Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ct hfst. 5 bl. 73-84
  • Die handewerk—Wat sit daaragter?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die handewerk—Wat sit daaragter?
  • Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Geskil oor ’n persoonlike God
  • Leer uit sy handewerk
  • Onpartydig en regverdig
  • Hoe om die Skepper te leer ken
  • Kringlope wat lewe onderhou
    Ontwaak!—2009
  • Die lewende planeet
    Is lewe geskep?
  • Jou Skepper—Leer watter soort persoon hy is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Die Skepper kan jou lewe sinvoller maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
ct hfst. 5 bl. 73-84

Hoofstuk Vyf

Die handewerk—Wat sit daaragter?

SOOS in vorige hoofstukke gemeld is, lewer hedendaagse wetenskaplike ontdekkings ’n oorvloed oortuigende bewyse dat die heelal sowel as lewe op die aarde ’n begin gehad het. Waardeur is hulle begin teweeggebring?

Baie het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ’n Eerste Oorsaak moet wees nadat hulle die beskikbare getuienis bestudeer het. Nietemin skram hulle moontlik daarvan weg om ’n persoonlikheid aan hierdie Oorsaak te heg. Sulke teësinnigheid om van ’n Skepper te praat, weerspieël die gesindheid van party wetenskaplikes.

Albert Einstein was byvoorbeeld daarvan oortuig dat die heelal ’n begin gehad het, en hy het sy begeerte uitgespreek “om te weet hoe God die wêreld geskep het”. Tog het Einstein nie geloof in ’n persoonlike God bely nie; hy het gepraat van ’n kosmiese “godsdienssin wat geen dogma en geen God ken wat na die mens se beeld voorgestel word nie”. Nobelpryswenner en chemikus Kenitsji Foekoei het eweneens geloof in ’n groot raamwerk in die heelal bely. Hy het gesê dat “hierdie groot skakel en raamwerk met woorde soos ‘Absoluut’ of ‘God’ uitgedruk kan word”. Maar hy het dit ’n “eienaardigheid van die natuur” genoem.

Is jy daarvan bewus dat sulke geloof in ’n onpersoonlike oorsaak met baie van die Oosterse godsdiensdenke ooreenkom? Baie Oosterlinge glo dat die natuur vanself ontstaan het. Hierdie idee word selfs weergegee in die Chinese karakters vir die natuur, wat letterlik “word vanself” of “selfbestaan” beteken. Einstein het geglo dat sy kosmiese godsdienssin goed uitgedruk word in Boeddhisme. Boeddha het geglo dat dit nie belangrik is of ’n Skepper ’n hand daarin gehad het om die heelal en die mens voort te bring nie. Sjintoïsme bied eweneens geen verklaring vir hoe die natuur ontstaan het nie, en Sjintoïste glo dat die gode geeste van die dooies is wat moontlik deel van die natuur word.

Dit is interessant dat sulke denke grootliks met gewilde opvattings in eertydse Griekeland ooreenkom. Die filosoof Epikurus (341-270 v.G.J.) het na bewering geglo dat ‘gode te ver weg is om jou enigsins te benadeel of te help’. Hy het beweer dat die mens ’n produk van die natuur is, waarskynlik deur selfontstaan en natuurlike teeltkeuse. Dit laat jou moontlik besef dat soortgelyke idees vandag niks nuuts is nie.

Gedurende die tyd van die Epikureërs was daar ook die Griekse Stoïsyne, wat die natuur in die plek van God gestel het. Hulle het geglo dat onpersoonlike energie wat van mense uitgaan wanneer hulle sterf weer opgeneem word in die see van energie waaruit God bestaan. Hulle het gemeen dat samewerking met natuurwette die allerbeste daad is. Het jy al in ons tyd soortgelyke beskouings gehoor?

’n Geskil oor ’n persoonlike God

Ons moet nietemin nie alle inligting uit eertydse Griekeland as sonderlinge geskiedenis afmaak nie. Teen die agtergrond van sulke opvattings het ’n bekende onderrigter in die eerste eeu een van die geskiedenis se betekenisvolste toesprake gehou. Die geneesheer en geskiedskrywer Lukas het hierdie toespraak opgeteken, en ons vind dit in hoofstuk 17 van die boek Die Handelinge van die Apostels. Dit kan ons help om ’n besliste mening oor die Eerste Oorsaak te vorm en te sien waar ons inpas. Maar hoe kan ’n toespraak wat 1 900 jaar gelede gehou is vandag lewens raak wanneer opregte mense na sin in die lewe soek?

Daardie beroemde onderrigter, Paulus, is na ’n hoër hof in Atene genooi. Daar het hy voor Epikureërs en Stoïsyne te staan gekom, wat nie aan ’n persoonlike God geglo het nie. In sy inleidingskommentare het Paulus gemeld dat hy ’n altaar met die inskripsie “Aan ’n Onbekende God” (Grieks, A·gnoʹstoi The·oiʹ) in hulle stad gesien het. Interessant genoeg, party dink dat bioloog Thomas H. Huxley (1825-95) hierop gesinspeel het toe hy die woord “agnostikus” gesmee het. Huxley het die woord toegepas op diegene wat beweer dat “die grondoorsaak (God) en die wesenlike aard van dinge onbekend of onkenbaar is”. Maar is die Skepper werklik “onkenbaar”, soos talle al beweer het?

Dit is in der waarheid ’n verkeerde toepassing van wat Paulus gesê het; die kern van Paulus se woorde word misgekyk. Paulus het nie gesê dat die Skepper onkenbaar is nie, maar bloot dat Hy vir daardie Ateners onbekend was. Paulus het nie soveel wetenskaplike bewyse vir die bestaan van ’n Skepper gehad soos ons vandag het nie. Maar daar het geen twyfel by Paulus bestaan dat daar ’n persoonlike, intelligente Ontwerper is wie se eienskappe ons tot hom aangetrokke moet laat voel nie. Let op wat Paulus voorts gesê het:

“Waaraan julle dus onwetend godvrugtige toegewydheid betoon, dít verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, die Een wat Here van hemel en aarde is, woon nie in handgemaakte tempels nie, en ook word hy nie deur mensehande bedien asof hy enigiets nodig het nie, omdat hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En hy het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon” (Handelinge 17:23-26). ’n Interessante redenasie, nie waar nie?

Ja, Paulus het nie te kenne gegee dat God onkenbaar is nie, maar het eerder beklemtoon dat diegene wat die Ateense altaar gemaak het, sowel as baie van sy toehoorders, Hom nog nie geken het nie. Toe het Paulus hulle—en almal wat sedertdien sy toespraak gelees het—aangespoor om die Skepper te soek en hom te leer ken, want ‘hy is nie ver van elkeen van ons af nie’ (Handelinge 17:27). Jy kan sien dat Paulus op taktvolle wyse die feit ingebring het dat ons bewys van ’n Skepper van alle dinge kan sien deur sy skepping waar te neem. As ons dit doen, kan ons ook party van sy eienskappe onderskei.

Ons het verskillende bewysgronde ondersoek wat op ’n Skepper dui. Een is die ontsaglike, intelligent georganiseerde heelal, wat onteenseglik ’n begin gehad het. Nog een is lewe op die aarde, met inbegrip van die ontwerp waarvan ons liggaamselle getuig. En ’n derde is ons brein, met ons gepaardgaande selfbewustheid en belangstelling in die toekoms. Maar kom ons kyk eers na nog twee voorbeelde van die Skepper se handewerk wat ons elke dag raak. Vra jou af terwyl jy dit doen: ‘Wat vertel dit my omtrent die persoonlikheid van die Een wat dit ontwerp en voorsien het?’

Leer uit sy handewerk

Die blote waarneming van sy skepping vertel baie omtrent die Skepper. Paulus het by ’n ander geleentheid ’n voorbeeld hiervan gemeld toe hy vir ’n skare in Klein-Asië gesê het: “In die vergange geslagte het [die Skepper] al die nasies toegelaat om in hulle weë voort te gaan, hoewel hy homself inderdaad nie sonder getuienis gelaat het nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul” (Handelinge 14:16, 17). Let op die voorbeeld wat Paulus gegee het van hoe die Skepper getuienis van Sy persoonlikheid lewer deur die mensdom van voedsel te voorsien.

In party lande neem mense moontlik vandag die beskikbaarheid van voedsel as vanselfsprekend aan. Elders sukkel talle om genoeg te kry om te eet. In albei gevalle is dit die wysheid en goedheid van ons Skepper wat dit selfs moontlik maak dat daar enigsins versterkende voedsel is.

Die mens sowel as die diere het hulle voedsel te danke aan ingewikkelde kringlope—onder meer die water-, koolstof-, fosfor- en stikstofkringloop. Dit is algemeen bekend dat plante tydens die noodsaaklike fotosinteseproses met behulp van sonlig as die energiebron koolstofdioksied en water as grondstowwe gebruik om suikers te vorm. Terloops, gedurende fotosintese stel plante suurstof vry. Kan dit ’n “afvalproduk” genoem word? Vir ons is hierdie neweproduk beslis nie ’n afvalproduk nie. Dit is absoluut noodsaaklik dat ons suurstof inasem en dit gebruik om voedsel in ons liggaam te verwerk. Ons asem die koolstofdioksied uit wat as gevolg hiervan vorm, en dit word deur plante as ’n grondstof vir fotosintese herbenut. Ons het hierdie proses dalk in ’n basiese wetenskapklas bestudeer, maar dit maak dit nie minder noodsaaklik en wonderlik nie. En dit is maar die begin.

In ons liggaamselle en in dié van diere is fosfor noodsaaklik vir die oordrag van energie. Waar kry ons ons fosfor vandaan? Weer eens van plante. Hulle neem anorganiese fosfate uit die grond op en sit dit in organiese fosfate om. Ons eet plante wat fosfor in hierdie vorme bevat en gebruik dit vir lewensbelangrike bedrywighede. Daarna keer die fosfor terug na die grond in die vorm van ontlasting, wat weer deur plante opgeneem kan word.

Ons het ook stikstof nodig, wat deel uitmaak van elke proteïen- en DNS-molekule in ons liggaam. Hoe verkry ons hierdie element wat so noodsaaklik is vir lewe? Hoewel omtrent 78 persent van die lug om ons stikstof is, kan nie plante of diere dit regstreeks opneem nie. Stikstof in die lug moet dus in ander vorme omgesit word voor dit deur plante opgeneem en later deur mense en diere benut kan word. Hoe vind hierdie omsetting, of binding, plaas? Op verskillende maniere. Een manier is deur middel van weerlig.a Stikstofbinding word ook teweeggebring deur bakterieë wat in die wortelknoppies van peulplante soos ertjies, sojabone en lusern lewe. Hierdie bakterieë sit lugstikstof in stowwe om wat deur plante gebruik kan word. Wanneer jy blaargroente eet, neem jy dus stikstof in, wat jou liggaam nodig het om proteïene te vervaardig. Verbasend genoeg, ons tref peulplantsoorte in tropiese reënwoude, woestyne en selfs toendras aan. En wanneer ’n gebied deur ’n brand verwoes word, is peulplante gewoonlik die eerste plante wat weer in groot hoeveelhede daar voorkom.

Watter wonderlike hersirkuleringskringlope is dit tog nie! Elkeen benut afvalprodukte van die ander kringlope. Die nodige energie kom hoofsaaklik van ons son—’n skoon, onuitputlike en bestendige bron. Wat ’n teenstelling vorm dit tog nie met mensepogings om hulpbronne te herwin nie! Selfs mensgemaakte produkte wat omgewingsvriendelik genoem word, dra moontlik weens die ingewikkeldheid van menslike herwinningstelsels nie tot ’n skoner planeet by nie. In hierdie verband het U.S.News & World Report gesê dat produkte ontwerp moet word sodat hulle waardevolle dele maklik deur hersirkulering herwin kan word. Is dit nie wat ons in hierdie natuurlike kringlope sien nie? Wat openbaar dit dan omtrent die Skepper se voorsorg en wysheid?

Onpartydig en regverdig

Kom ons beskou nog een stelsel—die immuunstelsel in ons liggaam—wat ons sal help om nog van die Skepper se eienskappe te sien. Bakterieë is ook hierby betrokke.

“Hoewel die mens se belangstelling in bakterieë dikwels op hulle skadelike uitwerking gerig is”, sê The New Encyclopædia Britannica, “is die meeste bakterieë onskadelik vir die mens, en baie van hulle is in werklikheid voordelig.” Trouens, hulle is lewensbelangrik. Bakterieë speel ’n noodsaaklike rol in die stikstofkringloop wat pas gemeld is, asook in kringlope waarby koolstofdioksied en sommige elemente betrokke is. En ons het ook bakterieë in ons spysverteringskanaal nodig. Ons het ongeveer 400 soorte in ons laer dermkanaal alleen, en hulle help om vitamien K te sintetiseer en afval te verwerk. Bakterieë strek ons verder tot voordeel deurdat hulle koeie help om gras in melk om te sit. Ander bakterieë is noodsaaklik vir gisting—wanneer ons kaas, jogurt, agurkies, suurkool en kimtsji maak. Maar gestel bakterieë beland êrens in ons liggaam waar hulle nie hoort nie. Wat dan?

Dan veg tot tweebiljoen wit bloedselle in ons liggaam teen die bakterieë wat ons kan benadeel. Daniel E. Koshland jr., redakteur van die tydskrif Science, verduidelik: “Die immuunstelsel is bedoel om vreemde invallers te herken. Om dit te doen, verwek dit ongeveer 1011 [100 000 000 000] verskillende soorte immunologiese reseptors sodat daar, ongeag watter soort vreemde invaller dit is, ’n aanvullende reseptor sal wees om dit te herken en uit te wis.”

Een soort sel wat ons liggaam gebruik om invallers te beveg, is die makrofaag; sy naam beteken “groot vreter”, wat gepas is, want dit verteer vreemde stowwe in ons bloed. Nadat die makrofaag byvoorbeeld ’n invallende virus geëet het, breek dit die virus in klein stukkies op. Dit vertoon dan van die virus se proteïen. Hierdie proteïenmerkertjie dien as ’n rooi vlag vir ons immuunstelsel en waarsku dat vreemde organismes in ons werksaam is. As ’n ander sel in die immuunstelsel, die helper-T-sel, die virusproteïen herken, ruil dit chemiese seine met die makrofaag uit. Hierdie chemikalieë is self buitengewone proteïene wat ’n verstommende verskeidenheid funksies het en ons immuunstelsel se reaksie op ’n inval beheer en versterk. Hierdie proses lei tot ’n kragtige geveg teen die spesifieke soort virus. Daarom kan ons gewoonlik infeksies te bowe kom.

Daar is eintlik baie meer by betrokke, maar selfs hierdie kort beskrywing toon hoe ingewikkeld ons immuunstelsel is. Hoe het ons hierdie ingewikkelde meganisme gekry? Ons het dit gratis ontvang, ongeag ons gesin se finansiële posisie of sosiale stand. Vergelyk dit met die onregverdigheid wanneer dit kom by die gesondheidsorg wat vir die meeste mense beskikbaar is. “Vir die WGO [Wêreldgesondheidsorganisasie] is die toenemende onregverdigheid letterlik ’n saak van lewe en dood, aangesien die armes met hulle gesondheid vir die maatskaplike ongelykheid betaal”, het die direkteur-generaal van die WGO, dr. Hirosji Nakajima, geskryf. Jy kan verstaan waarom ’n krotbewoner van Sao Paulo gekla het: “Vir ons is goeie gesondheidsorg soos ’n artikel in ’n vensteruitstalling in ’n luukse winkelsentrum. Ons kan daarna kyk, maar dit is buite ons bereik.” Miljoene mense regoor die aarde voel dieselfde.

Sulke onregverdighede het Albert Schweitzer beweeg om Afrika toe te kom om mediese sorg aan die minderbevoorregtes te voorsien, en sy pogings het hom ’n Nobelprys besorg. Watter eienskappe assosieer jy met manne en vroue wat soortgelyke goeie dade verrig het? Jy besef waarskynlik dat hulle lief is vir mense en dat hulle ’n regverdigheidsin het en glo dat mense in ontwikkelende lande ook geregtig is op mediese sorg. Wat dan van die Voorsiener van die wonderlike immuunstelsel wat in ons ingebou is ongeag ons finansiële posisie en sosiale stand? Is dit nie ’n duideliker blyk van die Skepper se sin vir liefde, onpartydigheid en regverdigheid nie?

Hoe om die Skepper te leer ken

Die voorgemelde stelsels is net basiese voorbeelde van die Skepper se handewerk, maar toon dit nie dat hy ’n werklike en intelligente persoon is wie se eienskappe en weë ons tot hom aangetrokke laat voel nie? Ons kan nog talle voorbeelde beskou. Maar ons het waarskynlik in die daaglikse lewe gevind dat ons iemand nie werklik goed kan leer ken deur bloot sy werke waar te neem nie. Dit sou selfs moontlik wees om hom verkeerd te verstaan as ons hom nie goed leer ken het nie! En as ander hom verkeerd voorgestel of beswadder het, sou dit goed wees om hom te ontmoet en sy kant te hoor, nie waar nie? Ons kan met hom omgaan om uit te vind hoe hy onder verskillende omstandighede reageer en watter eienskappe hy openbaar.

Ons kan natuurlik nie van aangesig tot aangesig met die magtige Skepper van die heelal praat nie. Maar hy het baie oor homself as ’n werklike persoon geopenbaar in ’n boek wat, in sy geheel of gedeeltelik, in meer as 2 000 tale, joune inkluis, beskikbaar is. Daardie boek—die Bybel—nooi jou om die Skepper te leer ken en ’n verhouding met hom op te bou: “Kom nader aan God”, sê dit, “en hy sal nader aan julle kom.” Dit toon ook hoe ’n mens sy vriend kan word (Jakobus 2:23; 4:8). Stel jy daarin belang om dit te doen?

Met dié doel nooi ons jou om die Skepper se feitelike en boeiende verslag van sy skeppingswerke te ondersoek.

[Voetnoot]

a Weerlig sit van die stikstof in ’n opneembare vorm om, wat saam met die reën op die aarde val. Plante gebruik dit as ’n natuurlike bemestingstof. Nadat mense en diere plante geëet en hierdie stikstof gebruik het, keer dit as ammoniumverbindings na die grond terug en word ’n sekere hoeveelheid daarvan uiteindelik weer in stikstofgas omgesit.

[Venster op bladsy 79]

’n Redelike gevolgtrekking

Wetenskaplikes stem oor die algemeen saam dat die heelal ’n begin gehad het. Die meeste is dit ook eens dat iets wesenliks voor daardie begin moes bestaan het. Party wetenskaplikes praat van altydbestaande energie. Ander neem aan dat die voorafbestaande toestand oorspronklik chaos was. Watter terme ook al gebruik word, die meeste vooronderstel die bestaan van iets—iets sonder ’n begin—wat tot die oneindige verlede teruggaan.

Die kwessie kom dus daarop neer of ons iets wat ewig is of iemand wat ewig is, vooronderstel. Watter van hierdie alternatiewe lyk vir jou die redelikste nadat jy gekyk het wat die wetenskap van die oorsprong en aard van die heelal en lewe daarin geleer het?

[Venster op bladsy 80]

“Elk van die elemente wat noodsaaklik is vir lewe—koolstof, stikstof, fosfor—word deur bakterieë omgesit van ’n anorganiese gasverbinding in ’n vorm wat deur plante en diere gebruik kan word.”—The New Encyclopædia Britannica.

[Diagram/Prent op bladsy 78]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Wat is jou gevolgtrekking?

Ons heelal

↓ ↓

Het geen begin Het ’n begin

gehad nie gehad

↓ ↓

Het vanself Is geskep

ontstaan

↓ ↓

Deur IETS wat Deur IEMAND

ewig is wat ewig is

[Prent op bladsy 75]

Baie Oosterlinge glo dat die natuur vanself ontstaan het

[Prent op bladsy 76]

Paulus het ’n gedagteprikkelende toespraak oor God gehou terwyl hy op hierdie heuwel gestaan het, met die Akropolis in die agtergrond

[Prent op bladsy 83]

God het aan elkeen van ons ’n immuunstelsel gegee wat enigiets oortref wat die moderne geneeskunde kan voorsien

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel