Hoofstuk 4
Die groot afvalligheid ontwikkel
“EEN Here, een geloof” (Ef. 4:5). Toe die apostel Paulus daardie woorde (omstreeks 60-61 G.J.) onder inspirasie geskryf het, was daar net een Christelike geloof. Maar vandag sien ons ’n magdom van kerkgenootskappe, sektes en kultusse wat beweer dat hulle Christelik is, hoewel hulle teenstrydige leerstellings verkondig en verskillende gedragstandaarde het. Hoe anders tog as die een verenigde Christengemeente wat op Pinkster 33 G.J. gestig is! Hoe het hierdie verdeeldhede ontstaan? Vir die antwoord moet ons teruggaan na die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling.
Reg van die begin af het die Teenstander, Satan, die getuienis van Jehovah se Christengetuies probeer stilmaak deur vervolging deur diegene buite die gemeente oor hulle te bring (1 Pet. 5:8). Dit het eers van die Jode en toe van die nie-Joodse Romeinse Ryk gekom. Die vroeë Christene het alle vorme van teenstand met welslae verduur. (Vergelyk Openbaring 1:9; 2:3, 19.) Maar die Teenstander het nie tou opgegooi nie. As hy hulle nie kon stilmaak deur druk van diegene buite die gemeente nie, waarom kon hy hulle dan nie van binne verderf nie? Terwyl die Christengemeente nog in sy kinderskoene gestaan het, is selfs sy bestaan bedreig deur ’n vyand in sy midde—afvalligheid.a
Afvalligheid het egter nie ongemerk in die gemeente ingesypel nie. As Hoof van die gemeente het Christus gesorg dat sy volgelinge betyds gewaarsku is.—Kol. 1:18.
‘Daar sal valse leraars onder julle wees’
“Pas op”, het Jesus gewaarsku, “vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom” (Matt. 7:15). Jesus het geweet dat Satan sou probeer om verdeeldheid onder Sy volgelinge te saai en hulle te verderf. Hy het hulle dus reeds vroeg in sy bediening teen valse leraars gewaarsku.
Waarvandaan sou hierdie valse leraars kom? “Uit julle self”, het die apostel Paulus in omstreeks 56 G.J. gesê toe hy met opsieners van Efese gepraat het. Ja, uit die gemeente self sou manne “opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29, 30). Sulke selfsugtige afvalliges sou nie daarmee tevrede wees om hulle eie dissipels te maak nie; hulle sou probeer “om die dissipels weg te trek”, dit wil sê Christus se dissipels.
Die apostel Petrus het ook (omstreeks 64 G.J.) interne verdorwenheid voorspel en selfs beskryf hoe sulke afvalliges te werk sou gaan: “Daar [sal] onder julle valse leraars . . . wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en . . . uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek” (2 Pet. 2:1, 3). Hoewel hulle uit die gemeente self sou opstaan, sou die valse leraars, soos spioene of verraaiers in ’n vyandelike laer, hulle verdorwe beskouings op ’n heimlike of verborge wyse invoer.
Hierdie waarskuwings van Jesus en sy apostels was nie tevergeefs nie. Interne teenstand het klein begin, maar dit het vroeg in die Christengemeente begin kop uitsteek.
“Al aan die werk”
Nie eers 20 jaar ná Jesus se dood nie het die apostel Paulus getoon dat Satan se pogings om verdeeldheid te saai en mense van die ware geloof af te keer “al aan die werk” was (2 Thess. 2:7). Reeds in omstreeks 49 G.J. het die bestuursliggaam in ’n brief gesê wat aan die gemeentes gestuur is: “Ons [het] gehoor . . . dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus” (Hand. 15:24). Ja, sommige in die gemeente self het hulle teenstrydige beskouing gelug—in hierdie geval blykbaar oor die vraag of nie-Joodse Christene hulle moet laat besny en die Mosaïese Wet moet onderhou.—Hand. 15:1, 5.
Met die verloop van die eerste eeu het verdelende denke soos gangreen versprei. (Vergelyk 2 Timotheüs 2:17, NW.) Teen ongeveer 51 G.J. het sommige in Thessalonika verkeerdelik voorspel dat “die teenwoordigheid” van die Here Jesus op hande is (2 Thess. 2:1, 2, NW). Teen ongeveer 55 G.J. het sommige in Korinthe die duidelike Christelike leerstelling aangaande die opstanding van die dooies verwerp (1 Kor. 15:12). In omstreeks 65 G.J. het ander gesê dat die opstanding reeds plaasgevind het, dat dit ’n simboliese opstanding is wat lewende Christene ervaar.—2 Tim. 2:16-18.
Daar is geen geïnspireerde verslae oor wat gedurende die volgende 30 jaar in die Christengemeente plaasgevind het nie. Maar toe die apostel Johannes sy briewe (in omstreeks 98 G.J.) geskryf het, was daar “baie antichriste”—mense wat ontken het dat “Jesus die Christus is” en dat Jesus die Seun van God is wat “in die vlees” gekom het.—1 Joh. 2:18, 22; 4:2, 3.
Die apostels het meer as 60 jaar lank die opkoms van afvalligheid probeer “teëhou”. (2 Thess. 2:7; vergelyk 2 Johannes 9, 10.) Maar net voor die Christengemeente die tweede eeu betree het, het die laaste apostel wat nog geleef het, Johannes, in omstreeks 100 G.J. gesterf. Die afvalligheid wat stadig in die gemeente begin insypel het, sou nou teuelloos voortwoeker, met verwoestende organisatoriese en leerstellige reperkussies.
Geestelikes en leke
“Julle is almal broeders”, het Jesus vir sy dissipels gesê. “Een is julle leermeester: Christus” (Matt. 23:8, 10). Daar was dus geen geestelikeklas in Christengemeentes van die eerste eeu nie. As geesgesalfde broers van Christus het al die vroeë Christene die vooruitsig gehad om hemelse priesters saam met Christus te wees (1 Pet. 1:3, 4; 2:5, 9). Wat organisasie betref, het ’n liggaam van opsieners, of geestelike ouere manne, oor elke gemeente toesig gehou.b Al die ouere manne het ewe veel gesag gehad en nie een van hulle het magtiging verkry om oor die kudde in hulle sorg ‘te heers’ nie (Hand. 20:17; Filip. 1:1; 1 Pet. 5:2, 3). Maar namate die afvalligheid al verder ontwikkel het, het dinge vinnig begin verander.
Een van die vroegste afwykings was ’n skeiding tussen die woorde “opsiener” (Gr., e·piʹsko·pos) en “ouere man”, of “ouderling” (Gr., pre·sbuʹte·ros), sodat hulle nie meer gebruik is om van dieselfde posisie van verantwoordelikheid te praat nie. Slegs ’n dekade of wat ná die apostel Johannes se dood het Ignatius, die “biskop” van Antiochië, in sy brief aan diegene in Smirna geskryf: “Sorg dat julle almal die biskop [opsiener] navolg, soos Jesus Christus die Vader navolg, en die presbiterie [liggaam van ouere manne] asof dit die Apostels is.” Ignatius het dus aanbeveel dat een biskop,c of opsiener, wat van die presbiters, of ouere manne, onderskei sou word en wat groter gesag as hulle sou hê oor elke gemeente toesig hou.
Hoe het hierdie skeiding egter ontstaan? Augustus Neander verduidelik wat gebeur het in sy boek The History of the Christian Religion and Church, During the Three First Centuries: “In die tweede eeu . . . moes die vaste amp van president van die presbiters ingestel gewees het, aan wie die naam [e·piʹsko·pos] gegee is, aangesien hy in die besonder opsiener oor alles was, en daardeur is hy van die res van die presbiters onderskei.”
Die grondslag is dus gelê dat ’n geestelikeklas geleidelik kon ontwikkel. Ongeveer ’n eeu later was Cyprianus, die “biskop” van Carthago, Noord-Afrika, ’n sterk voorstander van die gesag van die biskoppe—as ’n groep afgeskeie van die presbiters (later bekend as priestersd), die diakens en die lekedom. Maar hy was nie ten gunste daarvan dat een biskop voorrang bo die ander geniet nie.e
Terwyl biskoppe en presbiters die hiërargiese leer bestyg het, het hulle die res van die gelowiges in die gemeente aan die voet daarvan agtergelaat. Dit het gelei tot ’n skeiding tussen die geestelikes (diegene wat die leiding neem) en die lekedom (die passiewe liggaam van gelowiges). McClintock en Strong se Cyclopedia verduidelik: “Vanaf die tyd van Cyprianus [wat omstreeks 258 G.J. gesterf het], die vader van die hiërargiese stelsel, het die onderskeid tussen geestelikes en die lekedom opvallend geword, en dit is spoedig oral ingestel. Trouens, vanaf die derde eeu is die woord clerus . . . feitlik uitsluitlik op die leraarsgroep toegepas om dit van die lekedom te onderskei. Namate die Roomse hiërargie ontwikkel het, het die geestelikes nie net ’n afgeskeie orde geword nie . . . maar is hulle ook as die enigste priesterdom erken.”
Binne ongeveer 150 jaar ná die dood van die laaste van die apostels het twee betekenisvolle organisatoriese veranderings dus in die gemeente plaasgevind: Eerstens, die skeiding tussen die biskop en die presbiters, met die biskop op die boonste sport van die hiërargiese leer; tweedens, die skeiding tussen die geestelikes en die lekedom. Pleks dat alle geesverwekte gelowiges “’n koninklike priesterdom” uitgemaak het, is die geestelikes nou alleen “as die enigste priesterdom erken”.f—1 Pet. 2:9.
Sulke veranderings was ’n bewys van afvalligheid van die skriftuurlike metode waarvolgens die gemeentes in die apostels se dag bestuur is. Maar organisatoriese veranderings was nie die enigste gevolge van die afvalligheid nie.
Heidense leerstellings sypel in
Christus se suiwer leerstellings is goed geboekstaaf—hulle is in die Heilige Skrif bewaar. Jesus het byvoorbeeld duidelik geleer dat Jehovah “die enigste ware God” is en dat die mensesiel sterflik is (Joh. 17:3, NW; Matt. 10:28). Maar toe die apostels gesterf en die organisatoriese struktuur al swakker geword het, is sulke duidelike leerstellings verdraai namate heidense leerstellings in die Christelike godsdiens ingesypel het. Hoe kon so iets gebeur het?
’n Sleutelfaktor was die subtiele invloed van Griekse filosofie. The New Encyclopædia Britannica verduidelik: “Van die middel van die 2de eeu n.C. af het Christene wat onderrig in die Griekse filosofie gehad het, begin voel dat dit nodig is om hulle geloof in die terminologie daarvan uit te druk, enersyds vir hulle eie intellektuele bevrediging en andersyds om geleerde heidene te bekeer.” Toe sommige met filosofiese denke eers Christene geword het, het dit nie lank geduur voordat Griekse filosofie en “die Christelike godsdiens” onafskeidbaar met mekaar verbind geraak het nie.
As gevolg van hierdie verbintenis het heidense leerstellings soos die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel in die besmette Christelike godsdiens ingesypel. Hierdie leerstellings kan egter teruggevoer word tot baie lank voor die tyd van die Griekse filosowe. Die Grieke het dit eintlik van ouer kulture gekry, want daar is bewyse van sulke leerstellings in eertydse Egiptiese en Babiloniese godsdienste.
Namate heidense leerstellings in die Christelike godsdiens ingesypel het, is ander skriftuurlike leerstellings ook verdraai of verwerp.
Die Koninkrykshoop vervaag
Jesus se dissipels was alte bewus daarvan dat hulle op die uitkyk moes wees vir Jesus se beloofde “teenwoordigheid” en die koms van sy Koninkryk. Hulle het mettertyd verstaan dat hierdie Koninkryk duisend jaar lank oor die aarde sal regeer en dit in ’n paradys sal omskep (Matt. 24:3, NW; 2 Tim. 4:18; Openb. 20:4, 6). Die Christenbybelskrywers het die eerste-eeuse getuies gemaan om geestelik wakker en afgeskeie van die wêreld te bly (Jak. 1:27; 4:4; 5:7, 8;1 Pet. 4:7). Maar toe die apostels gesterf het, het Christene se hoop op Christus se teenwoordigheid en die koms van sy Koninkryk vervaag. Waarom?
Een faktor was die geestelike besoedeling wat deur die Griekse leerstelling oor die onsterflikheid van die siel veroorsaak is. Namate dit al stewiger onder Christene posgevat het, is die millenniumhoop geleidelik laat vaar. Waarom? The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik: “Die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel het na vore gekom en die plek ingeneem van NT [Nieu-Testamentiese] eskatologie [die leer van die “Laaste Dinge”] met sy hoop op die opstanding van die dooies en die nuwe skepping (Openb. 21 e.v.), sodat die siel ná die dood geoordeel word en na ’n paradys gaan wat, soos daar nou gemeen is, boweaards is.” Met ander woorde, afvallige Christene het gedink die siel leef voort wanneer die liggaam sterf en dat die seëninge van Christus se Duisendjarige Heerskappy dus met die geesteryk verband moet hou. Hulle het die Paradys dus van die aarde na die hemel verplaas en geglo dat die geredde siel daarheen gaan wanneer hy sterf. Dit was dus nie nodig om Christus se teenwoordigheid en die koms van sy Koninkryk af te wag nie, aangesien hulle almal gehoop het om by Christus in die hemel aan te sluit wanneer hulle sterf.g
Maar ’n ander faktor het dit sinloos laat lyk om die koms van Christus se Koninkryk af te wag. The New Encyclopædia Britannica verduidelik: “Die [oënskynlike] vertraging van die Parousia het gelei tot ’n verswakking van die onmiddellike verwagting in die vroeë kerk. In hierdie proses van ‘deeskatologisering’ [verswakking van die leer van die “Laaste Dinge”] het die georganiseerde kerk in toenemende mate die verwagte Koninkryk van God vervang. Die vorming van die Katolieke Kerk as ’n hiërargiese instelling hou regstreeks verband met die kwyning van die onmiddellike verwagting.” (Ons kursiveer.) Gevolglik is nie net millenniumseëninge van die aarde na die hemel verplaas nie, maar is die Koninkryk vanuit die hemel na die aarde verplaas. Hierdie “verplasing” is deur Augustinus van Hippo (354-430 G.J.) voltooi. In sy bekende werk The City of God het hy gesê: “Die kerk is selfs nou die koninkryk van Christus sowel as die koninkryk van die hemel.”
Intussen het die Christelike godsdiens, waarvan die grootste deel teen hierdie tyd afvallig in sy denke geword het, in omstreeks 313 G.J., gedurende die heerskappy van Romeinse keiser Konstantyn, wetlike erkenning verkry. Godsdiensleiers was bereid om in die diens van die Staat geplaas te word, en aanvanklik het die Staat godsdienssake bestuur. (Dit was nie lank voordat godsdiens Staatsaangeleenthede bestuur het nie.) So het die Christendom begin,h en ’n deel daarvan (die Katolieke godsdiens) het mettertyd die amptelike Staatsgodsdiens van Rome geword. Nou was die “koninkryk” nie net in die wêreld nie, maar was dit ’n deel van die wêreld. Hoe anders tog as die Koninkryk wat Christus verkondig het!—Joh. 18:36.
Die Hervorming—’n Terugkeer tot ware aanbidding?
Soos onkruid wat weelderig tussen koring groei en dit verstik, het die Roomse kerk wêreldaangeleenthede eeue lank onder leiding van sy pouslike heerser gedomineer (Matt. 13:24-30, 37-43). Terwyl die kerk al hoe meer ’n deel van die wêreld geword het, het dit al hoe verder van die eerste-eeuse Christelike godsdiens afgedwaal. Deur die eeue heen het “kettersektes” aangedring op hervormings in die kerk, maar die kerk het aangehou om sy mag te misbruik en rykdom op te gaar. Toe, in die 16de eeu, het die Protestantse Hervorming, ’n godsdiensopstand, losgebars.
Hervormers soos Martin Luther (1483-1546), Ulrich Zwingli (1484-1531) en Johannes Calvyn (1509-64) het die kerk oor verskillende kwessies aangeval: Luther oor die verkoop van aflaatbriewe, Zwingli oor die selibaat van geestelikes en Maria-aanbidding, en Calvyn het daarop aangedring dat die kerk na die oorspronklike beginsels van die Christelike godsdiens terugkeer. Wat is deur sulke pogings bereik?
Die Hervorming het wel heelwat goeie dinge tot stand gebring, waarvan die vertaling van die Bybel in die tale van die gewone mense die merkwaardigste is. Die onbekrompe gees van die Hervorming het tot objektiewer Bybelstudie en ’n beter begrip van Bybeltale gelei. Die Hervorming het egter nie ’n terugkeer tot ware aanbidding en leerstellings bewerkstellig nie.i Waarom nie?
Die afvalligheid se invloed het diep ingedring, tot in die fondamente van die Christendom. Hoewel etlike Protestantse groepe bande met die pouslike gesag in Rome verbreek het, het hulle dus van die basiese gebreke van die Rooms-Katolieke Kerk oorgedra, gebreke wat veroorsaak is omdat die ware Christelike godsdiens verwerp is. Al was die bestuur van die Protestantse kerke byvoorbeeld ietwat anders, is die basiese verdeling van die kerk in ’n heersende geestelikeklas en ’n onderworpe lekedom behou. Onskriftuurlike leerstellings, soos die Drie-eenheid, die onsterflike siel en ewige foltering na die dood, is ook behou. En soos die Roomse kerk het die Protestantse kerke ’n deel van die wêreld gebly vanweë hulle noue betrokkenheid by die politieke stelsels en die mees vooraanstaande heersersklasse.
Wat het intussen gebeur met die Christelike verwagting—om Jesus se teenwoordigheid en die koms van sy Koninkryk af te wag? Ná die Hervorming was die kerke—Katoliek sowel as Protestants—eeue lank verbind tot wêreldlike gesag en geneig om verwagtinge oor die koms van Christus se Koninkryk op die agtergrond te skuif.
Waaksaamheid herleef
Maar in die 19de eeu het die godsdiensklimaat Christelike waaksaamheid laat herleef. As gevolg van Bybelstudie deur sommige geestelikes en Bybelgeleerdes is leerstellings soos die onsterflike siel, ewige foltering na die dood, voorbeskikking en die Drie-eenheid weer ondersoek. Daarbenewens het sommige wat die Bybel bestudeer het Bybelprofesieë wat op die laaste dae betrekking het noukeurig ondersoek. Talle groepe mense het gevolglik ernstig begin nadink oor die Here se beloofde wederkoms.—Matt. 24:3.
In die Verenigde State het William Miller voorspel dat Christus in 1843 of 1844 in sigbare vorm sou terugkeer. Die Duitse teoloog J. A. Bengel het die datum op 1836 gestel; Irving se volgelinge in Engeland het eers op 1835 gehoop, toe op 1838, 1864 en 1866. Daar was ’n Mennistegroep in Rusland wat gemeen het dit sal in 1889 plaasvind en toe na 1891 verander het.
Sulke pogings om waaksaam te wees, het talle bewus gemaak van die vooruitsig op ons Here se wederkoms. Maar hierdie pogings om Christelike waaksaamheid aan die dag te lê, het op teleurstelling uitgeloop. Waarom? Grotendeels omdat hulle te veel op mense en nie genoeg op die Skrif vertrou het nie. Na ’n paar dekades het die meeste van daardie groepe van die toneel verdwyn.
Intussen het ander gebeure gedurende hierdie tydperk ’n uitwerking op mense se verwagtinge gehad.
’n Eeu van “verligting” en industrialisasie
In 1848 het Karl Marx en Friedrich Engels The Communist Manifesto uitgegee. Pleks van godsdiens voor te staan, wat Marx “die opium van die volk” genoem het, het hulle ateïsme voorgestaan. Hoewel hulle oënskynlik teen alle godsdiens gekant was, het hulle in werklikheid die godsdiens, of aanbidding, van die Staat en sy leiers aangemoedig.
Ongeveer ’n dekade later, in 1859, is Charles Darwin se Origin of Species uitgegee; dit het die wetenskaplike en godsdiensdenke van die tyd grootliks beïnvloed. Die evolusieteorieë het daartoe gelei dat die Bybel se verslag oor die skepping en die ontstaan van sonde deur die ongehoorsaamheid van die eerste mensepaar in twyfel getrek is (Gen., hfst. 1-3). Gevolglik is baie mense se geloof in die Bybel ondermyn.
Intussen was die industriële revolusie aan die gang en het dit al hoe groter vaart gekry. Die klem het verskuif van die landbou na die nywerheid en die vervaardiging van masjinerie. Die ontwikkeling van die stoomlokomotief (vroeë 19de eeu) het tot die aanlê van landswye spoornetwerke gelei. Gedurende die laaste helfte van die 19de eeu is die telefoon (1876), die grammofoon (1877) en die elektriese lig (1878-79) uitgevind, asook die Linotype om setreëls vir drukwerk te produseer (1884).
Die mensdom het ’n tydperk betree waarin die grootste ontwikkeling op die gebied van snelvervoer en -kommunikasie in die geskiedenis sou plaasvind. Hoewel hierdie dinge gebruik sou word om handels- en politieke doelwitte te bevorder, sou hulle ook beskikbaar wees vir die godsdiensveld. Die omstandighede was dus reg vir ’n klein groepie Bybelstudente om ’n beweging te inisieer, wat sy invloed wêreldwyd sou laat geld.
[Voetnote]
a In die Christelike Griekse Geskrifte het die selfstandige naamwoord “afvalligheid” (Gr., a·po·sta·siʹa) die betekenis van “versaking, verlating of opstand” (Hand. 21:21, voetnoot in NW). Daar het dit hoofsaaklik betrekking op godsdienstige afvalligheid; ’n onttrekking aan of verlating van ware aanbidding.
b In die Skrif het die woorde “opsiener” en “ouere man”, of “ouderling”, betrekking op dieselfde posisie (Hand. 20:17, 28; Tit. 1:5, 7). “Ouere man” dui op die ryp eienskappe van die persoon wat as sodanig aangestel is, en “opsiener” op die verantwoordelikheid wat met die aanstelling gepaardgaan—om toesig te hou oor die belange van diegene wat aan jou sorg toevertrou is.
c Die Afrikaanse woord “biskop” is afgelei van die Griekse woord e·piʹsko·pos (“opsiener”).
d Die Afrikaanse woord “priester” is soos volg van pre·sbuʹte·ros (“ouere man”, of “ouderling”) afgelei: van Middelnederlands priester, van Ou Saksies en Ou Hoogduits prestar, van Latyn presbyter, van Grieks pre·sbuʹte·ros.
e Die biskop van Rome, wat beweer het dat hy ’n opvolger van Petrus is, is mettertyd as die hoogste biskop en pous erken.—Sien Die mensdom se soeke na God, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., 1990, bladsye 270-2.
f Dit is interessant dat dr. Neander sê: “Die verkeerde gevolgtrekking is gemaak dat daar, net soos in die Ou Testament, ook in die Nuwe [Testament]’n sigbare priesterdom moet wees wat aan ’n spesifieke klas mense verbonde is . . . Die verkeerdelike vergelyking van die Christelike priesterdom met die Joodse priesterdom het die episkopaat verder bo die presbiteramp verhef.”—The History of the Christian Religion and Church, in Engels vertaal deur Henry John Rose, Tweede uitgawe, New York, 1848, bl. 111.
g Volgens hierdie beskouing kan verkeerdelik aangeneem word dat alle Christene hemel toe gaan wanneer hulle sterf. Maar die Bybel leer dat net 144 000 mense geroep is om saam met Christus in die hemel te regeer (Openb. 7:4-8; 20:4-6). Tallose ander kan die hoop hê om vir ewig op ’n paradysaarde onder Christus se Koninkryk te lewe.—Matt. 6:10; Openb. 7:9, 15.
h Soos in hierdie publikasie gebruik, het die term “Christendom” betrekking op die voorgewende Christelike godsdiens, in teenstelling met die ware Christelike godsdiens van die Bybel.
i Sien hoofstuk 13, “Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog”, in die boek Die mensdom se soeke na God vir ’n breedvoeriger bespreking van die Hervorming en wat dit bereik het.
[Lokteks op bladsy 33
Terwyl die Christengemeente nog in sy kinderskoene gestaan het, is dit deur afvalligheid bedreig
[Lokteks op bladsy 34]
Interne teenstand het klein begin
[Lokteks op bladsy 37]
Afvalliges het nie net millennium- seëninge van die aarde na die hemel verplaas nie, maar hulle het ook die Koninkryk vanuit die hemel na die aarde verplaas
[Venster/Prent op bladsye 36]
Plato en “die Christelike godsdiens”
Die Griekse filosoof Plato (wat omstreeks 428 v.G.J. gebore is) kon geensins geweet het dat sy leerstellings uiteindelik ’n deel van die afvallige Christelike godsdiens sou word nie. Plato se vernaamste bydraes tot “die Christelike godsdiens” was in verband met die leerstellings oor die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel.
Plato se idees oor God en die natuur het die Christendom se Drie-eenheidsleer beïnvloed. Die “Nouveau Dictionnaire Universel” verduidelik: “Plato se drie-eenheid, op sigself slegs ’n herskikking van ouer drie-eenhede wat uit die dae van vroeëre volke dateer, blyk die rasionele filosofiese drie-eenheid van hoedanighede te wees wat die konsep van die drie hipostases of Goddelike persone laat ontstaan het wat die Christelike kerke leer. . . . Hierdie Griekse filosoof se opvatting van die Goddelike drie-eenheid . . . kan in al die antieke [heidense] godsdienste gevind word.”—Deel 2, bladsy 1467.
Wat die leerstelling oor die onsterflike siel betref, sê die “New Catholic Encyclopedia”: “Die Christelike begrip van ’n geestelike siel wat deur God geskep is en tydens bevrugting in die liggaam gesit word om die mens ’n lewende geheel te maak, is die produk van ’n lang ontwikkelingsproses in die Christelike filosofie. Dit was eers met Origenes [wat omstreeks 254 G.J. gesterf het] in die Ooste en St. Augustinus [wat in 430 G.J. gesterf het] in die Weste dat die siel aanvaar is as ’n geestelike substansie en daar ’n filosofiese begrip van sy aard gevorm is. . . . ’n Groot deel van [Augustinus se] leer . . . (onder meer sommige tekortkominge) is ’n uitvloeisel van Neo-Platonisme.”—Deel XIII, bladsye 452, 454.
[Prent op bladsy 35]
Cyprianus, die “biskop” van Carthago, het die biskoppe beskou as ’n klas wat afgeskeie is van die presbiters, die diakens en die lekedom
[Prent op bladsy 38]
“Die kerk is selfs nou die koninkryk van Christus sowel as die koninkryk van die hemel” (Augustinus van Hippo)
[Prente op bladsy 39]
Hervormers wat die kerk oor verskillende kwessies aangeval het
Martin Luther
Johannes Calvyn
Ulrich Zwingli
[Prent op bladsy 40]
Karl Marx se “Communist Manifesto” het in werklikheid die aanbidding van die Staat aangemoedig. Charles Darwin se “Origin of Species” het die wetenskaplike en godsdiensdenke van die tyd grootliks beïnvloed
[Prente op bladsy 41]
Die stoomlokomotief
[Prent op bladsy 41]
Die elektriese lig
[Prent op bladsy 41]
Die eerste telefoon
[Prent op bladsy 41]
Vroeë Linotype
[Prent op bladsy 41]
Die grammofoon