Vakansiedae
Definisie: Dae waarop mense gewoonlik nie werk of skool toe hoef te gaan nie ter herdenking van ’n gebeurtenis. Sulke dae kan ook geleenthede vir gesins- of gemeenskapsfeeste wees. Vierders kan dit as godsdienstige of hoofsaaklik as sosiale of sekulêre aangeleenthede beskou.
Is Kersfees ’n Bybelse viering?
Die datum van die viering
M’Clintock en Strong se Cyclopædia sê: “Die viering van Kersfees is nie ’n goddelike instelling nie en dit het ook nie sy oorsprong in die N[uwe] T[estament] nie. Die geboortedag van Christus kan nie uit die N[uwe] T[estament] of uit enige ander bron vasgestel word nie.”—(New York, 1871), Dl. II, bl. 276.
Lukas 2:8-11 toon dat herders ten tye van Jesus se geboorte snags in die oop veld gebly het. Die boek Daily Life in the Time of Jesus sê: “Die kuddes . . . het die winter onder dak deurgebring; en dit alleen toon dat die tradisionele datum vir Kersfees, in die winter, heel waarskynlik nie reg is nie, aangesien die Evangelie sê dat die herders in die oop veld was.”—(New York, 1962), Henri Daniel-Rops, bl. 228.
The Encyclopedia Americana deel ons mee: “Die rede waarom daar tot 25 Desember as die datum vir Kersfees besluit is, is ietwat duister, maar daar word oor die algemeen aanvaar dat die dag gekies is om saam te val met heidense feeste wat ongeveer die tyd van die wintersonstilstand, wanneer die dae begin langer word, gehou is om die ‘wedergeboorte van die son’ te vier. . . . Die Romeinse Saturnalieë (’n fees gewy aan Saturnus, die god van die landbou, en aan die hernieude krag van die son) is ook op hierdie tyd gehou, en daar word gemeen dat sommige Kersgebruike uit hierdie ou heidense viering gespruit het.”—(1977), Dl. 6, bl. 666.
Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die datum van Christus se geboorte is nie bekend nie. Die Evangelies verstrek nòg die dag nòg die maand . . . Volgens die hipotese wat deur H. Usener aan die hand gedoen is . . . en vandag deur die meeste geleerdes aanvaar word, is die datum van die wintersonstilstand (25 Desember in die Juliaanse kalender, 6 Januarie in die Egiptiese) vir die geboorte van Christus bepaal omdat die heidense aanbidders van Mithra die dies natalis Solis Invicti (geboortedag van die onoorwinlike son) op hierdie dag gevier het wanneer die son na die noordelike hemele begin terugkeer het. Op 25 Des. 274 het Aurelianus die songod tot die vernaamste beskermheer van die ryk uitgeroep en ’n tempel in die Campus Martius aan hom toegewy. Kersfees het ontstaan op ’n tyd toe die sonkultus in Rome besonder sterk was.”—(1967), Dl. III, bl. 656.
Wyse manne wat deur ’n ster gelei is
Daardie “wyse manne” was in werklikheid sterrewiggelaars uit die Ooste (Matt. 2:1, 2, NAV; NW; NE). Hoewel sterrewiggelary vandag onder baie mense gewild is, word die gebruik ten sterkste in die Bybel afgekeur. (Kyk bladsy 315, onder “Noodlot”.) Sou God persone wie se gebruike Hy veroordeel het na die pasgebore Jesus gelei het?
Mattheüs 2:1-16 toon dat die ster die sterrewiggelaars eers na koning Herodes en toe na Jesus gelei het en dat Herodes toe probeer het om Jesus om die lewe te bring. Daar is geen melding dat iemand anders behalwe die sterrewiggelaars die “ster” gesien het nie. Nadat hulle vertrek het, het Jehovah se engel Josef gewaarsku om na Egipte te vlug om die kind te beveilig. Was daardie “ster” ’n teken van God af of het dit gekom van iemand wat probeer het om God se Seun te vernietig?
Let daarop dat die Bybelverhaal nie sê dat hulle die kindjie Jesus in ’n krip gekry het, soos gewoonlik in Kerskuns uitgebeeld word nie. Toe die sterrewiggelaars opgedaag het, het Jesus en sy ouers in ’n huis gewoon. Wat Jesus se ouderdom op daardie stadium betref, moet ons onthou dat Herodes, op grond van wat hy by die sterrewiggelaars verneem het, beveel het dat al die seuntjies van twee jaar en daaronder in die omstreke van Betlehem om die lewe gebring moes word.—Matt. 2:1, 11, 16.
Geskenke as deel van die viering; stories oor Sinterklaas, Kersvader, ens.
Die gebruik om Kersgeskenke te gee, is nie gebaseer op wat die sterrewiggelaars gedoen het nie. Soos hierbo getoon, het hulle nie ten tye van Jesus se geboorte daar opgedaag nie. Daarbenewens het hulle nie vir mekaar geskenke gegee nie, maar vir die kindjie Jesus, volgens die gebruik destyds wanneer vername persone besoek is.
The Encyclopedia Americana sê: “Gedurende die Saturnalieë . . . is daar feesgevier en geskenke uitgeruil” (1977, Dl. 24, bl. 299). Dit weerspieël die gees waarin Kersgeskenke baiemaal gegee word—’n uitruiling van geskenke. Die gees wat weerspieël word deur die gee van sulke geskenke verskaf nie ware geluk nie, want dit skend Christelike beginsels soos dié in Mattheüs 6:3, 4 en 2 Korinthiërs 9:7. ’n Christen kan tog seker op ander tye gedurende die jaar geskenke aan ander gee as ’n blyk van liefde, en dit so dikwels doen soos wat hy wil.
Afhangende van waar hulle woon, word daar vir kinders vertel dat geskenke gebring word deur Sinterklaas, Sint Nikolaas, Kersvader, Père Noël, Knecht Ruprecht, die “wyse manne”, die elf Jultomten (of Julenissen), of ’n heks bekend as La Befana (The World Book Encyclopedia, 1984, Dl. 3, bl. 414). Hierdie stories is natuurlik almal blote verdigsel. Bou sulke stories eerbied vir die waarheid by kinders, en eer so ’n gebruik Jesus Christus, wat geleer het dat God in waarheid aanbid moet word?—Joh. 4:23, 24.
Is daar enige beswaar teen deelname aan vierings met ’n onchristelike oorsprong mits dit nie om godsdiensredes gedoen word nie?
Ef. 5:10, 11, NAV: “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.”
2 Kor. 6:14-18: “Watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; . . . en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” (Ware liefde vir Jehovah en ’n sterk begeerte om hom te behaag, sal ’n mens help om te breek met onchristelike gebruike wat emosionele aantrekkingskrag gehad het. Iemand wat Jehovah waarlik ken en liefhet, meen nie dat hy enigsins geluk ontneem word wanneer hy gebruike vermy wat valse gode eer of wat leuens bevorder nie. Ware liefde laat hom bly wees, nie oor die ongeregtigheid nie, maar saam met die waarheid. Kyk 1 Korinthiërs 13:6.)
Vergelyk Exodus 32:4-10. Let op dat die Israeliete ’n Egiptiese godsdiensgebruik aangeneem het maar dit ’n nuwe naam, ’n “fees tot eer van die HERE”, gegee het. Maar Jehovah het hulle kwaai gestraf hiervoor. Ons sien vandag slegs 20ste-eeuse gebruike wat met vakansiedae gepaard gaan. Sommige lyk onskadelik. Maar Jehovah het eerstehands die heidense godsdiensgebruike aanskou waaruit hierdie dinge ontstaan het. Moet dit nie sy beskouing wees wat vir ons van belang is nie?
Ter toeligting: Gestel ’n skare het na ’n man se huis gekom en gesê dat hulle daar is om sy verjaarsdag te vier. Hy is nie ten gunste van die viering van verjaarsdae nie. Hy hou nie daarvan om te sien dat mense te veel eet of dronk word of hulle losbandig gedra nie. Maar sommige van hulle doen al hierdie dinge, en hulle bring vir almal behalwe vir hom geskenke! Daarbenewens kies hulle die verjaarsdag van een van sy vyande as die datum vir die viering. Hoe sal die man voel? Sou jy daaraan wou meedoen? Dit is presies wat in die geval van Kersvierings gedoen word.
Wat is die oorsprong van Pase en die gebruike wat daarmee verband hou?
The Encyclopædia Britannica sê: “Daar is geen aanduiding van die viering van Pase in die Nuwe Testament of in die geskrifte van die apostoliese Vaders nie. Die gedagte dat besondere tye heilig was, het nie by die eerste Christene opgekom nie.”—(1910), Dl. VIII, bl. 828.
The Catholic Encyclopedia deel ons mee: “’n Mag der menigte heidense gebruike, waarmee die terugkeer van die lente gevier is, is mettertyd in die Pase opgeneem. Die eier is die embleem van die ontkiemende lewe van die vroeë lente. . . . Die konyn is ’n heidense simbool en was nog altyd ’n embleem van vrugbaarheid.”—(1913), Dl. V, bl. 227.
In die boek The Two Babylons, deur Alexander Hislop, lees ons: “Wat beteken die [Engelse] term Easter? Dit is nie ’n Christelike naam nie. Dit dra sy Chaldeeuse oorsprong op sy voorhoof. Easter is niks anders nie as Astarte, een van die titels van Beltis, die hemelkoningin, wie se naam . . . soos deur Layard op die Assiriese monumente gevind, Isjtar is. . . . Dit is die geskiedenis van Easter. Die gewilde gebruike wat nog steeds met die Paasseisoen gepaard gaan, bevestig dubbel en dwars die getuienis van die geskiedenis oor die Babiloniese aard daarvan. Die Paasbolletjies van Goeie Vrydag, en die geverfde eiers van Paassondag, het net so ’n groot rol in die Chaldeeuse ritusse gespeel as wat dit vandag speel.”—(New York, 1943), bl. 103, 107, 108; vergelyk Jeremia 7:18.
Is Nuwejaarsvierings aanstootlik vir Christene?
Volgens The World Book Encyclopedia “het die Romeinse heerser Julius Caesar in 46 v.C. bepaal dat 1 Januarie Nuwejaarsdag moet wees. Die Romeine het hierdie dag aan Janus, die god van poorte, deure en aanvangspunte, gewy. Die maand Januarie is vernoem na Janus wat twee gesigte gehad het—een wat vorentoe kyk en een wat terugkyk.”—(1984), Dl. 14, bl. 237.
Die datum van die Nuwejaarsviering, sowel as die gebruike wat daarmee gepaard gaan, wissel van land tot land. In baie plekke is brassery en drinkery ’n deel van die feesviering. Maar Romeine 13:13 vermaan: “Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.” (Kyk ook 1 Petrus 4:3, 4; Galasiërs 5:19-21.)
Wat lê die vakansiedae ter gedagtenis aan die “geeste van die afgestorwenes” ten grondslag?
The Encyclopædia Britannica se uitgawe van 1910 sê: “Allersieledag . . . die dag wat in die Rooms-Katolieke Kerk opsygesit word ter gedagtenis aan die afgestorwe gelowiges. Die viering is gebaseer op die leer dat die siele van die gelowiges wat by die dood nie van daaglikse sondes gereinig is nie, of nie versoening gedoen het vir oortredings van die verlede nie, nie die Saligmakende Gesig kan verkry nie, en dat hulle deur gebed en die misoffer gehelp kan word om dit te verkry. . . . Sekere gewilde opvattings in verband met Allersieledag het ’n heidense oorsprong en dateer uit onheuglike tye. Die landvolk van talle Katolieke lande glo dus dat die dode op Allersielenag na hulle voormalige wonings terugkeer en van die voedsel van die lewendes nuttig.”—Dl. I, bl. 709.
The Encyclopedia Americana sê: “Elemente van die gebruike wat verband hou met Allerheiligeaand kan teruggevoer word tot ’n Druïdiese seremonie in voorchristelike tye. Die Kelte het feeste gehad vir twee belangrike gode—’n songod en ’n god van die dode (genaamd Samhain), wie se fees gevier is op 1 November, die begin van die Keltiese Nuwejaar. Die fees van die dode is geleidelik in Christelike ritusse opgeneem.”—(1977), Dl. 13, bl. 725.
Die boek The Worship of the Dead wys op hierdie oorsprong: “Die mitologieë van al die antieke nasies is verweef met die gebeure van die Sondvloed . . . Die krag van hierdie argument word toegelig deur die feit dat ’n groot fees van die dode ter herdenking aan die gebeurtenis gevier word, nie slegs deur nasies wat min of meer met mekaar in aanraking is nie, maar deur ander wat ver uitmekaar is, geskei deur die oseaan sowel as eeue van tyd. Hierdie fees word daarbenewens deur almal gevier op of omstreeks die einste dag waarop die Sondvloed volgens die Mosaïese verslag plaasgevind het, naamlik die sewentiende dag van die tweede maand—die maand wat min of meer met ons November ooreenkom” (Londen, 1904, kolonel J. Garnier, bl. 4). Hierdie vierings het dus in werklikheid begin met ’n verering van mense wat God vernietig het as gevolg van hulle boosheid in Noag se dag.—Gen. 6:5-7; 7:11.
Sulke vakansiedae ter ere van “geeste van die afgestorwenes”, asof hulle in ’n ander ryk lewe, is strydig met die Bybel se beskrywing van die dood as ’n toestand van algehele onbewustheid.—Pred. 9:5, 10; Ps. 146:4.
Kyk bladsy 88, onder “Dood”, en bladsye 378, 379, onder “Siel” aangaande die oorsprong van geloof in die onsterflikheid van die mensesiel.
Wat is die oorsprong van Valentynsdag?
The World Book Encyclopedia deel ons mee: “Valentynsdag val op die feesdag van twee verskillende Christenmartelaars genaamd Valentyn. Maar die gebruike verbonde aan die dag . . . kom waarskynlik van ’n eertydse Romeinse fees genaamd Lupercalieë wat jaarliks op 15 Februarie gevier is. Die fees was ter ere van Juno, die Romeinse godin van vroue en die huwelik, en Pan, die god van die natuur.”—(1973), Dl. 20, bl. 204.
Wat is die oorsprong van die gebruik om ’n dag opsy te sit om moeders te vereer?
Die Encyclopædia Britannica sê: “’n Fees afkomstig van moederaanbidding in antieke Griekeland. Formele moederaanbidding, met seremonies ter ere van Cybele, of Rhea, die Groot Moeder van die Gode, het dwarsdeur Klein-Asië op die Idus van Maart geskied.”—(1959), Dl. 15, bl. 849.
Watter Bybelbeginsels verklaar Christene se beskouing van seremonies ter herdenking van gebeure in ’n nasie se politieke geskiedenis?
Joh. 18:36: “Jesus antwoord [die Romeinse goewerneur]: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.”
Joh. 15:19: “As julle [Jesus se volgelinge] van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”
1 Joh. 5:19: “Ons weet dat . . . die hele wêreld in die mag van die Bose lê.” (Vergelyk Johannes 14:30; Openbaring 13:1, 2; Daniël 2:44.)
Ander plaaslike en nasionale vakansiedae
Daar is baie. Nie almal kan hier bespreek word nie. Maar die geskiedkundige informasie wat hierbo verstrek is, bied aanduidings van waarna ’n mens moet oplet in enige vakansiedag of feesdag, en die Bybelbeginsels wat hier bespreek is, bied oorgenoeg leiding aan diegene wie se vernaamste begeerte is om Jehovah God te behaag.