Watter hoop vir afgestorwe dierbares?
“As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” het die man Job lank gelede gevra (Job 14:14). Jy het moontlik ook hieroor gewonder. Hoe sou jy voel as jy geweet het dat ’n reunie met jou dierbares reg hier op aarde onder die allerbeste toestande moontlik is?
Wel, die Bybel beloof: “U dooies sal lewe. . . . Hulle sal opstaan.” En die Bybel sê ook: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Jesaja 26:19; Psalm 37:29.
Om werklik vertroue in sulke beloftes te stel, moet ons ’n paar basiese vrae beantwoord: Waarom sterf mense? Waar is die dooies? En hoe kan ons seker wees dat hulle weer kan lewe?
Die dood, en wat gebeur wanneer ons sterf
Die Bybel toon duidelik dat dit nie oorspronklik God se voorneme was dat mense moes sterf nie. Hy het die eerste mensepaar, Adam en Eva, geskep, hulle in ’n aardse paradys met die naam Eden gesit en hulle beveel om kinders te hê en hulle paradystuiste oor die hele aarde uit te brei. Hulle sou sterf slegs as hulle ongehoorsaam was aan sy instruksies.—Genesis 1:28; 2:15-17.
Weens ’n gebrek aan waardering vir God se goedheid was Adam en Eva ongehoorsaam en is hulle die voorgeskrewe straf opgelê. “Jy [sal] na die grond terugkeer”, het God vir Adam gesê, “want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Voordat hy geskep is, het Adam nie bestaan nie; hy was stof. En weens sy ongehoorsaamheid, of sonde, is Adam gevonnis om tot stof, tot ’n toestand van niebestaan, terug te keer.
Die dood is gevolglik die afwesigheid van lewe. Die Bybel kontrasteer die volgende: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe” (Romeine 6:23). Die Bybel toon dat die dood ’n toestand van algehele onbewustheid is deur te sê: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Die Bybel verduidelik wat gebeur wanneer ’n persoon sterf: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy grond; op daardie dag vergaan sy gedagtes.”—Psalm 146:3, 4.
Maar waarom sterf ons almal, aangesien net Adam en Eva in Eden ongehoorsaam was aan daardie bevel? Dit is omdat ons almal gebore is ná Adam se ongehoorsaamheid, en daarom het ons almal sonde en die dood van hom geërf. Die Bybel verduidelik: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring.’—Romeine 5:12; Job 14:4.
Sommige sal egter vra: ‘Het mense dan nie ’n onsterflike siel wat na die dood voortleef nie?’ Dit is wat baie leer, en hulle sê selfs dat die dood ’n deur tot ’n ander lewe is. Maar daardie gedagte kom nie uit die Bybel nie. God se Woord leer eerder dat jy ’n siel is, dat jou siel in werklikheid jy, met al jou fisiese en geesteseienskappe, is (Genesis 2:7; Jeremia 2:34; Spreuke 2:10). Die Bybel sê ook: “Die siel wat sondig—dié sal sterf” (Esegiël 18:4). Die Bybel leer nêrens dat die mens ’n onsterflike siel het wat na die dood van die liggaam voortleef nie.
Hoe mense weer kan lewe
Nadat sonde en die dood in die wêreld ingekom het, het God geopenbaar dat dit sy voorneme is om die dooies deur middel van ’n opstanding weer te laat lewe. Die Bybel verduidelik gevolglik: “Abraham . . . het gereken dat God [sy seun Isak] selfs uit die dode kon opwek” (Hebreërs 11:17-19). Abraham se vertroue was nie misplaas nie, want die Bybel sê van die Almagtige: “Hy is ’n God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal.”—Lukas 20:37, 38.
Ja, die almagtige God het nie alleen die mag om diegene wat hy wil op te wek nie, maar ook die begeerte om dit te doen. Jesus Christus self het gesê: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.
Nie lank nadat Jesus dit gesê het nie, het hy ’n lykstoet teëgekom wat uit die Israelitiese stad Nain gekom het. Die oorlede jongman was die enigste kind van ’n weduwee. Toe Jesus haar uiterste droefheid sien, het hy innig jammer gevoel vir haar. Hy het dus die lyk beveel: “Jong man, ek sê vir jou: Staan op!” En die man het regop gaan sit, en Jesus het hom aan sy moeder gegee.—Lukas 7:11-17.
Net soos in die geval van daardie weduwee was daar ook uitbundige vreugde toe Jesus die huis van Jaïrus, ’n owerste van die Joodse sinagoge, besoek het. Sy twaalfjarige dogter het gesterf. Maar toe Jesus by Jaïrus se huis kom, het hy na die dooie kind geloop en gesê: “Meisie, staan op!” En sy het!—Lukas 8:40-56.
Later is Jesus se vriend Lasarus oorlede. Toe Jesus by Lasarus se huis opgedaag het, was Lasarus al vier dae dood. Hoewel sy suster Marta baie bedroef was, het sy hoop uitgespreek: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.” Maar Jesus het na die graf geloop, beveel dat die steen weggeneem moet word en uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” En hy het!—Johannes 11:11-44.
Dink nou hieroor: Wat was Lasarus se toestand gedurende daardie vier dae toe hy dood was? Lasarus het nie ’n woord gesê oor hoe dit in ’n salige hemel of ’n folterende hel was nie, iets wat hy tog seker sou gedoen het as hy daar was. Nee, Lasarus was volkome onbewus in die dood en sou so gebly het tot “die opstanding op die laaste dag” as Jesus hom nie destyds weer lewend gemaak het nie.
Hierdie wonderwerke van Jesus het weliswaar net tydelike voordele ingehou, aangesien diegene wat hy opgewek het weer gesterf het. Maar hy het 1 900 jaar gelede bewys gelewer dat die dooies, met God se krag, werklik weer kan lewe! Deur middel van sy wonderwerke het Jesus dus op klein skaal getoon wat onder die Koninkryk van God op aarde gaan plaasvind.
Wanneer ’n dierbare sterf
Wanneer die vyand dood ’n slagoffer eis, kan jou droefheid groot wees, selfs al hoop jy op die opstanding. Abraham het geglo dat sy vrou weer sou lewe, en tog lees ons: “Abraham het ingekom om oor Sara te weeklaag en te huil” (Genesis 23:2). En wat van Jesus? Toe Lasarus gesterf het, “het hy in die gees gekreun en verontrus geword”, en kort daarna het hy “trane gestort” (Johannes 11:33, 35). Wanneer ’n dierbare sterf, is dit dus nie ’n teken van swakheid as ’n mens huil nie.
Wanneer ’n kind sterf, is dit besonder moeilik vir die moeder. Die Bybel maak dus melding van die bittere droefheid wat ’n moeder kan ervaar (2 Konings 4:27). Dit is natuurlik ook vir die bedroefde vader moeilik. “Ag, as ek, ek self, maar in jou plek gesterf het!” het koning Dawid geweeklaag toe sy seun Absalom dood is.—2 Samuel 18:33.
Maar omdat jy vas glo in die opstanding, sal jy nie eindeloos rou nie. Jy sal, soos die Bybel sê, “nie treur soos die res wat geen hoop het nie” (1 Tessalonisense 4:13). Jy sal God eerder in gebed nader, en die Bybel beloof dat ‘hy jou sal onderskraag’.—Psalm 55:22.
Tensy anders aangedui, kom alle Skrifgedeeltes uit die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif.