die gebeure op skrif gestel is. Een van die voorstanders van hierdie teorie het in 1892 gesê: “Die tyd waaroor die voor-Mosaïese verhale handel, is voldoende bewys van hulle legendariese aard. Dit was ’n tyd voordat daar enige kennis van die skryfkuns was.”⁠18

22. Wat het mense oor vroeë volke se skryfvermoë geleer?

22 Maar die afgelope tyd is baie argeologiese getuienis versamel om te toon dat die skryfkuns lank voor die tyd van Moses algemeen was. “Ons moet weer eens beklemtoon”, het argeoloog William Foxwell Albright verduidelik, “dat alfabetiese Hebreeuse skrif van die Patriargale Eeu af in Kanaän en naburige streke gebruik is, en dat die spoed waarmee die vorm van letters verander het duidelike bewys van algemene gebruik is.”⁠19 En ’n ander vername geskiedkundige en opgrawer het gesê: “Dit lyk nou vir ons belaglik dat die vraag ooit eens geopper is of Moses geweet het hoe om te skryf.”⁠20

23. Wat is omtrent koning Sargon ontdek, en watter beskouings is gevolglik verander?

23 Die Bybel se geskiedkundige verslag is keer op keer deur die ontdekking van nuwe informasie gestaaf. Die Assiriese koning Sargon was byvoorbeeld lank bekend slegs omdat hy inJesaja 20:1 in die Bybel gemeld word. Trouens, gedurende die vroeë deel van die vorige eeu is hierdie Bybelse verwysing na hom deur kritici afgemaak as iets met geen geskiedkundige waarde nie. Toe het argeologiese opgrawings die puin van Sargon se manjifieke paleis te Khorsabad, tesame met talle inskripsies oor sy bewind, opgelewer. Sargon is gevolglik nou een van die Assiriese konings waarvan ons die meeste weet. Israeli-geskiedskrywer Moshe Pearlman het geskryf: “Skielik het skeptici wat die egtheid van selfs die geskiedkundige dele van die Ou Testament in twyfel getrek het, begin om hulle beskouings te verander.”⁠21

24. In watter mate kom ’n Assiriese verslag van Sargon ooreen met die Bybelverhaal oor die verowering van Samaria?

24 Een van Sargon se inskripsies vertel van ’n voorval wat voorheen slegs in die Bybel beskryf is. Dit lui: “Ek het Samaria beleër en verower, en 27 290 inwoners daarvan as buit weggevoer.”⁠22 Die Bybelverhaal hieroor in2 Konings 17:6 lui: “In die negende jaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer.” Aangaande die treffende ooreenkoms tussen hierdie twee verslae het Pearlman gesê: “Hier het ons dan twee verslae in die annale van die veroweraar en die verslaandes, die een eintlik ’n afspieëling van die ander.”⁠23

25. Waarom moet ons nie verwag dat Bybelse en sekulêre verslae in alle opsigte sal ooreenstem nie?

25 Moet ons dan verwag dat Bybelse en sekulêre verslae in alle besonderhede sal ooreenstem? Nee, soos Pearlman sê: “Hierdie soort identiese ‘oorlogverslaggewing’ aan beide kante was buitengewoon in die Midde-Ooste van antieke tye (en soms vandag ook). Dit het slegs voorgekom wanneer die vegtende lande Israel en een van sy bure was, en slegs wanneer Israel verslaan is. Wanneer Israel gewen het, het daar geen verslag van ’n neerlaag in die kronieke van die vyand verskyn nie.”⁠24 (Ons kursiveer.) Dit verbaas ons dus nie dat Assiriese verslae oor die veldtog van Sargon se seun Sanherib teen Israel iets belangriks weglaat nie. En wat is dit?

