Wandel as medewerkers in die waarheid
Glanspunte uit Tweede en Derde Johannes
KENNIS van die waarheid is ’n kenmerk van aanbidders van Jehovah (Johannes 8:31, 32; 17:17). Om in goddelike waarheid te wandel is gebiedend vir redding. En knegte van God moet ook medewerkers in die waarheid wees.
Die apostel Johannes se tweede en derde geïnspireerde brief praat van “in die waarheid wandel” (2 Johannes 4; 3 Johannes 3, 4). Derde Johannes moedig ook samewerking as “medewerkers in die waarheid” aan (3 Johannes 5-8, vgl. NW). Albei hierdie briewe is in ongeveer 98 G.J. geskryf, waarskynlik in of naby Efese. Maar wat in hulle staan, kan ook vir Jehovah se volk vandag nuttig wees.
Tweede Johannes beklemtoon die waarheid
Tweede Johannes het allereers die waarheid en die liefde beklemtoon en waarsku teen “die antichris” (Verse 1-7). Die brief is gerig aan “die uitverkore vrou”, moontlik ’n individu. Maar indien dit aan ’n gemeente gestuur is, het haar “kinders” verwys na geesverwekte Christene “uitverkore” deur God vir die hemelse lewe (Romeine 8:16, 17; Filippense 3:12-14). Johannes is bly dat van hulle “in die waarheid wandel” en so afvalligheid weerstaan. Hulle moet nogtans op hulle hoede wees vir “die antichris”, wat ontken dat Jesus in die vlees gekom het. Getuies van Jehovah slaan vandag ag op hierdie waarskuwing teen afvalligheid.
Vervolgens het Johannes raad gegee oor hoe om teen afvalliges op te tree en sluit sy brief af met ’n persoonlike wens en groete (Verse 8-13). Sy en ander se arbeid in die prediking het vrugte gedra wat gelei het tot die bekering van diegene aan wie hy sy brief gerig het. Slegs deur geestelik op hulle hoede te wees, sal hulle “’n volle loon ontvang” wat klaarblyklik die hemelse “kroon” insluit wat vir getroue gesalfdes weggelê is (2 Timotheüs 4:7, 8). As iemand wat nie ‘in die leer van Christus bly nie’ na hulle toe kom, moet hulle ‘hom nooit in hulle huis ontvang of hom groet nie’, sodat hulle nie medepligtig aan sy “bose werke” word nie. Nadat hy die hoop uitgespreek het om na daardie medegelowiges te kom en van mond tot mond met hulle te spreek, sluit Johannes met groete af.
Derde Johannes beklemtoon samewerking
Derde Johannes is aan Gajus gerig en het eers kennis geneem van wat hy vir medegelowiges gedoen het (Verse 1-8). Gajus het ‘gewandel in die waarheid’ deur by die Christelike leer in sy geheel te hou. Hy het ook “’n getroue werk” gedoen deur besoekende broers te help. Johannes het geskryf: “Ons is . . . verplig om sulke mense gasvry te ontvang, sodat ons medewerkers in die waarheid kan word” (NW). Getuies van Jehovah bewys vandag dieselfde gasvryheid aan reisende opsieners.
Johannes het gewys op die verskil tussen die slegte gedrag van Diotrefes en die goeie gedrag van Demetrius, waarná hy sy brief afgesluit het (Verse 9-14). Die eersugtige Diotrefes toon geen eerbied vir Johannes nie en hy probeer selfs om diegene wat die broers gasvry ontvang uit die gemeente te werp. ’n Sekere Demetrius word egter as ’n goeie voorbeeld voorgehou. Johannes hoop om Gajus binnekort te sien en sluit af met groete en seënwense van vrede aan Gajus.
[Venster/Prent op bladsy 30]
Met papier, pen en ink: Dit was Johannes se begeerte om “die uitverkore vrou” en haar “kinders” liewer te besoek as om baie dinge aan hulle “met papier en ink” te skrywe. Die apostel wou nie verder “met ink en pen” aan Gajus skrywe nie, maar hy het eerder gehoop om hom ook gou te sien (2 Johannes 1, 12; 3 Johannes 1, 13, 14). Die Griekse woord (kaʹla·mos) wat met “pen” vertaal is, verwys na ’n bamboes of ’n riet en kan met “skryfriet” vertaal word. Onder die Grieke en die Romeine het ’n rietpen ’n skerp gesplete punt gehad soos die veerpenne van latere tye. Die Griekse woord meʹlan, wat met “ink” vertaal is, is die onsydige vorm van die manlike byvoeglike naamwoord meʹlas, wat “swart” beteken. Die kleursel in die oudste inksoorte was ’n koolswart—’n vorm van roet wat verkry is uit die verbranding van olie of hout, of uit ’n kristalagtige koolstof van plantaardige of dierlike oorsprong. Inksoorte is gewoonlik bewaar in die vorm van gedroogde steentjies of koekies, wat deur die skrywer met sy borseltjie of skryfriet klam gemaak is. Die papier was destyds ’n dun materiaal in die vorm van velle wat uit repies van die papirusplant gemaak is. Die vroeë Christene het hierdie papier vir briewe, rolle en kodekse gebruik.