Hoofstuk 31
Deur God uitgekies en gelei—Hoe?
“DIT is net logies dat daar een ware godsdiens sal wees. Dit strook met die feit dat die ware God ‘nie ’n God van wanorde is nie, maar van vrede’ (1 Korinthiërs 14:33). Die Bybel sê inderdaad dat daar slegs ‘een geloof’ is (Efesiërs 4:5). Wie maak dan vandag die liggaam van ware aanbidders uit? Ons skroom nie om te sê dat dit Jehovah se Getuies is nie”, sê die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe.a
‘Hoe kan julle so seker wees dat julle godsdiens die ware godsdiens is?’ vra sommige moontlik. ‘Julle het nie bonatuurlike bewyse—soos wondergawes—daarvoor nie. En moes julle nie deur die jare heen veranderinge in julle beskouings en leringe aanbring nie? Hoe kan julle dan so seker wees dat God julle lei?’
Om hierdie vrae te beantwoord, is dit nuttig om eers te kyk hoe Jehovah in die ou tyd sy volk gekies en gelei het.
God se uitkiesing in Bybeltye
In die 16de eeu v.G.J. het Jehovah die Israeliete by die berg Sinai bymekaargebring en hulle genooi om sy uitverkore volk te word. Maar Jehovah het hulle eers ingelig dat hulle aan spesifieke vereistes sou moes voldoen. Hy het vir hulle gesê: “As julle dan nou terdeë na my stem luister . . . sal julle my eiendom uit al die volke wees” (Ex. 19:5). Deur Moses het Jehovah die vereistes duidelik uiteengesit, waarna die volk geantwoord het: “Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen.” Daarna het Jehovah ’n verbond met Israel gesluit en hulle sy Wet gegee.—Ex. 24:3-8, 12.
Deur God uitgekies—wat ’n ontsagwekkende voorreg! Maar daardie voorreg het Israel die verantwoordelikheid opgelê om God se Wet streng te gehoorsaam. Versuim om dit te doen, sou daartoe lei dat hulle as ’n nasie verwerp word. Om ’n gesonde vrees by hulle in te boesem sodat hulle hom sou gehoorsaam, het Jehovah skouspelagtige, bonatuurlike tekens gedoen—daar was “donderslae en blitse” en “die hele berg het vreeslik gebewe” (Ex. 19:9, 16-18; 20:18, 20). Die Israeliete was ongeveer die volgende 1 500 jaar in ’n unieke posisie—hulle was God se uitverkore volk.
In die eerste eeu G.J. het die situasie egter drasties verander. Israel het hulle bevoorregte posisie verloor en is deur Jehovah verstoot omdat hulle sy Seun verwerp het (Matt. 21:43; 23:37, 38; Hand. 4:24-28). Jehovah het toe die vroeë Christengemeente, wat op Christus gegrond was, voortgebring. Op Pinkster 33 G.J. het Jehovah sy heilige gees op Jesus se volgelinge in Jerusalem uitgegiet en hulle “’n uitverkore geslag . . . ’n heilige volk, ’n volk as eiendom” gemaak (1 Pet. 2:9; Hand. 2:1-4; Ef. 2:19, 20). Hulle het “uitverkorenes van God” geword.—Kol. 3:12.
Lidmaatskap van daardie uitverkore nasie was voorwaardelik. Jehovah het streng sedelike en geestelike vereistes gestel waaraan daar voldoen moes word (Gal. 5:19-24). Diegene wat aan die vereistes voldoen het, het daarvoor in aanmerking gekom om deur hom uitgekies te word. As hulle egter eers deur God uitgekies was, was dit noodsaaklik dat hulle aan sy wette gehoorsaam bly. Net “die wat Hom gehoorsaam” het, sou sy heilige gees bly ontvang (Hand. 5:32). Diegene wat versuim het om hom te gehoorsaam, het gevaar geloop om uit die gemeente gesit te word en hulle erfenis in die Koninkryk van God te verloor.—1 Kor. 5:11-13; 6:9, 10.
Maar hoe sou ander vir seker weet dat God daardie vroeë Christengemeente uitgekies het om Israel as “die gemeente van God” te vervang? (Hand. 20:28). God se keuse was duidelik. Ná Jesus se dood het Hy wondergawes aan lede van die vroeë Christengemeente voorsien om te toon dat hulle nou God se uitverkorenes was.—Hebr. 2:3, 4.
Was bonatuurlike tekens, of wonderwerke, altyd nodig om diegene wat in Bybeltye deur God uitgekies en gelei is te identifiseer? Nee, glad nie. Wonderwerke was nie deur die hele Bybelgeskiedenis heen iets algemeens nie. Die meeste mense wat in Bybeltye gelewe het, het nooit ’n wonderwerk gesien nie. Die meeste wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is, het plaasgevind in die dae van Moses en Josua (16de en 15de eeu v.G.J.), Elia en Elisa (10de en 9de eeu v.G.J.) en Jesus en sy apostels (1ste eeu G.J.). Ander getroue manne wat met ’n spesifieke doel deur God uitgekies is, soos Abraham en Dawid, het manifestasies van God se krag gesien of ondervind, maar daar is geen bewyse dat hulle self wonderwerke verrig het nie. (Gen. 18:14; 19:27-29; 21:1-3; vergelyk 2 Samuel 6:21; Nehemia 9:7.) Met betrekking tot die wondergawes van die eerste eeu het die Bybel voorspel dat hulle ‘tot niet sal gaan’ (1 Kor. 13:8). En dit het gebeur toe die laaste van die 12 apostels en dié wat die wondergawes deur hulle ontvang het, gesterf het.—Vergelyk Handelinge 8:14-20.
Wat van God se hedendaagse uitkiesing?
Ná die eerste eeu het die voorspelde afvalligheid ongehinderd ontwikkel (Hand. 20:29, 30; 2 Thess. 2:7-12). Die lamp van die ware Christelike godsdiens het talle eeue lank baie flou geskyn. (Vergelyk Mattheüs 5:14-16.) Jesus het egter in ’n gelykenis getoon dat daar tydens die “voleinding van hierdie wêreld” ’n duidelike onderskeid tussen “die koring” (ware Christene) en “die onkruid” (naamchristene) sou wees. Die koring, of “uitverkorenes”, sou soos in die eerste eeu in een ware Christengemeente byeengebring word (Matt. 13:24-30, 36-43; 24:31). Jesus het die gesalfde lede van daardie gemeente ook as “die getroue en verstandige dienskneg” beskryf en getoon dat hulle in die tyd van die einde geestelike voedsel sou uitdeel (Matt. 24:3, 45-47). “’n Groot menigte” ware aanbidders uit alle nasies sou by daardie getroue dienskneg aansluit.—Openb. 7:9, 10; vergelyk Miga 4:1-4.
Hoe sou ware aanbidders in die tyd van die einde geïdentifiseer word? Sou hulle altyd reg wees, sou hulle oordeel onfeilbaar wees? Jesus se apostels moes by tye tereggewys word (Luk. 22:24-27; Gal. 2:11-14). Soos die apostels, moet ware volgelinge van Christus in ons dag nederig wees, bereid wees om dissipline te aanvaar en, wanneer nodig, veranderinge aanbring om hulle denke immer nader aan God s’n te bring.—1 Pet. 5:5, 6.
Watter groep het getoon dat hulle die enigste ware Christenorganisasie is toe die wêreld in 1914 die laaste dae binnegegaan het? Die Christendom was vol kerke wat beweer het dat hulle Christus verteenwoordig. Maar die vraag is: Watter een, indien enige, onder hulle het aan die skriftuurlike vereistes voldoen?
Die enigste ware Christengemeente sou ’n organisasie moes wees wat die Bybel as sy grootste gesag aanvaar, nie een wat hier en daar ’n vers aanhaal, maar die res verwerp wanneer dit nie by sy kontemporêre teologie pas nie (Joh. 17:17; 2 Tim. 3:16, 17). Dit sou ’n organisasie moes wees waarvan die lede—nie sommige nie, maar almal—in navolging van Christus werklik geen deel van die wêreld is nie. Hoe kon hulle dan by die politiek betrokke raak, soos die kerke van die Christendom al herhaaldelik gedoen het? (Joh. 15:19, NW; 17:16, NW). Die ware Christenorganisasie sou moes getuienis aflê aangaande die Goddelike naam, Jehovah, en die werk moes doen wat Jesus beveel het—die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. Soos die eerste-eeuse gemeente, sou nie net ’n paar nie, maar al sy lede heelhartige evangeliedienaars wees (Jes. 43:10-12; Matt. 24:14; 28:19; Kol. 3:23). Ware aanbidders sou ook uitgeken word aan hulle selfopofferende liefde vir mekaar, ’n liefde wat rasse- en nasionale grense sou oorbrug en hulle in ’n wêreldwye broederskap sou verenig. Sulke liefde sou nie net in losstaande gevalle getoon moes word nie, maar op ’n manier wat hulle waarlik as ’n organisasie sou onderskei.—Joh. 13:34, 35.
Toe die tyd van die einde in 1914 aangebreek het, was dit duidelik dat nie een van die kerke van die Christendom aan hierdie Bybelstandaarde vir die enigste ware Christengemeente voldoen het nie. Maar wat van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe bekend gestaan het?
’n Vrugbare soeke na die waarheid
As ’n jong man het C. T. Russell tot die gevolgtrekking gekom dat die Christendom die Bybel ernstig verdraai. Hy het ook geglo dat dit tyd was dat God se Woord verstaan moes word en dat diegene wat die Bybel opreg sou bestudeer en dit in hulle lewe sou toepas, dit sou verstaan.
’n Biografie van broer Russell, wat kort ná sy dood uitgegee is, het verduidelik: “Hy was nie die stigter van ’n nuwe godsdiens en het nooit so iets beweer nie. Hy het die groot waarhede wat deur Jesus en die Apostels geleer is, verlewendig en die lig van die twintigste eeu daarop gewerp. Hy het nie beweer dat hy ’n spesiale openbaring van God ontvang het nie, maar was van mening dat dit God se vasgestelde tyd is dat die Bybel verstaan moet word; en dat hy, omdat hy hom ten volle aan die Here en aan Sy diens toegewy het, toegelaat is om dit te verstaan. Omdat hy hom daaraan gewy het om die vrugte en voortreflike eienskappe van die Heilige Gees aan te kweek, is die Here se belofte in hom vervul: ‘Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.’—2 Petrus 1:5-8.”—Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 1 Desember 1916, bl. 356.
C. T. Russell en sy metgeselle se soeke na skriftuurlike begrip was vrugbaar. As liefhebbers van die waarheid het hulle geglo dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is (2 Tim. 3:16, 17). Hulle het Darwin se evolusionistiese idees en hoër kritici se geloofvernietigende beskouings van die Bybel verwerp. Omdat hulle die Skrif as die hoogste gesag aanvaar het, het hulle ook leerstellings soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en ewige pyniging—leerstellings wat uit heidense godsdiens voortgespruit het—as onskriftuurlik verwerp. Onder die “groot waarhede” wat hulle aanvaar het, was dat Jehovah die Skepper van alles is, dat Jesus Christus die Seun van God is, wat sy lewe as ’n losprys vir ander gegee het, en dat Jesus by sy terugkeer onsigbaar as ’n geesskepsel teenwoordig sal wees (Matt. 20:28; Joh. 3:16; 14:19; Openb. 4:11). Hulle het ook duidelik verstaan dat die mens ’n sterflike siel is.—Gen. 2:7; Eseg. 18:20.
Dit is nie dat die Bybelstudente wat met broer Russell geassosieer was die eerstes was wat al hierdie waarhede verstaan het nie; baie van daardie waarhede is reeds vroeër deur opregte mense verstaan wat bely het dat hulle Christene is en waarvan party selfs hulle standpunt daarvoor ingeneem het toe sulke opvattinge nie gewild was nie. Maar het hierdie mense aan al die skriftuurlike vereistes vir ware aanbidding voldoen? Was hulle byvoorbeeld waarlik geen deel van die wêreld nie, soos Jesus gesê het sy ware volgelinge sou wees?
Benewens hulle beskouing van die Bybel, in watter ander opsigte was dit duidelik dat die vroeë Bybelstudente wat met broer Russell geassosieer was anders was? Beslis in die ywer wat hulle geopenbaar het deur hulle oortuiging aan ander bekend te maak, met spesiale klem op die verkondiging van God se naam en Koninkryk. Hoewel daar maar relatief min van hulle was, het hulle gou talle lande met die goeie nuus bereik. Was hulle as volgelinge van Christus ook waarlik geen deel van die wêreld nie? In sommige opsigte wel. Maar hulle bewustheid van die verantwoordelikheid wat hierby betrokke is, het sedert die Eerste Wêreldoorlog groter geword totdat dit nou ’n uitstaande kenmerk van Jehovah se Getuies geword het. Daar moet onthou word dat toe ander godsdiensgroepe die Volkebond, en later die Verenigde Nasies, verwelkom het, het Jehovah se Getuies God se Koninkryk—en nie enige mensgemaakte organisasie nie—as die mensdom se enigste hoop verkondig.
Maar is sommige van die opvattinge van Jehovah se Getuies dan nie oor die jare heen verander nie? Waarom sou sulke veranderinge dan nodig wees as hulle waarlik deur God uitgekies en gelei is en as hulle leringe werklik op skriftuurlike gesag berus het?
Hoe Jehovah sy volk lei
Diegene wat vandag die enigste ware Christenorganisasie uitmaak, ontvang nie openbarings deur engele nie en is ook nie Goddelik geïnspireerd nie. Maar hulle hét die geïnspireerde Heilige Skrif wat openbarings van God se denke en wil bevat. As ’n organisasie en as individue moet hulle die Bybel as Goddelike waarheid aanvaar, dit sorgvuldig bestudeer en dit in hulle laat werk (1 Thess. 2:13). Maar hoe kry hulle die regte begrip van God se Woord?
Die Bybel self sê: “Is uitlegging nie ’n saak van God nie?” (Gen. 40:8). As hulle tydens hulle studie van die Skrif ’n sekere gedeelte moeilik vind om te verstaan, moet hulle ander geïnspireerde gedeeltes soek wat lig op die saak werp. Sodoende laat hulle die Bybel homself uitlê, en hieruit probeer hulle “die patroon” van waarheid verstaan wat in God se Woord uiteengesit word (2 Tim. 1:13, NW). Jehovah lei of rig hulle deur sy heilige gees tot hierdie begrip. Maar om die leiding van daardie gees te kry, moet hulle die vrugte daarvan aankweek, dit nie bedroef of daarteen werk nie en deurentyd geredelik op die leiding daarvan reageer (Gal. 5:22, 24, 25; Ef. 4:30). Deur boonop wat hulle leer ywerig toe te pas, hou hulle aan om hulle geloof op te bou, wat as ’n grondslag dien om ’n al hoe duideliker begrip te kry van hoe hulle God se wil moet doen in die wêreld waarvan hulle geen deel is nie.—Luk. 17:5; Filip. 1:9, 10.
Jehovah het sy volk nog altyd tot ’n duideliker begrip van sy wil gelei (Ps. 43:3). Die wyse waarop hy hulle gelei het, kan as volg toegelig word: Sal dit nie die beste wees as iemand wat lank in ’n donker vertrek was geleidelik aan lig blootgestel word nie? Jehovah het sy volk op soortgelyke wyse aan die lig blootgestel; hy het hulle progressief verlig. (Vergelyk Johannes 16:12, 13.) Dit was soos die spreuk sê: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”—Spr. 4:18.
Jehovah se handelinge teenoor sy uitverkore knegte in Bybeltye bevestig dat ’n duidelike begrip van sy wil en voornemens dikwels geleidelik kom. Abraham het byvoorbeeld nie ten volle verstaan hoe Jehovah se voorneme met betrekking tot die “saad” volbring sou word nie. (Gen. 12:1-3, 7; 15:2-4; vergelyk Hebreërs 11:8.) Daniël het nie verstaan hoe die profesieë wat hy opgeteken het eindelik vervul sou word nie (Dan. 12:8, 9). Toe Jesus op die aarde was, het hy erken dat hy nie die dag en die uur geweet het wanneer die teenswoordige stelsel van dinge sou eindig nie (Matt. 24:36). Die apostels het eers nie verstaan dat Jesus se Koninkryk ’n hemelse sou wees, dat dit nie in die eerste eeu opgerig sou word en dat selfs nie-Jode dit sou kon beërwe nie.—Luk. 19:11; Hand. 1:6, 7; 10:9-16, 34, 35; 2 Tim. 4:18; Openb. 5:9, 10.
Dit behoort ons nie te verbaas dat Jehovah ook in hedendaagse tye sy volk dikwels as ’n progressiewe organisasie gelei en hulle geleidelik ten opsigte van Bybelwaarhede verlig het nie. Dit is nie die waarhede self wat verander nie. Die waarheid bly die waarheid. Jehovah se wil en voorneme, soos uiteengesit in die Bybel, verander nie (Jes. 46:10). Maar ‘op die regte tyd’, op Jehovah se vasgestelde tyd, word hulle begrip van hierdie waarhede progressief helderder. (Matt. 24:45; vergelyk Daniël 12:4, 9.) Weens menslike vergissing of onbedagte ywer moet hulle beskouing dalk soms aangepas word.
Weens hulle ywer en geesdrif vir die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit het Jehovah se Getuies byvoorbeeld verskeie kere in hulle hedendaagse geskiedenis voortydige verwagtinge gekoester oor wanneer die einde van Satan se goddelose stelsel van dinge sou aanbreek (Eseg. 38:21-23). Maar Jehovah het nie die presiese tyd vooruit bekend gemaak nie (Hand. 1:7). Gevolglik moes Jehovah se volk hulle beskouings in hierdie saak verander.
Sulke veranderinge in hulle beskouing beteken nie dat God se voorneme verander het nie. Hulle dui ook nie daarop dat die einde van hierdie stelsel nog ver in die toekoms moet lê nie. Inteendeel, die vervulling van Bybelprofesieë oor “die voleinding van die wêreld” bevestig hoe naby die einde is (Matt. 24:3). Wel, beteken die feit dat Jehovah se Getuies ’n paar voortydige verwagtinge gekoester het dat hulle nie deur God gelei word nie? Ewe min as wat die dissipels se vraag oor die nabyheid van die Koninkryk in hulle dag beteken het dat hulle nie deur God uitgekies en gelei is nie!—Hand. 1:6; vergelyk Handelinge 2:47; 6:7.
Waarom is Jehovah se Getuies so seker dat hulle die ware godsdiens het? Omdat hulle glo en aanvaar wat die Bybel oor die identifiserende kenmerke van ware aanbidders sê. Hulle hedendaagse geskiedenis, soos dit in vroeëre hoofstukke van hierdie publikasie bespreek is, toon dat hulle nie net as individue nie, maar as ’n organisasie aan die vereistes voldoen: Hulle staan lojaal die Bybel as God se heilige Woord van waarheid voor (Joh. 17:17); hulle bly heeltemal afgeskeie van wêreldse aangeleenthede (Jak. 1:27; 4:4); hulle lê getuienis af aangaande die Goddelike naam, Jehovah, en verkondig God se Koninkryk as die mensdom se enigste hoop (Matt. 6:9; 24:14; Joh. 17:26); en hulle het mekaar waarlik lief.—Joh. 13:34, 35.
Waarom is liefde ’n buitengewone identifiserende kenmerk van aanbidders van die ware God? Watter soort liefde is dit wat ware Christene identifiseer?
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Lokteks op bladsy 705]
As hulle eers deur God uitgekies was, was dit noodsaaklik dat hulle aan sy wette gehoorsaam bly
[Lokteks op bladsy 706]
Hoe sou ware aanbidders in die tyd van die einde geïdentifiseer word?
[Lokteks op bladsy 707]
“Hy het nie beweer dat hy ’n spesiale openbaring van God ontvang het nie”
[Lokteks op bladsy 708]
Hulle laat die Bybel homself uitlê
[Lokteks op bladsy 709]
Jehovah lei sy volk as ’n progressiewe organisasie en verlig hulle geleidelik ten opsigte van Bybelwaarhede