26. Hoe vergelyk Sanherib se verslag met wat die Bybel oor sy militêre veldtog teen Israel sê?

26 Muurreliëfs uit koning Sanherib se paleis is ontdek wat tonele van sy veldtog teen Israel uitbeeld. Skriftelike beskrywings hiervan is ook gevind. Een, ’n kleiprisma, lui: “Wat Hiskia die Jood betref: Hy het hom nie aan my juk onderwerp nie. Ek het 46 van sy sterk stede beleër . . . Hom het ek in Jerusalem, sy koninklike tuiste, ’n gevangene gemaak soos ’n voëltjie in ’n kou. . . . Ek het sy land kleiner gemaak, maar ek het nogtans die skatting en die katru-presente wat my (as sy) opperheer (toegekom het), verhoog.”⁠25 Sanherib se weergawe strook dus met die Bybel wat Assiriese oorwinnings betref. Maar soos verwag kan word, sê hy niks oor sy onvermoë om Jerusalem te verower en die feit dat hy noodgedwonge moes terugkeer huis toe omdat 185 000 van sy soldate in een nag gedood is nie.—2 Konings 18:13–19:36; Jesaja 36:1–37:37.

27. Hoe vergelyk die Bybel se verslag oor die sluipmoord op Sanherib met wat vroeë sekulêre verslae daaroor sê?

27 Beskou die sluipmoord op Sanherib en wat ’n onlangse ontdekking daaromtrent onthul. Die Bybel sê dat twee van sy seuns, Adrammeleg en Sareser, Sanherib vermoor het (2 Konings 19:36, 37). Maar sowel die verslag wat toegeskryf word aan Babiloniese koning Nabonidus as dié van die Babiloniese priester Berossus van die derde eeu v.G.J. sê dat slegs een seun by die moord betrokke was. Wie het reg gehad? In sy kommentaar oor ’n onlangse ontdekking van ’n fragmentariese prisma van Esar-Haddon, Sanherib se seun wat hom as koning opgevolg het, het geskiedskrywer Philip Biberfeld geskryf: “Slegs die Bybelse verhaal is korrek. Al die fyner besonderhede daarvan is deur die inskripsie van Esar-Haddon gestaaf, en dit was ’n akkurater beskrywing van hierdie gebeurtenis in Babilonies-Assiriese geskiedenis as wat die Babiloniese bronne self was. Dit is ’n feit van die allergrootste belang by die waardebepaling van selfs kontemporêre bronne wat nie met Bybelse oorlewering klop nie.”⁠26

28. Hoe is die Bybel se verklarings oor Belsasar reg bewys?

28 Op een stadium het alle bekende antieke bronne ook met die Bybel verskil waar dit by Belsasar kom. Die Bybel beskryf Belsasar as die koning van Babilon toe die stad geval het (Daniël 5:1-30). Maar sekulêre geskrifte het Belsasar nie eers gemeld nie en gesê dat Nabonidus destyds koning was. Kritici het dus beweer dat Belsasar nooit bestaan het nie. Maar onlangs is antieke geskrifte gevind wat Belsasar as ’n seun van Nabonidus en medeheerser van sy vader in Babilon identifiseer. Dit is klaarblyklik om hierdie rede dat die Bybel sê dat Belsasar aangebied het om Daniël “derde in rang in die koninkryk” te maak, aangesien Belsasar self tweede in rang was (Daniël 5:16, 29). Toe professor R. P. Dougherty van Yale-Universiteit die Bybelboek Daniël met ander antieke geskrifte vergelyk het, het hy gevolglik gesê: “Die Skriftuurlike verslag kan as voortreflik vertolk word omdat dit die naam Belsasar gebruik, omdat dit koninklike mag aan Belsasar toeskryf en omdat dit erken dat ’n tweeledige heerskappy in die koninkryk bestaan het.”⁠27

29. Watter bevestiging is ontdek vir wat die Bybel oor Pontius Pilatus sê?

29 Nog ’n voorbeeld van ’n ontdekking wat staaf dat iemand wat in die Bybel gemeld word werklik gelewe het, word verstrek deur Michael J. Howard, wat in 1979 saam met die Cesarea-ekspedisie in Israel gewerk het. Hy het geskryf: “Pilatus het 1 900 jaar lank slegs op die bladsye van die Evangelies en in die vae herinneringe van Romeinse en Joodse geskiedskrywers bestaan. So te sê niks omtrent sy lewe was bekend nie. Sommige het gesê dat hy nooit eens bestaan het nie. Maar in 1961 het ’n Italiaanse argeologiese ekspedisie in die puin van die antieke Romeinse teater in Cesarea gewerk. ’n Werker het ’n klip omgedraai wat as een van die trappe gebruik is. Op die agterkant was die volgende deels uitgewiste inskripsie in Latyn: ‘Caesariensibus Tiberium Pontius Pilatus Praefectus Iudaeae.’ (Aan die mense van Cesarea-Tiberius Pontius Pilatus Prefek van Judea.) Dit was ’n nekslag vir die twyfel oor Pilatus se bestaan . . . Vir die eerste keer was daar kontemporêre epigrafiese bewys van die lewe van die man wat beveel het dat Christus gekruisig moet word.”⁠28—Johannes 19:13-16; Handelinge 4:27.

