Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • gt hfst. 42
  • Jesus bestraf die Fariseërs

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus bestraf die Fariseërs
  • Die grootste mens wat nog geleef het
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus bestraf die Fariseërs
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Jesus wys die Fariseërs tereg
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Bybelboek nommer 32—Jona
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Jona leer aangaande Jehovah se barmhartigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die grootste mens wat nog geleef het
gt hfst. 42

Hoofstuk 42

Jesus bestraf die Fariseërs

AS DIT deur Satan se krag is dat hy die demone uitdrywe, redeneer Jesus, dan is Satan teen homself verdeeld. “Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed”, vervolg hy, “òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.”

Dit is dwaas om te beweer dat Jesus goeie vrugte, soos die uitdryf van demone, voortbring omdat hy Satan dien. As die vrugte goed is, kan die boom nie sleg wees nie. Aan die ander kant is die Fariseërs se slegte vrugte in die vorm van belaglike aantygings en ongegronde teenstand teen Jesus ’n bewys dat hulle self sleg is. “Addergeslag”, roep Jesus uit, “hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.”

Aangesien ons woorde die toestand van ons hart weerspieël, bied ons woorde ’n grondslag waarvolgens ons geoordeel kan word. “Ek sê vir julle”, sê Jesus, “dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.”

Ondanks al Jesus se kragtige dade vra die skrifgeleerdes en Fariseërs nou: “Meester, ons wil graag ’n teken van U sien.” Hoewel hierdie spesifieke manne van Jerusalem miskien nie self sy wonderwerke gesien het nie, is daar oorgenoeg ooggetuies dat dit nie betwyfel kan word nie. Daarom sê Jesus vir die Joodse leiers: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.”

Jesus verduidelik dan wat hy bedoel: “Soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” Nadat Jona deur die vis ingesluk is, het hy uitgekom asof hy uit die dood opgewek is. Jesus voorspel dat hy eweneens sal sterf en op die derde dag opgewek sal word. Maar die Joodse leiers verwerp ‘die teken van Jona’, selfs wanneer Jesus later opgewek word.

Daarom sê Jesus dat die manne van Nineve wat hulle op die prediking van Jona bekeer het, in die oordeel sal opstaan om die Jode wat Jesus verwerp te veroordeel. Hy trek ook ’n parallel met die koningin van Skeba, wat van die eindes van die aarde af gekom het om Salomo se wysheid te hoor en haar verstom het oor wat sy gesien en gehoor het. Maar, sê Jesus, “meer as Salomo is hier!”

Jesus vertel dan die gelykenis van ’n man uit wie daar ’n onreine gees uitgaan. Die man vul egter nie die ruimte met goeie dinge nie en hy word gevolglik deur sewe slegter geeste in besit geneem. “Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag”, sê Jesus. Die Israelitiese nasie is vroeër gereinig en hervorm—soos die tydelike vertrek van ’n onreine gees. Maar die nasie se verwerping van God se profete, wat ’n hoogtepunt bereik in hulle teenstand teen Christus self, toon dat hulle bose toestand baie erger is as by hulle begin.

Terwyl Jesus praat, kom sy moeder en sy broers daar aan. Hulle gaan staan aan die rand van die skare. Iemand sê toe vir Jesus: “Dáár staan u moeder en u broers buite en wil graag met U praat.”

“Wie is my moeder? En wie is my broers?” vra Jesus. Hy steek sy hand na sy dissipels toe uit en sê: “Dáár is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” So toon Jesus dat, ongeag hoe geheg hy aan sy familie is, daar ’n selfs hegter band tussen hom en sy dissipels bestaan. Mattheüs 12:33-50; Markus 3:31-35; Lukas 8:19-21.

▪ Hoe bly die Fariseërs in gebreke om sowel die “boom” as die “vrugte” goed te maak?

▪ Wat is ‘die teken van Jona’, en hoe word dit later verwerp?

▪ Hoe is die eerste-eeuse Israelitiese nasie soos die man uit wie daar ’n onreine gees uitgegaan het?

▪ Hoe beklemtoon Jesus die hegte band tussen hom en sy dissipels?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel