Die eerste-eeuse Christengemeente
Op Pinkster van 33 G.J. is heilige gees op 120 dissipels van Jesus uitgestort, en hulle het in baie tale oor die groot dade van God begin spreek. Dit was die stigting van die Christengemeente. Ongeveer 3 000 nuwe dissipels is op daardie dag gedoop.—Handelinge, hoofstuk 2.
Nog gemeentes is op verskillende plekke gestig namate die apostels en ander aangehou het om die Woord van God met vrymoedigheid te spreek. Soos die boek Handelinge ons meedeel, het die prediking gou deur die hele Middellandse See-gebied, van Babilon en Noord-Afrika tot Rome en moontlik Spanje, uitgebrei.—Romeine 15:18-29; Kolossense 1:23; 1 Petrus 5:13.
Oral waar mense dissipels geword het, het hulle gemeentes gestig. Bekwame, ryp manne is as ouderlinge (ouere manne), of opsieners, aangestel om die standaard van regte lering en gedrag in die gemeentes te handhaaf. Maar hulle het nie ’n geestelikeklas uitgemaak nie; hulle was bedienaars en medewerkers vir die Koninkryk van God.—Handelinge 14:23; 20:28; 1 Korinthiërs 3:5; 5:13; Kolossense 4:11; 1 Timotheüs 3:1-15; Hebreërs 13:17; 1 Petrus 5:1-4.
Die apostels en hulle intieme medewerkers het as ’n bestuursliggaam gedien. Hulle het die leiding geneem in die predikingswerk. Hulle het probleme in die Jerusalem-gemeente opgelos. Hulle het bekwame broers na Samaria en Antiochië gestuur om nuwe gelowiges aldaar te versterk. Hulle het ’n geskil oor die besnydenis bygelê en hulle besluit aan alle gemeentes gestuur om dit te onderhou. Nogtans het hierdie manne nie oor ander geheers nie, maar hulle was dienaars en medewerkers van die hele gemeente.—Handelinge 4:33; 6:1-7; 8:14-25; 11:22-24; 15:1-32; 16:4, 5; 1 Korinthiërs 3:5-9; 4:1, 2; 2 Korinthiërs 1:24.
Die vroeë dissipels is as Christene geïdentifiseer, ’n naam wat hulle deur goddelike bestiering gegee is. Hulle het ook leringe gehad wat hulle onderskei het; dit is die leer van die apostels of die voorbeeld van gesonde woorde genoem. Hierdie Skriftuurlike leer was ook bekend as die waarheid.—Johannes 17:17; Handelinge 2:42; 11:26, vergelyk NW; Romeine 6:17; 1 Timotheüs 4:6; 6:1, 3; 2 Timotheüs 1:13; 2 Petrus 2:2; 2 Johannes 1, 4, 9.
Hulle was ’n wêreldwye broederskap wat in liefde verenig was. Hulle het belangstelling getoon in hulle medegelowiges in ander lande. Wanneer hulle buitelandse reise onderneem het, het medegelowiges hulle in hul huise verwelkom. Hulle het ’n hoë standaard van sedelike gedrag gehandhaaf, daar hulle ’n heilige volk afgeskeie van die wêreld was. Hulle het die dag van Jehovah se teenwoordigheid goed in gedagte gehou en ywerig hulle geloof in die openbaar bely.—Johannes 13:34, 35; 15:17-19; Handelinge 5:42; 11:28, 29; Romeine 10:9, 10, 13-15; Titus 2:11-14; Hebreërs 10:23; 13:15; 1 Petrus 1:14-16; 2:9-12; 5:9; 2 Petrus 3:11-14; 3 Johannes 5-8.
Maar soos voorspel is, het daar, in die tweede en derde eeu, ’n groot afval begin. Dit het gelei tot groot kerkstelsels wat nie die suiwerheid van die vroeë Christengemeente ten opsigte van leer, gedrag, organisasie en posisie teenoor die wêreld bewaar het nie.—Mattheüs 13:24-30, 37-43; 2 Thessalonicense, hoofstuk 2.
Jesus het egter voorspel dat daar aan die voleinding van die stelsel ’n herstel van ware aanbidding sou wees. Jehovah se Getuies glo dat hierdie herstel vandag, nagenoeg 1 900 jaar na Jesus se profesie, in hulle wêreldwye werksaamhede weerspieël word. Die volgende bladsye sal verduidelik waarom.
• Hoe is die Christengemeente gestig, en hoe het dit gegroei?
• Hoe is daar oor die gemeente toesig gehou?
• Watter dinge het die eerste-eeuse Christene duidelik onderskei?
[Kaart op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Swart See
Kaspiese See
Groot See
Rooi See
Persiese Golf
Gebiede waar die goeie nuus in die eerste eeu verkondig is
ITALIË
Rome
GRIEKELAND
MALTA
KRETA
CIPRUS
BITINIË
GALASIË
ASIË
KAPPADOCIË
CILICIË
SIRIË
ISRAEL
Jerusalem
MESOPOTAMIË
Babilon
Sommige uit hierdie gebiede het gelowig geword
ILLIRIKUM
MEDIË
PARTHIË
ELAM
ARABIË
LIBIË
EGIPTE
ETHIOPIË
[Prente op bladsy 7]
Die vroeë Christene het God se Woord met vrymoedigheid verkondig
Christene was welkom in die huise van medegelowiges waar hulle ook al gereis het