Vertroosting vir dié wat treur
DIE terreuraanvalle wat op 11 September 2001 in die stad New York en in Washington, DC, plaasgevind het, het mense regoor die wêreld met afgryse vervul. In een dag het duisende gesterf, onder andere honderde dapper brandweermanne, polisiemanne en paramedici.
Sedert daardie gebeurtenis het Jehovah se Getuies ’n gesamentlike poging aangewend om vertroosting te bring aan mense wat geliefdes in die tragedie verloor het. Hulle het dit gedoen om “die gebrokenes van hart te verbind” en “om al die treurendes te vertroos”.—Jesaja 61:1, 2.
Deur die jare heen het Jehovah se Getuies gevind dat mense wat geliefdes aan die dood afstaan, dikwels oor die volgende vrae nadink. Die Bybel het die antwoorde. Slaan gerus die teksverwysings in jou eie Bybel na.
Word ’n persoon se dood voorbestem?
In Prediker 9:11 sê die Bybel dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” (“lotgeval”, Die Bybel, 1953) die hele mensdom tref. As die dood voorbestem is, waarom spoor die Bybel ons dan aan om veiligheidsmaatreëls te tref?—Sien byvoorbeeld Deuteronomium 22:8.
Waarom sterf ons?
Die eerste mensepaar, Adam en Eva, is in ’n aardse paradys geplaas. As hulle gehoorsaam gebly het, sou hulle nie gesterf het nie. Die dood sou slegs die gevolg wees as die mens aan God ongehoorsaam was (Genesis 1:28; 2:15-17). Ongelukkig was Adam en Eva ongehoorsaam aan hulle Skepper. Gevolglik het hulle die prys betaal—die dood. Omdat alle mense van Adam en Eva afstam, het almal sonde en die dood oorgeërf. Die Bybel sê: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en só het die dood tot alle mense deurgedring.’—Romeine 5:12.
Wat is die toestand van die dooies?
Nadat Adam in opstand gekom het, het God gesê: “Jy [sal] na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Die dood is dus ’n toestand van algehele onbewustheid—in werklikheid, ’n toestand van niebestaan. Die Bybel sê: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Die Bybel sê ook dat wanneer iemand sterf, ‘hy na sy grond terugkeer; op daardie dag vergaan sy gedagtes’.—Psalm 146:3, 4.
Het ons nie ’n siel wat ná die dood voortleef nie?
Die Bybel sê duidelik dat jou siel eenvoudig jy is, nie die een of ander abstrakte entiteit wat ná jou dood voortleef nie (Genesis 2:7; Spreuke 2:10; Jeremia 2:34). Aangesien dit so is, kan ons sê dat wanneer iemand sterf, ’n siel gesterf het. Die Bybel stel dit duidelik: “Die siel [dit is, die persoon] wat sondig . . . sal sterf.”—Esegiël 18:4.
Watter hoop is daar vir die afgestorwenes?
Die Bybel openbaar dat dit God se voorneme is om die dooies weer te laat lewe deur hulle op te wek op ’n paradysaarde, waar siekte en die dood nie meer sal wees nie. Jesus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:1-4.
Toe Jesus van sy vriend Lasarus gepraat het, wat kort tevore gesterf het, het hy die dood met slaap vergelyk (Johannes 11:11-13). Daarbenewens het Lasarus, nadat Jesus hom opgewek het, nie gesê dat hy in ’n plek van pyniging of in ’n plek van geluk was gedurende die kort tydjie dat hy dood was nie (Johannes 11:37-44). Dit is verstaanbaar, aangesien die dooies in ’n toestand van onbewustheid is. Hulle ondervind nie lyding nie, maar wag vir die “uur” waarin hulle opgewek sal word. Hoe dit ook al sy, die feit dat Jesus Lasarus opgewek het, toon dat die dooies weer kan lewe. Deur middel van dié wonderwerk het Jesus op klein skaal getoon wat onder die heerskappy van God se Koninkryk op die aarde sal plaasvind (Handelinge 24:15). Wat ’n vertroosting is dit tog vir diegene wat geliefdes gedurende hierdie tye vol beroering aan die dood afgestaan het!