Bybelboek nommer 64—3 Johannes
Skrywer: Die apostel Johannes
Waar geskryf: In of naby Efese
Geskrif voltooi: ca. 98 G.J.
1. Aan wie is Derde Johannes gerig, en wat weet ons van hom?
HIERDIE brief is geskryf aan Gajus, ’n getroue Christen vir wie Johannes innig lief was. Die naam Gajus het in die dae van die vroeë gemeente algemeen voorgekom. Ons kom dit vier maal in ander dele van die Christelike Griekse Geskrifte teë, waar dit betrekking het op minstens drie, en waarskynlik vier, verskillende manne (Hand. 19:29; 20:4; Rom. 16:23; 1 Kor. 1:14). Daar is geen gegewens beskikbaar waardeur die Gajus aan wie Johannes geskryf het onteenseglik met enige van hierdie ander vereenselwig kan word nie. Al wat ons van Gajus weet, is dat hy ’n lid van ’n Christengemeente was, dat hy ’n spesiale vriend van Johannes was en dat die brief aan hom persoonlik gerig is, wat verklaar waarom die enkelvoudige woord “jy” deurgaans gebruik word.
2. Hoe weet ons wie die skrywer van Derde Johannes was, asook wanneer en waar die brief geskryf is?
2 Daar die styl van die inleidende en slotgroet dieselfde is as dié van Tweede Johannes, en die skrywer hom weer eens identifiseer as “die ouderling”, ly dit geen twyfel dat die apostel Johannes ook hierdie brief geskryf het nie (2 Joh. 1). Die ooreenkoms van inhoud en taal dui ook daarop dat dit, soos in die geval van die ander twee briewe, omstreeks 98 G.J. in of naby Efese geskryf is. Omdat die brief so kort is, het vroeë skrywers selde daaruit aangehaal, maar dit verskyn saam met Tweede Johannes in vroeë katalogusse van die geïnspireerde Geskrifte.a
3. Waaraan gee Johannes deur middel van Derde Johannes uiting, en watter interessante blik gee dit ons op die broederskap van die vroeë Christene?
3 In sy brief spreek Johannes waardering uit vir die gasvryheid wat Gajus teenoor reisende broers toon, en hy maak melding van moeilikheid wat deur ’n sekere eersugtige Diotrefes veroorsaak word. Die Demetrius wat gemeld word, het blykbaar hierdie brief na Gajus geneem; dit is dus moontlik dat hy deur Johannes uitgestuur is en op sy reis Gajus se gasvryheid nodig gehad het, waarvan die brief hom sou verseker. Buiten wat ons hier lees, weet ons net so min van Diotrefes en Demetrius as van Gajus. Die brief bied egter ’n interessante blik op die hegte internasionale broederskap van die vroeë Christene. Dit het onder meer die gewoonte ingesluit om persone wat “vir sy Naam” reis gasvry te ontvang, al was hulle nie persoonlik aan hulle gashere bekend nie.—V. 7.
INHOUD VAN DERDE JOHANNES
4. Waarvoor prys Johannes Gajus, watter onordelike gedrag veroordeel hy en watter goeie raad gee hy?
4 Die apostel beveel gasvryheid en goeie werke aan (v. 1-14). Johannes verheug hom oor die berig dat Gajus nog “in die waarheid wandel”. Hy prys hom vir die getroue werk wat hy doen, naamlik om liefdevolle sorg teenoor besoekende broers aan die dag te lê. “Ons behoort dan”, sê Johannes, “sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word.” Johannes het tevore aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes, wat homself verhef, ontvang niks van Johannes of van ander verantwoordelike broers met respek nie. Johannes sal, as hy kom, van hom rekenskap eis vir die manier waarop hy ‘met slegte woorde teen hulle uitvaar’. Die geliefde Gajus word aangeraai om ‘nie na te volg wat kwaad is nie, maar wat goed is’. Demetrius word vermeld as ’n prysenswaardige voorbeeld. In plaas dat Johannes oor baie dinge skryf, spreek hy die hoop uit om spoedig van mond tot mond met Gajus te spreek.—V. 4, 8, 10, 11.
WAAROM NUTTIG
5. (a) Hoe het Johannes getoon dat hy ’n voorbeeldige opsiener is, en watter gees moes gehandhaaf word? (b) Waarom het Johannes Diotrefes so skerp veroordeel? (c) Waarna moet ons vandag ywerig strewe, ooreenkomstig watter beginsel wat Johannes neergelê het?
5 Die apostel Johannes het getoon dat hy ’n voorbeeldige opsiener is deur sy ywer om die gemeente teen verderflike invloede te beskerm. Die gees van liefde en gasvryheid waarvan die gemeente deurdring was, was prysenswaardig, en dit was inderdaad hulle plig om hierdie gelukkige toestand te handhaaf sodat die plaaslike broers en “vreemdelinge” (persone wat tevore aan hulle Christengasheer onbekend was) wat onder hulle gekom het, saam sou kon dien as “mede-arbeiders van die waarheid” (v. 5, 8). Diotrefes het egter trotse oë gehad, iets wat vir Jehovah ’n gruwel is; hy het geen respek vir teokratiese gesag gehad nie en het selfs met slegte woorde teen die apostel Johannes uitgevaar (Spr. 6:16, 17). Hy het ’n struikelblok in die weg van die gemeente se Christelike gasvryheid gelê. Geen wonder dat Johannes hierdie kwaad so skerp veroordeel het en hom so gunstig uitgelaat het oor ware Christelike liefde in die gemeente nie. Ons moet vandag net so ywerig daarna strewe om nederig te bly, in die waarheid te wandel en godvrugtige liefde en ruimhartigheid te openbaar, ooreenkomstig die beginsel wat Johannes neergelê het: “Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie.”—3 Joh. 11.
[Voetnoot]
a Sien tabel “Belangrike vroeë katalogusse van die Christelike Griekse Geskrifte”, bladsy 303.