Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 273-bl. 279
  • Losprys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Losprys
  • Redenering uit die Skrif
  • Soortgelyke materiaal
  • Christus se losprys—God se middel tot redding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Wat beteken Jesus se dood vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Dit is hoe God ons liefgehad het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Wat God gedoen het om die mensdom te red
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 273-bl. 279

Losprys

Definisie: ’n Prys wat betaal word om iets terug te koop of om bevryding van ’n verpligting of onwenslike omstandigheid te bewerkstellig. Die belangrikste losprys is die vergote bloed van Jesus Christus. Deur die waarde van daardie losprys in die hemel te oorhandig, het Jesus die weg vir Adam se afstammelinge geopen om bevry te word van die sonde en die dood wat ons almal erf weens die sonde van ons voorvader Adam.

Hoe het Jesus Christus se dood van ander martelare s’n verskil?

Jesus was ’n volmaakte mens. Hy is sonder enige sondevlek gebore en hy het daardie volmaaktheid deur sy hele lewe bewaar. “Hy het geen sonde gedoen nie.” Hy was “onbesmet, afgeskeie van die sondaars”.—1 Pet. 2:22, NAV; Hebr. 7:26.

Hy was die unieke Seun van God. God self het dit hoorbaar uit die hemel betuig (Matt. 3:17; 17:5). Hierdie Seun het tevore in die hemel gelewe; deur hom het God alle ander geskape persone en dinge in die ganse heelal in aansyn geroep. Sodat Sy wil kon geskied, het God die lewe van hierdie Seun wonderdadig na die baarmoeder van ’n maagd oorgeplaas sodat hy as ’n mens gebore kon word. Om te beklemtoon dat hy waarlik ’n mens geword het, het Jesus homself die Seun van die mens genoem.—Kol. 1:15-20; Joh. 1:14; Luk. 5:24.

Hy was nie magteloos voor diegene wat hom tereggestel het nie. Hy het gesê: “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê . . . Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af” (Joh. 10:17, 18, NAV). Hy het geweier om te vra dat engelemagte om sy ontwil moes ingryp (Matt. 26:53, 54). Hoewel goddelose manne toegelaat is om hulle planne uit te voer om hom om die lewe te bring, was sy dood waarlik ’n offer.

Sy vergote bloed het waarde om vir ander bevryding te bewerk. “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mark. 10:45). Sy dood was dus veel meer as ’n geval van martelaarskap omdat hy geweier het om van sy opvattings af te sien.

Kyk ook bladsye 140, 141, onder “Gedenkmaal”.

Waarom moes die losprys voorsien word op die wyse waarop dit voorsien is sodat ons die ewige lewe kan kry?

Rom. 5:12, NAV: “Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.” (Dit maak nie saak hoe goed ons lewe nie, ons is almal van geboorte af sondaars [Ps. 51:7]. Daar is geen manier waarop ons die reg om vir ewig te lewe kan verdien nie.)

Rom. 6:23: “Die loon van die sonde is die dood.”

Ps. 49:8-10: “Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.” (Geen onvolmaakte mens kan die middele voorsien om iemand anders van sonde en die dood vry te koop nie. Sy geld kan nie die ewige lewe koop nie, en sy siel wat afgelê is in die dood het geen waarde om enigiemand te verlos nie, want dit is die loon van die sonde wat hy in elk geval sou ontvang.)

Waarom het God nie bloot bepaal dat, hoewel Adam en Eva vanweë hulle opstand moes sterf, al hulle afstammelinge wat God sou gehoorsaam vir ewig kon leef nie?

Want Jehovah “het geregtigheid en reg lief” (Ps. 33:5; Deut. 32:4; Jer. 9:24). Die wyse waarop hy die situasie hanteer het, het dus sy regverdigheid gehandhaaf, aan die eise van volkome geregtigheid voldoen en terselfdertyd sy liefde en barmhartigheid verheerlik. Hoe so?

(1) Adam en Eva het geen kinders gehad voordat hulle gesondig het nie, en daarom is nie een volmaak gebore nie. Al Adam se afstammelinge is in sonde gebore, en sonde lei tot die dood. As Jehovah dit net geïgnoreer het, sou dit ’n verloëning van sy regverdige standaarde gewees het. God kon dit nie doen en aldus aan onregverdigheid aandadig word nie. Hy het nie die vereistes van volkome geregtigheid omseil nie; daarom kon geen intelligente skepsel ooit tereg daarmee fout vind nie.—Rom. 3:21-26.

(2) Hoe kon daar voorsiening gemaak word om die afstammelinge van Adam wat liefdevolle gehoorsaamheid aan Jehovah getoon het vry te koop sonder om die vereistes van geregtigheid te ignoreer? Indien ’n volmaakte mens ’n offerdood sou sterf, sou geregtigheid toelaat dat daardie volmaakte lewe versoening doen vir die sondes van diegene wat die voorsiening in geloof aanneem. Aangesien een mens se sonde (Adam s’n) daarvoor verantwoordelik was dat die hele mensdom sondaars geword het, kon die vergote bloed van ’n ander volmaakte mens (in werklikheid ’n tweede Adam) die weegskaal van die gereg laat balanseer daar dit dieselfde waarde het. Omdat Adam ’n moedswillige sondaar was, kon hy nie daarby baat vind nie; maar omdat die boete wat die hele mensdom vir sonde moes betaal op hierdie wyse deur iemand anders betaal sou word, kon Adam se afstammelinge verlos word. Daar was egter nie so ’n volmaakte mens nie. Die mensdom kon nooit aan daardie vereistes van volkome geregtigheid voldoen nie. As ’n blyk van wonderlike liefde en teen groot persoonlike koste het Jehovah dus self voorsien wat nodig was (1 Kor. 15:45; 1 Tim. 2:5, 6; Joh. 3:16; Rom. 5:8). God se eniggebore Seun was bereid om sy deel by te dra. Nadat Jesus sy hemelse heerlikheid nederig prysgegee en ’n volmaakte mens geword het, het hy vir die mensdom gesterf.—Filip. 2:7, 8.

Ter toeligting: ’n Gesinshoof kan ’n misdadiger word en ter dood veroordeel word. Hy laat sy kinders brandarm en hopeloos in die skuld agter. Hulle goedhartige oupa kom hulle nou te hulp. Deur ’n seun wat by hom woon, tref hy voorsiening om hulle skulde te vereffen en om hulle die geleentheid te bied om ’n nuwe lewe te lei. Om daarby baat te vind, moet die kinders natuurlik die reëling aanneem, en die oupa kan redelikerwys sekere dinge vereis as versekering dat die kinders nie die weg van hulle vader sal inslaan nie.

Op wie is die verdienste van Jesus se offerande eerste toegepas, en met watter doel?

Rom. 1:16: “Die evangelie [oor Jesus Christus en sy rol in Jehovah se voorneme] . . . is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” (Die uitnodiging om by die voorsiening vir redding deur Christus baat te vind, is eers aan die Jode gerig, toe aan nie-Jode.)

Ef. 1:11-14: “[Alles word verenig] in [Christus] in wie ons [Jode, die apostel Paulus inkluis] ook ’n erfdeel [in die hemelse Koninkryk] ontvang het . . . sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, in wie julle [Christene wat uit die nie-Joodse nasies geneem is, soos baie in Efese] ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (Daardie erfdeel word, soos in 1 Petrus 1:4 getoon, in die hemele bewaar. Openbaring 14:1-4 toon dat daar 144 000 is wat dit ontvang. Saam met Christus sal hulle 1 000 jaar lank as konings en priesters oor die mensdom dien, en gedurende daardie tyd sal God se voorneme dat die aarde ’n paradys moet wees, gevul met volmaakte afstammelinge van die eerste mensepaar, vervul word.)

Wie anders vind in ons dag by Jesus se offer baat?

1 Joh. 2:2: “Hy [Jesus Christus] is ’n versoening vir ons sondes [dié van die apostel Johannes en ander geesgesalfde Christene], en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld [ander lede van die mensdom, diegene vir wie die vooruitsig op die ewige lewe op aarde aldus moontlik gemaak is].”

Joh. 10:16: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.” (Hierdie “ander skape” kom onder die liefdevolle sorg van Jesus Christus terwyl die oorblyfsel van die “klein kuddetjie” Koninkrykserfgename nog op aarde is; die “ander skape” kan dus saam met die Koninkrykserfgename ’n deel van die “een kudde” uitmaak. Hulle geniet almal talle van dieselfde voordele van Jesus se offer, maar nie presies dieselfde voordele nie, want hulle het verskillende bestemmings.)

Openb. 7:9, 14: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale . . . Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” (Die lede van hierdie groot menigte lewe dus wanneer die groot verdrukking begin, en hulle beklee ’n rein posisie voor God omdat hulle geloof in die losprys beoefen. Die geregtigheid wat hulle as gevolg hiervan toegereken word, is voldoende sodat hulle deur die groot verdrukking op aarde bewaar kan word.)

Watter toekomstige seëninge sal geniet word as gevolg van die losprys?

Openb. 5:9, 10, NAV: “Toe sing hulle ’n nuwe lied: ‘U [die Lam, Jesus Christus] is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.’” (Die losprys was ’n noodsaaklike faktor by die oopstelling van die weg tot hemelse lewe vir diegene wat saam met Christus gaan regeer. Al die heersers in die aarde se nuwe regering sal binnekort op hulle hemelse trone sit.)

Openb. 7:9, 10: “Kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam [Jesus Christus, wat soos ’n offerlam gesterf het], bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Geloof in Christus se offer is ’n sleutelfaktor by hierdie groot menigte se oorlewing van die groot verdrukking.)

Openb. 22:1, 2: “En hy het my getoon ’n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” (Die toepassing van die waarde van die Lam van God, Jesus Christus, se offer is dus ’n belangrike deel van die voorsiening wat deur God getref word om die mensdom te genees van al die gevolge van sonde en om hulle in staat te stel om die ewige lewe te geniet.)

Rom. 8:21: “Die skepping [die mensdom] self [sal] vrygemaak . . . word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.”

Wat word van ons vereis om blywend baat te vind by Jesus se volmaakte offer?

Joh. 3:36: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”

Hebr. 5:9: “Nadat Hy [Jesus Christus] volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword.”

Wat toon die losprysvoorsiening omtrent God se gevoel vir die mensdom?

1 Joh. 4:9, 10: “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes.”

Rom. 5:7, 8: “Nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe—vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe—maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Watter uitwerking moet hierdie voorsiening hê op die wyse waarop ons ons lewens gebruik?

1 Pet. 2:24: “[Hy] wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe.” (In die lig van alles wat Jehovah en sy Seun gedoen het om ons van sonde te reinig, moet ons naarstig daarna strewe om sondige neigings te bowe te kom. Dit moet vir ons heeltemal ondenkbaar wees om moedswillig enigiets te doen wat ons weet sondig is!)

Tit. 2:13, 14: “Jesus Christus [het] . . . Homself vir ons gegee . . . om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.” (Waardering vir hierdie wonderlike voorsiening moet ons beweeg om ’n ywerige aandeel te hê in daardie werke wat Christus aan sy ware volgelinge opgedra het.)

2 Kor. 5:14, 15: “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons van oordeel is dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel