Hoofstuk 8
Verkondig die goeie nuus sonder ophou (1942-1975)
“AAN ALLE LIEFHEBBERS VAN DIE TEOKRASIE:
Op 8 Januarie 1942 het ons geliefde broeder, J. F. Rutherford, sy aardse loopbaan getrou voleindig . . . Vir hom was dit ’n vreugde en vertroosting om te sien en te weet dat al die getuies van die Here nie ’n mens nie, maar die Koning Christus Jesus volg as hulle Leier, en dat hulle in volkome eensgesindheid van optrede sal voortgaan in die werk.”—’n Brief wat die dood van broer Rutherford aangekondig het.a
DIE nuus van broer Rutherford se dood was ’n skok vir Jehovah se Getuies wêreldwyd. Baie het geweet dat hy siek was, maar hulle het nie verwag dat hy so gou sou sterf nie. Hulle was hartseer oor die verlies van hulle geliefde broer, maar hulle was vasbeslote om ‘voort te gaan in die werk’—die werk om God se Koninkryk te verkondig. Hulle het J. F. Rutherford nie as hulle leier beskou nie. Charles E. Wagner, wat saam met broer Rutherford gewerk het, het gesê: “Die broers het oor die algemeen vas geglo dat Jehovah se werk nie van enige mens afhang nie.” Daar was nogtans iemand nodig wat die verantwoordelikhede op hom kon neem wat broer Rutherford as president van die Wagtoringgenootskap gedra het.
‘Vasbeslote om digby die Here te bly’
Dit was broer Rutherford se hartgrondige wens dat Jehovah se Getuies die goeie nuus sonder ophou moes verkondig. Hy het dus in die middel van Desember 1941, etlike weke voor sy dood, vier direkteure van die twee vernaamste regskorporasies wat deur Jehovah se Getuies gebruik is, bymekaargeroep en voorgestel dat al die lede van die twee direksies so gou as moontlik ná sy dood saamgeroep word en dat ’n president en ’n visepresident verkies word.
Die middag van 13 Januarie 1942, net vyf dae ná broer Rutherford se dood, het al die direksielede van die twee korporasies saam by die Brooklynse Bethel vergader. Die Genootskap se visepresident, die 36-jarige Nathan H. Knorr, het ’n paar dae tevore voorgestel dat hulle met erns deur gebed en bepeinsing Goddelike wysheid moet soek. Die direksielede het besef dat die broer wat as president verkies sou word nie net beheer oor die regsake van die Wagtoringgenootskap sou uitoefen nie, maar ook as ’n hoofopsiener oor die organisasie sou dien. Wie het aan die nodige geestelike vereistes voldoen vir hierdie groot verantwoordelikheid om na Jehovah se werk om te sien? Die gesamentlike vergadering het met gebed geopen en ná noukeurige oorweging is broer Knorr eenparig as president van die twee korporasies verkies en die 30-jarige Hayden C. Covington, die Genootskap se regsverteenwoordiger, as visepresident.b
W. E. van Amburgh, die Genootskap se sekretaris-tesourier, het later daardie dag vir die Bethelgesin gesê wat die uitslag van die verkiesing was. R. E. Abrahamson, wat tydens daardie geleentheid teenwoordig was, het vertel wat broer Van Amburgh gesê het: ‘Ek kan nog onthou toe C. T. Russell gesterf het en deur J. F. Rutherford vervang is. Die Here het aangehou om Sy werk te rig en te seën. Ek het nou die volste vertroue dat die werk met Nathan H. Knorr as president sal vooruitgaan, want dit is die Here se werk en nie die werk van mense nie.’
Hoe het die Bethelgesin in Brooklyn oor die uitslag van die verkiesing gevoel? ’n Aandoenlike brief van hulle af, gedateer 14 Januarie 1942, die dag ná die verkiesing, antwoord: “Sy [broer Rutherford se] verandering [sal] ons nie vertraag in die verrigting van die taak wat die Here aan ons toegewys het nie. Ons is vasbeslote om digby die Here en bymekaar te bly, en die geveg ferm terug te dring na die poort toe en skouer aan skouer te veg. . . . Ons intieme omgang met broeder Knorr vir bykans twintig jaar . . . stel ons in staat om die Here se bestier in die keuse van broeder Knorr as president te waardeer en daardeur die liefdevolle wakende sorg van die Here oor sy volk.” Briewe en kabelgramme ter ondersteuning het spoedig uit alle wêrelddele by die hoofkwartier begin instroom.
Daar het geen onsekerheid geheers oor wat gedoen moes word nie. ’n Spesiale artikel is voorberei vir Die Wagtoring van 1 Junie 1942 (Engelse uitgawe, 1 Februarie 1942), dieselfde nommer wat die dood van J. F. Rutherford aangekondig het. “Die finale versameling deur die Here [is] aan die gang”, het dit gesê. “Laat niks vir een oomblik die voorwaartse kraginspanning van sy verbondsvolk in Sy diens onderbreek nie. . . . Om nou te volhard in ons onkreukbaarheid teenoor die almagtige God, is die ALLERBELANGRIKSTE saak.” Jehovah se Getuies is aangespoor om aan te hou om die goeie nuus ywerig te verkondig.
Maar dit was in die vroeë veertigerjare vir hulle ’n ware uitdaging om te ‘volhard in hulle onkreukbaarheid’. Die wêreldoorlog het steeds gewoed. Oorlogsbeperkinge in baie wêrelddele het dit vir Jehovah se Getuies moeilik gemaak om te preek. Die arrestasie van en gepeupelgeweld teen die Getuies het onverpoos voortgeduur. As die Genootskap se regsverteenwoordiger het Hayden Covington die regstryd aangevoer, soms vanuit sy kantoor by die hoofkwartier in Brooklyn en soms vanuit treine terwyl hy op reis was om regsake te behartig. Broer Covington het met plaaslike regspraktisyns soos Victor Schmidt, Grover Powell en Victor Blackwell saamgewerk en hard gestry vir die bevestiging van die grondwetlike reg van Jehovah se Getuies om van huis tot huis te preek en Bybellektuur te versprei sonder om deur plaaslike amptenare beperk te word.c
Die uitroep: “Vooruit”!
Ten spyte van die oorlogsrantsoenering van voedsel en petrol is daar vroeg in Maart 1942 bekend gemaak dat die Nuwe Wêreld- Teokratiese Byeenkoms op 18-20 September gehou sou word. Om vervoer te vergemaklik, is daar 52 byeenkomsstede oor die hele Verenigde State gekies, en baie van hulle is per telefoon met die sleutelstad, Cleveland, Ohio, verbind. Jehovah se Getuies het terselfdertyd in 33 ander stede dwarsdeur die wêreld bymekaargekom. Wat is met hierdie byeenkoms beoog?
‘Ons is nie hier vergader om oor die verlede te peins of oor wat enkelinge gedoen het nie’, het die voorsitter, broer Covington, in sy inleidingswoorde vir die openingsessie gesê. Toe het hy die programrede “Die enigste lig” aangekondig, wat op Jesaja hoofstukke 59 en 60 gegrond was en deur broer Franz gehou is. Die spreker het verwys na Jehovah se profetiese bevel wat deur Jesaja opgeteken is en op besielende wyse gesê: “Hier dan, is die uitroep ‘Vooruit’ van die Hoogste Gesag dat julle in sy getuienis[werk] moet volhard wat ook al gebeur voor Armageddon kom” (Jes. 6:1-12). Dit was nie die tyd om in die werk te verslap en te ontspan nie.
