Kan hierdie boek vertrou word?
“Ek vind meer besliste tekens van egtheid in die Bybel as in hoegenaamd enige ongewyde [sekulêre] geskiedenis.”—Sir Isaac Newton, beroemde Engelse wetenskaplike.1
KAN hierdie boek—die Bybel—vertrou word? Verwys dit na mense wat werklik gelewe het, plekke wat waarlik bestaan het en gebeure wat inderdaad plaasgevind het? Indien wel, behoort daar getuienis te wees dat dit deur nougesette, eerlike skrywers geskryf is. Daar bestaan wel bewyse. Baie daarvan is onder die grond begrawe gevind, en selfs meer is in die boek self gevind.
Die getuienis word opgegrawe
Die ontdekking van antieke artefakte wat in Bybellande begrawe was, het die geskiedkundige en aardrykskundige akkuraatheid van die Bybel bevestig. Beskou maar net ’n deel van die getuienis wat argeoloë opgegrawe het.
Dawid, die moedige jong herder wat koning van Israel geword het, is welbekend aan lesers van die Bybel. Sy naam verskyn 1138 keer in die Bybel, en die uitdrukking “huis van Dawid”—wat dikwels na sy vorstehuis verwys—kom 25 keer voor (1 Samuel 16:13; 20:16). Maar tot onlangs was daar geen duidelike getuienis buiten dié in die Bybel dat Dawid bestaan het nie. Was Dawid bloot ’n denkbeeldige karakter?
In 1993 het ’n span argeoloë, onder leiding van professor Avraham Biran, ’n merkwaardige ontdekking gedoen, waaroor die Israel Exploration Journal verslag gelewer het. By die terrein van ’n ou puinheuwel met die naam Tel Dan, in die noordelike deel van Israel, het hulle ’n basaltsteen oopgegrawe. Op die steen was die woorde “huis van Dawid” en “koning van Israel” gegraveer.2 Die inskripsie, wat uit die negende eeu v.G.J. dateer, is na bewering deel van ’n oorwinningsmonument wat opgerig is deur Arameërs—vyande van Israel wat oos van hulle gewoon het. Waarom is hierdie antieke inskripsie so betekenisvol?
Gegrond op ’n verslag deur professor Biran en sy kollega, professor Joseph Naveh, het ’n artikel in die Biblical Archaeology Review die volgende gesê: “Dit is die eerste keer dat die naam Dawid in enige antieke inskripsie buite die Bybel gevind is.”3a Daar is nog iets noemenswaardigs omtrent die inskripsie. Die uitdrukking “huis van Dawid” is as een woord geskryf. Taalkenner professor Anson Rainey verduidelik: “’n Woordverdeler . . . word dikwels weggelaat, veral as die samestelling ’n goed gevestigde eienaam is. ‘Die huis van Dawid’ was beslis so ’n politieke en aardrykskundige eienaam in die middel-negende eeu v.G.J.”5 Koning Dawid en sy vorstehuis was dus klaarblyklik welbekend in die antieke wêreld.
Het Nineve—die groot stad van Assirië wat in die Bybel gemeld word—werklik bestaan? Tot vroeg in die 19de eeu het party Bybelkritici nog geweier om dit te glo. Maar in 1849 het sir Austen Henry Layard oorblyfsels van koning Sanherib se paleis in Koejoendsjik opgegrawe, ’n terrein wat blykbaar deel van antieke Nineve was. Die kritici is dus op daardie punt die swye opgelê. Maar hierdie ruïnes sou meer aan die lig bring. Op die mure van een vertrek wat goed bewaar gebly het, is die verowering van ’n goed versterkte stad uitgebeeld, met gevangenes wat voor die invallende koning moes verbyloop. Bokant die koning is hierdie inskripsie: “Sanherib, koning van die wêreld, koning van Assirië, het op ’n nîmedu -troon gesit en die buit uit Lagis (La-ki-su) geïnspekteer.”6
Hierdie uitbeelding en inskripsie, wat in die Britse Museum besigtig kan word, kom ooreen met die Bybel se verslag van hoe die Judese stad Lagis deur Sanherib verower is, soos opgeteken staan in 2 Konings 18:13, 14. In ’n kommentaar oor die betekenis van die vonds het Layard geskryf: “Wie sou, voor hierdie ontdekkings gedoen is, geglo het dat dit waarskynlik of moontlik was dat die geskiedenis van die oorloë tussen Hiskia [koning van Juda] en Sanherib gevind sou word onder die hoop grond en rommel wat die ligging van Nineve aangedui het, dat dit juis gedurende die tyd toe dit plaasgevind het deur Sanherib self opgeteken sou wees en dat dit die Bybelse verslag selfs in die fynste besonderhede sou bevestig?”7
Argeoloë het baie ander artefakte opgegrawe—erdewerk, ruïnes van geboue, kleitablette, muntstukke, dokumente, monumente en inskripsies—wat die akkuraatheid van die Bybel bevestig. Opgrawers het die Chaldese stad Ur opgegrawe, wat die handels- en godsdienssentrum was waar Abraham gewoon het (Genesis 11:27-31).8 Die Nabonidus-kroniek, wat in die 19de eeu opgegrawe is, beskryf hoe Babilon in 539 v.G.J. deur Kores die Grote verower is, ’n gebeurtenis wat in Daniël hoofstuk 5 beskryf word.9 ’n Inskripsie (waarvan fragmente in die Britse Museum bewaar word) wat op ’n gewelfde poort in antieke Tessalonika gevind is, bevat die name van stadsheersers wat beskryf word as “politarge”, ’n woord wat onbekend was in klassieke Griekse literatuur, maar deur die Bybelskrywer Lukas gebruik is (Handelinge 17:6, voetnoot in naslaanuitgawe).10 Lukas se akkuraatheid is dus hierdeur bevestig—soos dit reeds deur ander besonderhede bevestig is.—Vergelyk Lukas 1:3.
Argeoloë is dit egter nie altyd met mekaar eens nie, wat nog te sê met die Bybel. Nietemin bevat die Bybel self kragtige getuienis dat dit ’n boek is wat vertrou kan word.
Met openhartigheid geskryf
Eerlike geskiedskrywers sal nie net oorwinnings (soos die inskripsie omtrent Sanherib se verowering van Lagis) opteken nie maar ook nederlae, nie net suksesse nie maar ook mislukkings, nie net hulle sterk punte nie maar ook hulle swak punte. Min sekulêre geskiedverhale weerspieël sulke eerlikheid.
Daniel D. Luckenbill verduidelik aangaande Assiriese geskiedskrywers: “Dit is dikwels duidelik dat koninklike ydelheid vereis het dat geskiedkundige akkuraatheid ingeboet word.”11 Ter toeligting van sulke “koninklike ydelheid” spog die annale van Assiriese koning Assurnasirpal: “Ek is statig, ek is vernaam, ek is verhewe, ek is magtig, ek word geëer, ek word verheerlik, ek is uitnemend, ek is sterk, ek is onverskrokke, ek het leeuemoed en ek is heldhaftig!”12 Sou jy alles wat jy in sulke annale lees as akkurate geskiedenis aanvaar?
In teenstelling hiermee het die Bybelskrywers verkwikkende openhartigheid geopenbaar. Moses, Israel se leier, het openlik vertel van die tekortkominge van sy broer, Aäron, van sy suster Mirjam, van sy neefs Nadab en Abihu en van sy volk, sowel as van sy eie foute (Exodus 14:11, 12; 32:1-6; Levitikus 10:1, 2; Numeri 12:1-3; 20:9-12; 27:12-14). Die ernstige foute van koning Dawid is nie toegesmeer nie, maar is opgeteken—en dit terwyl Dawid nog as koning geheers het (2 Samuel, hoofstukke 11 en 24). Matteus, die skrywer van die boek wat sy naam dra, vertel hoe die apostels (waarvan hy een was) oor hulle eie vernaamheid geredekawel het en hoe hulle Jesus op die aand van sy gevangeneming in die steek gelaat het (Matteus 20:20-24; 26:56). Die skrywers van die briewe van die Christelike Griekse Geskrifte het die probleme in party van die vroeë Christengemeentes openlik erken, met inbegrip van geslagsonsedelikheid en onenighede. En hulle het nie doekies omgedraai wanneer hulle hierdie probleme bespreek het nie.—1 Korintiërs 1:10-13; 5:1-13.
Sulke reguit, openhartige mededeling toon ’n opregte besorgdheid oor die waarheid. Bestaan daar nie goeie rede om die geskrifte van Bybelskrywers te glo, aangesien hulle gewillig was om ongunstige inligting oor hulle geliefdes, hulle volk en ook hulleself openbaar te maak nie?
Akkuraat wat besonderhede betref
In hofsake kan die geloofwaardigheid van ’n getuie se verklaring dikwels bepaal word op grond van minder belangrike feite. Eenstemmigheid oor fyner besonderhede kan bewys dat die verklaring akkuraat en eerlik is, terwyl ernstige verskille dit as ’n versinsel kan blootlê. Daarenteen kan ’n verslag wat té presies is—een waarin elke besonderheid netjies inpas—ook op ’n valse getuienis dui.
Hoe vaar die “getuienis” van die Bybelskrywers in hierdie opsig? Die Bybelskrywers het merkwaardige konsekwentheid getoon. Daar is eenstemmigheid oor selfs geringe besonderhede. Maar die harmonie is nie versigtig beplan sodat dit die vermoede laat ontstaan dat daar ’n geheime ooreenkoms was nie. Daar is beslis geen gekonkel met die ooreenkomste nie, want die skrywers stem dikwels per toeval saam. Beskou ’n paar voorbeelde.
Die Bybelskrywer Matteus het geskryf: “En toe Jesus in Petrus se huis inkom, het hy sy skoonmoeder met koors siek sien lê” (Matteus 8:14). Matteus het hier ’n interessante maar onbelangrike besonderheid verstrek: Petrus was getroud. Hierdie onbeduidende feit word deur Paulus gestaaf, wat geskryf het: “Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat ’n gelowige is, op reis saam te neem soos die ander apostels en . . . Sefas nie?”b (1 Korintiërs 9:5, NAV). Die konteks dui daarop dat Paulus hom teen ongeregverdigde kritiek verdedig het (1 Korintiërs 9:1-4). Dit is dus duidelik dat Paulus nie hierdie onbeduidende feit—dat Petrus getroud was—gemeld het om die akkuraatheid van Matteus se verslag te bevestig nie, maar dat dit terloops gemeld is.
Al vier Evangelieskrywers—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—noem dat een van Jesus se dissipels die aand van sy gevangeneming ’n swaard uitgetrek, ’n slaaf van die hoëpriester geslaan en die man se oor afgekap het. Slegs die Evangelie van Johannes meld ’n oënskynlik onnodige besonderheid: “Die naam van die slaaf was Malgus” (Johannes 18:10, 26). Waarom gee net Johannes die man se naam? ’n Paar verse later verstrek die verslag ’n onbeduidende feit wat nêrens anders aangegee word nie: Johannes “was aan die hoëpriester bekend”. Hy was ook aan die hoëpriester se huismense bekend; die knegte het hom geken en hy het hulle geken (Johannes 18:15, 16). Dit was dus net natuurlik dat Johannes die beseerde man se naam sou noem, terwyl die ander Evangelieskrywers, vir wie die man ’n vreemdeling was, dit nie gedoen het nie.
Soms word uitvoerige verduidelikings uit een verslag weggelaat, maar op ’n ander plek deur terloopse stellings voorsien. Matteus se verslag van Jesus se verhoor voor die Joodse Sanhedrin sê byvoorbeeld dat party aanwesiges “hom deur die gesig geklap en gesê [het]: ‘Profeteer vir ons, Christus. Wie is dit wat jou geslaan het?’” (Matteus 26:67, 68). Waarom sou hulle Jesus vra om te “profeteer” wie hom geslaan het as die slaner reg voor hom gestaan het? Matteus verduidelik nie. Maar twee van die ander Evangelieskrywers voorsien die ontbrekende besonderheid: Jesus se vervolgers het sy gesig bedek voor hy geklap is (Markus 14:65; Lukas 22:64). Matteus verstrek sy inligting sonder om hom daaroor te bekommer of alles tot in die fynste besonderhede gemeld is of nie.
Die Evangelie van Johannes vertel van ’n geleentheid toe ’n groot skare vergader het om na Jesus se onderrigting te luister. Volgens die verslag het Jesus, toe hy die skare sien, “vir Filippus gesê: ‘Waar sal ons brode koop sodat hulle kan eet?’” (Johannes 6:5). Waarom het Jesus juis vir Filippus, van al die dissipels wat daar teenwoordig was, gevra waar hulle brood kon koop? Die skrywer sê nie. In die parallelle verslag meld Lukas egter dat die voorval naby Betsaida plaasgevind het, ’n stad aan die noordelike oewer van die See van Galilea, en vroeër in Johannes se Evangelie sê dit dat ‘Filippus van Betsaida was’ (Johannes 1:44; Lukas 9:10). Jesus het dus logieserwyse iemand gevra wie se tuisdorp daar naby was. Die harmonie tussen die besonderhede is merkwaardig, en tog ongetwyfeld onbeplan.
In party gevalle versterk die weglating van sekere besonderhede net die geloofwaardigheid van die Bybelskrywer. Die skrywer van 1 Konings vertel byvoorbeeld van ’n groot droogte in Israel. Dit was so erg dat die koning nie genoeg water en gras kon vind om sy perde en muile aan die lewe te hou nie (1 Konings 17:7; 18:5). Tog sê dieselfde verslag dat die profeet Elia beveel het dat genoeg water na hom op die berg Karmel gebring moes word (vir gebruik met betrekking tot ’n offerande) om ’n sloot rondom ’n gebied van ongeveer 1 000 vierkante meter te vul (1 Konings 18:33-35). Waar het al dié water gedurende die droogte vandaan gekom? Die skrywer van 1 Konings doen nie die moeite om dit te verduidelik nie. Maar enigiemand wat in Israel gewoon het, het geweet dat Karmel aan die kus van die Middellandse See geleë was, soos ’n terloopse opmerking later in die verhaal aandui (1 Konings 18:43). Seewater sou dus geredelik beskikbaar gewees het. As hierdie andersins uitvoerige boek ’n blote verdigsel was wat voorgee dat dit die waarheid is, waarom sou die skrywer daarvan, wat in dié geval ’n slim versinner sou wees, so ’n ooglopende teenstrydigheid in die teks laat?
Kan die Bybel dus vertrou word? Argeoloë het genoeg artefakte opgegrawe om te bevestig dat die Bybel na werklike mense, werklike plekke en werklike gebeure verwys. Maar selfs van groter belang is die getuienis wat in die Bybel self gevind word. Openhartige skrywers het niemand—nie eers hulleself—oorgeslaan toe hulle die naakte feite opgeteken het nie. Die interne harmonie van die geskrifte, met inbegrip van die onbeplande ooreenkomste, laat die “getuienis” eg klink. Met sulke “besliste tekens van egtheid” is die Bybel inderdaad ’n boek wat jy kan vertrou.
[Voetnote]
a Ná daardie ontdekking het professor André Lemaire berig dat ’n nuwe rekonstruksie van ’n beskadigde reël op die Mesa-stele (ook die Moabitiese Steen genoem), wat in 1868 ontdek is, toon dat dit ook ’n verwysing na die “huis van Dawid” bevat.4
b “Sefas” is die Semitiese ekwivalent van “Petrus”.—Johannes 1:42.
[Prent op bladsy 15]
Die Tel Dan- fragment
[Prent op bladsy 16, 17]
Assiriese muurreliëf, ’n uitbeelding van die beleëring van Lagis, wat in 2 Konings 18:13, 14 gemeld word