Hoofstuk 7
Adverteer die Koning en die Koninkryk! (1919-1941)
“Glo jy dat die Erekoning begin regeer het? Keer dan terug na die veld, o seuns van die allerhoogste God! Gord julle wapenrusting aan! Wees nugter, wees waaksaam, wees bedrywig, wees dapper. Wees getroue en ware getuies vir die Here. Gaan voort met die stryd totdat elke oorblyfsel van Babilon verlate lê. Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.”
DAARDIE dramatiese oproep tot aksie wat in 1922 by die internasionale byeenkoms in Cedar Point, Ohio, deur J. F. Rutherford gedoen is, het ’n diepgaande invloed gehad op diegene wat daar teenwoordig was. Die Bybelstudente het daardie byeenkoms verlaat met ’n brandende begeerte om die Koninkryk te adverteer. Maar die vooruitsig om as reklame-agente van die Koninkryk te dien, het maar enkele jare tevore droewig gelyk. J. F. Rutherford en sewe van sy metgeselle was in die gevangenis, en daar was onsekerheid oor hulle toekomstige rol in die organisasie. Hoe is hierdie probleme te bowe gekom?
‘Ek weet iets oor die wet van die lojales’
’n Byeenkoms is vir 2-5 Januarie 1919 in Pittsburgh, Pennsilvanië, gereël terwyl broer Rutherford en sy metgeselle in die gevangenis was. Maar dit was nie net ’n gewone byeenkoms nie—die byeenkoms is gekombineer met die jaarvergadering van die Wagtoringgenootskap wat op Saterdag, 4 Januarie 1919, gehou is. Broer Rutherford het deeglik besef hoe belangrik hierdie vergadering was. Daardie Saterdagmiddag het hy na broer Macmillan gesoek en hom op die gevangenis se tennisbaan aangetref. Volgens broer Macmillan het die volgende gebeur:
“Broer Rutherford het gesê: ‘Mac, ek wil met jou praat.’
“‘Waaroor wil jy met my praat?’
“‘Ek wil met jou praat oor wat in Pittsburgh aangaan.’
“‘Ek wil graag eers hierdie wedstryd klaar speel.’
“‘Stel jy nie belang in wat aangaan nie? Weet jy nie dat die ampsdraers vandag verkies word nie? Hulle kan jou ignoreer en jou nie weer as direkteur verkies nie en ons sal vir ewig hier bly.’
“‘Broer Rutherford,’ het ek gesê, ‘laat ek vir jou iets sê waaraan jy moontlik nie gedink het nie. Dit is die eerste keer sedert die Genootskap gestig is dat dit duidelik kan blyk wie Jehovah God graag as president wil hê.’
“‘Wat bedoel jy?’
“‘Ek bedoel dat broer Russell ’n beherende stem gehad het, en hy het die verskillende ampsdraers aangestel. Noudat ons oënskynlik nie ’n sê het nie, is die saak anders. Maar as ons nou betyds vrygelaat word om daardie byeenkoms en huishoudelike vergadering by te woon, sal ons daar aankom en sal daar van ons verwag word om broer Russell se plek in te neem met dieselfde eer as wat hy ontvang het. Dit kan dan lyk soos die werk van mense, en nie van God nie.’
“Dit het net gelyk of broer Rutherford diep nadink, en hy het weggestap.”
Die atmosfeer by die vergadering in Pittsburgh was daardie dag baie gespanne. “Daar was ’n ruk lank verwarring, onenigheid en argumente”, het Sara C. Kaelin gesê, wat in die Pittsburgh-omgewing grootgeword het. “Sommige wou die vergadering ses maande lank uitstel; ander het die wettigheid daarvan bevraagteken om ampsdraers te verkies wat in die gevangenis was; ander het voorgestel dat ’n hele nuwe span ampsdraers verkies moet word.”
Ná ’n lang bespreking het W. F. Hudgings, ’n direkteur van die Peoples Pulpit Association,a ’n brief van broer Rutherford aan die gehoor voorgelees. Daarin het hy sy liefde en groete oorgedra aan diegene wat daar vergader was. “Satan se vernaamste wapens is TROTS, AMBISIE en VREES”, het hy gewaarsku. Hy het getoon dat hy ’n begeerte het om hom aan Jehovah se wil te onderwerp en het selfs nederig name van geskikte manne voorgestel indien die aandeelhouers sou besluit om nuwe ampsdraers vir die Genootskap te verkies.
Die bespreking het nog ’n rukkie geduur, en toe het E. D. Sexton, wat as voorsitter van ’n benoemingskomitee aangestel is, van hom laat hoor en gesê:
“Ek het nou net hier aangekom. My trein is agt-en-veertig uur vertraag, want ons was vasgesneeu. Ek het iets op die hart en vir my eie gemoedsrus moet ek dit nou sê. My liewe broeders, soos die res van julle het ek hierheen gekom met sekere idees—vir en teen. . . . Daar is geen wetlike struikelblok nie. As ons ons broeders in die Suide wil herkies tot enige amp wat hulle kan beklee, kan ek nie, na aanleiding van al die [wetlike] advies wat ek ontvang het, sien hoe dit in enige opsig hulle saak voor die Federale Hof of voor die publiek sal benadeel nie.
“Ek dink die grootste kompliment wat ons ons geliefde broer Rutherford kan gee, is om hom tot president van die W[agtoring-] B[ybel-] & T[raktaat]genootskap te herkies. Ek dink nie daar bestaan enige twyfel by die publiek oor ons standpunt in hierdie aangeleentheid nie. Al het ons broeders ’n wet wat hulle nie verstaan het nie op die een of ander manier tegnies gesproke verbreek, weet ons dat hulle beweegredes goed is. En voor die Almagtige [God] het hulle geen wet van God of van die mens verbreek nie. Dit sal ’n blyk van ons grootste vertroue wees as ons broer Rutherford as president van die Genootskap sou herkies.
“Ek is nie ’n regsgeleerde nie, maar waar dit by die wettigheid van die situasie kom, weet ek iets oor die wet van die lojales. Lojaliteit is wat God vereis. Ek kan my nie voorstel dat ons enige groter blyk van vertroue kan toon as om ’n verkiesing te hou EN BROER RUTHERFORD AS PRESIDENT TE HERKIES nie.”
Wel, broer Sexton het klaarblyklik die mening uitgespreek van die meeste van dié wat teenwoordig was. Kandidate is benoem; daar is gestem; J. F. Rutherford is tot president verkies, C. A. Wise tot visepresident en W. E. van Amburgh tot sekretaris-tesourier.
Broer Rutherford het die volgende dag aan broer Macmillan se selmuur geklop en gesê: “Steek jou hand uit.” Hy het toe vir broer Macmillan ’n telegram gegee wat gesê het dat broer Rutherford tot president herkies is. “Hy het oorgeloop van blydskap”, het broer Macmillan later gesê, “oor hierdie versekering dat Jehovah die Genootskap bestuur.”
Die verkiesing was verby, maar broer Rutherford en die sewe ander was nog in die gevangenis.
“’n Landwye veldtog” ten behoewe van die gevangenes
“’n Landwye veldtog is gedurende die afgelope paar weke ten behoewe van hierdie broers begin”, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 April 1919 gesê. Sekere koerante het gevra dat J. F. Rutherford en sy metgeselle vrygelaat moet word. Die Bybelstudente in alle dele van die Verenigde State het hulle steun getoon deur briewe aan koerantredakteurs, kongreslede, senatore en goewerneurs te stuur met vertoë dat hulle ten behoewe van die agt gevangenes moet optree. Dit was duidelik dat die Bybelstudente nie sou rus voordat hulle agt broers vry was nie.
Teen Maart 1919 het die Bybelstudente ’n petisie in die Verenigde State rondgestuur waarin hulle president Woodrow Wilson gevra het om sy invloed te gebruik om een van die volgende dinge ten behoewe van die broers in die gevangenis te bewerkstellig:
“EERSTENS: ’n Algehele kwytskelding, indien dit nou moontlik is, OF
“TWEEDENS: Dat u die Departement van Justisie opdrag gee om die klag teen hulle terug te trek en dat hulle heeltemal vrygelaat word, OF
“DERDENS: Dat hulle onmiddellik op borgtog vrygelaat word, terwyl hulle op ’n finale besluit in hulle saak deur die hoër howe wag.”
Die Bybelstudente het binne twee weke 700 000 handtekeninge gekry. Maar die petisie is nooit aan die president of die regering voorgelê nie. Waarom nie? Omdat die agt mans voor dit gedoen kon word reeds op borgtog vrygelaat is. Wat het die petisie dan bereik? Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Julie 1919 het gesê: “Daar is oorweldigende bewys dat die Here wou hê dat hierdie werk gedoen moes word, nie soseer om die broeders uit die gevangenis te kry as om ’n getuienis vir die waarheid te wees nie.”
“Welkom tuis, broeders”
Op Dinsdag, 25 Maart, het die agt broers van Atlanta af na Brooklyn vertrek. Die nuus van hulle vrylating het vinnig versprei. Dit was werklik ’n roerende toneel—Bybelstudente het by treinstasies al langs die roete bymekaargekom in die hoop dat hulle die broers kon sien en vir hulle kon sê hoe bly hulle oor hulle vrylating is. Ander het hulle na die Bethelhuis in Brooklyn, wat gesluit was, gehaas om ’n verwelkomingsbanket te reël. Op 26 Maart, toe die broers weer in Brooklyn was, is hulle borgtog van $10 000 elk toegestaan en toe vrygelaat.
“Hulle is onmiddellik deur ’n paar vriende na die Bethelhuis vergesel, waar daar tussen vyf- en seshonderd vriende vergader was om hulle te verwelkom”, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 April 1919 berig. In die eetsaal was daar ’n groot banier wat gesê het: “Welkom tuis, broeders.” Mabel Haslett, wat by daardie banket was, het byna 50 jaar later gesê: “Ek onthou dat ek honderd oliebolle gemaak het, en dit het gelyk of die broers dit geniet het nadat hulle nege maande lank gevangeniskos moes eet. Ek kan nou nog sien hoe broer Rutherford sy hand daarna uitgesteek het. Dit was ’n onvergeetlike geleentheid terwyl hy en die ander hulle ondervindinge vertel het. Ek onthou ook hoe broer DeCecca, ’n kort mannetjie, op ’n stoel gestaan het sodat almal hom kon sien en hoor.”
Broer Rutherford het Dinsdagoggend, 1 April, in Pittsburgh aangekom, waar die hoofkwartier se kantore toe geleë was. Hier het die broers ook, nadat hulle gehoor het dat hy terug is, ’n banket gereël wat daardie aand by die Chatham-hotel gehou is. Die toestande in die gevangenis het broer Rutherford se gesondheid egter ’n knou gegee. Sy longe het verswak, en gevolglik het hy ná sy vrylating ernstige longontsteking opgedoen. Sy swak gesondheid het hom dus kort daarna genoodsaak om Kalifornië toe te gaan waar hy familie gehad het.
Die proefneming in Los Angeles
Noudat broer Rutherford en die ander vry was, het die vraag ontstaan: Wat van die verkondiging van God se Koninkryk? Terwyl hierdie broers in die gevangenis was, was daar byna geen organisatoriese toesig oor die getuieniswerk nie. Die Brooklyn Tabernacle is verkoop en die Bethelhuis is gesluit. Die hoofkwartier se kantore in Pittsburgh was klein en die fondse was beperk. Hoeveel belangstelling was daar buitendien werklik in die Koninkryksboodskap? In Kalifornië het broer Rutherford besluit om ’n proefneming te reël.
’n Vergadering is op Sondag, 4 Mei 1919, by Clune’s Auditorium in Los Angeles gereël. Die titel van die toespraak waarna die publiek genooi is, was: “Die hoop vir die bekommerde mensdom.” Maar die toespraak sou deur J. F. Rutherford gehou word—iemand wat pas uit die gevangenis vrygelaat is. Broer Rutherford het deur ’n uitgebreide koerantadvertensieveldtog belowe om ’n openhartige verslag oor die feite te gee asook om te verduidelik waarom die Genootskap se ampsdraers wederregtelik skuldig bevind is. Sou enigiemand genoeg belangstel om dit by te woon?
Die reaksie was oorweldigend. Trouens, 3 500 het na daardie toespraak kom luister, en nog ongeveer 600 moes by die deur omdraai. Broer Rutherford was in die wolke! Hy het gesê dat hy die Maandagaand diegene sou toespreek wat nie plek gekry het nie, en 1 500 het opgedaag. Maar hy was so siek dat hy nie die toespraak kon voltooi nie. Ná ’n uur moes ’n ander broer vir hom instaan. Die proefneming in Los Angeles was nietemin suksesvol. Broer Rutherford was oortuig dat daar heelwat belangstelling in die Koninkryksboodskap is, en hy het hom voorgeneem om toe te sien dat dit verkondig word.
Voort met die werk!
Broer Rutherford was teen Julie 1919 terug op sy pos by die hoofkwartier in Pittsburgh. Dinge het gedurende die volgende paar maande vinnig gebeur. Reëlings is getref vir ’n byeenkoms van die Bybelstudente wat op 1-8 September 1919 in Cedar Point, Ohio, gehou sou word. Die Genootskap se kantore is weer na Brooklyn verskuif en was teen 1 Oktober daar in werking.
Wat het hulle nou te doen gestaan? Daar is by die Cedar Point-byeenkoms duidelik beklemtoon wat hulle taak is. Op Dinsdag, 2 September, het broer Rutherford verduidelik: “’n Christen se taak op aarde . . . is om die Here se koninkryk van geregtigheid te verkondig, wat seëninge vir die hele sugtende skepping sal meebring.” Drie dae later, op Vrydag, 5 September, wat Medewerkersdag genoem is, het broer Rutherford verder gesê: “Wanneer ’n Christen ernstig oor dinge nadink, vra hy hom vanselfsprekend af: Waarom is ek op die aarde? En die antwoord moet noodwendig wees: Die Here het my goedgunstiglik sy gesant gemaak om die Goddelike boodskap van versoening aan die wêreld bekend te maak, en dit is my voorreg en plig om hierdie boodskap te verkondig.”
Ja, dit was tyd om voort te gaan met die werk om God se Koninkryk te verkondig! En om die broers te help om hierdie opdrag uit te voer, het broer Rutherford aangekondig: “Deur die Here se voorsienigheid het ons gereël om ’n nuwe tydskrif onder die naam en titel THE GOLDEN AGE uit te gee.” Min het die byeenkomsgangers geweet wat ’n moedige tydskrif The Golden Age sou wees.
“Daardie eerste byeenkoms ná die Eerste Wêreldoorlog het ons almal baie versterk”, het Herman L. Philbrick gesê, wat van sy tuiste in Boston, Massachusetts, na die byeenkoms gereis het. Daardie byeenkoms in Cedar Point het die Bybelstudente waarlik tot aksie aangespoor. Hulle was gereed om voort te gaan met die werk om die goeie nuus te verkondig. Dit was asof hulle uit die dode opgestaan het.—Vergelyk Esegiël 37:1-14; Openbaring 11:11, 12.
Intussen het daar belangrike dinge op die wêreldtoneel gebeur. Die Verdrag van Versailles is op 28 Junie 1919 onderteken en het op 10 Januarie 1920 in werking getree. Die verdrag het die militêre optrede teen Duitsland tydens die Eerste Wêreldoorlog amptelik beëindig en het ook voorsiening gemaak vir die stigting van die Volkebond—’n internasionale bond wat geskep is om vrede in die wêreld te handhaaf.
‘Adverteer die Koning en die Koninkryk’
In 1922 het die Bybelstudente na Cedar Point teruggegaan vir ’n negedaagse program wat van 5 tot 13 September geduur het. Daar het groot opgewondenheid geheers terwyl die byeenkomsgangers by hierdie internasionale byeenkoms aangekom het. Die byeenkoms het op Vrydag, 8 September, sy hoogtepunt bereik toe broer Rutherford die toespraak “Die Koninkryk” gehou het.
Thomas J. Sullivan het later gesê: “Diegene wat die voorreg gehad het om daardie vergadering by te woon kan hulle nou nog broer Rutherford se erns voor die gees roep toe hy vir die paar rustelose mense wat as gevolg van die intense hitte rondgeloop het, gesê het om te ‘SIT’ en na die toespraak te ‘LUISTER’.” Dié wat dit gedoen het, is nie teleurgestel nie, want dit was die geskiedkundige toespraak waarin broer Rutherford sy luisteraars aangespoor het om ‘die Koning en die Koninkryk te adverteer’.
Die gehoor het met groot geesdrif gereageer. Soos Die Wagtoring (Engelse uitgawe) gesê het: “Elkeen wat daar teenwoordig was, is diep getref deur die feit dat elkeen van die toegewydes van nou af verplig is om as ’n reklame-agent vir die Koning en die koninkryk op te tree.” Die Bybelstudente het daardie byeenkoms verlaat met ’n brandende ywer om die predikingswerk te doen. Soos suster Ethel Bennecoff, ’n kolporteur wat destyds in haar laat twintigerjare was, dit gestel het: “Ons is aangespoor: ‘Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk’—Ja, met groter ywer en liefde in ons hart as ooit tevore.”
Namate die geestelike lig van begrip helderder geword het, het die Bybelstudente etlike opwindende Bybelwaarhede begin verstaan (Spr. 4:18). Die feit dat hulle hierdie kosbare waarhede begryp het, het hulle verkondiging van God se Koninkryk ’n kragtige stoot gegee. Hulle moes terselfdertyd hulle denke aanpas—en vir sommige was dit ’n ware toets.
‘Onvervulde verwagtinge is nie aan ons tyd uniek nie’
“Daarom kan ons vrymoedig verwag”, het die boekie Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie in 1920 gesê, “dat 1925 die terugkeer [uit die dode en] tot die toestand van menslike volmaaktheid van Abraham, Isak, Jakob en die getroue profete van ouds sal sien.” Daar is nie net verwag dat die getroue manne van die ou tyd in 1925 opgewek sou word nie, maar sommige het verwag dat gesalfde Christene hulle hemelse beloning in daardie jaar sou ontvang.b
Die jaar 1925 het gekom en gegaan. Sommige het hulle hoop laat vaar. Maar die oorgrote meerderheid Bybelstudente het getrou gebly. Herald Toutjian, wie se grootouers ongeveer aan die begin van die twintigste eeu Bybelstudente geword het, het verduidelik: “Ons familie het besef dat onvervulde verwagtinge nie aan ons tyd uniek is nie. Die apostels self het soortgelyke verkeerde verwagtinge gekoester. . . . Jehovah verdien lojale diens en lof, met of sonder die eindbeloning.”—Vergelyk Handelinge 1:6, 7.
Watter organisasie—Jehovah s’n of Satan s’n?
“Geboorte van die nasie”—dit was die titel van ’n treffende artikel wat in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart 1925 verskyn het. Dit het ’n duideliker begrip van Openbaring hoofstuk 12 gegee wat vir sommige moeilik was om te aanvaar.
Die simboliese karakters wat in hierdie hoofstuk van Openbaring gemeld word, is soos volg geïdentifiseer: Die “vrou” in barensnood (vs. 1, 2) as “God se [hemelse] organisasie”; die “draak” (vs. 3) as “die duiwel se organisasie” en die “manlike kind” (vs. 5) as “die nuwe koninkryk, of nuwe regering”. Op grond hiervan is iets vir die eerste keer duidelik uiteengesit: Daar is twee afsonderlike organisasies wat mekaar teenstaan—Jehovah s’n en Satan s’n. En ná die “oorlog in die hemel” (vs. 7) is Satan en sy demoonhelpers uit die hemel na die aarde toe neergewerp.
“Ons het gaan sit en dit die hele nag lank bestudeer totdat ek dit baie goed kon verstaan”, het Earl E. Newell geskryf, wat later as ’n reisende verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap gedien het. “Ons het ’n byeenkoms in Portland, Oregon, bygewoon, en daar het ons gevind dat die vriende heeltemal ontsteld was, en sommige van hulle wou as gevolg van hierdie artikel selfs Die Wagtoring verwerp.” Waarom was dit vir sommige so moeilik om hierdie verduideliking van Openbaring hoofstuk 12 te aanvaar?
Om maar een ding te noem, dit was ’n opvallende afwyking van wat in The Finished Mystery gepubliseer is, wat hoofsaaklik ’n versameling van broer Russell se nagelate werke was.c Walter J. Thorn, wat as ’n reisende pelgrim gedien het, het verduidelik: “Die artikel oor ‘Geboorte van die nasie’ was . . . moeilik om te aanvaar vanweë ’n vorige interpretasie deur ons geliefde broer Russell, wat ons geglo het die regte verduideliking van Openbaring was.” Dit is dus geen wonder dat die verduideliking vir sommige ’n struikelblok was nie. “Hierdie verduideliking sal ongetwyfeld ’n siftingsmiddel wees”, het J. A. Bohnet, nog ’n pelgrim, gesê, “maar diegene wat waarlik ernstig en opreg in die geloof is, sal standvastig bly en hulle daaroor verheug.”
Diegene wat waarlik ernstig en opreg was, het hulle inderdaad verheug oor die nuwe verduideliking. Dit was nou vir hulle so duidelik: almal behoort óf aan Jehovah se organisasie óf aan Satan s’n. “Onthou”, het die artikel “Geboorte van die nasie” verduidelik, “dat dit ons voorreg sal wees . . . om onverskrokke vir ons Koning se saak te stry deur sy boodskap te verkondig wat hy vir ons gegee het om te verkondig.”
Met die verloop van die twintiger- en daarna die dertigerjare het daar verdere verligting met betrekking tot Bybelbegrip gevolg. Wêreldse vieringe en vakansiedae, soos Kersfees, is verwerp. Wanneer daar gesien is dat ander gebruike en opvattinge ’n godonterende oorsprong het, is hulle ook verwerp.d Maar die Bybelstudente het meer gedoen as om verkeerde gebruike en opvattinge te verwerp. Hulle het voortdurend op Jehovah gewag vir progressiewe openbarings van waarheid.
“Julle is my getuies”
“Julle is my getuies, spreek die HERE [Jehovah, NW], en Ek is God” (Jes. 43:12). Sedert die twintigerjare het die Bybelstudente al hoe meer bewus geraak van die gewigtigheid van hierdie woorde van die profeet Jesaja. Deur die bladsye van Die Wagtoring is die aandag herhaaldelik gevestig op ons verantwoordelikheid om van Jehovah se naam en sy Koninkryk te getuig. ’n Mylpaal is egter bereik by ’n byeenkoms wat in 1931 in Columbus, Ohio, gehou is.
Broer Rutherford het Sondagmiddag, 26 Julie, die openbare toespraak “Die Koninkryk, die hoop van die wêreld” gehou, en die boodskap is oor ’n ontsaglike radionetwerk uitgesaai met meer as 300 bykomende radiostasies wat die boodskap later heruitgesaai het. Aan die einde van die toespraak het broer Rutherford die Christendom gewaarsku deur ’n snydende resolusie te lees met die titel “Waarskuwing van Jehova[h]” wat “aan die regeerders en aan die volk” gerig was. Toe hy sy sigbare gehoor genooi het om die resolusie te aanvaar, het hulle soos een man opgestaan en “Ja!” uitgeroep. Telegramme wat later ontvang is, het getoon dat baie van dié wat na die radio geluister het ook hulle stemme by dié van die gehoor gevoeg het.
Van eenuur af, toe die openbare toespraak geëindig het, tot vieruur, toe broer Rutherford weer in die ouditorium ingekom het, het daar ’n atmosfeer van groot opgewondenheid geheers. Broer Rutherford het spesiaal gevra dat almal wat werklik belangstel in die waarskuwing wat die middag aan die Christendom gerig is om vieruur op hulle sitplek moet wees.
Broer Rutherford het stiptelik om vieruur begin deur te sê dat hy wat hy nou sou sê as lewensbelangrik beskou het vir almal wat sy stem kon hoor. Sy toehoorders het baie belanggestel om te hoor. Tydens sy toespraak het hy nog ’n resolusie voorgelê, hierdie een met die titel “’n Nuwe naam”, wat sy hoogtepunt bereik het met die deklarasie: “Ons wil graag bekend staan as en genoem word by die naam Jehovah se getuies.” Die opgewonde byeenkomsgangers het weer met die weergalmende “Ja!” opgespring. Hulle sou van toe af as Jehovah se Getuies bekend staan!
“Jehovah se gees het ons onbevrees gemaak”
Gedurende 1927 is Jehovah se volk aangemoedig om elke Sondag aan die groepgetuieniswerk deel te neem. Daar was onmiddellik wetlike teenstand. Arrestasies het binne ’n paar jaar begin toeneem—daar was net in die Verenigde State 268 in 1933, 340 in 1934, 478 in 1935 en 1 149 in 1936. Op watter aanklag? In werklikheid op verskeie aanklagte, onder andere smousery sonder ’n lisensie, rusverstoring en oortreding van die sabbatwette op Sondag. Die plaaslike groepe Getuies het nie geweet hoe om teenoor polisiebeamptes en in die hof op te tree nie. Dit was te duur of weens vooroordeel onmoontlik om plaaslike regshulp te verkry. Die Wagtoringgenootskap het dus wyslik ’n regsafdeling in Brooklyn begin om broers van raad te bedien.
Maar sterk regsverdediging was nie genoeg nie. Hierdie opregte Getuies van Jehovah was vasbeslote om getrou te bly aan die naam wat hulle aangeneem het. Hulle het dus aan die begin van die dertigerjare tot die aanval oorgegaan. Hoe? Deur middel van spesiale predikingsveldtogte wat as afdelingskampanjes bekend gestaan het. Duisende vrywilligers deur die hele Verenigde State is in afdelings georganiseer. Wanneer Getuies in een dorp gearresteer is omdat hulle van huis tot huis gepreek het, het ’n afdeling vrywilligers uit ander gebiede spoedig daar aangekom en die dorp “beleër” en ’n deeglike getuienis gegee.e
Daardie afdelingskampanjes het baie gehelp om die plaaslike Getuies te versterk. In elke afdeling was daar bekwame broers wat opgelei is om met die owerhede te werk. Dit was ’n groot bemoediging vir die broers wat in ’n probleemgebied, miskien in ’n dorpie, gewoon het om te weet dat hulle nie die enigstes was wat God se Koninkryk verkondig nie.
Dit het baie moed geverg om aan die afdelingskampanjes van die dertigerjare deel te neem. Daar was min werksgeleenthede gedurende die Groot Depressie. Tog sê Nicholas Kovalak jr., wat sowat 40 jaar al as reisende opsiener dien: “Wanneer die oproep gekom het om in ’n probleemgebied te gaan werk, het die ‘diensleier’ om vrywilligers gevra. Broers is gesê om nie te kom as hulle bang was dat hulle hulle werk sou verloor nie. . . . Maar ons was altyd verheug om 100% positiewe reaksie te kry!” John Dulchinos, ’n opsiener van Springfield, Massachusetts, het opgemerk: “Dit was inderdaad opwindende jare en die herinneringe daaraan is kosbaar. Jehovah se gees het ons onbevrees gemaak.”
Intussen was ’n ligstraal van Bybelbegrip besig om op te gaan wat ’n geweldige impak op die werk sou hê.
Wat van die Jonadabs?
In 1932 is daar verduidelik dat Jonadab, koning Jehu se metgesel, ’n klas mense afbeeld wat die ewige lewe op aarde sal beërwe (2 Kon. 10:15-28).f Die Jonadabs, soos hulle bekend geword het, het dit as ’n voorreg beskou om metgeselle van Jehovah se gesalfde knegte te wees en om saam met hulle deel te neem aan die werk om die Koninkryk te adverteer. Maar destyds het die organisasie nie ’n spesiale poging aangewend om hierdie mense met ’n aardse hoop in te samel en te organiseer nie.
Maar Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Augustus 1934 het die Jonadabs waarlik bemoedig. Die artikel “Sy goedheid” het gesê: “Moet ’n Jonadab hom aan die Here toewy en gedoop word? Antwoord: Dit is gewis gepas dat ’n Jonadab hom toewy om die wil van God te doen. Niemand sal ooit die lewe verkry as hy dit nie doen nie. Onderdompeling is bloot ’n simbool van die feit dat iemand hom toegewy het om God se wil te doen, en dit sal nie verkeerd wees nie.” Die Jonadabs was verheug!
Maar daar het selfs groter vreugde op hulle gewag. Die volgende lente het verskeie nommers van Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vanaf die nommer van 1 April 1935 hierdie aankondiging bevat: “Die Wagtoring herinner weer sy lesers daaraan dat ’n byeenkoms van Jehovah se getuies en die Jonadabsg van 30 Mei tot 3 Junie 1935 in Washington, DC, gehou gaan word.” Die Jonadabs het gretig op die byeenkoms gewag.
Die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is, was die onderwerp van broer Rutherford se toespraak wat op die tweede middag van die byeenkoms gehou is. Tydens daardie toespraak het hy verduidelik dat die groot menigte uit die hedendaagse Jonadabs bestaan en dat hierdie Jonadabs net so getrou aan Jehovah moet wees as die gesalfdes. En hoe opgewonde was die gehoor tog nie! Die Jonadabs het op die spreker se versoek opgestaan. Mildred Cobb, wat in die somer van 1908 gedoop is, het gesê: “Daar was eers ’n kort stilte, toe het almal vreugdevol begin juig, en die toejuiging was hard en lank.”
Hierdie ligstraal van Bybelbegrip het ’n verreikende uitwerking op die bedrywigheid van Jehovah se Getuies gehad. “Ons het met groot geesdrif teruggegaan na ons gebiede om te soek na hierdie skaapgeaarde mense wat nog ingesamel moes word”, het Sadie Carpenter, ’n voltydse prediker vir meer as 60 jaar, gesê. Later het die Yearbook of Jehovah’s Witnesses for 1936 berig: “Hierdie openbaring het die broers aangegryp en hulle begeester om opnuut aan die werk te spring, en daar het berigte van talle wêrelddele gekom wat vreugde weerspieël het oor die feit dat die oorblyfsel nou die voorreg het om die boodskap na die groot menigte te neem, en dat diegene van die groot menigte nou saam met hulle werk tot eer van die Here se naam.” Om hulle met hierdie werk te help, het die boek Rykdom, wat in 1936 uitgegee is, ’n breedvoerige bespreking bevat oor die hoop wat vir die groot menigte in die Skrif in die vooruitsig gestel word.
Uiteindelik het die toegewyde, gedoopte lede van die groot menigte hulle regmatige plek langs die oorblyfsel begin inneem in die werk om God se Koninkryk te adverteer!
‘Die ou vrou word gelooi’
Gedurende die dertigerjare het die boodskap wat hierdie ywerige Getuies verkondig het ’n snydende blootlegging van valse godsdiens bevat. ’n Nuttige instrument in hierdie verband is uitgereik tydens die algemene byeenkoms van Jehovah se Getuies wat van 15-20 September 1937 in Columbus, Ohio, gehou is.
Op Saterdag, 18 September, ná sy oggendtoespraak, het broer Rutherford die boek Vyande bekend gestel. Dit het valse godsdiens aan die kaak gestel as “’n groot vyand, wat die mens altyd skade berokken”. Valse godsdiensyweraars is geïdentifiseer as “werktuie van die Duiwel, of hulle nou bewus is daarvan of nie”. Toe broer Rutherford die boek aan die gehoor bekend gestel het, het hy gesê: “Hiermee gaan die ou vrouh gelooi word.” Hierop het die gehoor hulle goedkeuring luid en geesdriftig te kenne gegee.
Die grammofoon het etlike jare lank ’n rol daarin gespeel om ‘die ou vrou te looi’. Maar by die byeenkoms van 1937 was daar ’n verrassing in verband met die grammofoonwerk. “By hierdie byeenkoms is die werk om die draagbare grammofoon by die deur te gebruik bekend gestel”, sê Elwood Lunstrum, wat destyds maar 12 jaar oud was. “Ons het voorheen die grammofoon met ons in die velddiens saamgedra, maar ons het dit net gespeel wanneer ons ingenooi is. . . . ’n Reëling van ‘Spesiale pioniers’ is by die byeenkoms in Columbus uiteengesit om die leiding te neem in die gebruik van die grammofoon by die deur en om belangstelling op te volg (wat toe vir die eerste keer ‘herbesoeke’ genoem is) en in Bybelstudies deur middel van ’n reëling wat ’n ‘modelstudie’ genoem is.”
Ná daardie byeenkoms was Jehovah se volk goed toegerus vir die werk om God se Koninkryk te verkondig. Hulle het beslis al die aanmoediging nodig gehad wat hulle kon kry. Die toenemende nasionalisme in die dertigerjare het teenstand, en in sommige gevalle gepeupelgeweld, meegebring deur mense wat vasbeslote was om Jehovah se Getuies te verhinder om vergaderinge te hou en te preek.
“’n Klomp rowers”
’n Sterk opposisiemag het van sekere Katolieke Aksie-groepe gekom. Op 2 Oktober 1938 het broer Rutherford geen doekies omgedraai nie toe hy die toespraak “Fascisme of vryheid” gehou het wat later as ’n boekie verskyn het en waarvan daar miljoene versprei is. Broer Rutherford het in sy toespraak besonderhede verstrek oor ’n aantal insidente van onwettige optrede om te toon dat sekere staatsamptenare en verteenwoordigers van die Rooms-Katolieke Kerk kop in een mus was.
Nadat broer Rutherford die feite voorgelê het, het hy gesê: “Wanneer die mense die waarheid vertel word oor ’n groep wat onder ’n godsdiensdekmantel knoei om hulle van hulle regte te beroof, sit die Hiërargie ’n keel op en sê: ‘Leuens! Daardie mense se monde moet gesnoer word en nie toegelaat word om te praat nie.’” Toe het hy gevra: “Is dit verkeerd om die waarheid oor ’n klomp rowers te publiseer wat die mense beroof? Nee! . . . Moet eerlike mense se monde gesnoer word en moet hulle gedwing word om stil te bly terwyl hierdie klomp diewe die vryhede van die mense vernietig? Bowenal, moet die mense hulle Godgegewe voorregte om in vrede te vergader en hulle godsdiensvryheid om die almagtige God te aanbid, asook vryheid van spraak ten opsigte van sy koninkryk en diegene wat dit teëstaan, ontsê word?”
Ná hierdie snydende bestrawwing was daar volgehoue teenkanting deur die Katolieke Aksie-groepe van oral in die Verenigde State. Jehovah se Getuies het regstryde gevoer ter verdediging van godsdiensvryheid en hulle reg om God se Koninkryk te verkondig. Maar die toestand het net vererger toe die wêreld in oorlog gewikkel geraak het. Jehovah se Getuies is ook in die een land na die ander in Europa, Afrika en Asië wetlike beperkinge en gevangenisstraf opgelê.
‘Almal wou na St. Louis toe gaan’
“In 1941”, sê Norman Larson, wat kort tevore die voltydse bediening betree het, “het ons almal gemeen dat daar kritieke tye vir ons voorgelê het vanweë die oorlog wat toe in Europa aan die gang was. Almal wou dus na St. Louis toe gaan.” Waarvoor? Vir die Teokratiese Byeenkoms van Jehovah se Getuies in St. Louis, Missouri, 6-10 Augustus 1941! En “almal” het gekom. Die byeenkomsterrein was stampvol. Volgens ’n polisieskatting het ’n hoogtepunt van 115 000 mense dit bygewoon.
Die byeenkomsprogram het van die eerste dag af tydige bemoediging voorsien. Broer Rutherford se openingstoespraak, “Onkreukbaarheid”, het as die programrede gedien. “Ons het duideliker as ooit tevore besef waarom Jehovah toegelaat het dat sy volk wêreldwyd so hewig vervolg word”, het Hazel Burford gesê wat byna 40 jaar lank, tot haar dood in 1983, as sendeling gedien het. Die 1942 Yearbook of Jehovah’s Witnesses het in ’n verslag oor die byeenkoms bygevoeg: “Almal kon duidelik sien dat daar ’n groot getuieniswerk vir hulle voorlê, en dat hulle hulle onkreukbaarheid sou handhaaf as hulle daaraan deelneem, hoewel hulle deur alle mense en wêreldse organisasies gehaat sou word.”
Daar was Sondag, 10 Augustus, wat “Kinderdag” was, ’n roerende toneel. Toe die oggendsessie begin het, was daar 15 000 kinders—tussen 5 en 18—reg voor die verhoog in die hoofarena, asook op ’n soortgelyke plek wat vir hulle gereserveer is by ’n woonwapark waar nog ’n skare geluister het. Terwyl broer Rutherford, wat toe vroeg in die sewentig was, op die verhoog gestap het, het die kinders hom toegejuig en hande geklap. Hy het sy sakdoek gewaai, en die kinders het teruggewaai. Toe het hy die hele gehoor, in ’n helder, vriendelike stem, oor die tema “Kinders van die Koning” toegespreek. Nadat hy meer as ’n uur met die hele gehoor gepraat het, het hy direk met die kinders gepraat wat in die gereserveerde dele gesit het.
“Al julle . . . kinders”, het hy gesê, terwyl hy sy aandag op die jong, stralende gesigte voor hom gevestig het, “wat ingestem het om God se wil te doen en julle standpunt aan die kant van sy Teokratiese Regering onder Christus Jesus ingeneem het en wat ingestem het om God en sy Koning te gehoorsaam, staan asseblief op.” Die kinders het soos een man opgestaan. “Siedaar”, het die geesdriftige spreker uitgeroep, “meer as 15 000 nuwe getuies vir die Koninkryk!” Daar was ’n geweldige toejuiging. “Almal van julle wat sal doen wat julle kan om ander van God se koninkryk en die seëninge wat daarmee gepaardgaan te vertel, sê asseblief Ja.” Daar was ’n dawerende uitroep: “Ja!”
Die hoogtepunt van die toespraak was toe broer Rutherford die nuwe boek Kinders bekend gestel het wat met uitroepe van vreugde en dawerende applous ontvang is. Daarna het die spreker, ’n lang man, gehelp om gratis eksemplare van die boek uit te deel onderwyl ’n lang ry kinders oor die verhoog voor hom verbygeloop het. Baie het gehuil toe hulle dit sien.
Daar was baie kinders in die gehoor daardie Sondagoggend wat hulle woord gestand gedoen het. LaVonne Krebs, Merton Campbell en Eugene en Camilla Rosam was onder die jongmense wat die boek Kinders by daardie geleentheid ontvang het. In 1992 het hulle steeds by die Genootskap se hoofkwartier gedien, en hulle was toe reeds onderskeidelik 51, 49, 49 en 48 jaar in die voltydse bediening. Sommige van die kinders het in buitelandse sendingtoewysings gaan dien, onder andere Eldon Deane (Bolivia), Richard en Peggy Kelsey (Duitsland), Ramon Templeton (Duitsland) en Jennie Klukowski (Brasilië). Daardie Sondagoggendprogram in St. Louis het inderdaad ’n blywende indruk op talle jong harte gemaak!
Sondagmiddag het broer Rutherford ’n paar afskeidswoorde vir die byeenkomsgangers gehad. Hy het hulle aangemoedig om voort te gaan met die werk om God se Koninkryk te verkondig. “Ek is baie seker”, het hy gesê, “dat diegene wat die groot menigte sal uitmaak . . . se geledere van nou af baie vinnig sal groei.” Hy het hulle aangemoedig om na hulle onderskeie dele van die land terug te gaan en “selfs harder te gaan werk . . . soveel tyd moontlik te bestee”. Toe het sy laaste woorde aan die gehoor gevolg: “Wel, my liewe broers, mag die Here julle seën. Ek sal nie nou totsiens sê nie, want ek verwag om julle weer die een of ander tyd te sien.”
Maar dit was vir baie die laaste keer dat hulle broer Rutherford sou sien.
J. F. Rutherford se laaste dae
Broer Rutherford het kolonkanker gehad en sy gesondheid was swak tydens die St. Louis-byeenkoms. Hy kon nogtans vyf kragtige toesprake hou. Maar ná die byeenkoms het sy toestand versleg, en hy was verplig om ’n kolostomie te ondergaan. Arthur Worsley vertel van die dag toe broer Rutherford vir die Bethelgesin totsiens gesê het. “Hy het ons vertel dat hy ’n ernstige operasie moes ondergaan en dat hy vol vertroue is dat ons sal aanhou om Jehovah se naam te verkondig of hy die operasie nou oorleef of nie. Hy . . . het met hierdie woorde afgesluit: ‘As dit dus God se wil is, sal ek julle weer sien. Indien nie, moet julle die stryd voortsit.’ Die hele gesin het gehuil.”
Broer Rutherford, wat 72 jaar oud was, het die operasie oorleef. Kort daarna is hy na ’n huis in Kalifornië geneem wat hy Beth-Sarim genoem het. Dit was vir sy geliefdes, en vir mediese spesialiste, duidelik dat hy nie sou herstel nie. Trouens, hy moes weer geopereer word.
Nathan H. Knorr, Frederick W. Franz en Hayden C. Covington het ongeveer die middel van Desember van Brooklyn af daar aangekom. Hazel Burford, wat broer Rutherford in daardie hartseer en moeilike dae versorg het, het later gesê: “Hulle het ’n paar dae lank die jaarverslag vir die Yearbook en ander organisatoriese sake saam met hom nagegaan. Ná hulle vertrek het broer Rutherford verder verswak en het ongeveer drie weke later, op Donderdag, 8 Januarie 1942, sy aardse loopbaan getrou voltooi.”i
Hoe is die nuus van broer Rutherford se dood by Bethel ontvang? “Ek sal die dag toe ons van broer Rutherford se dood gehoor het nooit vergeet nie”, het William A. Elrod gesê, wat toe reeds nege jaar in Bethel was. “Dit was twaalfuur se kant toe die gesin vir middagete bymekaargekom het. Die aankondiging was kort. Daar was geen toesprake nie. Niemand het die dag afgeneem om te rou nie. Ons het eerder na die fabriek teruggegaan en harder as ooit tevore gewerk.”
Daardie tye was uiters moeilik vir Jehovah se Getuies. Die oorlog het ’n wêreldstryd geword toe die gevegte van Europa af uitgebrei het na Afrika en daarna na wat toe as die Sowjetunie bekend gestaan het. Japan se aanval op Pearl Harbor het die Verenigde State net ’n maand voor broer Rutherford se dood, op 7 Desember 1941, by die oorlog betrek. Die Getuies was op baie plekke die skyf van gepeupelgeweld en ander vorme van hewige vervolging.
Wat sou nou gebeur?
[Voetnote]
a ’n New Yorkse korporasie wat in 1909 gestig is toe die Genootskap sy hoofkantoor na Brooklyn, New York, verskuif het.
b Sien Hoofstuk 28: “Interne toetsing en sifting.”
c Volgens die interpretasie wat in The Finished Mystery uiteengesit is, was die vrou van Openbaring hoofstuk 12 “die vroeë Kerk”, die draak “die Heidense Romeinse Ryk” en die manlike kind “die pousdom”.
d Sien hoofstuk 14: “Hulle is geen deel van die wêreld nie.”
e Sien Hoofstuk 30: “Die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus.”
f Regverdiging, Boek drie, bladsy 77. Sien ook Hoofstuk 12: “Die groot menigte—Gaan hulle in die hemel of op die aarde woon?”
g Die Jonadabs is destyds nie as “Jehovah se getuies” beskou nie. (Sien Die Wagtoring [Engelse uitgawe], 15 Augustus 1934, bladsy 249.) Maar ’n paar jaar later het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Julie 1942 gesê: “Hierdie ‘ander skape’ [Jonadabs] word getuies vir Hom op dieselfde manier as wat die getroue manne voor Christus se dood, van Johannes die Doper af tot terug by Abel, getuies vir Jehovah was wat nooit tou opgegooi het nie.”
h Verwysing na “die groot hoer” waarvan daar in Openbaring hoofstuk 17 gepraat word. Die boek Vyande het gesê: “Alle organisasies op die aarde wat teen God en sy koninkryk is . . . kry dus . . . die naam van ‘Babilon’ en ‘hoer’, en daardie name geld in die besonder vir die vooraanstaande religieuse organisasie, die Rooms-Katolieke kerk” (Bladsy 195). Jare later is daar gesien dat die hoer in werklikheid die wêreldryk van alle valse godsdiens verteenwoordig.
i Broer Rutherford het sy vrou, Mary, en hulle seun, Malcolm, agtergelaat. Omdat suster Rutherford se gesondheid swak was en die winters in New York (waar die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier geleë was) vir haar moeilik was, het sy en Malcolm in Suid-Kalifornië gewoon waar die klimaat beter was vir haar gesondheid. Suster Rutherford het op 17 Desember 1962, in die ouderdom van 93, gesterf. ’n Kennisgewing van haar dood wat in die Daily News-Post van Monrovia, Kalifornië, verskyn het, het gesê: “Totdat swak gesondheid haar tot haar huis beperk het, het sy aktief deelgeneem aan die bediening van Jehovah se Getuies.”
[Lokteks op bladsy 73]
“Satan se vernaamste wapens is TROTS, AMBISIE en VREES”
[Lokteks op bladsy 74]
“Versekering dat Jehovah die Genootskap bestuur”
[Lokteks op bladsy 75]
‘Uit die gevangenis, nie soseer om hulle ontwil nie, maar om ’n getuienis vir die waarheid te wees’
[Lokteks op bladsy 77]
‘’n Christen se taak op aarde . . . is om die Here se koninkryk te verkondig’
[Lokteks op bladsy 78]
‘Adverteer, die Koninkryk met groter ywer en liefde as ooit tevore’
[Lokteks op bladsy 82]
‘Ons wil as Jehovah se getuies bekend staan’
[Lokteks op bladsy 83]
Ja! Jonadabs moet gedoop word
[Lokteks op bladsy 84]
‘Daar word na skaapgeaarde mense gesoek wat nog ingesamel moet word’
[Lokteks op bladsy 85]
Broer Rutherford het die godsdiensteenstanders reguit bestraf
[Lokteks op bladsy 86]
15 000 kinders neem hulle standpunt vir die Koninkryk in
[Lokteks op bladsy 89]
“As dit dus God se wil is, sal ek julle weer sien. Indien nie, moet julle die stryd voortsit”
[Venster/Prent op bladsy 76]
“Huis van die Vorste”
Broer Rutherford het ná sy vrylating uit onregverdige opsluiting in 1919 ernstige longontsteking gehad. Daarna het hy net een gesonde long gehad. Hy het in die twintigerjare op doktersaanbeveling na San Diego, Kalifornië, gegaan, en die dokter het hom aangemoedig om soveel tyd moontlik daar deur te bring. Broer Rutherford het vanaf 1929 gedurende die winter by ’n huis in San Diego gewerk wat hy Beth-Sarim genoem het. Beth-Sarim is met fondse gebou wat spesifiek vir daardie doel bygedra is. Die akte, wat volledig in “The Golden Age” van 19 Maart 1930 verskyn het, het hierdie eiendom aan J. F. Rutherford oorgedra en daarna aan die Wagtoringgenootskap.
Die boek “Redding”, wat in 1939 gepubliseer is, verduidelik oor Beth-Sarim: “Die Hebreeuse woord ‘Beth Sarim’ beteken ‘Huis van die Vorste’; en die oogmerk met die aanskaffing van daardie eiendom en die bou van die huis daarop was om dit daar as ’n tasbare bewys te laat staan dat daar vandag diegene op die aarde is wat God en Christus Jesus ten volle glo en in sy koninkryk glo, en wat glo dat die getroue manne van die ou tyd binnekort deur die Here opgewek sal word, op die aarde sal terug wees en beheer sal neem van die sigbare aangeleenthede van die aarde.”
’n Paar jaar ná broer Rutherford se dood het die direksie van die Wagtoringgenootskap besluit om Beth-Sarim te verkoop. Waarom? “Die Wagtoring” van 1 Mei 1948 (Engelse uitgawe, 15 Desember 1947) het verduidelik: ‘Dit het volkome aan die doel daarvan voldoen en het nou net gedien as ’n monument wat nogal duur was om te onderhou; ons geloof in die terugkeer van die manne van die ou tyd wat die koning Christus Jesus vorste in die HELE aarde (nie maar net in Kalifornië nie) sal maak, is gegrond nie op daardie huis Beth-Sarim nie, maar op Gods Woord van belofte.”j
[Voetnoot]
j Daar is destyds geglo dat getroue manne van die ou tyd, soos Abraham, Josef en Dawid, voor die einde van hierdie stelsel van dinge opgewek sou word en ter vervulling van Psalm 45:17 as “vorste in die hele land” sou dien. Hierdie beskouing is in 1950 reggestel toe verdere studie van die Skrif getoon het dat daardie aardse voorvaders van Jesus Christus ná Armageddon opgewek sou word.—Sien “Die Wagtoring”, 1 April 1951, bladsye 106-8 (Engelse uitgawe, 1 November 1950).
[Venster/Prente op bladsy 80, 81]
Die Koninkryksboodskap word uitgesaai
Binne twee jaar nadat gewone handelsradio-uitsendings begin het, is die radio gebruik om die Koninkryksboodskap uit te saai. Broer Rutherford het dus op 26 Februarie 1922 sy eerste radiorede in Kalifornië gehou. Die Wagtoringgenootskap se eie radiostasie, WBBR, het twee jaar later, op 24 Februarie 1924, op Staten-eiland, New York, begin uitsaai. Die Genootskap het eindelik gereël dat Bybelprogramme en -toesprake wêreldwyd uitgesaai word. Teen 1933 het ’n rekordgetal van 408 stasies die Koninkryksboodskap na ses kontinente uitgedra!
[Prente]
WBBR, in New York, is van 1924 tot 1957 deur die Wagtoring- genootskap bestuur
WBBR-orkes in 1926
Op 11 September 1938 hou J. F. Rutherford die toespraak “Hou rekening met die feite” in die Royal Albert-saal in Londen, Engeland; daar was meer as 10 000 in die stampvol ouditorium (onder), terwyl miljoene ander dit oor die radio gehoor het
WBBR-openings- program
Personeellede van 2HD-stasie, Newcastle, NSW, Australië
CHCY-radiostasie in Edmonton, Alberta, was een van verskeie stasies wat die Genootskap in Kanada besit en bestuur het
Uitsendings na Finland deur middel van ’n radiostasie in Estland
Uitsaaitoerusting by WORD-stasie naby Chicago, Illinois; die Genootskap het dit besit en bestuur
[Venster/Prente op bladsy 87]
Die predikingswerk met grammofone
Jehovah se Getuies het in 1933 nog ’n nuwe predikingsmetode begin gebruik. ’n Vervoerbare transkripsiemasjien met ’n klankversterker en luidspreker is gebruik om 33 1/3-o.p.m.-opnames van broer Rutherford se radiolesings in sale, parke en ander openbare plekke uit te saai. Klankmotors en klankbote is ook gebruik om die Koninkryksboodskap te laat weerklink.
Die doeltreffende gebruik van transkripsiemasjiene het tot nog ’n nuwe predikingsmetode gelei—om met ’n ligte grammofoon van huis tot huis te gaan. Die Genootskap het in 1934 begin om draagbare grammofone en ’n reeks 78-o.p.m.-grammofoonplate te vervaardig wat Bybellesings van 4 1/2 minute bevat het. Mettertyd was daar opnames van 92 verskillende onderwerpe in gebruik. Die Genootskap het altesaam meer as 47 000 grammofone vervaardig om die Koninkryksboodskap uit te basuin. Maar daar is mettertyd meer klem gelê op mondelinge aanbiedings van die Koninkryksboodskap, en die grammofoonwerk is geleidelik uitgeskakel.
[Prente]
Met ’n klankmotor op ’n heuweltop kon die Koninkryksboodskap kilometers ver gehoor word (bo)
Die transkripsiemasjien word in Mexiko gebruik (regs)
’n Klankboot saai uit op die Teemsrivier in Londen, Engeland (bo)
’n Grammofoon word tydens velddiens gebruik (links)
Demonstrasie, in 1940, van hoe ’n vertikale grammofoon gebruik word (regs)
[Prent op bladsy 79]
J. A. Bohnet
[Prent op bladsy 88]
Die Wagtoring- genootskap het van 1917 af, toe J. F. Rutherford president geword het, tot 1941 ’n menigte publikasies uitgegee, waaronder 24 boeke, 86 boekies en ’n jaarlikse “Yearbook”, asook die artikels vir “Die Wagtoring” en “The Golden Age” (wat later “Vertroosting” genoem is)