Hoe die Christelike verwagting vervaag het
JESUS het sy dissipels beveel om te “waak” met die oog op sy teenwoordigheid en die koms van sy Koninkryk (Markus 13:37). En daar is oorvloedige bewys in die Christelike Griekse Skrifte dat eerste-eeuse Christene dit gedoen het. Trouens, party het baie ongeduldig geraak (2 Thessalonicense 2:1, 2). Om andersyds ’n verslapping van Christelike waaksaamheid te voorkom, het Paulus, Jakobus, Petrus en Johannes almal briewe geskryf waarin hulle hulle broers aangespoor het om geestelik wakker te bly terwyl hulle geduldig op Christus se teenwoordigheid en “die dag van die Here” gewag het.—Hebreërs 10:25, 37; Jakobus 5:7, 8; 1 Petrus 4:7; 2 Petrus 3:1-15; 1 Johannes 2:18, 28.
Naslaanwerke wat deur die Christendom se geskiedskrywers en teoloë gepubliseer is, erken hierdie feit. Die gesaghebbende Franse Katolieke Dictionnaire de la Bible sê in sy omvangryke Supplément: “Dit is nutteloos om tot elke prys die toestand van verwagting van die einde wat in die meeste van die Nieu-Testamentiese tekste te bespeur is te probeer ontken. . . . In die vroeë Christelike kerk . . . speel die verwagting van die Parousia [teenwoordigheid] ’n onmisbare rol, en dit verskyn van voor tot agter in die N[uwe] Testament].”
Maar waarom probeer sommige van die Christendom se teoloë ‘om tot elke prys die toestand van verwagting van die einde te ontken’ terwyl dit so duidelik onder die vroeë Christene te sien was? Ongetwyfeld om die geestelike lomerigheid wat vandag onder baie sogenaamde Christene en hulle geestelike leiers te sien is te regverdig. Wat het tot hierdie verandering aanleiding gegee?
Hoe die verwagting vervaag het
Die verslapping van Christelike verwagting was een van die gevolge van die afval wat reeds voor die dood van Christus se apostels begin het. Die apostel Paulus het gewaarsku dat afvalligheid reeds in sy dag binne die Christengemeente “aan die werk” was (2 Thessalonicense 2:3, 4, 7). ’n Paar jaar later het die apostel Petrus sy mede-Christene gewaarsku teen “valse leraars” en “spotters” wat sou sê: “Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”—2 Petrus 2:1; 3:3, 4.
Dit is interessant dat gepaste Christelike verwagting ’n tyd lank geopenbaar is deur diegene wat geglo het aan die Skriftuurlike waarheid dat Jesus se beloofde “teenwoordigheid” die nabyheid van sy Duisendjarige Heerskappy oor die aarde sou aandui. Justinus Martyr (oorlede c. 165 G.J.), Irenaeus (oorlede c. 202 G.J.) en Tertullianus (oorlede ná 220 G.J.) het almal aan Christus se Duisendjarige Heerskappy geglo en het gretige afwagting van die einde van die huidige bose stelsel aanbeveel.
Namate die afval met verloop van tyd uitgebrei het, is die hoop dat die aarde gedurende die duisend jaar onder Christus se Koninkryk in ’n paradys verander sal word geleidelik vervang deur ’n denkbeeldige verwagting wat op die Griekse filosofiese idee van inherente menslike onsterflikheid gebaseer was. Die hoop op die Paradys is van die aarde na die hemel verskuif en kon nou by die dood verwesenlik word. Christelike afwagting van Christus se parousia, of teenwoordigheid, en die koms van sy Koninkryk het sodoende vervaag. ‘Waarom op die uitkyk wees na die teken van Jesus se teenwoordigheid’, het hulle geredeneer ‘as jy kan hoop om by Christus in die hemel aan te sluit wanneer jy sterf?’
Hierdie vervaging van Christelike waaksaamheid het afvallige Christene beweeg om hulleself te organiseer tot ’n goed gestruktureerde kerk waarvan die oë nie meer op die komende parousia, of teenwoordigheid, van Christus gerig was nie, maar eerder op die oorheersing van sy lede en, indien moontlik, die wêreld. The New Encyclopœdia Britannica sê: “Die [oënskynlike] vertraging van die Parousia het gelei tot ’n verswakking van die onmiddellike verwagting in die vroeë kerk. In hierdie proses van ‘deëskatologisering’ [verswakking van die leer van die “Laaste Dinge”] het die georganiseerde kerk in toenemende mate die verwagte Koninkryk van God vervang. Die vorming van die Katolieke Kerk as ’n hiërargale instelling hou regstreeks verband met die kwyning van die onmiddellike verwagting.”
Die doodslag word toegedien
Die “kerkvader”, of “-doktor”, wat Christelike waaksaamheid die doodslag toegedien het, was ongetwyfeld Augustinus van Hippo (354-430 G.J.). In sy beroemde werk De civitate Dei (Die Stad van God) het Augustinus gesê: “Die kerk wat nou op aarde is, is die koninkryk van Christus sowel as die koninkryk van die hemel.”
The New Bible Dictionary verduidelik die uitwerking wat hierdie beskouing op Katolieke teologie gehad het deur te sê: “’n Kenmerk van Rooms-Katolieke teologie is die identifikasie van die Koninkryk van God en die Kerk in die aardse dispensasie, ’n identifikasie wat hoofsaaklik aan Augustinus se invloed toegeskryf kan word. Deur die kerklike hiërargie word Christus verwerklik as Koning van die koninkryk van God. Die gebied van die koninkryk is samevallend met die grense van die Kerk se mag en gesag. Die koninkryk van die hemel word uitgebrei deur die sending en vooruitgang van die Kerk in die wêreld.”
Dit het alle nodigheid uit die weg geruim om te “waak” en op die uitkyk te bly na die teken wat sou toon dat God se Koninkryk naby is. Professor E. W. Benz bevestig dit waar hy in The New Encyclopœdia Britannica skryf: “Hy [Augustinus] het die oorspronklike onmiddellike verwagting op die agtergrond geskuif deur te sê dat die Koninkryk van God reeds in hierdie wêreld opgerig is met die instelling van die kerk; die kerk is die historiese verteenwoordiger van die Koninkryk van God op Aarde. Volgens Augustinus vind die eerste opstanding voortdurend in die kerk plaas in die vorm van die Doopsakrament, waardeur die gelowiges in die Koninkryk van God ingebring word.”
Dit was ook Augustinus wat verantwoordelik was vir die Christendom se finale verwerping van die Skriftuurlike hoop van Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy waartydens Hy die Paradys op aarde sal herstel (Openbaring 20:1-3, 6; 21:1-5). The Catholic Encyclopedia erken: “St. Augustinus het uiteindelik die oortuiging gehuldig dat daar geen millennium sal wees nie. . . . Die sabbat van duisend jaar na die sesduisend jaar van die geskiedenis is die hele ewige lewe, of, met ander woorde, die getal duisend is bedoel om volmaaktheid uit te druk.” Die Britannica se Macropædia (1977) voeg by: “Vir hom [Augustinus] het die millennium ’n geestelike toestand geword waarin die kerk in sy geheel met Pinkster ingegaan het . . . Geen imminente, bonatuurlike ingryping in die geskiedenis is verwag nie.” Vir Katolieke het die gebed “laat u koninkryk kom” dus sinloos geword.
Middeleeuse duisternis
Augustinus se vertolking, so word ons meegedeel, “het die aanvaarde leer in die middeleeue geword”. Christelike verwagting het dus ’n algehele laagtepunt bereik. Ons lees: “In die middeleeuse Christendom is die Nieu-Testamentiese eskatologie sy plek gegee in ’n dogmatiese stelsel waarvan die filosofiese grondslag ten eerste Platonies [van die Griekse filosoof Plato] en, later in die weste, Aristoteliaans [van die Griekse filosoof Aristoteles] was. Tradisionele opvattings in verband met die parousia, opstanding en so meer is verbind met Griekse idees in verband met die siel en sy onsterflikheid. . . . Die middeleeuse Christelike geloof . . . het weinig plek gelaat vir die eskatologiese emosie. Hierdie emosie was egter nie dood nie; dit het in sekere ketterbewegings voortbestaan.”—Encyclopœdia Britannica, uitgawe van 1970.
Die Rooms-Katolieke Kerk praat met minagting van sulke “ketterbewegings” en noem hulle “chiliastiese sektes”. Sy geskiedskrywer praat kleinerend van die “Jaar-1000-Paniek”. Maar wie se skuld was dit dat baie van die gewone mense bang was dat die wêreld in die jaar 1000 sou eindig? Hierdie “paniek” was ’n regstreekse gevolg van Katolieke “Sint” Augustinus se teologie. Hy het beweer dat Satan ten tye van Christus se eerste koms gebind is. Aangesien Openbaring 20:3, 7, 8 sê dat Satan vir 1 000 jaar gebind sal word en dan ‘ontbind sal word om die nasies te verlei’, is dit geen wonder dat sommige mense in die tiende eeu bang was vir wat in die jaar 1000 kon gebeur nie.
Die Rooms-Katolieke Kerk het hierdie “paniek” natuurlik amptelik veroordeel, net soos hy die Cisterciënsermonnik Joachim van Flora veroordeel het toe dié voorspel het dat die Christelike era in die jaar 1260 sou eindig. Uiteindelik, in 1516, het pous Leo X by die Vyfde Lateraanse Konsilie alle Katolieke amptelik belet om te voorspel wanneer die Antichris en die Laaste Oordeel sal kom. Oortreders van hierdie wet is uit die kerk geëkskommuniseer!
