Hoofstuk 6
’n Tyd van toetsing (1914-1918)
“Laat ons onthou dat ons in ’n tyd van toetsing is. . . . As daar enige rede is wat daartoe sal lei dat iemand die Here en Sy Waarheid versaak en ophou om opofferings vir die Here se Saak te maak, dan is dit nie bloot die liefde vir God in die individu se hart wat belangstelling in die Here geprikkel het nie, maar iets anders; waarskynlik die hoop dat die tyd kort sou wees; die toewyding was net vir ’n sekere tydperk. Indien dit die geval is, is dit nou ’n goeie tyd om die Here en Sy Waarheid te versaak.”
DAARDIE woorde, wat in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 November 1914 verskyn het, kon nie méér gepas gewees het nie. Die jare 1914 tot 1918 was inderdaad “’n tyd van toetsing” vir die Bybelstudente. Sommige toetse het van binne die organisasie gekom; ander het van buite gekom. Maar al hierdie toetse het die Bybelstudente op maniere beproef wat geopenbaar het of hulle werklik ‘die liefde vir God in hulle hart’ gehad het. Sou hulle vashou aan “die Here en Sy Waarheid” of sou hulle dit versaak?
Groot verwagtinge
Op 28 Junie 1914 is aartshertog Frans-Ferdinand van Oostenryk-Hongarye deur die koeël van ’n sluipmoordenaar gedood. Daardie sluipmoord het die Groot Oorlog, soos die Eerste Wêreldoorlog oorspronklik genoem is, ontketen. Die gevegte het in Augustus 1914 begin toe Duitsland België en Frankryk binnegeval het. Teen die herfs van daardie jaar was daar geen keer meer aan die bloedbad nie.
“Die Heidense Tye het geëindig; hulle konings se dae is verby”! Broer Russell het hierdie woorde uitgeroep toe hy Vrydagoggend, 2 Oktober 1914, by die eetsaal van die Brooklynse hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap ingestap het. Almal was baie opgewonde. Die meeste wat daar teenwoordig was, het jare lank al na 1914 uitgesien. Maar wat sou die einde van die Heidense Tye inhou?
Die Eerste Wêreldoorlog het gewoed, en daar is destyds geglo dat die oorlog tot ’n tyd van wêreldwye anargie sou lei wat die einde van hierdie stelsel van dinge tot gevolg sou hê. Daar is ook ander verwagtinge oor 1914 gekoester. Alexander H. Macmillan, wat in September 1900 gedoop is, het later gesê: “’n Paar van ons het werklik gedink dat ons gedurende die eerste week van daardie Oktober hemel toe sou gaan.”a Trouens, toe broer Macmillan hom die oggend voor die gees geroep het toe broer Russell die einde van die Heidense Tye aangekondig het, het hy erken: “Die opgewondenheid onder ons het hoog geloop, en dit sou my nie verbaas het as ons op daardie oomblik sommer net begin opvaar het, en as [broer Russell se aankondiging] die teken was om hemelwaarts te begin vaar nie—maar so iets het natuurlik glad nie gebeur nie.”
Verydelde verwagtinge oor die wederkoms van die Here Jesus het in die 19de eeu veroorsaak dat baie van William Miller se volgelinge en verskeie van die Adventistegroepe geloof verloor het. Maar wat van die Bybelstudente wat met broer Russell geassosieer was? Was dit nie dalk die gedagte aan hulle eie vroeë redding eerder as liefde vir God en ’n sterk begeerte om sy wil te doen wat sommige getrek het nie?
‘Broer Russell, was jy nie teleurgesteld nie?’
Broer Russell het die Bybelstudente aangemoedig om waaksaam te bly en vasbeslote te wees om met die Here se werk voort te gaan selfs al het sake nie so gou ’n hoogtepunt bereik as wat hulle verwag het nie.
Oktober 1914 het verbygegaan en C. T. Russell en sy metgeselle was nog op die aarde. Toe het Oktober 1915 verbygegaan. Was broer Russell teleurgesteld? Hy het in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Februarie 1916 geskryf: “‘Maar broer Russell, wat dink jy van die tyd van ons verandering? Was jy nie teleurgesteld dat dit nie gekom het toe ons gehoop het dit sou nie?’ sal jy vra. Nee, antwoord ons, ons was nie teleurgesteld nie. . . . Broeders, dié van ons wat die regte gesindheid teenoor God het, is nie teleurgesteld oor enige van sy reëlings nie. Ons wou nie hê dat ons eie wil moes geskied nie; toe ons besef het dat ons die verkeerde verwagting in verband met Oktober 1914 gekoester het, was ons dus bly dat die Here nie Sy Plan verander het om ons te pas nie. Ons wou nie hê dat Hy dit moet doen nie. Ons wil net graag Sy planne en voornemens verstaan.”
Nee, die Bybelstudente is nie in Oktober 1914 ‘huis toe’ geneem na ’n hemelse tuiste toe nie. Die Heidense Tye het nietemin daardie jaar geëindig. Dit is duidelik dat die Bybelstudente meer oor die belangrikheid van 1914 moes leer. Wat moes hulle intussen doen? Werk! Soos Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 September 1916 dit gestel het: “Ons het gedink dat die Oeswerk om die Kerk [van gesalfdes] in te samel voor die einde van die Heidense Tye klaar sou wees; maar niks in die Bybel het so gesê nie. . . . Is ons spyt dat die Oeswerk voortgaan? Nee, hoegenaamd nie . . . Ons gesindheid, liewe broeders, moet nou een wees van groot waardering teenoor God, van groter waardering vir die wonderlike Waarheid wat Hy ons die voorreg gegee het om te sien en mee geïdentifiseer te word, asook van groter ywer om ander te help om daardie Waarheid te leer.”
Maar was daar nog baie oeswerk om te doen? Broer Russell het klaarblyklik so gedink. Dit blyk uit ’n gesprek wat hy in die herfs van 1916 met broer Macmillan gevoer het. Broer Russell het broer Macmillan na sy studeerkamer in die Brooklynse Bethel laat kom en vir hom gesê: “Die werk word vinnig meer, en dit sal aanhou om al hoe meer te word, want daar is ’n wêreldwye werk wat gedoen moet word om die ‘evangelie van die koninkryk’ in die hele wêreld te verkondig.” Broer Russell het drie en ’n half uur lank vir broer Macmillan verduidelik watter werk, volgens sy siening van die Bybel, nog voorgelê het.
Die Bybelstudente het deur ’n moeilike toets gekom. Met behulp van Die Wagtoring is hulle egter versterk om hulle teleurstelling te oorkom. Maar die tyd van toetsing was nog lank nie verby nie.
“Wat gaan nou gebeur?”
Op 16 Oktober 1916 het broer Russell en sy sekretaris, Menta Sturgeon, vertrek op ’n vooraf gereëlde lesingstoer wat hulle deur die westelike en suidwestelike dele van die Verenigde State sou neem. Maar broer Russell was op daardie tydstip reeds ernstig siek. Die toer het hulle eers deur Kanada na Detroit, Michigan, geneem. Toe het die twee mans, nadat hulle Illinois, Kansas en Texas besoek het, in Kalifornië aangekom, waar broer Russell op Sondag, 29 Oktober, in Los Angeles sy laaste toespraak gehou het. Twee dae later, vroeg die middag van Dinsdag, 31 Oktober, het die 64-jarige Charles Taze Russell op ’n trein in Pampa, Texas, gesterf. ’n Berig oor sy dood het in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 November 1916 verskyn.
Watter uitwerking het dit op die Bethelgesin gehad toe die nuus van broer Russell se dood aangekondig is? A. H. Macmillan, wat as broer Russell se assistent in die kantoor gedien het terwyl broer Russell weg was, het later vertel wat die oggend gebeur het toe hy die telegram aan die Bethelgesin voorgelees het: “’n Kreungeluid het in die eetsaal opgegaan. Party het hardop gehuil. Niemand het daardie oggend ontbyt geëet nie. Almal was baie ontsteld. Ná die maaltyd het hulle in groepies gestaan en fluister: ‘Wat gaan nou gebeur?’ Daardie dag is daar min gewerk. Ons het nie geweet wat om te doen nie. Dit was so onverwags, en tog het broer Russell ons daarop probeer voorberei. Wat sou ons doen? Ons aanvanklike skok oor C. T. Russell se dood was die ergste. Daardie eerste paar dae het ons nie geweet wat die toekoms vir ons inhou nie. Broer Russell was sy hele lewe lank ‘die Genootskap’. Die werk het gedraai om sy dinamiese vasbeslotenheid om toe te sien dat God se wil gedoen word.”
Nadat begrafnisdienste in The Temple in New York en in die Carnegie-saal in Pittsburgh gehou is, is broer Russell soos hy versoek het in die begraafplaas vir die Bethelgesin in Allegheny begrawe. ’n Kort biografie oor broer Russell, asook sy testament, het in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Desember 1916 sowel as in daaropvolgende uitgawes van die eerste deel van Studies in the Scriptures verskyn.
Wat sou nou gebeur? Dit was vir die Bybelstudente moeilik om hulle iemand anders in broer Russell se plek voor te stel. Sou hulle begrip van die Skrif steeds progressief wees of sou dit stagneer? Sou hulle ’n sekte word wat om hom gebou is? Broer Russell self het dit baie duidelik gestel dat hy verwag het dat die werk moes voortgaan. Kort ná sy dood het daar dus voor die hand liggende vrae ontstaan: Wie sal verantwoordelik wees vir die inhoud van Die Wagtoring en ander publikasies? Wie sal broer Russell as president opvolg?
Administratiewe verandering
In sy testament het broer Russell ’n reëling uiteengesit vir ’n Redaksiekommissie van vyf lede wat sou bepaal wat in Die Wagtoring moes verskyn.b Daarbenewens het die direksie van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap reëlings getref dat ’n Uitvoerende Komitee van drie lede—A. I. Ritchie, W. E. van Amburgh en J. F. Rutherford—wat steeds aan die direksie verantwoording moes doen, toesig oor al die Genootskap se bedrywighede hou.c Maar wie sou die nuwe president word? Daardie besluit sou op 6 Januarie 1917, ongeveer twee maande later, tydens die Genootskap se volgende jaarvergadering geneem word.
Die Uitvoerende Komitee het aanvanklik hulle bes gedoen om die situasie te bestendig en het die Bybelstudente aangespoor om bedrywig te bly en nie moed te verloor nie. Die Wagtoring is steeds gedruk en het artikels bevat wat broer Russell voor sy dood geskryf het. Maar namate die jaarvergadering nader gekom het, het die spanning begin toeneem. Party het selfs ’n klein werwingsveldtog op tou gesit om die kandidaat van hulle keuse as president verkies te kry. Ander was blykbaar, vanweë hulle diep respek vir broer Russell, meer besorgd daaroor om sy eienskappe te probeer naboots en ’n soort kultus om hom te bou. Die meeste Bybelstudente het nietemin hoofsaaklik daarin belanggestel om die werk voort te sit waaraan broer Russell hom met hart en siel gewy het.
Namate die tyd vir die verkiesing nader gekom het, was die vraag steeds: Wie sou broer Russell as president opvolg? Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Januarie 1917 het berig wat die uitslag van die jaarvergadering was en verduidelik: “Broer Pierson het, met uiters gepaste opmerkings en woorde van waardering en liefde vir broer Russell, gesê dat vriende oor die hele land hom volmag gegee het om namens hulle vir broer J. F. Rutherford as President te stem, en hy het verder gesê dat hy self volkome ten gunste daarvan is.” Nadat broer Rutherford genomineer en die nominasie gesekondeer is, was daar geen ander nominasies nie, en gevolglik “het die Sekretaris die stemme op stembriefies laat uitbring ooreenkomstig die wetlike prosedure en is broer Rutherford, as die Konvensie se eenparige keuse, tot President verklaar”.
Hoe is die nuwe president ná die verkiesing ontvang? Die Wagtoring het berig: “Die vriende het oral ernstig om die Here se leiding en hulp in die verkiesing gebid; en toe dit verby was, was almal tevrede en gelukkig, want hulle het geglo dat die Here hulle beraadslaging gelei en hulle gebede verhoor het. Daar was volkome eensgesindheid onder almal wat teenwoordig was.”
Daardie “volkome eensgesindheid” het egter nie lank geduur nie. Talle, maar nie almal nie, het die nuwe president baie hartlik verwelkom.
Die nuwe president beweeg vooruit
Broer Rutherford wou nie die rigting verander waarin die organisasie beweeg het nie, maar eerder die progressiewe bedrywighede voortsit waarmee broer Russell begin het. Die reisende verteenwoordigers van die Genootskap (bekend as pelgrims) is van 69 tot 93 vermeerder. Daar is baie meer van die Genootskap se gratis traktate versprei—party Sondae voor die kerke en gereeld in die bediening van huis tot huis.
Die “pastorale werk” wat voor broer Russell se dood begin is, is nou op groter skaal gedoen. Dit was ’n opvolgwerk, soortgelyk aan die herbesoeke wat Jehovah se Getuies tans doen. Die Genootskap se nuwe president het die kolporteurwerk uitgebrei om verdere stukrag aan die predikingswerk te gee. Kolporteurs (voorlopers van die hedendaagse pioniers) is van 372 tot 461 vermeerder.
“1917 het met ’n taamlik ontmoedigende vooruitsig begin”, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Desember 1917 gesê. Ja, ná die dood van C. T. Russell was daar ’n mate van bekommernis, twyfel en vrees. Tog was die rapport aan die einde van die jaar bemoedigend; die velddiensbedrywigheid het toegeneem. Dit was duidelik dat die werk vooruitgegaan het. Het die Bybelstudente nog ’n toets—die toets van C. T. Russell se dood—deurstaan?
Pogings om beheer te verkry
Nie almal het die nuwe president gesteun nie. C. T. Russell en J. F. Rutherford was manne met uiteenlopende geaardhede. Hulle het verskillende persoonlikhede en verskillende agtergronde gehad. Sommige het dit moeilik gevind om hierdie verskille te aanvaar. Hulle het gedink dat niemand broer Russell se plek kon inneem en kon doen wat hy gedoen het nie.
’n Geringe aantal, veral by die hoofkwartier, was broer Rutherford in werklikheid vyandiggesind. Die feit dat daar vooruitgang met die werk gemaak is en dat hy alles in sy vermoë gedoen het om die reëlings te volg wat deur broer Russell in werking gestel is, het hulle blykbaar nie beïndruk nie. Teëstand het gou toegeneem. Vier direkteure van die Genootskap se direksie het selfs probeer om die administratiewe beheer by broer Rutherford oor te neem. Die situasie het in die somer van 1917 tot uitbarsting gekom toe The Finished Mystery, die sewende deel van Studies in the Scriptures, uitgegee is.
Broer Russell kon nie hierdie boek gedurende sy leeftyd voltooi nie, hoewel hy gehoop het om dit te doen. Ná sy dood het die Uitvoerende Komitee van die Genootskap gereël dat twee metgeselle, Clayton J. Woodworth en George H. Fisher, hierdie boek saamstel, wat ’n kommentaar op Openbaring, Die Hooglied van Salomo en Esegiël was. Dit was deels gegrond op wat broer Russell oor hierdie Bybelboeke geskryf het, en ander kommentare en verduidelikings is bygevoeg. Die voltooide manuskrip is deur ampsdraers van die Genootskap vir druk goedgekeur, en dit is op Dinsdag, 17 Julie 1917, aan etenstafel aan die Bethelgesin vrygestel. ’n Opsienbarende aankondiging is tydens daardie selfde geleentheid gedoen—die vier opponerende direkteure is van hulle amp onthef en broer Rutherford het vier ander in hulle plek aangestel. Wat was die reaksie?
Dit was asof ’n bom ontplof het! Die vier afgedankte direkteure het die geleentheid aangegryp en voor die Bethelgesin ’n vyf uur lange woordestryd oor die administrasie van die Genootskap se sake ontketen. Party van die Bethelgesinslede het hulle by die teenstanders geskaar. Die teenkanting het etlike weke voortgeduur, terwyl die rusverstoorders gedreig het om, soos hulle dit gestel het, “die bestaande tirannie omver te werp”. Maar broer Rutherford het gegronde rede vir sy optrede gehad. Hoe so?
Hoewel die vier opponerende direkteure deur broer Russell aangestel is, het dit geblyk dat die korporasielede nooit hulle stemme by die Genootskap se jaarvergadering uitgebring het om hierdie aanstellings te bevestig nie. Hierdie vier mans was dus glad nie wettige lede van die direksie nie! Broer Rutherford was bewus hiervan, maar het dit aanvanklik nie te berde gebring nie. Waarom nie? Hy wou nie die indruk gee dat hy teen broer Russell se wense ingaan nie. Maar toe dit begin duidelik word het dat hulle nie met hulle teenkanting gaan ophou nie, was dit broer Rutherford se volste reg en verantwoordelikheid as president om hulle met vier ander te vervang wie se aanstellings by die volgende jaarvergadering in Januarie 1918 bevestig sou word.
Die ontevrede gewese direkteure en hulle ondersteuners het die Bethelgesin op 8 Augustus verlaat; hulle is gevra om te gaan weens die steurnis wat hulle deurentyd veroorsaak het. Hulle het spoedig hulle teenkanting verskerp deur ’n uitgebreide kampanje van toesprake en briefwisseling dwarsdeur die Verenigde State, Kanada en Europa te voer. Die gevolg was dat ’n aantal gemeentes van Bybelstudente ná die somer van 1917 in twee groepe verdeel het—diegene wat lojaal aan die Genootskap was en diegene wat maklik slagoffers van die teenstanders se mooipraatjies geword het.
Maar sou die afgedankte direkteure, in ’n poging om die beheer van die organisasie oor te neem, probeer om diegene te beïnvloed wat die jaarvergadering sou bywoon? Broer Rutherford het verwag dat so iets sou gebeur en het dit dus raadsaam geag om ’n opname in die gemeentes te laat doen. Die uitslag? Volgens die verslag wat in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Desember 1917 gepubliseer is, het diegene wat gestem het J. F. Rutherford en die direkteure wat saam met hom gewerk het met ’n oorweldigende meerderheid gesteun! Dit is by die jaarvergadering bevestig.d Die teenstanders se pogings om die beheer te verkry, het misluk!
Wat het van daardie teenstanders en hulle ondersteuners geword? Ná die jaarvergadering van Januarie 1918 het die teenstanders ’n splintergroep gevorm en selfs die Gedenkmaal op 26 Maart 1918 op hulle eie gevier. Die bietjie eenheid wat daar onder hulle was, was van korte duur, en hulle het kort voor lank in verskeie sektes verbrokkel. In die meeste gevalle het hulle getalle gedaal en hulle bedrywigheid afgeneem of heeltemal opgehou.
Dit is duidelik dat die Bybelstudente ná broer Russell se dood voor ’n strawwe toets van lojaliteit te staan gekom het. Soos Tarissa P. Gott, wat in 1915 gedoop is, dit gestel het: “Talle wat oënskynlik baie sterk en baie toegewyd aan die Here was, het afvallig begin word. . . . Al hierdie dinge het eenvoudig nie reg gelyk nie, maar dit wás besig om te gebeur en dit het ons ontstel. Ek het egter gedink: ‘Het Jehovah nie hierdie organisasie gebruik om ons van die kettings van valse godsdiens te bevry nie? Het ons nie sy goedheid gesmaak nie? Waarheen sal ons gaan as ons nou die organisasie verlaat? Sal ons nie maar op die ou end die een of ander mens volg nie?’ Ons kon geen rede sien om met die afvalliges saam te gaan nie en het dus by die organisasie gebly.”—Joh. 6:66-69; Hebr. 6:4-6.
Sommige van dié wat hulle aan die organisasie onttrek het, het later berou gehad en weer eens met die Bybelstudente in aanbidding begin assosieer. Die oorgrote meerderheid het, soos suster Gott, met die Wagtoringgenootskap en broer Rutherford bly saamwerk. Die liefde en eenheid wat hulle saamgebind het, is deur hulle jare lange assosiasie by vergaderinge en byeenkomste gebou. Hulle sou nie toelaat dat enigiets daardie band van eenheid verbreek nie.—Kol. 3:14, NW.
Teen 1918 het die Bybelstudente die toetse wat van binne die organisasie gekom het, deurstaan. Maar wat sou gebeur as die teenstand van diegene buite die organisasie sou kom?
Die skyf van aanvalle
Die Bybelstudente het gedurende die laaste deel van 1917 en tot in 1918 die nuwe boek The Finished Mystery ywerig versprei. Teen die einde van 1917 was die drukkers besig met ’n herdruk wat ’n oplaag van 850 000 gehad het. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Desember 1917 het gesê: “Met die uitsondering van die Bybel is daar, so ver bekend, nog nooit oor dieselfde tydperk soveel eksemplare van enige ander boek as van die Sewende Deel verkoop nie.”
Maar nie almal was ingenome met die sukses wat met The Finished Mystery behaal is nie. Die boek het enkele uiters snydende opmerkings oor die geestelikes van die Christendom bevat. Dit het die geestelikes so kwaad gemaak dat hulle by die regering aangedring het dat die Bybelstudente se publikasies verbied moes word. As gevolg van hierdie teenstand wat deur die geestelikes aangestig is, is The Finished Mystery aan die begin van 1918 in Kanada verbied. Teenstand teen die Bybelstudente in die Verenigde State het spoedig verskerp.
Die Wagtoringgenootskap het die traktaat Kingdom News Nr. 1 op 15 Maart 1918 uitgegee om hierdie druk wat deur die geestelikes veroorsaak is, bloot te lê. Die traktaat se boodskap? Die opskrif, wat oor ses kolomme gestrek het, het gelui: “Godsdiensonverdraagsaamheid—Pastor Russell se volgelinge vervolg omdat hulle mense die waarheid vertel.” Onder die opskrif “Optrede teenoor van die Bybelstudente herinner aan die ‘duister Middeleeue’” is die feite oor die vervolging en die verbod wat in Kanada begin het, uiteengesit. Die aanstigters? Die traktaat het geen doekies omgedraai nie en getoon dat die aanstigters die geestelikes is, wat beskryf is as ’n “dweepsugtige klas manne wat sistematies probeer verhinder het dat mense die Bybel verstaan en wat alle Bybelonderrig behalwe dié wat hulle self gegee het, probeer onderdruk het”.e Wat ’n snydende boodskap tog!
Hoe het die geestelikes gereageer toe hulle só aan die kaak gestel is? Hulle het reeds vroeër probleme vir die Wagtoringgenootskap veroorsaak. Maar nou was hulle woedend! In die lente van 1918 is daar in Noord-Amerika sowel as in Europa ’n vlaag van gewelddadige vervolging teen die Bybelstudente ontketen. Die teenstand wat deur die geestelikes aangestig is, het op 7 Mei 1918 ’n klimaks bereik toe Amerikaanse federale lasbriewe vir die inhegtenisname van J. F. Rutherford en ’n paar van sy intieme metgeselle uitgereik is. Teen die middel van 1918 was broer Rutherford en sy sewe metgeselle in die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia.
Maar wat het van die werksaamhede van die hoofkwartier geword toe regter Rutherford en sy metgeselle in die gevangenis was?
Die werk gaan voort
’n Uitvoerende Komitee is in Brooklyn aangestel om na die werk om te sien. Een van die belangrikste take van die aangestelde broers was dat Die Wagtoring steeds gepubliseer moes word. Elke Bybelstudent het beslis al die geestelike aanmoediging nodig gehad wat daar vir hom gegee kon word. Trouens, nie ’n enkele nommer van Die Wagtoring is gedurende hierdie hele “tyd van toetsing” oorgeslaan nie!f
Watter gees het by die hoofkwartier geheers? Thomas (Bud) Sullivan, wat later as ’n lid van die Bestuursliggaam gedien het, het gesê: “Ek het die voorreg gehad om die Brooklynse Bethel in die nasomer van 1918 te besoek terwyl die broers in die gevangenis was. Die broers wat die leiding in die werk by Bethel geneem het, was geensins bang of mismoedig nie. Inteendeel, hulle was optimisties en vol vertroue dat Jehovah sy volk uiteindelik die oorwinning sou gee. Ek het die voorreg gehad om Maandagoggend aan die ontbyttafel te wees toe die broers wat die naweek uitgestuur is hulle verslae gegee het. Dit het my ’n prentjie van die situasie gegee. Die broers was in al die gevalle vol vertroue, en het op Jehovah gewag om hulle bedrywighede verder te rig.”
Hulle het egter baie probleme teëgekom. Die Eerste Wêreldoorlog het nog gewoed. Daar was ’n gebrek aan papier en steenkool, produkte wat noodsaaklik was vir die werk by die hoofkwartier. Met patriotisme wat baie hoog geloop het, was daar kwaai vyandigheid teen die Genootskap; die Bybelstudente is as verraaiers beskou. Dit het gelyk of dit onmoontlik was om die werksaamhede by Brooklyn onder hierdie uiters ongunstige omstandighede voort te sit. Nadat die Uitvoerende Komitee met ander broers beraadslaag het, het hulle dus die Brooklyn Tabernacle verkoop en die Bethelhuis gesluit. Op 26 Augustus 1918 is die werksaamhede weer na Pittsburgh verskuif, na ’n kantoorgebou in Federal- en Reliancestraat.
Daar het nogtans ’n goeie gees geheers. Martha Meredith het gesê: “Dié van ons in Pittsburgh het bymekaargekom en besluit dat ons met die werk sal voortgaan totdat die broers uit die gevangenis kom. Die Brooklynse kantoor is destyds na Pittsburgh verskuif, met die gevolg dat die broers aan die werk gespring en artikels vir Die Wagtoring geskryf en laat druk het. Wanneer die Wagtorings gereed was om uitgestuur te word, het ons susters hulle toegedraai en na die mense gestuur.”
Die Bybelstudente het voor ernstige beproewinge te staan gekom nadat die Heidense Tye in die herfs van 1914 ten einde geloop het. Sou hulle staande kon bly? Het hulle werklik ‘die liefde vir God in hulle hart’ gehad of nie? Sou hulle vashou aan “die Here en Sy Waarheid”, soos broer Russell gemaan het, of sou hulle dit versaak?
[Voetnote]
a A. H. Macmillan se woorde wat in hierdie hoofstuk aangehaal word, kom uit sy boek Faith on the Maart, wat in 1957 deur Prentice-Hall, Inc., uitgegee is.
b Die vyf lede van die Redaksiekommissie wat in broer Russell se testament benoem is, was William E. Page, William E. van Amburgh, Henry Clay Rockwell, E. W. Brenneisen en F. H. Robison. Daarbenewens is daar ander benoem as kandidate vir enige vakante posisie wat kon ontstaan—A. E. Burgess, Robert Hirsh, Isaac Hoskins, G. H. Fisher, J. F. Rutherford en John Edgar. Broers Page en Brenneisen het egter onmiddellik bedank—broer Page omdat hy hom nie in Brooklyn kon vestig nie en broer Brenneisen (die spelling is later na Brenisen verander) omdat hy sekulêr moes gaan werk om vir sy gesin te sorg. Broers Rutherford en Hirsh, wie se name in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Desember 1916 aangegee is, het hulle as lede van die Redaksiekommissie vervang.
c Volgens die handves van die Wagtoringgenootskap moes die direksie uit sewe lede bestaan. Die handves het voorsiening gemaak dat die oorblywende lede van die direksie iemand in ’n vakante posisie kon aanstel. Die direksie het dus twee dae ná broer Russell se dood vergader en A. N. Pierson tot lid verkies. Die sewe lede van die direksie in daardie stadium was A. I. Ritchie, W. E. van Amburgh, H. C. Rockwell, J. D. Wright, I. F. Hoskins, A. N. Pierson en J. F. Rutherford. Die direksie van sewe lede het toe die Uitvoerende Komitee van drie verkies.
d Die sewe persone wat die meeste stemme op hulle verenig het tydens die jaarvergadering wat op 5 Januarie 1918 gehou is, was J. F. Rutherford, C. H. Anderson, W. E. van Amburgh, A. H. Macmillan, W. E. Spill, J. A. Bohnet en G. H. Fisher. Die drie ampsdraers is uit hierdie sewe direkteure gekies—J. F. Rutherford as president, C. H. Anderson as visepresident en W. E. van Amburgh as sekretaris-tesourier.
e Nog twee snydende traktate het gevolg. Kingdom News Nr. 2, van 15 April 1918, het ’n selfs kragtiger boodskap bevat onder die hoofopskrif “‘The Finished Mystery’, en waarom dit verbied is.” Toe het Kingdom News Nr. 3 vir Mei 1918 hierdie belangrike hoofopskrif gehad: “Twee groot oorloë woed—Die val van outokrasie wis en seker.”
f Nommers van Die Wagtoring is by vroeëre geleenthede gekombineer, maar dit is nie gedurende 1914-18 gedoen nie.
[Lokteks op bladsy 68]
Broer Rutherford het die teenstanders gevra om Bethel te verlaat
[Venster op bladsy 62]
“Party van ons was ’n bietjie oorhaastig”
Terwyl Oktober 1914 nader gekom het, het sommige van die Bybelstudente verwag dat hulle, as geesgesalfde Christene, hulle hemelse beloning aan die einde van die Heidense Tye sou ontvang. Dit word toegelig deur iets wat op 27-30 September 1914 by ’n byeenkoms van die Bybelstudente in Saratoga Springs, New York, gebeur het. A. H. Macmillan, wat 14 jaar tevore gedoop is, het Woensdag, 30 September, ’n toespraak gehou. Daarin het hy gesê: “Dit is waarskynlik die laaste openbare toespraak wat ek ooit sal hou omdat ons binnekort huis toe [hemel toe] sal gaan.”
Maar broer Macmillan is twee dae later (Vrydag, 2 Oktober) op goedige wyse in Brooklyn geterg, waar die byeenkomsgangers weer vergader het. C. T. Russell het van sy sitplek af aan die hooftafel aangekondig: “Ons gaan ’n paar veranderinge aan Sondag [4 Oktober] se program aanbring. Broer Macmillan sal ons Sondagoggend om 10:30 toespreek.” Die reaksie? Broer Macmillan het later geskryf: “Almal het lekker gelag, omdat hulle onthou het wat ek Woensdag in Saratoga Springs gesê het—my ‘laaste openbare toespraak’!”
“Wel”, het broer Macmillan verder gesê, “ek moes toe vinnig na iets soek om te sê. Ek het Psalm 74:9 gevind: ‘Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie.’ Dít was nou anders. Ek het in daardie toespraak aan die vriende probeer toon dat sommige van ons miskien ’n bietjie oorhaastig was toe ons gedink het dat ons dadelik hemel toe sal gaan, en dat ons eenvoudig besig moes bly in die Here se diens totdat hy besluit het wanneer enige van sy goedgekeurde knegte na hulle tuiste in die hemel geneem sou word.”
[Venster op bladsy 67]
J. F. Rutherford se agtergrond
Joseph Franklin Rutherford is op 8 November 1869 op ’n plaas in Morgan County, Missouri, VSA, as lid van ’n Baptistegesin gebore. Toe Joseph 16 was, het sy pa ingestem dat hy universiteit toe kon gaan om te studeer, op voorwaarde dat hy self vir sy studies sou betaal en vir ’n arbeider sou betaal om sy plek op die plaas in te neem. Joseph was ’n vasberade jong man en het ’n lening by ’n vriend gekry en daarin geslaag om universiteit toe te gaan en terselfdertyd in die regte te studeer.
Nadat broer Rutherford sy akademiese opleiding voltooi het, het hy twee jaar onder die mentorskap van regter E. L. Edwards deurgebring. Toe hy 20 was, het hy die amptelike hofverslaggewer van die howe van die Veertiende Regstreek in Missouri geword. Op 5 Mei 1892 het hy sy lisensie ontvang om ’n regspraktyk in Missouri te begin. Broer Rutherford het later vier jaar as staatsaanklaer in Boonville, Missouri, gewerk. Nog later het hy by geleentheid as ’n spesiale regter in die howe van die Agtste Regstreek van Missouri gedien. Dit is waarom hy as “regter” Rutherford bekend geword het.
Dit is interessant dat broer Rutherford ensiklopedieë van huis tot huis verkoop het om vir sy studies te help betaal. Dit was nie ’n maklike werk nie—hy is dikwels afgejak. By een geleentheid het hy amper gesterf toe hy in ’n ysige rivier geval het terwyl hy plase besoek het. Hy het homself belowe dat hy, wanneer hy ’n regspraktisyn is en enigiemand ooit na sy kantoor sou kom om boeke te verkoop, die boeke sou koop. Hy het sy woord gestand gedoen en drie dele van “Millennial Dawn” by twee kolporteurs geneem wat dit vroeg in 1894 by sy kantoor aangebied het. Hy het die boeke ’n paar weke later gelees en dadelik ’n brief aan die Wagtoringgenootskap geskryf waarin hy gesê het: “Ek en my dierbare vrou het hierdie boeke met groot belangstelling gelees, en ons beskou dit as ’n gawe van God en ’n groot seën dat ons die geleentheid gehad het om daarmee in aanraking te kom.” Joseph F. Rutherford is in 1906 gedoop, en ’n jaar later het hy die Wagtoringgenootskap se regsverteenwoordiger geword.
[Venster/Prent op bladsy 69]
‘Geen mense op aarde wat méér begunstig is nie’
J. F. Rutherford en etlike van sy intieme metgeselle is op 21 Junie 1918 tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hulle verkeerdelik skuldig bevind is aan sameswering. Hoe het hulle gevoel? Broer Rutherford het in ’n handgeskrewe nota (hieronder) van 22-23 Junie uit die Raymondstraat-gevangenis in Brooklyn, New York, geskryf: “Daar is vandag waarskynlik geen mense op aarde wat méér begunstig is en gelukkiger is as die sewe broeders wat nou in die gevangenis is nie. Hulle weet dat hulle glad nie aan ’n moedswillige misdryf skuldig is nie, en hulle is verheug dat hulle saam met Christus kan ly omdat hulle Hom lojaal dien.”
[Venster op bladsy 70]
Slagoffers van vervolging wat deur geestelikes aangestig is
J. F. Rutherford en sewe van sy metgeselle was teen die middel van 1918 in die gevangenis—die slagoffers van vervolging wat deur geestelikes aangestig is. Maar daardie agt mans was nie die enigste teikens van sulke haat nie. Tydens die vroeëre jare was dit hoofsaaklik C. T. Russell wat die skyf van aanvalle deur die geestelikes en die pers was. Nou was die Bybelstudente self slagoffers. “The Golden Age” (nou die “Ontwaak!”) van 29 September 1920 het ’n aanskoulike, omvattende verslag bevat oor die kwaai vervolging wat hulle in die Verenigde State verduur het. Dit het soos iets uit die dae van die Inkwisisie geklink.g Hier volg van die verslae wat daarin verskyn het:
“Claud Watson is op 22 April 1918 in Wynnewood, Oklahoma, gevange geneem en toe opsetlik uitgelewer aan ’n gepeupel wat uit predikers, sakemanne en ’n paar ander bestaan het. Hulle het hom platgeslaan, ’n neger gekry om hom met ’n sweep te slaan en hom, toe hy gedeeltelik bygekom het, weer met ’n sweep geslaan. Daarna het hulle teer en vere oor sy hele liggaam uitgegooi en die teer in sy hare en kopvel ingevryf.”
“W. B. Duncan, 61 jaar oud, Edward French, Charles Franke, ’n sekere mnr. Griffin en mev. D. van Hoesen is op 29 April 1918 in Walnut Ridge, Arkansas, gevange geneem. ’n Bende wat die walglikste, vuilste taal gebruik het, het by die gevangenis ingebreek en hulle met ’n sweep geslaan, hulle geteer en veer en hulle uit die dorp gejaag. Duncan was verplig om [42 km] huis toe te loop en het net-net herstel. Die aanval het mnr. Griffin feitlik blind gelaat en tot sy dood, ’n paar maande later, gelei.”
“S. H. Griffin is op 30 April 1918 . . . in Minerva, Ohio, gevange geneem en toe aan ’n gepeupel oorgelewer, waarna ’n predikant vyftien minute lank vir hom gepreek het. Toe is hy herhaaldelik geslaan, gevloek, geskop, getrap en gedreig dat hy opgehang of verdrink sal word. Daarna is hy uit die dorp gejaag, bespoeg, herhaaldelik gepootjie, herhaaldelik met ’n sambreel gesteek, verbied om te ry, [8 km] na Malvern, Ohio, gevolg, veiligheidshalwe in Carrollton weer gevange geneem en uiteindelik deur moedige en getroue amptenare huis toe geneem wat, nadat hulle sy lektuur bekyk het, met soveel woorde gesê het: ‘Ons vind geen skuld in hierdie man nie.’”
[Voetnoot]
g Bl. 712-17.
[Prente op bladsy 64]
Die 64-jarige Charles Taze Russell het op 31 Oktober 1916 op ’n trein in Pampa, Texas, gesterf; baie koerante het berigte oor die begrafnis geplaas
[Prent op bladsy 66]
J. F. Rutherford het ’n eerbiedwekkende voorkoms gehad. Hy was 1,88 meter lank en het ongeveer 102 kilogram geweeg
[Prent op bladsy 69]
Die Raymondstraat-gevangenis in Brooklyn, New York, waar broer Rutherford en ’n aantal van sy intieme metgeselle sewe dae lank aangehou is nadat hulle gevonnis is
[Prent op bladsy 71]
Thomas (Bud) Sullivan het die hoofkwartier in 1918 besoek en later op die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien