Hoofstuk 84
Die verantwoordelikheid van dissipelskap
NADAT hy die huis van die prominente Fariseër, blykbaar ’n lid van die Sanhedrin, verlaat het, sit Jesus sy reis na Jerusalem voort. Groot menigtes volg hom. Maar wat is hulle beweegredes? Wat behels dit werklik om ’n ware volgeling van hom te wees?
Terwyl hulle saam reis, wend Jesus hom tot die menigtes en hy skok hulle moontlik wanneer hy sê: “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.”
Wat bedoel Jesus? Jesus sê nie hier dat sy volgelinge hulle familie letterlik moet haat nie. Hulle moet hul eerder haat in die sin dat hulle hul minder liefhet as wat hulle hom liefhet. Daar is van Jesus se voorvader Jakob gesê dat hy Lea “gehaat het” (NW) en Ragel liefgehad het, wat beteken dat hy Lea minder liefgehad het as haar suster Ragel.
Let ook op dat Jesus gesê het dat ’n dissipel “selfs ook sy eie lewe” moet haat. Wat Jesus weer eens bedoel, is dat ’n ware dissipel Hom meer moet liefhê as wat hy sy eie lewe liefhet. Jesus beklemtoon dus dat dit ’n ernstige verantwoordelikheid is om sy dissipel te word. Dit is nie iets wat ’n mens moet onderneem sonder om dit sorgvuldig te oorweeg nie.
Dit behels ontbering en vervolging om Jesus se dissipel te wees, soos hy verder aandui: “En elkeen wat sy folterpaal nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (NW). ’n Ware dissipel moet derhalwe bereid wees om dieselfde las van smaad as Jesus te dra, al sluit dit in dat hy, indien nodig, deur die toedoen van God se vyande sterf, soos binnekort met Jesus gaan gebeur.
Dit is derhalwe ’n kwessie wat die menigtes wat hom volg baie noukeurig moet ondersoek as hulle dissipels van Christus wil wees. Jesus beklemtoon hierdie feit deur middel van ’n gelykenis. “Want”, sê hy, “wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? —sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.”
Jesus lig dus aan die menigtes wat hom volg toe dat hulle daarvan oortuig moet wees dat hulle hul verpligtinge kan nakom voordat hulle sy dissipels word, net soos ’n man wat ’n toring wil bou seker maak dat hy die middele het om dit te voltooi voordat hy begin. Jesus vertel ’n ander gelykenis en sê verder:
“Of watter koning wat optrek om teen ’n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tienduisend die een te ontmoet wat met twintigduisend teen hom kom nie? Anders stuur hy ’n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes.”
Jesus beklemtoon dan die kerngedagte van sy gelykenisse en sê: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.” Dit is wat die skare wat hom volg en, ja, almal wat van Christus leer, bereid moet wees om te doen. Hulle moet bereid wees om alles wat hulle het—al hulle besittings, selfs hulle lewe—op te offer as hulle sy dissipels wil wees. Is jy bereid om dit te doen?
“Die sout is goed”, sê Jesus vervolgens. In sy Bergpredikasie het hy gesê dat sy dissipels “die sout van die aarde” is, wat beteken dat hulle ’n preserverende invloed op mense het, net soos letterlike sout ’n preserveermiddel is. “Maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word? Dit kan nie vir grond of vir mis gebruik word nie”, sê Jesus ten slotte (NW). “Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”
Jesus toon dus dat selfs diegene wat al ’n ruk lank sy dissipels is, nie moet verslap in hulle vasbeslotenheid om te volhard nie. As hulle dit doen, sal hulle nutteloos word, ’n voorwerp van bespotting vir hierdie wêreld en onbevoeg voor God, trouens, iemand wat God tot oneer strek. Hulle sal gevolglik soos kragtelose, bedorwe sout buitekant gegooi, ja, vernietig word. Lukas 14:25-35; Genesis 29:30-33; Mattheüs 5:13.
▪ Wat beteken dit om jou familie en jouself te “haat”?
▪ Watter twee gelykenisse gee Jesus, en wat beteken hulle?
▪ Wat lig Jesus se slotkommentare oor sout toe?