Protestantse rasionalisering
Die sestiende-eeuse Hervorming, met sy sogenaamde terugkeer na die Bybel, moes teoreties ’n herlewing van Christelike verwagting tot gevolg gehad het. En ’n tyd lank was dit ook so. Maar in hierdie opsig, soos in baie ander, het die Hervorming nie sy beloftes gestand gedoen nie. Dit het nie gelei tot ’n terugkeer na die ware Christelike geloof van die Bybel nie. Die Protestantse kerke wat uit die Hervorming gebore is, het gou hulle Christelike waaksaamheid verloor en ’n vergelyk getref met die wêreld.
Ons lees: “Die Hervormingskerke het egter gou georganiseerde, territoriale [nasionale] kerke geword, wat op hulle beurt die verwagting van die einde onderdruk het, en so het die leer van die ‘laaste dinge’ ’n aanhangsel van die dogmatiek geword.” “In die godsdienstige liberalisme wat teen die einde van die agttiende eeu en deur die hele negentiende eeu heen na vore gekom het, veral onder Protestante en Jode, kon die eskatologie geen plek vind nie. Dit is beskou as deel van die onverfynde, primitiewe, uitgediende tooisels van tradisionele godsdiens wat nie meer in ’n eeu van verligting aanvaar kon word nie. In die meeste gevalle is eskatologiese idees geheel en al laat vaar, en ’n eenvoudige nadoodse onsterflikheid van die siel is as die mens se uiteinde voorgehou. Ander teoloë het die verwagting van die Koninkryk van God in etiese, kwasi-mistieke of maatskaplike terme hervertolk.”—Encyclopœdia Britannica.
In plaas van Christene te help om te “waak” met die oog op Christus se teenwoordigheid en die koms van God se Koninkryk, het Protestantse teoloë ware Christelike afwagting weggerasionaliseer. Baie van hulle het “die koninkryk van God . . . al hoe meer as iets individualisties beskou; as die heerskappy van genade en vrede in die harte van mense”. Vir ander “bestaan die koms van die koninkryk in die vooruitgang van maatskaplike geregtigheid en gemeenskapsontwikkeling”.—The New Bible Dictionary (Protestants).
Katolieke verwagtinge
Katolieke behoort, ten minste teoreties, geestelik op die uitkyk te wees na Christus se teenwoordigheid. Ondanks Augustinus se teologie wat ’n einde gemaak het aan Koninkryksafwagting en die chiliastiese koop vir Katolieke is dit volgens die dogma van die Roomse Kerk steeds die Christen se plig om te waak met die oog op Christus se wederkoms. Die Vatikaanse Gemeente vir die Leer van die Geloof het byvoorbeeld ’n brief, gedateer 17 Mei 1979 en goedgekeur deur pous Johannes Paulus II, aan Katolieke biskoppe oor die hele wêreld gestuur wat gesê het: “In ooreenstemming met die Skrif wag die Kerk op ‘die heerlike openbaring van Onse Here Jesus Christus’.”
Dit is die Katolieke Kerk se leer in teorie. Maar wat van die praktyk? Wel, hoe dikwels hoor die gemiddelde Katoliek sy priester preek oor die nodigheid om te waak met die oog op Christus se teenwoordigheid en die koms van God se Koninkryk? Dit is interessant dat die doel van die bogenoemde brief van die Romeinse Kurie juis was om “die geloof van Christene te versterk ten opsigte van punte wat in twyfel getrek is”. Maar waarom is Christus se wederkoms deur sogenaamde Christene in twyfel getrek? Dui die volgende aanhalings uit The New Encyclopdiœa Britannica moontlik die antwoord aan? “Die kerk verwaarloos lank reeds leerstellinge aangaande die hele aangeleentheid van die laaste dinge.” “Sedert die Hervorming is die Roomse Kerk feitlik immuun teen eskatologiese bewegings.”
Christelike waaksaamheid is nie dood nie
Christelike afwagting het in die Christendom se kerke vervaag omdat hulle die duidelike waarhede verlaat en liewer Griekse filosofie en “Sint” Augustinus se teologie gevolg het. Die volgende artikel sal toon dat God se ware knegte nog altyd in afwagting van Christus se teenwoordigheid gelewe het, en dat daar vandag ’n volk bestaan wat deur die jare heen bewys gelewer het van hulle Christelike waaksaamheid en wat ’n wonderlike hoop herontdek het, ’n hoop wat jy jou eie kan maak. Lees nou verder, en vra dan een van Jehovah se Getuies om jou te help om te “waak” met die oog op die vervulling van daardie Bybelse hoop.
[Lokteks op bladsy 5]
“Dit is nutteloos om . . . die toestand van verwagting van die einde wat in die meeste van die Nieu-Testamentiese tekste te bespeur is te probeer ontken”
[Prent op bladsy 6]
Augustinus het geglo dat die kerk op aarde die Koninkryk van Christus is
[Prent op bladsy 7]
In 1516 het pous Leo X Katolieke belet om te voorspel wanneer die Antichris en die Laaste Oordeel sal kom