“Daar is nog werk wat gedoen moet word; baie werk!” het N. H. Knorr in die volgende toespraak op die program gesê. Om sy gehoor te help in hulle reaksie op die uitroep “Vooruit”, het broer Knorr die uitreiking van ’n uitgawe van die King James-vertaling van die Bybel aangekondig, wat op die Genootskap se eie drukperse gedruk is en ’n konkordansie bevat het wat spesiaal saamgestel is sodat Jehovah se Getuies dit in hulle veldbediening kon gebruik. Daardie uitreiking het broer Knorr se vurige belangstelling weerspieël om die Bybel te druk en te versprei. Trouens, nadat broer Knorr vroeër daardie jaar president van die Genootskap geword het, het hy gou gespeel om die drukkersregte vir hierdie vertaling te verkry en om die voorbereiding van die konkordansie en ander leermiddele te koördineer. Hierdie spesiale uitgawe van die King James Version was binne maande gereed vir vrystelling by die byeenkoms.
Broer Knorr het die laaste dag van die byeenkoms die toespraak “Vrede—Kan dit duur?” gehou. Daarin het hy kragtige bewys uit Openbaring 17:8 uiteengesit dat die Tweede Wêreldoorlog, wat destyds gewoed het, nie na Armageddon sou lei soos sommige gedink het nie, maar dat die oorlog sou eindig en dat ’n tydperk van vrede sou aanbreek. Daar was nog werk wat gedoen moes word om God se Koninkryk te verkondig. Daar is vir die byeenkomsgangers gesê dat die Genootskap van die volgende maand af “knegte vir die broers” sou stuur wat saam met die gemeentes sou werk en sou help om na die verwagte groei in die organisasie om te sien. Elke gemeente sou elke ses maande besoek word.
“Daardie Nuwe Wêreld- Teokratiese Byeenkoms het Jehovah se organisasie stewig saamgesnoer vir die werk wat voorgelê het”, sê Marie Gibbard, wat die byeenkoms saam met haar ouers in Dallas, Texas, bygewoon het. En daar was baie werk om te doen. Jehovah se Getuies het vooruitgekyk na die tydperk van vrede wat sou aanbreek. Hulle was vasbeslote om ondanks teenkanting en vervolging voort te gaan en die goeie nuus sonder ophou te verkondig!
’n Tydperk van intensiewer onderrigting
Hulle het die getuieniskaart en die grammofoon in hulle predikingswerk van huis tot huis gebruik, maar kon elke getuie van Jehovah sy vermoë verbeter om die redes vir sy hoop uit die Skrif te verduidelik? Die Genootskap se derde president, N. H. Knorr, het so gedink. C. James Woodworth, wie se vader jare lank die redakteur van The Golden Age en die Vertroosting was, het dit so gestel: “Waar die klem in broer Rutherford se tyd op ‘Religie is ’n strik en ’n bedrogspel’ geval het, het die tydperk van wêreldwye uitbreiding nou aangebreek, en onderrigting—Bybelse en organisatoriese onderrigting—is op ’n skaal begin wat tot dusver vir Jehovah se volk ongekend was.”
Die tydperk van onderrigting het byna onmiddellik aan die gang gekom. Op 9 Februarie 1942, ongeveer ’n maand ná N. H. Knorr as president van die Genootskap verkies is, is ’n verreikende aankondiging by die Brooklynse Bethel gedoen. Reëlings is by Bethel getref vir ’n Gevorderde Kursus in die Teokratiese Bediening—’n skool wat die broers in Bybelnavorsing en die openbare spreekkuns opgelei het.
Teen die volgende jaar was alles gereed sodat ’n soortgelyke skool in die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies gehou kon word. By die “Oproep tot Aksie”-Byeenkoms wat op 17 en 18 April 1943 deur die hele Verenigde State gehou is, is die boekie Course in Theocratic Ministry uitgereik. Alle gemeentes is aangespoor om met die nuwe skool te begin, en die Genootskap het instrukteurs aangestel om as voorsitters te dien en om nuttige raad te gee oor studentetoesprake wat gehou is deur manlike gemeentelede wat ingeskryf het. Die kursus is so gou moontlik vertaal en in ander lande ingestel.
Bekwame sprekers wat in hierdie bedieningskool opgelei is, kon gevolglik met ’n wêreldwye openbaretoespraak-kampanje begin om die Koninkryksboodskap te verkondig. Baie van hulle kon hulle opleiding later goed gebruik as byeenkomssprekers en om na belangrike organisatoriese verantwoordelikhede om te sien.
Onder hulle was Angelo C. Manera jr., wat sowat 40 jaar as reisende opsiener gedien het. Hy was een van die eerstes wat vir die skool in sy gemeente ingeskryf het, en hy het gesê: “Dié van ons wat baie jare lank sonder hierdie voorsiening die vergaderinge bygewoon en in die velddiens uitgegaan het, het besef dat dit ’n groot stap in ons persoonlike en organisatoriese vordering was.”
George Gangas, wat destyds ’n Griekse vertaler was, het later oor sy opleiding in die skool wat in 1942 by die Brooklynse Bethel ingestel is, gesê: “Ek kan nog die keer onthou toe ek my eerste toespraak van ses minute gehou het. Ek het nie selfvertroue gehad nie en het dit dus uitgeskryf. Maar toe ek dit moes hou, het plankevrees my beetgepak, en ek het gestotter en gemompel en vergeet wat ek wou sê. Toe het ek besluit om dit van die manuskrip af te lees. Maar my hande het so gebewe dat die reëls op en af gespring het!” Hy het nogtans nie opgegee nie. Hy het mettertyd toesprake voor groot byeenkomsgehore gehou en selfs as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien.
’n Skool wat op geloof gegrond is
Op 24 September 1942 is nog ’n groot stap vorentoe geneem in die tydperk van intensiewer onderrigting. By ’n gesamentlike vergadering van die direksies van die twee regskorporasies het broer Knorr voorgestel dat die Genootskap nog ’n skool stig en ’n gebou gebruik wat op Kingdom Farm in South Lansing, New York, 410 kilometer noordwes van New York-stad, opgerig is. Die doel van hierdie skool sou wees om sendelinge op te lei om in vreemde lande te dien waar daar ’n groot behoefte aan Koninkryksverkondigers was. Die voorstel is eenparig goedgekeur.
Albert D. Schroeder, wat toe 31 was, is as die registrateur aangestel en het as die voorsitter van die komitee gedien wat die nuwe skool moes organiseer. “Mensig, hoe het ons harte tog nie van vreugde oorgeloop toe ons van hierdie wonderlike nuwe toewysing gehoor het nie!” sê hy. Die instrukteurs het dadelik aan die werk gespring; hulle het net vier maande gehad om die kursusse op te stel, die lesings voor te berei en ’n biblioteek bymekaar te kry. “Die kursus van gevorderde Christelike onderrigting het oor 20 weke gestrek, en die Bybel was die vernaamste handboek”, verduidelik broer Schroeder, wat nou as ’n lid van die Bestuursliggaam dien.
Die eerste klas, met 100 studente, het op Maandag, 1 Februarie 1943, ’n koue wintersdag in noordelike New York, begin. Hier was ’n skool wat waarlik op geloof gegrond was. Te midde van die Tweede Wêreldoorlog was daar net ’n paar gebiede in die wêreld waarheen sendelinge gestuur kon word. Maar met die volle vertroue dat daar ’n tydperk van vrede sou wees waartydens hulle gebruik sou kon word, is aspirant-sendelinge opgelei.
Naoorlogse herorganisering
In Mei 1945 het die vyandelikhede van die Tweede Wêreldoorlog in Europa ten einde geloop. Vier maande later, in September, het die gevegte in die Stille Oseaan opgehou. Die Tweede Wêreldoorlog was verby. Op 24 Oktober 1945, ’n bietjie meer as drie jaar nadat die Genootskap se president die toespraak “Vrede—Kan dit duur?” gehou het, het die Handves van die Verenigde Nasies in werking getree.
Verslae oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies het reeds van Europa af begin deursypel. Die verkondiging van die Koninkryk het ondanks die oorlog in so ’n mate in Europese lande vooruitgegaan dat dit die broers en susters oor die hele wêreld verstom het. Die Wagtoring van 1 Januarie 1946 (Engelse uitgawe, 15 Julie 1945) het berig: “In 1940 het Frankryk 400 aankondigers gehad; nou is daar 1 100 wat van die Koninkryk praat. . . . In 1940 het Holland 800 aankondigers gehad. Vierhonderd van hulle is na konsentrasiekampe in Duitsland weggevoer. Die wat agtergelaat is, het van die Koninkryk gepraat. Die resultaat? In daardie land is daar nou 2 000 Koninkryksaankondigers.” Die oop deur van vryheid het nou geleenthede gebied vir die goeie nuus om nie net in Europa nie, maar oor die hele wêreld bekend gemaak te word. Maar daar moes eers baie rekonstruksie en herorganisering gedoen word.
Die Genootskap se president was gretig om te sien watter hulp Jehovah se Getuies in die oorloggeteisterde lande nodig gehad het, en hy en sy sekretaris, Milton G. Henschel, het in November 1945 ’n reis na Brittanje, Frankryk, Switserland, België, Nederland en Skandinawië onderneem om die broers te bemoedig en die Genootskap se takkantore te inspekteer.d Hulle doel was naoorlogse herorganisering. Reëlings is getref om lektuurvoorrade sowel as voedsel en klere aan die behoeftige broers te stuur. Takkantore is weer geopen.
Broer Knorr het terdeë besef dat goeie organisasie by die takkantore nodig was om tred te hou met die vooruitgang in die predikingswerk. Sy natuurlike organisasievernuf is ten volle gebruik om die Genootskap se takfasiliteite wêreldwyd uit te brei. Toe hy in 1942 president geword het, was daar 25 takkantore. Teen 1946 was daar ten spyte van die verbooie en struikelblokke van die Tweede Wêreldoorlog takkantore in 57 lande. Die aantal takkantore het oor die volgende 30 jaar, tot in 1976, tot 97 vermeerder.
Toegerus om onderrigters te wees
Die Genootskap se president kon na aanleiding van sy internasionale reise kort ná die oorlog sien dat Jehovah se Getuies beter toegerus moes word om onderrigters van God se Woord te wees. Verdere Bybelonderrig was nodig, asook geskikte instrumente wat in die veldbediening gebruik kon word. Daar is kort ná die oorlog in daardie behoeftes voorsien.
By die Blye Nasies- Teokratiese Byeenkoms wat van 4-11 Augustus 1946 in Cleveland, Ohio, gehou is, het broer Knorr die toespraak “Toegerus vir elke goeie werk” gehou. Die hele gehoor se belangstelling was gaande toe hy vrae gevra het soos: “Sal dit nie ’n wonderlike hulp wees om inligting te hê oor elk van die ses-en-sestig boeke van die Bybel nie? Sal dit ons nie help om die Skrif te verstaan as ons weet wie elke boek van die Bybel geskryf het? wanneer elke boek van die Bybel geskryf is? waar dit geskryf is nie?” Groot opgewondenheid het geheers toe hy daarna gesê het: “Broeders, julle het al daardie inligting en baie meer in die nuwe boek ‘Equipped for Every Good Work’!” Dawerende applous het op daardie aankondiging gevolg. Die nuwe publikasie sou dien as ’n handboek vir die bedieningskool wat in die gemeentes gehou is.
Jehovah se Getuies is nie net toegerus met ’n publikasie wat hulle ’n grondiger kennis van die Skrif sou gee nie, maar hulle het ook ’n paar uitstekende hulpmiddels vir gebruik in die veld ontvang. Die 1946-byeenkoms sal lank onthou word vir die uitreiking van die eerste nommer van die Ontwaak! Hierdie nuwe tydskrif het die Vertroosting vervang (wat voorheen as The Golden Age bekend gestaan het). Die boek “Laat God waaragtig wees”e is ook (in Engels) uitgereik. Henry A. Cantwell, wat later as ’n reisende opsiener gedien het, verduidelik: “Ons het lankal ’n groot behoefte aan ’n boek gehad wat met welslae gebruik kan word om Bybelstudies met belangstellendes te hou, ’n boek wat die basiese Bybelleerstellings en -waarhede bespreek. Nou, met die uitreiking van die boek ‘Laat God waaragtig wees’, het ons presies gekry wat ons nodig gehad het.”
Noudat Jehovah se Getuies met sulke kosbare leermiddele toegerus is, het hulle verdere, vinnige uitbreiding verwag. Toe broer Knorr die byeenkoms oor die onderwerp “Die probleme van herbouing en uitbreiding” toegespreek het, het hy verduidelik dat die getuieniswerk gedurende die oorlogsjare nie stilgestaan het nie. Die aantal Koninkryksverkondigers het van 1939 tot 1946 met byna 110 000 toegeneem. Die Genootskap het beplan om die fabriek en die Bethelhuis in Brooklyn te vergroot om in die groter wêreldwye vraag na Bybellektuur te voorsien.
Die verwagte tyd van wêreldvrede het begin. Die tydperk van wêreldwye uitbreiding en Bybelonderrig was goed op dreef. Jehovah se Getuies was ná die Blye Nasies- Teokratiese Byeenkoms beter toegerus as onderrigters van die goeie nuus.
Koninkryksverkondiging gaan met rasse skrede vooruit
Met die oog op wêreldwye uitbreiding het die Genootskap se president en sy sekretaris, Milton G. Henschel, op 6 Februarie 1947 op ’n diensreis van 76 916 kilometer om die wêreld vertrek. Die reis het hulle na die eilande van die Stille Oseaan, Nieu-Seeland, Australië, Suidoos-Asië, Indië, die Midde-Ooste, die Middellandse See-gebied, Sentraal- en Wes-Europa, Skandinawië, Engeland en Newfoundland geneem. Dit was die eerste keer sedert 1933 dat verteenwoordigers van die Genootskap se hoofkwartierpersoneel in Brooklyn hulle broers in Duitsland kon besoek. Jehovah se Getuies oor die hele wêreld het die twee reisigers gevolg aangesien verslae van die reis in 1947 en 1948 in nommers van Die Wagtoring gepubliseer is.f
“Dit was die eerste geleentheid wat ons gehad het om die broers in Asië en op ander plekke te leer ken en te sien wat hulle behoeftes is”, verduidelik broer Henschel, wat nou ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is. “Ons wou sendelinge uitstuur, en ons moes dus uitvind onder watter toestande hulle hulle sou bevind en wat hulle nodig sou hê.” Ná die reis is talle Gileadopgeleide sendelinge na vreemde lande gestuur om die leiding in die Koninkryksverkondigingswerk te neem. En die resultate was indrukwekkend. Gedurende die volgende vyf jaar (1947-52) het die aantal Koninkryksverkondigers meer as verdubbel, van 207 552 tot 456 265.
Die Teokrasie se vermeerdering
Die krygsmagte van die Demokratiese Volksrepubliek Korea het die Republiek van Korea op 25 Junie 1950 binnegeval. Eindelik is troepe uit 16 ander lande daarheen gestuur. Maar terwyl die oorlog groot nasies teen mekaar te staan gebring het, het Jehovah se Getuies voorberei vir ’n internasionale byeenkoms wat nie net van hulle wêreldwye eenheid sou getuig nie, maar ook van die feit dat Jehovah hulle met vermeerdering seën.—Jes. 60:22.
Die Teokrasie se Vermeerdering-Byeenkoms sou van 30 Julie tot 6 Augustus 1950 gehou word. Dit sou verreweg die grootste byeenkoms wees wat tot op daardie tydstip op een plek deur Jehovah se Getuies gehou is. Sowat 10 000 buitelandse byeenkomsgangers uit Europa, Afrika, Asië, Latyns-Amerika, die eilande van die Stille Oseaan—altesaam 67 verskillende lande—het na die Yankee-stadion in New York-stad gestroom. Die opkomshoogtepunt van meer as 123 000 vir die openbare toespraak—vergeleke met die hoogtepunt van 80 000 wat net vier jaar tevore die Blye Nasies- Teokratiese Byeenkoms bygewoon het—was op sigself ’n indrukwekkende bewys van die vermeerdering.
’n Belangrike faktor in die vermeerdering onder Jehovah se Getuies was die druk en verspreiding van God se Woord. ’n Mylpaal in hierdie verband is op 2 Augustus 1950 bereik toe broer Knorr die uitreiking van die New World Translation of the Christian Greek Scriptures in moderne Engels aangekondig het. Die byeenkomsgangers was verheug om te hoor dat hierdie nuwe vertaling die Goddelike naam Jehovah 237 keer van Mattheüs tot Openbaring in die hoofteks herstel het! Die spreker het ter afsluiting van sy toespraak hierdie besielende beroep op die mense gedoen: “Neem hierdie vertaling. Lees dit deur. Bestudeer dit, want dit sal jou help om ’n beter begrip van God se Woord te verkry. Versprei dit onder ander mense.” Ander dele sou oor die volgende dekade volg sodat Jehovah se Getuies eindelik ’n juiste, leesbare vertaling van die hele Bybel sou hê wat hulle met geesdrif by ander kon aanbied.
Die byeenkomsgangers is genooi om, voor hulle die byeenkomsstad verlaat, op ’n toer te gaan van die nuwe Bethelhoofkwartier te Columbia Heights 124 en die grootliks uitgebreide drukkery te Adamsstraat 117. Die nuwe fasiliteite wat met die geldelike hulp van Getuies van oor die hele wêreld gebou is, het die geweldige uitbreidingsprogram afgesluit wat by die Cleveland-byeenkoms van 1946 aangekondig en met geesdrif goedgekeur is. Min het Jehovah se Getuies toe geweet hoeveel uitbreiding daar nog sou wees, nie net in Brooklyn nie, maar dwarsdeur die wêreld. Meer en groter drukkerye sou nodig wees om die immer toenemende Koninkryksverkondigers van lektuur te voorsien.
Intensiewer opleiding in die huis-tot-huis-bediening
By die Nuwewêreldgemeenskap-Byeenkoms wat van 19-26 Julie 1953 in New York-stad gehou is, is Jehovah se Getuies van nuwe publikasies voorsien vir hulle eie gebruik en veral vir gebruik in die verkondiging van die Koninkryk van huis tot huis. Die uitreiking van “Make Sure of All Things” het byvoorbeeld dawerende applous uitgelok van die 125 040 wat Maandag, 20 Julie, teenwoordig was. Die sakformaatboek met 416 bladsye was ’n nuttige velddienshulpmiddel, aangesien dit meer as 4 500 tekste onder 70 hooftemas byeengebring het. Jehovah se Getuies se skriftuurlike antwoorde op vrae wat hulle in hulle bediening van huis tot huis teëgekom het, was nou geredelik beskikbaar.
Broer Knorr het Woensdagoggend gedurende die toespraak “Die belangrikste werk van alle knegte” nog ’n stap aangekondig in die voortgesette onderrigting van Jehovah se Getuies—’n uitgebreide huis-tot-huis-opleidingsprogram wat in alle gemeentes in werking gestel sou word. Die meer ervare verkondigers is gevra om dié met minder ervaring te help om gereelde, bekwame huis-tot-huis-verkondigers van die Koninkryk te word. Hierdie verreikende program het op 1 September 1953 in werking getree. Jesse L. Cantwell, ’n reisende opsiener wat deelgeneem het aan die opleidingswerk, het gesê: “Hierdie program het die verkondigers werklik gehelp om bekwamer te word.”
Gedurende die maande ná Julie 1953 is opvolgbyeenkomste, waartydens dieselfde program met plaaslike aanpassings aangebied is, op al vyf die kontinente gehou. Die intensiewer opleiding in die huis-tot-huis-bediening is dus in gemeentes van Jehovah se Getuies wêreldwyd begin. Die aantal Koninkryksverkondigers het daardie selfde jaar ’n hoogtepunt van 519 982 bereik.
Voorsiening in die behoeftes van die wêreldwye uitbreiding
Daar is in die middel-vyftigerjare verdere reëlings getref om met die snelle groei in die organisasie tred te hou. N. H. Knorr het meer as ’n dekade lank die wêreld deurreis om die werking van die takkantore te inspekteer. Hierdie reise het baie gehelp om te verseker dat daar behoorlike toesig oor die werk in elke land sou wees en om die wêreldwye eenheid van Jehovah se Getuies te versterk. Broer Knorr het die sendelinge en diegene wat in die takkantore in alle wêrelddele gewerk het baie liefgehad. Waar hy ook al gegaan het, het hy tyd opsygesit om met hulle oor hulle probleme en behoeftes te gesels en om hulle in hulle bediening aan te moedig. Maar in 1955 was daar 77 takkantore van die Wagtoringgenootskap en 1 814 Gileadopgeleide sendelinge wat in 100 verskillende lande gedien het. Omdat broer Knorr besef het dat dit meer was as wat hy kon behartig, het hy stappe gedoen om ander te betrek by hierdie belangrike werk om die takkantore en die sendinghuise te besoek.
Reëlings is getref om die aarde in tien sones te verdeel, en elke sone het ’n aantal van die Genootskap se takke ingesluit. Bekwame broers van die kantoor in Brooklyn en ervare takopsieners is as soneknegte (wat nou soneopsieners genoem word) aangestel en deur broer Knorr vir hierdie werk opgelei. Die eerste van hierdie soneknegte het hierdie nuwe diens om takkantore te besoek op 1 Januarie 1956 in werking gestel. In 1992 het meer as 30 broers, waaronder lede van die Bestuursliggaam, as soneopsieners gedien.
Onderrigting in die Goddelike wil
In die somer van 1958 het daar oorlog in die Midde-Ooste gedreig. Ten spyte van die spanning in internasionale verhoudinge het Jehovah se Getuies voorberei om vir ’n internasionale byeenkoms te vergader wat hulle verder in die Goddelike wil sou onderrig. Dit sou ook die grootste byeenkoms wees wat hulle in enige stad gehou het.
’n Hoogtepunt van 253 922 byeenkomsgangers uit 123 lande het New York-stad se Yankee-stadion en die Polo-terrein oorstroom vir die Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms wat van 27 Julie tot 3 Augustus gehou is. “Jehovah se Getuies kom by die stadionvol hier aan”, het New York se Daily News van 26 Julie 1958 gesê. “Buiten die twee gehuurde skepe en 65 gehuurde vliegtuie bring agt spesiale treine, 500 gehuurde busse en 18 000 motorklubs die lede hier aan.”
Gileadopgeleide sendelinge het die Genootskap ingelig oor die probleme wat hulle ondervind om mense Bybelwaarheid te leer wat nie met die opvattinge en leerstellings van die Christendom se kerke bekend is nie. As hulle maar net ’n publikasie kon hê wat die ware Bybelse leerstellings uiteensit en tog maklik sou wees om te lees en te verstaan! Tot die vreugde van die 145 488 byeenkomsgangers het broer Knorr Donderdagmiddag, 31 Julie, die uitreiking van die boek Van die verlore paradys tot die herwonne paradys (in Engels) aangekondig.
Broer Knorr het almal aangespoor om die nuwe boek in hulle veldbediening te gebruik. Hy het ook gesê dat ouers die boek nuttig sal vind om hulle kinders Bybelwaarheid te leer. Baie ouers het dit ter harte geneem. Grace A. Estep, ’n onderwyseres wat in ’n dorpie naby Pittsburgh, Pennsilvanië, grootgeword het, het gesê: “’n Hele geslag kinders het met die Paradys-boek in die hand grootgeword, aangesien hulle dit saam na die vergaderinge geneem het en dit vir hulle maatjies gewys het en hulle nog lank voor hulle kon lees al ’n hele klomp Bybelverhale kon oorvertel deur net na die prente te kyk.”
Dieper materiaal vir gevorderde studente van God se Woord is ook voorsien. Aan die einde van sy besielende toespraak “Laat u wil geskied” het broer Knorr die gehoor verheug toe hy die uitreiking van ’n nuwe boek “Laat u wil geskied op aarde” (in Engels) aangekondig het. Hierdie nuwe publikasie, wat ’n omvattende studie van die boek Daniël bevat, het sy lesers geleer hoe die Goddelike wil gedoen is en nou nog gedoen word. “Julle gaan hierdie boek geweldig baie geniet!” het die spreker gesê. Die reusegehoor van 175 441 het met dawerende applous uiting gegee aan hulle blydskap oor hierdie nuwe instrument wat hulle sou help om ’n groter waardering vir die Goddelike wil op te bou!
In sy slotopmerkinge het broer Knorr aangekondig dat daar nog spesiale onderrigtingsprogramme sou wees wat tot voordeel van die wêreldwye organisasie sou strek. “Die onderrigtingswerk neem nie af nie”, het broer Knorr gesê, “dit neem eerder toe.” Hy het die planne geskets vir die voorsiening van ’n opleidingskursus van 10 maande in Brooklyn vir opsieners van die Genootskap se takkantore oor die hele wêreld. Daar sou ook in baie lande rondom die wêreld opleidingskursusse van een maand vir reisende opsieners en opsieners in die gemeentes gehou word. Waarom al hierdie onderrigting? “Ons wil hoër vlakke van insig bereik”, het hy verduidelik, “sodat ons dieper kan delf in Jehovah se gedagtes soos hy hulle in sy Woord uiteengesit het.”
Die werk aan die studiekursusse vir hierdie opleidingsprogramme het onmiddellik begin. Die eerste klas van ’n nuwe skool, die Koninkryksbedieningskool, het sewe maande later, op 9 Maart 1959, in South Lansing, New York, die tuiste van die Gileadskool, begin. Dít wat hier begin is, het ander wêrelddele gou bereik namate die nuwe skool gebruik is om diegene op te lei wat opsieners in die gemeentes was.
Versterk om ‘vas te staan in die geloof’
Die mensegemeenskap is gedurende die sestigerjare verswelg deur ’n vloedgolf van godsdiens- en maatskaplike veranderinge. Geestelikes het gesê dat dele van die Bybel mites of outyds is. Die “God is dood”-ideologie het al hoe gewilder geraak. Die mensegemeenskap het al hoe dieper weggesak in die moeras van geslagsonsedelikheid. Jehovah se volk is deur Die Wagtoring en ander publikasies asook byeenkomsprogramme versterk om ‘vas te staan in die geloof’ gedurende daardie onstuimige dekade.—1 Kor. 16:13, NW.
Die toespraak, “Die Boek van ‘ewige goeie nuus’ is nuttig”, is gehou by ’n reeks byeenkomste wat wêreldwyd in 1963 gehou is en wat die Bybel teen die aanvalle van die kritici verdedig het. “Dit is nie vir kritici van die Bybel nodig om die aandag daarop te vestig dat dit blote mense is wat hierdie boek geskryf het nie”, het die spreker verduidelik. “Die Bybel self erken dit openlik. Maar wat hierdie boek anders maak as enige ander boek wat deur mense geskryf is, is die feit dat die Heilige Bybel deur ‘God geïnspireer is’” (2 Tim. 3:16, 17, NW). Hierdie besielende toespraak het gelei tot die uitreiking van die boek “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” (in Engels). Die nuwe publikasie het ’n bespreking van elke boek van die Bybel bevat en het die agtergrond van elke boek gegee, soos wie dit geskryf het, wanneer en waar dit geskryf is asook bewyse van die egtheid daarvan. Dan is daar ’n opsomming van die Bybelboek gegee, gevolg deur ’n deel “Waarom nuttig”, wat getoon het hoe hierdie spesifieke Bybelboek van groot nut vir die leser is. Hierdie publikasie was ’n waardevolle instrument in die voortgesette Bybelonderrigting van Jehovah se Getuies, en word sowat 30 jaar nadat dit uitgereik is steeds as ’n handleiding in die Teokratiese Bedieningskool gebruik!g
Die seksuele revolusie van die sestigerjare het ook ’n invloed op Jehovah se Getuies gehad. Trouens, etlike duisende—’n klein persentasie van hulle totaal—moes elke jaar uit die gemeente gesit word, en die meeste van hulle is weens geslagsonsedelikheid uitgesit. Jehovah se volk is dus met goeie rede reguit raad gegee by ’n reeks streekbyeenkomste wat in 1964 gehou is. Lyle Reusch, ’n reisende opsiener wat oorspronklik van Saskatchewan, Kanada, kom, onthou nog die toespraak “Hou die organisasie van openbare knegte rein, kuis”. Broer Reusch het gesê: “Openhartige, reguit taal het dinge verduidelik sonder om doekies om te draai.”
Die inhoud van die toespraak is in Die Wagtoring van 1 Februarie 1965 (Engelse uitgawe, 15 November 1964) gepubliseer. Dit het onder andere gesê: “Meisies, julle moet julle nie ’n vuil handdoek vir openbare gebruik maak, wat vir die vuil hande van enige hoereerder, enige simboliese ‘hond’ beskikbaar is nie.”—Vergelyk Openbaring 22:15.
Sulke reguit raad was daarop gemik om Jehovah se Getuies te help om as ’n volk in ’n rein sedelike toestand te bly sodat hulle kon aanhou om die Koninkryksboodskap te verkondig.—Vergelyk Romeine 2:21-23.
“Sê vir my, wat beteken hierdie 1975 dan?”
Die Getuies het lank geglo dat Christus se Duisendjarige Heerskappy ná 6 000 jaar van mensegeskiedenis sou volg. Maar wanneer sou 6 000 jaar van mensebestaan eindig? Die boek Die ewige lewe in die vryheid van die seuns van God, wat (in Engels) uitgereik is by ’n reeks streekbyeenkomste wat in 1966 gehou is, het na 1975 gewys. Die nuwe boek het daar by die byeenkoms al tot heelwat bespreking oor 1975 gelei terwyl die broers na die boek se inhoud gekyk het.
F. W. Franz het die slottoespraak by die byeenkoms in Baltimore, Maryland, gehou. Hy het met hierdie woorde begin: “Net voor ek op die verhoog gestap het, het ’n jong man na my toe gekom en gesê: ‘Sê vir my, wat beteken hierdie 1975 dan?’” Broer Franz het toe verwys na die baie vrae wat ontstaan het oor die materiaal in die nuwe boek en of dit bedoel het dat Armageddon teen 1975 verby en Satan gebind sou wees. Hy het in wese gesê: ‘Dit kan wees. Maar ons sê nie dit is so nie. Alle dinge is moontlik by God. Maar ons sê nie dit is so nie. En nie een van julle moet sê dit of dat gaan tussen nou en 1975 gebeur nie. Maar die belangrikste hiervan is, liewe vriende: Die tyd is kort. Die tyd raak ongetwyfeld min.’
Baie van Jehovah se Getuies het in die jare ná 1966 in ooreenstemming met die gees van daardie raad opgetree. Maar daar is ander verklarings oor hierdie onderwerp gepubliseer, en sommige hiervan was waarskynlik meer definitief as wat raadsaam was. Die Wagtoring van 1 Junie 1980 (bladsye 13-14) (Engelse uitgawe, 15 Maart 1980) het dit erken. Maar Jehovah se Getuies is ook gewaarsku om hulle hoofsaaklik daarop toe te lê om Jehovah se wil te doen en hulle nie te veel oor jaartalle en verwagtinge van ’n vroeë redding te bekommer nie.h
’n Instrument om die werk te bespoedig
Jehovah se Getuies het teen die einde van die sestigerjare die goeie nuus met ’n gevoel van afwagting en dringendheid verkondig. Die getal Koninkryksverkondigers het gedurende 1968 tot 1 221 504 in 203 lande gestyg. Dit was nogtans nie ongewoon vir sommige om die Bybel jare lank te bestudeer sonder om te handel volgens die kennis wat hulle opgedoen het nie. Was daar ’n manier waarop die dissipelmaakwerk bespoedig kon word?
Die antwoord het in 1968 gekom toe ’n nuwe Bybelstudiehulp, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe (in Engels), uitgereik is. Hierdie sakformaatboek met 192 bladsye is met belangstellendes in gedagte voorberei. Dit het 22 boeiende hoofstukke bevat wat gehandel het oor onderwerpe soos “Waarom dit verstandig is om jou godsdiens te ondersoek”, “Waarom ons oud word en sterf”, “Waar is die dode?” “Waarom het God goddeloosheid toegelaat tot op ons dag?” “Hoe om die ware godsdiens uit te ken” en “Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou”. Die Waarheid-boek is voorberei met die oog daarop om die Bybelstudent aan te moedig om te redeneer oor die materiaal wat bespreek is en dit in sy eie lewe toe te pas.
Hierdie nuwe publikasie sou vir ’n Bybelstudieprogram van ses maande gebruik word. Die Koninkryksbediening vir November 1968 het verduidelik hoe die nuwe program sou werk: “Dit sou goed wees om elke week ’n hele hoofstuk van die ‘Truth’-boek te probeer studeer hoewel dit miskien nie met alle huisbewoners of met al die hoofstukke in die boek moontlik sal wees nie. . . . As hulle teen die einde van ses maande van intensiewe studie en pligsgetroue pogings om hulle by vergaderinge te kry, nog nie met die gemeente assosieer nie, sal dit miskien die beste wees om jou tyd te gebruik om met iemand anders te studeer wat werklik die waarheid wil leer en vordering wil maak. Stel jou dit ten doel om die goeie nuus by Bybelstudies op so ’n wyse aan te bied dat belangstellendes binne ses maande daadwerklik sal optree!”
En hulle het opgetree! Daar is binne ’n kort tydjie verbasende welslae met die Bybelstudieprogram van ses maande bereik. Daar is vir die drie diensjare van 1 September 1968 tot 31 Augustus 1971 altesaam 434 906 mense gedoop—meer as twee maal soveel as wat gedurende die vorige drie diensjare gedoop is! Aangesien die Waarheid-boek en die Bybelstudieprogram van ses maande op ’n tydstip gekom het toe daar ’n gevoel van afwagting en dringendheid onder Jehovah se Getuies was, het dit baie gehelp om die dissipelmaakwerk te bespoedig.—Matt. 28:19.
“Dit moet werk; dit is van Jehovah afkomstig”
Die gemeentes van Jehovah se Getuies is baie jare lank georganiseer met een geestelik bekwame man wat deur die Genootskap as die gemeentekneg, of “opsiener”, aangestel is en deur ander aangestelde “knegte” gehelp isi (1 Tim. 3:1-10, 12, 13). Hierdie manne moes die kudde dien en nie oor hulle heers nie (1 Pet. 5:1-4). Maar kon die gemeentes nog meer in ooreenstemming met die struktuur van die eerste-eeuse Christengemeentes gebring word?
Die toespraak “Teokratiese organisasie te midde van demokrasieë en Kommunisme” is in 1971 tydens ’n wêreldwye reeks byeenkomste gehou. F. W. Franz het die toespraak op 2 Julie by die Yankee-stadion in New York-stad gehou. Daarin het hy gesê dat eerste-eeuse gemeentes meer as een opsiener gehad het wanneer daar genoeg bekwame manne beskikbaar was (Filip. 1:1). “Die groep opsieners in die gemeente”, het hy gesê, “sou ’n ‘liggaam van ouere manne’ uitmaak . . . Die lede van so ’n ‘liggaam [of raad] van ouere manne’ was almal gelyk, met dieselfde amptelike status, en geeneen van hulle was die belangrikste, die prominentste, die invloedrykste lid in die gemeente nie” (1 Tim. 4:14). Daardie toespraak het werklik die hele byeenkoms getref. Watter uitwerking sou hierdie inligting op die gemeentes van Jehovah se Getuies wêreldwyd hê?
Die antwoord het twee dae later gekom, in die slottoespraak wat deur N. H. Knorr gehou is. Veranderings met betrekking tot die toesig oor die gemeentes sou van 1 Oktober 1972 af wêreldwyd in werking tree. Daar sou nie meer net een gemeentekneg, of opsiener, wees nie. Maar gedurende die maande voor 1 Oktober 1972 sou verantwoordelike, ryp manne in elke gemeente die name van diegene wat aangestel kon word om as ’n liggaam van ouere manne te dien (en die name van diegene wat as bedieningsknegte kon dien) aan die Genootskap voorlê. Een van die ouere manne sou as voorsitter aangewys word,j maar al die ouere manne sou ewe veel gesag hê en die verantwoordelikheid deel om besluite te neem. “Hierdie organisasie-aanpassinge”, het broer Knorr verduidelik, “sal help om die werking van die gemeente in nouer ooreenstemming met Gods Woord te bring, en dit sal sekerlik groter seëninge van Jehovah ten gevolge hê.”
Hoe het die vergaderde byeenkomsgangers hierdie inligting oor die organisatoriese aanpassings ontvang? Een reisende opsiener het gesê: “Dit moet werk; dit is van Jehovah afkomstig.” Nog ’n ervare Getuie het bygevoeg: “Dit sal ’n aanmoediging wees vir alle ryp manne om verantwoordelikheid te aanvaar.” Ja, al die manne wat aan die vereistes voldoen het, kon nou na “’n opsienersamp” streef en daarin aangestel word (1 Tim. 3:1). ’n Groter aantal broers kon dus waardevolle ondervinding opdoen om gemeentelike verantwoordelikheid te dra. Hoewel hulle dit aanvanklik nie besef het nie, sou hulle almal nodig wees om herders te wees vir die groot getalle nuwelinge wat in die daaropvolgende jare sou instroom.
Die materiaal wat by die byeenkoms aangebied is, het ook tot sekere opklarings en aanpassings met betrekking tot die Bestuursliggaam gelei. Daar is op 6 September 1971 besluit dat die voorsitterskap van die Bestuursliggaam alfabeties onder sy lede sou roteer. F. W. Franz het ’n paar weke later, op 1 Oktober 1971, vir ’n jaar die voorsitter van die Bestuursliggaam geword.
Die daaropvolgende jaar, in September 1972, is daar begin om die verantwoordelikhede in die gemeentes vir die eerste keer te ruil, en teen 1 Oktober het die rotasie reeds in die meeste gemeentes plaasgevind. Gedurende die volgende drie jaar het daar ’n geweldige groei in die geledere van Jehovah se Getuies plaasgevind—meer as ’n drie kwart miljoen mense is gedoop. Maar nou het hulle voor die herfs van 1975 gestaan. Hoe sou dit hulle ywer vir die wêreldwye predikingsbedrywigheid sowel as hulle wêreldwye eenheid raak indien al die verwagtinge ten opsigte van 1975 nie verwesenlik is nie?
Nathan H. Knorr, ’n man met ’n dinamiese persoonlikheid en ’n voortreflike organisasievermoë, het ook dekades lank ’n sleutelrol gespeel om onderrigting in die organisasie te bevorder en om die Bybel in die hande van mense te kry en hulle te help om dit te verstaan. Hoe sou die verandering na meer regstreekse toesig deur die Bestuursliggaam hierdie doelwitte beïnvloed?
[Voetnote]
a Die Wagtoring, 1 Junie 1942, bl. 11 (Engelse uitgawe, 1 Februarie 1942); Vertroosting (Engelse uitgawe), 4 Februarie 1942, bl. 17.
b Broer Covington het in September 1945 nederig as visepresident van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap (van Pennsilvanië) bedank met die verduideliking dat hy hom wil skik na wat destyds as Jehovah se wil vir alle direkteure en ampsdraers verstaan is—dat hulle geesgesalfde Christene moet wees, terwyl hy gesê het dat hy een van die “ander skape” is. Lyman A. Swingle is op 1 Oktober as direksielid verkies en Frederick W. Franz is op 5 Oktober as visepresident gekies. (Sien die 1946 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bl. 221-4; Die Wagtoring [Engelse uitgawe], 1 November 1945, bl. 335-6.)
c Sien Hoofstuk 30: “Die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus.”
d Breedvoerige verslae van die reis het gedurende 1946 in Die Wagtoring verskyn.—Sien bladsye 158-60, 173-6, 189-92, 220-4, 238-40, 268-72 (Engelse uitgawe, bladsye 14-16, 28-31, 45-8, 60-4, 92-5, 110-12, 141-4).
e Binne ’n paar jaar het hierdie Bybelstudiehulpmiddel in alle wêrelddele bekend geword. Sedert die hersiene uitgawe op 1 April 1952 (in Engels) uitgereik is, is meer as 19 000 000 eksemplare in 54 tale gedruk.
f Sien bladsye 252-6; 299-304; 317-20; 333-6; 347-50; 364-8; 379-84 van Die Wagtoring vir 1947 en bladsye 11-16; 44-7; 59-64; 77-80; 123-6 van Die Wagtoring vir 1948. (Sien Engelse uitgawe vir 1947, bladsye 140-4, 171-6, 189-92, 205-8, 219-23, 236-40, 251-6, 267-72, 302-4, 315-20, 333-6, 363-8.)
g Die boek “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” is in 1990 bygewerk en in Afrikaans uitgegee.
h Die volgende artikels het byvoorbeeld in Die Wagtoring verskyn: “Maak verstandige gebruik van die tyd wat oor is” (15 Julie 1968 [Engelse uitgawe, 1 Mei 1968]); “Dien met die ewigheid in die vooruitsig” (1 September 1974 [Engelse uitgawe, 15 Junie 1974]); “Waarom ‘die dag en die uur’ nie vir ons gesê is nie” en “Watter uitwerking het dit op jou dat jy nie ‘die dag en die uur’ weet nie?” (15 Julie 1975 [Engelse uitgawe, 1 Mei 1975]). Die boek Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig (in Engels) het vroeër, in 1963, gesê: “Dit het geen nut om Bybelchronologie te gebruik vir spekulasie oor jaartalle wat nog toekomstig in die tydstroom is nie.—Matt. 24:36.”
i Sien Hoofstuk 15: “Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur.”
j Die spreker het ook verduidelik dat daar van 1 Oktober 1972 af ’n jaarlikse rotasie van voorsitterskap in elke gemeente se liggaam van ouere manne sou wees. Hierdie reëling is in 1983 aangepas toe elke liggaam van ouere manne gevra is om ’n presiderende opsiener aan te beveel wat, nadat hy deur die Genootskap aangestel is, ’n onbepaalde tyd lank as die voorsitter van die liggaam van ouere manne sou dien.
[Lokteks op bladsy 92]
Hulle preek ten spyte van arrestasies en gepeupelgeweld
[Lokteks op bladsy 94]
‘Wêreldwye uitbreiding en onderrigting op ’n ongekende skaal’
[Lokteks op bladsy 103]
Die Bybel word teen die aanval van kritici verdedig
[Lokteks op bladsy 104]
‘Die belangrikste hiervan is, liewe vriende: Die tyd is kort’
[Lokteks op bladsy 106]
“Dit sal ’n aanmoediging wees vir alle ryp manne om verantwoordelikheid te aanvaar”
[Venster op bladsy 91]
Agtergrond van N. H. Knorr
Nathan Homer Knorr is op 23 April 1905 in Bethlehem, Pennsilvanië, VSA, gebore. Toe hy 16 was, het hy met die Allentown-gemeente van Bybelstudente begin assosieer. In 1922 het hy die byeenkoms in Cedar Point, Ohio, bygewoon, waar hy besluit het om uit die Hervormde Kerk te bedank. Die daaropvolgende jaar, op 4 Julie 1923, nadat Frederick W. Franz van die Brooklynse Bethel ’n dooptoespraak gehou het, was die 18-jarige Nathan onder diegene wat in die Little Lehigh-rivier in Oos-Pennsilvanië gedoop is. Broer Knorr het op 6 September 1923 ’n lid van die Bethelgesin in Brooklyn geword.
Broer Knorr het hom ywerig toegelê op sy werk in die Versendingsafdeling, en sy natuurlike organisasievermoë is gou raakgesien. Toe die Genootskap se fabrieksbestuurder, Robert J. Martin, op 23 September 1932 gesterf het, is broer Knorr in sy plek aangestel. Broer Knorr is op 11 Januarie 1934 verkies as ’n direkteur van die Peoples Pulpit Association (nou die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.), en die daaropvolgende jaar is hy as die visepresident van die vereniging aangestel. Op 10 Junie 1940 het hy die visepresident van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap (Pennsilvanië-korporasie) geword. Hy is in Januarie 1942 as president van albei genootskappe en van die Britse korporasie, die International Bible Students Association, verkies.
In die daaropvolgende jare was Frederick W. Franz een van broer Knorr se intiemste metgeselle en betroubaarste raadgewers, iemand wat ouer as hy was en wie se kennis van tale en agtergrond as ’n Bybelkenner die Genootskap reeds tot groot nut gestrek het.
[Venster op bladsy 93]
’n Bemoedigende toekomsblik
Byeenkomsgangers by die Nuwe Wêreld- Teokratiese Byeenkoms in Cleveland, Ohio, in September 1942, was verheug toe die bejaarde sekretaris-tesourier van die Genootskap, W. E. van Amburgh, die byeenkoms toegespreek het. Broer Van Amburgh het gesê dat die eerste byeenkoms wat hy bygewoon het die een in 1900 in Chicago was, en dat dit ’n ‘grote’ was—ongeveer 250 het dit bygewoon. Nadat hy nog “groot” byeenkomste opgenoem het wat oor die jare gehou is, het hy met hierdie bemoedigende toekomsblik afgesluit: “Hierdie byeenkomsk lyk nou vir ons groot, maar soos hierdie byeenkoms groot is in vergelyking met die byeenkomste wat ek in die verlede bygewoon het, verwag ek dat hierdie byeenkoms baie klein sal wees in vergelyking met dié wat in die nabye toekoms gehou gaan word wanneer die Here sy volk uit die uithoeke van die aarde begin versamel.”
[Voetnoot]
k ’n Hoogtepunt van 26 000 het die byeenkoms in Cleveland bygewoon, en altesaam 129 699 het in die 52 byeenkomsstede dwarsdeur die Verenigde State vergader.
[Venster/Kaarte op bladsy 96]
N. H. Knorr se diensreise, 1945-56
1945-46: Noord-Amerika, Sentraal-Amerika, Suid-Amerika, Europa, die Karibiese Eilande
1947-48: Noord-Amerika, Eilande van die Stille Oseaan, die Ooste, die Midde-Ooste, Europa, Afrika
1949-50: Noord-Amerika, Sentraal-Amerika, Suid-Amerika, die Karibiese Eilande
1951-52: Noord-Amerika, Eilande van die Stille Oseaan, die Ooste, Europa, die Midde-Ooste, Afrika
1953-54: Suid-Amerika, die Karibiese Eilande, Noord-Amerika, Sentraal-Amerika
1955-56: Europa, Eilande van die Stille Oseaan, die Ooste, Noord-Amerika, die Midde-Ooste, Noord-Afrika
[Kaarte]
(Sien publikasie)
[Venster op bladsy 105]
“Vandag het ek weer begin dink”
Die boek “Die waarheid wat lei tot die ewige lewe” wat in 1968 (in Engels) uitgereik is, is allerweë deur Jehovah se Getuies gebruik om die Bybel met belangstellendes te studeer. Hierdie tydige voorsiening het honderdduisende denkende mense gehelp om ’n juiste kennis van die Bybel te verkry. ’n Brief van waardering wat in 1973 van ’n leser in die Verenigde State ontvang is, het gesê: “’n Baie gawe dame het vandag by my deur aangeklop en vir my ’n boek met die titel ‘Die waarheid wat lei tot die ewige lewe’ gegee. Ek het dit so pas klaar gelees. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek 190 bladsye van enigiets op een dag gelees het. Op 29 Junie 1967 het ek opgehou om aan God te glo. Vandag het ek weer begin dink.”
[Prent op bladsy 95]
Gileadskool in South Lansing, New York
[Prent op bladsy 97]
Broer Knorr, hier op besoek aan Kuba, het die wêreld talle kere deurreis
[Prente op bladsy 98]
Broer Knorr het gemeen dat elke Getuie van huis tot huis moet kan preek
Engeland
Libanon
[Prent op bladsy 99]
Broer Knorr het, as president van die Genootskap, meer as 35 jaar nou met broer Franz saamgewerk
[Prent op bladsy 100]
Direksie van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania in die middel-vyftigerjare. (Van links na regs) Lyman A. Swingle, Thomas J. Sullivan, Grant Suiter, Hugo H. Riemer, Nathan H. Knorr, Frederick W. Franz, Milton G. Henschel
[Prente op bladsy 102]
Byeenkomsgangers uit 123 lande het in 1958 in die Yankee-stadion vir die Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms bymekaargekom
[Prente op bladsy 107]
Publikasies om Jehovah se Getuies vir die bediening op te lei
[Prent op bladsy 107]
Sommige van die publikasies wat in die veldbediening gebruik is
[Prent op bladsy 107]
Publikasies wat vaste voedsel voorsien het om Jehovah se volk geestelik te versterk
[Prent op bladsy 107]
Navorsings- en studiehulpe