Les 4
Wie is die Duiwel?
Satan die Duiwel—waar het hy vandaan gekom? (1, 2)
Hoe mislei Satan mense? (3-7)
Waarom moet jy die Duiwel weerstaan? (7)
1. Die woord “duiwel” beteken iemand wat bose leuens oor iemand anders vertel. “Satan” beteken ’n vyand of ’n teenstander. Dit is benamings wat aan God se vernaamste vyand gegee is. Aanvanklik was hy ’n volmaakte engel in die hemel saam met God. Maar hy het later te veel van homself gedink en wou die aanbidding hê wat tereg aan God behoort.—Matteus 4:8-10.
2. Hierdie engel, Satan, het deur middel van ’n slang met Eva gepraat. Deur leuens aan haar te vertel, het hy haar oorgehaal om aan God ongehoorsaam te wees. Satan het dus dít aangeval wat God se “soewereiniteit”, oftewel posisie as die Allerhoogste, genoem word. Satan het die feit bevraagteken of God op ’n waardige manier en in die belang van Sy onderdane heers. Satan het dit ook in twyfel getrek of enige mens aan God lojaal sou bly. Sodoende het Satan hom God se vyand gemaak. Dit is waarom hy toe Satan die Duiwel genoem is.—Genesis 3:1-5; Job 1:8-11; Openbaring 12:9.
3. Satan probeer mense deur lis beweeg om hom te aanbid (2 Korintiërs 11:3, 14). Een manier waarop hy mense mislei, is deur valse godsdiens. As ’n godsdiens leuens aangaande God leer, beantwoord dit in werklikheid aan die doel van Satan (Johannes 8:44). Mense wat lidmate van valse godsdienste is, glo dalk opreg dat hulle die ware God aanbid. Maar in werklikheid dien hulle Satan. Hy is ‘die god van hierdie wêreld’.—2 Korintiërs 4:4.
4. Spiritisme is nog ’n manier waarop Satan mense onder sy mag bring. Hulle doen dalk ’n beroep op geeste om hulle te beskerm, om ander leed aan te doen, om die toekoms te voorspel of om wonderwerke te verrig. Satan is die bose mag agter al hierdie gebruike. As ons God wil behaag, moet ons niks met spiritisme te doen hê nie.—Deuteronomium 18:10-12; Handelinge 19:18, 19.
5. Satan mislei mense ook deur oordrewe rassetrots en die aanbidding van politieke organisasies. Party meen dat húlle nasie of ras beter is as ander s’n. Maar dít is nie waar nie (Handelinge 10:34, 35). Ander mense vertrou op politieke organisasies om die mens se probleme op te los. Sodoende verwerp hulle God se Koninkryk. Dít is die enigste oplossing vir ons probleme.—Daniël 2:44.
6. Nog ’n manier waarop Satan mense mislei, is deur hulle met sondige begeertes te versoek. Jehovah sê dat ons sondige gebruike moet vermy omdat hy weet dat dit ons sal benadeel (Galasiërs 6:7, 8). Party mense wil dalk hê dat jy saam met hulle aan sulke gebruike moet deelneem. Onthou egter dat dit in werklikheid Satan is wat wil hê dat jy hierdie dinge moet doen.—1 Korintiërs 6:9, 10; 15:33.
7. Satan gebruik moontlik vervolging of teenstand in ’n poging om jou oor te haal om Jehovah te verlaat. Party van jou geliefdes word dalk baie kwaad omdat jy die Bybel bestudeer. Ander spot dalk met jou. Maar aan wie is jy jou lewe verskuldig? Satan wil jou afskrik sodat jy sal ophou om aangaande Jehovah te leer. Moenie toelaat dat Satan wen nie! (Matteus 10:34-39; 1 Petrus 5:8, 9). Deur die Duiwel te weerstaan, kan jy Jehovah gelukkig maak en toon dat jy Sy soewereiniteit ondersteun.—Spreuke 27:11.
[Prente op bladsy 9]
Valse godsdiens, spiritisme en nasionalisme mislei mense
[Prent op bladsy 9]
Weerstaan Satan deur aan te hou om aangaande Jehovah te leer