’n Boek van profesieë
Mense stel belang in die toekoms. Hulle soek na betroubare voorspellings in verband met talle onderwerpe, van die weervoorspelling tot ekonomiese aanwysers. Maar wanneer hulle volgens sulke voorspellings handel, word hulle dikwels teleurgestel. Die Bybel bevat baie voorspellings, of profesieë. Hoe akkuraat is hierdie profesieë? Is dit geskiedenis wat vooruit geskryf is? Of is dit geskiedenis wat hom as profesie voordoen?
DIE Romeinse staatsman Cato (234-149 v.G.J.) het na bewering gesê: “Dit verbaas my dat ’n waarsêer nie lag wanneer hy ’n ander waarsêer sien nie.”1 Om die waarheid te sê, is baie mense tot vandag toe skepties oor fortuinvertellers, sterrewiggelaars en ander waarsêers. Hulle voorspellings word dikwels in vae terme uitgedruk en kan op baie verskillende maniere vertolk word.
Maar wat van die Bybel se profesieë? Is daar rede vir skeptisisme? Of is daar ’n grondslag vir vertroue?
Nie net slim gissings nie
Kundige mense probeer dalk waarneembare tendense gebruik om akkurate voorspellings oor die toekoms te maak, maar hulle is nooit deurentyd reg nie. Die boek Future Shock sê: “Elke gemeenskap kom nie net voor ’n blote opeenvolging van waarskynlike toekomste te staan nie, maar voor ’n reeks moontlike toekomste en ’n konflik oor verkieslike toekomste.” Dit sê voorts: “Niemand kan natuurlik in die absolute sin ‘weet’ wat die toekoms inhou nie. Ons kan slegs ons veronderstellings orden en versterk en probeer bepaal wat die waarskynlikste afloop sal wees.”2
Maar die Bybelskrywers het nie bloot ‘die waarskynlikste afloop bepaal’ van “veronderstellings” oor die toekoms nie. Hulle voorspellings kan ook nie as vae stellings afgemaak word wat op baie verskillende maniere vertolk kan word nie. Inteendeel, baie van hulle profesieë is buitengewoon duidelik gestel en is besonder spesifiek, en dit voorspel dikwels presies die teenoorgestelde van wat verwag word. Neem byvoorbeeld wat die Bybel vooruit oor die eertydse stad Babilon gesê het.
‘Met die besem van verdelging weggevee’
Eertydse Babilon het “die sieraad van die koninkryke” geword (Jesaja 13:19). Hierdie uitgestrekte stad was strategies geleë op die handelsroete tussen die Persiese Golf en die Middellandse See en het as ’n handelsdepot vir handel op see en land tussen die Ooste en die Weste gedien.
Teen die sewende eeu v.G.J. was Babilon die oënskynlik onoorwinlike hoofstad van die Babiloniese Ryk. Die stad het weerskante van die Eufraatrivier gelê, en die rivier se water is gebruik om ’n wye, diep grag en ’n netwerk van kanale te vorm. Daarbenewens is die stad deur ’n enorme stelsel van dubbele mure beskerm wat deur talle verdedigingstorings versterk is. Dit is geen wonder nie dat die inwoners veilig gevoel het.
Maar in die agtste eeu v.G.J., voordat Babilon tot die hoogtepunt van sy roem gestyg het, het die profeet Jesaja voorspel dat Babilon ‘met die besem van verdelging weggevee’ sou word (Jesaja 13:19; 14:22, 23). Jesaja het ook beskryf presies hoe Babilon tot ’n val sou kom. Die invallers sou sy riviere—die bron van sy gragagtige verdediging—laat ‘opdroog’, wat die stad kwesbaar sou laat. Jesaja het selfs die naam van die veroweraar gemeld—“Kores”, ’n groot Persiese koning, “voor wie Hy deure oopmaak en poorte nie gesluit laat bly nie”.—Jesaja 44:27–45:2, NAV.
Dit was kragtige voorspellings. Maar is dit bewaarheid? Die geskiedenis antwoord.
“Sonder ’n geveg”
Twee eeue nadat Jesaja sy profesie opgeteken het, het die Medo-Persiese leër onder bevel van Kores die Grote, op die aand van 5 Oktober 539 v.G.J., naby Babilon laer opgeslaan. Maar die Babiloniërs was vol vertroue. Volgens die Griekse geskiedskrywer Herodotus (vyfde eeu v.G.J.) het hulle genoeg voorraad opgeberg gehad om hulle jare lank te hou.3 Hulle het ook die Eufraatrivier en Babilon se magtige mure gehad om hulle te beskerm. Maar daardie selfde nag, volgens die Nabonidus-kroniek, het “die leër van Kores Babilon sonder ’n geveg ingegaan”.4 Hoe was dit moontlik?
Herodotus verduidelik dat die mense in die stad “gedans en feesgevier het”.5 Buitekant het Kores egter die water van die Eufraat weggekeer. Terwyl die watervlak gedaal het, het sy leër deur die rivierbedding geloop, met water tot by hulle bobene. Hulle het verby die toringhoë mure gemarsjeer en ingegaan deur “die hekke wat op die rivier uitgaan”, soos Herodotus dit genoem het, hekke wat weens nalatigheid oopgelaat is.6 (Vergelyk Daniël 5:1-4; Jeremia 50:24; 51:31, 32.) Ander geskiedskrywers, onder andere Xenofon (c. 431–c. 352 v.G.J.), sowel as spykerskriftablette wat deur argeoloë gevind is, bevestig Babilon se skielike verowering deur Kores.7
Jesaja se profesie oor Babilon is dus vervul. Of is dit? Is dit moontlik dat dit nie ’n voorspelling was nie, maar in werklikheid ná die gebeurtenis geskryf is? Eintlik kan dieselfde omtrent ander Bybelprofesieë gevra word.
Geskiedenis wat hom as profesie voordoen
As die Bybelprofete—waaronder Jesaja—bloot die geskiedenis oorgeskryf het om dit na profesieë te laat lyk, dan was hierdie manne niks anders as slim bedrieërs nie. Maar wat sou die beweegrede vir sulke bedrog wees? Ware profete het graag bekend gemaak dat hulle nie omgekoop kon word nie (1 Samuel 12:3; Daniël 5:17). En ons het reeds na kragtige getuienis gekyk dat die Bybelskrywers (waarvan baie profete was) betroubare manne was wat gewillig was om selfs hulle eie foute, wat hulle verleentheid kon veroorsaak het, openbaar te maak. Dit is onwaarskynlik dat sulke manne ingewikkelde bedrieërye sou wou versin en die geskiedenis verkeerdelik as profesieë sou voorstel.
Daar is iets anders om in gedagte te hou. Baie Bybelprofesieë bevat skerp veroordelings van die profete se eie volk, wat die priesters en heersers ingesluit het. Jesaja het hom byvoorbeeld sterk uitgespreek oor die betreurenswaardige sedelike toestand van die Israeliete in sy dag—die leiers sowel as die volk (Jesaja 1:2-10). Ander profete het die sondes van die priesters op kragtige wyse aan die kaak gestel (Sefanja 3:4; Maleagi 2:1-9). Dit is moeilik om jou voor te stel waarom hulle profesieë sou versin wat die skerpste afkeuring denkbaar teen hulle eie volk bevat het en waarom die priesters met so ’n set sou saamwerk.
Buitendien, hoe kon die profete—as hulle niks anders as bedrieërs was nie—so ’n bedrogspul laat slaag? Geletterdheid is in Israel aangemoedig. Kinders is van kleins af leer lees en skryf (Deuteronomium 6:6-9). Private Skriflesing is aangemoedig (Psalm 1:2). Daar was op die weeklikse Sabbat ’n openbare voorlesing van die Skrif in die sinagoges (Handelinge 15:21). Dit is onwaarskynlik dat ’n hele geletterde nasie, wat goed vertroud was met die Skrif, deur so ’n kullery bedrieg sou kon word.
Bowendien sit daar meer agter Jesaja se profesie as Babilon se val. Dit sluit ’n besonderheid in wat eenvoudig net nie ná die vervulling daarvan geskryf kon geword het nie.
“Mense sal daar in ewigheid nie woon nie”
Wat sou ná Babilon se val daarvan word? Jesaja het voorspel: “Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie” (Jesaja 13:20). Dit het om die minste te sê dalk vreemd gelyk om te voorspel dat ’n stad wat so gunstig geleë is permanent onbewoon gelaat sou word. Is dit moontlik dat Jesaja se woorde geskryf is nadat hy ’n verlate Babilon gesien het?
Ná Kores se oorname is Babilon nog eeue lank bewoon—hoewel die stad baie minder indrukwekkend was. Hou in gedagte dat die Dooie See-rolle ’n afskrif van die hele boek Jesaja ingesluit het wat uit die tweede eeu v.G.J. dateer. Omstreeks die tyd dat daardie rol oorgeskryf is, het die Parters beheer oor Babilon oorgeneem. In die eerste eeu G.J. was daar ’n Joodse nedersetting in Babilon, en die Bybelskrywer Petrus het daar besoek afgelê (1 Petrus 5:13). Teen dié tyd het die Dooie See-rol van Jesaja al byna twee eeue bestaan. Babilon was dus in die eerste eeu G.J. nog nie ten volle verlate nie, en tog is Jesaja se boek lank tevore voltooi.a
Soos voorspel is, het Babilon uiteindelik blote “kliphope” geword (Jeremia 51:37). Volgens die Hebraïkus Hieronimus (vierde eeu G.J.) was Babilon teen sy tyd ’n jagveld waarin “allerhande diere” rondgedwaal het.9 Babilon is tot vandag toe nog verlate.
Jesaja het nie meer gelewe toe Babilon onbewoon geword het nie. Maar die ruïnes van daardie eens magtige stad, ongeveer 80 kilometer suid van Bagdad, in hedendaagse Irak, dien as stille getuie van die vervulling van sy woorde: “Mense sal daar in ewigheid nie woon nie.” Enige pogings om Babilon as ’n toeriste-aantreklikheid te herstel, sal dalk besoekers lok, maar Babilon se “kroos en nageslag” is vir ewig nie meer daar nie.—Jesaja 13:20; 14:22, 23.
Die profeet Jesaja het dus nie vae voorspellings geuiter wat op sommer enige toekomstige gebeurtenis toegepas kon word nie. En hy het ook nie die geskiedenis oorgeskryf om dit na profesieë te laat lyk nie. Dink hieroor na: Waarom sou ’n bedrieër dit waag om te “profeteer” oor iets waaroor hy absoluut geen beheer sou hê nie—dat die magtige Babilon nooit weer bewoon sou word nie?
Hierdie profesie oor Babilon se ondergang is maar net een voorbeeld uit die Bybel.b Baie mense beskou die vervulling van die profesieë daarin as ’n aanduiding dat die Bybel van ’n hoër bron as die mens moet kom. Miskien sal jy saamstem dat hierdie boek van profesie verdien om ten minste ondersoek te word. Een ding staan vas: Daar is ’n baie groot verskil tussen die vae of sensasionele voorspellings van hedendaagse waarsêers en die duidelike, eenvoudige en spesifieke profesieë van die Bybel.
[Voetnote]
a Daar is gegronde bewyse dat die boeke van die Hebreeuse Geskrifte—met inbegrip van Jesaja—lank voor die eerste eeu G.J. geskryf is. Die geskiedskrywer Josefus (eerste eeu G.J.) het daarop gewys dat die boeke van die Hebreeuse Geskrifte lank voor sy dag bestaan het.8 Daarbenewens is die Griekse Septuagint, ’n vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks, in die derde eeu v.G.J. begin vertaal en teen die tweede eeu v.G.J. voltooi.
b Sien asseblief die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., bladsye 117-33, vir ’n verdere bespreking van Bybelprofesieë en die geskiedkundige feite wat die vervulling daarvan bewys het.
[Lokteks op bladsy 28]
Was die Bybelskrywers nougesette profete of slim bedrieërs?
[Prent op bladsy 29]
Die ruïnes van eertydse Babilon