30. Watter feit wat omtrent die gebruik van kamele ontdek is, staaf die Bybelverhaal?

30 Hedendaagse ontdekkings staaf selfs kleiner besonderhede van ou Bybelverhale. Werner Keller het byvoorbeeld die Bybel weerspreek toe hy in 1964 geskryf het dat kamele nie in vroeë tye reeds mak gemaak is nie, en daarom moet die toneel “waar ons Rebekka die eerste keer in haar geboortestad Nahor ontmoet, klaarkom met ’n verandering van toneelrekwisiete. Die ‘kamele’ wat aan haar toekomstige skoonvader, Abraham, behoort het en wat sy by die put laat drink het, was—donkies”⁠29 (Genesis 24:10). Maar in 1978 het Israeli-veldheer en -argeoloog Moshe Dayan op die getuienis gewys dat kamele in daardie vroeë tye “’n vervoermiddel was” en dat die Bybelverhaal gevolglik akkuraat is. “’n Reliëf uit die agttiende eeu v.C. wat by Biblos in Fenicië gevind is, toon ’n knielende kameel”, het Dayan verduidelik. “En kameelruiters kom voor op silinderseëls wat onlangs in Mesopotamië ontdek is en uit die patriargale tydperk dateer.”⁠30

31. Watter verdere getuienis is daar dat die Bybel geskiedkundig akkuraat is?

31 Getuienis dat die Bybel geskiedkundig akkuraat is, het onweerstaanbaar opgehoop. Hoewel dit waar is dat sekulêre verslae van Egipte se fiasko by die Rooi See en ander sodanige neerlae nie gevind is nie, is dit nie verbasend nie, aangesien dit nie die gebruik van heersers was om hulle neerlae te laat opteken nie. Teen die tempelmure van Karnak in Egipte is die verslag van Farao Sisak se suksesvolle inval van Juda gedurende die bewind van Salomo se seun Rehabeam gevind. Die Bybel vertel hiervan in1 Konings 14:25, 26. Daarbenewens is koning Mesa van Moab se weergawe van sy opstand teen Israel ontdek. Dit is opgeteken op die sogenaamde Moabitiese Steen. Die verslag kan ook in2 Konings 3:4-27 in die Bybel gelees word.

32. Wat kan besoekers aan museums vandag sien wat Bybelverhale staaf?

32 Besoekers aan talle museums kan muurreliëfs, inskripsies en standbeelde sien wat Bybelverhale staaf. Konings van Juda en Israel soos Hiskia, Manasse, Omri, Agab, Peka, Menahem en Hosea verskyn op spykerskrifverslae van Assiriese heersers. Salmaneser se Swart Gedenknaald toon hoedat koning Jehu of een van sy afgesante skatting betaal. Die dekor van die Persiese paleis in Susan, soos die Bybelse persone Mordegai en Ester dit geken het, is vir hedendaagse besoekers herskep. Standbeelde van die vroeë Romeinse keisers Augustus, Tiberius en Claudius, wat in Bybelverhale gemeld word, kan ook deur museumbesoekers besigtig word (Lukas 2:1; 3:1; Handelinge 11:28; 18:2). Daar is inderdaad ’n silwerpenningmuntstuk gevind wat die beeld van keiser Tiberius bevat—’n muntstuk waarom Jesus gevra het toe hy die kwessie van belasting bespreek het.—Mattheüs 22:19-21.

33. Hoe lewer die land Israel en sy terreingesteldheid bewys dat die Bybel akkuraat is?

33 ’n Hedendaagse besoeker aan Israel wat met die Bybel vertroud is, kan nie anders as om beïndruk te wees deur die feit dat die Bybel die land en sy terreingesteldheid baie akkuraat beskryf nie. Dr. Ze’ev Shremer, die leier van ’n geologiese ekspedisie in die Sinai-skiereiland, het eenkeer gesê: “Ons het natuurlik ons eie landkaarte en geodetiese opnames, maar waar die Bybel en die landkaarte verskil, volg ons Die Boek.”⁠31 Hier is maar een voorbeeld van hoe ’n mens vandag persoonlik die geskiedenis kan beleef wat in die Bybel beskryf word: ’n Mens kan vandag in Jerusalem deur ’n tonnel van 533 meter loop wat meer as 2 700 jaar gelede deur soliede rots gegrawe is. Dit is gegrawe om die stad se watervoorraad te beskerm deur water uit die versteekte Gihon-fontein buitekant die stadsmure na die Siloam-poel binne-in die stad te lei. Die Bybel verduidelik hoedat Hiskia hierdie watertonnel laat bou het om die stad van water te voorsien in afwagting van Sanherib se komende beleëring.—2 Konings 20:20; 2 Kronieke 32:30.

34. Wat het sommige gerespekteerde geleerdes oor die Bybel se akkuraatheid gesê?

34 Dit is maar net ’n paar voorbeelde wat toon waarom dit onverstandig is om die Bybel se akkuraatheid te onderskat. Daar is nog veel meer. Twyfelgedagtes oor die Bybel se betroubaarheid is dus gewoonlik nie gebaseer op wat dit sê of op gegronde getuienis nie, maar eerder op verkeerde inligting of onkunde. Die voormalige direkteur van die Britse Museum, Frederic Kenyon, het geskryf: “Die argeologie het nog nie sy laaste woord gespreek nie; maar die resultate wat reeds behaal is, bevestig wat geloof sou voorskryf, naamlik dat die Bybel maar net by ’n vermeerdering van kennis baat kan vind.”⁠32 En die welbekende argeoloog Nelson Glueck het gesê: “Daar kan beslis gesê word dat geen argeologiese ontdekking nog ooit ’n Bybelse verwysing weerlê het nie. Talle argeologiese vondste bevestig geskiedkundige verklarings in die Bybel in breë trekke of in die fynste besonderhede.”⁠33

Eerlikheid en harmonie

35, 36. (a) Watter persoonlike tekortkominge het verskeie Bybelskrywers erken? (b) Waarom verleen die eerlikheid van hierdie skrywers gewig aan hulle verklaring dat die Bybel van God kom?

35 Nog iets wat die Bybel identifiseer as ’n boek wat van God af kom, is die eerlikheid van sy skrywers. Dit druis in teen die onvolmaakte menslike natuur om foute of mislukkings te erken, veral op skrif. Die meeste eertydse skrywers het slegs hulle suksesse en deugde berig. Maar Moses het geskryf dat hy ‘ontrou gehandel het’ en gevolglik ongeskik verklaar is om Israel in die Beloofde Land in te lei (Deuteronomium 32:50-52; Numeri 20:1-13). Jona het van sy eiesinnigheid vertel (Jona 1:1-3; 4:1). Paulus het sy vorige oortredings erken (Handelinge 22:19, 20; Titus 3:3). En Mattheüs, ’n apostel van Christus, het berig dat die apostels soms kleingelowig was, vernaamheid nagestreef het en Jesus selfs tydens sy inhegtenisname verlaat het.—Mattheüs 17:18-20; 18:1-6; 20:20-28; 26:56.

36 Indien Bybelskrywers iets wou vervals, sou dit dan nie die ongunstige informasie omtrent hulleself wees nie? Dit klink nie logies dat hulle hulle eie tekortkominge sou openbaar en dan vals verklarings oor ander dinge maak nie, nie waar nie? Die Bybelskrywers se eerlikheid verleen dus gewig aan hulle verklaring dat God hulle gelei het toe hulle geskryf het.—2 Timotheüs 3:16.

37. Waarom is die interne harmonie van die Bybel so ’n sterk bewys dat dit deur God geïnspireer is?

37 Die interne harmonie om ’n sentrale tema getuig ook van die Bybel se Goddelike Outeurskap. Dit is maklik om te sê dat die Bybel se 66 boeke deur om en by 40 verskillende skrywers oor ’n tydperk van 16 eeue geskryf is. Maar dink net hoe merkwaardig daardie feit is! Gestel dat daar in die tyd van die Romeinse Ryk begin is om ’n boek te skryf, dat die skryfwerk deur die tydperk van die monargieë en tot hedendaagse republieke voortgeduur het, en dat die skrywers so uiteenlopend soos soldate, konings, priesters en vissers was en selfs ’n herder en ’n dokter ingesluit het. Sou jy verwag dat elke deel van daardie boek dieselfde duidelik omlynde tema sou uitbou? En tog is die Bybel oor ’n soortgelyke tydperk, onder verskillende politieke bewinde en deur manne in al daardie kategorieë geskryf. En die hele Bybel is harmonies. Die basiese boodskap daarvan het van begin tot end dieselfde strekking. Verleen dit nie gewig aan die Bybel se verklaring dat hierdie manne “deur die Heilige Gees gedrywe . . . van God gespreek” het nie?—2 Petrus 1:20, 21.

38. Wat moet ’n persoon doen om die Bybel te vertrou?

38 Kan jy die Bybel vertrou? As jy werklik ondersoek wat dit sê, en nie sommer aanvaar wat sekere persone beweer dit sê nie, sal jy rede vind om dit te vertrou. Maar daar is selfs sterker getuienis dat die Bybel inderdaad deur God geïnspireer is, en dit is die onderwerp van die volgende hoofstuk.

[Lokteks op bladsy 202]

“Die astronomiese verslag en die Bybelse Genesisverhaal is dieselfde”

[Lokteks op bladsy 204]

Die Bybel is merkwaardig vry van bygelowige uitdrukkings

[Lokteks op bladsy 206]

Die Bybel het lank gelede van die noue verband tussen gesindheid en liggaamlike gesondheid gepraat

[Lokteks op bladsy 215]

Dit druis teen die menslike natuur in om foute of mislukkings te erken, veral op skrif

[Lokteks op bladsy 215]

Die hele Bybel is harmonies

[Diagram op bladsy 201]

Hierdie waterkringloop, wat in die ou tyd merendeels onbekend was, word in die Bybel beskryf

[Prent op bladsy 200]

Dit is hoe sommige mense in die ou tyd geglo het die aarde gestut word

[Prent op bladsy 203]

’n Bevrore mammoet wat in Siberië ontdek is. Na duisende jare was daar steeds plante in sy bek en maag, en was sy vleis eetbaar nadat dit ontdooi het

[Prent op bladsy 205]

In die vorige eeu het dokters nie altyd hulle hande gewas nadat hulle met lyke gewerk het nie, en so ander sterftes veroorsaak

LYKHUIS

KRAAMSAAL

[Prent op bladsy 207]

Die Bybel se klem op liefde strook met betroubare mediese advies

[Prent op bladsy 209]

’n Kalkklipreliëf van koning Sargon, wat lank bekend was slegs omdat hy in die Bybel gemeld word

[Prente op bladsy 210]

’n Muurreliëf uit koning Sanherib se paleis in Nineve, wat toon hoe hy buit van die Judese stad Lagis ontvang

Hierdie kleiprisma van koning Sanherib beskryf sy veldtog teen Israel

[Prente op bladsy 211]

Die oorwinningsmonument van Esar-Haddon, seun van Sanherib, bevestig2 Konings 19:37, wat sê: “Sy seun Esar-Haddon het in sy plek koning geword”

Hierdie inskripsie, wat in Cesarea gevind is, staaf dat Pontius Pilatus goewerneur van Judea was

[Prente op bladsy 212]

Hierdie muurreliëf staaf die Bybelverhaal oor Sisak se oorwinning oor Juda

Die Moabitiese Steen vertel van koning Mesa van Moab se opstand teen Israel, wat in die Bybel beskryf word

[Prente op bladsy 213]

Koning Jehu, of ’n afgesant, betaal skatting aan koning Salmaneser III

’n Marmerborsbeeld van Augustus, die keiser toe Jesus Christus gebore is

’n Silwerpenning met keiser Tiberius se inskripsie, soos die een waarom Christus gevra het

[Prent op bladsy 214]

Die binnekant van die tonnel wat koning Hiskia laat grawe het om Jerusalem tydens die Assiriese beleëring van water te voorsien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel