’n Praktiese boek vir die hedendaagse lewe
Boeke wat advies gee, is baie gewild in vandag se wêreld. Maar hulle raak gewoonlik verouderd en word weldra bygewerk of vervang. Wat van die Bybel? Dit is bykans 2 000 jaar gelede voltooi. En tog is die oorspronklike boodskap daarvan nooit verbeter of bygewerk nie. Kan so ’n boek werklik praktiese leiding vir ons dag bevat?
SOMMIGE sê nee. “Niemand kan ’n chemiehandboek van 1924 aanbeveel vir gebruik in ’n hedendaagse chemieklas nie”, het dr. Eli S. Chesen geskryf om te verduidelik waarom hy meen dat die Bybel verouderd is.1 Hierdie argument maak oënskynlik sin. Die mens het per slot van rekening baie van geestesgesondheid en mensegedrag geleer sedert die Bybel geskryf is. Hoe kan so ’n ou boek dus enigsins op die hedendaagse lewe betrekking hê?
Tydlose beginsels
Hoewel dit waar is dat tye verander het, het basiese mensebehoeftes dieselfde gebly. Deur die geskiedenis heen het mense ’n behoefte aan liefde en geneentheid gehad. Hulle wou gelukkig wees en ’n sinvolle lewe lei. Hulle het raad nodig gehad oor hoe om ekonomiese druk die hoof te bied, hoe om ’n suksesvolle huwelik te hê en hoe om goeie sedelike en etiese waardes by hulle kinders in te skerp. Die Bybel bevat raad wat aandag gee aan daardie basiese behoeftes.—Prediker 3:12, 13; Romeine 12:10; Kolossense 3:18-21; 1 Timoteus 6:6-10.
Die Bybel se raad weerspieël ’n intense bewustheid van die menslike natuur. Beskou ’n paar voorbeelde van die spesifieke, tydlose beginsels daarin wat vir die hedendaagse lewe prakties is.
Praktiese riglyne vir die huwelik
Die gesin, sê die UN Chronicle, “is die oudste en kleinste eenheid van die mensegemeenskap; die belangrikste skakel tussen geslagte”. Maar hierdie ‘belangrike skakel’ is besig om teen ’n kommerwekkende tempo uitmekaar te skeur. “In vandag se wêreld”, sê die Chronicle, “kom baie gesinne voor ontsettende uitdagings te staan wat ’n bedreiging inhou vir hulle vermoë om te funksioneer en selfs om staande te bly.”2 Watter raad gee die Bybel om die gesinseenheid te help om staande te bly?
Om mee te begin, die Bybel het baie te sê oor hoe mans en vrouens mekaar moet behandel. Wat mans betref, sê dit byvoorbeeld: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit” (Efesiërs 5:28, 29). ’n Vrou is aangeraai om ‘diep respek vir haar man te hê’.—Efesiërs 5:33.
Beskou die gevolge van die toepassing van sulke Bybelraad. ’n Man wat sy vrou ‘soos sy eie liggaam’ liefhet, is nie hatig of wreed teenoor haar nie. Hy slaan haar nie, en hy sal haar nie uitskel of emosioneel mishandel nie. Hy ken haar eerder dieselfde respek en agting toe wat hy homself bewys (1 Petrus 3:7). Sy vrou voel dus geliefd en veilig in haar huwelik. Hy stel sodoende vir sy kinders ’n goeie voorbeeld van hoe vroue behandel moet word. Daarenteen sal ’n vrou wat “diep respek” vir haar man het hom nie sy waardigheid ontneem deur hom gedurig te kritiseer of te verkleineer nie. Aangesien sy hom respekteer, voel hy dat hy vertrou, aanvaar en waardeer word.
Is sulke raad prakties in hierdie moderne wêreld? Dit is interessant dat persone wat die studie van hedendaagse gesinne hulle beroep maak tot dieselfde gevolgtrekkings gekom het. ’n Administrateur van ’n gesinsvoorligtingsprogram het gesê: “Die hegste gesinne wat ek ken, is dié waarin die moeder en vader ’n sterk, liefdevolle verhouding met mekaar het. . . . Hierdie sterk hoofverhouding lei blykbaar tot ’n gevoel van veiligheid by die kinders.”3
Deur die jare heen was die Bybel se raad oor die huwelik veel betroubaarder as die raad van tallose welmenende gesinsvoorligters. Dit was op stuk van sake nie lank gelede nie dat baie deskundiges egskeiding as ’n vinnige en maklike oplossing vir ’n onaangename huwelik aanbeveel het. Vandag spoor baie van hulle mense aan om hulle huwelik te red indien dit enigsins moontlik is. Maar hierdie verandering het slegs gekom nadat baie skade berokken is.
In teenstelling hiermee gee die Bybel betroubare, gebalanseerde raad oor die huwelik. Dit erken dat sekere uiterste omstandighede egskeidings geoorloof maak (Matteus 19:9). Terselfdertyd veroordeel dit egskeidings op grond van beuselagtighede (Maleagi 2:14-16). Dit veroordeel ook huweliksontrouheid (Hebreërs 13:4). Dit sê dat die huwelik ’n verbondenheid aan mekaar behels: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”a—Genesis 2:24, ons kursiveer; Matteus 19:5, 6.
Die Bybel se raad oor die huwelik is vandag net so toepaslik soos toe die Bybel geskryf is. Wanneer die man en vrou mekaar met liefde en respek behandel en die huwelik as ’n eksklusiewe verhouding beskou, is die kanse groter dat die huwelik staande sal bly—en daarmee saam die gesin.
Praktiese riglyne vir ouers
Etlike dekades gelede het baie ouers—wat deur “nuwe idees” oor kinderopvoeding aangespoor is—gedink dit is “verbode om te verbied”.6 Hulle het gevrees dat dit tot trauma en frustrasie sou lei as hulle beperkings vir hulle kinders sou stel. Welmenende raadgewers oor die grootmaak van kinders het nadruklik gesê dat ouers niks meer as net die sagste teregwysing vir hulle kinders moet gee nie. Maar baie van hierdie deskundiges heroorweeg nou die rol van dissipline, en besorgde ouers is op soek na duidelikheid oor die onderwerp.
Die Bybel het egter nog altyd duidelike, redelike raad oor die grootmaak van kinders gegee. Bykans 2 000 jaar gelede het dit gesê: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Die Griekse selfstandige naamwoord wat met “dissipline” vertaal word, beteken “opvoeding, opleiding, onderrigting”.7 Die Bybel sê dat sulke dissipline, of onderrigting, ’n bewys van ouerlike liefde is (Spreuke 13:24). Kinders floreer wanneer hulle duidelike sedelike riglyne het, asook ’n ontwikkelde gevoel van wat reg en verkeerd is. Dissipline verseker hulle dat hulle ouers vir hulle omgee en besorg is oor die soort persoon wat hulle sal word.
Maar ouerlike gesag—“die tugroede”—moet nooit vir mishandeling gebruik word nie (Spreuke 22:15; 29:15).b Die Bybel waarsku ouers: “Moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie” (Kolossense 3:21, NAV). Dit erken ook dat lyfstraf gewoonlik nie die doeltreffendste onderrigmetode is nie. Spreuke 17:10 sê: “’n Berisping gaan by ’n verstandige dieper in as om ’n dwaas honderd maal te slaan.” Buitendien beveel die Bybel voorkomende dissipline aan. In Deuteronomium 11:19 word ouers aangespoor om informele geleenthede te benut om sedelike waardes by hulle kinders in te skerp.—Sien ook Deuteronomium 6:6, 7.
Die Bybel se tydlose raad aan ouers is duidelik. Kinders het konsekwente en liefdevolle dissipline nodig. Praktiese ondervinding toon dat sulke raad werklik werk.c
Hoe om die skeidsmure te oorkom wat mense verdeel
Mense word vandag deur rasse-, volks- en etniese skeidsmure verdeel. Hierdie kunsmatige mure het bygedra tot die slagting van onskuldige mense in oorloë regoor die wêreld. As die geskiedenis as maatstaf gebruik word, is die vooruitsig van mans en vrouens van verskillende rasse en nasies wat mekaar as hulle gelyke beskou en behandel inderdaad somber. “Die oplossing”, sê ’n staatsman van Afrika, “lê in ons hart.”11 Maar dit is nie maklik om mense se harte te verander nie. Let egter op hoe die Bybel se boodskap harte raak en ’n gevoel van gelykheid bevorder.
Die Bybelleer dat God “uit een mens elke nasie van die mense gemaak” het, skakel enige idee van rassemeerderwaardigheid uit (Handelinge 17:26). Dit toon dat daar in werklikheid net een ras is—die menseras. Die Bybel moedig ons voorts aan om ‘navolgers te word van God’, van wie daar gesê word: ‘Hy is nie partydig nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik’ (Efesiërs 5:1; Handelinge 10:34, 35). Hierdie kennis het ’n verenigende invloed op diegene wat die Bybel in ’n ernstige lig beskou en wat waarlik daarna streef om volgens die leringe daarin te leef. Dit dring deur tot die diepste vlak, die mensehart, en verwyder die mensgemaakte skeidsmure wat mense verdeel. Beskou ’n voorbeeld.
Toe Hitler dwarsdeur Europa oorlog gevoer het, was daar een groep Christene—Jehovah se Getuies—wat standvastig geweier het om aan die slagting van onskuldige mense deel te neem. Hulle het ‘nie die swaard opgehef’ teen hulle naaste nie. Hulle het hierdie standpunt ingeneem weens hulle begeerte om God te behaag (Jesaja 2:3, 4; Miga 4:3, 5). Hulle het waarlik geglo wat die Bybel leer—dat geen nasie of ras beter as ’n ander is nie (Galasiërs 3:28). Weens hulle vredeliewende standpunt was Jehovah se Getuies onder die eerste gevangenes in die konsentrasiekampe.—Romeine 12:18.
Maar nie almal wat beweer het dat hulle die Bybel volg, het so ’n standpunt ingeneem nie. Kort ná die Tweede Wêreldoorlog het Martin Niemöller, ’n Duitse Protestantse geestelike, geskryf: “Wie ook al vir God verantwoordelik wil hou vir [oorloë] ken nie God se Woord nie, of wil dit nie ken nie. . . . Christelike kerke het, deur die eeue heen, herhaaldelik aangebied om oorloë, soldate en wapens te seën en . . . het op ’n uiters onchristelike wyse vir die vernietiging van hulle vyande gebid. Dit is alles ons skuld en ons vaders se skuld, maar dit is beslis nie God se skuld nie. En ons as hedendaagse Christene staan beskaamd voor ’n sogenaamde sekte soos die Ernstige Bybelstudente [Jehovah se Getuies], wat by honderde en duisende na konsentrasiekampe gestuur is en [selfs] gesterf het omdat hulle geweier het om krygsdiens te doen en op mense te skiet.”12
Tot vandag toe is Jehovah se Getuies welbekend vir hulle broederskap, wat Arabiere en Jode, Kroate en Serwiërs, Hutu’s en Tutsi’s verenig. Maar die Getuies erken geredelik dat hierdie soort eenheid moontlik is omdat hulle deur die krag van die Bybel se boodskap beweeg word en nie omdat hulle beter as ander mense is nie.—1 Tessalonisense 2:13.
Praktiese riglyne wat goeie geestesgesondheid bevorder
Iemand se fisiese gesondheid word dikwels deur sy geestes- en emosionele gesondheid beïnvloed. Wetenskaplike studies het byvoorbeeld die skadelike uitwerking van toorn vasgestel. “Die meeste van die beskikbare bewyse dui daarop dat aggressiewe mense groter gevaar loop om kardiovaskulêre siektes (sowel as ander siektes) op te doen weens verskeie redes, waaronder minder vriende, verhoogde biologiese reaksies wanneer hulle kwaad word en ’n toename in gedragspatrone wat hulle gesondheid in gevaar stel”, sê dr. Redford Williams, Direkteur van Gedragsnavorsing aan die Duke-universiteit se Mediese Sentrum, en sy vrou, Virginia Williams, in hulle boek Anger Kills.13
Duisende jare voor sulke wetenskaplike studies gedoen is, het die Bybel, in eenvoudige maar duidelike terme, ’n verband tussen ons emosionele toestand en ons liggaamlike gesondheid getoon: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar [jaloesie, NW] ’n verrotting vir die gebeente” (Spreuke 14:30; 17:22). Die Bybel het dus wyslik gemaan: “Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid” en: “Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie.”—Psalm 37:8; Prediker 7:9.
Die Bybel bevat ook verstandige raad om toorn te beheers. Spreuke 19:11 (NW) sê byvoorbeeld: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van sy kant om die oortreding oor te sien.” Die Hebreeuse woord vir “insig” word afgelei van ’n werkwoord wat die aandag vestig op ’n “kennis van die rede” vir iets.14 Die wyse raad is: “Dink voordat jy optree.” As ’n mens die onderliggende redes probeer verstaan waarom ander iets op ’n sekere manier sê of doen, kan dit jou help om verdraagsamer—en minder geneig tot toorn—te wees.—Spreuke 14:29.
Nog praktiese raad word in Kolossense 3:13 gevind, waar dit sê: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe.” Geringe irritasies is deel van die lewe. Die uitdrukking ‘hou aan om te verdra’, gee te kenne dat ons die dinge verduur waarvan ons nie hou in ander mense nie. “Vergewe” beteken om van ons wrok ontslae te raak. Dit is soms verstandig om eerder van ons gevoelens van verbittering ontslae te raak as om dit te koester; as ons toorn in ons hart omdra, sal dit net ons las vergroot.—Sien die venster “Praktiese riglyne vir menseverhoudinge”.
Daar is vandag baie bronne van raad en leiding. Maar die Bybel is waarlik uniek. Die raad daarin is nie blote teorie nie, en die advies daarin benadeel ons nooit nie. Die wysheid daarin is eerder “baie betroubaar” (Psalm 93:5). Boonop is die Bybel se raad tydloos. Hoewel dit bykans 2 000 jaar gelede voltooi is, is die woorde daarin nog steeds toepaslik. En dit is ewe geldig, ongeag ons velkleur of die land waarin ons woon. Die Bybel se woorde het ook krag—die krag om mense ten goede te verander (Hebreërs 4:12). As jy daardie boek lees en die beginsels daarin toepas, kan dit dus die gehalte van jou lewe verbeter.
[Voetnote]
a Die Hebreeuse woord da·vaqʹ, wat hier met “aankleef” vertaal word, “dra die gevoel daarvan oor om iemand in liefde en lojaliteit aan te kleef”.8 In Grieks hou die woord wat in Matteus 19:5 weergegee word met ‘sal aankleef’, verband met die woord wat beteken “om te lym”, “om te bind”, “om stewig aanmekaar te heg”.9
b In Bybeltye het die woord “roede” (Hebreeus, sjeʹwet) ’n “stok” of ’n “staf” beteken, soos dié wat deur ’n herder gebruik is.10 In hierdie konteks dui die roede van gesag op liefdevolle leiding, nie ongevoelige wreedheid nie.—Vergelyk Psalm 23:4.
c Sien die hoofstukke “Voed jou kind van kleins af op”, “Help jou tiener om te floreer”, “Is daar ’n rebel in die huis?” en “Beskerm jou gesin teen verderflike invloede” in die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Lokteks op bladsy 24]
Die Bybel gee duidelike, redelike raad oor gesinslewe
[Venster op bladsy 23]
Kenmerke van gelukkige gesinne
Jare gelede het ’n opvoeder en gesinsdeskundige ’n omvattende opname gemaak waarin meer as 500 vakkundiges wat met gesinne werk, gevra is om kommentaar te lewer oor die eienskappe wat hulle in gelukkige gesinne sien. Dit is interessant dat dinge wat lank gelede deur die Bybel aanbeveel is onder die algemeenste eienskappe op die lys was.
Goeie kommunikasiegewoontes was heel boaan die lys, met inbegrip van doeltreffende metodes om verskille by te lê. ’n Algemene beleid in gelukkige gesinne is dat “niemand gaan slaap terwyl hy vir iemand anders kwaad is nie”, het die samesteller van die opname gesê.4 Tog het die Bybel, meer as 1 900 jaar gelede, dié raad gegee: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). In Bybeltye is die dae van sononder tot sononder gemeet. Lank voordat hedendaagse deskundiges gesinne bestudeer het, het die Bybel dus wyslik aangeraai: Los verdelende sake vinnig op—voor die dag eindig en ’n nuwe begin.
Gelukkige gesinne “roer nie potensieel plofbare onderwerpe aan net voor hulle uitgaan of voor slapenstyd nie”, het die samesteller gevind. “Ek het die frase ‘die regte tyd’ oor en oor gehoor.”5 Hierdie gesinne het onwetend die Bybelspreuk aangehaal wat meer as 2700 jaar gelede opgeteken is: “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word” (Spreuke 15:23, NW; 25:11, NW). Hierdie vergelyking sinspeel moontlik op goue ornamente in die vorm van appels wat geplaas is op gegraveerde silwer skinkborde—gesogte en pragtige besittings in Bybeltye. Dit dra oor hoe mooi en waardevol woorde is wat op die regte tyd geuiter word. In spanningsvolle situasies is die regte woorde op die regte tyd van onskatbare waarde.—Spreuke 10:19.
[Venster op bladsy 26]
Praktiese riglyne vir menseverhoudinge
“As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby” (Psalm 4:5, NAV). In die meeste gevalle waarby geringe oortredings betrokke is, sal dit dalk raadsaam wees om jou woorde in te hou, en sodoende sal jy ’n emosionele konfrontasie vermy.
“Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing” (Spreuke 12:18). Dink voor jy praat. Onverskillige woorde kan ander seermaak en vriendskappe vernietig.
“’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom” (Spreuke 15:1). Dit verg selfbeheersing om op ’n sagmoedige wyse te reageer, maar so ’n handelswyse los dikwels probleme op en bevorder vreedsame verhoudinge.
“Die begin van ’n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek” (Spreuke 17:14). Dit is wys om jou uit ’n plofbare situasie te verwyder voordat jy jou humeur verloor.
“Moenie jou gou vererg nie; want dwase koester ergernis” (Prediker 7:9, The New English Bible). Dade word gewoonlik deur emosies voorafgegaan. Die persoon wat gou is om hom te vererg, is dwaas, want dit kan tot onverskillige woorde of dade lei.
[Prent op bladsy 25]
Jehovah se Getuies was onder die eerste gevangenes in konsentrasiekampe