Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 28 bl. 618-641
  • Interne toetsing en sifting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Interne toetsing en sifting
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Het hulle werklik die losprys waardeer?
  • Het God ’n sigbare kanaal gebruik?
  • Verandering van administrasie bring toetse mee
  • Die identiteit van die “getroue en verstandige dienskneg” word verduidelik
  • Toe trots ’n struikelblok geword het
  • Leerstellige beskouings moet gesuiwer word
  • Het hulle die regte verwagtinge gehad?
  • 1914—Verwagtinge en die werklikheid
  • Velddiens en organisasie word geskille
  • Uitsluitlik gewy aan die verkondiging van die Koninkryksboodskap
  • Toename in juiste kennis van die waarheid
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die Here se wederkoms word verkondig (1870-1914)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • ’n Tyd van toetsing (1914-1918)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die Koninkryk word in die hemel gebore
    God se Koninkryk regeer!
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 28 bl. 618-641

Hoofstuk 28

Interne toetsing en sifting

DIE ontwikkeling en groei van die hedendaagse organisasie van Jehovah se Getuies sluit baie situasies in wat die geloof van individue swaar beproef het. Net soos die koring van die kaf geskei word wanneer dit gedors en gewan word, het hierdie situasies gehelp om die ware Christene te identifiseer. (Vergelyk Lukas 3:17.) Mense wat met die organisasie omgegaan het, moes openbaar wat in hulle hart was. Het hulle bloot om persoonlike gewin gedien? Was hulle net volgelinge van die een of ander onvolmaakte mens? Of was hulle nederig, gretig om God se wil te ken en te doen, onverdeeld in hulle toewyding aan Jehovah?—Vergelyk 2 Kronieke 16:9.

Jesus Christus se eerste-eeuse volgelinge se geloof is ook beproef. Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle, as hulle getrou is, saam met hom in sy Koninkryk sal regeer (Matt. 5:3, 10; 7:21; 18:3; 19:28). Maar hy het nie vir hulle gesê wanneer hulle daardie prys sou ontvang nie. Sou hulle lojaal aanhou om die belange van daardie Koninkryk eerste in hulle lewe te stel, ten spyte van openbare onverskilligheid, selfs vyandigheid, ten opsigte van hulle predikingswerk? Nie almal het nie.—2 Tim. 4:10.

Jesus se manier van onderrigting was vir sommige ’n toets. Dit het die Fariseërs laat struikel toe hy hulle tradisies ronduit verwerp het (Matt. 15:1-14). Selfs talle wat beweer het dat hulle Jesus se dissipels is, het aanstoot geneem aan sy manier van onderrigting. Toe hy by een geleentheid bespreek het hoe belangrik dit is om geloof te stel in die waarde van sy eie vlees en bloed wat hy sou opoffer, was baie van sy dissipels geskok oor die figuurlike taal wat hy gebruik het. Sonder om op ’n verdere verduideliking te wag, het hulle “teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie”.—Joh. 6:48-66.

Maar nie almal het weggegaan nie. Soos Simon Petrus verduidelik het: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God” (Joh. 6:67-69). Hulle het genoeg gesien en gehoor om daarvan oortuig te wees dat Jesus die een is deur wie God die waarheid aangaande homself en sy voorneme geopenbaar het (Joh. 1:14; 14:6). Die toetse van geloof het nietemin voortgeduur.

Ná Jesus se dood en opstanding het hy die apostels en ander as herders van die gemeente gebruik. Hulle was onvolmaakte manne, en soms was hulle onvolmaakthede ’n beproewing vir diegene om hulle. (Vergelyk Handelinge 15:36-41; Galasiërs 2:11-14.) Daarenteen was daar mense wat te veel bewondering vir prominente Christene gehad het en gesê het: “Ek is van Paulus”, terwyl ander gesê het: ‘Ek is van Apollos’ (1 Kor. 3:4). Hulle moes almal op hulle hoede wees om nie uit die oog te verloor wat dit beteken om ’n volgeling van Jesus Christus te wees nie.

Die apostel Paulus het ander ernstige probleme voorspel en verduidelik dat daar selfs in die Christengemeente manne sal “opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29, 30). En die apostel Petrus het gewaarsku dat valse leraars onder God se knegte ander met “vervalste woorde” sal probeer uitbuit (2 Pet. 2:1-3, NW). Dit was duidelik dat hartdeursoekende toetse van geloof en lojaliteit nog voorgelê het.

Die toetsing en sifting wat deel uitmaak van die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies was dus nie vir hulle ’n verrassing nie. Maar baie was verbaas oor wie gestruikel het en waaroor hulle hulle laat struikel het.

Het hulle werklik die losprys waardeer?

Gedurende die vroeë 1870’s het broer Russell en sy metgeselle se kennis van en waardering vir God se voorneme toegeneem. Dit was vir hulle ’n tyd van geestelike verkwikking. Maar toe, in 1878, het hulle voor ’n groot toets van hulle geloof en hulle lojaliteit teenoor God se Woord te staan gekom. Die geskil het gegaan oor die offerwaarde van Jesus se vlees en bloed—presies dieselfde lering wat baie van Jesus se eerste-eeuse dissipels laat struikel het.

C. T. Russell het net twee jaar tevore, in 1876, saam met N. H. Barbour van Rochester, New York, begin werk. Hulle studiegroepe het saamgesmelt. Broer Russell het geld voorsien sodat mnr. Barbour se tydskrif Herald of the Morning weer gedruk kon word, met mnr. Barbour as die redakteur en broer Russell as ’n assistent-redakteur. Hulle het ook saam ’n boek met die titel Three Worlds, and the Harvest of This World uitgegee.

Toe het die bom gebars! Mnr. Barbour het in die Herald of the Morning vir Augustus 1878 ’n artikel geskryf waarin hy tekste soos 1 Petrus 3:18 en Jesaja 53:5, 6 asook Hebreërs 9:22 verwerp het en gesê het dat die hele idee dat Christus gesterf het om versoening vir ons sondes te doen aanstootlik is. Broer Russell het later geskryf: “Tot ons hartseer verbasing het mnr. Barbour . . . ’n artikel vir die Herald geskryf waarin hy die leerstelling van versoening ontken—hy ontken dat Christus se dood die losprys vir Adam en sy geslag was en sê dat Christus se dood net so min ’n vergoeding vir die mens se sondes was as wat ’n aardse ouer dit as ’n regverdige vergoeding vir sy kind se wangedrag sou beskou as ’n speld deur ’n vlieg gesteek word sodat dit ly en doodgaan.”a

Dit was ’n uiters belangrike saak. Sou broer Russell lojaal bly by wat die Bybel duidelik oor God se voorsiening vir die redding van die mensdom sê? Of sou hy die slagoffer van menslike filosofie word? Hoewel broer Russell destyds maar 26 was en mnr. Barbour ’n baie ouer man was, het broer Russell moedig ’n artikel vir die volgende nommer van die Herald geskryf waarin hy die versoeningswaarde van Christus se bloed kragtig verdedig en dit “een van die belangrikste leringe van God se Woord” genoem het.

Vervolgens het hy J. H. Paton, die ander assistent-redakteur van die Herald, genooi om ’n artikel te skryf ter ondersteuning van geloof in die bloed van Christus as die grondslag vir die versoening van sondes. J. H. Paton het die artikel geskryf, en dit het in die nommer vir Desember verskyn. Nadat broer Russell herhaaldelik sonder welslae probeer het om uit die Skrif met mnr. Barbour oor die saak te redeneer, het hy sy bande met hom verbreek en opgehou om sy tydskrif geldelik te steun. Broer Russell het in Julie 1879 ’n nuwe tydskrif begin uitgee—Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence—wat van die begin af ’n spesiale voorstander van die losprys was. Maar dit het nie daar opgehou nie.

J. H. Paton, wat destyds ’n reisende verteenwoordiger van Die Wagtoring was, het ook teen die organisasie begin draai en daarna ’n boek uitgegee (sy tweede, met die titel Day Dawn) waarin hy geloof in Adam se sondeval en die gevolglike behoefte aan ’n verlosser verwerp het. Hy het geredeneer dat die Here self ’n onvolmaakte man was wat deur sy lewe bloot vir ander gewys het hoe om hulle sondige neigings te kruisig. In 1881 het A. D. Jones, ’n ander metgesel, ’n publikasie (Zion’s Day Star) soortgelyk aan Die Wagtoring begin, maar met die idee dat dit eenvoudiger aspekte van God se voorneme sou uiteensit. Aanvanklik het alles reg gelyk. Maar binne ’n jaar het mnr. Jones se publikasie Christus se soenoffer ontken, en binne nog ’n jaar het dit die res van die Bybel verwerp. Wat het met daardie manne gebeur? Hulle het toegelaat dat persoonlike teorieë en die betowering van gewilde filosofieë van mense hulle van God se Woord laat afdwaal. (Vergelyk Kolossense 2:8.) Die publikasie wat deur A. D. Jones uitgegee is, het nog ’n kort rukkie bestaan en is toe gestaak. J. H. Paton het besluit om ’n tydskrif uit te gee waarin hy die evangelie uiteengesit het soos hy dit verstaan het, maar dit het nie ’n wye verspreiding geniet nie.

Broer Russell was diep besorg oor die uitwerking wat dit alles op lesers van Die Wagtoring gehad het. Hy het besef dat dit elkeen se geloof op die proef gestel het. Hy was deeglik daarvan bewus dat sommige sy kritiek van onskriftuurlike leringe met ’n gees van mededinging verbind het. Maar broer Russell wou nie volgelinge hê nie. Hy het oor die gebeure geskryf: “Die doel van hierdie toetsing en sifting is blykbaar om almal uit te soek wie se hartsbegeertes onselfsugtig is, wat ten volle en sonder voorbehoud aan die Here toegewy is, wat so gretig is dat die Here se wil gedoen word en wie se vertroue in sy wysheid, sy weg en sy Woord so groot is dat hulle weier om weggelei te word van die Here se Woord, of dit nou deur die drogredenering van ander of deur hulle eie idees en planne is.”

