Hoofstuk 29
“Deur al die nasies gehaat”
GEDURENDE die laaste aand wat Jesus voor sy dood saam met sy apostels deurgebring het, het hy vir hulle gesê: “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.”—Joh. 15:20, 21.
Jesus het nie net afgesonderde gevalle van onverdraagsaamheid in gedagte gehad nie. Net drie dae vroeër het hy gesê: “Julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.”—Matt. 24:9.
Tog het Jesus sy volgelinge gewaarsku om nie na vleeslike wapens te gryp wanneer hulle voor vervolging te staan kom nie (Matt. 26:48-52). Hulle moes nie hulle vervolgers uitskel of hulle met gelyke munt probeer betaal nie (Rom. 12:14; 1 Pet. 2:21-23). Sou selfs daardie vervolgers nie dalk eendag gelowiges kon word nie? (Hand. 2:36-42; 7:58–8:1; 9:1-22). Vergelding moes aan God oorgelaat word.—Rom. 12:17-19.
Dit is ’n bekende feit dat die Romeinse regering vroeë Christene wreed vervolg het. Maar dit is ook opmerklik dat die voorste vervolgers van Jesus Christus die godsdiensleiers was en dat Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur, Jesus op hulle aandrang laat teregstel het (Luk. 23:13-25). Ná Jesus se dood was dit weer eens die godsdiensleiers wat aan die spits van die vervolging van Jesus se volgelinge gestaan het (Hand. 4:1-22; 5:17-32; 9:1, 2). Is dit nie ook wat in onlangser tye gebeur het nie?
Die geestelikes dring aan op openbare debatte
Toe die sirkulasie van C. T. Russell se geskrifte binne ’n kort tydjie tot tienmiljoene eksemplare in baie tale toegeneem het, kon Katolieke en Protestantse geestelikes sy boodskap nie meer ignoreer nie. Baie van die geestelikes was woedend omdat hulle leringe as onskriftuurlik blootgelê is en gefrustreerd omdat hulle van hulle lidmate verloor het, en hulle het broer Russell se geskrifte gevolglik van die preekstoel af veroordeel. Hulle het hulle kuddes opdrag gegee om nie lektuur te neem wat deur die Bybelstudente versprei is nie. ’n Paar van hulle het openbare amptenare probeer oorreed om hierdie werk stop te sit. In party plekke in die Verenigde State—onder andere Tampa, Florida; Rock Island, Illinois; Winston-Salem, Noord-Carolina; en Scranton, Pennsilvanië—is boeke wat deur broer Russell geskryf is onder hulle toesig in die openbaar verbrand.
Party geestelikes wou broer Russell se invloed vernietig deur hom in openbare debatte te ontmasker. Naby die hoofkwartier van sy bedrywighede het ’n groep geestelikes dr. E. L. Eaton, leraar van die North Avenue- Metodisties-Episkopaalse Kerk in Allegheny, Pennsilvanië, as hulle woordvoerder aangestel. In 1903 het hy voorgestel dat ’n openbare debat gehou word, en broer Russell het die uitnodiging aanvaar.
Ses proposisies is gestel, naamlik: Broer Russell het bevestig, maar dr. Eaton het ontken, dat die siele van die dooies van niks bewus is nie; dat die “tweede koms” van Christus die Millennium voorafgaan en dat die doel van sy “tweede koms” sowel as van die Millennium die seëning van al die geslagte van die aarde is; ook dat slegs die heiliges van die “Evangelie-eeu” aan die eerste opstanding deel het, maar dat ontsaglike menigtes die geleentheid het om in die latere opstanding gered te word. Dr. Eaton het bevestig, maar broer Russell het ontken, dat daar ná die dood geen proeftyd vir enigiemand sal wees nie; dat almal wat gered is hemel toe gaan en dat die verstokte goddeloses ewige lyding sal moet ondergaan. ’n Reeks van ses debatte oor hierdie proposisies is in 1903 gehou, elkeen in ’n stampvol Carnegie-saal in Allegheny.
Wat het agter daardie uitdaging tot ’n debat gesit? Albert Vandenberg het die saak in historiese perspektief gesien en later geskryf: “Die debatte is gevoer terwyl leraars van verskillende Protestantse kerke gedurende elke bespreking as die moderator opgetree het. Daarbenewens het leraars van verskeie kerke in die omgewing saam met eerwaarde Eaton op die podium gesit, glo om hom skriftuurlike en morele bystand te gee. . . . Dat Protestantse geestelikes selfs so nie-amptelik kon verenig, het te kenne gegee dat hulle mnr. Russell se potensiaal om lidmate van hulle kerke te bekeer gevrees het.”—“Charles Taze Russell: Pittsburgh Prophet, 1879-1909”, gepubliseer in The Western Pennsylvania Historical Magazine, Januarie 1986, bl. 14.
Daar was relatief min sulke debatte. Hulle het nie die gewenste resultate vir die vereniging van geestelikes gelewer nie. Party van dr. Eaton se eie gemeentelede was beïndruk deur wat hulle by die reeks debatte in 1903 gehoor het en het sy kerk verlaat en met die Bybelstudente begin assosieer. Selfs ’n geestelike wat daar teenwoordig was, het erken dat broer Russell ‘die brandslang op die hel gerig en die vuur geblus het’. Broer Russell het nietemin gedink dat dit die belange van die waarheid tot groter nut sou strek as tyd en inspanning nie vir debatte gebruik word nie.
Die geestelikes het nie moed opgegee nie. Toe broer Russell in Dublin, Ierland, en in Otley, Yorkshire, Engeland, toesprake gehou het, het hulle mense in die gehoor geplant om besware uit te skreeu en valse aantygings teen broer Russell self te maak. Broer Russell het hierdie situasies goed gehanteer en altyd op die Bybel staatgemaak as die gesag vir sy antwoorde.
Protestantse geestelikes, ongeag aan watter kerk hulle behoort het, was verbonde aan wat as die Evangeliese Bond bekend gestaan het. Hulle verteenwoordigers het in baie lande ’n aksie gevoer teen broer Russell en diegene wat sy lektuur versprei het. In Texas (VSA) het die Bybelstudente byvoorbeeld gevind dat elke prediker, selfs in die kleinste dorpie en plattelandse distrik, toegerus was met dieselfde valse aantygings teen broer Russell en dieselfde verdraaiings van wat hy geleer het.
Maar hierdie aanvalle teen broer Russell het soms onverwagte resultate vir die geestelikes gehad. Toe ’n predikant in Nieu-Brunswyk, Kanada, ’n neerhalende preek oor broer Russell gehou het, was daar ’n man in die gehoor wat self van broer Russell se lektuur gelees het. Hy het hom vererg toe die prediker opsetlik valshede begin verkondig het. Omtrent in die middel van die preek het die man opgestaan, sy vrou by die hand geneem en sy sewe dogters wat in die koor gesing het, geroep: “Kom, meisies, ons gaan huis toe.” Al nege het uitgeloop, en die leraar het toegekyk terwyl die man wat die kerk gebou het en die finansiële steunpilaar van die gemeente was uit die kerk uitloop. Die gemeente het kort daarna uitmekaargeval, en die prediker het weggegaan.
Die geestelikes bespot en belaster
In hulle desperate pogings om die invloed van C. T. Russell en sy metgeselle te vernietig, het die geestelikes sy verklaring dat hy ’n Christenbedienaar is, afgekraak. Die Joodse godsdiensleiers in die eerste eeu het die apostels Petrus en Johannes om soortgelyke redes as “ongeleerde en eenvoudige manne” behandel.—Hand. 4:13.
Broer Russell het nie aan een van die Christendom se teologiese skole gegradueer nie. Maar hy het met vrymoedigheid gesê: “Ons daag [die geestelikes] uit om te bewys dat hulle ooit ’n Goddelike ordening gehad het, of dat hulle ooit daaraan dink. Hulle dink bloot aan ’n sektariese ordening, of magtiging, wat elkeen deur sy eie sekte of party verkry. . . . God orden, of magtig, mense om te preek deur hulle die Heilige Gees te gee. Enigiemand wat die Heilige Gees ontvang het, het die mag en gesag ontvang om te onderrig en in die naam van God te preek. Enigiemand wat nie die Heilige Gees ontvang het nie, het geen Goddelike magtiging vir of goedkeuring oor sy predikingswerk nie.”—Jes. 61:1, 2.
Om sy reputasie aan te tas, het party geestelikes growwe leuens oor hom verkondig en gepubliseer. Een wat hulle dikwels gebruik het—en nou nog gebruik—het met broer Russell se huwelik te doen. Hulle wou die indruk skep dat broer Russell onsedelik was. Wat is die feite?
In 1879 het Charles Taze Russell met Maria Frances Ackley getrou. Hulle het 13 jaar lank ’n goeie verhouding gehad. Daarna het vleitaal en die optrede van ander wat Maria se trots aangewakker het daardie verhouding begin ondermyn; maar toe hulle oogmerk duidelik word, het sy blykbaar weer haar balans herwin. Ná ’n voormalige metgesel onwaarhede oor broer Russell versprei het, het sy selfs haar man se toestemming gevra om ’n paar gemeentes te besoek sodat sy die aantygings kon weerlê, aangesien daar beweer is dat hy haar mishandel. Maar die hartlike ontvangs wat sy in 1894 tydens daardie reis gekry het, het blykbaar bygedra tot ’n geleidelike verandering in haar dunk van haarself. Sy wou groter seggenskap hê in wat in Die Wagtoring sou verskyn.a Toe sy besef dat niks wat sy skryf, gepubliseer sou word tensy haar man, die redakteur van die tydskrif, daarmee saamstem (omdat dit met die Skrif strook) nie, het dit haar geweldig ontstel. Hy het hard probeer om haar te help, maar in November 1897 het sy hom verlaat. Hy het haar nogtans van verblyf en onderhoud voorsien. Jare later, ná ’n hofsaak wat sy in 1903 aanhangig gemaak het, is sy in 1908, nie ’n egskeiding nie, maar skeiding van tafel en bed, met onderhoud, toegestaan.
Aangesien sy haar man nie kon dwing om aan haar eise toe te gee nie, het sy alles probeer om sy naam te beswadder ná sy hom verlaat het. In 1903 het sy ’n traktaat gepubliseer wat nie vol skriftuurlike waarhede was nie, maar vol growwe wanvoorstellings van broer Russell. Sy het die hulp van predikante van verskillende kerke ingeroep om hulle te versprei waar die Bybelstudente spesiale vergaderinge gehou het. Dit strek hulle tot eer dat daar destyds nie baie was wat bereid was om daarvoor gebruik te word nie. Maar ander geestelikes het sedertdien ’n ander gesindheid geopenbaar.
Vroeër het Maria Russell mense mondelings en skriftelik veroordeel as hulle die aantygings teen broer Russell gemaak het wat sy nou self gedoen het. Party godsdiensteenstanders van broer Russell het sekere ongestaafde bewerings wat tydens ’n hofsaak in 1906 gemaak is (en wat later op las van die hof uit die verslag geskrap is), gebruik om aantygings teen hom te publiseer met die bedoeling om hom as ’n onsedelike man voor te stel wat onbekwaam is om ’n bedienaar van God te wees. Maar dit is uit die hofverslag duidelik dat sulke aantygings onwaar is. Mev. Russell se prokureur het haar gevra of sy geglo het dat haar man aan owerspel skuldig was. Haar antwoord was: “Nee.” Toe ’n komitee van Christen- ouere manne in 1897 mev. Russell se beskuldigings teen haar man aangehoor het, het sy, interessant genoeg, niks gesê van die dinge wat sy later in die hof genoem het om die jurie te probeer oortuig dat ’n egskeiding toegestaan moet word nie, al het hierdie beweerde insidente voor daardie vergadering plaasgevind.
Nege jaar ná mev. Russell die saak voor die hof gebring het, het regter James Macfarlane ’n brief geskryf aan ’n man wat ’n afskrif van die hofverslag wou hê sodat een van sy metgeselle broer Russell kon ontmasker. Die regter het hom reguit gesê dat wat hy wou hê ’n vermorsing van tyd en geld sou wees. Sy brief het gesê: “Die rede vir haar aansoek en vir die beslissing van die jurie was ‘vernedering’ en nie owerspel nie, en die getuienis, soos ek dit verstaan, toon nie dat mnr. Russell ‘’n lewe van owerspel met ’n mederespondent’ gelei het nie. Trouens, daar was geen mederespondent nie.”
Eers met broer Russell se begrafnis in 1916 in die Carnegie-saal in Pittsburgh het Maria Russell dit self erken. Sy het ’n sluier gedra en met die paadjie af na die kis toe geloop en ’n bos dallelies daar neergesit. Daaraan vas was ’n lint met die woorde: “Aan my geliefde man.”
Dit is duidelik dat die geestelikes dieselfde taktiek as hulle eerste-eeuse eweknieë gebruik het. Destyds het hulle Jesus se reputasie probeer vernietig deur te sê dat hy saam met sondaars eet en self ’n sondaar en godslasteraar is (Matt. 9:11; Joh. 9:16-24; 10:33-37). Sulke beskuldigings het nie die waarheid oor Jesus verander nie, maar het getoon dat diegene wat sulke lasterlike dinge sê—asook diegene wat vandag sulke taktieke gebruik—die Duiwel, wat “Lasteraar” beteken, as hulle geestelike vader het.—Joh. 8:44.
Hulle gebruik oorlogskoors om hulle doel te bereik
Die nasionalistiese gevoelens wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog deur die hele wêreld versprei het, het ’n nuwe wapen gebied wat teen die Bybelstudente gebruik kon word. Protestantse en Rooms-Katolieke godsdiensleiers kon onder die dekmantel van patriotisme uiting gee aan hulle vyandigheid. Hulle het die oorlogshisterie uitgebuit om die Bybelstudente as opruiend te brandmerk—dieselfde aanklag wat die godsdiensleiers van eerste-eeuse Jerusalem teen Jesus Christus en die apostel Paulus ingebring het (Luk. 23:2, 4; Hand. 24:1, 5). Die geestelikes moes natuurlik self aktiewe voorstanders van die oorlog gewees het om so ’n beskuldiging te maak, maar dit het die meeste van hulle blykbaar nie eintlik gekwel nie, al het dit beteken dat hulle jong mans na ander lande gestuur het om lidmate van hulle eie kerk te gaan doodmaak.
In Julie 1917, ná broer Russell se dood, het die Wagtoringgenootskap die boek The Finished Mystery uitgereik, ’n kommentaar oor Openbaring en Esegiël sowel as Die Hooglied van Salomo. Daardie boek het die huigelagtigheid van die Christendom se geestelikes baie duidelik oopgevlek! Dit is binne ’n kort tydjie wyd versprei. Laat in Desember 1917 en vroeg in 1918 het die Bybelstudente in die Verenigde State en Kanada ook die 10 000 000 eksemplare van ’n vurige boodskap in die traktaat The Bible Students Monthly versprei. Hierdie vierbladsytraktaat, wat so groot was soos ’n minikoerant, het die titel “Die val van Babilon” gehad, met die ondertitel “Waarom die Christendom nou moet ly—die finale uitslag”. Dit het Katolieke sowel as Protestantse godsdiensorganisasies geïdentifiseer as die hedendaagse Babilon, wat binnekort tot ’n val gaan kom. Ter ondersteuning van wat dit gesê het, is kommentaar uit The Finished Mystery oor profesieë wat God se oordeel teen “Mistiese Babilon” uitgespreek het daarin herdruk. Op die agterblad was daar ’n karikatuur van ’n verbrokkelende muur. Op enorme klippe in die muur was dinge geskryf soos “Leerstelling van die Drie-eenheid (‘3 X 1 = 1’)”, “Onsterflikheid van die siel”, “Teorie oor ewige foltering”, “Protestantisme—belydenisse, geestelikes, ens.”, “Katolisisme—pouse, kardinale, ens., ens.”—en almal was besig om te val.
Die geestelikes was woedend omdat hulle so ontmasker is, net soos die Joodse geestelikes was toe Jesus hulle geveinsdheid aan die kaak gestel het (Matt. 23:1-39; 26:3, 4). In Kanada het die geestelikes gou opgetree. In Januarie 1918 het meer as 600 Kanadese geestelikes ’n petisie onderteken wat ’n beroep op die regering gedoen het om die publikasies van die Internasionale Bybelstudente-vereniging te verbied. Die Winnipeg Evening Tribune het berig dat, nadat Charles G. Paterson, die leraar van die St. Stefanus-kerk in Winnipeg, The Bible Students Monthly met die artikel “Die val van Babilon” van die preekstoel af veroordeel het, prokureur-generaal Johnson met hom in aanraking gekom het om ’n eksemplaar daarvan in die hande te kry. Kort daarna, op 12 Februarie 1918, het ’n bevel van die Kanadese regering die besit van die boek The Finished Mystery of van die traktaat hierbo ’n misdaad gemaak waarvoor ’n boete en tronkstraf opgelê kon word.
Daardie selfde maand, op 24 Februarie, het broer Rutherford, die nuut verkose president van die Wagtoringgenootskap, in die Verenigde State by die Temple Auditorium in Los Angeles, Kalifornië, ’n toespraak gehou. Die onderwerp was verbasend: “Die wêreld het geëindig—Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie.” As deel van die bewys dat die wêreld soos dit tot op daardie tyd was werklik in 1914 geëindig het, het hy die aandag gevestig op die oorlog wat destyds gewoed het, sowel as op die gepaardgaande hongersnood, en het dit geïdentifiseer as deel van die teken wat Jesus voorspel het (Matt. 24:3-8). Toe het hy die aandag op die geestelikes gevestig en gesê:
“Volgens die Skrif dra die geestelikes as ’n klas die grootste skuld vir die groot oorlog wat die mensdom nou teister. Hulle leer die mense al 1 500 jaar lank die sataniese leerstelling van die Goddelike reg van konings. Hulle het politiek en godsdiens, kerk en staat vermeng; was dislojaal aan hulle godgegewe voorreg om die boodskap van die Messias se koninkryk te verkondig, en het hulle daaraan oorgegee om die heersers te laat glo dat God aan die koning die reg gee om te regeer, en dat wat hy ook al doen gevolglik reg is.” Hy het die resultaat hiervan getoon deur te sê: “Ambisieuse konings van Europa het hulle vir die oorlog bewapen, omdat hulle die gebiede van die ander volke in besit wou neem; en die geestelikes het hulle op die skouer geklop en gesê: ‘Gaan maar voort, julle kan niks verkeerds doen nie; wat julle ook al doen, is reg so.’” Maar dit was nie net die Europese geestelikes wat dit gedoen het nie, en die predikante in Amerika het dit geweet.
’n Breedvoerige berig oor hierdie toespraak is die volgende dag in die Morning Tribune van Los Angeles gepubliseer. Die geestelikes was so kwaad hieroor dat die vereniging van geestelikes daardie selfde dag ’n vergadering gehou het en hulle voorsitter na die bestuurders van die koerant gestuur het om hulle ontevredenheid bekend te maak. Hierna was daar ’n tydperk waartydens die kantoor van die Wagtoringgenootskap knaend deur lede van die regering se inligtingsburo lastig geval is.
Gedurende hierdie tydperk van nasionalistiese ywer is ’n konferensie van geestelikes in Philadelphia, in die Verenigde State, gehou, en by daardie geleentheid is ’n resolusie aangeneem wat gevra het dat die Wet op Spioenasie gewysig word sodat beweerde oortreders deur ’n krygshof verhoor kon word en die doodstraf kon kry. John Lord O’Brian, die prokureur-generaal se spesiale assistent vir oorlogswerk, is gekies om die saak voor die Senaat te bring. Die president van die Verenigde State het nie toegelaat dat daardie wetsontwerp wet word nie. Maar generaal-majoor James Franklin Bell van die Amerikaanse Leër het in ’n oomblik van woede vir J. F. Rutherford en W. E. van Amburgh vertel wat by die konferensie gebeur het en van die plan om daardie wetsontwerp teen die ampsdraers van die Wagtoringgenootskap te gebruik.
Amptelike lêers van die Amerikaanse regering toon dat John Lord O’Brian van ten minste 21 Februarie 1918 af persoonlik daarby betrokke was om ’n saak teen die Bybelstudente te bou. Die Kongresverslag van 24 April en 4 Mei bevat memorandums van John Lord O’Brian waarin hy sterk argumente aanvoer dat hy nie die Bybelstudente kon vervolg as daar in die wet toelating gemaak word om “die waarheid, met goeie bedoelings en om verdedigbare redes” bekend te maak, soos dit in die sogenoemde France-wysiging op die Wet op Spioenasie uiteengesit word en soos dit deur die Amerikaanse Senaat bevestig is nie.
In Worcester, Massachusetts, het “eerw.” B. F. Wyland die oorlogskoors verder uitgebuit deur te sê dat die Bybelstudente vir die vyand propaganda maak. Hy het ’n artikel in die Daily Telegram gepubliseer waarin hy gesê het: “Een van julle patriotiese pligte as burgers is om die Internasionale Bybelstudente-vereniging, met hulle hoofkwartier in Brooklyn, te onderdruk. Hulle het, onder die dekmantel van godsdiens, in Worcester vir Duitsland propaganda gemaak deur hulle boek, ‘The Finished Mystery’, te verkoop.” Hy het ronduit vir die owerhede gesê dat dit hulle plig is om die Bybelstudente in hegtenis te neem en te keer dat hulle verdere vergaderinge hou.
Gedurende die lente en somer van 1918 is die Bybelstudente in baie plekke in Noord-Amerika en Europa vervolg. Onder die opstokers was geestelikes van die Baptiste-, Metodiste-, Episkopaalse, Lutherse, Rooms-Katolieke en ander kerke. Die polisie het sonder ’n visenteerbrief op Bybellektuur beslag gelê, en baie van die Bybelstudente is in die tronk gegooi. Ander is deur oproerige bendes gejaag, geslaan, selfs met swepe, geteer en veer, of hulle het met gebreekte ribbes en kopbeserings daarvan afgekom. Party het permanente letsels opgedoen. Christenmans en -vroue is in die tronk aangehou sonder om aangekla of verhoor te word. Meer as honderd spesifieke gevalle van sulke skandelike behandeling is in The Golden Age van 29 September 1920 gemeld.
Aangekla van spioenasie
Die swaarste slag het op 7 Mei 1918 gekom toe daar in die Verenigde State federale lasbriewe uitgereik is vir die inhegtenisneming van J. F. Rutherford, die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, en sy naaste medewerkers.
Die vorige dag is twee aanklagte in Brooklyn, New York, teen broer Rutherford en sy metgeselle ingedien. As die een saak nie die gewenste resultate gelewer het nie, kon daar met die ander aanklag voortgegaan word. Die eerste aanklag, wat teen die groter getal persone ingebring is, het uit vier punte bestaan: Twee het hulle beskuldig van sameswering om die Wet op Spioenasie van 15 Junie 1917 te oortree; en twee punte het hulle daarvan aangekla dat hulle hulle onwettige planne probeer uitvoer het of dit in werklikheid gedoen het. Daar is beweer dat hulle saamgesweer het om ongehoorsaamheid en diensweiering onder die gewapende magte van die Verenigde State te veroorsaak en dat hulle saamgesweer het om die werwing van manne vir hierdie diens te verhinder terwyl die nasie in oorlog gewikkel was, en ook dat hulle albei hierdie dinge probeer doen het of dit in werklikheid gedoen het. Die aanklag het in die besonder verwys na die publisering en verspreiding van die boek The Finished Mystery. Die tweede aanklag het ’n tjek wat na Europa gestuur is (wat in Duitsland vir die Bybelonderrigtingswerk gebruik sou word) as teen die belange van die Verenigde State beskou. Toe die verweerders voor die hof gedaag is, was dit die eerste aanklag, die een met die vier punte, wat voorgelê is.
Daar was nog ’n aanklag onder die Wet op Spioenasie wat destyds teen C. J. Woodworth en J. F. Rutherford in Scranton, Pennsilvanië, hangende was. Maar volgens ’n brief van John Lord O’Brian van 20 Mei 1918 was lede van die Departement van Justisie bang dat Amerikaanse streekregter Witmer, voor wie die saak verhoor sou word, nie sou saamstem met hulle gebruik van die Wet op Spioenasie om die bedrywigheid van manne te onderdruk wat weens opregte godsdiensopvattinge dinge gesê het wat ander dalk as propaganda teen die oorlog kon opneem nie. Die Departement van Justisie het dus die Scranton-saak opgeskort in afwagting van die uitslag van die een in Brooklyn. Die regering het die situasie so gereël dat regter Harland B. Howe, van Vermont, wat, soos John Lord O’Brian geweet het, met sy beskouing oor hierdie sake saamgestem het, die saak in die Amerikaanse Streekhof vir die Oostelike Distrik van New York sou verhoor. Die saak het op 5 Junie voor die hof verskyn, met Isaac R. Oeland en Charles J. Buchner, ’n Rooms-Katoliek, as aanklaers. Gedurende die verhoor het broer Rutherford opgemerk dat Katolieke priesters dikwels met mnr. Buchner en mnr. Oeland beraadslaag het.
In die loop van die saak is getoon dat dit glad nie die bedoeling van die ampsdraers van die Genootskap en die samestellers van die boek was om met die land se oorlogspoging in te meng nie. Gedurende die verhoor is bewys gelewer dat die beplanning van die boek—trouens, die grootste deel van die manuskrip—voltooi is voor die Verenigde State (op 6 April 1917) oorlog verklaar het en dat die oorspronklike kontrak vir publikasie geteken is voor die Verenigde State die wet wat hulle glo oortree het (op 15 Junie) uitgevaardig het.
Die vervolging het die aandag gevestig op byvoegings wat gedurende April en Junie 1917 tot die boek gemaak is, terwyl die kopie voorberei en die proewe gelees is. Dit was onder andere ’n aanhaling van John Haynes Holmes, ’n geestelike wat baie duidelik gesê het dat die oorlog ’n skending van die Christelikheid is. Soos een van die regsverteenwoordigers vir die verdediging getoon het, was daardie geestelike se kommentare, wat onder die titel A Statement to My People on the Eve of War gepubliseer is, nog steeds ten tye van die hofsaak in die Verenigde State te koop. Nóg die geestelike nóg die uitgewer het daarvoor tereggestaan. Maar die Bybelstudente wat na sy preek verwys het, is verantwoordelik gehou vir die gedagtes wat daarin uitgedruk is.
Die boek het nie vir die mense van die wêreld gesê dat hulle geen reg het om oorlog te maak nie. Maar ter verduideliking van profesieë het dit uittreksels uit nommers van Die Wagtoring (Engelse uitgawes) van 1915 aangehaal wat getoon het hoe ongepas dit is dat geestelikes wat beweer het dat hulle bedienaars van Christus is as werwingsagente vir strydende nasies optree.
Toe hulle uitgevind het dat die regering teen die boek beswaar gemaak het, het broer Rutherford onmiddellik ’n telegram aan die drukker gestuur om die drukwerk te staak, en terselfdertyd is ’n verteenwoordiger van die Genootskap na die inligtingsafdeling van die Amerikaanse Leër gestuur om uit te vind waarteen die beswaar was. Toe hulle hoor dat bladsye 247-53 van die boek as aanstootlik beskou word, het die Genootskap opdrag gegee dat daardie bladsye uit alle eksemplare van die boek gesny word voor dit by die publiek aangebied word. En toe die regering staatsaanklaers in kennis gestel het dat verdere verspreiding van die boek ’n oortreding van die Wet op Spioenasie sou wees (al het die regering geweier om die Genootskap ’n opinie oor die boek in sy gewysigde vorm te gee), het die Genootskap opdrag gegee dat alle verdere openbare verspreiding van die boek gestaak word.
Waarom so swaar gestraf?
Ondanks al hierdie faktore het die jurie op 20 Junie 1918 ’n beslissing gelewer waarvolgens elkeen van die verweerders op elke punt van die aanklag skuldig bevind is. Die volgende dag is seweb van hulle tot vier termyne van 20 jaar elk gevonnis, wat gelyktydig uitgedien sou word. Op 10 Julie is die agtstec een tot vier gelyktydige termyne van 10 jaar gevonnis. Hoe ernstig was daardie vonnisse? Amerikaanse president Woodrow Wilson het op 12 Maart 1919 in ’n aantekening aan die prokureur-generaal erken dat ‘die vonnisse beslis buitensporig is’. Trouens, nie eers die man wat die skote in Sarajevo gevuur het wat die kroonprins van die Oostenryks-Hongaarse Ryk gedood het—die insident wat die gebeure ontketen het wat die nasies in die Eerste Wêreldoorlog gedompel het—is ’n swaarder straf opgelê nie. Hy is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis—nie vier termyne van 20 jaar soos die Bybelstudente nie!
Waarom is die Bybelstudente sulke lang vonnisse opgelê? Regter Harland B. Howe het gesê: “Na die Hof se mening is die propaganda wat ywerig deur hierdie verweerders voorgestaan en dwarsdeur die nasie sowel as onder ons bondgenote versprei is ’n groter gevaar as ’n afdeling van die Duitse Leër. . . . Iemand wat godsdiens verkondig, het gewoonlik baie invloed, en as hy opreg is, behaal hy des te meer welslae. Dit vererger die kwaad wat hulle gedoen het eerder as om dit te versag. Gevolglik het die Hof tot die slotsom gekom dat die oplegging van ’n swaar straf die enigste verstandige ding is wat met sulke mense gedoen kan word.” Dit is egter ook opmerklik dat regter Howe, voor hy die vonnis uitgespreek het, gesê het dat sekere verklarings deur die verweerders se regsverteenwoordigers nie net die geregsdienaars van die regering nie, maar “al die geestelikes in die land” onder verdenking geplaas en in ’n slegte lig gestel het.
Daar is onmiddellik by die Amerikaanse rondgaande appèlhof teen die besluit appèl aangeteken. Maar regter Howe het borg hangende die appèlsaak arbitrêr geweier,d en op 4 Julie, voor die derde en laaste versoek om borgtog aangehoor kon word, is die eerste sewe broers haastig na die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, verskuif. Daarna het 130 prosesfoute in daardie uiters bevooroordeelde verhoor aan die lig gekom. Dit het maande geduur om die nodige dokumentasie vir ’n appèlverhoor voor te berei. Intussen het die oorlog tot ’n einde gekom. Op 19 Februarie 1919 het die agt broers in die gevangenis ’n versoek om begenadiging van regeringsweë aan Woodrow Wilson, die president van die Verenigde State, gerig. Ander briewe wat op die vrylating van die broers aangedring het, is deur talle burgers aan die nuut aangewese prokureur-generaal gestuur. Toe, op 1 Maart 1919, het regter Howe, in antwoord op ’n navraag van die prokureur-generaal, “onmiddellike versagting” van die vonnisse aanbeveel. Dit sou die vonnisse verkort het, maar dit sou ook die skuld van die verweerders bevestig het. Voor dit gedoen kon word, het die broers se regsverteenwoordigers ’n hofbevel voorgelê aan die Amerikaanse regsgeleerde wat die saak voor die appèlhof gebring het.
Nege maande ná broer Rutherford en sy metgeselle gevonnis is—en ná die oorlog—het die appèlhof op 21 Maart 1919 borgtog aan al agt verweerders toegestaan, en op 26 Maart is hulle in Brooklyn op borgtog van $10 000 elk vrygelaat. Op 14 Mei 1919 het die Amerikaanse rondgaande appèlhof in New York beslis: “Die verweerders in hierdie saak het nie die gematigde en onpartydige verhoor gehad waarop hulle geregtig was nie, en daarom word die beslissing ter syde gestel.” Die saak is vir ’n nuwe verhoor verwys. Maar op 5 Mei 1920, nadat die verweerders vyf keer voor die hof geroep is, het die staatsaanklaer in die ope hof in Brooklyn aangekondig dat die vervolging teruggetrek word.e Waarom? Korrespondensie wat in die Amerikaanse Staatsargief bewaar word, toon dat die Departement van Justisie bevrees was dat die saak verloor sou word as die geskille voor ’n onbevooroordeelde jurie gebring word, noudat die oorlogshisterie iets van die verlede was. Amerikaanse prokureur L. W. Ross het in ’n brief aan die prokureur-generaal gesê: “Na my mening sou dit vir ons verhouding met die publiek beter wees as ons uit eie inisiatief” sê dat die saak nie verder gevoer gaan word nie.
Dieselfde dag, 5 Mei 1920, is die ander aanklag wat in Mei 1918 teen J. F. Rutherford en vier van sy metgeselle ingebring is ook afgewys.
Wie het werklik daaragter gesit?
Is dit werklik alles deur die geestelikes aangestig? John Lord O’Brian het dit ontken. Maar destyds was almal bekend met die feite. Op 22 Maart 1919 het Appeal to Reason, ’n koerant wat in Girard, Kansas, uitgegee is, geprotesteer: “Volgelinge van pastor Russell, vervolg as gevolg van hatigheid deur ‘ortodokse’ geestelikes, is skuldig bevind en sonder borgtog in die tronk gegooi, al het hulle alles moontlik gedoen om die bepalings van die Wet op Spioenasie na te kom. . . . Ons verklaar dat, of die Wet op Spioenasie nou tegnies grondwetlik of eties regverdigbaar was of nie, hierdie volgelinge van pastor Russell verkeerdelik onder die bepalings daarvan skuldig bevind is. ’n Onbevooroordeelde ondersoek van die getuienis sal enigiemand spoedig daarvan oortuig dat hierdie manne nie alleen glad nie van plan was om die wet te oortree nie, maar dat hulle dit wel nie oortree het nie.”
Jare later het dr. Ray Abrams in die boek Preachers Present Arms gesê: “Dit is betekenisvol dat soveel geestelikes ’n aggressiewe aandeel daarin gehad het om van die Russelliete [soos die Bybelstudente neerhalend genoem is] ontslae te probeer raak. Ou godsdiensverskille en -haat, wat gedurende vredestyd geen oorweging in die hof gekry het nie, het nou onder die invloed van oorlogshisterie hulle pad tot in die hof gevind.” Hy het ook gesê: “Die gevolgtrekking ná ’n ontleding van die hele saak is dat die kerke en die geestelikes oorspronklik agter die beweging gesit het om die Russelliete uit te wis.”—Bl. 183-5.
Die einde van die oorlog het egter nie ’n einde aan die vervolging van die Bybelstudente meegebring nie. Dit het eenvoudig ’n nuwe era daarvan ingelui.
Priesters plaas druk op die polisie
Ná die oorlog het die geestelikes ander geskille aangeroer om die bedrywigheid van die Bybelstudente stop te sit, indien dit hoegenaamd moontlik was. In Katolieke Beiere en ander dele van Duitsland was daar gedurende die twintigerjare talle inhegtenisnemings ingevolge smouswette. Maar wanneer die sake voor die appèlhowe gekom het, het die regters gewoonlik die Bybelstudente se kant gekies. Uiteindelik, ná die howe toegegooi is onder duisende van hierdie sake, het die Departement van Binnelandse Sake in 1930 ’n omsendbrief aan alle polisiebeamptes gestuur wat hulle aangesê het om op te hou om regstappe teen die Bybelstudente ingevolge die smouswette te doen. Druk uit hierdie bron het dus vir ’n kort tydjie bedaar, en Jehovah se Getuies het hulle bedrywigheid op ’n ongekende skaal in die Duitse veld voortgesit.
Die geestelikes het gedurende daardie jare ook in Roemenië groot invloed gehad. Hulle het dit reggekry om bevele te laat uitvaardig waarvolgens die lektuur en bedrywigheid van Jehovah se Getuies verbied is. Maar die priesters was bang dat die mense dalk die lektuur wat hulle reeds gehad het nog steeds sou lees en as gevolg daarvan die onskriftuurlike leringe en valse bewerings van die kerk sou sien. Om dit te voorkom, het die priesters letterlik saam met die polisie van huis tot huis gegaan op soek na enige lektuur wat Jehovah se Getuies daar gelaat het. Hulle het selfs onskuldige kindertjies gevra of hulle ouers sulke lektuur geneem het. As hulle enige lektuur gekry het, is die mense met geweld en tronkstraf gedreig as hulle ooit weer lektuur sou aanvaar. In party dorpies was die priester ook die burgemeester en die vrederegter, en daar was baie min geregtigheid vir enigiemand wat die priester nie gehoorsaam het nie.
Gedurende hierdie tydperk het party Amerikaanse amptenare net soveel na die geestelikes se pype gedans. Ná die besoek van die Katolieke biskop O’Hara aan La Grange, Georgia, het die burgemeester en die stadsprokureur byvoorbeeld in 1936 tientalle Getuies van Jehovah in hegtenis laat neem. Gedurende hulle aanhouding moes hulle langs ’n mishoop slaap op matrasse wat vol spatsels koei-urine was, is hulle kos gegee wat vol wurms was en is hulle gedwing om in padwerkspanne te werk.
Die Katolieke geestelikes het ook in Pole alles in hulle vermoë gedoen om die werk van Jehovah se Getuies te belemmer. Hulle het die mense tot geweld aangehits, die lektuur van Jehovah se Getuies in die openbaar verbrand, hulle daarvan beskuldig dat hulle Kommuniste is en hulle voor die hof gedaag op die aanklag dat hulle lektuur “heiligskennend” is. Maar nie alle amptenare was bereid om hulle hulle sin te gee nie. Die staatsaanklaer in die appèlhof van Posen (Poznan) was een van dié wat geweier het om een van Jehovah se Getuies te vervolg omdat die geestelikes hom daarvan aangekla het dat hy die Katolieke geestelikes “Satan se organisasie” genoem het. Die staatsaanklaer het self getoon dat die onsedelike gees wat van die pouslike hof van Alexander VI (1492-1503 G.J.) deur die hele Christendom versprei het inderdaad die gees van ’n sataniese organisasie is. En toe die geestelikes een van Jehovah se Getuies weens godslastering aangekla het omdat hy Wagtoringlektuur versprei het, het die staatsaanklaer van die appèlhof in Thorn (Toruń) daarop aangedring dat hy vrygespreek word en gesê: ‘Die Getuies van Jehovah neem presies dieselfde standpunt in as die eerste Christene. Ondanks wanvoorstelling en vervolging staan hulle die hoogste ideale voor in ’n verdorwe wêreldorganisasie wat besig is om inmekaar te stort.’
Die Kanadese staatsargief toon dat daar in 1940 ’n verbod op Jehovah se Getuies geplaas is ingevolge ’n brief van die paleis van die Katolieke kardinaal Villeneuve, van Quebec, aan die Minister van Justisie, Ernest Lapointe. Ander regeringsamptenare wou daarna ’n volledige verduideliking van die redes vir daardie optrede hê, maar mnr. Lapointe se antwoorde was vir baie lede van die Kanadese Parlement glad nie bevredigend nie.
Aan die ander kant van die aardbol was daar soortgelyke knoeiery deur die geestelikes. In die Australiese staatsargief is daar ’n brief van die Rooms-Katolieke aartsbiskop van Sydney aan prokureur-generaal W. M. Hughes wat daarop aangedring het dat Jehovah se Getuies onwettig verklaar word. Daardie brief is op 20 Augustus 1940 geskryf, net vyf maande voor ’n verbod ingestel is. Ná die beweerde grond vir die verbod hersien is, het regter Williams van die Australiese Hooggeregshof later gesê “die uitwerking daarvan was dat die ondersteuning van die beginsels en leerstellings van die Christelike godsdiens onwettig gemaak is en dat elke kerkdiens wat gehou word deur diegene wat aan die geboorte van Christus glo ’n onwettige vergadering sou wees”. Op 14 Junie 1943 het die Hof beslis dat die verbod nie met die Australiese reg strook nie.
In Switserland het ’n Katolieke koerant geëis dat die owerheid beslag moet lê op lektuur van die Getuies wat die kerk as aanstootlik beskou het. Hulle het gedreig dat hulle die reg in eie hande sou neem as dit nie gedoen word nie. En in baie wêrelddele is dit presies wat hulle gedoen het!
Godsdiensleiers gebruik geweld
Die Katolieke geestelikes in Frankryk het gedink dat hulle nog ’n stewige houvas op die mense gehad het, en hulle was vasbeslote om nie toe te laat dat enigiets daarmee inmeng nie. Gedurende 1924-25 het die Bybelstudente in baie lande die traktaat Ecclesiastics Indicted versprei. In 1925 sou J. F. Rutherford in Parys ’n toespraak hou oor die onderwerp “Die bedrog van die geestelikes word blootgelê”. ’n Ooggetuie het oor die gebeure by daardie vergadering gesê: “Die saal was stampvol. Broer Rutherford het op die verhoog verskyn en daar was hartlike applous. Hy het begin praat, en toe het omtrent 50 priesters en lede van Katolieke Aksie, met stokke in hulle hande, in die saal ingestorm terwyl hulle La Marseillaise [die Franse volkslied] sing. Hulle het traktate by die trappe afgegooi. Een priester het op die verhoog geklim. Twee jong mans het hom afgegooi. Broer Rutherford het drie keer van die verhoog afgeloop en weer teruggekom. Eindelik het hy geloop en nie weer teruggekom nie. . . . Die tafels met ons lektuur op is omgekeer en ons boeke is die wêreld vol gegooi. Dit was ’n vreeslike deurmekaarspul!” Maar dit was nie ’n alleenstaande geval nie.
Terwyl Jack Corr in Ierland getuig het, moes hy dikwels die woede van die Katolieke geestelikes verduur. Eenkeer het ’n bende wat deur die plaaslike priester aangehits is hom om middernag uit sy bed gesleep en toe al sy lektuur op die dorpsplein verbrand. In Roscrea in die graafskap Tipperary het Victor Gurd en Jim Corby by hulle verblyfplek aangekom en gevind dat teenstanders hulle lektuur gesteel, petrol daarop gegooi en dit aan die brand gesteek het. Die plaaslike polisie, die geestelikes en kinders van die buurt het rondom die vuur gestaan en “Faith of Our Fathers” gesing.
Voor Jehovah se Getuies in 1939 in Madison Square Garden in New York vergader het, het volgelinge van die Katolieke priester Charles Coughlin gedreig dat die byeenkoms ontwrig sou word. Die polisie is in kennis gestel. Op 25 Junie het broer Rutherford die ongeveer 18 000 in daardie ouditorium, sowel as ’n groot internasionale radiogehoor, oor die onderwerp “Regering en vrede” toegespreek. Ná die toespraak begin het, het sowat 200 Rooms-Katolieke en Nazi’s, wat deur ’n paar Katolieke priesters gelei is, op die galery saamgedrom. Toe ’n teken gegee is, het hulle ’n geweldige geskreeu aan die gang gesit, met uitroepe van “Heil Hitler!” en “Viva Franco!” Hulle het vieslike taal gebruik en die gehoor gedreig en het baie van die plekaanwysers wat die versteuring probeer bedwing het, aangerand. Die oproermakers kon die vergadering nie ontwrig nie. Broer Rutherford het kragtig en vreesloos aangehou praat. Toe die rumoer op sy ergste was, het hy gesê: “Kyk na die Nazi’s en die Katolieke wat vandag hierdie vergadering uitmekaar wil jaag, maar deur God se genade dit nie kan doen nie.” Die gehoor het ondersteuning gegee deur die een vlaag geesdriftige applous ná die ander. Die steurnis het ’n permanente deel van die opname geword wat by daardie geleentheid gemaak is, en mense in baie wêrelddele het dit gehoor.
Maar soos in die dae van die Inkwisisie het die Rooms-Katolieke geestelikes waar hulle kon die Staat gebruik om enigiemand wat die kerk se leringe en gebruike bevraagteken het te onderdruk.
Wrede behandeling in konsentrasiekampe
Die geestelikes het ’n gewillige bondgenoot in Adolf Hitler gevind. Gedurende 1933, die jaar toe ’n konkordaat tussen die Vatikaan en Nazi-Duitsland onderteken is, het Hitler ’n veldtog op tou gesit om Jehovah se Getuies in Duitsland uit te wis. Teen 1935 was daar landwyd ’n verbod op hulle geplaas. Maar wie het daaragter gesit?
’n Katolieke priester wat in Der Deutsche Weg (’n Duitse koerant wat in Lodz, Pole, uitgegee is) geskryf het, het in die nommer van 29 Mei 1938 gesê: “Daar is nou een land op aarde waar die sogenaamde . . . Bybelstudente [Jehovah se Getuies] belet is. Dit is Duitsland! . . . Toe Adolf Hitler aan die bewind gekom en die Duitse Katolieke Episkopaat hulle versoek herhaal het, het Hitler gesê: ‘Hierdie sogenaamde Ernstige Bybelstudente [Jehovah se Getuies] is opstokers; . . . ek beskou hulle as kwaksalwers; ek duld nie dat die Duitse Katolieke so deur hierdie Amerikaanse regter Rutherford beswadder word nie; ek ontbind [Jehovah se Getuies] in Duitsland.’”—Ons kursiveer.
Was dit net die Duitse Katolieke Episkopaat wat wou hê dat sulke stappe gedoen word? Soos die Oschatzer Gemeinnützige van 21 April 1933 berig het, het die Lutherse predikant Otto in ’n radiopraatjie op 20 April gepraat van die “nouste samewerking” tussen die Duitse Lutherse Kerk van die staat Sakse en die politieke leiers van die nasie, en toe het hy gesê: “Die eerste resultate van hierdie samewerking kan reeds gesien word in die verbod wat vandag op die Internasionale Vereniging van Ernstige Bybelstudente [Jehovah se Getuies] en sy vertakkings in Sakse geplaas is.”
Daarna het die Nazi-staat begin met een van die wreedste vervolgingsveldtogte van Christene in die opgetekende geskiedenis. Duisende Getuies van Jehovah—in Duitsland, Oostenryk, Pole, Tsjeggo-Slowakye, Nederland, Frankryk en ander lande—is in konsentrasiekampe gegooi. Hier is hulle aan die wreedste en mees sadistiese behandeling denkbaar onderwerp. Dit was niks ongewoons dat hulle uitgeskel en geskop is en daarna gedwing is om ure aaneen hurkoefeninge te doen, te spring en te kruip tot hulle flou geword of van uitputting inmekaargesak het, terwyl bewaarders gestaan en lag het nie. Party is in die middel van die winter gedwing om met min of geen klere aan in die binneplaas te staan. Baie is met swepe geslaan tot hulle bewusteloos en hulle rûe vol bloed was. Ander is in mediese eksperimente as proefkonyne gebruik. Party is met hulle arms agter hulle rug aan hulle gewrigte opgehang. Al was hulle swak van die honger en te lig geklee in yskoue weer is hulle gedwing om swaar arbeid te verrig, lang ure te werk en dikwels hulle hande te gebruik wanneer grawe en ander gereedskap nodig was. Mans én vroue is so mishandel. Hulle ouderdomme het gewissel tussen die tienderjare en die sewentigerjare. Hulle pynigers het Jehovah luidkeels uitgetart.
In ’n poging om die gees van die Getuies te breek, het die kampkommandeur in Sachsenhausen opdrag gegee dat August Dickmann, ’n jong Getuie, voor al die gevangenes tereggestel word, met Jehovah se Getuies heel voor waar dit die grootste indruk op hulle sou maak. Daarna is die res van die gevangenes laat gaan, maar Jehovah se Getuies moes agterbly. Die kommandeur het hulle met groot nadruk gevra: ‘Wie is nou gereed om die verklaring te teken?’—’n verklaring waarin ’n mens jou geloof verloën en verklaar dat jy bereid is om ’n soldaat te word. Nie een van die meer as 400 Getuies het gereageer nie. Toe tree twee vorentoe! Nee, nie om te teken nie, maar om te vra dat hulle handtekening, wat hulle sowat ’n jaar tevore gegee het, gekanselleer moet word.
In die Buchenwald-kamp is soortgelyke druk uitgeoefen. Nazi-offisier Rödl het die Getuies meegedeel: “As enigeen van julle weier om teen Frankryk of Engeland te veg, moet julle almal sterf!” Twee ten volle gewapende SS-afdelings het by die hek gewag. Nie eers een van die Getuies het geswig nie. Wrede behandeling het gevolg, maar die offisier se dreigement is nie uitgevoer nie. Dit het bekend geword dat die Getuies in die kampe omtrent enige werk sou doen wat hulle gegee is, maar dat hulle botweg sou weier om enigiets te doen wat die oorlog ondersteun het of wat teen ’n medegevangene gemik was, al is hulle gestraf deur hulle stelselmatig te laat verhonger en hulle te hard te laat werk.
Hulle het onbeskryflike ontberinge deurstaan. Honderde van hulle het gesterf. Ná die oorlewendes aan die einde van die oorlog uit die kampe vrygelaat is, het ’n Getuie uit Vlaandere geskryf: “Slegs ’n onwrikbare begeerte om in Hom, Jehovah, die Almagtige, te lewe, te hoop en te vertrou, saam met liefde vir die Teokrasie, het dit moontlik gemaak om al hierdie dinge te verduur en te oorwin.—Romeine 8:37.”
Ouers is wreed van hulle kinders weggeruk. Huweliksmaats is geskei, en party het nooit weer van mekaar gehoor nie. Kort ná Martin Poetzinger getrou het, is hy in hegtenis geneem en na die berugte kamp in Dachau, en daarna na Mauthausen, geneem. Sy vrou, Gertrud, is in Ravensbrück aangehou. Hulle het mekaar nege jaar lank nie gesien nie. Hy het later van sy ondervindinge in Mauthausen geskryf: “Die Gestapo het alles gedoen om ons geloof in Jehovah te probeer breek. Hulle het alles probeer—’n hongerdieet, bedrieglike vriendskappe, wreedheid, om dag na dag in ’n raam te moet staan, om met jou gewrigte agter jou rug vasgemaak aan ’n [drie meter] hoë paal gehang te word, lyfstraf—al hierdie dinge en nog baie ander wat te aaklig is om te noem.” Maar hy het lojaal teenoor Jehovah gebly. Hy was ook onder die oorlewendes, en later het hy as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien.
In die tronk gegooi vir hulle geloof
Jehovah se Getuies was nie in die konsentrasiekampe omdat hulle misdadigers was nie. Wanneer offisiere iemand wou hê om hulle te skeer, het hulle ’n Getuie met die skeermes vertrou, want hulle het geweet dat geen Getuie dit ooit as ’n wapen sou gebruik om iemand anders kwaad aan te doen nie. Wanneer SS-offisiere by die Auschwitz-uitwissingskamp iemand nodig gehad het om hulle huis skoon te maak of hulle kinders op te pas, het hulle Getuies gekies, want hulle het geweet dat hulle hulle nie sou probeer vergiftig of sou probeer ontsnap nie. Toe die Sachsenhausen-kamp aan die einde van die oorlog ontruim is, het die wagte ’n wa waarop hulle hulle buit vervoer het, in die middel van ’n groep Getuies geplaas. Waarom? Want hulle het geweet dat die Getuies nie van hulle sou steel nie.
Jehovah se Getuies was weens hulle geloof in die tronk. Hulle is herhaaldelik belowe dat hulle uit die kampe vrygelaat sou word as hulle net ’n verklaring sou onderteken dat hulle hulle oortuigings verwerp. Die SS het alles in hulle vermoë gedoen om die Getuies te oorreed of te dwing om so ’n verklaring te teken. Dit was wat hulle die graagste wou hê.
Buiten ’n paar het al die Getuies onwrikbare onkreukbaarheid gehandhaaf. Maar hulle het meer gedoen as om net te ly as gevolg van hulle lojaliteit teenoor Jehovah en hulle toegewydheid aan die naam van Christus. Hulle het meer gedoen as om die wrede pyniging te verduur wat oor hulle gebring is. Hulle het hegte bande van geestelike eenheid gehandhaaf.
Persoonlike oorlewing was nie vir hulle die allerbelangrikste saak nie. Hulle het selfopofferende liefde teenoor mekaar betoon. Wanneer een van hulle swak geword het, het ander hulle skrale porsies kos met hom gedeel. Wanneer hulle alle mediese behandeling ontsê is, het hulle liefdevol vir mekaar gesorg.
Ondanks al die pogings van hulle vervolgers om dit te voorkom, het Bybelstudiemateriaal by die Getuies uitgekom—versteek in geskenkpakkies van buite, by monde van nuwe gevangenes, selfs versteek in die houtbeen van ’n nuwe gevangene of deur ander maniere wanneer hulle buite die kampe gewerk het. Hulle het afskrifte onder mekaar gesirkuleer; soms is afskrifte in die geheim op masjiene in die kantore van die kampoffisiere gemaak. Al was dit baie gevaarlik, is party Christelike vergaderinge selfs in die kampe gehou.
Die Getuies het aangehou preek dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is—en hulle het dit daar in die konsentrasiekampe gedoen! As gevolg van georganiseerde bedrywigheid het duisende gevangenes in Buchenwald die goeie nuus gehoor. In die kamp by Neuengamme, naby Hamburg, is ’n intensiewe getuieniskampanje vroeg in 1943 sorgvuldig beplan en uitgevoer. Getuieniskaarte is voorberei in verskeie tale wat in die kamp gepraat is. Pogings is aangewend om elke geïnterneerde te bereik. Reëlings is getref om gereelde persoonlike Bybelstudies met belangstellendes te hou. Die Getuies het so ywerig gepreek dat party politieke gevangenes gekla het: “Oral waar jy gaan, hoor jy net die hele tyd van Jehovah!” Toe daar van Berlyn opdrag gekom het om die Getuies onder die ander gevangenes te versprei om hulle sodoende te verswak, het dit hulle in werklikheid die geleentheid gegee om met meer mense te praat.
’n Niggie van die Franse generaal Charles de Gaulle het, ná sy self vrygelaat is, die volgende oor die sowat 500 getroue Getuievroue in Ravensbrück geskryf: “Ek bewonder hulle werklik. Hulle was van verskillende nasionaliteite: Duits, Pools, Russies en Tsjeggies, en het groot lyding vir hulle oortuigings verduur. . . . Hulle het almal groot moed aan die dag gelê en hulle gesindheid het later selfs die respek van die SS afgedwing. Hulle kon onmiddellik bevry word as hulle hulle geloof afgesweer het. Maar hulle het nie opgehou om weerstand te bied nie, en het dit selfs reggekry om boeke en traktate in die kamp in te kry.”
Soos Jesus Christus, het hulle getoon dat hulle die wêreld, wat probeer het om hulle in sy sataniese vorm in te druk, oorwin het (Joh. 16:33). In die boek New Religious Movements: A Perspective for Understanding Society het Christine King van hulle gesê: “Die Jehovah se Getuies het ’n uitdaging gebied aan die totalitêre begrip van die nuwe gemeenskap, en hierdie uitdaging, sowel as die hardnekkigheid daarvan, het die argitekte van die nuwe orde klaarblyklik ontstem. . . . Die beproefde vervolgingsmetodes, marteling, gevangesetting en bespotting, het nie gelei tot die bekering van Getuies tot die Nazi-standpunt nie en was trouens teenproduktief vir die aanstigters daarvan. . . . Daar was ’n bitter stryd tussen hierdie twee mededingende eisers van lojaliteit, te meer omdat die fisies sterker Nazi’s in baie opsigte minder seker was, minder gegrond in die vastheid van hulle oortuiging, minder seker van die voortbestaan van hulle duisendjarige Ryk. Getuies het nie getwyfel aan hulle eie wortels nie, want hulle geloof was al van die tyd van Abel af duidelik. Ofskoon die Nazi’s teëstand moes onderdruk en hulle ondersteuners moes oortuig, dikwels met taal en beeldspraak wat van die sektariese Christendom geleen is, was Getuies seker van die algehele, onwrikbare lojaliteit van hul lede, selfs tot die dood toe.”—In 1982 uitgegee.
Aan die einde van die oorlog het meer as duisend oorlewende Getuies uit die kampe uitgekom, met hulle geloof ongeskonde en met groot liefde vir mekaar. Terwyl die Russiese leërs nader gekom het, het die wagte Sachsenhausen gou ontruim. Hulle het die gevangenes volgens nasionaliteit ingedeel. Maar Jehovah se Getuies het as een groep bymekaar gebly—230 uit hierdie kamp. Toe die Russe naby was, het die wagte onrustig geraak. Daar was geen kos nie, en die gevangenes was swak; nogtans is enigiemand wat agtergeraak of van uitputting inmekaargesak het, geskiet. Duisende van hulle het al langs die pad gelê. Maar die Getuies het mekaar gehelp sodat nie eers die swakste langs die pad agtergebly het nie! En party van hulle was tussen 65 en 72 jaar oud. Ander gevangenes het langs die pad probeer kos steel en baie van hulle is geskiet terwyl hulle dit probeer doen het. In teenstelling daarmee het Jehovah se Getuies geleenthede aangegryp om mense langs die ontruimingsroete te vertel van Jehovah se liefdevolle voornemens, en party van hulle het, uit dankbaarheid vir die bemoedigende boodskap, vir hulle en hulle Christenbroers kos gegee.
Die geestelikes veg voort
Ná die Tweede Wêreldoorlog het die geestelikes in die oostelike deel van Tsjeggo-Slowakye aangehou om vervolging teen Jehovah se Getuies aan te stig. Gedurende die tyd van Nazi-oorheersing het hulle beweer dat die Getuies Kommuniste is; nou het hulle gesê dat die Getuies teen die Kommunistiese regering was. Wanneer Jehovah se Getuies mense se huise besoek het, het die priesters onderwysers soms aangespoor om honderde kinders uit die skool te laat om die Getuies met klippe te gooi.
Katolieke priesters in Santa Ana, El Salvador, het in 1947 op soortgelyke wyse teen die Getuies opgetree. Terwyl die broers hulle weeklikse Wagtoring-studie gehou het, het seuns klippe by die oop deur ingegooi. Toe het die optog gevolg wat deur priesters gelei is. Party het fakkels gedra; ander het beelde gedra. “Lank lewe die Maagd!” het hulle geskreeu. “Mag Jehovah sterf!” Die gebou is omtrent twee uur lank met klippe bestook.
In die middel-veertigerjare moes Jehovah se Getuies in Quebec ook verskriklike mishandeling deur Katolieke oproeriges en amptenare verduur. Afvaardigings van die biskop se paleis het daagliks by die polisie gaan aanklop om te eis dat hulle van die Getuies ontslae raak. Dikwels, voor iemand in hegtenis geneem is, is daar gesien dat polisiemanne by die kerk se agterdeur uitkom. In 1949 het Katolieke oproeriges sendelinge van Jehovah se Getuies uit Joliette, Quebec, verdryf.
Maar nie almal in Quebec het saamgestem met wat gedoen is nie. Daar is vandag ’n pragtige Koninkryksaal van Jehovah se Getuies langs een van die hoofstrate in Joliette. Die kweekskool wat daar was, is gesluit, deur die regering gekoop en in ’n gemeenskapskollege verander. En Jehovah se Getuies het al groot internasionale byeenkomste in Montreal gehou, met bywonings van tot 80 008 in 1978.
Die Katolieke Kerk het nietemin alles in sy vermoë gedoen om ’n ystergreep op die mense te behou. Deur druk op regeringsamptenare uit te oefen, het hulle in 1949 gesorg dat Getuiesendelinge beveel is om Italië te verlaat, en hulle het, waar moontlik, toegesien dat permitte wat die Getuies gedurende die vyftigerjare gekry het om byeenkomste te hou, teruggetrek is. Ondanks al hierdie dinge het Jehovah se Getuies al hoe meer geword, en in 1992 was daar meer as 190 000 Getuiepredikers in Italië.
Soos in die tyd van die Inkwisisie, het die geestelikes in Spanje die beskuldigings ingebring en dit dan aan die Staat oorgelaat om die vuil werk te doen. In Barcelona, waar die aartsbiskop in 1954 ’n veldtog teen die Getuies op tou gesit het, het die geestelikes byvoorbeeld die preekstoel sowel as die skole en die radio gebruik om vir die mense te sê dat hulle die Getuies moet innooi as hulle hulle besoek—en dan gou die polisie moet bel.
Die priesters was bang dat die Spaanse volk sal leer wat in die Bybel is en miskien selfs vir ander sal wys wat hulle gesien het. Toe Manuel Mula Giménez in 1960 in Granada in die tronk gegooi is vir die “misdaad” dat hy ander van die Bybel geleer het, het die gevangeniskapelaan (’n Katolieke priester) die enigste Bybel in die gevangenisbiblioteek laat verwyder. En toe ’n ander gevangene vir Manuel ’n eksemplaar van die Evangelies geleen het, is dit by hom gesteel. Maar nou het die Bybel die gewone mense in Spanje bereik, hulle het die geleentheid gehad om self te sien wat dit sê, en teen 1992 was daar meer as 90 000 wat Jehovah as sy Getuies aanbid.
In die Dominikaanse Republiek het die geestelikes met diktator Trujillo saamgespan en hom gebruik om hulle doel te bereik, soos hy hulle ook gebruik het om sy oogmerke te bereik. In 1950, ná Jehovah se Getuies veroordeel is in koerantartikels wat deur priesters geskryf is, is die Wagtoringgenootskap se takopsiener deur die Minister van Binnelandse Sake en Polisie ontbied. Terwyl hy buite die kantoor gewag het, het die takopsiener gesien hoe twee Jesuïetepriesters ingaan en weer uitkom. Onmiddellik daarna is hy in die Minister se kantoor ingeroep, en die Minister het senuweeagtig ’n bevel gelees waarvolgens die werk van Jehovah se Getuies verbied is. Ná die verbod in 1956 vir ’n kort rukkie opgehef is, het die geestelikes die radio en die pers gebruik om die Getuies opnuut te belaster. Hele gemeentes is in hegtenis geneem en beveel om ’n verklaring te teken waarvolgens hulle hulle geloof versaak en beloof om na die Rooms-Katolieke Kerk terug te keer. Wanneer die Getuies geweier het, is hulle geslaan, geskop, lyfstraf toegedien en met geweerkolwe in die gesig geslaan. Maar hulle het vasgestaan en hulle getalle het toegeneem.
In Sucre, Bolivia, was daar meer geweld. Ten tye van ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1955 het ’n klomp seuns van die Heilige Hart- Katolieke Skool die plek waar die byeenkoms gehou is, omring, geskreeu en klippe gegooi. Vanuit die kerk oorkant die straat het ’n kragtige luidspreker alle Katolieke aangespoor om die kerk en die “Maagd” teen die “Protestantse ketters” te verdedig. Die biskop en die priesters het persoonlik probeer om die vergadering te ontwrig, maar is deur die polisie beveel om die saal te verlaat.
Die vorige jaar, toe Jehovah se Getuies ’n byeenkoms in Riobamba, Ecuador, gehou het, was daar ’n openbare toespraak met die titel “Liefde—Is dit prakties in ’n selfsugtige wêreld?” op die program. Maar ’n Jesuïetepriester het die Katolieke bevolking opgesweep en hulle aangespoor om te keer dat daardie byeenkoms gehou word. Toe die toespraak begin het, kon hulle dus ’n klomp oproeriges hoor skreeu: “Lank lewe die Katolieke Kerk!” en “Weg met die Protestante!” Die polisie het hulle gelukkig teruggehou, met hulle swaarde getrek. Maar die skare het klippe na die vergaderplek gegooi en later na die gebou waar die sendelinge gewoon het.
Die Rooms-Katolieke geestelikes was aan die spits van die vervolging, maar hulle was nie die enigstes nie. Die Grieks-Ortodokse geestelikes was net so erg, en hulle het dieselfde taktiek in hulle meer beperkte gebied gebruik. Daarbenewens het baie van die Protestantse geestelikes, waar hulle gevoel het hulle dit kon regkry, ’n soortgelyke gees aan die dag gelê. In Indonesië het hulle byvoorbeeld oproerige skares gelei wat Bybelstudies in privaat wonings ontwrig het en die Getuies van Jehovah wat daar was, aangerand het. In party Afrikalande het hulle amptenare probeer beïnvloed om die organisasie van Jehovah se Getuies in die land te verbied of hulle van die vryheid te beroof om met ander oor God se Woord te praat. Al stem hulle oor ander sake nie met mekaar saam nie, is die Katolieke en Protestantse geestelikes as ’n geheel dit met mekaar eens wat hulle teëstand teen Jehovah se Getuies betref. Hulle het soms selfs saamgewerk om regeringsamptenare te probeer beïnvloed om die bedrywighede van die Getuies stop te sit. Waar nie-Christelike godsdienste die lewe oorheers, het hulle ook al dikwels die regering gebruik om hulle mense te beskerm teen enige blootstelling aan leringe wat hulle aan die godsdiens van hulle geboorte sal laat twyfel.
Soms het hierdie nie-Christelike groepe met voorgewende Christene saamgespan om die godsdienstige status quo te handhaaf. In Dekin, in Dahomey (nou Benin), het ’n juju-priester en ’n Katolieke priester saamgesweer om amptenare sover te kry om die bedrywighede van Jehovah se Getuies vroeg in die vyftigerjare te laat onderdruk. In hulle desperaatheid het hulle beskuldigings versin wat allerhande vyandige gevoelens sou opwek. Hulle het die Getuies daarvan beskuldig dat hulle die mense aanmoedig om teen die regering in opstand te kom, dat hulle nie belasting betaal nie, dat hulle die rede was waarom die juju’s nie reën gegee het nie en dat hulle daarvoor verantwoordelik was dat die priester se gebede nie verhoor is nie. Al hierdie godsdiensleiers was bang dat hulle mense dinge sou leer wat hulle sou bevry van bygelowige opvattinge en ’n lewe van blinde gehoorsaamheid.
Die invloed van die geestelikes het in baie plekke egter geleidelik verminder. Die geestelikes vind nie nou meer dat die polisie altyd agter hulle staan wanneer hulle die Getuies lastig val nie. Toe ’n Grieks-Ortodokse priester ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1986 in Larissa, Griekeland, deur gepeupelgeweld probeer ontwrig het, het die staatsaanklaer en ’n groot groep polisiemanne ten behoewe van die Getuies tussenbeide getree. En soms het die pers dade van godsdienstige onverdraagsaamheid baie reguit veroordeel.
Nogtans het ander geskille in baie dele van die wêreld vlae van vervolging veroorsaak. Een van hierdie geskille was die standpunt van Jehovah se Getuies ten opsigte van nasionale simbole.
Omdat hulle Jehovah alleen aanbid
In hedendaagse tye was dit in Nazi-Duitsland dat Jehovah se Getuies die eerste keer werklik voor geskille met betrekking tot nasionalistiese seremonies te staan gekom het. Hitler het die Duitse volk dissipline probeer leer deur die Nazi-saluut “Heil Hitler!” verpligtend te maak. Die Sweedse joernalis en BBC-omroeper Björn Hallström het gesê dat die aanklagte teen Jehovah se Getuies, wanneer hulle gedurende die Nazi-era in Duitsland in hegtenis geneem is, gewoonlik “weiering om die vlag te salueer en die Nazi-saluut te gee” ingesluit het. Kort voor lank het ander nasies daarop begin aandring dat almal hulle vlag salueer. Jehovah se Getuies het geweier—nie omdat hulle dislojaal was nie, maar weens hulle Christelike gewete. Hulle respekteer die vlag, maar beskou vlagsaluering as ’n daad van aanbidding.f
Ná sowat 1 200 Getuies vroeg in die Nazi-era in Duitsland in die tronk gegooi is omdat hulle geweier het om die Nazi-saluut te gee en hulle Christelike neutraliteit te skend, is duisende in die Verenigde State fisies mishandel omdat hulle geweier het om die Amerikaanse vlag te salueer. Gedurende die week van 4 November 1935 is ’n aantal skoolkinders in Canonsburg, Pennsilvanië, na die skool se ketelkamer geneem en lyfstraf gegee omdat hulle geweier het om te salueer. Grace Estep, ’n onderwyseres, is om dieselfde rede uit haar pos in daardie skool ontslaan. Op 6 November het William en Lillian Gobitas geweier om die vlag te salueer en is hulle uit die skool in Minersville, Pennsilvanië, gesit. Hulle vader het ’n eis ingestel dat sy kinders weer in die skool toegelaat word. Die federale streekhof sowel as die rondgaande appèlhof het in die saak ten gunste van Jehovah se Getuies beslis. Maar in 1940, met die nasie op die randjie van oorlog, het die Amerikaanse Appèlhof in Minersville School District v. Gobitis met 8 stemme teen 1 ten gunste van verpligte vlagsaluering in openbare skole besluit. Dit het tot ’n landwye uitbarsting van geweld teen Jehovah se Getuies gelei.
Daar was soveel gewelddadige aanvalle op Jehovah se Getuies dat mev. Eleanor Roosevelt (die vrou van president F. D. Roosevelt) ’n beroep op die publiek gedoen het om daarmee op te hou. Op 16 Junie 1940 het die Amerikaanse sollisiteur-generaal, Francis Biddle, in ’n landwye radio-uitsending spesifiek melding gemaak van die wreedhede wat teen die Getuies gepleeg is en gesê dat dit nie geduld sal word nie. Maar dit het nie die gruweldade stopgesit nie.
Onder alle denkbare omstandighede—op straat, by die werkplek, wanneer Getuies mense tydens hulle bediening besoek het—is hulle ’n vlag onder die neus gedruk en is daar geëis dat hulle dit salueer—of anders! Aan die einde van 1940 het die Yearbook of Jehovah’s Witnesses berig: “Die Hiërargie en die Amerikaanse Legioen het, deur middel van oproeriges wat die reg in eie hande geneem het, onbeskryfbare skade gedoen. Jehovah se getuies is aangerand, geslaan, ontvoer, uit dorpe, distrikte en state gedryf, geteer en veer, gedwing om kasterolie te drink, aan mekaar vasgebind en soos redelose diere deur die strate gejaag, gekastreer en vermink, deur demoonbesete mense getart en beledig, by die honderde sonder aanklag in die tronk gegooi en in volstrekte afsondering gehou en enige kontak met familie, vriende of regsverteenwoordigers ontsê. Honderde ander is in die tronk gegooi en in sogenaamde ‘veilige bewaring’ aangehou; party is in die nag geskiet; party is gedreig dat hulle gehang gaan word en geslaan tot hulle bewusteloos was. Verskeie vorme van gepeupelgeweld is teen hulle gebruik. Baie se klere is van hulle lyf afgeskeur, hulle Bybels en ander lektuur is afgeneem en in die openbaar verbrand; hulle motors, woonwaens, huise en vergaderplekke is vernietig en aan die brand gesteek . . . In etlike gevalle waar verhore in gemeenskappe gehou is waar die gepeupel se invloed sterk was, is regsverteenwoordigers sowel as getuies by die hof deur oproeriges oorval en geslaan. In bykans elke geval waar gepeupelgeweld voorgekom het, het die openbare amptenare dit deur die vingers gesien en geweier om beskerming te gee, en in tientalle gevalle het die geregsdienaars met die oproeriges saamgegaan en soms die gepeupel selfs aangevoer.” Van 1940 tot 1944 het meer as 2 500 gewelddadige bendes Jehovah se Getuies in die Verenigde State aangerand.
Aangesien soveel van die kinders van Jehovah se Getuies uit die skool gesit is, was dit ’n tyd lank gedurende die laat dertiger- en vroeë veertigerjare vir hulle nodig om hulle eie skole in die Verenigde State en Kanada te hê om vir hulle kinders onderwys te gee. Hulle is Koninkrykskole genoem.
Ander lande het die Getuies ook wreed vervolg omdat hulle nie nasionale simbole salueer of soen nie. In 1959 is kinders van Jehovah se Getuies in Costa Rica wat geweier het om deel te neem aan wat die wet ‘aanbidding van die Nasionale Simbole’ noem, uit die skool gesit. Getuiekinders in Paraguay is in 1984 op soortgelyke wyse behandel. Die Hooggeregshof in die Filippyne het in 1959 beslis dat kinders van Jehovah se Getuies ondanks godsdiensbesware gedwing kan word om die vlag te salueer. In daardie land het skoolowerhede egter in die meeste gevalle met die Getuies saamgewerk sodat hulle kinders die skool kon bywoon sonder om hulle gewete te skend. In 1963 het amptenare in Liberië, Wes-Afrika, die Getuies van dislojaliteit teenoor die Staat beskuldig; hulle het ’n byeenkoms van die Getuies in Gbarnga ontwrig en geëis dat almal wat daar teenwoordig was—Liberiërs sowel as buitelanders—trou aan die nasionale vlag sweer. In 1976 het ’n berig met die titel “Jehovah se Getuies in Kuba” gesê dat daar gedurende die vorige twee jaar duisend ouers, mans sowel as vroue, tronk toe gestuur is omdat hulle kinders nie die vlag wou salueer nie.
Nie almal het saamgestem met sulke dwangmaatreëls teen mense wat, weens hulle gewete, eerbiedig weier om aan patriotiese seremonies deel te neem nie. The Open Forum, wat deur die Suid-Kaliforniese Tak van die Amerikaanse Unie vir Burgerlike Vryhede gepubliseer word, het in 1941 gesê: “Dit is hoog tyd dat ons tot besinning kom oor hierdie saak van vlagsaluering. Jehovah se Getuies is nie dislojale Amerikaners nie. . . . Hulle is nie tot wetsoortreding in die algemeen geneig nie, maar lei ordentlike, ordelike lewens en dra hulle deel tot die algemene welsyn by.” In 1976 het ’n koerantrubriekskrywer in Argentinië in die Herald van Buenos Aires reguit gesê dat die Getuies se “oortuigings net aanstoot gee aan diegene wat dink dat patriotisme hoofsaaklik betoon word deur vlae rond te swaai en volksliedere te sing, en nie ’n saak van die hart is nie”. Hy het bygevoeg: “Hitler en Stalin het [die Getuies] onuithoudbaar gevind en hulle vreeslik sleg behandel. Baie ander diktators wat na eenvormigheid gesmag het, het hulle probeer onderdruk. En het misluk.”
Dit is ’n bekende feit dat party godsdiensgroepe gewapende geweld gesteun het teen regerings waarvan hulle nie gehou het nie. Maar nêrens op aarde het Jehovah se Getuies al ooit by politieke ondermyning betrokke geraak nie. Dit is nie weens dislojaliteit—omdat hulle ’n ander menseregering steun—dat hulle weier om ’n nasionale simbool te salueer nie. Hulle neem in elke land waar hulle aangetref word dieselfde standpunt in. Hulle gesindheid is nie oneerbiedig nie. Hulle fluit of skreeu nie om patriotiese seremonies te ontwrig nie; hulle spoeg nie op die vlag nie, hulle vertrap of verbrand dit nie. Hulle is nie teen die regering nie. Hulle standpunt is gegrond op wat Jesus Christus self gesê het, soos dit in Mattheüs 4:10 opgeteken staan: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”
Die standpunt wat Jehovah se Getuies inneem, is soos dié wat die vroeë Christene in die dae van die Romeinse Ryk ingeneem het. Aangaande daardie vroeë Christene sê die boek Essentials of Bible History: “Die daad van keiseraanbidding het daaruit bestaan om ’n knippie reukwerk of ’n paar druppels wyn te sprinkel op ’n altaar wat voor ’n beeld van die keiser gestaan het. Omdat ons so ver van daardie situasie verwyder is, sien ons moontlik geen verskil tussen daardie daad . . . en die oplig van die hand om die vlag of ’n vername heerser van die staat te salueer nie—’n blyk van hoflikheid, eerbied en patriotisme. Baie mense in die eerste eeu het die saak moontlik net so beskou, maar nie die Christene nie. Hulle het die hele saak as een van godsdiensaanbidding beskou waarin die keiser as ’n god erken is en gevolglik as ontrouheid teenoor God en Christus, en hulle het geweier om dit te doen.”—Elmer W. K. Mould, 1951, bl. 563.
Gehaat omdat hulle ‘geen deel van die wêreld is nie’
Omdat Jesus gesê het dat sy dissipels “geen deel van die wêreld” sou wees nie, neem Jehovah se Getuies nie deel aan sy politieke aangeleenthede nie (Joh. 17:16, NW; 6:15). Ook in hierdie opsig is hulle soos die vroeë Christene, van wie geskiedskrywers sê:
“Die vroeë Christendom is weinig verstaan en is met min guns bejeën deur diegene wat oor die heidense wêreld geheers het. . . . Die Christene het geweier om sekere pligte van Romeinse burgers na te kom. . . . Hulle wou geen politieke amp beklee nie” (On the Road to Civilization—A World History, A. K. Heckel en J. G. Sigman, 1937, bl. 237-8). “Hulle het geweier om enige aktiewe deelname te hê aan die burgerlike administrasie of die militêre verdediging van die ryk. . . . Dit was vir die Christene onmoontlik om die rol van soldate, van magistrate of van vorste aan te neem sonder om ’n heiliger plig te verloën.”—History of Christianity, Edward Gibbon, 1891, bl. 162-3.
Die wêreld is nie ten gunste van hierdie standpunt nie, veral nie in lande waar heersers daarop aandring dat almal aan sekere aktiwiteite deelneem om hulle ondersteuning van die politieke stelsel te toon nie. Die gevolg is soos Jesus gesê het: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”—Joh. 15:19.
In party lande word dit as verpligtend beskou om in politieke verkiesings te stem. Versuim om te stem is strafbaar met ’n boete, tronkstraf of iets ergers. Maar Jehovah se Getuies ondersteun die Messiaanse Koninkryk van God, wat, soos Jesus gesê het, ‘geen deel van hierdie wêreld is nie’. Daarom neem hulle nie deel aan die politieke aangeleenthede van die nasies van hierdie wêreld nie (Joh. 18:36, NW). Dit is ’n persoonlike besluit; hulle dwing nie hulle sienswyse aan ander op nie. Waar daar geen godsdiensverdraagsaamheid is nie, het regeringsamptenare die feit dat Getuies nie deelneem nie as ’n verskoning vir wrede vervolging gebruik. Gedurende die Nazi-era is dit byvoorbeeld in lande onder hulle gesag gedoen. Dit was ook in Kuba die geval. Maar in baie lande was amptenare verdraagsamer.
En tog het die owerhede op party plekke geëis dat almal hulle ondersteuning van die heersende politieke party toon deur sekere slagspreuke te skreeu. Omdat hulle gewete hulle nie toegelaat het om dit te doen nie, is duisende van Jehovah se Getuies gedurende die sewentiger- en tagtigerjare in oostelike dele van Afrika geslaan, van hulle lewensonderhoud ontneem en uit hulle huise verdryf. Hoewel Jehovah se Getuies in alle lande vlytig en wetsgehoorsaam is, handhaaf hulle hulle Christelike neutraliteit ten opsigte van politieke aangeleenthede.
In Malawi is daar net een politieke party, en die besit van ’n partykaart toon dat ’n mens daaraan behoort. Al is die Getuies, ooreenkomstig hulle godsdiensoortuigings, voorbeeldig in hulle belastingbetaling, weier hulle om politieke partykaarte te koop. As hulle dit doen, sal dit ’n verloëning van hulle geloof in God se Koninkryk wees. As gevolg hiervan het bendes jeugdiges laat in 1967, met die aanmoediging van regeringsamptenare, dwarsdeur Malawi ’n verbete aanval op Jehovah se Getuies gerig wat gekenmerk is deur ongekende skandelikheid en sadistiese wreedheid. Meer as duisend getroue Christenvroue is verkrag. Party is voor groot groepe kaal uitgetrek, met stokke en vuiste geslaan en dan deur die een persoon na die ander seksueel aangerand. Daar is spykers deur mans se voete gekap en fietsspeke deur hulle bene, en dan is hulle beveel om te hardloop. Dwarsdeur die land is hulle huise, meubels, klere en kosvoorrade vernietig.
In 1972 was daar weer ’n hernieude uitbreking van sulke wreedheid ná die jaarlikse koukus van die Malawi Congress-party. By daardie koukus is daar amptelik besluit om Jehovah se Getuies van alle sekulêre werk te ontneem en hulle uit hulle huise te verdryf. Selfs versoeke deur werkgewers om hierdie vertroude werkers te behou, het niks gehelp nie. Huise, oeste en huisdiere is gekonfiskeer of vernietig. Getuies is daarvan verhinder om water by die dorpsput te skep. Groot getalle is geslaan, verkrag, vermink of vermoor. Hulle is die hele tyd bespot weens hulle geloof. Meer as 34 000 het uiteindelik uit die land gevlug om hulle lewe te red.
Maar dit was nog nie verby nie. Hulle is eers uit een land en toe uit ’n ander oor die grens teruggedwing, in die hande van hulle vervolgers in, en dan moes hulle verdere wreedhede verduur. Maar ondanks al hierdie dinge het hulle nie hulle standpunt versaak nie, en hulle het nie hulle geloof in Jehovah God laat vaar nie. Hulle was soos daardie getroue knegte van God van wie die Bybel sê: “Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel—die wêreld was hulle nie werd nie.”—Hebr. 11:36-38.
In alle nasies vervolg
Is dit net betreklik min nasies van die wêreld wat hulle skyn van vryheid deur sulke godsdienstige vervolging verraai het? Beslis nie! Jesus Christus het sy volgelinge gewaarsku: “Julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.”—Matt. 24:9.
Gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge, sedert 1914, het daardie haat besonder intens geword. Kanada en die Verenigde State het die aanval gelei deur Bybellektuur gedurende die Eerste Wêreldoorlog te verbied, en Indië en Njassaland (nou Malawi) het kort op hulle hakke gevolg. Gedurende die twintigerjare is arbitrêre beperkings in Griekeland, Hongarye, Italië, Roemenië en Spanje ingestel. In sommige van hierdie plekke is die verspreiding van Bybellektuur verbied; soms is selfs private vergaderinge verbied. Gedurende die dertigerjare het meer lande hulle by die aanval gevoeg toe verbooie (party op Jehovah se Getuies, ander op hulle lektuur) in Albanië, Bulgarye, Estland, die destydse Joego-Slawië, Letland, Litaue, Oostenryk, Pole, sekere kantons van Switserland, die Goudkus (nou Ghana), Franse gebiede in Afrika, Trinidad en Fidji ingestel is.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is Jehovah se Getuies, hulle openbare bediening en hulle Bybellektuur in talle wêrelddele verbied. Dit was nie net in Duitsland, Italië en Japan—wat almal onder diktatorskappe was—die geval nie, maar ook in al die lande wat direk of indirek voor of gedurende daardie oorlog onder hulle beheer gekom het. Onder hulle was Albanië, België, Korea, Nederland, Nederlands-Oos-Indië (nou Indonesië), Noorweë, Oostenryk en Tsjeggo-Slowakye. Gedurende daardie oorlogsjare het Argentinië, Brasilië, Finland, Frankryk en Hongarye almal amptelike bevele teen Jehovah se Getuies of hulle bedrywighede uitgevaardig.
Gedurende die oorlog is die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Brittanje nie direk onwettig verklaar nie, maar die Wagtoringgenootskap se Amerikaans-gebore takopsiener is gedeporteer, en pogings is aangewend om die bedrywighede van die Getuies te smoor deur gedurende die oorlog beslag te lê op besendings van hulle Bybellektuur. Dwarsdeur die Britse Ryk en die Britse Statebond is die werk van Jehovah se Getuies direk verbied of is hulle lektuur onwettig verklaar. Australië, die Bahamas, Basoetoland (nou Lesotho), die Benedewindse Eilande (BWI), Betsjoeanaland (nou Botswana), Birma (nou Myanma), Brits-Guiana (nou Guyana), Ceylon (nou Sri Lanka), Ciprus, Dominica, Fidji, die Goudkus (nou Ghana), Indië, Jamaika, Kanada, Nieu-Seeland, Nigerië, Njassaland (nou Malawi), Noord-Rhodesië (nou Zambië), Singapoer, Suid-Afrika, Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) en Swaziland het almal deur sulke optrede vyandigheid teenoor Jehovah se knegte getoon.
Ná afloop van die oorlog was daar uit sommige oorde ’n verligting van die vervolging, maar ’n toename uit ander. Benewens die feit dat baie lande geweier het om Jehovah se Getuies wetlike erkenning te gee, is daar gedurende die volgende 45 jaar direkte verbooie op hulle of hulle bedrywighede geplaas in 23 lande in Afrika, 9 lande in Asië, 8 lande in Europa, 3 lande in Latyns-Amerika en in 4 eilandnasies. In 1992 was Jehovah se Getuies nog in 24 lande onder beperkings.
Dit beteken nie dat alle regeringsamptenare persoonlik die werk van Jehovah se Getuies teëstaan nie. Baie amptenare handhaaf godsdiensvryheid en erken dat die Getuies ’n aanwins vir die gemeenskap is. Sulke manne stem nie met diegene saam wat amptelike optrede teen die Getuies aanstig nie. Voor die Ivoorkus (nou Côte d’Ivoire) byvoorbeeld ’n onafhanklike nasie geword het, het ’n Katolieke priester en ’n Metodistepredikant, toe hulle ’n amptenaar probeer beïnvloed het om Jehovah se Getuies uit die land te sit, gevind dat hulle met amptenare te doen het wat nie bereid was om pionne van die geestelikes te word nie. Toe ’n amptenaar in 1990 probeer het om die wet van Namibië te beïnvloed sodat daar gediskrimineer sou word teen vlugtelinge wat Jehovah se Getuies is, het die Grondwetgewende Vergadering dit nie toegelaat nie. En in baie lande waar Jehovah se Getuies eers verbied was, word hulle nou wetlik erken.
En tog word Jehovah se Getuies in alle wêrelddele op die een of ander manier vervolg (2 Tim. 3:12). Op party plekke kom daardie vervolging hoofsaaklik van beledigende huisbewoners, opponerende familielede of werk- of klasmaats wat geen vrees vir God aan die dag lê nie. Maar ongeag wie die vervolgers is of hoe hulle hulle optrede probeer regverdig, Jehovah se Getuies verstaan wat werklik agter die vervolging van ware Christene sit.
Die geskil
Wagtoringpublikasies sê al lank dat die eerste boek van die Bybel in simboliese taal die vyandskap, of haat, voorspel wat Satan die Duiwel en diegene onder sy beheer teenoor Jehovah se eie hemelse organisasie en sy aardse verteenwoordigers openbaar (Gen. 3:15; Joh. 8:38, 44; Openb. 12:9, 17). Veral sedert 1925 wys Die Wagtoring uit die Skrif daarop dat daar net twee hooforganisasies is—Jehovah s’n en Satan s’n. En soos 1 Johannes 5:19 sê, lê “die hele wêreld”—dit wil sê die mensdom buite Jehovah se organisasie—“in die mag van die Bose”. Dit is waarom alle ware Christene vervolg word.—Joh. 15:20.
Maar waarom laat God dit toe? Werp dit enige goeie vrugte af? Jesus Christus het verduidelik dat ’n skeiding van mense van alle nasies sou plaasvind, soos ’n Midde-Oosterse herder skape van bokke afskei, voor hy as hemelse Koning Satan en sy bose organisasie gaan vernietig. Mense sal die geleentheid gegee word om van die Koninkryk van God te hoor en hulle aan sy kant te skaar. Wanneer die verkondigers van daardie Koninkryk vervolg word, word hierdie vraag selfs verder op die voorgrond gebring: Gaan diegene wat daarvan hoor goed doen aan die “broeders” van Christus en hulle metgeselle en sodoende liefde teenoor Christus self betoon? Of gaan hulle hulle aansluit by diegene wat hierdie verteenwoordigers van God se Koninkryk teëstaan—of moontlik stilbly terwyl ander dit doen? (Matt. 25:31-46; 10:40; 24:14). Party in Malawi het duidelik gesien wie die ware God aanbid en het hulle by die vervolgde Getuies aangesluit. Baie gevangenes sowel as party wagte in Duitse konsentrasiekampe het dieselfde gedoen.
Al word daar leuenagtige aantygings teen hulle gemaak en al word hulle fisies mishandel, selfs getart weens hulle geloof in God, voel Jehovah se Getuies nie asof God hulle verlaat het nie. Hulle weet dat Jesus Christus dieselfde dinge ervaar het (Matt. 27:43). Hulle weet ook dat Jesus, deur sy lojaliteit teenoor Jehovah, die Duiwel ’n leuenaar bewys het en tot die heiliging van sy Vader se naam bygedra het. Elke Getuie van Jehovah wil dieselfde doen.—Matt. 6:9.
Die vraag is nie of hulle marteling kan oorleef of aan die dood kan ontkom nie. Jesus Christus het voorspel dat party van sy volgelinge doodgemaak sou word (Matt. 24:9). Hy is self om die lewe gebring. Maar hy het nooit met God se hoofteenstander, Satan die Duiwel, “die owerste van die wêreld”, ’n vergelyk aangegaan nie. Jesus het die wêreld oorwin (Joh. 14:30; 16:33). Die geskil is dus of aanbidders van die ware God getrou aan hom sal bly ongeag watter ontberinge hulle moet verduur. Jehovah se hedendaagse Getuies het oorvloedige bewys gelewer dat hulle dieselfde voel as die apostel Paulus, wat geskryf het: “Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”—Rom. 14:8.
[Voetnote]
a Die Bybelstudente het destyds nie ’n duidelike begrip gehad van wat die Getuies nou uit die Bybel weet aangaande manne as onderrigters in die gemeente nie (1 Kor. 14:33, 34; 1 Tim. 2:11, 12). Gevolglik was Maria Russell ’n mederedakteur van Die Wagtoring en het sy gereeld artikels daarvoor geskryf.
b Joseph F. Rutherford, die president van die Wagtoringgenootskap; William E. van Amburgh, sekretaris-tesourier van die Genootskap; Robert J. Martin, kantoorbestuurder; Frederick H. Robison, ’n lid van die redaksiekommissie van Die Wagtoring; A. Hugh Macmillan, ’n direkteur van die Genootskap; George H. Fisher and Clayton J. Woodworth, samestellers van The Finished Mystery.
c Giovanni DeCecca, wat in die Italiaanse afdeling van die Wagtoringgenootskap se kantoor gewerk het.
d Streekregter Martin T. Manton, ’n ywerige Rooms-Katoliek, het op 1 Julie 1918 ’n tweede versoek om borgtog geweier. Toe die federale appèlhof later die beslissing teen die verweerders ter syde gestel het, het regter Manton die enkele afwykende stem uitgebring. Interessant genoeg het ’n appèlhof wat spesiaal saamgeroep is op 4 Desember 1939 regter Manton se skuldigbevinding aan misbruik van geregtelike mag, oneerlikheid en bedrog gehandhaaf.
e Dat hierdie manne onregverdig in die tronk gegooi is, en nie misdadigers was nie, word getoon deur die feit dat J. F. Rutherford ’n lid van die balie van die Amerikaanse Appèlhof gebly het, van sy toelating in Mei 1909 tot sy dood in 1942. J. F. Rutherford was een van die regsverteenwoordigers in 14 sake wat van 1939 tot 1942 na die Appèlhof verwys is. In die sake wat bekend staan as Schneider v. State of New Jersey (in 1939) en Minersville School District v. Gobitis (in 1940) het hy persoonlik die pleidooi voor die Appèlhof gelewer. Daarbenewens het die direkteur van die federale Buro van Gevangenisse toestemming gegee dat A. H. Macmillan, een van die manne wat in 1918-19 ten onregte in die tronk gegooi is, gedurende die Tweede Wêreldoorlog federale gevangenisse in die Verenigde State gereeld kon besoek om na die geestelike belange van jong manne om te sien wat daar was omdat hulle ’n standpunt van Christelike neutraliteit ingeneem het.
f The Encyclopedia Americana, Deel 11, 1942, bladsy 316, sê: “Die vlag, soos die kruis, is heilig. . . . Die reglement in verband met die mens se gesindheid ten opsigte van landsvlae gebruik kragtige, veelseggende woorde soos ‘Diens aan die Vlag’, . . . ‘Verering van die Vlag’, ‘Toewyding aan die Vlag’.” In Brasilië het Diário da Justiça van 16 Februarie 1956, bladsy 1904, berig dat ’n militêre offisier by ’n openbare seremonie gesê het: “Vlae het ’n godheid van patriotiese godsdiens geword . . . Die vlag word vereer en aanbid.”
[Lokteks op bladsy 642]
Die voorste vervolgers van Jesus Christus was die godsdiensleiers
[Lokteks op bladsy 645]
“God orden, of magtig, mense om te preek deur hulle die Heilige Gees te gee”
[Lokteks op bladsy 647]
Die boek “The Finished Mystery” het die huigelagtigheid van die Christendom se geestelikes baie duidelik oopgevlek!
[Lokteks op bladsy 650]
Christenmans en -vroue is deur oproeriges aangeval, in die tronk gegooi en daar aangehou sonder om aangekla of verhoor te word
[Lokteks op bladsy 652]
“Die vonnisse is beslis buitensporig”—Amerikaanse president Woodrow Wilson
[Lokteks op bladsy 656]
Daar was baie min geregtigheid vir enigiemand wat die priester nie gehoorsaam het nie
[Lokteks op bladsy 666]
Die priesters het onderwysers aangespoor om kinders uit die skool te laat om die Getuies met klippe te gooi
[Lokteks op bladsy 668]
Die geestelikes het saamgespan om die Getuies teë te staan
[Lokteks op bladsy 671]
Bendes het Jehovah se Getuies in die Verenigde State aangerand
[Lokteks op bladsy 676]
Jehovah se Getuies word in alle wêrelddele vervolg
[Venster op bladsy 655]
Die geestelikes openbaar hulle gevoelens
Die reaksie van godsdienstydskrifte toe J. F. Rutherford en sy metgeselle in 1918 gevonnis is, is interessant:
◆ “The Christian Register”: “Wat die Regering hier met dodelike direktheid aanval, is die veronderstelling dat die verspreiding van godsdiensidees, hoe verspot en skadelik hulle ook al is, ongestraf kan plaasvind. Dit is ’n ou dwaalbegrip, en tot dusver was ons nog heeltemal te roekeloos daaroor. . . . Dit lyk na die einde van Russellisme.”
◆ “The Western Recorder”, ’n Baptistepublikasie, het gesê: “Dit is nie eintlik verbasend dat die leier van hierdie onaangename kultus in een van die toevlugsoorde vir weerspanniges aangehou word nie. . . . Die grootste vraag in hierdie verband is of die verweerders na ’n sielsieke-inrigting of ’n gevangenis gestuur moes gewees het.”
◆ “The Fortnightly Review” het die aandag gevestig op die kommentaar in die “Evening Post” van New York wat gesê het: “Ons vertrou dat alle godsdiensleraars sal kennis neem van hierdie regter se opinie dat om enige godsdiens te leer buiten wat met die geskrewe reg ooreenstem ’n ernstige misdaad is wat nog vererger word as jy, as ’n bedienaar van God se Woord, boonop opreg is.”
◆ “The Continent” het die verweerders neerhalend as “volgelinge van wyle ‘pastor’ Russell” beskryf en het hulle oortuigings verdraai deur te sê dat hulle beweer het “dat almal buiten die sondaars daarvan vrygestel moet word om teen die Duitse keiser te veg”. Dit het beweer dat “die Italiaanse regering [volgens die prokureur-generaal in Washington] ’n tyd gelede by die Verenigde State gekla het dat Rutherford en sy metgeselle . . . propaganda teen die oorlog in die Italiaanse leërs gesirkuleer het.”
◆ ’n Week later het “The Christian Century” die grootste deel van die bogenoemde berig woordeliks gepubliseer, wat getoon het dat hulle dit daarmee eens was.
◆ Die Katolieke tydskrif “Truth” het kortliks berig gelewer oor die vonnis wat opgelê is en het toe die gevoelens van sy redakteurs uitgedruk en gesê: “Die lektuur van hierdie vereniging is vol venynige aanvalle op die Katolieke Kerk en sy priesters.” In ’n poging om die beskrywing “opruiend” aan enigiemand te heg wat in die openbaar met die Katolieke Kerk verskil het, het dit bygevoeg: “Dit word al hoe duideliker dat ’n gees van onverdraagsaamheid nóú verwant is aan dié van opruiing.”
◆ Dr. Ray Abrams het in sy boek “Preachers Present Arms” gesê: “Toe die nuus van die twintigjarige vonnisse die redakteurs van die godsdienspers bereik het, het feitlik al hierdie publikasies, groot en klein, hulle oor die gebeurtenis verheug. Ek kon geen simpatieke woorde in enige van die ortodokse godsdienstydskrifte kry nie.”
[Venster op bladsy 660]
“Om godsdiensredes vervolg”
“Daar was ’n groep mense in die Mauthausen-konsentrasiekamp wat bloot om godsdiensredes vervolg is: lidmate van die sekte ‘Ernstige Bybelstudente’, of ‘Getuies van Jehovah’ . . . Hulle verwerping van die eed van getrouheid aan Hitler en hulle weiering om militêre diens van enige aard te verrig—’n politieke gevolg van hulle geloof—was die rede vir hulle vervolging.”—“Die Geschichte des Konzentrationslagers Mauthausen” (Die geskiedenis van die Mauthausen-konsentrasiekamp), saamgestel deur Hans Maršálek, Wenen, Oostenryk, 1974.
[Venster/Prent op bladsy 661]
Vertaling van die verklaring wat die SS probeer het om Getuies te laat teken
Konsentrasiekamp .......................................
Departement II
VERKLARING
Ek, die ...................................................
gebore op ....................................................
in .......................................................
lê hiermee die volgende verklaring af:
1. Ek het tot die besef gekom dat die Internasionale Bybelstudente-vereniging dwaalleringe verkondig en onder die dekmantel van godsdiens vyandige bedoelings teen die Staat het.
2. Derhalwe het ek die organisasie heeltemal verlaat en maak ek my heeltemal vry van die leringe van hierdie sekte.
3. Hiermee gee ek die versekering dat ek nooit weer enige deel sal hê in die bedrywighede van die Internasionale Bybelstudente-vereniging nie. Ek sal onmiddellik enigiemand rapporteer wat my met die leringe van die Bybelstudente nader, of wat sy verbintenis met hulle op enige manier laat blyk. Ek sal alle lektuur van die Bybelstudente wat aan my adres gestuur word onmiddellik by die naaste polisiestasie ingee.
4. Ek sal voortaan die wette van die Staat hoogag, veral in die geval van oorlog sal ek, met my wapen in my hand, die vaderland verdedig, en my in elke opsig by die meerderheid van die mense voeg.
5. Ek is in kennis gestel dat ek onmiddellik weer in veilige bewaring geneem sal word as ek in stryd met die verklaring wat ek vandag afgelê het, sal optree.
.................................., gedateer ................ ...........................................................
Handtekening
[Venster op bladsy 662]
Briewe van party wat tot die dood veroordeel is
Van Franz Reiter (wat onthoof sou word) aan sy moeder, 6 Januarie 1940, uit die detensiesentrum Berlin-Plötzensee:
“Ek is vas oortuig dat ek reg doen. Ek kan selfs hier nog my standpunt verander, maar God sal dit as dislojaliteit beskou. Ons almal wat hier is, wil aan God getrou wees en wil hom eer. . . . Met die kennis wat ek het, sou ek ’n sonde pleeg wat die dood verdien as ek die [militêre] eed geneem het. Dit sou, wat my betref, goddeloos wees. Ek sou geen opstanding kry nie. Maar ek bly by wat Christus gesê het: ‘Wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe verloor om my ontwil, hy sal dit verkry.’ En nou, my liewe Moeder en al my broers en susters, het ek vandag gehoor wat my vonnis is, en moenie verskrik wees nie, dit is die doodsvonnis, en ek gaan môre-oggend tereggestel word. Ek het my krag van God, soos dit nog altyd was met alle ware Christene in die verlede. Die apostels skryf: ‘Wie uit God gebore is, kan nie sondig nie.’ Dit geld vir my ook. Ek het dit aan julle bewys, en julle kon dit sien. My geliefde, moenie swaarmoedig word nie. Dit sal vir julle almal goed wees om die Heilige Skrif nog beter te leer ken. As julle tot die dood toe getrou bly, sal ons mekaar weer ontmoet in die opstanding. . . .
“Julle Franz
“Tot weersiens.”
Van Berthold Szabo, wat op 2 Maart 1945 in Körmend, Hongarye, deur ’n vuurpeloton tereggestel is:
“My liewe suster, Marika!
“In hierdie uur en ’n half wat ek oor het, sal ek probeer om vir jou te skryf sodat jy ons ouers kan vertel van my situasie, dat ek voor die dood staan.
“Ek wens hulle dieselfde gemoedsrus toe wat ek in hierdie laaste oomblikke in hierdie wêreld vol lyding ondervind. Dit is nou tienuur, en ek gaan om halftwaalf tereggestel word; maar ek is baie kalm. My verdere lewe gee ek oor in die hande van Jehovah en sy Geliefde Seun, Jesus Christus, die Koning, wat nooit dié wat hom opreg liefhet, sal vergeet nie. Ek weet ook dat daar binnekort ’n opstanding gaan wees van diegene wat in Christus gesterf, of eerder, wat in Christus gaan slaap het. Ek wil ook graag noem dat ek jou Jehovah se rykste seën toewens vir die liefde wat jy my gegee het. Gee vir Pa en Ma asseblief ’n soen van my af; en vir Annus ook. Hulle moet nie oor my bekommerd wees nie; ons sal mekaar binnekort weer sien. My hand is nou kalm, en ek sal gaan rus tot Jehovah my weer roep. Ek sal selfs nou die eed hou wat ek vir hom geneem het.
“Die tyd is nou verby. Mag God met jou en met my wees.
“Met baie liefde, . . .
“Berthi”
[Venster op bladsy 663]
Bekend vir hulle moed en oortuigings
◆ “Teen alle verwagting in het die Getuies in die kampe bymekaargekom en saam gebid, lektuur geproduseer en mense bekeer. Die Getuies, onderskraag deur hulle kameraadskap en, anders as baie ander gevangenes, terdeë bewus van die redes waarom sulke plekke bestaan en waarom hulle so moet ly, was ’n klein maar onvergeetlike groepie gevangenes, geïdentifiseer deur die pers driehoekie en bekend vir hulle moed en oortuigings.” So het dr. Christine King geskryf in “The Nazi State and the New Religions: Five Case Studies in Non-Conformity”.
◆ “Values and Violence in Auschwitz”, deur Anna Pawełczyńska, sê: “Hierdie groepie gevangenes was ’n onbeweeglike ideologiese krag, en hulle het hul stryd teen Nazisme gewen. Die Duitse groepie van hierdie sekte was ’n eiland van onvermoeide weerstand te midde van ’n verskrikte volk, en dit was met daardie selfde onverskrokke gees wat hulle in die kamp by Auschwitz opgetree het. Hulle het daarin geslaag om die respek van hulle medegevangenes . . . van die gevangenisamptenare en selfs van die SS-offisiere af te dwing. Almal het geweet dat geen ‘Bibelforscher’ [Getuie van Jehovah] ’n opdrag sou uitvoer wat teen sy godsdiensoortuigings indruis nie.”
◆ Rudolf Hoess het in sy outobiografie, wat in die boek “Commandant of Auschwitz” gepubliseer is, vertel hoe party van Jehovah se Getuies tereggestel is omdat hulle geweier het om hulle Christelike neutraliteit te skend. Hy het gesê: “Ek stel my voor dat die eerste Christenmartelaars so moes gelyk het terwyl hulle in die sirkus gewag het dat die wilde diere hulle uitmekaarskeur. Hulle het hulle dood tegemoetgegaan met hulle gesig heeltemal verander, hulle oë hemelwaarts gerig en hulle hande saamgevou en in gebed omhoog gelig. Almal wat hulle sien sterf het, was diep getref, en selfs die teregstellingspeloton was geroer.” (Hierdie boek is in Pole uitgegee, onder die titel “Autobiografia Rudolfa Hössa-komendanta obozu oświęcimskiego”.)
[Venster op bladsy 673]
“Hulle is nie teen die land nie”
“Hulle is nie teen die land nie; hulle is net vir Jehovah.” “Hulle verbrand nie oproepdokumente nie, kom nie in opstand nie . . . of neem nie aan enige vorm van opruiing deel nie.” “Eerlikheid en integriteit is iets wat deurgaans by die Getuies voorkom. Ongeag wat ’n mens van die Getuies dink—en baie mense dink baie negatiewe dinge—hulle lei voorbeeldige lewens.”—“Telegram”, Toronto, Kanada, Julie 1970.
[Venster op bladsy 674]
Wie is in beheer?
Jehovah se Getuies weet dat hulle verantwoordelikheid om te preek nie van die werking van die Wagtoringgenootskap of enige ander wetlike korporasie afhang nie. “Laat die Wagtoringgenootskap verbied word en sy Takkantore in die verskillende lande met geweld deur staatsinmenging gesluit word! Dit vernietig of hef nie die goddelike bevel van die mans en vrouens wat toegewy is om God se wil te doen en op wie Hy sy gees geplaas het af op nie. ‘Verkondig!’ is duidelik in sy Woord neergeskrywe. Hierdie bevel het voorrang bo die van enige mens” (“Die Wagtoring”, 1 Maart 1950 [Engelse uitgawe, 15 Desember 1949]). Aangesien hulle erken dat hulle opdrag van Jehovah God en Jesus Christus kom, volhard hulle in die verkondiging van die Koninkryksboodskap ondanks die teëstand wat hulle ervaar.
[Venster op bladsy 677]
Soos die vroeë Christene
◆ “Jehovah se Getuies het ’n geloof wat hulle baie ernstiger opneem as die oorgrote meerderheid mense. Hulle beginsels herinner ons aan die vroeë Christene wat so ongewild was en so wreed deur die Romeine vervolg is.”—“Akron Beacon Journal”, Akron, Ohio, 4 September 1951.
◆ “Hulle [die vroeë Christene] het stil, sedelike, voorwaar voorbeeldige lewens gelei. . . . Met die uitsondering van daardie enkele kwessie van wierookoffers was hulle in elke opsig voorbeeldige burgers.” “Kon die staatsowerhede bekostig om die weerspannigheid van hierdie onpatriotiese Christene oor die hoof te sien aangesien offers aan die beskermgees van die keiser steeds die toets van patriotisme was? Die moeilikheid waarin Christene hulle gevolglik bevind het, was nie baie anders as die moeilikheid waarin daardie aggressiewe sekte wat as Jehovah se Getuies bekend staan hulle gedurende die oorlogsjare in die Verenigde State oor die kwessie oor saluering van die landsvlag bevind het nie.”—“20 Centuries of Christianity”, deur Paul Hutchinson en Winfred Garrison, 1959, bl. 31.
◆ “Miskien is die merkwaardigste feit aangaande die Getuies dat hulle hulle getrouheid aan God eerste stel, vóór enige ander mag in die wêreld.”—“These Also Believe”, deur dr. C. S. Braden, 1949, bl. 380.
[Prent op bladsy 644]
“The Pittsburgh Gazette” het groot publisiteit gegee aan die debatte wat gevolg het op dr. Eaton se uitdaging aan C. T. Russell
[Prent op bladsy 646]
Growwe leuens oor die huwelik van Charles en Maria Russell is deur teenstanders versprei
[Prent op bladsy 648]
Die geestelikes was woedend toe 10 000 000 eksemplare van hierdie traktaat versprei is wat hulle leringe en gebruike in die lig van God se Woord blootgelê het
[Prent op bladsy 649]
Koerante het die vervolging van die Bybelstudente in 1918 aangeblaas
[Prente op bladsy 651]
Gedurende die verhoor van personeellede van die Genootskap se hoofkwartier wat hier gehou is, is baie aandag gevestig op die boek “The Finished Mystery”
Federale hof en poskantoor, Brooklyn, N.Y.
[Prent op bladsy 653]
Gevonnis tot ’n erger straf as die sluipmoordenaar deur wie se skoot die Eerste Wêreldoorlog ontketen is. Van links na regs: W. E. van Amburgh, J. F. Rutherford, A. H. Macmillan, R. J. Martin, F. H. Robison, C. J. Woodworth, G. H. Fisher, G. DeCecca
[Prente op bladsy 657]
Toe die Getuies in 1939 hierdie byeenkoms in New York gehou het, het sowat 200 oproermakers wat deur Katolieke priesters aangevoer is dit probeer ontwrig
[Prente op bladsy 659]
Duisende Getuies van Jehovah is gedurende die Tweede Wêreldoorlog in hierdie konsentrasiekampe gegooi
Kopbeenkenteken van SS-wagte (links)
[Prent op bladsy 664]
’n Deel van ’n boek vir Bybelstudie wat fotografies verklein, in ’n vuurhoutjiedosie versteek en na Getuies in ’n konsentrasiekamp gesmokkel is
[Prente op bladsy 665]
Van die Getuies wie se geloof die smeltkroes van die Nazi-konsentrasiekampe deurstaan het
Wewelsburg
Mauthausen
[Prent op bladsy 667]
Gepeupelgeweld naby Montreal, Quebec, in 1945. Sulke geweld teen die Getuies wat deur die geestelikes aangestig is, was iets algemeens gedurende die veertiger- en vyftigerjare
[Prent op bladsy 669]
Duisende Getuies van Jehovah (onder andere John Booth, op die foto) is in hegtenis geneem wanneer hulle Bybellektuur versprei het
[Prente op bladsy 670]
Ná ’n beslissing van die Appèlhof teen die Getuies in 1940 het gepeupelgeweld vinnig deur die Verenigde State versprei, vergaderinge is ontwrig, Getuies is aangerand en eiendom is vernietig
[Prente op bladsy 672]
Dit was in baie plekke nodig om Koninkrykskole te stig omdat Getuiekinders uit die openbare skole gesit is