Hoofstuk 14
“Hulle is geen deel van die wêreld nie”
HEDENDAAGSE godsdiens is oor die algemeen onteenseglik ’n deel van die wêreld, en hy neem dus deel aan die wêreld se vieringe en weerspieël sy nasionalistiese gees. Sy geestelikes erken hierdie feit dikwels, en baie van hulle wil dit so hê. Jesus het in skerp teenstelling hiermee van sy ware volgelinge gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos Ek geen deel van die wêreld is nie.”—Joh. 17:16, NW.
Wat toon die verslag in hierdie verband oor Jehovah se Getuies? Het hulle oortuigende bewys gelewer dat hulle geen deel van die wêreld is nie?
Gesindheid teenoor hulle medemens
Die vroeë Bybelstudente was deeglik daarvan bewus dat Christene geen deel van die wêreld moet wees nie. Die Wagtoring het verduidelik dat Christus se gesalfde volgelinge geheilig en deur die heilige gees verwek is sodat hulle deel van die hemelse Koninkryk kon uitmaak en dat God hulle hierdeur van die wêreld afgeskei het. Daarbenewens het dit getoon dat hulle verplig is om die gees van die wêreld—sy doelwitte, ideale en verwagtinge sowel as sy selfsugtige weë—te vermy.—1 Joh. 2:15-17.
Het dit die Bybelstudente se gesindheid verander teenoor mense wat nie dieselfde oortuigings as hulle gehad het nie? Dit het beslis nie van hulle kluisenaars gemaak nie. Maar diegene wat waarlik toegepas het wat hulle uit die Skrif geleer het, het nie met wêreldse mense omgegaan in die mate dat hulle hulle lewenswyse gedeel het nie. Die Wagtoring het die aandag van God se knegte op die Bybelraad gevestig om ‘aan almal goed te doen’. Dit het ook gesê dat hulle, wanneer hulle vervolg word, daarna moet strewe om wraakgevoelens te vermy en eerder, soos Jesus gesê het, hulle ‘vyande moet liefhê’ (Gal. 6:10; Matt. 5:44-48). Dit het hulle veral aangemoedig om die kosbare waarheid aangaande God se voorsiening vir redding aan ander te verkondig.
Dit is verstaanbaar dat die wêreld hulle as anders sou beskou omdat hulle hierdie dinge gedoen het. Maar om geen deel van die wêreld te wees nie, behels meer—baie meer.
Afgeskeie en verskillend van Babilon die Grote
As hulle geen deel van die wêreld wou wees nie, moes hulle geen deel wees van die godsdiensstelsels wat so diep betrokke was by die aangeleenthede van die wêreld en wat leerstellings en gebruike van eertydse Babilon, die ou vyand van ware aanbidding, oorgeneem het nie (Jer. 50:29). Toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het die Bybelstudente reeds dekades lank die heidense oorsprong blootgelê van die Christendom se leerstellings soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die mensesiel en die helse vuur. Hulle het ook die kerke se rekord blootgelê deur te toon hoe hulle probeer het om regerings om hulle eie selfsugtige redes te manipuleer. Die Bybelstudente het die Christendom vanweë sy leerstellings en gebruike met “Babilon die Grote” geïdentifiseer (Openb. 18:2, NW). Hulle het daarop gewys dat die Christendom waarheid met valsheid vermeng, louwarm Christelikheid met openlike wêreldsheid, en dat die Bybelse benaming “Babilon” (wat “Verwarring” beteken) daardie toestand goed beskryf. Hulle het liefhebbers van God aangespoor om uit “Babilon” uit te gaan (Openb. 18:4). Daarom het hulle aan die einde van Desember 1917 en aan die begin van 1918 10 000 000 eksemplare versprei van The Bible Students Monthly met die artikel “Die val van Babilon”, wat ’n kragtige blootlegging van die Christendom was. Dit het op sy beurt gelei tot die bittere vyandigheid aan die kant van die geestelikes, wat die oorlogshisterie gebruik het in ’n poging om die werk van Jehovah se Getuies tot niet te maak.
Om uit Babilon die Grote uit te gaan, het noodwendig beteken dat mense moes bedank as lidmate van organisasies wat haar valse leerstellings verkondig het. Die Bybelstudente het dit gedoen, hoewel hulle kerklidmate wat beweer het dat hulle hulle ten volle toegewy het en geloof in die losprys stel baie jare lank as Christenbroers beskou het. Die Bybelstudente het nietemin nie net briewe geskryf dat hulle uit die Christendom se kerke bedank nie, maar, wanneer moontlik, het sommige hulle briewe voorgelees by kerkvergaderinge waar lidmate hulle sê kon sê. Wanneer dit nie moontlik was nie, het hulle ’n afskrif van hulle bedankingsbrief—’n vriendelike brief wat ’n gepaste getuienis bevat het—aan elke gemeentelid gestuur.
Het hulle ook seker gemaak dat hulle niks van die goddelose gebruike van daardie organisasies met hulle saamneem nie? Wat was die situasie gedurende die tydperk voor die Eerste Wêreldoorlog?
Moet godsdiens hom met die politiek bemoei?
In die politieke arena het heersers van baie van die leidende nasies lank vanweë hulle verbondenheid aan ’n Katolieke of Protestantse kerk beweer dat hulle ‘deur die Goddelike reg van konings’ as verteenwoordigers van die Koninkryk van God en met spesiale vergunning van God regeer. Die kerk het sy seën oor die regering uitgespreek; die regering het op sy beurt sy steun aan die kerk gegee. Het die Bybelstudente dit ook gedoen?
Pleks van die kerke van die Christendom na te volg, het hulle daarna gestrewe om uit die leerstellings en voorbeeld van Jesus Christus en sy apostels te leer. Wat het hulle studie van die Bybel vir hulle getoon? Van die vroeë Wagtoringpublikasies het getoon dat hulle daarvan bewus was dat Jesus, toe hy deur die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus ondervra is, gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” Jesus het in reaksie op ’n vraag oor sy rol vir die goewerneur gesê: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig” (Joh. 18:36, 37). Die Bybelstudente het geweet dat Jesus daardie toewysing onversetlik uitgevoer het. Toe die Duiwel hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid aangebied het, het hy dit geweier. Toe die mense hom koning wou maak, het hy weggegaan (Matt. 4:8-10; Joh. 6:15). Die Bybelstudente het nie by die feit probeer verbykom dat Jesus na die Duiwel as “die owerste van die wêreld” verwys het en gesê het dat die Duiwel ‘geen mag oor hom het nie’ (Joh. 14:30, NAV). Hulle kon sien dat Jesus nie betrokkenheid by Rome se politieke stelsel vir hom of sy volgelinge gesoek het nie, maar dat hy hom ten volle besig gehou het met die verkondiging van “die evangelie van die koninkryk van God”.—Luk. 4:43.
Het die feit dat hulle hierdie dinge geglo het wat in God se Woord opgeteken is minagting vir regeringsgesag aangemoedig? Glad nie. Dit het hulle eerder gehelp om te verstaan waarom die probleme waarmee heersers te kampe het so oorweldigend is, waarom daar soveel wetteloosheid is en waarom regeringsprogramme om die lot van mense te verbeter dikwels misluk. Hulle geloof het daartoe gelei dat hulle ten spyte van ontberinge geduldig gebly het, omdat hulle die vertroue gehad het dat God op sy bestemde tyd blywende verligting deur middel van sy Koninkryk sou bring. Hulle het destyds verstaan dat “die hoër magte” waarvan Romeine 13:1-7 (KJ) praat die sekulêre regeerders is. Hulle het mense dienooreenkomstig aangespoor om regeringsamptenare te respekteer. Waar C. T. Russell Romeine 13:7 in die boek The New Creation (wat in 1904 verskyn het) bespreek het, het hy gesê dat ware Christene “natuurlik die opregste sal wees wat hulle erkenning van die grotes van hierdie wêreld betref, en die gehoorsaamste aan die wette en die vereistes van die wet, behalwe waar dit met die hemelse vereistes en gebooie bots. Min, indien enige, aardse regeerders in ons dag sal sê dat dit verkeerd is om erkenning aan ’n oppermagtige Skepper te verleen en die hoogste eerbied vir sy gebooie te hê. [Ware Christene] moet dus onder die mees wetsgehoorsame mense van ons dag wees—nie onrusstokers, bakleiers of klaers nie.”
As Christene het die Bybelstudente geweet dat hulle hulle aan die verkondiging van die Koninkryk van God moes wy. En, soos daardie eerste deel van Studies in the Scriptures gesê het: “As dit getrou gedoen word, sal daar nie die tyd of die neiging wees om jou met die politiek van die huidige regerings te bemoei nie.”
Hulle was in hierdie opsig in ’n groot mate soos daardie vroeë Christene wat deur Augustus Neander in die boek The History of the Christian Religion and Church, During the Three First Centuries beskryf is: “Die Christene was afsydig teenoor en afgeskeie van die staat, . . . en daar moet toegegee word dat die Christelike godsdiens die burgerlike lewe oënskynlik slegs op die suiwerste wyse kon beïnvloed, deur daadwerklik daarna te streef om al hoe meer vroomheid by die burgers van die staat in te skerp.”
Toe die oorlog uitgebreek het
Die gebeure van die Eerste Wêreldoorlog het die bewering van diegene wat gesê het dat hulle Christene is wêreldwyd kwaai getoets. Dit was die afgryslikste oorlog wat tot op daardie tydstip gevoer is; byna die hele wêreldbevolking was op die een of ander manier daarby betrokke.
Hoewel die Vatikaan se simpatie by die Sentrale Moondhede gelê het, het pous Benedictus XV probeer om ’n skyn van neutraliteit te bewaar. Maar die Katolieke sowel as die Protestantse geestelikes van elke nasie het glad nie so ’n neutrale standpunt ingeneem nie. Dr. Ray Abrams het in sy boek Preachers Present Arms oor die situasie in die Verenigde State geskryf: “Die kerke was nog nooit in die geskiedenis só verenigd nie. . . . Die leiers het geen tyd verkwis om op ’n oorlogsgrondslag deeglik georganiseerd te raak nie. Binne vier-en-twintig uur ná die oorlogsverklaring het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika planne beraam vir die volste samewerking. . . . Die Rooms-Katolieke Kerk, wat ’n soortgelyke diens onder die Nasionale Katolieke Oorlogsraad onder leiding van veertien aartsbiskoppe en met kardinaal Gibbons as voorsitter gereël het, was net so toegewy aan die oorlogsaak. . . . Baie van die kerke het baie meer gedoen as wat daar van hulle gevra is. Hulle het werwingskantore geword vir die inskryf van rekrute.” Wat het die Bybelstudente gedoen?
Hoewel hulle probeer doen het wat hulle gedink het God sou behaag, het hulle nie altyd ’n streng neutraliteit gehandhaaf nie. Hulle optrede is beïnvloed deur die opvatting, wat dieselfde was as dié van ander belydende Christene, dat “die hoër magte deur God ingestel is”, volgens die bewoording van die King James Version (Rom. 13:1). Daarom het Die Wagtoring die Bybelstudente, in reaksie op ’n proklamasie van die president van die Verenigde State, aangespoor om 30 Mei 1918 as ’n dag van gebed en smeking oor die uitslag van die wêreldoorlog te maak.a
Die individuele Bybelstudente het hulle gedurende die oorlogsjare in verskillende omstandighede bevind. Hulle het ook verskillend in hierdie situasies opgetree. Omdat hulle verplig gevoel het om ‘die magte wat daar is’, soos hulle van die sekulêre heersers gepraat het, te gehoorsaam, het sommige met gewere en bajonette na die loopgrawe aan die front gegaan. Maar met die oog op die teks “Jy mag nie doodslaan nie”, het hulle hulle wapens in die lug afgevuur of eenvoudig probeer om die wapens uit die hande van hulle teenstanders te slaan (Ex. 20:13). ’n Paar, soos Remigio Cuminetti, in Italië, het geweier om ’n militêre uniform te dra. Die Italiaanse regering het destyds geen toegewing gemaak vir enigiemand wat weens gewetensbeswaar nie die wapen wou opneem nie. Hy is vyf keer in die hof verhoor en is in gevangenisse en ’n sielsieke-inrigting opgesluit, maar sy geloof en vasbeslotenheid was onwankelbaar. In Engeland is sommige wat om vrystelling gevra het, beveel om werk van staatsbelang te doen of by ’n nie-strydende korps aan te sluit. Ander, soos Pryce Hughes, het ’n streng neutrale standpunt ingeneem, ongeag wat die gevolge vir hulleself sou wees.
Die Bybelstudente se optrede het, ten minste op daardie tydstip, nie heeltemal ooreengestem met dié van die vroeë Christene nie, wat soos volg in The Rise of Christianity, deur E. W. Barnes, beskryf is: “’n Noukeurige hersiening van al die beskikbare informasie toon dat geen Christen tot op die tyd van Marcus Aurelius [Romeinse keiser van 161 tot 180 G.J.] ’n soldaat geword het nie; en dat geen soldaat, nadat hy ’n Christen geword het, in krygsdiens gebly het nie.”
Maar toe, met die afloop van die Eerste Wêreldoorlog, het nog ’n situasie ontstaan wat van godsdiensgroepe vereis het om te toon aan wie hulle lojaal is.
’n Politieke beliggaming van die Koninkryk van God?
’n Vredesverdrag, wat die Handves van die Volkebond ingesluit het, is op 28 Junie 1919 in Versailles, Frankryk, onderteken. Selfs voor daardie vredesverdrag onderteken is, het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika verklaar dat die Bond “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” is. En die Amerikaanse Senaat het ’n groot klomp briewe van godsdiensgroepe af ontvang wat hulle aangespoor het om die Handves van die Volkebond te bekragtig.
Jehovah se Getuies het nie met die stroom saamgegaan nie. J. F. Rutherford het op 7 September 1919, nog voor die vredesverdrag (in Oktober) bekragtig is, ’n toespraak in Cedar Point, Ohio, gehou waarin hy getoon het dat nie die Volkebond nie, maar die Koninkryk wat deur God self opgerig is die enigste hoop vir die lydende mensdom is. Daardie Bybelstudente het erken dat ’n menslike bondgenootskap om toestande te verbeter baie goeie dinge kon verrig, maar hulle het nie God se Koninkryk verruil vir ’n politieke organisasie wat deur politici opgerig en deur die geestelikes geseën is nie. Hulle het eerder die taak aangepak om ’n wêreldwye getuienis te gee oor die Koninkryk wat God in die hande van Jesus Christus geplaas het (Openb. 11:15; 12:10). In Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Julie 1920 is daar verduidelik dat dit die werk was wat Jesus in Mattheüs 24:14 voorspel het.
Die Christene het ná die Tweede Wêreldoorlog weer eens voor so ’n geskil te staan gekom. Hierdie keer was dit die Verenigde Nasies, die opvolger van die Volkebond. In 1942, terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog aan die gang was, het Jehovah se Getuies reeds in die Bybel, in Openbaring 17:8, gesien dat dié organisasie vir wêreldvrede weer sou opkom en ook dat dit nie blywende vrede sou bring nie. N. H. Knorr, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, het dit verduidelik in ’n byeenkomstoespraak “Vrede—Kan dit duur?” Jehovah se Getuies het hulle beskouing van die ontwikkelende wêreldsituasie met vrymoedigheid verkondig. Daarenteen het Katolieke, Protestantse en Joodse leiers in 1945 aan die beraadslaging in San Francisco deelgeneem toe die VN se Handves opgestel is. Diegene wat hierdie verwikkelinge dopgehou het, kon duidelik sien wie “’n vriend van die wêreld” wou wees en wie probeer het om “geen deel van die wêreld” te wees nie, soos Jesus van sy dissipels gesê het.—Jak. 4:4; Joh. 17:14, NW.
’n Rekord van Christelike neutraliteit
Hoewel Jehovah se Getuies sommige geskille wat verband hou met ’n Christen se verhouding tot die wêreld gou onderskei het, het ander sake meer tyd geverg. Maar namate die Tweede Wêreldoorlog in Europa vererger het, het daar ’n belangrike artikel in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 November 1939 verskyn wat hulle gehelp het om te verstaan wat Christelike neutraliteit beteken. Die artikel het gesê dat volgelinge van Jesus Christus voor God verantwoordelik is om ten volle aan hom en sy Koninkryk, die Teokrasie, getrou te wees. Hulle moet vir God se Koninkryk bid, nie vir die wêreld nie (Matt. 6:10, 33). In die lig van wat Jesus Christus oor die identiteit van die onsigbare heerser van die wêreld gesê het (Joh. 12:31; 14:30), het die artikel geredeneer dat iemand wat aan God se Koninkryk getrou is nie sy steun kan gee aan enigeen van die strydende partye in ’n botsing tussen wêreldfaksies nie. Het Jesus dan nie van sy volgelinge gesê nie: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos Ek geen deel van die wêreld is nie”? (Joh. 17:16, NW). Die wêreld oor die algemeen sou nie hierdie standpunt ten opsigte van Christelike neutraliteit verstaan nie. Maar sou Jehovah se Getuies dit werklik naleef?
Hulle neutraliteit is gedurende die Tweede Wêreldoorlog veral in Duitsland tot die uiterste beproef. Geskiedskrywer Brian Dunn het gesê: ‘Jehovah se Getuies was onverenigbaar met Nazisme. Die Nazi’s se vernaamste beswaar teen hulle was hulle politieke neutraliteit. Dit het beteken dat geen gelowige kon veg, ’n politieke amp kon beklee, aan openbare feeste kon deelneem of enige gebaar van trou kon maak nie’ (The Churches’ Response to the Holocaust, 1986). Paul Johnson het in A History of Christianity bygevoeg: “Talle is ter dood veroordeel vir hulle weiering om militêre diens te doen . . . of hulle het in Dachau of in kranksinnigegestigte beland.” Hoeveel Getuies in Duitsland het in die gevangenis beland? Jehovah se Getuies in Duitsland het later gesê dat 6 262 van hulle gevange geneem en dat 2 074 van daardie groep in konsentrasiekampe gesit is. Sekulêre skrywers sê gewoonlik dat die syfers hoër was.
In Brittanje, waar mans sowel as vroue militêre diens moes doen, het die wet vir vrystelling voorsiening gemaak; maar baie howe het geweier dat Jehovah se Getuies vrystelling ontvang, en regters het hulle altesaam meer as 600 jaar gevangenisstraf opgelê. In die Verenigde State is honderde Getuies van Jehovah as Christenbedienaars van militêre diens vrygestel. Meer as 4 000 ander, wat die vrystelling geweier is wat deur die Selektiewe Dienspligwet voorsien is, is gevange geneem en tronkstraf van tot vyf jaar opgelê. Jehovah se Getuies het in elke land op aarde dieselfde standpunt ten opsigte van Christelike neutraliteit ingeneem.
Maar die toets of hulle neutraliteit eg was, was nie ná die oorlog verby nie. Hoewel die krisis van 1939-45 verby was, het daar ander konflikte ontstaan; en selfs gedurende tye van relatiewe vrede het baie nasies besluit om verpligte militêre diens te behou. Jehovah se Getuies, as Christenbedienaars, is steeds gevange geneem op plekke waar hulle nie vrystelling ontvang het nie. In 1949, toe John Tsukaris en George Orphanidis geweier het om teen hulle medemens te veg, het die Griekse regering beveel dat hulle tereggestel word. Die (verskillende soorte) behandeling waaraan Jehovah se Getuies in Griekeland onderwerp is, was dikwels so wreed dat die Europese Raad (Komitee vir Menseregte) probeer het om hulle invloed ten behoewe van die Getuies te gebruik, maar die Raad se pleidooie is, met min uitsonderings, nog tot in 1992 vanweë die druk van die Grieks-Ortodokse Kerk omseil. Sommige regerings het dit egter onsmaaklik gevind om aan te hou om Jehovah se Getuies vir hulle nougesette godsdiensoortuiging te straf. Sedert die negentigerjare dwing die regerings in ’n paar lande, soos Swede, Finland, Pole, Nederland en Argentinië, bedrywige Getuies nie meer om diensplig of alternatiewe verpligte gemeenskapsdiens te verrig nie, hoewel hulle elke saak sorgvuldig ondersoek.
Jehovah se Getuies het op die een plek na die ander voor situasies te staan gekom wat ’n uitdaging vir hulle Christelike neutraliteit was. Regerings in Latyns-Amerika, Afrika, die Midde-Ooste, Noord-Ierland en ander plekke ondervind soms gewelddadige teenstand van revolusionêre magte. Die regerings sowel as die vyandelike magte oefen gevolglik druk op Jehovah se Getuies uit om hulle daadwerklik te steun. Maar Jehovah se Getuies het algehele neutraliteit behou. Sommige is wreed geslaan, selfs tereggestel, weens die standpunt wat hulle inneem. Maar die ware Christelike neutraliteit van Jehovah se Getuies het al dikwels die respek van bevelvoerders aan albei kante afgedwing, en die Getuies word toegelaat om ongehinderd voort te gaan met hulle werk om ander die goeie nuus oor Jehovah se Koninkryk te vertel.
Die Getuies se neutraliteit is in die sestiger- en sewentigerjare op onmenslike wyse getoets toe daar vereis is dat alle burgers van Malawi ’n kaart koop wat bewys dat hulle ’n lid van die heersende politieke party is. Jehovah se Getuies het gesien dat dit in stryd met hulle Christelike oortuiging is. Hulle is gevolglik op ’n ongekende skaal aan sadisties wreedaardige vervolging onderwerp. Tienduisende was verplig om uit die land te vlug, en baie is later met geweld gerepatrieer en aan verdere onmenslikheid blootgestel.
Hoewel Jehovah se Getuies al gewelddadig vervolg is, het hulle nie opstandig geraak nie. Hulle oortuigings stel geen regering waaronder hulle lewe in gevaar nie. Daarenteen help die Wêreldraad van Kerke om revolusies te finansier, en sommige Katolieke priesters steun guerillamagte. Maar indien een van Jehovah se Getuies aan ondermynende bedrywighede deelneem, sal dit daarop neerkom dat hy sy geloof versaak.
Jehovah se Getuies glo wel dat alle menseregerings deur God se Koninkryk verwyder sal word. Die Bybel sê dit in Daniël 2:44. Maar, soos die Getuies ook daarop wys, pleks van te sê dat mense daardie Koninkryk sal oprig, sê die teks dat “die God van die hemel ’n koninkryk [sal] verwek”. Daarbenewens verduidelik hulle dat die teks nie sê dat God mense die reg gee om die weg te baan vir daardie Koninkryk deur menseheerskappye te verwyder nie. Jehovah se Getuies besef dat die werk van ware Christene is om te preek en te onderrig (Matt. 24:14; 28:19). In ooreenstemming met hulle eerbied vir God se Woord toon die verslag dat nie een van hulle al ooit op enige plek ter wêreld probeer het om enige soort regering omver te werp nie, en hulle het ook nog nooit saamgesweer om ’n staatsamptenaar leed aan te doen nie. Die Italiaanse koerant La Stampa het oor Jehovah se Getuies gesê: “Hulle is die lojaalste burgers wat enigiemand kan begeer: hulle ontwyk nie belasting of probeer nie om ongerieflike wette vir eie gewin te ontduik nie.” Maar omdat hulle besef hoe ernstig die saak in God se oë is, is elkeen van hulle uiters vasbeslote om “geen deel van die wêreld” te wees nie.—Joh. 15:19, NW; Jak. 4:4.
Toe nasionale embleme voorwerpe van verering geword het
Toe Adolf Hitler die bewind in Duitsland oorgeneem het, het ’n vlaag van patriotiese histerie deur die wêreld versprei. Om die volk te mobiliseer, is almal verplig om aan patriotiese seremonies deel te neem. Daar is van almal in Duitsland verwag om op ’n spesifieke wyse te salueer en “Heil Hitler!” uit te roep. Hitler is op hierdie wyse as verlosser vereer; dit moes die gedagte oordra dat die volk se verwagtinge heeltemal van sy leierskap afhang. Maar Jehovah se Getuies kon nie dieselfde gevoelens koester nie. Hulle het geweet dat hulle Jehovah alleen moes aanbid en dat Hy Jesus Christus as die mensdom se Verlosser verwek het.—Luk. 4:8; 1 Joh. 4:14.
Selfs voor Hitler diktator in Duitsland geword het, het Jehovah se Getuies die skriftuurlike voorbeeld van die profeet Daniël se drie moedige Hebreeuse metgeselle in Babilon in die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld (wat in 1931 uitgegee is) hersien. Toe die koning hulle beveel het om hulle voor ’n beeld neer te buig wanneer sekere musiek speel, het daardie getroue Hebreërs geweier om ’n kompromis aan te gaan, en Jehovah het duidelik getoon dat dit sy goedkeuring wegdra deur hulle te verlos (Dan. 3:1-26). Die boekie het daarop gewys dat patriotiese seremonies Jehovah se Getuies in hedendaagse tye voor ’n soortgelyke toets van hulle getrouheid te staan bring.
Die aandrang op verpligte patriotiese seremonies het geleidelik verder as Duitsland versprei. Op 3 Junie 1935, by ’n byeenkoms in Washington, DC, toe J. F. Rutherford gevra is om oor vlagsaluering in skole kommentaar te lewer, het hy getrouheid aan God beklemtoon. ’n Paar maande later, toe die agtjarige Carleton B. Nichols jr. van Lynn, Massachusetts, geweier het om die Amerikaanse vlag te salueer en ’n patriotiese lied te sing, het dit in koerante oor die hele land verskyn.
Broer Rutherford het ter verduideliking van die saak op 6 Oktober ’n toespraak oor die radio gehou oor die onderwerp “Vlagsaluering”, waarin hy gesê het: “Die saluering van die vlag is vir baie mense net ’n formalisme en hou min of geen betekenis in nie. Vir diegene wat dit ernstig vanuit ’n skriftuurlike standpunt beskou, beteken dit baie.
“Die vlag is verteenwoordigend van die sigbare regeringsmagte. Dit is heeltemal onregverdig en verkeerd om ’n burger of die kind van ’n burger deur die wet te probeer dwing om enige voorwerp of ding te salueer of om sogenaamde ‘patriotiese liedere’ te sing. Wette word gemaak en toegepas om te keer dat onregmatige dade gepleeg word wat tot nadeel van ander strek en word nie gemaak met die doel om iemand te dwing om sy gewete te skend nie, en veral wanneer daardie gewete met Jehovah God se Woord ooreenstem.
“Die weiering om die vlag te salueer, en om stilswyend te staan, soos hierdie seun gedoen het, kan niemand benadeel nie. As iemand opreg glo dat God se gebod teen die saluering van vlae is, strek dit daardie persoon grootliks tot nadeel as hy in stryd met die Woord van God en in stryd met sy gewete gedwing word om ’n vlag te salueer. Die Staat het geen reg om die volk deur die wet of op ander maniere te benadeel nie.”
’n Verdere verduideliking van die redes vir die standpunt wat Jehovah se Getuies inneem, is voorsien in die boekie Loyalty, wat ook in 1935 verskyn het. Die aandag is gevestig op tekste soos die volgende: Exodus 20:3-7, wat beveel het dat net Jehovah aanbid mag word en dat God se knegte geen beeld of gelykenis van enigiets in die hemel of op die aarde mag maak of hulle daarvoor mag neerbuig nie; Lukas 20:25, waar Jesus Christus gesê het dat daar nie net aan die keiser betaal moet word wat hom toekom nie, maar dat God moet kry wat aan Hom behoort; en Handelinge 5:29, waar die apostels met beslistheid gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”
Die vraag of dit gepas is om iemand te dwing om ’n vlag te salueer, is in die Verenigde State aan die hof voorgelê. Die Amerikaanse Appèlhof het op 14 Junie 1943 sy eie vroeëre besluit verander en het, in die saak West Virginia State Board of Education v. Barnette, beslis dat verpligte vlagsaluering nie strook met die waarborg van vryheid wat in die nasie se grondwet uiteengesit word nie.b
Die geskil oor nasionalistiese seremonies was glad nie tot Duitsland en die Verenigde State beperk nie. Jehovah se Getuies in Noord- en Suid-Amerika, Europa, Afrika en Asië is al wreed vervolg omdat hulle nie daaraan deelneem nie, hoewel hulle eerbiedig tydens vlagsaluering- of soortgelyke seremonies staan. Kinders is geslaan; baie is uit die skool gesit. Talle sake is in die hof beveg.
Maar waarnemers was genoodsaak om te erken dat Jehovah se Getuies in hierdie saak, soos in ander sake, soos die vroeë Christene opgetree het. Tog, soos die boek The American Character sê: “Vir die oorgrote meerderheid . . . was die besware van die Getuies net so onbegryplik soos die besware van die Christene [in die Romeinse Ryk] om ’n offer aan die Goddelike Keiser te doen vir Trajanus en Plinius was.” Dit is te verstane, aangesien Jehovah se Getuies, soos die vroeë Christene, sake volgens Bybelbeginsels beskou en nie soos die wêreld dit beskou nie.
Hulle het hulle standpunt baie duidelik gestel
Nadat Jehovah se Getuies baie jare lank kwaai toetse van hulle Christelike neutraliteit deurgemaak het, het Die Wagtoring van 15 Januarie 1980 (Engelse uitgawe, 1 November 1979) hulle standpunt herbevestig. Dit het ook verduidelik waarom individuele Getuies op sekere maniere opgetree het: “As gevolg van ’n ywerige studie van God se Woord kon hierdie jong Christene ’n besluit neem. Niemand anders het hierdie besluit vir hulle geneem nie. Elkeen kon dit self doen op grond van sy Bybelopgeleide gewete. Hulle besluit was om hulle te weerhou van dade van haat en geweld teen hulle medemens in ander nasies. Ja, hulle het geglo en wou ’n aandeel hê aan die vervulling van Jesaja se bekende profesie: ‘Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hulle spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie’ (Jes. 2:4). Dit is presies wat hierdie jong manne uit alle nasies gedoen het.”
Gedurende die jare toe hulle standpunt ten opsigte van Christelike neutraliteit op die proef gestel is, het hulle weer ondersoek ingestel na wat die Bybel in Romeine 13:1-7 oor “die hoër owerhede” (NW) sê, en dit het aanleiding gegee tot ’n duideliker verklaring oor die Getuies se verhouding tot sekulêre regerings. Dit is gepubliseer in Die Wagtoring se nommers van 15 Januarie, 1 Februarie en 15 Februarie 1963 (Engelse uitgawes, 1 November, 15 November en 1 Desember 1962) en is herbevestig in die nommer van 1 November 1990. Daardie artikels het die posisie van Jehovah God as “die Allerhoogste” beklemtoon, terwyl dit ook daarop gewys het dat sekulêre heersers “hoër owerhede” is bloot met betrekking tot ander mense en in die sfeer van bedrywigheid waarin God hulle toelaat om in die huidige stelsel op te tree. Die artikels het getoon dat dit noodsaaklik is dat ware Christene sulke sekulêre heersers nougeset eerbiedig en hulle in alles gehoorsaam wat nie met God se wet en hulle Bybelopgeleide gewete bots nie.—Dan. 7:18; Matt. 22:21; Hand. 5:29; Rom. 13:5.
Die feit dat Jehovah se Getuies streng by hierdie Bybelstandaarde bly, het hulle die reputasie vir afgeskeidenheid van die wêreld besorg wat mense aan die vroeë Christene herinner.
Wanneer die wêreld sy vakansiedae vier
Toe Jehovah se Getuies godsdiensleerstellings verwerp het wat van heidense oorsprong is, het hulle ook opgehou om aan baie van die gebruike deel te neem wat op soortgelyke wyse besoedel was. Maar sekere vakansiedae is ’n tyd lank nie noukeurig genoeg ondersoek nie. Een van hulle was Kersfees.
Hierdie vakansiedag is jaarliks selfs deur lede van die Wagtoringgenootskap se hoofkwartierpersoneel by die Bethelhuis in Brooklyn, New York, gevier. Hulle het reeds jare lank geweet dat 25 Desember nie die regte datum is nie, maar hulle het geredeneer dat die datum lank reeds algemeen met die geboorte van die Verlosser geasossieer word en dat ’n mens op enige dag aan ander goed kan doen. Maar nadat hulle die onderwerp verder ondersoek het, het die lede van die Genootskap se hoofkwartierpersoneel, sowel as die personeel by die Genootskap se takkantore in Engeland en Switserland, besluit om nie meer aan die feestelikhede van Kersfees deel te neem nie, en Kersfees is ná 1926 nooit weer daar gevier nie.
R. H. Barber, ’n lid van die hoofkwartierpersoneel wat ’n deeglike ondersoek gedoen het na die oorsprong van Kersgebruike en die vrugte wat dit voortbring, het die resultate in ’n radiotoespraak voorgelê. Daardie inligting het ook in The Golden Age van 12 Desember 1928 verskyn. Dit was ’n deeglike blootlegging van die godonterende oorsprong van Kersfees. Die heidense oorsprong van Kersgebruike het sedertdien algemeen onder die publiek bekend geraak, maar min mense bring die nodige veranderinge in hulle lewenswyse aan. Daarenteen was Jehovah se Getuies bereid om die nodige veranderinge aan te bring sodat hulle aanvaarbaarder as diensknegte van Jehovah kan wees.
Toe Jehovah se Getuies daarop gewys is dat die geboorte van Jesus in werklikheid vir mense belangriker geword het as die losprys wat deur sy dood voorsien is; dat die gefuif van die vakansiedag en die gees waarmee baie geskenke gegee word God nie eer nie; dat die sogenaamd wyse manne, wat geskenke gegee het en in navolging van wie dit vandag steeds gedoen word, in werklikheid sterrewiggelaars was wat deur demone geïnspireer is; dat ouers die verkeerde voorbeeld vir hulle kinders met betrekking tot leuens stel deur wat hulle hulle kinders oor Sinterklaas vertel; dat dit algemeen bekend is dat “Sint Nikolaas” (Sinterklaas) ’n ander naam vir die Duiwel self is; en dat sulke feeste, soos kardinaal Newman in sy Essay on the Development of Christian Doctrine erken het, “die einste middele en bybehore van demoonaanbidding” is en die kerk dit aangeneem het—toe hierdie dinge onder hulle aandag gebring is, het Jehovah se Getuies onmiddellik en permanent opgehou om enigsins aan Kersvieringe deel te neem.
Jehovah se Getuies bring heerlike tye saam met hulle familie en vriende deur. Maar hulle neem nie deel aan vakansiedae en feesvieringe wat met heidense gode (soos in die geval van vakansiedae soos Paasfees, Nuwejaarsdag, Meidag en Moedersdag) verband hou nie (2 Kor. 6:14-17). Soos die vroeë Christenec vier hulle nie eens verjaarsdae nie. Hulle weier ook op eerbiedige wyse om deel te neem aan nasionale vakansiedae waartydens politieke of militêre gebeure herdenk word, en hulle vereer ook nie volkshelde nie. Waarom nie? Omdat Jehovah se Getuies geen deel van die wêreld is nie.
Hulp aan hulle medemens
Eerbied vir die gode was die middelpunt van die sosiale en kultuurlewe van die Romeinse Ryk. Aangesien Christene nie deelgeneem het aan enigiets wat deur die heidense gode besmet was nie, het mense die Christelike godsdiens as ’n belediging van hulle lewenswyse beskou; en volgens die geskiedskrywer Tacitus is daar glo gesê dat Christene die mensdom haat. Minucius Felix haal ’n Romein in sy geskrifte aan wat blykbaar vir een van sy kennisse, ’n Christen, gesê het: “Jy woon nie die vertonings by nie; jy neem nie deel aan die optogte nie . . . [jy] verafsku die heilige spele.” Die bevolking van die antieke Romeinse wêreld het weinig omtrent die Christene verstaan.
Baie mense in die wêreld vandag verstaan Jehovah se Getuies ook nie. Mense bewonder moontlik die hoë sedelike standaarde van die Getuies, maar meen dat die Getuies aan die bedrywighede van die wêreld om hulle moet deelneem en moet help om die wêreld ’n beter plek te maak. Dié wat Jehovah se Getuies persoonlik leer ken, vind egter uit dat daar ’n Bybelse rede is vir alles wat hulle doen.
Jehovah se Getuies sluit hulle glad nie af van die res van die mensdom nie. Inteendeel, hulle wy hulle lewe daaraan om hulle medemens te help volgens die voorbeeld wat Jesus Christus gestel het. Hulle help mense om te leer hoe om lewensprobleme nou met welslae die hoof te bied deur hulle bekend te stel met die Skepper en die riglyne vir die lewe wat in sy geïnspireerde Woord uiteengesit word. Hulle verkondig geredelik Bybelwaarhede aan hulle medemens wat ’n mens se hele lewensbeskouing kan verander. Die kern van hulle oortuiging is die besef dat ‘die wêreld verbygaan’, dat God binnekort sal ingryp om ’n einde aan die huidige goddelose stelsel te maak en dat daar ’n wonderlike toekoms wag op diegene wat geen deel van die wêreld bly nie en hulle volle vertroue in die Koninkryk van God stel.—1 Joh. 2:17.
[Voetnote]
a Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 1 Junie 1918, bl. 174.
b Sien Hoofstuk 30, “Die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus”, vir meer besonderhede.
c The History of the Christian Religion and Church, During the Three First Centuries, deur Augustus Neander, bl. 190.
[Lokteks op bladsy 188]
Nie kluisenaars nie, en tog deel hulle nie die wêreld se lewenswyse nie
[Lokteks op bladsy 189]
Hulle het uit die Christendom se kerke bedank
[Lokteks op bladsy 190]
“Christene was afsydig teenoor en afgeskeie van die staat”
[Lokteks op bladsy 194]
Christelike neutraliteit word beproef
[Lokteks op bladsy 198]
‘Niemand anders het die besluit vir hulle geneem nie’
[Lokteks op bladsy 199]
Waarom hulle opgehou het om Kersfees te vier
[Venster op bladsy 195]
Geen bedreiging vir enige regering nie
◆ Waar die “World-Herald” van Omaha, Nebraska, VSA, in ’n hoofartikel oor die behandeling van Jehovah se Getuies in ’n Latyns-Amerikaanse land geskryf het, het dit gesê: “Dit verg ’n bekrompe en paranoïese verbeelding om te glo dat Jehovah se Getuies enige bedreiging vir enige politieke regime inhou; hulle is so nieondermynend en vredeliewend soos ’n godsdiensliggaam maar kan wees en vra slegs om met rus gelaat te word sodat hulle hul geloof op hul eie manier kan uitleef.”
◆ “Il Corriere di Trieste”, ’n Italiaanse koerant, het gesê: “Jehovah se Getuies moet bewonder word vir hulle fermheid en samehorigheid. In teenstelling met ander gelowe verhinder hulle eenheid as ’n volk hulle om in die naam van dieselfde Christus tot dieselfde God te bid, om twee strydende partye in ’n konflik te seën of om politiek met godsdiens te vermeng om die belange van staatshoofde of politieke partye te bevorder. Die laaste maar nie die minste nie, hulle is eerder bereid om te sterf as om . . . die gebod JY MAG NIE DOODSLAAN NIE te oortree!”
◆ Nadat die werk van Jehovah se Getuies 40 jaar lank in Tsjeggo-Slowakye verbied was, het die koerant “Nová Svoboda” in 1990 gesê: “Die geloof van Jehovah se Getuies verbied die gebruik van wapens teen mense, en diegene wat geweier het om basiese militêre diens te verrig en nie in die steenkoolmyne werk gekry het nie, het tronk toe gegaan, selfs tot vier jaar lank. Net hieruit blyk dit duidelik dat hulle geweldige morele krag het. Ons kan sulke onselfsugtige mense selfs in die hoogste politieke ampte gebruik—maar ons sal hulle nooit daar kry nie. . . . Hulle erken natuurlik staatsowerhede, maar glo dat net God se Koninkryk al die mens se probleme kan oplos. Maar moenie ’n fout maak nie—hulle is nie fanatici nie. Hulle betoon buitengewone mensliewendheid.”
[Venster/Prente op bladsy 200, 201]
Gebruike wat laat vaar is
Hierdie Kersviering by die Brooklynse Bethel in 1926 was hulle laaste. Die Bybelstudente het geleidelik begin besef dat nóg die oorsprong van hierdie vakansiedag nóg die gebruike wat daarmee gepaardgaan God eer
Die Bybelstudente het jare lank ’n kruis en kroon as ’n kenteken gedra, en hierdie simbool het van 1891 tot 1931 op die voorblad van “Die Wagtoring” (Engelse uitgawe) verskyn. Maar in 1928 is daar beklemtoon dat nie ’n versierende simbool nie, maar ’n mens se bedrywigheid as ’n getuie toon dat jy ’n Christen is. In 1936 is daar getoon dat bewyse aandui dat Christus aan ’n paal en nie aan ’n kruis met twee balke gesterf het nie
Die Bybelstudente het ’n lys van verjaarsdae in hulle boek “Daily Manna” gehou. Maar nadat hulle opgehou het om Kersfees te vier en toe hulle besef het dat verjaarsdae te veel eer aan mense gee (een rede waarom vroeë Christene nooit verjaarsdae gevier het nie), het die Bybelstudente hierdie gebruik ook laat vaar
Pastor Russell het sowat 35 jaar lank gedink dat die Groot Piramide van Gizeh God se steengetuie is wat Bybelse tydperke bevestig (Jes. 19:19). Maar Jehovah se Getuies het die idee verwerp dat ’n Egiptiese piramide enigiets met ware aanbidding te doen het. (Sien “Die Wagtoring” se [Engelse] nommers van 15 November en 1 Desember 1928)
[Prent op bladsy 189]
Tienmiljoen eksemplare is versprei
[Prente op bladsy 191]
Sommige het met gewere na die loopgrawe toe gegaan, maar ander, soos A. P. Hughes van Engeland en R. Cuminetti van Italië, het geweier om dit te doen
[Prente op bladsy 193]
Jehovah se Getuies het geweier om die Volkebond of die Verenigde Nasies te steun as iets wat van God af kom, maar het net God se Koninkryk deur Christus voorgestaan
[Prent op bladsy 197]
Carleton en Flora Nichols. Dit het landwyd in die nuus gekom toe hulle seun geweier het om die vlag te salueer