Rasse
Definisie: Soos dit hier gebruik word, beteken ras ’n afdeling van die mensdom wat sekere kombinasies erflike, fisiese eienskappe in kenmerkende proporsies bevat wat voldoende is om die groep as ’n afsonderlike mensetipe te onderskei. Die feit dat mense van verskillende rasse met mekaar kan trou en kinders kan voortbring, toon egter dat hulle in werklikheid een “soort” is en almal lede van die mensegeslag is. Die verskillende rasse is dus bloot fasette van die totale variasie wat in die mensdom moontlik is.
Waar kom die verskillende rasse vandaan?
Gen. 5:1, 2; 1:28: “Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is.” “God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” (Die hele mensdom is dus afstammelinge van daardie eerste mensepaar, Adam en Eva.)
Hand. 17:26, NAV: “Uit een mens [Adam] het Hy [God] al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon.” (Ongeag watter rasse ’n nasie uitmaak, hulle is almal afstammelinge van Adam.)
Gen. 9:18, 19: “Die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. . . . Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.” (Nadat God die goddelose wêreld deur middel van ’n sondvloed in Noag se dag vernietig het, het die aarde se nuwe bevolking, waaronder al die rasse wat vandag bekend is, uit die afstammelinge van Noag se drie seuns en hulle vrouens ontwikkel.)
Was Adam en Eva bloot sinnebeeldige (denkbeeldige) persone?
Die Bybel steun nie daardie beskouing nie; kyk onder “Adam en Eva”.
Waar het Kain sy vrou gekry as daar net een gesin was?
Gen. 3:20, NAV: “Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.” (Alle mense sou dus die afstammelinge van Adam en Eva wees.)
Gen. 5:3, 4: “Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud was, het hy ’n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agthonderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad.” (Een van Adam se seuns was Kain, en een van Adam se dogters moes Kain se vrou geword het. Op daardie tydstip in die mens se geskiedenis het mense nog besondere fisiese gesondheid en lewenskrag gehad, soos aangedui deur die lengte van hulle lewens. Die moontlikheid om gebreke as gevolg van ’n huwelik met ’n naverwant oor te dra, was dus gering. Maar na sowat 2 500 jaar van mensegeskiedenis, toe die mensdom se fisiese toestand grootliks agteruitgegaan het, het Jehovah wette aan Israel gegee wat bloedskande verbied.)
Gen. 4:16, 17: “Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden. En Kain het sy vrou beken [“met sy vrou gemeenskap gehad”, NAV], en sy het swanger geword en Henog gebaar.” (Let daarop dat Kain sy vrou nie vir die eerste keer ontmoet het in die land waarheen hy gevlug het, asof sy ’n lid van ’n ander familie was nie. Hy het eerder daar met haar geslagsomgang gehad om ’n seun te verwek.)
Wat verklaar die ontwikkeling van die verskillende rasse-eienskappe?
“Alle mense wat vandag lewe, behoort tot ’n enkele spesie, Homo sapiens, en het dieselfde ouers. . . . Biologiese verskille tussen mense is die gevolg van verskille in erflike samestelling en die invloed van die omgewing op sy genetiese potensiaal. In die meeste gevalle is daardie verskille die gevolg van die wisselwerking van hierdie twee groepe faktore. . . . Verskille tussen individue in ’n ras of in ’n bevolking is dikwels groter as die gemiddelde verskille tussen rasse of bevolkings.”—’n Internasionale liggaam wetenskaplikes wat deur UNESCO byeengeroep is, aangehaal in Statement on Race (New York, 1972, derde uitgawe), Ashley Montagu, bl. 149, 150.
“’n Ras is bloot een van die gedeeltelik geïsoleerde geengroepe waarin die mensespesie verdeel is tydens en na sy vroeë geografiese verspreiding. Min of meer een ras het op elk van die vyf vernaamste kontinentale gebiede van die aarde ontwikkel. . . . Gedurende hierdie fase van die geskiedenis het die mens inderdaad geneties gedivergeer en ons kan die gevolge van hierdie divergensie bepaal en bestudeer in wat vandag van die ou geografiese rasse oorbly. Soos ons sou verwag, is divergensie skynbaar gekorreleer met die mate van afsondering. . . . Toe rasseformasie op die vastelande plaasgevind het, en duisende bevolkings dwarsoor die wêreld in afgesonderde geengroepe geknoop geraak het, is die verskille in geenfrekwensie wat ons nou sien, bepaal. . . . Die paradoks van die saak is dat elke groep mense uiterlik anders lyk terwyl daar onder hierdie verskille ’n fundamentele ooreenkoms is” (Heredity and Human Life, New York, 1963, H. L. Carson, bl. 151, 154, 162, 163). (Wanneer ’n groep mense vroeg in die mensegeskiedenis dus van ander afgesonder is en ondertrou het, is sekere kenmerkende kombinasies genetiese eienskappe in hulle nasate beklemtoon.)
Leer die Bybel dat Swart mense vervloek is?
Daardie gedagte is gebaseer op ’n verkeerde begrip van Genesis 9:25, waar Noag soos volg aangehaal word: “Vervloek is Kanaän! ’n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.” Lees dit aandagtig; dit sê niks oor velkleur nie. Die vloek is klaarblyklik uitgespreek omdat Gam se seun Kanaän iets skokkends gedoen het wat ’n vloek verdien het. Maar wie was Kanaän se afstammelinge? Nie Swart mense nie, maar volke met ligter velle wat aan die oostekant van die Middellandse See gewoon het. As gevolg van hulle verdorwe gebruike, demoniese ritusse, afgodediens en kinderoffers is hulle deur God veroordeel en het hy die land waar die Kanaäniete gewoon het aan Israel gegee (Gen. 10:15-19). Nie al die Kanaäniete is vernietig nie; sommige moes dwangarbeid verrig ter vervulling van die vloek.—Jos. 17:13.
Van watter afstammeling van Noag het die Swart mense afgestam? “Die seuns van Kus [nog een van Gam se seuns] was: Seba en Hawila en Sabta en Raema en Sabtega” (Gen. 10:6, 7). In latere Bybelse verwysings na Kus is dit gewoonlik dieselfde as Ethiopië. Seba word later gebruik wanneer daar verwys word na ’n ander volk in die oostelike deel van Afrika en klaarblyklik na aan Ethiopië.—Jes. 43:3, voetnoot in NW-naslaanbybel.
Is alle mense kinders van God?
Die voorreg om kinders van God te wees, is nie iets waarop onvolmaakte mense weens geboorte geregtig is nie. Maar ons is almal die afstammelinge van Adam, wat ’n “seun van God” was nadat hy volmaak geskape is.—Luk. 3:38.
Hand. 10:34, 35: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”
Joh. 3:16: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (As enigeen van ons die soort verhouding met God wil verkry wat Adam verbeur het, moet ons ware geloof in Jesus stel. Mense van alle rasse kan daardie voorreg geniet.)
1 Joh. 3:10: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.” (God beskou dus nie alle mense as sy kinders nie. Diegene wat opsetlik dinge beoefen wat God veroordeel, het geestelik gesproke die Duiwel as hulle vader. Kyk Johannes 8:44. Maar ware Christene openbaar godvrugtige eienskappe. Uit hulle het God ’n beperkte getal gekies om saam met Christus as konings in die hemel te regeer. God noem hulle sy “kinders” of sy “seuns”. Kyk onder “Wedergeboorte” vir nadere besonderhede.)
Rom. 8:19-21: “Die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. . . . Die skepping self [sal] vrygemaak . . . word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.” (Die mensdom sal verligting kry wanneer “die kinders van God”, nadat hulle hemelse lewe ontvang het, ‘geopenbaar’ word as persone wat positief onder die leiding van Christus optree ten behoewe van die mensdom. Nadat getroue persone op aarde [wat in hierdie teks “die skepping” genoem word] menslike volmaaktheid verkry het en onwrikbare lojaliteit aan Jehovah as Universele Soewerein getoon het, sal hulle ook die voortreflike verhouding van kinders van God geniet. Mense van alle rasse sal hierin deel.)
Sal mense van alle rasse ooit waarlik as broers en susters verenig wees?
Aan almal wat sy ware dissipels sou wees, het Jesus gesê: “Julle is almal broeders” (Matt. 23:8). Later het hy bygevoeg: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Joh. 13:35.
Ondanks menslike onvolmaaktheid was daardie gevoel van eenheid ’n werklikheid onder vroeë Christene. Die apostel Paulus het geskryf: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”—Gal. 3:28.
Christelike broederskap wat nie deur rassevooroordeel bederf word nie, is in die 20ste eeu ’n werklikheid onder Jehovah se Getuies. In U.S. Catholic het skrywer William Whalen gesê: “Myns insiens is een van die aantreklikste karaktertrekke van [die organisasie van Jehovah se Getuies] sy tradisionele beleid van rassegelykheid.” Nadat hy ’n omvattende studie van Jehovah se Getuies in Afrika gemaak het, het sosioloog Bryan Wilson van die Oxford-Universiteit gesê: “Die Getuies is moontlik meer suksesvol as enige ander groep wat die vlugheid betref waarmee hulle stamdiskriminasie onder hulle nuwe lede uitskakel.” In ’n verslag oor ’n internasionale byeenkoms van Getuies uit 123 lande, het The New York Times Magazine gesê: “Die Getuies het New Yorkers nie alleen met hulle getalle beïndruk nie, maar met hulle verskeidenheid (hulle sluit mense van alle stande in), hul ongedwonge rasseverhoudinge (baie Getuies is Negers) en hulle stil, ordelike gedrag.”
God se Koninkryk gaan binnekort die teenswoordige goddelose stelsel vernietig, almal wat Jehovah God sowel as hulle naaste nie opreg liefhet nie inkluis (Dan. 2:44; Luk. 10:25-28). God se Woord beloof dat die oorlewendes persone “uit alle nasies en stamme en volke en tale” sal wees (Openb. 7:9). Verenig deur die aanbidding van die ware God, deur geloof in Jesus Christus en deur liefde vir mekaar, sal hulle waarlik ’n hegte mensegesin uitmaak.