’n Boek wat van God kom
“Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 PETRUS 1:21.
1, 2. (a) Waarom twyfel sommige of die Bybel prakties is vir die hedendaagse lewe? (b) Watter drie bewysgronde kan ons gebruik om te toon dat die Bybel wel van God kom?
IS DIE Bybel prakties vir mense wat op die drumpel van die 21ste eeu staan? Sommige dink nie so nie. “Niemand sal ’n chemiehandboek van 1924 aanbeveel vir gebruik in ’n hedendaagse chemieklas nie—te veel is sedertdien oor chemie geleer”, het dr. Eli S. Chesen geskryf om te verduidelik waarom hy meen dat die Bybel verouderd is. Oppervlakkig gesien, lyk dit of hierdie argument sin maak. Die mens het per slot van rekening sedert Bybeltye baie omtrent die wetenskap, geestesgesondheid en mensegedrag geleer. Party wonder dus: ‘Hoe kan so ’n ou boek vry wees van wetenskaplike foute? Hoe kan dit raad bevat wat prakties is vir die hedendaagse lewe?’
2 Die Bybel self gee die antwoord. In 2 Petrus 1:21 word ons meegedeel dat die Bybelprofete “uit God gespreek [het] namate hulle deur heilige gees meegevoer is”. Die Bybel dui sodoende aan dat dit ’n boek is wat van God kom. Maar hoe kan ons ander hiervan oortuig? Kom ons ondersoek drie bewysgronde dat die Bybel wel God se Woord is: (1) Dit is wetenskaplik akkuraat, (2) dit bevat tydlose beginsels wat prakties is vir die hedendaagse lewe en (3) dit bevat spesifieke profesieë wat al vervul is, soos deur geskiedkundige feite bewys is.
’n Boek wat met die wetenskap ooreenstem
3. Waarom word die Bybel nie deur wetenskaplike ontdekkings bedreig nie?
3 Die Bybel is nie ’n wetenskaphandboek nie. Dit is egter ’n boek van waarheid, en die waarheid kan die tand van die tyd deurstaan (Johannes 17:17). Die Bybel word nie deur wetenskaplike ontdekkings bedreig nie. Wanneer dit sake aanroer wat met die wetenskap verband hou, is dit heeltemal vry van ou “wetenskaplike” teorieë wat blote mites was. Trouens, dit bevat verklarings wat nie net wetenskaplik juis is nie, maar ook die algemeen aanvaarde menings van die tyd lynreg weerspreek. Beskou byvoorbeeld die harmonie tussen die Bybel en die mediese wetenskap.
4, 5. (a) Wat het geneeshere van die ou tyd nie omtrent siektes verstaan nie? (b) Waarom was Moses ongetwyfeld bekend met die mediese gebruike van die Egiptiese geneeshere?
4 Geneeshere van die ou tyd het nie ten volle verstaan hoe siektes versprei nie, en hulle het ook nie die belangrikheid van higiëne vir die voorkoming van siektes besef nie. Baie eertydse mediese gebruike sou volgens hedendaagse standaarde barbaars voorkom. Een van die oudste mediese geskrifte beskikbaar is die Ebers-papirus, ’n versameling van Egiptiese mediese kennis, wat uit omstreeks 1550 v.G.J. dateer. Dit bevat 700 rate vir verskillende kwale, “van krokodilbyt tot toonnaelpyn”. Die meeste van die rate was eenvoudig ondoeltreffend, maar party van hulle was uiters gevaarlik. Vir die behandeling van ’n wond het een van die voorskrifte aanbeveel dat ’n mengsel van menslike ontlasting en ander bestanddele aangewend word.
5 Hierdie geskrif van Egiptiese mediese rate is omstreeks dieselfde tyd geskryf as die eerste boeke van die Bybel, wat die Mosaïese Wet ingesluit het. Moses, wat in 1593 v.G.J. gebore is, het in Egipte grootgeword (Exodus 2:1-10). As ’n lid van Farao se huis is Moses “in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig” (Handelinge 7:22). Hy was bekend met “die geneeshere” van Egipte (Genesis 50:1-3). Het hulle ondoeltreffende of gevaarlike mediese gebruike sy geskrifte beïnvloed?
6. Watter gesondheidsvoorskrif in die Mosaïese Wet sou deur die moderne mediese wetenskap as redelik beskou word?
6 Inteendeel, die Mosaïese Wet het gesondheidsvoorskrifte ingesluit wat deur die moderne mediese wetenskap as redelik beskou sou word. ’n Wet aangaande militêre kampe het byvoorbeeld vereis dat ontlasting buite die kamp begrawe word (Deuteronomium 23:13). Dit was ’n uiters gevorderde voorsorgmaatreël. Dit het gehelp om die waterbronne vry van besmetting te hou en het die volk beskerm teen shigellose, wat deur vlieë versprei word, en teen ander diarreesiektes wat jaarliks steeds miljoene lewens eis, meestal in ontwikkelende lande.
7. Watter gesondheidsvoorskrifte in die Mosaïese Wet het gehelp om die verspreiding van besmetlike siektes te voorkom?
7 Die Mosaïese Wet het ander gesondheidsvoorskrifte gehad wat gehelp het om die verspreiding van besmetlike siektes te voorkom. Iemand wat ’n aansteeklike siekte gehad of vermoedelik gehad het, is onder kwarantyn geplaas (Levitikus 13:1-5). Klere of voorwerpe wat in kontak gekom het met ’n dier wat vanself doodgegaan het (miskien weens siekte), moes gewas word voor dit weer gebruik is of moes vernietig word (Levitikus 11:27, 28, 32, 33). Enigiemand wat aan ’n lyk geraak het, is as onrein beskou en moes ’n reinigingsproses ondergaan waartydens hy onder meer sy klere moes was en self moes bad. Gedurende die sewedaagse tydperk van onreinheid moes hy liggaamlike kontak met ander vermy.—Numeri 19:1-13.
8, 9. Waarom kan daar gesê word dat die sanitêre wette in die Mosaïese Wet die tyd ver vooruit was?
8 Hierdie sanitêre wette openbaar wysheid wat die tyd ver vooruit was. Die moderne mediese wetenskap het baie oor die verspreiding en voorkoming van siektes geleer. Mediese vooruitgang in die 19de eeu het byvoorbeeld gelei tot kiemwerende behandeling—om dinge skoon te hou sodat minder infeksies sou voorkom. Die resultaat was ’n betekenisvolle vermindering in infeksies en vroeë sterftes. In 1900 was mense se verwagte lewensduur by geboorte in baie Europese lande en in die Verenigde State minder as 50 jaar. Sedertdien het dit aansienlik toegeneem, nie net weens mediese vooruitgang in die beheer van siekte nie, maar ook weens beter sanitasie en lewenstoestande.
9 Maar duisende jare voordat die mediese wetenskap geleer het hoe siektes versprei, het die Bybel redelike voorsorgmaatreëls as beskerming teen siekte voorgeskryf. Dit is dus nie verbasend dat Moses kon sê dat Israeliete in sy dag oor die algemeen tot 70 of 80 jaar oud geword het nie (Psalm 90:10). Hoe kon Moses kennis gedra het van sulke gesondheidsvoorskrifte? Die Bybel self verduidelik: Die Wet “is deur middel van engele . . . oorgedra” (Galasiërs 3:19). Ja, die Bybel is nie ’n boek van mensewysheid nie; dit is ’n boek wat van God kom.
’n Praktiese boek vir die hedendaagse lewe
10. Wat is waar omtrent die raad in die Bybel, hoewel dit bykans 2000 jaar gelede voltooi is?
10 Boeke wat advies gee, raak gewoonlik verouderd en word weldra bygewerk of vervang. Maar die Bybel is waarlik uniek. “U getuienisse [“vermanings”, NW] is baie betroubaar”, sê Psalm 93:5. Hoewel die Bybel bykans 2000 jaar gelede voltooi is, is die woorde daarvan nog steeds van toepassing. En dit is ewe geldig ongeag wat ons velkleur is of in watter land ons woon. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van die Bybel se tydlose, ‘baie betroubare’ raad.
11. Wat is baie ouers etlike dekades gelede oor die dissiplinering van kinders wysgemaak?
11 Etlike dekades gelede het baie ouers—wat deur “nuwe idees” oor kinderopvoeding aangespoor is—gedink dit is “verbode om te verbied”. Hulle het gevrees dat dit tot trauma en frustrasie sou lei as hulle perke vir hulle kinders sou stel. Welmenende raadgewers het volgehou dat ouers hulle kinders niks meer as net die sagste teregwysing moet gee nie. Maar wat baie van hierdie deskundiges nou doen, is om “ouers aan te spoor om ’n bietjie strenger te wees, om weer die leisels te neem”, berig The New York Times.
12. Wat beteken die Griekse selfstandige naamwoord wat met “dissipline” vertaal word, en waarom het kinders sulke dissipline nodig?
12 Maar die Bybel het nog altyd spesifieke, gebalanseerde raad oor die grootmaak van kinders gegee. Dit maan: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Die Griekse selfstandige naamwoord wat met “dissipline” vertaal word, beteken “opvoeding, opleiding, onderrigting”. Die Bybel sê dat dissipline, of onderrigting, ’n bewys van ouerlike liefde is (Spreuke 13:24). Kinders floreer wanneer hulle duidelike sedelike riglyne het wat hulle help om ’n besef van wat reg en verkeerd is te ontwikkel. Dissipline wat behoorlik toegepas word, help hulle om veilig te voel; dit verseker hulle dat hulle ouers vir hulle omgee en besorg is oor die soort persoon wat hulle sal word.—Vergelyk Spreuke 4:10-13.
13. (a) Watter waarskuwing rig die Bybel tot ouers wat dissipline betref? (b) Watter soort dissipline beveel die Bybel aan?
13 Maar die Bybel rig ’n waarskuwing tot ouers wat dissipline betref. Ouerlike gesag moet nooit in mishandeling oorgaan nie (Spreuke 22:15). Geen kind moet ooit wreed gestraf word nie. Daar is geen plek vir liggaamlike geweld in die gesin wat volgens die Bybel lewe nie (Psalm 11:5). Ook nie vir emosionele geweld nie—kwetsende woorde, voortdurende kritiek en snydende sarkasme, wat alles ’n kind se gees kan verpletter. (Vergelyk Spreuke 12:18.) Die Bybel waarsku ouers wyslik: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). Die Bybel beveel voorkomende maatreëls aan. In Deuteronomium 11:19 word ouers aangespoor om informele geleenthede te benut om sedelike en geestelike waardes by hulle kinders in te skerp. Sulke duidelike, redelike raad oor die grootmaak van kinders is vandag net so prakties as wat dit in Bybeltye was.
14, 15. (a) In watter opsig gee die Bybel meer as net wyse raad? (b) Watter Bybelleringe kan mans en vrouens van verskillende rasse en nasies help om mekaar as gelykes te beskou?
14 Die Bybel gee meer as net wyse raad. Sy boodskap spreek tot die hart. Hebreërs 4:12 sê: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelinge van die hart onderskei.” Beskou ’n voorbeeld van die Bybel se dryfkrag.
15 Mense word vandag deur rasse-, volks- en etniese skeidsmure verdeel. Hierdie kunsmatige mure het bygedra tot die grootskaalse slagting van onskuldige mense in oorloë regoor die wêreld. Die Bybel daarenteen bevat leringe wat mans en vrouens van verskillende rasse en nasies help om mekaar as gelykes te beskou. Handelinge 17:26 sê byvoorbeeld dat God “uit een mens elke nasie van die mense gemaak” het. Dit toon dat daar in werklikheid net een ras is—die menseras! Die Bybel moedig ons voorts aan om ‘navolgers te word van God’, van wie dit sê: “[Hy is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Efesiërs 5:1; Handelinge 10:34, 35). Vir diegene wat waarlik daarna streef om volgens die Bybel se leringe te lewe, het hierdie kennis ’n verenigende invloed. Dit dring deur tot die diepste vlak—tot die hart—en ruim die mensgemaakte skeidsmure wat mense verdeel uit die weg. Werk dit regtig in vandag se wêreld?
16. Vertel ’n ondervinding wat toon dat Jehovah se Getuies ’n ware internasionale broederskap is.
16 Ja, beslis! Jehovah se Getuies is welbekend vir hulle internasionale broederskap, wat mense van verskillende agtergronde verenig wat nie gewoonlik in vrede met mekaar lewe nie. Gedurende die etniese konflik in Rwanda het Jehovah se Getuies van albei stamme byvoorbeeld hulle Christenbroers en -susters van die ander stam beskerm en hulle eie lewe sodoende in gevaar gestel. In een geval het ’n Hutu-Getuie ’n Tutsi-gesin van ses wat in dieselfde gemeente as hy was in sy huis versteek. Ongelukkig is die Tutsi-gesin op die ou end ontdek en doodgemaak. Die Hutu-broer en sy gesin het hulle nou die toorn van die moordenaars op die hals gehaal en moes na Tanzanië vlug. Talle soortgelyke gevalle is gerapporteer. Jehovah se Getuies erken geredelik dat sulke eenheid moontlik is omdat hulle hart diep geraak is deur die dryfkrag van die Bybel se boodskap. Die feit dat die Bybel mense in hierdie haatgevulde wêreld kan verenig, is ’n kragtige bewys dat dit van God kom.
’n Boek van ware profesieë
17. Hoe verskil Bybelprofesieë van die voorspellings van mense?
17 ‘Geen profesie van die Skrif spruit voort uit enige eie uitlegging nie’, sê 2 Petrus 1:20. Bybelprofete het nie tendense in destydse wêreldaangeleenthede ondersoek en toe op grond van hulle persoonlike interpretasie van hierdie ontwikkelinge ingeligte raaiskote gewaag nie. Hulle het ook nie vae voorspellings geuiter wat op so te sê enige toekomstige gebeurtenis toegepas kan word nie. Kom ons kyk as voorbeeld na ’n Bybelprofesie wat besonder spesifiek was en presies die teenoorgestelde voorspel het van wat mense destyds moontlik verwag het.
18. Waarom het die inwoners van eertydse Babilon ongetwyfeld baie veilig gevoel, maar wat het Jesaja aangaande Babilon voorspel?
18 Teen die sewende eeu v.G.J. was Babilon die oënskynlik onoorwinlike hoofstad van die Babiloniese Ryk. Die stad het weerskante van die Eufraatrivier gelê, en die rivier se water is gebruik om ’n breë, diep grag en ’n netwerk van kanale te vorm. Die stad is ook deur ’n enorme stelsel van dubbele mure beskerm wat deur verdedigingstorings versterk is. Babilon se inwoners het ongetwyfeld baie veilig gevoel. Maar in die agtste eeu v.G.J., selfs voordat Babilon tot die hoogtepunt van sy roem gestyg het, het die profeet Jesaja voorspel: “Babel [sal] . . . wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie” (Jesaja 13:19, 20). Let op dat die profesie nie net voorspel het dat Babilon vernietig sou word nie, maar ook dat dit nooit weer bewoon sou word nie. Wat ’n moedige voorspelling tog! Kon Jesaja sy profesie geskryf het nadat hy ’n verlate Babilon gesien het? Die geskiedenis antwoord nee!
19. Waarom is Jesaja se profesie nie heeltemal vervul op 5 Oktober 539 v.G.J. nie?
19 Op die aand van 5 Oktober 539 v.G.J. is Babilon deur die Medo-Persiese leër onder bevel van Kores die Grote ingeneem. Maar Jesaja se profesie is nie toe heeltemal vervul nie. Ná Kores se oorname is Babilon—hoewel nie meer so glorieryk nie—nog eeue lank bewoon. In die tweede eeu v.G.J., omstreeks die tyd toe ’n kopie van die boek Jesaja, naamlik die Dooie See-rol, gemaak is, het die Parters Babilon oorgeneem, wat destyds beskou is as ’n prys waaroor omliggende nasies geveg het. Die Joodse geskiedskrywer Josefus het berig dat “’n groot aantal” Jode in die eerste eeu v.G.J. daar gewoon het. Volgens The Cambridge Ancient History het Palmiraanse handelaars in 24 G.J. ’n florerende handelskolonie in Babilon gestig. Selfs in die eerste eeu G.J. was Babilon dus nog nie heeltemal verlate nie; tog is Jesaja se boek lank tevore voltooi.—1 Petrus 5:13.
20. Watter getuienis is daar dat Babilon uiteindelik blote “kliphope” geword het?
20 Jesaja het nie meer gelewe toe Babilon verlate geword het nie. Maar net soos voorspel is, het Babilon uiteindelik blote “kliphope” geword (Jeremia 51:37). Volgens die Hebraïkus Hieronimus (wat in die vierde eeu G.J. gebore is) was Babilon teen sy tyd ’n jagveld waarin “allerhande wilde diere” rondgedwaal het, en dit is tot vandag toe nog verlate. Pogings om Babilon as ’n toeriste-aantreklikheid te herstel, sal dalk besoekers lok, maar Babilon se “kroos en nageslag” is vir ewig weg, soos Jesaja voorspel het.—Jesaja 14:22.
21. Waarom kon getroue profete die toekoms met onfeilbare akkuraatheid voorspel?
21 Die profeet Jesaja se voorspellings was nie ingeligte raaiskote nie. En hy het ook nie die geskiedenis oorgeskryf om dit na profesieë te laat lyk nie. Jesaja was ’n ware profeet. En so ook al die ander getroue Bybelprofete. Waarom kon hierdie manne doen wat geen ander mens kan doen nie—die toekoms met onfeilbare akkuraatheid voorspel? Die antwoord is duidelik. Die profesieë het hulle oorsprong by die God van profesieë gehad, naamlik Jehovah, “wat van die begin af verkondig die einde”.—Jesaja 46:10.
22. Waarom moet ons alles in ons vermoë doen om opregtes van hart aan te spoor om die Bybel self te ondersoek?
22 Is die Bybel dus ’n ondersoek werd? Ons weet dit is! Maar baie mense is nie daarvan oortuig nie. Hulle het menings oor die Bybel gevorm al het hulle dit dalk nog nooit gelees nie. Wat van die professor wat aan die begin van die vorige artikel gemeld is? Hy het tot ’n Bybelstudie ingestem, en nadat hy die Bybel sorgvuldig ondersoek het, het hy tot die slotsom gekom dat dit ’n boek is wat van God kom. Hy is later as een van Jehovah se Getuies gedoop, en vandag dien hy as ’n ouer man! Laat ons alles in ons vermoë doen om opregtes van hart aan te spoor om die Bybel self te ondersoek en dán ’n mening daaroor te vorm. Ons is vol vertroue dat hulle, ná ’n persoonlike ondersoek daarvan, sal besef dat hierdie unieke boek, die Bybel, inderdaad ’n boek vir alle mense is!
Kan jy verduidelik?
◻ Hoe kan jy die Mosaïese Wet gebruik om te toon dat die Bybel nie sy oorsprong by mense gehad het nie?
◻ Watter tydlose beginsels in die Bybel is prakties vir die hedendaagse lewe?
◻ Waarom kon die profesie in Jesaja 13:19, 20 nie ná die eintlike gebeurtenis opgeteken gewees het nie?
◻ Wat moet ons opregtes van hart aanmoedig om te doen, en waarom?
[Venster op bladsy 19]
Wat Van Die Onbewysbare?
Die Bybel bevat verskeie verklarings waarvoor daar geen onafhanklike fisiese getuienis is nie. Wat dit byvoorbeeld oor ’n onsigbare ryk sê wat deur geespersone bewoon word, kan nie wetenskaplik bewys—of weerlê—word nie. Beteken sulke onbewysbare verwysings noodwendig dat die Bybel en die wetenskap bots?
’n Planetêre geoloog wat die Bybel ’n paar jaar gelede saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het voor hierdie vraag te staan gekom. “Ek moet erken dat ek dit aan die begin moeilik gevind het om die Bybel te aanvaar omdat ek sommige verklarings in die Bybel nie wetenskaplik kon bewys nie”, sê hy. Hierdie opregte man het aangehou om die Bybel te bestudeer en het uiteindelik tot die oortuiging gekom dat die beskikbare getuienis toon dat dit God se Woord is. “Ek het toe nie meer so sterk daaroor gevoel dat elke feit in die Bybel deur onafhanklike getuienis gestaaf moes word nie”, verduidelik hy. “Iemand met ’n wetenskaplike agtergrond moet bereid wees om die Bybel uit ’n geestelike standpunt te ondersoek, anders sal hy nooit die waarheid aanneem nie. Ons kan nie verwag dat die wetenskap elke verklaring in die Bybel moet staaf nie. Maar net omdat sekere verklarings onbewysbaar is, beteken nie dat hulle vals is nie. Wat belangrik is, is dat die Bybel se akkuraatheid bevestig word waar dit ook al bewys kan word.”
[Prent op bladsy 17]
Moses het gesondheidsvoorskrifte opgeteken wat die tyd ver vooruit was