Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 1/1 bl. 30-31
  • Ons het Jehovah se organisasie nodig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons het Jehovah se organisasie nodig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë Christene het daarby baatgevind om georganiseerd te wees
  • Ons het vandag ’n organisasie nodig
  • Rig nuwelinge na God se organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Jehovah lei sy organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Laat die gemeente opgebou word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Vind veiligheid as deel van God se organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 1/1 bl. 30-31

Ons het Jehovah se organisasie nodig

HET jy al ooit iemand hoor sê: “Ek glo aan God maar nie aan georganiseerde godsdiens nie”? Soortgelyke menings word dikwels uitgespreek deur mense wat voorheen ywerige kerkgangers was, maar wat teleurgestel is omdat hulle godsdiens nie in hulle geestelike behoeftes voorsien het nie. Hoewel hulle in godsdiensorganisasies oor die algemeen teleurgestel is, sê baie dat hulle God nog steeds wil aanbid. Hulle glo egter dat dit beter is om hom op hulle eie manier te aanbid as om dit saam met ’n kerk of ander organisasie te doen.

Wat sê die Bybel? Wil God hê dat Christene deel van ’n organisasie moet wees?

Vroeë Christene het daarby baatgevind om georganiseerd te wees

Op Pinksterdag 33 G.J. het Jehovah sy heilige gees uitgestort, nie op ’n paar afgesonderde gelowiges nie, maar op ’n groep mans en vroue wat byeengekom het “op dieselfde plek”, naamlik in ’n bovertrek in die stad Jerusalem (Handelinge 2:1). Die Christengemeente, wat ’n internasionale organisasie geword het, is op daardie tydstip gevorm. Dit was ’n ware seën vir daardie vroeë dissipels. Waarom? Eerstens, omdat hulle ’n belangrike toewysing ontvang het—om die goeie nuus van God se Koninkryk uiteindelik “in die hele bewoonde aarde” te verkondig (Matteus 24:14). In die gemeente kon nuwe bekeerlinge by ervare medegelowiges leer hoe om die predikingswerk te doen.

Kort voor lank het die Koninkryksboodskap ver buite die mure van Jerusalem versprei. Tussen 62 en 64 G.J. het die apostel Petrus sy eerste brief geskryf aan Christene wat “oral in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië verstrooi is”, almal plekke in hedendaagse Turkye (1 Petrus 1:1). Daar was ook gelowiges in Palestina, Libanon, Sirië, Siprus, Griekeland, Kreta en Italië. Soos Paulus in 60-61 G.J. aan die Kolossense geskryf het, is die goeie nuus “verkondig . . . in die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kolossense 1:23.

’n Tweede voordeel wat dit ingehou het om met ’n organisasie te assosieer, was die aanmoediging wat Christene mekaar kon gee. Wanneer Christene met die gemeente geassosieer het, kon hulle bemoedigende toesprake hoor, die Heilige Skrif saam bestudeer, geloofversterkende ondervindinge vir mekaar vertel en saam met hulle medegelowiges bid (1 Korintiërs, hoofstuk 14). En ryp manne kon “as herders toesig [hou] oor die kudde van God”.—1 Petrus 5:2.

As lede van die gemeente het Christene ook mekaar leer ken en mekaar liefgekry. Die vroeë Christene het dit beslis nie as ’n las beskou om met die gemeente te assosieer nie; hulle is eerder daardeur opgebou en versterk.—Handelinge 2:42; 14:27; 1 Korintiërs 14:26; Kolossense 4:15, 16.

Nog ’n rede waarom die verenigde wêreldwye gemeente, of organisasie, nodig was, was om eenheid te bevorder. Christene het geleer om ‘eenstemmig te spreek’ (1 Korintiërs 1:10). Dit was noodsaaklik. Lede van die gemeente het verskillende opvoedkundige en sosiale agtergronde gehad. Hulle het verskillende tale gepraat, en hulle persoonlikhede het natuurlik verskil (Handelinge 2:1-11). Daar was soms geldige meningsverskille. Maar Christene is gehelp om hierdie verskille binne die gemeente op te los.—Handelinge 15:1, 2; Filippense 4:2, 3.

Ernstige kwessies wat nie deur die plaaslike ouer manne opgelos kon word nie, is na ryp reisende opsieners, soos Paulus, verwys. Noodsaaklike leerstellige sake is na ’n sentrale bestuursliggaam in Jerusalem verwys. Die bestuursliggaam het aanvanklik uit die apostels van Jesus Christus bestaan, maar dit is later vergroot en het ouer manne van die gemeente in Jerusalem ingesluit. Elke gemeente het die godgegewe gesag van die bestuursliggaam en sy verteenwoordigers erken om die bediening te organiseer, manne in diensposisies aan te stel en besluite oor leerstellige sake te neem. Wanneer ’n saak deur die bestuursliggaam opgelos is, het die gemeentes die besluit aanvaar en “hulle oor die aanmoediging verheug”.—Handelinge 15:1, 2, 28, 30, 31.

Ja, Jehovah het in die eerste eeu ’n organisasie gebruik. Maar wat van vandag?

Ons het vandag ’n organisasie nodig

Soos die eerste-eeuse Christene, neem Jehovah se Getuies vandag die opdrag om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig ernstig op. Een manier waarop hulle hierdie werk verrig, is deur Bybels en Bybelstudiehulpe te versprei, en dit vereis organisasie.

Christenpublikasies moet sorgvuldig voorberei word, vir akkuraatheid nagegaan word, gedruk en dan na die gemeentes versend word. Individuele Christene moet dan op hulle beurt hulle vrywillig aanbied om die lektuur te neem na mense wat dit wil lees. Die Koninkryksboodskap het miljoene op dié manier bereik. Verkondigers van die goeie nuus probeer hulle predikingswerk op ’n ordelike manier uitvoer, en hulle maak seker dat geen deel van die gebied te veel gewerk word terwyl ander dele glad nie gedek word nie. Dit alles vereis organisasie.

Aangesien “God nie partydig is nie”, moet Bybels en Bybellektuur vertaal word (Handelinge 10:34). Hierdie tydskrif is tans in 132 tale beskikbaar, en sy medetydskrif, die Ontwaak!, word in 83 tale uitgegee. Dit vereis goed georganiseerde spanne vertalers regoor die wêreld.

Gemeentelede word aangemoedig wanneer hulle Christelike vergaderinge en byeenkomste bywoon. Daar hoor hulle gedagteprikkelende Bybeltoesprake, bestudeer hulle die Skrif saam, vertel hulle opbouende ondervindinge en bid hulle saam met medeaanbidders. En, soos hulle broers in die eerste eeu, geniet hulle geloofversterkende besoeke van liefdevolle reisende opsieners. Hedendaagse Christene vorm dus “een kudde onder een herder”.—Johannes 10:16.

Jehovah se Getuies is natuurlik nie volmaak nie, net soos hulle eerste-eeuse broers ook nie volmaak was nie. Maar hulle werk nogtans in eenheid saam. Gevolglik word die Koninkrykspredikingswerk regoor die aarde uitgevoer.—Handelinge 15:36-40; Efesiërs 4:13.

[Prent op bladsy 31]

Hedendaagse Christene vorm “een kudde onder een herder”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel