Wat sê die Bybel van God en Jesus?
GESTEL mense lees die hele Bybel sonder enige vooropgesette gedagte van ’n Drie-eenheid. Sal hulle self so ’n begrip daaruit aflei? Glad nie.
Vir ’n onpartydige leser is dit baie duidelik dat God alleen die Almagtige is, die Skepper, apart en verskillend van enigiemand anders, en dat Jesus, selfs in sy voormenslike bestaan, ook apart en verskillend is, ’n geskape wese, ondergeskik aan God.
God is een, nie drie nie
DIE Bybelleer dat God enig is, word monoteïsme genoem. En L. L. Paine, professor in die kerklike geskiedenis, dui aan dat monoteïsme in sy suiwerste vorm nie ’n Drie-eenheid toelaat nie: “Die Ou Testament is streng monoteïsties. God is ’n enkele, persoonlike wese. Die gedagte dat ’n drie-eenheid daarin voorkom . . . is geheel en al ongegrond.”
Was daar enige wysiging van monoteïsme nadat Jesus aarde toe gekom het? Paine antwoord: “In hierdie opsig is daar geen onderbreking tussen die Ou Testament en die Nuwe nie. Die monoteïstiese tradisie word voortgesit. Jesus was ’n Jood wat deur Joodse ouers aan die hand van die Ou-Testamentiese geskrifte opgevoed is. Sy leer was deur en deur Joods; inderdaad ’n nuwe evangelie, maar nie ’n nuwe teologie nie. . . . En hy het die groot teks van Joodse monoteïsme as sy eie oortuiging aanvaar: ‘Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige Here.’”
Daardie woorde is in Deuteronomium 6:4 opgeteken. Die Katolieke New Jerusalem Bible (NJB) sê hier: “Luister, Israel: Jahweh ons God is die een, die enigste Jahweh.”a In die grammatika van daardie vers het die woord “een” geen meervoudige bepalings om aan te dui dat dit enigiets behalwe een individu beteken nie.
Die Christenapostel Paulus het ook nie enige verandering in die natuur van God aangedui nie, nie eens nadat Jesus aarde toe gekom het nie. Hy het geskryf: “God is een.”—Galasiërs 3:20; sien ook 1 Korinthiërs 8:4-6.
Daar word duisende kere in die Bybel van God as een persoon gepraat. Wanneer hy praat, is dit as een onverdeelde individu. Die Bybel kon dit nie duideliker gestel het nie. Soos God sê: “Ek is [Jehovah], dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee . . . nie” (Jesaja 42:8, vgl. NW). “Ek is Jahweh jou God . . . Jy mag geen gode behalwe my hê nie.” (Ons kursiveer.)—Exodus 20:2, 3, JB.
Waarom sou al die goddelik geïnspireerde Bybelskrywers van God as een persoon praat as hy in werklikheid drie persone is? Van watter nut sou dit wees, behalwe om mense te mislei? As God uit drie persone bestaan het, sou hy sy Bybelskrywers dit gewis baie duidelik laat stel het sodat dit buite twyfel sou staan. Ten minste die skrywers van die Christelike Griekse Skrifte wat persoonlik met God se eie Seun in aanraking was, sou dit gedoen het. Maar hulle het nie.
Die Bybelskrywers het dit eerder baie duidelik gestel dat God een Persoon is—’n unieke, onverdeelde Wese sonder gelyke: “Ek is [Jehovah], en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie” (Jesaja 45:5, vgl. NW). ‘U, wie se Naam Jehovah is, is alleen die Allerhoogste oor die hele aarde.’—Psalm 83:19, vgl. vers 18, NW.
Nie ’n meervoudige God nie
JESUS het God “die enige waaragtige God” genoem (Johannes 17:3). Hy het nooit van God gepraat as ’n godheid van meervoudige persone nie. Daarom word niemand buiten Jehovah in die hele Bybel almagtig genoem nie. Anders word die betekenis van die woord “almagtig” ongeldig gemaak. Nòg Jesus nòg die heilige gees word ooit almagtig genoem, want Jehovah alleen is oppermagtig. In Genesis 17:1 sê hy: “Ek is God, die Almagtige.” En Exodus 18:11 sê: “[Jehovah is] groter . . . as al die gode.”—vgl. NW.
In die Hebreeuse Skrifte het die woord ʼelohʹah (god) twee meervoudsvorme, naamlik, ʼelo·himʹ (gode) en ʼelo·hehʹ (gode van). Hierdie meervoudsvorme het oor die algemeen betrekking op Jehovah, in welke geval hulle in die enkelvoud as “God” vertaal word. Dui hierdie meervoudsvorme op ’n Drie-eenheid? Nee, glad nie. In A Dictionary of the Bible sê William Smith: “Die vergesogte idee dat [ʼelo·himʹ] betrekking het op die drie-eenheid van persone in die Godheid word nou byna glad nie deur geleerdes ondersteun nie. Dit is òf die meervoud van majesteit, soos taalkundiges dit noem, òf dit dui op die volledigheid van goddelike krag, die som van die kragte wat God openbaar.”
The American Journal of Semitic Languages and Literatures sê van ʼelo·himʹ: “Dit word feitlik sonder uitsondering met ’n enkelvoudige werkwoordelike gesegde verbind en neem ’n enkelvoudige byvoeglike bepaling.” Ter toeligting: die titel ʼelo·himʹ verskyn 35 keer in die skeppingsverslag, en die werkwoord wat God se woorde en dade beskryf, is telkens in die enkelvoud (Genesis 1:1–2:4). Daarom kom daardie publikasie tot die gevolgtrekking: “[ʼElo·himʹ] moet eerder verklaar word as ’n intensiewe meervoud wat grootheid en majesteit aandui.”
ʼElo·himʹ beteken nie “persone” nie, maar “gode”. Diegene wat aanvoer dat hierdie woord ’n Drie-eenheid impliseer, maak hulleself sodoende politeïste, aanbidders van meer as een God. Waarom? Omdat dit sou beteken dat daar drie gode in die Drie-eenheid is. Maar feitlik alle voorstanders van die Drie-eenheid verwerp die beskouing dat die Drie-eenheid uit drie aparte gode bestaan.
Die Bybel gebruik ook die woorde ʼelo·himʹ en ʼelo·hehʹ vir ’n aantal valse gode (Exodus 12:12; 20:23). Maar soms het dit weer op net een valse god betrekking, soos toe die Filistyne van “hulle god [ʼelo·hehʹ] Dagon” gepraat het (Rigters 16:23, 24). Baäl word “’n god [ʼelo·himʹ]” genoem (1 Konings 18:27). Die woord word boonop vir mense gebruik (Psalm 82:1, 6). Daar is vir Moses gesê dat hy vir Aäron en vir Farao “’n god” [ʼelo·himʹ] sou wees.—Exodus 4:16; 7:1.
Die feit dat die titels ʼelo·himʹ en ʼelo·hehʹ vir valse gode, en selfs vir mense, gebruik is, het natuurlik nie geïmpliseer dat elk ’n meervoudigheid van gode was nie. En as ʼelo·himʹ of ʼelo·hehʹ op Jehovah toegepas word, beteken dit ook nie dat hy meer as een persoon is nie, veral nie wanneer ons die getuienis van die res van die Bybel oor hierdie onderwerp ondersoek nie.
Jesus ’n aparte skepping
TERWYL Jesus op aarde was, was hy ’n mens, maar ’n volmaakte mens, omdat dit God was wat Jesus se lewenskrag na Maria se baarmoeder oorgeplaas het (Mattheüs 1:18-25). Maar dit was nie sy begin nie. Hy het self gesê dat hy “uit die hemel neergedaal het” (Johannes 3:13). Dit spreek dus vanself dat hy later vir sy volgelinge sou sê: “Hoe dan as julle die Seun van die mens [Jesus] daarheen sien opvaar waar Hy tevore was?”—Johannes 6:62.
Jesus het derhalwe in die hemel bestaan voordat hy aarde toe gekom het. Maar was dit as een van die persone in ’n almagtige, ewige drie-enige Godheid? Nee, want die Bybel sê onomwonde dat Jesus in sy voormenslike bestaan ’n geskape geespersoon was, net soos engele geespersone is wat deur God geskep is. Nòg die engele, nòg Jesus het voor hulle skepping bestaan.
Jesus was in sy voormenslike bestaan “die Eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Hy was “die begin van die skepping van God” (Openbaring 3:14). “Begin” (Grieks, ar·kheʹ) kan nie tereg vertolk word om te beteken dat Jesus die ‘beginner’ van God se skepping was nie. In sy Bybelgeskrifte gebruik Johannes meer as 20 keer verskeie vorme van die Griekse woord ar·kheʹ, en hulle het altyd dieselfde betekenis, naamlik “begin”. Ja, Jesus is deur God geskep as die begin van God se onsigbare skeppingswerke.
Let op die noue verband tussen hierdie vermeldings van Jesus se oorsprong en die woorde van die figuurlike “Wysheid” in die Bybelboek Spreuke: “Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. . . . [V]oordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore; toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie” (Spreuke 8:12, 22, 25, 26). Hoewel die woord “Wysheid” gebruik word om die een wat deur God geskep is te verpersoonlik, is die meeste geleerdes dit eens dat dit in werklikheid beeldspraak vir Jesus as ’n geesskepsel voor sy menslike bestaan is.
As “Wysheid” in sy voormenslike bestaan sê Jesus voorts dat hy “’n kunstenaar naas [God]” was (Spreuke 8:30). In ooreenstemming met sy rol as kunstenaar sê Kolossense 1:16 van Jesus: “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is.”—NAV.
Dit was dus deur middel van hierdie kunstenaar, as ’t ware sy junior vennoot, dat die almagtige God alle ander dinge geskep het. Die Bybel som dit so op: “Tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is . . . en een Here Jesus Christus deur wie alles is.” (Ons kursiveer.)—1 Korinthiërs 8:6.
Dit was ongetwyfeld vir hierdie kunstenaar dat God gesê het: “Laat Ons mense maak na ons beeld” (Genesis 1:26). Party beweer dat die “ons” in hierdie vers ’n Drie-eenheid aandui. Maar as jy sê: ‘Laat ons iets vir onsself maak’, sal niemand in die gewone gang van sake daaruit verstaan dat etlike persone as een in jou gekombineer is nie. Jy bedoel eenvoudig dat twee of meer individue saam iets sal doen. Net so het God, toe hy “ons” gebruik het, bloot met ’n ander persoon, sy eerste geesskepsel, die kunstenaar, die voormenslike Jesus, gepraat.
Kan God versoek word?
IN MATTHEÜS 4:1 word daar gesê dat Jesus ‘deur die duiwel versoek is’. Nadat hy vir Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” gewys het, het Satan gesê: “Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (Mattheüs 4:8, 9). Satan het probeer om Jesus oor te haal om ontrou aan God te wees.
Maar sou dit ’n toets van lojaliteit gewees het as Jesus God was? Kan God teen homself in opstand kom? Nee, maar engele en mense kan teen God in opstand kom en het wel. Die versoeking van Jesus sal alleenlik sin hê as hy nie God was nie, maar ’n aparte individu met ’n vrye wil, iemand wat ontrou kon gewees het as hy wou, soos ’n engel of ’n mens.
Daarenteen is dit ondenkbaar dat God kan sondig en aan homself ontrou kan wees. “Volkome is sy werk . . . ’n God van trou . . . regverdig en reg is Hy” (Deuteronomium 32:4). As Jesus God was, kon hy derhalwe nie versoek geword het nie.—Jakobus 1:13.
Aangesien Jesus nie God was nie, kon hy ontrou gewees het. Maar hy het getrou gebly en gesê: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”—Mattheüs 4:10.
Wat was die waarde van die losprys?
EEN van die vernaamste redes waarom Jesus aarde toe gekom het, hou ook regstreeks verband met die Drie-eenheid. Die Bybel sê: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n [ooreenstemmende] losprys vir almal.”—1 Timotheüs 2:5, 6, vgl. NW.
Jesus, niks meer en niks minder as ’n volmaakte mens nie, het ’n losprys geword wat presies vergoed het vir wat Adam verloor het—die reg op volmaakte menselewe op die aarde. Die apostel Paulus kon Jesus dus tereg “die laaste Adam” noem, en Paulus het in dieselfde konteks gesê: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Korinthiërs 15:22, 45). Jesus se volmaakte menselewe was die “ooreenstemmende losprys” wat op grond van goddelike geregtigheid geëis is—niks minder nie, niks meer nie. ’n Basiese beginsel selfs in die menslike reg is dat die prys wat betaal word by die oortreding moet pas.
Maar as Jesus ’n deel van ’n Godheid was, sou die losprys oneindig hoër gewees het as wat God se eie Wet vereis het (Exodus 21:23-25; Levitikus 24:19-21). Dit was net ’n volmaakte mens, Adam, wat in Eden gesondig het, nie God nie. Daarom sou die losprys alleenlik met God se geregtigheid gestrook het as dit ’n presiese ekwivalent was—’n volmaakte mens, “die laaste Adam”. Toe God Jesus as die losprys aarde toe gestuur het, het hy derhalwe gesorg dat Jesus aan die eise van geregtigheid sou voldoen, nie as ’n inkarnasie nie, nie as ’n god-mens nie, maar as ’n volmaakte mens, “minder as die engele”. (Hebreërs 2:9; vergelyk Psalm 8:6, 7.) Hoe kan enige deel van ’n almagtige Godheid—Vader, Seun of heilige gees—ooit minder as engele wees?
Hoe is hy die “eniggebore Seun”?
DIE Bybel noem Jesus die “eniggebore Seun” van God (Johannes 1:14; 3:16, 18; 1 Johannes 4:9). Trinitariërs sê dat die Seun van God ewig is omdat God ewig is. Maar hoe kan iemand ’n seun wees en terselfdertyd so oud soos sy vader wees?
Trinitariërs beweer dat “eniggebore”, of “enigverwekte” (NW), in die geval van Jesus anders is as die woordeboekdefinisie van “verwekking”, naamlik “om voort te bring as die vader” (Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary). Hulle sê dat dit in Jesus se geval “’n verhouding sonder oorsprong” beteken, die verhouding van enigste seun sonder die verwekking (Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words). Klink dit vir jou logies? Kan ’n man die vader word van ’n seun sonder om hom te verwek?
En waarom gebruik die Bybel dieselfde Griekse woord vir “eniggebore” (soos Vine sonder enige verduideliking erken) om Isak se verhouding tot Abraham te beskryf? Hebreërs 11:17 praat van Isak as Abraham se “eniggeborene”. Dit spreek vanself dat Isak in die normale sin die eniggeborene was, nie gelyk aan sy vader wat tyd of posisie betref nie.
Die basiese Griekse woord vir “eniggeborene” wat vir Jesus en Isak gebruik word, is volgens Strong se Exhaustive Concordance mo·no·ge·nesʹ, ontleen aan moʹnos, wat “enigste” beteken, en giʹno·mai, ’n grondwoord wat beteken “om te genereer”, “om te word (te ontstaan)”. Mo·no·ge·nesʹ word gevolglik só gedefinieer: “Eniggeborene, enig verwekte, d.w.s. ’n enigste kind.”—A Greek and English Lexicon of the New Testament, deur E. Robinson.
Die Theological Dictionary of the New Testament, geredigeer deur Gerhard Kittel, sê: “[Mo·no·ge·nesʹ] beteken ‘van alleenafkoms’, d.w.s. sonder broers of susters.” Hierdie boek sê ook dat in Johannes 1:18; 3:16, 18 en 1 Johannes 4:9 “die verhouding van Jesus nie net vergelyk word met dié van ’n enigste kind tot sy vader nie. Dit is die verhouding van die eniggeborene tot die Vader.”
Jesus, die eniggebore Seun, se lewe het dus ’n begin gehad. En die almagtige God kan tereg sy Verwekker, of Vader, genoem word, in dieselfde sin as wat ’n aardse vader, soos Abraham, ’n seun verwek (Hebreërs 11:17). Wanneer die Bybel van God as Jesus se “Vader” praat, bedoel dit dus wat dit sê—dat hulle twee aparte individue is. God is die senior. Jesus is die junior—wat tyd, posisie, krag en kennis betref.
Wanneer ’n mens in ag neem dat Jesus nie die enigste geesseun van God was wat in die hemel geskep is nie, word dit duidelik waarom die uitdrukking “eniggebore Seun” in sy geval gebruik is. Tallose ander geskape geeswesens, engele, word ook, in dieselfde sin as Adam, “seuns van God” genoem, want hulle lewenskrag was afkomstig van Jehovah God, die Fontein, of Bron, van die lewe (Job 38:7; Psalm 36:10; Lukas 3:38). Maar hulle is almal geskep deur middel van die “eniggebore Seun”, wat die enigste persoon is wat direk deur God verwek is.—Kolossense 1:15-17.
Is Jesus as God beskou?
HOEWEL Jesus dikwels in die Bybel die Seun van God genoem word, het niemand in die eerste eeu hom ooit as God die Seun beskou nie. Selfs die demone, wat “glo dat God één is”, het uit hulle ondervinding in die geesteryk geweet dat Jesus nie God is nie. Daarom het hulle Jesus korrek as die aparte “Seun van God” aangespreek (Jakobus 2:19; Mattheüs 8:29). En toe Jesus gesterf het, het die heidense Romeinse soldate wat bygestaan het genoeg geweet om te sê dat wat hulle by sy volgelinge gehoor het reg moet wees, nie dat Jesus God is nie, maar dat hy ‘waarlik die Seun van God was’.—Mattheüs 27:54.
Die uitdrukking “Seun van God” het gevolglik betrekking op Jesus as ’n aparte, geskape wese, nie as ’n deel van ’n Drie-eenheid nie. As die Seun van God kon hy nie God self wees nie, want Johannes 1:18 sê: “Niemand het ooit God gesien nie.”
Die dissipels het Jesus beskou as die “een Middelaar tussen God en die mense”, nie as God self nie (1 Timotheüs 2:5). Aangesien ’n middelaar volgens definisie iemand anders is as dié wat bemiddeling nodig het, sal dit ’n teenstrydigheid wees as Jesus een entiteit is met een van die twee partye wat hy met mekaar probeer versoen. Hy sou dan voorgee dat hy iets is wat hy nie is nie.
Die Bybel sit die verhouding van God tot Jesus duidelik en konsekwent uiteen. Jehovah God alleen is almagtig. Hy het die voormenslike Jesus regstreeks geskep. Jesus het dus ’n begin gehad en kan nooit aan God gelyk wees wat krag of ewigheid betref nie.
[Voetnoot]
a God se naam word in party vertalings as “Jahweh” en in ander as “Jehovah” weergegee.
[Lokteks op bladsy 14]
Aangesien Jesus deur God geskep is, is hy ondergeskik wat tyd, krag en kennis betref
[Prent op bladsy 15]
Jesus het gesê dat hy ’n voormenslike bestaan gehad het, dat hy deur God geskep is as die begin van God se onsigbare skeppingswerke