Het God ’n sigbare kanaal gebruik?

Daar is natuurlik baie godsdiensorganisasies, en talle leraars gebruik soms die Bybel. Is Charles Taze Russell by uitstek deur God gebruik? Indien wel, het God dan nie meer ’n sigbare kanaal gebruik toe broer Russell gesterf het nie? Dit het uiters belangrike geskille geword wat tot verdere toetsing en sifting gelei het.

Daar sou beslis nie verwag kon word dat God C. T. Russell sou gebruik as hy nie lojaal by God se Woord gebly het nie (Jer. 23:28; 2 Tim. 3:16, 17). God sou nie ’n man gebruik het wat bang was om dít te verkondig wat hy duidelik in die Skrif gesien het nie (Eseg. 2:6-8). God sou ook nie iemand gebruik het wat sy kennis van die Skrif aangewend het om vir homself eer te soek nie (Joh. 5:44). Wat toon die feite?

Wanneer Jehovah se Getuies vandag die werk wat Charles Taze Russell gedoen het, die dinge wat hy geleer het, die rede waarom hy dit geleer het en die resultaat daarvan in oënskou neem, twyfel hulle glad nie dat hy inderdaad op ’n spesiale manier en op ’n betekenisvolle tyd deur God gebruik is nie.

Hierdie beskouing is nie net gegrond op die ferm standpunt wat broer Russell met betrekking tot die losprys ingeneem het nie. Dit hou ook rekening met die feit dat hy geloofsbelydenisse wat party van die grondopvattinge van die Christendom bevat onbevrees verwerp het omdat dit met die geïnspireerde Skrif bots. Hierdie opvattinge het die volgende ingesluit: die Drie-eenheidsleerstelling (wat sy oorsprong in antieke Babilon gehad het en nie deur sogenaamde Christene aangeneem is tot lank nadat die hele Bybel geskryf is nie), asook die leerstelling dat mensesiele inherent onsterflik is (wat aangeneem is deur mense wat deur die filosofie van Plato beïndruk is en wat daartoe gelei het dat hulle deur idees soos die ewige pyniging van siele in die helse vuur beïnvloed is). Baie van die Christendom se geleerdes weet ook dat die Bybelb nie hierdie leerstellings leer nie, maar dit is nie wat hulle leraars oor die algemeen van die preekstoel af sê nie. Daarenteen het broer Russell ’n intensiewe kampanje onderneem om vir almal wat bereid was om te luister te vertel wat die Bybel werklik sê.

Dit is ook noemenswaardig wat broer Russell met ander uiters betekenisvolle waarhede gedoen het wat hy in God se Woord geleer het. Hy het onderskei dat Christus as ’n glorieryke geespersoon, onsigbaar vir mense-oë, sou terugkeer. Hy het reeds in 1876 besef dat die jaar 1914 die einde van die Heidense Tye sou kenmerk (Luk. 21:24, KJ). Ander Bybelgeleerdes het ook party van hierdie dinge begryp en dit bekend gemaak. Maar broer Russell het al sy middele gebruik om internasionale publisiteit daaraan te gee op ’n skaal wat tot op daardie tydstip deur geen ander mens of groep geëwenaar is nie.

Hy het ander aangespoor om sy geskrifte sorgvuldig met God se geïnspireerde Woord te vergelyk sodat hulle oortuig sou wees dat dit wat hulle geleer het ten volle met God se Woord ooreenstem. Broer Russell het aan iemand wat per brief navraag gedoen het, gesê: “As dit reg was dat die vroeë Christene hulle vergewis het van die dinge wat hulle van die apostels ontvang het, wat gesê het dat hulle deur God geïnspireer is en dit wel so was, hoeveel belangriker is dit dan nie dat jy jou daarvan oortuig dat hierdie leringe in noue ooreenstemming is met wat die apostels en ons Here geleer het nie—aangesien die outeur daarvan nie sê dat hy geïnspireerd is nie, maar bloot dat hy deur die Here gelei word as een wat deur hom gebruik word om sy kudde te voed.”

Broer Russell het nie beweer dat hy bonatuurlike mag het of Goddelike openbaringe ontvang nie. Hy wou ook nie eer hê vir wat hy geleer het nie. Hy was ’n uitstekende student van die Bybel. Maar hy het verduidelik dat sy merkwaardige begrip van die Skrif toe te skryf was aan ‘die blote feit dat God se bestemde tyd aangebreek het’. Hy het gesê: “As ek dit nie gespreek het nie, en as geen ander werktuig gevind kon word nie, sou die klippe dit uitgeroep het.” Hy het gesê dat hy net ’n wysvinger is wat wys op wat in God se Woord gesê word.

Charles Taze Russell wou nie hê dat mense hom vereer nie. Om die denke reg te stel van enigiemand wat geneig was om hom te veel te eer, het broer Russell in 1896 geskryf: “Aangesien ons in ’n sekere mate, deur God se genade, in die bediening van die evangelie gebruik word, sal dit gepas wees om hier te sê wat al dikwels privaat en voorheen in hierdie tydskrif gesê is—naamlik dat ons, hoewel ons die liefde, simpatie, vertroue en broederskap van medeknegte en van al die huisgenote van die geloof waardeer, geen hulde, geen verering, vir ons of ons geskrifte wil hê nie; en ons wil ook nie Eerwaarde of Rabbi genoem word nie. Ons wil ook nie hê dat enige groep na ons vernoem moet word nie.”

Terwyl sy dood nader gekom het, het hy nie die standpunt ingeneem dat daar niks meer was om te leer nie, dat daar geen werk meer was om te doen nie. Hy het dikwels gesê dat hy ’n sewende boekdeel van Studies in the Scriptures wil skryf. Toe hy voor sy dood daaroor gevra is, het hy vir Menta Sturgeon, sy reisgenoot, gesê: “Iemand anders kan dit skryf.” In sy testament het hy sy wens uitgespreek dat Die Wagtoring nog uitgegee moet word onder leiding van ’n komitee manne wat ten volle aan die Here toegewy is. Hy het gesê dat diegene wat in daardie hoedanigheid sou dien manne moet wees wat “volkome lojaal teenoor die leerstellings van die Skrif is—veral teenoor die Losprysleerstelling—dat God niemand aanvaar en daar geen redding tot die ewige lewe is behalwe deur geloof in Christus en gehoorsaamheid aan Sy Woord en die gees daarvan nie”.

Broer Russell het besef dat daar nog baie werk was wat ten opsigte van die verkondiging van die goeie nuus gedoen moes word. Tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie in 1915 in Vancouver, B.C., Kanada, is hy gevra wanneer Christus se geesgesalfde volgelinge wat destyds gelewe het, kon verwag om hulle hemelse beloning te ontvang. Hy het geantwoord: “Ek weet nie, maar daar is ’n groot werk wat gedoen moet word. En dit sal duisende broeders verg en miljoene kos om dit te doen. Waar dit vandaan sal kom, weet ek nie—die Here weet hierdie dinge.” Toe, in 1916, kort voor hy met die toespraakreis begin het waartydens hy gesterf het, het hy A. H. Macmillan, ’n administratiewe assistent, na sy kantoor toe geroep. By daardie geleentheid het hy gesê: “Ek kan nie meer met die werk aangaan nie, en daar is nog ’n groot werk wat gedoen moet word.” Hy het drie uur lank aan broer Macmillan beskryf watter uitgebreide predikingswerk hy op grond van die Skrif in die toekoms gesien het. In antwoord op broer Macmillan se besware het hy gesê: “Dit is nie ’n mens se werk nie.”

Verandering van administrasie bring toetse mee

Baie van broer Russell se metgeselle was vas oortuig dat die Here alles goed onder beheer gehad het. By broer Russell se begrafnis het W. E. van Amburgh gesê: “God het in die verlede baie knegte gebruik en Hy sal ongetwyfeld in die toekoms baie gebruik. Ons is nie aan ’n mens, of aan ’n mens se werk, toegewy nie, maar om die wil van God te doen, soos Hy dit deur Sy Woord en bestiering aan ons sal openbaar. God staan steeds aan die stuur.” Broer Van Amburgh het tot sy dood daardie oortuiging gehad.

Maar ongelukkig was daar party wat voorgegee het dat hulle broer Russell bewonder, maar wat nie dieselfde gesindheid aan die dag gelê het nie. Die veranderde omstandighede ná broer Russell se dood het gevolglik tot ’n toetsing en sifting gelei. Afvallige groepe het nie net in die Verenigde State weggebreek nie, maar ook in Belfast, Ierland; in Kopenhagen, Denemarke; in Vancouver en Victoria, Brits-Columbië, Kanada en op ander plekke. In Helsinki, Finland, het sommige die beskouing gehuldig dat daar ná broer Russell se dood geen kanaal vir verdere geestelike lig was nie. Op aandrang van sekere prominente persone het 164 in daardie land die organisasie verlaat. Het God dit geseën? Hulle het ’n ruk lank hulle eie tydskrif uitgegee en hulle eie vergaderinge gehou. Die groep het egter mettertyd uitmekaar gegaan, gekwyn en ophou bestaan; en baie van hulle het met graagte weer na die Bybelstudente se vergaderinge teruggekeer. Maar nie almal het teruggekeer nie.

Broer Russell se dood, sowel as die daaropvolgende gebeure, was ook vir R. E. B. Nicholson, die sekretaris van die Australiese tak, ’n toets, en het hom laat toon wat in sy hart was. Ná broer Russell se dood het broer Nicholson geskryf: “Ek het hom langer as ’n kwarteeu liefgehad, nie net vanweë sy werk nie, maar ook vanweë sy pragtige geaardheid, my in die waarhede verheug wat hy uitgestuur het as ‘voedsel op die regte tyd’ en in sy raad die simpatieke, vriendelike, liefdevolle geaardheid waardeer wat so goed getemper is met krag en sterk vasbeslotenheid om enigiets te doen en te waag sodat hy kon doen wat hy geglo het die Goddelike wil of die openbaring van Sy Woord is. . . . Daar is ’n gevoel van eensaamheid wanneer ’n mens besef dat hierdie sterk steunpilaar nie meer lewe nie.”

Joseph F. Rutherford, die Wagtoringgenootskap se nuwe president, was nie die soort man wat broer Nicholson gedink het die posisie van toesig moes hê wat broer Russell gehad het nie. Broer Nicholson het die reguit manier waarop nuwe Bybelstudiemateriaal valse godsdiens veroordeel het openlik begin kritiseer. Kort voor lank het hy die organisasie verlaat, en hy het hom baie van die Genootskap se eiendom (wat hy in sy eie naam geregistreer het) toegeëien, en diegene in Melbourne wat, op hulle beurt, na hom opgesien het, het hy met hom saamgeneem. Waarom het dit gebeur? Broer Nicholson het klaarblyklik ’n mens begin volg; toe daardie man dus gesterf het, het broer Nicholson se eerlikheid en ywer om die Here te dien afgekoel. Niemand wat destyds weggebreek het, was voorspoedig nie. Dit is egter noemenswaardig dat Jane Nicholson, hoewel sy klein van gestalte was, nie saam met haar man afvallig geword het nie. Sy was allereers aan Jehovah God toegewy, en sy het hom voltyds bly dien tot haar dood in 1951.

Baie het gesien dat dit wat in die jare ná broer Russell se dood gebeur het die Here se wil volbring het. Een van Jehovah se knegte in Kanada het hieroor aan broer Rutherford geskryf en gesê:

“Liewe Broer, moenie my nou verkeerd verstaan wanneer ek skryf wat ek skryf nie. U geaardheid en dié van ons dierbare broer Russell verskil soos dag en nag. Baie, helaas, ontsettend baie, het van broer Russell gehou vanweë sy persoonlikheid, geaardheid, ens.; en baie, baie min het hom teëgestaan. Baie het die waarheid aangeneem net omdat broer Russell so gesê het. Toe het baie begin om die man te aanbid . . . U onthou seker die tyd toe broer Russell ’n openhartige toespraak by ’n byeenkoms gehou het oor hierdie tekortkoming van talle welmenende broeders, en hy het sy toespraak op Johannes en die engel gegrond (Openbaring 22:8, 9). Ons weet almal wat gebeur het toe hy gesterf het.

“Maar, broer Rutherford, u geaardheid kan glad nie met dié van broer Russell vergelyk word nie. Julle lyk nie eers dieselfde nie. Dit is nie u skuld nie. U het dit by geboorte ontvang, en u kon dit nie weier nie. . . . Sedert u aan die hoof van die GENOOTSKAP se sake staan, is u al baie onregverdig gekritiseer en op die ergste manier beswadder, en dit boonop deur die broeders. Tog is u ten spyte van al hierdie dinge lojaal teenoor en toegewy aan ons liewe Here en aan sy opdrag soos dit in Jesaja 61:1-3 opgeteken is. Het die Here geweet wat hy doen toe hy u aan die hoof van sake geplaas het? Hy het beslis. Ons was almal in die verlede geneig om die skepping meer as die Skepper te aanbid. Die Here het dit geweet. Daarom het hy ’n nuwe skepsel met ’n ander geaardheid aan die hoof van sake, of moet ek sê in beheer van die werk, die oeswerk, geplaas. U wil nie hê dat enigiemand u aanbid nie. Ek weet dit, maar u wil hê dat almal wat dieselfde kosbare geloof het die lig moet geniet wat nou op die pad van die regverdige skyn, soos die Here dink dit moet skyn. En dit is wat die Here wil hê gedoen moet word.”

Die identiteit van die “getroue en verstandige dienskneg” word verduidelik

Baie van dié wat destyds uitgesif is, het vasgeklou aan die beskouing dat ’n enkele persoon, Charles Taze Russell, die “getroue en verstandige dienskneg” was wat deur Jesus in Mattheüs 24:45-47 voorspel is en wat die geestelike voedsel aan die huisgenote van die geloof sou voorsien. Veral ná sy dood het Die Wagtoring hierdie beskouing ’n paar jaar lank voorgestaan. Met die oog op die prominente rol wat broer Russell gespeel het, het dit vir die destydse Bybelstudente gelyk of dit die geval is. Hy het die idee nie persoonlik verkondig nie, maar hy het erken dat die argumente van diegene wat dit voorgestaan het blykbaar redelik was.c Hy het egter ook beklemtoon dat wie die Here ook al in so ’n rol gebruik nederig asook ywerig moet wees om die Heer te verheerlik, en as die een wat deur die Here gekies word nie daarin slaag nie hy deur iemand anders vervang sal word.

Maar namate die lig van die waarheid ná broer Russell se dood al hoe helderder geskyn het, en namate die predikingswerk wat Jesus voorspel het al hoe omvangryker geraak het, het dit duidelik geword dat die “getroue en verstandige dienskneg” nie van die toneel verdwyn het toe broer Russell gesterf het nie. In 1881 het broer Russell self gesê dat daardie “dienskneg” uit die hele liggaam van getroue, geesgesalfde Christene bestaan. Hy het dit as ’n samegestelde dienskneg beskou, ’n klas persone wat verenig was om God se wil te doen. (Vergelyk Jesaja 43:10.) Die Bybelstudente het hierdie begrip in 1927 herbevestig. Jehovah se Getuies erken vandag dat Die Wagtoring en verwante publikasies deur die getroue en verstandige dienskneg gebruik word om geestelike voedsel te voorsien. Hulle beweer nie dat hierdie diensknegklas onfeilbaar is nie, maar hulle beskou dit wel as die een kanaal wat die Here gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge gebruik.

Toe trots ’n struikelblok geword het

Daar was egter tye dat individue in verantwoordelike posisies hulleself as die kanaal van geestelike lig begin beskou het en hulle hulle teen die organisasie se voorsieninge verset het. Ander het eenvoudig toegegee aan die begeerte om meer persoonlike invloed uit te oefen. Hulle wou hê dat ander hulle moes volg, of, soos die apostel Paulus dit gestel het, hulle wou ‘die dissipels wegtrek agter hulle aan’ (Hand. 20:29, 30). Dit het natuurlik die beweegredes en die geestelike standvastigheid getoets van diegene wat hulle probeer verlei het. Beskou ’n paar voorbeelde:

Spesiale briewe aan die Bybelstudente in Allegheny, Pennsilvanië, het hulle na ’n vergadering op 5 April 1894 genooi. Broer en suster Russell is nie genooi en het dit nie bygewoon nie, maar sowat 40 ander was teenwoordig. Die brief, wat deur E. Bryan, S. D. Rogers, J. B. Adamson en O. von Zech geteken is, het gesê dat die vergadering sou handel oor dinge wat tot hulle “grootste welsyn” sou strek. Dit was ’n bose poging van hierdie samesweerders om ander se gedagtes te vergiftig deur gissings oor wanpraktyke in broer Russell se sakeaangeleenthede (wat glad nie so was nie) te onthul, deur aan te voer dat broer Russell te veel gesag het (hulle wou self daardie gesag hê) en deur te kla omdat hy verkies het om die evangelie deur die gedrukte woord en Bybelklasvergaderinge te verkondig pleks van net toesprake te hou (waarin hulle makliker hulle eie beskouings kon weergee). Die gemeente is baie verontrus deur wat gebeur het, en dit het talle laat struikel. Maar diegene wat die organisasie verlaat het, het nie gevolglik geesteliker persone of yweriger in die Here se werk geword nie.

Broer Russell het meer as 20 jaar later, voor sy dood, gesê dat hy van plan is om Paul S. L. Johnson, ’n baie bekwame spreker, na Brittanje te stuur om die Bybelstudente daar te versterk. Uit respek vir broer Russell se wens het die Genootskap broer Johnson in November 1916 na Brittanje gestuur. Maar toe hy eers in Brittanje was, het hy twee van die Genootskap se direkteure ontslaan. Hy het homself as ’n belangrike persoon beskou en in toesprake en korrespondensie aangevoer dat hy gedoen het wat in die Skrif deur Esra, Nehemia en Mordegai voorafgeskadu is. Hy het beweer dat hy die opsigter was waarvan Jesus in sy gelykenis in Mattheüs 20:8 gepraat het. Hy het beheer oor die Genootskap se geld probeer verkry en ’n saak in die Hoër Hof in Londen aanhangig gemaak om sy doel te bereik.

Sy pogings is in die wiele gery, en hy het na New York teruggekeer. Daar het hy die steun van sekeres probeer verkry wat op die Genootskap se direksie gedien het. Diegene wat oorreed is om hom te ondersteun, het hulle doelwitte probeer bereik deur ’n resolusie aangeneem te kry wat die verordeninge herroep wat die president die gesag gee om die Genootskap se sake te bestuur. Hulle wou die gesag hê om al die besluite te neem. Broer Rutherford het regstappe gedoen om die Genootskap se belange te beskerm, en diegene wat die Genootskap se werk probeer ontwrig het, is gevra om die Bethelhuis te verlaat. Vroeg die volgende jaar, tydens die jaarvergadering van die Genootskap se aandeelhouers, toe die direksie en sy ampsdraers vir die komende jaar gekies is, is die onlusstokers met ’n oorweldigende meerderheid verwerp. Party van hulle het miskien gedink dat hulle reg is, maar die oorgrote meerderheid van hulle geestelike broers het dit duidelik gestel dat hulle nie saamstem nie. Sou hulle daardie teregwysing aanvaar?

P. S. L. Johnson het daarna vergaderinge van die Bybelstudente bygewoon en dit laat lyk of hy met hulle opvattinge en bedrywighede saamstem. Maar ná hy die vertroue van ’n paar gewen het, het hy wantroue gesaai. As enigiemand voorgestel het dat hulle van die Genootskap wegbreek, het hy hulle op ’n skynheilige manier ontmoedig—totdat die groep se lojaliteit deeglik ondermyn is. Hy het deur middel van korrespondensie en selfs deur persoonlike reise probeer om nie net die broers in die Verenigde State nie, maar ook in Kanada, Jamaika, Europa en Australië te beïnvloed. Het hy daarin geslaag?

Dit het moontlik so gelyk wanneer die meeste in ’n gemeente daarvoor gestem het dat hulle hulle bande met die Genootskap verbreek. Maar hulle was soos ’n tak wat van ’n boom afgekap is—’n rukkie lank groen en dan verlep en leweloos. Toe die teenstanders in 1918 ’n byeenkoms gehou het, het verskille opgeduik en is tweespalt veroorsaak. Verdere verbrokkeling het daarna gevolg. Sommige het ’n ruk lank as klein sektes gefunksioneer met ’n leier vir wie hulle bewondering gehad het. Nie een van hulle het hulle gewy aan die werk om ’n openbare getuienis in die hele bewoonde aarde oor God se Koninkryk te gee nie, wat die werk is wat Jesus sy volgelinge gegee het om te doen.

Terwyl hierdie dinge plaasgevind het, het die broers hulleself herinner aan wat in 1 Petrus 4:12 opgeteken is: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie.”

Dié wat hierbo genoem is, was nie die enigstes wat toegelaat het dat trots hulle geloof ondermyn nie. Ander het ook, onder andere Alexandre Freytag, die bestuurder van die Genootskap se kantoor in Genève, Switserland. Hy het daarvan gehou om die aandag op homself te vestig, het sy eie idees bygevoeg wanneer hy die Genootskap se publikasies in Frans vertaal het en het selfs die Genootskap se fasiliteite gebruik om sy eie materiaal te druk. In Kanada was daar W. F. Salter, ’n takbestuurder van die Genootskap wat nie meer met die Genootskap se publikasies saamgestem het nie, dit bekend gemaak het dat hy verwag het om die volgende president van die Wagtoringgenootskap te word en, nadat hy ontslaan is, die Genootskap se briefhoof op oneerlike wyse gebruik het om gemeentes in Kanada en in die buiteland mee te deel dat hulle materiaal moet bestudeer wat hy persoonlik geskryf het. In Nigerië was daar onder andere G. M. Ukoli, wat eers ywer vir die waarheid getoon het, maar dit toe begin beskou het as ’n manier om ryk en prominent te word. Toe hy nie sy doel kon bereik nie, het hy begin om getroue broers in die koerante te kritiseer. En daar was ander.

Selfs in onlangse jare het sommige wat prominente posisies van toesig beklee het ’n soortgelyke gesindheid geopenbaar.

Hierdie mense het natuurlik beslis die vryheid gehad om te glo wat hulle wou. Maar enigiemand wat beskouings in die openbaar of privaat verkondig wat verskil van dit wat in die publikasies van ’n organisasie verskyn, en wat dit doen terwyl hulle beweer dat hulle daardie organisasie verteenwoordig, veroorsaak verdeeldheid. Hoe het Jehovah se Getuies in hierdie situasies opgetree?

Hulle het nie ’n vervolgingskampanje teen sulke persone begin voer nie (hoewel die verraaiers dikwels hulle voormalige geestelike broers beledig het), en hulle het ook nie probeer om hulle fisies kwaad aan te doen (soos die Katolieke Kerk deur die Inkwisisie gedoen het) nie. Hulle het eerder die geïnspireerde raad van die apostel Paulus gevolg, wat geskryf het: “Hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie . . . Hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.”—Rom. 16:17, 18.

Terwyl ander gesien het wat gebeur, is hulle ook die geleentheid gebied om te toon wat in hulle hart was.

Leerstellige beskouings moet gesuiwer word

Jehovah se Getuies erken vrymoedig dat hulle begrip van God se voorneme deur die jare heen baie veranderinge ondergaan het. Die feit dat kennis van God se voorneme progressief is, beteken dat daar verandering moet plaasvind. Dit is nie God se voorneme wat verander nie, maar die verligting wat hy voortdurend aan sy knegte gee, wat vereis dat hulle hulle beskouing aanpas.

Die Getuies wys uit die Bybel daarop dat dit ook die geval met God se getroue knegte in die verlede was. Abraham het ’n intieme verhouding met Jehovah gehad; maar toe hy Ur verlaat het, het daardie man van geloof nie die land geken waarheen God hom gelei het nie, en hy het baie jare lank glad nie geweet hoe God sy belofte sou vervul om hom ’n groot nasie te maak nie (Gen. 12:1-3; 15:3; 17:15-21; Hebr. 11:8). God het baie waarhede aan die profete geopenbaar, maar daar was ander dinge wat hulle nie in daardie stadium verstaan het nie (Dan. 12:8, 9; 1 Pet. 1:10-12). Jesus het eweneens baie dinge aan sy apostels verduidelik, maar selfs aan die einde van sy aardse lewe het hy vir hulle gesê dat daar nog baie dinge was wat hulle moes leer (Joh. 16:12). Party van hierdie dinge, soos God se voorneme om die nie-Jode in die gemeente in te bring, is nie begryp tot die apostels eers gesien het wat ter vervulling van die profesieë gebeur het nie.—Hand. 11:1-18.

Soos verwag kan word, was dit vir sommige ’n toets wanneer veranderinge geverg het dat hulle die beskouings verwerp wat hulle voorheen gekoester het. Daarbenewens het nie alle veranderinge van hulle begrip eenvoudig, op een slag, gekom nie. Vanweë onvolmaaktheid is daar soms ’n neiging om na die een uiterste of die ander te gaan voordat die regte posisie onderskei word. Dit vereis tyd. Sommige wat geneig is om krities te wees, het hulle daardeur laat struikel. Beskou ’n voorbeeld:

Reeds in 1880 het die Wagtoringpublikasies verskeie besonderhede bespreek wat met die Abrahamitiese verbond, die Wetsverbond en die nuwe verbond verband hou. Die Christendom het God se belofte dat al die gesinne van die aarde deur Abraham se saad geseën sou word uit die oog verloor (Gen. 22:18). Maar broer Russell het baie daarin belanggestel om te weet hoe God dit sou doen. Hy het gemeen dat hy aanduidings in die Bybelse beskrywing van die Joodse Versoendag gesien het oor hoe dit in verband met die nuwe verbond vervul sou kon word. Toe dieselfde verbonde weer in 1907 bespreek is, met spesiale klem op die rol van Christus se mede-erfgename om vir die mensdom die seëninge te bewerkstellig wat in die Abrahamitiese verbond voorspel is, het sommige van die Bybelstudente sterk beswaar daarteen gemaak.

Destyds was daar sekere struikelblokke wat gekeer het dat ’n duidelike begrip van sake verkry kon word. Die Bybelstudente het nog nie verstaan wat die natuurlike Israeliete se posisie ten opsigte van God se voorneme was nie. Hierdie struikelblok is nie uit die weg geruim totdat daar oorweldigende bewys was dat die Jode as ’n volk nie daarin belanggestel het om deur God gebruik te word in die vervulling van sy profetiese woord nie. Nog ’n struikelblok was die Bybelstudente se onvermoë om die “groot menigte” van Openbaring 7:9, 10 reg te identifiseer. Hierdie identiteit het nie duidelik geword totdat die groot menigte eers ter vervulling van profesieë te voorskyn begin kom het nie. Diegene wat broer Russell skerp gekritiseer het, het ook nie hierdie sake verstaan nie.

Sommige wat egter voorgegee het dat hulle Christenbroers is, het die aantyging gemaak dat Die Wagtoring ontken dat Jesus die Middelaar tussen God en die mense is, dat dit die losprys verwerp en die noodsaaklikheid en feit van die versoening ontken. Dit was alles vals. Maar party van die wat dit gesê het, was prominente persone wat ander as hulle dissipels agter hulle aan weggelei het. Hulle was moontlik reg met sommige van die besonderhede wat hulle in verband met die nuwe verbond geleer het, maar het die Here hulle werk geseën? Sommige van hulle het ’n tyd lank vergaderinge gehou, maar hulle groepe het toe op niks uitgeloop nie.

Die Bybelstudente het daarenteen aangehou om die goeie nuus te verkondig, soos Jesus sy dissipels beveel het. Hulle het terselfdertyd aangehou om God se Woord te bestudeer en ontwikkelinge dop te hou wat lig op die betekenis daarvan sou werp. Gedurende die dertigerjare is die vernaamste struikelblokke eindelik uit die weg geruim sodat ’n duidelike begrip van die verbonde verkry is, en die hersiene verklarings van die saak het in Die Wagtoring en verwante publikasies verskyn.d Watter vreugde het dit tog gebring vir diegene wat geduldig gewag het!

Het hulle die regte verwagtinge gehad?

Die Bybelstudente het soms vooruitsigte en verwagtinge gehad wat deur kritici bespot is. Tog het al daardie vooruitsigte en verwagtinge gespruit uit ’n opregte begeerte om die vervulling te sien van die dinge wat hierdie ywerige Christene as die onfeilbare beloftes van God verstaan het.

Hulle het uit hulle studie van die geïnspireerde Skrif geweet dat Jehovah deur die saad van Abraham seëninge vir al die nasies van die aarde belowe het (Gen. 12:1-3; 22:15-18). Hulle het die belofte in God se Woord gesien dat die Seun van die mens as hemelse Koning oor die hele aarde sou regeer, dat ’n klein kuddetjie getroues van die aarde af geneem sou word om saam met hom in sy Koninkryk te wees en dat hulle duisend jaar lank as konings sou regeer (Dan. 7:13, 14; Luk. 12:32; Openb. 5:9, 10; 14:1-5; 20:6). Hulle het Jesus se belofte geken dat hy sou terugkeer en diegene saam met hom sou neem vir wie hy ’n plek in die hemel berei het (Joh. 14:1-3). Hulle was bekend met die belofte dat die Messias ook party van sy getroue voorvaders sou kies om vorste oor die hele aarde te wees (Ps. 45:17). Hulle het besef dat die Skrif die einde van die goddelose ou stelsel van dinge voorspel het en ingesien dat dit verband hou met die oorlog van die groot dag van die almagtige God by Armageddon (Matt. 24:3; Openb. 16:14, 16). Hulle was diep beïndruk deur die tekste wat toon dat die aarde geskep is om vir ewig bewoon te word, dat diegene wat daarop lewe ware vrede sou hê en dat almal wat geloof in Jesus se volmaakte menseoffer sou stel ewige lewe in die Paradys kon geniet.—Jes. 2:4; 45:18; Luk. 23:42, 43, NW; Joh. 3:16.

Dit was net natuurlik dat hulle sou wonder wanneer en hoe hierdie dinge sou gebeur. Het die geïnspireerde Skrif enige aanduidings gegee?

Hulle het die Bybelchronologie gebruik wat aanvanklik deur Christopher Bowen van Engeland verduidelik is en gedink dat 6 000 jaar van mensegeskiedenis in 1873 geëindig het, dat hulle daarna in die tydperk van die seweduisendste jaar van die mensegeskiedenis was en dat die voorspelde Millennium beslis aangebreek het. Die reeks boeke wat as Millennial Dawn bekend gestaan het (en later Studies in the Scriptures genoem is), en deur C. T. Russell geskryf is, het die aandag gevestig op die implikasies hiervan volgens wat die Bybelstudente uit die Skrif verstaan het.

Iets anders wat as ’n moontlike tydsaanduiding gesien is, het te doen gehad met die reëling wat God in eertydse Israel ingestel het dat elke 50ste jaar ’n jubeljaar, ’n jaar van verlossing, was. Dit het gevolg ná sewe tydperke van 7 jaar, wat elk met ’n sabbatjaar geëindig het. Gedurende die jubeljaar is die Hebreeuse slawe vrygestel en erfgrond wat verkoop is, is teruggegee (Lev. 25:8-10). Berekeninge wat op hierdie siklus van jare gegrond was, het hulle tot die gevolgtrekking laat kom dat daar miskien in die herfs van 1874 ’n groter jubeljaar vir die hele aarde begin het, dat die Here skynbaar daardie jaar weer gekom het en onsigbaar teenwoordig was en dat “die tye van die herstelling van alle dinge” aangebreek het.—Hand. 3:19-21, KJ.

Gegrond op die uitgangspunt dat gebeure van die eerste eeu dalk later in verwante gebeure ooreenkomste sou vind, het hulle ook tot die slotsom laat kom dat as Jesus se doop en salwing in die herfs van 29 G.J. met die begin van ’n onsigbare teenwoordigheid in 1874 ooreengekom het, sou die feit dat hy in die lente van 33 G.J. as Koning in Jerusalem ingery het op die lente van 1878 dui as die tyd wanneer hy sy mag as hemelse Koning sou aanneem.e Hulle het ook gedink dat hulle dan hulle hemelse beloning sou ontvang. Toe dit nie gebeur het nie, het hulle aangeneem dat aangesien Jesus se gesalfde volgelinge saam met hom in die Koninkryk sou regeer die opwekking tot geespersone van diegene wat reeds in die dood geslaap het toe begin het. Hulle het ook geredeneer dat die einde van God se spesiale guns aan natuurlike Israel tot in 36 G.J. op 1881 kon dui as die tyd wanneer die spesiale geleentheid sou ophou om ’n deel van geestelike Israel te word.f

In die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”, wat op 21 Maart 1920 deur J. F. Rutherford by die Hippodrome in New York-stad gehou is, is die aandag op die jaar 1925 gevestig. Op grond waarvan is daar gedink dat dit belangrik is? In ’n boekie wat daardie selfde jaar, 1920, uitgegee is, is daar getoon dat as 70 volle jubeljare bereken is van wat verstaan is as die datum toe Israel die Beloofde Land binnegegaan het (pleks van ná die laaste tipiese jubeljaar vóór die Babiloniese ballingskap te begin en dan tot by die begin van die jubeljaar aan die einde van die 50ste siklus te tel) dit op die jaar 1925 kon dui. Op grond van wat daar gesê is, het baie gehoop dat die oorblyfsel van die klein kuddetjie moontlik teen 1925 hulle hemelse beloning sou ontvang. Hierdie jaar is ook geassosieer met die verwagtinge dat getroue voor-Christelike knegte van God opgewek sou word om as vorstelike verteenwoordigers van die hemelse Koninkryk op die aarde te dien. As dit werklik sou gebeur, sou dit beteken dat die mensdom ’n tydperk betree het waarin die dood nie meer die meester sal wees nie en dat miljoene wat destyds gelewe het die hoop kon hê om nooit te sterf nie. Wat ’n wonderlike vooruitsig! Hoewel hulle die verkeerde verwagtinge gehad het, het hulle dit ywerig aan ander verkondig.

Later, gedurende die jare 1935 tot 1944, het ’n hersiening van die hele raamwerk van Bybelchronologie getoon dat die chronologie met meer as ’n eeu verkeerd bereken is as gevolg van ’n swak vertaling van Handelinge 13: 19, 20 in die King James Version,g asook sekere ander faktore.h Dit het later aanleiding gegee tot die idee—wat soms ’n moontlikheid en soms ’n waarskynlikheid genoem is—dat aangesien die sewende millennium van mensegeskiedenis in 1975 sou begin die gebeure wat met die begin van Christus se Duisendjarige Heerskappy verband hou dan kon begin plaasvind.

Het Jehovah se Getuies die regte opvattinge oor hierdie sake gehad? Hulle het beslis nie ’n fout begaan deur te glo dat God beslis sou doen wat hy belowe het nie. Maar party van hulle tydsberekeninge en verwagtinge wat hulle hiermee in verband gebring het, het tot groot teleurstellings gelei.

Ná 1925 het vergaderingbywoningsyfers in sommige gemeentes in Frankryk en Switserland dramaties gedaal. In 1975 was daar weer teleurstelling toe verwagtinge oor die begin van die Millennium nie verwesenlik is nie. Sommige het hulle gevolglik aan die organisasie onttrek. Ander is uit die gemeente gesit omdat hulle die geloof van medegelowiges probeer ondermyn het. Teleurstelling oor die jaartal was ongetwyfeld ’n faktor, maar in sommige gevalle het dit dieper gestrek. Sommige het ook geredeneer dat dit nie nodig is om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem nie. Party het nie eenvoudig hulle eie weg ingeslaan nie; hulle het aggressief geraak in hulle optrede teen die organisasie waarmee hulle omgegaan het, en hulle het van koerante en televisie gebruik gemaak om hulle opinies te lug. Die getal wat afvallig geraak het, was nietemin relatief klein.

Hoewel hierdie toetse tot sifting gelei het en sommige weggevoer is soos kaf wat wegwaai wanneer koring gewan word, het ander standvastig gebly. Waarom? Jules Feller het in 1925 oor sy eie ondervinding en dié van ander verduidelik: “Diegene wat op Jehovah vertrou het, het standvastig gebly en met hulle predikingsbedrywigheid aangehou.” Hulle het besef dat ’n fout begaan is, maar dat God se Woord geensins gefaal het nie, en daarom was daar ook geen rede om hulle hoop te laat verflou of om minder te doen in die werk om vir mense te vertel dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is nie.

Sommige verwagtinge is nie verwesenlik nie, maar dit het nie beteken dat Bybelchronologie waardeloos is nie. Die profesie wat deur Daniël opgeteken is oor die verskyning van die Messias 69 weke van jare ná “die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou”, is op die regte tyd, in 29 G.J., vervuli (Dan. 9:24-27). Bybelprofesieë het ook op die jaar 1914 gedui.

1914—Verwagtinge en die werklikheid

In 1876 het C. T. Russell die eerste van baie artikels geskryf waarin hy getoon het dat die jaar 1914 op die einde van die Heidense Tye, waarvan Jesus Christus gepraat het, dui (Luk. 21:24, KJ). In die tweede boekdeel van Millennial Dawn, wat in 1889 uitgegee is, het broer Russell besonderhede logies uiteengesit wat lesers in staat sou stel om die skriftuurlike grondslag te sien vir wat gesê is en hulleself dan daarvan te vergewis. Die Bybelstudente het oor ’n tydperk van byna vier dekades voor 1914 miljoene publikasies versprei wat die aandag op die einde van die Heidense Tye gevestig het. ’n Paar ander godsdienspublikasies het kennis geneem van die Bybelchronologie wat op die jaar 1914 gedui het, maar watter ander groep buiten die Bybelstudente het onophoudelik internasionale publisiteit daaraan verleen en deur hulle lewe getoon dat hulle glo dat die Heidense Tye in daardie jaar sou eindig?

Namate 1914 nader gekom het, het verwagtinge hoog geloop. Wat sou dit beteken? In The Bible Students Monthly (Deel VI, Nr. 1, wat vroeg in 1914 uitgegee is) het broer Russell geskryf: “As ons die regte jaartal en chronologie het, sal die Heidense Tye hierdie jaar eindig—1914. Wat beteken dit? Ons weet nie vir seker nie. Ons verwag dat die Messias sal begin regeer ongeveer die tyd wanneer die Heidene se mag om te regeer verstryk. Ons verwagting, waar of vals, is dat daar wonderlike openbaringe van Goddelike oordele teen alle ongeregtigheid sal wees en dat dit die vernietiging van baie hedendaagse instellings, indien nie almal nie, sal beteken.” Hy het beklemtoon dat hy nie die “einde van die wêreld” in 1914 verwag nie en dat die aarde vir ewig staan, maar dat die huidige stelsel van dinge, waarvan Satan die heerser is, sal verbygaan.

Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Oktober 1913 het gesê: “Volgens die beste chronologiese berekening waartoe ons in staat is, is dit ongeveer daardie tyd—of dit nou Oktober 1914 of later is. Sonder om dogmaties te raak, wag ons op sekere gebeure: (1) Die beëindiging van die Heidense Tye—Heidense oppermag in die wêreld—en (2) Op die inwyding van die Messias se Koninkryk in die wêreld.”

Hoe sou dit gebeur? Dit het toe vir die Bybelstudente redelik gelyk dat dit die verheerliking sou insluit van enigeen wat nog op die aarde was en deur God gekies is om saam met Christus deel aan die hemelse Koninkryk te hê. Maar hoe het hulle gevoel toe dit nie in 1914 gebeur het nie? Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 April 1916 het gesê: “Ons glo dat die jaartalle heeltemal reg is. Ons glo dat die Heidense Tye geëindig het.” Maar dit het reguit bygevoeg: “Die Here het nie gesê dat die hele Kerk teen 1914 verheerlik sou word nie. Ons het bloot daardie gevolgtrekking gemaak en was klaarblyklik verkeerd.”

Hierin was hulle in ’n mate soos Jesus se apostels. Die apostels het die profesieë oor God se Koninkryk geken en het gedink hulle glo dit. Maar hulle het verskeie kere die verkeerde verwagtinge gehad oor hoe en wanneer dit vervul sou word. Dit het daartoe gelei dat sommige teleurgestel is.—Luk. 19:11; 24:19-24; Hand. 1:6.

Toe Oktober 1914 verbygegaan het sonder dat die verwagte verandering tot hemelse lewe plaasgevind het, het broer Russell geweet dat harte ernstig deursoek sou word. In Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 November 1914 het hy geskryf: “Laat ons onthou dat ons in ’n tyd van toetsing is. Die Apostels is op ’n soortgelyke wyse gedurende die tyd tussen ons Here se dood en Pinkster getoets. Ná ons Here se opstanding het Hy ’n paar keer aan Sy dissipels verskyn, en toe het hulle Hom baie dae lank nie gesien nie. Hulle het toe moed verloor en gesê: ‘Dit help nie om te wag nie’; ‘ek gaan visvang’, het een gesê. Twee ander het gesê: ‘Ons sal saam met u gaan.’ Hulle was van plan om met vissery te begin en op te hou om vissers van mense te wees. Dit was ’n tyd van toetsing vir die dissipels. So is daar nou ook ’n tyd van toetsing. As daar enige rede is wat daartoe sal lei dat iemand die Here en Sy Waarheid versaak en ophou om opofferings vir die Here se Saak te maak, dan is dit nie bloot die liefde vir God in die individu se hart wat belangstelling in die Here geprikkel het nie, maar iets anders; waarskynlik die hoop dat die tyd kort sou wees; die toewyding was net vir ’n sekere tydperk.”

Dit was blykbaar die geval met sommige. Hulle gedagtes en begeertes was hoofsaaklik gerig op die vooruitsig om die hemelse lewe te ontvang. Toe dit nie op die verwagte tyd gebeur het nie, het hulle hulle verstand gesluit vir die belangrikheid van die wonderlike dinge wat wel in 1914 plaasgevind het. Hulle het al die kosbare waarhede wat hulle in God se Woord geleer het uit die oog verloor, en hulle het die mense begin bespot wat hulle hierdie dinge help leer het.

Die Bybelstudente het nederig weer die Skrif ondersoek sodat God se Woord hulle beskouing kon regstel. Hulle oortuiging dat die Heidense Tye in 1914 geëindig het, het nie verander nie. Hulle het geleidelik duideliker begin verstaan hoe die Messiaanse Koninkryk begin het—dat dit in die hemel opgerig is toe Jehovah aan Jesus Christus, sy Seun, gesag gegee het; ook dat dit nie moes wag totdat Jesus se mede-erfgename tot hemelse lewe opgewek is nie, maar dat hulle later saam met hom verheerlik sou word. Daarbenewens het hulle ingesien dat die getroue profete van die ou tyd nie eers opgewek hoef te word voordat die Koninkryk sy invloed kon uitoefen nie, maar dat die Koning lojale Christene wat nou as sy verteenwoordigers lewe, sou gebruik om alle nasies die geleentheid te bied om vir ewig as aardse onderdane van die Koninkryk te lewe.

Namate hierdie wonderlike prentjie hom voor hulle oë ontvou het, was daar verdere toetsing en sifting. Maar diegene wat Jehovah waarlik liefgehad het en vreugde daaruit geput het om hom te dien, was baie dankbaar vir die diensvoorregte wat vir hulle oopgegaan het.—Openb. 3:7, 8.

Een van hulle was A. H. Macmillan. Hy het later geskryf: “Hoewel ons verwagtinge om hemel toe geneem te word nie in 1914 verwesenlik is nie, het die Heidense Tye wel daardie jaar geëindig . . . Ons was nie baie ontsteld dat alles nie plaasgevind het soos ons verwag het nie, aangesien ons so besig was met die Fotodrama-werk en met die probleme wat as gevolg van die oorlog ontstaan het.” Hy het in Jehovah se diens besig gebly en was verheug om te sien hoe die Koninkryksverkondigers gedurende sy leeftyd tot baie meer as ’n miljoen styg.

Hy het oor sy ondervindinge gedurende sy 66 jaar in die organisasie gesê: “Ek het gesien hoe die organisasie voor groot beproewinge te staan kom en hoe die geloof van diegene in die organisasie getoets word. Met behulp van God se gees het dit die storm deurstaan en vooruitgegaan.” Oor die veranderinge met betrekking tot begrip wat mettertyd plaasgevind het, het hy bygevoeg: “Die grondwaarhede wat ons in die Skrif geleer het, het dieselfde gebly. Ek het dus geleer dat ons ons foute moet erken en in God se Woord vir verdere lig moet aanhou soek. Ongeag watter aanpassings ons van tyd tot tyd in ons beskouings sou moes aanbring, dit sou nie die wonderlike voorsiening van die losprys en God se belofte van die ewige lewe verander nie.”

Broer Macmillan het gedurende sy leeftyd gesien dat die gewilligheid om te getuig en die waardering vir teokratiese organisasie twee geskille was wat tot geloofstoetse gelei het en geopenbaar het wat werklik in die harte van mense was. Waarom?

Velddiens en organisasie word geskille

Die heel eerste nommer van Zion’s Watch Tower het elke ware Christen aangespoor om die waarheid aan ander te verkondig, en in daaropvolgende nommers is dit al hoe meer beklemtoon. Daarna is lesers van Die Wagtoring herhaaldelik aangespoor om hulle voorreg en verantwoordelikheid te waardeer om die goeie nuus aan ander te verkondig. Talle het op beperkte maniere daaraan deelgeneem, maar relatief min het die voortou met die werk geneem en mense van huis tot huis besoek om elkeen die geleentheid te gee om die Koninkryksboodskap te hoor.

Maar van die begin van 1919 af het deelname aan die velddiens sterker na vore gekom. Broer Rutherford het dit daardie jaar kragtig beklemtoon in ’n toespraak in Cedar Point, Ohio. In elke gemeente wat die Genootskap gevra het om hulle vir diens te organiseer, is daar reëlings getref vir ’n diensleier wat deur die Genootskap aangestel is om na die werk om te sien. Hy moes self die leiding neem en sorg dat die gemeente die nodige voorraad het.

In 1922 het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) ’n artikel gepubliseer met die titel “Diens is noodsaaklik”. Dit het gewys op die groot behoefte daaraan dat mense die goeie nuus van die Koninkryk hoor, het die aandag op Jesus se profetiese bevel in Mattheüs 24:14 gevestig en vir ouere manne in die gemeentes gesê: “Laat niemand dink dat sy diens, omdat hy ’n ouere man van die klas is, net uit mondelinge prediking bestaan nie. As hy die geleentheid het om onder mense in te gaan en die gedrukte boodskap in hulle hande te plaas, is dit ’n groot voorreg en is dit ook ’n vorm van die verkondiging van die evangelie, wat dikwels doeltreffender is as enige ander vorm van verkondiging.” Die artikel het toe gevra: “Kan enigiemand wat waarlik aan die Here toegewy is dit regverdig as hy of sy nou ledig is?”

Party het dit nie gedoen nie. Hulle het allerhande besware geopper. Hulle het nie gedink dit is gepas om “boeke te verkoop” nie, hoewel die werk nie gedoen is om wins te maak nie en hoewel dit deur hierdie selfde publikasies was dat hulle die waarheid oor God se Koninkryk geleer het. Toe hulle van 1926 af aangemoedig is om Sondae met boeke van huis tot huis te werk, het sommige daarteen beswaar gemaak, hoewel Sondag die dag was wat baie mense gewoonlik vir aanbidding opsygesit het. Die grondliggende probleem was dat hulle gemeen het dat dit benede hulle waardigheid is om van huis tot huis te preek. Tog sê die Bybel uitdruklik dat Jesus sy dissipels na die huise van mense gestuur het om te preek, en die apostel Paulus het “in die openbaar en van huis tot huis” gepreek.—Hand. 20:20, NW; Matt. 10:5-14.

Namate die velddiens al hoe meer beklemtoon is, het diegene wie se hart hulle nie beweeg het om Jesus en sy apostels na te volg nie hulle geleidelik onttrek. Die Skive-gemeente in Denemarke, asook ’n paar ander, is omtrent met die helfte verminder. Uit die sowat honderd mense wat met die Dublin-gemeente in Ierland geassosieer het, het daar net vier oorgebly. Daar was ’n soortgelyke toetsing en sifting in die Verenigde State, Kanada, Noorweë en ander lande. Dit het tot die reiniging van die gemeentes bygedra.

Diegene wat waarlik navolgers van God se Seun wou wees, het gunstig op die aanmoediging in die Skrif gereageer. Maar hulle gewilligheid het dit nie noodwendig vir hulle makliker gemaak om van huis tot huis te begin gaan nie. Vir sommige was dit baie moeilik om te begin. Maar reëlings vir groepgetuieniswerk en spesiale diensbyeenkomste was ’n aanmoediging. Twee susters in noordelike Jutland, in Denemarke, het hulle eerste dag van velddiens lank onthou. Hulle het saam met die groep vergader, na die instruksies geluister, na hulle gebied gegaan, maar toe begin huil. Twee van die broers het gesien wat gebeur en het die susters genooi om saam met hulle te werk. Hulle het sommer gou weer beter gevoel. Nadat hulle gevoel het hoe dit is om velddiens te doen, was die meeste met vreugde vervul en was hulle geesdriftig om meer te doen.

Toe, in 1932, het Die Wagtoring ’n tweedelige artikel met die titel “Jehovah se organisasie” bevat (Engelse nommers van 15 Augustus en 1 September). Dit het getoon dat die verkose amp van ouere man in die gemeentes onskriftuurlik was. Gemeentes is aangespoor om net manne wat in die velddiens bedrywig was, manne wat die verantwoordelikheid nagekom het wat deur die naam Jehovah se Getuies geïmpliseer word, in verantwoordelike posisies te gebruik. Hulle sou as ’n dienskomitee dien. Een van hulle, wat deur die gemeente benoem sou word, is deur die Genootskap as die diensleier aangestel. In Belfast, Ierland, het dit meer van dié uitgesif wat eerder persoonlike prominensie as nederige diens nagestreef het.

Teen die vroeë dertigerjare het die meeste van die in Duitsland wat ander probeer ontmoedig het om velddiens te doen hulle aan die gemeentes onttrek. Party ander het hulle in 1933 uit vrees onttrek toe die werk in baie van die state in Duitsland verbied is. Maar duisende het hierdie toetse van hulle geloof deurstaan en getoon dat hulle bereid was om te preek ten spyte van die gevare wat daarby betrokke was.

Die verkondiging van die Koninkryk het wêreldwyd momentum gekry. Velddiens het ’n belangrike deel van die lewe van al Jehovah se Getuies geword. Die gemeente in Oslo, Noorweë, het byvoorbeeld oor naweke busse gehuur om verkondigers na nabygeleë stede te vervoer. Hulle het soggens vroeg bymekaargekom, was teen nege- of tienuur in hulle gebied, het sewe of agt uur hard in die velddiens gewerk en dan by die busgroep aangesluit vir die terugrit. Ander het na plattelandse gebiede gereis op fietse wat gelaai was met boeketasse en kartondose met ekstra voorraad. Jehovah se Getuies was gelukkig, ywerig en eensgesind in die uitvoering van God se wil.

In 1938, toe daar weer aandag geskenk is aan die aanstelling van verantwoordelike manne in die gemeentes,j is die verwydering van alle plaaslike verkiesings van knegte oor die algemeen verwelkom. Gemeentes het met graagte resolusies aangeneem wat hulle waardering vir teokratiese organisasie getoon het en het “die Genootskap” (wat hulle verstaan het die gesalfde oorblyfsel, of getroue en verstandige dienskneg, is) gevra om die gemeentes vir diens te organiseer en al die knegte aan te stel. Daarna het die sigbare Bestuursliggaam die nodige aanstellings begin doen en die gemeentes vir verenigde en produktiewe bedrywigheid begin organiseer. Net ’n paar groepe het geaarsel en hulle in hierdie stadium aan die organisasie onttrek.

Uitsluitlik gewy aan die verkondiging van die Koninkryksboodskap

As die organisasie Jehovah se goedkeuring wil behou, moet dit uitsluitlik toegewy wees aan die werk wat sy Woord vir ons dag beveel. Daardie werk is die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk (Matt. 24:14). Maar daar was ’n paar gevalle waar individue wat hard saam met die organisasie gewerk het dit ook probeer gebruik het om programme te bevorder wat geneig was om hulle metgeselle se aandag op ander bedrywighede te vestig. Wanneer hulle tereggewys is, was dit vir hulle ’n toets, veral wanneer hulle gedink het dat hulle beweegredes eerbaar was.

Dit het in 1915 in Finland gebeur toe ’n paar broers ’n koöperatiewe vereniging met die naam Ararat gestig het en die Finse uitgawe van Die Wagtoring gebruik het om sy lesers aan te spoor om by hierdie sakevereniging aan te sluit. Die persoon wat hierdie bedrywigheid in Finland begin het, het nederig gereageer toe broer Russell hom daarop gewys het dat hy en sy metgeselle toegelaat het dat hulle “weggelok word van die belangrike werk van die Evangelie”. Maar trots het verhinder dat ’n ander broer, een wat meer as ’n dekade lank in Noorweë in Jehovah se diens bedrywig was, dieselfde raad aanvaar.

’n Soortgelyke probleem het in die dertigerjare in die Verenigde State ontstaan. ’n Aantal gemeentes het hulle eie maandelikse instruksieblaadjies gedruk wat herinneringe bevat het uit die Genootskap se Bulletin, asook ondervindinge en hulle plaaslike rooster vir diensreëlings. Een hiervan, wat in Baltimore, Maryland, uitgegee is, het die predikingsbedrywigheid geesdriftig gesteun, maar is ook gebruik om sekere sakeondernemings te bevorder. Broer Rutherford het party hiervan aanvanklik stilswyend goedgekeur. Maar toe daar besef is wat uit betrokkenheid by sulke ondernemings kon voortspruit, het Die Wagtoring gesê dat die Genootskap dit nie goedkeur nie. Dit was vir Anton Koerber ’n groot persoonlike toets, want hy het sy broers net hierdeur probeer help. Hy het egter mettertyd weer ten volle gebruik gemaak van sy vermoëns om die predikingswerk te bevorder wat deur Jehovah se Getuies gedoen word.

’n Soortgelyke probleem het aan die begin van 1938 in Australië ontstaan en het tydens die verbod op die Genootskap vergroot (Januarie 1941 tot Junie 1943). Die takkantoor van die Genootskap het regstreeks betrokke geraak by verskeie handelsbedrywighede sodat hulle kon omsien na die behoeftes wat destyds geldig gelyk het. Sodoende is ’n groot fout begaan. Hulle het saagmeulens, meer as 20 “Koninkryksplase”, ’n ingenieursmaatskappy, ’n bakkery en ander ondernemings gehad. Twee handelsdrukkerye het as skerm gedien sodat die Genootskap se publikasies tydens die verbod gedruk kon word. Maar party van hulle sakebedrywighede het daartoe gelei dat hulle hulle Christelike neutraliteit geskend het, omdat die werk gedoen is onder die voorwendsel dat hulle geld voorsien het en die pioniers gedurende die verbod ondersteun het. Maar sommige se gewete het hulle baie gepla. Hoewel die meeste by die organisasie gebly het, het die verkondiging van die Koninkryk oor die algemeen opgehou. Wat het Jehovah se seën teruggehou?

Toe die verbod op die werk in Junie 1943 opgehef is, het die broers wat toe by die takkantoor was, besef dat hulle van hierdie ondernemings ontslae moet raak sodat die aandag op die uiters belangrike Koninkrykspredikingswerk toegespits kon word. Dit is binne drie jaar gedoen, en die Bethelgesin is tot ’n normale grootte verklein. Maar dit was steeds nodig om die saak op te klaar en sodoende algehele vertroue in die organisasie te herstel.

Nathan H. Knorr, die Genootskap se president, en sy sekretaris M. G. Henschel het Australië in 1947 besoek juis met die doel om aan hierdie situasie aandag te skenk. Waar Die Wagtoring van 1 Oktober 1947 (Engelse uitgawe, 1 Junie 1947) oor die saak berig het, het dit oor hierdie handelsbedrywigheid gesê: “Dit was nie die alledaagse sekulêre werk van die broeders wat besig was om ’n bestaan te maak wat daarby betrokke was nie, maar dit was die feit dat die Genootskap se Takkantoor verskillende soorte nywerhede verkry het en aankondigers, veral pioniers, uit alle dele van die land ingeroep het om liewer in die nywerhede te werk as om die evangelie te preek.” Dit het selfs tot regstreekse betrokkenheid by die oorlog gelei. Broer Knorr het by byeenkomste in elk van die provinsiale hoofstede reguit met die broers oor die situasie gepraat. By elke byeenkoms is ’n resolusie aangeneem waarin die Australiese broers hulle fout erken het en Jehovah om genade en vergifnis deur Jesus Christus gevra het. Waaksaamheid was dus nodig en toetse is die hoof gebied sodat die organisasie sou aanhou om hom uitsluitlik aan die verkondiging van die Koninkryk van God te wy.

Wanneer Jehovah se Getuies hulle hedendaagse geskiedenis hersien, sien hulle bewys daarvan dat Jehovah waarlik sy volk gereinig het (Mal. 3:1-3). Verkeerde gesindhede, opvattinge en gebruike is geleidelik verwyder en enigeen wat daaraan wou vasklou, is daarmee saam verwyder. Die wat oorbly, is nie mense wat Bybelwaarheid sal prysgee ter wille van menslike filosofieë nie. Hulle is nie volgelinge van mense nie, maar is toegewyde knegte van Jehovah God. Hulle reageer graag op die organisasie se leiding omdat hulle onmiskenbare bewys sien dat dit aan Jehovah behoort. Hulle verheug hulle in die lig van waarheid wat al hoe helderder word (Spr. 4:18). Elkeen van hulle beskou dit as ’n groot voorreg om ’n bedrywige Getuie van Jehovah, ’n verkondiger van die Koninkryk van God, te wees.

[Voetnote]

a Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence, ekstra uitgawe, 25 April 1894, bl. 102-4.

b Sien die volgende in verband met die Drie-eenheid: die New Catholic Encyclopedia, Deel XIV, 1967, bladsy 299; Dictionary of the Bible, deur J. L. McKenzie, S.J., 1965, bladsy 899; The New International Dictionary of New Testament Theology, Deel 2, 1976, bladsy 84. Sien die volgende in verband met die siel: die New Catholic Encyclopedia, Deel XIII, 1967, bladsye 449-50, 452, 454; The New Westminster Dictionary of the Bible, geredigeer deur H. S. Gehman, 1970, bladsy 901; The Interpreter’s Bible, Deel I, 1952, bladsy 230; Peake’s Commentary on the Bible, geredigeer deur M. Black en H. H. Rowley, 1962, bladsy 416.

c Volgens broer Russell was sy vrou, wat hom later verlaat het, die eerste een wat Mattheüs 24:45-47 op hom toegepas het. Sien Die Wagtoring se (Engelse) nommers van 15 Julie 1906, bladsy 215; 1 Maart 1896, bladsy 47 en 15 Junie 1896, bladsye 139-40.

d Regverdiging, Boek Twee, bl. 258-9, 268-9; Die Wagtoring se (Engelse) nommers van 1 April 1934, bl. 99-106; 15 April 1934, bl. 115-22; 1 Augustus 1935, bl. 227-37.

e Dat 1878 ’n belangrike jaar was, is skynbaar versterk deur die verwysing na Jeremia 16:18 (‘Jakob se dubbel’), asook deur berekeninge wat getoon het dat daar blykbaar 1 845 jaar verloop het van Jakob se dood af tot 33 G.J., toe natuurlike Israel verwerp is, en dat die dubbel, of duplikaat, daarvan van 33 G.J. tot 1878 sou strek.

f Hulle het die vergelykings verder gevoer deur te sê dat die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. (37 jaar nadat Jesus deur sy dissipels as koning verwelkom is toe hy in Jerusalem ingery het) op 1915 kan dui (37 jaar ná 1878) as die hoogtepunt van anargistiese omwenteling, wat hulle gedink het God sou toelaat as ’n manier om die bestaande wêreldinstellings te vernietig. Hierdie jaartal het in herdrukke van Studies in the Scriptures verskyn. (Sien Deel II, bladsye 99-101, 171, 221, 232, 246-7; vergelyk herdruk van 1914 met vroeëre uitgawes, soos die uitgawe van 1902 van die Millennial Dawn.) Dit het vir hulle gelyk of dit goed inpas by wat oor die jaar 1914 gepubliseer is as die jaar wat die einde van die Heidense Tye sou kenmerk.

g Vergelyk die weergawe van The Emphasised Bible, wat deur J. B. Rotherham vertaal is; sien ook die voetnoot oor Handelinge 13:20 in die New World Translation of the Holy Scriptures—With References.

h Sien “Die waarheid sal julle vrymaak”, hoofstuk XI; “The Kingdom Is at Hand”, bladsye 171-5; ook The Golden Age, 27 Maart 1935, bladsye 391, 412. In die lig van hierdie hersiene tabelle van Bybelchronologie kon daar gesien word dat die vorige gebruik van die jaartalle 1873 en 1878, asook verwante jaartalle wat hiervan afgelei is, op grond van die ooreenkomste met eerste-eeuse gebeure op misvattings gegrond was.

i Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 899-904.

j Sien Hoofstuk 15: “Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur.”

[Lokteks op bladsy 619]

Die toetsing en sifting was nie ’n verrassing nie

[Lokteks op bladsy 621]

“Hulle weier om weggelei te word van die Here se Woord”

[Lokteks op bladsy 623]

‘Ons wil geen hulde, geen verering, vir ons of ons geskrifte hê nie’

[Lokteks op bladsy 624]

“God staan steeds aan die stuur”

[Lokteks op bladsy 626]

Die “getroue en verstandige dienskneg” het nie van die toneel verdwyn toe broer Russell gesterf het nie

[Lokteks op bladsy 627]

’n Bose poging om ander se gedagtes te vergiftig

[Lokteks op bladsy 628]

Sommige het toegelaat dat trots hulle geloof ondermyn

[Lokteks op bladsy 629]

‘Hou hulle in die oog wat tweedrag veroorsaak en vermy hulle’

[Lokteks op bladsy 630]

Party het die aantyging gemaak dat “Die Wagtoring” die losprys verwerp

[Lokteks op bladsy 635]

“Ons het bloot daardie gevolgtrekking gemaak en was klaarblyklik verkeerd”

[Lokteks op bladsy 636]

Diegene wat Jehovah waarlik liefgehad het, was dankbaar vir die diensvoorregte wat vir hulle oopgegaan het

[Lokteks op bladsy 638]

“Kan enigiemand wat waarlik aan die Here toegewy is dit regverdig as hy of sy nou ledig is?”

[Lokteks op bladsy 641]

Verkeerde gesindhede, opvattinge en gebruike is geleidelik verwyder

[Venster/Prent op bladsy 622]

W. E. van Amburgh

In 1916 het W. E. van Amburgh gesê: “Hierdie groot wêreldwye werk is nie die werk van een mens nie. . . . Dit is God se werk.” Hoewel hy gesien het hoe ander afvallig word, was dít sy oortuiging tot sy dood in 1947, op 83-jarige ouderdom.

[Venster/Prent op bladsy 633]

Jules Feller

As ’n jong man het Jules Feller gesien hoe mense se geloof swaar beproef word. Sommige gemeentes in Switserland het die helfte of meer as die helfte van hulle lede verloor. Maar hy het later geskryf: “Diegene wat op Jehovah vertrou het, het standvastig gebly en met hulle predikingsbedrywigheid aangehou.” Broer Feller was ook vasbeslote om dit te doen, en hy was gevolglik teen 1992 reeds 68 jaar in die Betheldiens.

[Venster/Prent op bladsy 634]

C. J. Woodworth

C. J. Woodworth het die volgende aan iemand geskryf wat Jehovah se diens verlaat het omdat Jesus Christus se gesalfde volgelinge nie in 1914 hemel toe geneem is nie:

“Twintig jaar gelede het ek en jy aan kinderdoop geglo; aan die Goddelike reg van die geestelikes om daardie doop waar te neem; dat doop nodig is om aan ewige pyniging te ontkom; dat God liefde is; dat God miljarde wesens in Sy gelykenis geskep het en steeds skep wat die ontelbare eeue van die ewigheid in die versmorende walms van brandende swael sal deurbring en tevergeefs om een druppel water sal smeek om hulle foltering te verlig . . .

“Ons het geglo dat ’n mens leef nadat hy gesterf het; ons het geglo dat Jesus Christus nooit gesterf het nie; dat Hy nie kon sterf nie; dat geen Losprys ooit betaal is of betaal sal word nie; dat Jehovah God en Christus Jesus Sy Seun een en dieselfde persoon is; dat Christus Sy eie Vader is; dat Jesus Sy eie Seun is; dat die Heilige Gees ’n persoon is; dat een plus een plus een gelyk is aan een; dat toe Jesus aan die kruis gehang en gesê het: ‘My God, My God, waarom het U My verlaat?’ Hy maar net met Homself gepraat het; . . . dat die hedendaagse koninkryke ’n deel van Christus se Koninkryk is; dat die Duiwel iewers ver weg in ’n onontdekte Hel is terwyl hy in werklikheid oor die koninkryke van hierdie aarde heers . . .

“Ek loof God vir die dag dat hy die Huidige Waarheid na my deur gebring het. Dit was so opbouend, so verkwikkend vir die verstand en hart, dat ek gou die bedrog en kafpraatjies van die verlede agtergelaat het en deur God gebruik is om ook jou blinde oë te open. Ons het ons saam in die Waarheid verheug en het vyftien jaar sy aan sy gewerk. Die Here het jou groot eer bewys deur jou as ’n mondstuk te gebruik; ek het nog nooit enigiemand geken wat die dwaashede van Babilon so verspot kon laat lyk nie. In jou brief vra jy: ‘Wat gebeur volgende?’ Ag, nou kom die jammerte daarvan! Die volgende ding is dat jy jou hart toelaat om verbitterd te raak teen die een wie se liefdeswerk en seën van Bo die Waarheid na ons albei se harte gebring het. Jy het weggegaan en etlike van die skape saam met jou geneem. . . .

“Ek lyk moontlik vir jou verspot omdat ek nie op 1 Oktober 1914 Hemel toe gegaan het nie, maar jy lyk nie vir my verspot nie—o nee!

“Terwyl tien van die grootste nasies van die aarde in hulle doodsangs ineenkrimp, lyk dit vir my na ’n besonder ongeleë tyd om die man te bespot, en die enigste man wat veertig jaar lank geleer het dat die Tye van die Nasies in 1914 sou eindig.”

Broer Woodworth se geloof het nie gewankel toe die gebeure van 1914 nie uitgedraai het soos verwag is nie. Hy het eenvoudig besef dat daar nog was wat geleer moes word. Vanweë sy vertroue in God se voorneme het hy in 1918-19 nege maande in die gevangenis deurgebring. Later het hy as redakteur van die tydskrifte “The Golden Age” en “Vertroosting” gedien. Hy het standvastig in die geloof en lojaal teenoor Jehovah se organisasie gebly tot sy dood in 1951 toe hy 81 was.

[Venster/Prent op bladsy 637]

A. H. Macmillan

‘Ek het gesien hoe verstandig dit is om geduldig op Jehovah te wag dat hy ons help om skriftuurlike dinge te verstaan pleks van ons oor ’n nuwe gedagte te ontstel. Soms was ons verwagtinge oor ’n sekere jaartal meer as wat die Skrif gewaarborg het. Wanneer daardie verwagtinge nie verwesenlik is nie, het dit nie God se voornemens verander nie.’

[Prent op bladsy 620]

Die erkenning van die versoeningswaarde van Jesus se offer was vir sommige ’n groot toets

[Prente op bladsy 625]

Sommige wat broer Russell bewonder het, het gevind dat hulle reaksie op broer Rutherford se geaardheid aan die lig gebring het wie hulle werklik dien

[Prente op bladsy 639]

Toe groter klem op velddiens gelê is, het baie hulle onttrek; ander het groter ywer aan die dag gelê

“Die Wagtoring” (Engelse uitgawe), 15 Augustus 1922

“Die Wagtoring” (Engelse uitgawe), 1 April 1928

“Die Wagtoring” (Engelse uitgawe), 15 Junie 1927

[Prent op bladsy 640]

Namate teokratiese organisasie belangriker geword het, is diegene wat vernaamheid gesoek het, uitgesif

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel