’n Boek vir alle mense
“God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.”—HANDELINGE 10:34, 35.
1. Hoe het ’n professor gereageer toe hy gevra is wat hy van die Bybel dink, en wat het hy besluit om te doen?
DIE professor was een Sondagmiddag tuis en het geen besoekers verwag nie. Maar toe een van ons Christensusters hom by sy huis besoek, het hy geluister. Sy het oor besoedeling en die toekoms van die aarde gepraat—onderwerpe waarin hy belanggestel het. Toe sy egter die Bybel tydens die gesprek wou gebruik, was hy blykbaar skepties. Sy het hom dus gevra wat hy van die Bybel dink.
“Dis ’n goeie boek wat deur ’n paar intelligente manne geskryf is”, het hy geantwoord, “maar die Bybel moet nie ernstig opgeneem word nie.”
“Het u al ooit die Bybel gelees?” het sy gevra.
Die professor was uit die veld geslaan en moes erken dat hy dit nog nooit gelees het nie.
Sy het toe gevra: “Hoe kan u dan ’n sterk oortuiging uitspreek oor ’n boek wat u nog nooit gelees het nie?”
Dit was ’n goeie argument. Die professor het besluit om die Bybel te ondersoek en dan ’n mening daaromtrent te vorm.
2, 3. Waarom is die Bybel vir baie mense ’n geslote boek, en watter uitdaging bied dit ons?
2 Dit is nie net die professor wat so voel nie. Baie mense het besliste menings omtrent die Bybel al het hulle dit nog nooit self gelees nie. Hulle het dalk ’n Bybel. Hulle erken moontlik selfs dat dit letterkundige of geskiedkundige waarde het. Maar dit is vir baie ’n geslote boek. ‘Ek het nie tyd om die Bybel te lees nie’, sê party. Ander wonder: ‘Hoe kan so ’n ou boek enigsins op my lewe van toepassing wees?’ Sulke beskouings bied ons ’n ware uitdaging. Jehovah se Getuies glo vas dat die Bybel ‘deur God geïnspireer is en nuttig is om te onderrig’ (2 Timoteus 3:16, 17). Maar hoe kan ons mense oortuig dat hulle die Bybel moet ondersoek ongeag wat hulle ras, nasionaliteit of etniese agtergrond is?
3 Kom ons bespreek ’n paar redes waarom dit die moeite werd is om die Bybel te ondersoek. So ’n bespreking kan ons toerus om met mense te redeneer wat ons in ons bediening ontmoet en hulle miskien te oorreed dat hulle moet ondersoek wat die Bybel sê. Terselfdertyd behoort hierdie hersiening ons eie geloof te versterk dat die Bybel inderdaad, soos dit self sê, “die woord van God” is.—Hebreërs 4:12.
Die boek met die grootste verspreiding ter wêreld
4. Waarom kan daar gesê word dat die Bybel die boek met die grootste verspreiding ter wêreld is?
4 Eerstens, die Bybel verdien ons aandag omdat dit die boek met verreweg die grootste verspreiding asook die mees vertaalde boek in die mensegeskiedenis is. Meer as 500 jaar gelede het die eerste uitgawe wat met los letters gedruk is van Johannes Gutenberg se drukpers gekom. Sedertdien is ongeveer viermiljard eksemplare van die Bybel, in sy geheel of ten dele, gedruk. Teen 1996 is die hele Bybel of dele daarvan al in 2167 tale en dialekte vertaal.a Meer as 90 persent van die mensdom het toegang tot ten minste ’n deel van die Bybel in hulle eie taal. Geen ander boek—godsdienstig of sekulêr—kan dit enigsins ewenaar nie!
5. Waarom moet ons verwag dat die Bybel vir mense regoor die wêreld beskikbaar moet wees?
5 Statistiek op sigself bewys nie dat die Bybel God se Woord is nie. Maar ons moet sekerlik verwag dat ’n geskrewe verslag wat deur God geïnspireer is vir mense regoor die wêreld beskikbaar sou wees. Die Bybel self sê per slot van rekening dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Die Bybel het hom nie deur landsgrense laat stuit nie en het rasse- en etniese hindernisse oorkom, iets wat geen ander boek kon doen nie. Die Bybel is waarlik ’n boek vir alle mense!
’n Unieke verslag van behoud
6, 7. Waarom is dit nie verbasend dat, sover ons weet, nie een van die oorspronklike geskrifte nog bestaan nie, en watter vraag laat dit ontstaan?
6 Daar is nog ’n rede waarom dit die moeite werd is om die Bybel te ondersoek. Dit het ten spyte van natuurlike sowel as menslike struikelblokke behoue gebly. Die verslag van hoe dit ondanks ontsaglike uitdagings behoue gebly het, is werklik uniek wat antieke geskrifte betref.
7 Die Bybelskrywers het hulle woorde klaarblyklik met ink neergeskryf op papirus (wat van die Egiptiese plant met dieselfde naam gemaak is) en perkament (wat van dierevelle gemaak is)b (Job 8:11, NW). Sulke skryfmateriale het egter natuurlike vyande. Die geleerde Oscar Paret verduidelik: “Albei hierdie skryfmateriale word ewe veel deur vogtigheid, deur skimmel en deur verskeie maaiers bedreig. Ons weet uit alledaagse ondervinding hoe maklik papier, en selfs sterk leer, in die buitelug of in ’n vogtige vertrek bederf.” Dit is dus nie verbasend dat, sover ons weet, nie een van die oorspronklike geskrifte nog bestaan nie; dit het waarskynlik lank gelede al vergaan. Maar hoe het die Bybel behoue gebly as die oorspronklike geskrifte deur natuurlike vyande vernietig is?
8. Hoe is die Bybelgeskrifte deur die eeue heen bewaar?
8 Kort nadat die oorspronklike dokumente geskryf is, het mense begin om handgeskrewe afskrifte te maak. Trouens, die oorskryf van die Wet en ander dele van die Heilige Geskrifte het ’n beroep in eertydse Israel geword. Die priester Esra word byvoorbeeld as “’n vaardige kopiïs van die wet van Moses” beskryf. (Esra 7:6, 11, NW; vergelyk Psalm 45:1, NW.) Maar die afskrifte wat gemaak is, was ook op bederfbare materiaal; hulle moes uiteindelik deur ander handgeskrewe afskrifte vervang word. Hierdie oorskryf van die afskrifte het eeue lank voortgeduur. Het kopiïste se foute, aangesien mense onvolmaak is, die Bybel wesenlik verander? Die oorweldigende getuienis sê nee!
9. Hoe lig die voorbeeld van die Masorete die uiterste noukeurigheid en akkuraatheid van die Bybelkopiïste toe?
9 Die kopiïste was nie net baie vaardig nie, maar hulle het ook diepe eerbied gehad vir die woorde wat hulle oorgeskryf het. Die Hebreeuse woord vir “kopiïs” verwys na tel en neerskryf. Kom ons neem die Masorete in oënskou, kopiïste van die Hebreeuse Geskrifte wat tussen die sesde en die tiende eeu G.J. geleef het, om die uiterste noukeurigheid en akkuraatheid van die kopiïste toe te lig. Volgens die geleerde Thomas Hartwell Horne het hulle uitgewerk “hoeveel keer elke letter van die [Hebreeuse] alfabet in al die Hebreeuse Geskrifte voorkom”. Dink net wat dit beteken! Om te voorkom dat selfs ’n enkele letter weggelaat word, het hierdie toegewyde kopiïste nie net die woorde getel wat hulle oorgeskryf het nie, maar ook die letters. Volgens wat een geleerde uitgewerk het, het hulle na bewering 815 140 afsonderlike letters in die Hebreeuse Geskrifte getel! Sulke ywer het ’n hoë peil van akkuraatheid verseker.
10. Watter kragtige getuienis is daar dat die Hebreeuse en Griekse teks waarop hedendaagse vertalings gegrond is die woorde van die oorspronklike skrywers akkuraat weergee?
10 Daar is in werklikheid kragtige getuienis dat die Hebreeuse en Griekse teks waarop hedendaagse vertalings gegrond is die woorde van die oorspronklike skrywers met merkwaardige getrouheid weergee. Die getuienis bestaan uit duisende handgeskrewe afskrifte van Bybelmanuskripte—ongeveer 6000 van al die Hebreeuse Geskrifte of dele daarvan en sowat 5000 van die Christelike Geskrifte in Grieks—wat tot ons dag behoue gebly het. ’n Noukeurige vergelykende ondersoek van die talle bestaande manuskripte het tekskenners in staat gestel om enige oorskryffoute op te spoor en die oorspronklike teks te bepaal. In ’n kommentaar oor die teks van die Hebreeuse Geskrifte kon die geleerde William H. Green derhalwe sê: “Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie.” Dieselfde vertroue kan in die teks van die Christelike Griekse Geskrifte gestel word.
11. Waarom het die Bybel, in die lig van 1 Petrus 1:24, 25, tot ons dag behoue gebly?
11 Hoe maklik kon die Bybel tog vergaan het as dit nie was vir die handgeskrewe afskrifte wat die oorspronklikes, met hulle waardevolle boodskap, vervang het nie! Daar is slegs een rede waarom dit behoue gebly het—Jehovah is die Bewaarder en Beskermer van sy Woord. Soos die Bybel self in 1 Petrus 1:24, 25 sê: “Alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid daarvan is soos ’n grasbloeisel; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van Jehovah bly vir ewig.”
In die lewende tale van die mensdom
12. Met watter ander struikelblok benewens eeue van oorskrywery het die Bybel te kampe gehad?
12 Dit was ’n groot genoeg uitdaging om ondanks eeue van oorskrywery behoue te bly, maar die Bybel het met nog ’n struikelblok te kampe gehad—die vertaling daarvan in hedendaagse tale. Die Bybel moet die taal van mense praat om tot hulle hart te spreek. Maar om die Bybel—met sy meer as 1100 hoofstukke en 31 000 verse—te vertaal, is nie ’n maklike taak nie. Tog het toegewyde vertalers deur die eeue heen die uitdaging met genoeë aanvaar, ondanks die feit dat hulle soms voor oënskynlik onoorkomelike struikelblokke te staan gekom het.
13, 14. (a) Voor watter uitdaging het die Bybelvertaler Robert Moffat in die vroeë 19de eeu in Afrika te staan gekom? (b) Hoe het Tswanasprekende mense gereageer toe die Evangelie van Lukas in hulle taal beskikbaar geword het?
13 Neem byvoorbeeld hoe die Bybel in die Afrikatale vertaal is. In 1800 was daar net ’n stuk of 12 geskrewe tale in die hele Afrika. Honderde ander gesproke tale het geen skryfstelsel gehad nie. Dít was die uitdaging waarvoor Bybelvertaler Robert Moffat te staan gekom het. In 1821 het Moffat, op die ouderdom van 25, sendingwerk onder die Tswanasprekende mense van Suidelike Afrika begin doen. Ten einde hulle ongeskrewe taal te leer, het hy met die mense omgegaan. Moffat het volhard en het uiteindelik, sonder die hulp van handboeke of woordeboeke, die taal bemeester, ’n geskrewe vorm daarvan ontwikkel en sommige Tswanas geleer om dit te lees. In 1829 het hy, nadat hy agt jaar onder die Tswanas gewerk het, die vertaling van die Evangelie van Lukas voltooi. Hy het later gesê: “Ek weet van mense wat honderde [kilometers] gekom het om eksemplare van St. Lukas te bekom. . . . Ek het gesien hoe hulle dele van St. Lukas ontvang, daaroor huil, dit teen hulle bors vasdruk en trane van dankbaarheid stort, totdat ek vir meer as een gesê het: ‘Julle gaan julle boeke met julle trane beskadig.’” Moffat het ook van ’n swartman vertel wat ’n aantal mense die Evangelie van Lukas sien lees het en hulle gevra het wat hulle lees. “Dit is die woord van God”, het hulle geantwoord. “Praat dit?” het die man gevra. “Ja”, het hulle gesê, “dit spreek tot die hart.”
14 Toegewyde vertalers soos Moffat het vir baie Afrikane hulle eerste geleentheid gegee om skriftelik te kommunikeer. Maar die vertalers het vir die mense van Afrika ’n selfs waardevoller geskenk gegee—die Bybel in hulle eie taal. Wat meer is, Moffat het die Goddelike naam aan die Tswanas bekend gemaak, en hy het daardie naam deurgaans in sy vertaling gebruik.c Daarom het die Tswanas na die Bybel verwys as “die mond van Jehovah”.—Psalm 83:18, NW.
15. Waarom is die Bybel vandag beslis lewend?
15 Ander vertalers in verskillende wêrelddele het met soortgelyke struikelblokke te kampe gehad. Party het selfs hulle lewe gewaag om die Bybel te vertaal. Dink hieraan: As die Bybel slegs in ou Hebreeus en Grieks gebly het, sou dit moontlik lankal nie meer bestaan het nie, aangesien die volksmassa hierdie tale met verloop van tyd feitlik vergeet het en dit nooit in baie wêrelddele bekend was nie. Maar die Bybel is beslis lewend, aangesien dit, in teenstelling met enige ander boek, met mense regoor die wêreld in hulle eie taal kan “praat”. Gevolglik bly die boodskap daarvan ‘in die gelowiges aan die werk’ (1 Tessalonisense 2:13). The Jerusalem Bible vertaal hierdie woorde met: “Dit is steeds ’n lewende krag onder julle wat dit glo.”
Vertrouenswaardig
16, 17. (a) Watter getuienis moet bestaan as die Bybel betroubaar is? (b) Gee een voorbeeld wat die openhartigheid van die Bybelskrywer Moses toelig.
16 ‘Kan ons die Bybel werklik vertrou?’ wonder party dalk. ‘Verwys dit na mense wat werklik gelewe het, plekke wat waarlik bestaan het en gebeure wat inderdaad plaasgevind het?’ As ons dit moet vertrou, behoort daar getuienis te wees dat dit deur noukeurige, eerlike skrywers geskryf is. Dit bring ons by nog ’n rede waarom ons die Bybel moet ondersoek: Daar bestaan gegronde getuienis dat dit akkuraat en betroubaar is.
17 Eerlike skrywers sou nie net suksesse opteken nie, maar ook mislukkings, nie net sterk punte nie, maar ook swak punte. Die Bybelskrywers het sulke verfrissende openhartigheid geopenbaar. Neem byvoorbeeld die eerlikheid van Moses. Van die dinge waaroor hy openlik verslag gedoen het, was sy eie gebrek aan welsprekendheid, wat hom na sy mening ongeskik gemaak het om Israel se leier te wees (Exodus 4:10); sy ernstige fout wat veroorsaak het dat hy nie die Beloofde Land kon binnegaan nie (Numeri 20:9-12; 27:12-14); die sonde van sy broer, Aäron, wat met opstandige Israeliete saamgewerk het om ’n beeld van ’n goue kalf te maak (Exodus 32:1-6); die opstand van sy suster, Mirjam, en haar vernederende straf (Numeri 12:1-3, 10); die oneerbiedigheid van sy neefs Nadab en Abihu (Levitikus 10:1, 2) en die herhaalde klaery en murmurering van God se eie volk (Exodus 14:11, 12; Numeri 14:1-10). Toon sulke reguit, openhartige verslaggewing nie ’n opregte besorgdheid oor die waarheid nie? Bestaan daar nie goeie rede om die geskrifte van Bybelskrywers te vertrou, aangesien hulle bereid was om ongunstige inligting oor hulle geliefdes, hulle volk en ook hulleself op te teken nie?
18. Wat bevestig dat die geskrifte van die Bybelskrywers betroubaar is?
18 Die konsekwentheid van die Bybelskrywers bevestig ook dat hulle geskrifte betroubaar is. Dit is werklik merkwaardig dat 40 manne wat oor ’n tydperk van ongeveer 1600 jaar geskryf het dit met mekaar eens is, selfs wat geringe besonderhede betref. Maar hierdie harmonie is nie so noukeurig georden sodat dit die vermoede laat ontstaan dat daar ’n onderhandse samewerking was nie. Inteendeel, dit is ooglopend dat daar geen doelbewuste poging was om die verskillende besonderhede met mekaar te laat ooreenkom nie; dit is duidelik dat die harmonie dikwels toevallig is.
19. Hoe openbaar die Evangelieverslae van Jesus se gevangeneming harmonie wat duidelik onbeplan is?
19 Kom ons kyk ter toeligting na ’n voorval op die aand van Jesus se gevangeneming. Al vier Evangelieskrywers meld dat een van die dissipels ’n swaard uitgetrek het en ’n slaaf van die hoëpriester geslaan en die man se oor afgekap het. Maar slegs Lukas sê vir ons dat Jesus “die oor aangeraak en hom gesond gemaak” het (Lukas 22:51). Maar is dit nie wat ons sou verwag van die skrywer wat as “die geliefde geneesheer” bekend gestaan het nie? (Kolossense 4:14). Johannes se verslag sê vir ons dat dit, van al die dissipels wat daar teenwoordig was, Petrus was wat die swaard gebruik het—’n feit wat nie verbasend is as daar in ag geneem word dat Petrus geneig was om voortvarend en impulsief te wees nie. (Johannes 18:10; vergelyk Matteus 16:22, 23 en Johannes 21:7, 8.) Johannes noem nog ’n oënskynlik onnodige besonderheid: “Die naam van die slaaf was Malgus.” Waarom verstrek net Johannes die man se naam? Die verduideliking word gegee deur ’n onbeduidende feit wat slegs in Johannes se verslag terloops genoem word—Johannes “was aan die hoëpriester bekend”. Hy was ook aan die hoëpriester se huismense bekend; die knegte het hom geken en hy het hulle geken (Johannes 18:10, 15, 16).d Dit was dus net natuurlik dat Johannes die beseerde man se naam sou noem, terwyl die ander Evangelieskrywers, vir wie die man klaarblyklik ’n vreemdeling was, dit nie doen nie. Die harmonie tussen al hierdie besonderhede is merkwaardig en tog duidelik onbeplan. Daar is talle soortgelyke voorbeelde regdeur die Bybel.
20. Wat moet opregtes van hart omtrent die Bybel weet?
20 Kan ons dus die Bybel vertrou? Beslis! Die openhartigheid van die Bybelskrywers en die Bybel se interne konsekwentheid toon duidelik dat dit die waarheid is. Opregtes van hart moet weet dat hulle die Bybel kan vertrou, want dit is die geïnspireerde Woord van “Jehovah, die God van waarheid” (Psalm 31:5, NW). Daar is nog redes waarom die Bybel ’n boek vir alle mense is, soos die volgende artikel sal bespreek.
[Voetnote]
a Gebaseer op syfers wat deur die Verenigde Bybelgenootskappe bekend gemaak is.
b Tydens Paulus se tweede gevangenskap in Rome het hy vir Timoteus gevra om “die boekrolle, veral die perkamente,” te bring (2 Timoteus 4:13). Paulus het moontlik vir dele van die Hebreeuse Geskrifte gevra sodat hy dit kon bestudeer terwyl hy in die gevangenis was. Die woorde “veral die perkamente” kan beteken dat hy van sowel boekrolle van papirus as van ander van perkament gepraat het.
c Moffat het in 1838 ’n vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte voltooi. In 1857 het hy die vertaling van die Hebreeuse Geskrifte met die hulp van ’n kollega afgehandel.
d Later in die verslag word Johannes se vertroudheid met die hoëpriester en sy huismense verder getoon. Toe ’n ander slaaf van die hoëpriester Petrus daarvan beskuldig dat hy een van Jesus se dissipels is, verduidelik Johannes dat hierdie slaaf “’n familielid was van die man wie se oor Petrus afgekap het”.—Johannes 18:26.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom moet ons verwag dat die Bybel die mees bekombare boek ter wêreld sal wees?
◻ Watter getuienis is daar dat die Bybel akkuraat bewaar is?
◻ Voor watter struikelblokke het Bybelvertalers te staan gekom?
◻ Wat bevestig dat die Bybel betroubaar is?