Hoofstuk Ses
’n Ou skeppingsverslag—Kan jy dit vertrou?
“WIE kan sê waar dit alles vandaan kom en hoe die skepping plaasgevind het?” Jy vind daardie vraag in die gedig “Die lied van die skepping”. Dit is meer as 3 000 jaar gelede in Sanskrit geskryf en maak deel uit van die Rig-Veda, ’n heilige boek van die Hindoes. Die digter het getwyfel of selfs die talle Hindoegode kon weet “hoe die skepping plaasgevind het”, omdat “die gode self ná die skepping in aansyn gekom het”.—Ons kursiveer.
Geskrifte uit Babilon en Egipte bevat soortgelyke mites oor die geboorte van hulle gode in ’n heelal wat reeds bestaan het. ’n Belangrike punt is egter dat daardie mites nie kon sê waar die oorspronklike heelal vandaan gekom het nie. Maar jy sal vind dat een skeppingsverslag anders is. Dié spesifieke verslag, die Bybel, begin met die woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”—Genesis 1:1.
Moses het hierdie eenvoudige, dramatiese verklaring sowat 3 500 jaar gelede neergeskryf. Dit vestig die aandag op ’n Skepper, God, wat bo die stoflike heelal verhewe is omdat hy dit gemaak het en derhalwe voor die heelal bestaan het. Dieselfde boek leer: “God is ’n Gees”, wat beteken dat hy in ’n gedaante bestaan wat ons oë nie kan sien nie (Johannes 4:24). So ’n bestaan is vandag moontlik makliker om te begryp, aangesien wetenskaplikes kragtige neutronsterre en gravitasiekolke in die ruimte beskryf het—onsigbare voorwerpe wat waargeneem kan word weens die uitwerking wat hulle het.
Dit is noemenswaardig dat die Bybel sê: “Daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse liggame is een soort, en dié van die aardse liggame is ’n ander soort” (1 Korintiërs 15:40, 44). Dit verwys nie na die onsigbare kosmiese materie wat sterrekundiges bestudeer nie. Die “hemelse liggame” wat gemeld word, is intelligente geesliggame. ‘Wie benewens die Skepper’, wonder jy dalk, ‘het ’n geesliggaam?’
Onsigbare hemelse skepsele
Volgens die Bybelverslag is die sigbare ryk nie eerste geskep nie. Hierdie ou skeppingsverslag sê dat die eerste stap met betrekking tot die skepping die voortbrenging van ’n ander geespersoon, die eersgebore Seun, was. Hy was “die eersgeborene van die hele skepping”, of “die begin van die skepping deur God” (Kolossense 1:15; Openbaring 3:14). Hierdie eerste skepsel was uniek.
Hy was die enigste skepping wat regstreeks deur God voortgebring is, en hy is met groot wysheid begaaf. Trouens, ’n latere skrywer, ’n koning wat bekend was vir sý wysheid, het hierdie Seun as “’n meesterwerker” beskryf, wat in al die daaropvolgende skeppingswerke gebruik is. (Spreuke 8:22, 30, NW; sien ookHebreërs 1:1, 2.) Die eerste-eeuse onderrigter met die naam Paulus het van hom geskryf: “Deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep, die sigbare dinge en die onsigbare dinge.”—Kolossense 1:16; vergelykJohannes 1:1-3.
Wat is die onsigbare dinge in die hemele wat die Skepper deur middel van hierdie Seun in aansyn gebring het? Hoewel sterrekundiges van miljarde sterre en onsigbare gravitasiekolke praat, verwys die Bybel hier na honderdmiljoene geesskepsele—met geesliggame. ‘Waarom’, vra party miskien, ‘is sulke onsigbare, intelligente wesens geskep?’
Net soos ’n studie van die heelal party vrae oor die Oorsaak daarvan kan beantwoord, kan ’n studie van die Bybel ons van belangrike inligting oor sy Outeur voorsien. Die Bybel vertel ons byvoorbeeld dat hy “die gelukkige God” is, wie se voornemens en dade liefde weerspieël (1 Timoteus 1:11; 1 Johannes 4:8). Ons kan dan logieserwys tot die slotsom kom dat God verkies het om die omgang van ander intelligente geespersone te hê wat ook lewe kon geniet. Elkeen sou bevredigende werk hê wat hulle onderling tot voordeel sou strek en die Skepper se voorneme sou bevorder.
Daar is niks wat daarop dui dat hierdie geesskepsele God soos robotte sou gehoorsaam nie. Inteendeel, hy het hulle intelligensie en wilsvryheid gegee. Bybelse verslae toon dat God vryheid van denke en vryheid van optrede aanmoedig—vol vertroue dat dit geen blywende gevaar vir die vrede en harmonie in die heelal inhou nie. Paulus het die persoonlike naam van die Skepper gebruik, soos dit in die Hebreeuse Bybel verskyn, en geskryf: “Jehovah is die Gees; en waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.”—2 Korintiërs 3:17.
Sigbare dinge in die hemele
Wat is die sigbare dinge wat God deur sy eersgebore Seun geskep het? Dit sluit ons son en al die ander biljoene sterre en stowwe in waaruit die heelal bestaan. Gee die Bybel ons enigsins ’n idee van hoe God al hierdie dinge uit niks voortgebring het? Kom ons kyk, deur die Bybel in die lig van die moderne wetenskap te ondersoek.
In die 18de eeu het die wetenskaplike Antoine-Laurent Lavoisier die gewig van materie bestudeer. Hy het opgemerk dat die gewig van die produk ná ’n chemiese reaksie gelyk is aan die totale gewig van die oorspronklike bestanddele. Wanneer papier byvoorbeeld in suurstof verbrand word, weeg die gevolglike as en gasse net soveel as die oorspronklike papier en suurstof. Lavoisier het ’n wet voorgestel—‘die behoud van massa, of materie’. In 1910 het The Encyclopædia Britannica verduidelik: “Materie kan nie geskep of vernietig word nie.” Dit het redelik geklink; altans, dit het destyds.
Maar die ontploffing van ’n atoombom oor die Japannese stad Hirosjima in 1945 het ’n fout in Lavoisier se wet openbaar gemaak. Gedurende so ’n ontploffing van ’n oorkritieke massa uraan word verskillende soorte materie gevorm, maar hulle totale massa is minder as dié van die oorspronklike uraan. Waarom die verlies? Dit is omdat ’n gedeelte van die uraan se massa in ’n ontsagwekkende energieflits omgesit word.
Nog ’n probleem met Lavoisier se wet op die behoud van materie het in 1952 met die ontploffing van ’n termokerntoestel (waterstofbom) ontstaan. In daardie ontploffing het waterstofatome verenig om helium te vorm. Maar die massa van die gevolglike helium was minder as dié van die oorspronklike waterstof. ’n Gedeelte van die massa van die waterstof is omgesit in ontplofbare energie, ’n ontploffing wat baie meer verwoestend was as die bom wat op Hirosjima gewerp is.
Soos hierdie ontploffings bewys het, verteenwoordig ’n klein hoeveelheid materie ’n ontsaglike hoeveelheid energie. Hierdie verband tussen materie en energie verklaar die krag van die son, wat ons fris en gesond hou. Wat is die verband? Wel, sowat 40 jaar vroeër, in 1905, het Einstein ’n verband tussen materie en energie voorspel. Baie ken sy vergelyking E=mc2.a Nadat Einstein hierdie verband geformuleer het, kon ander wetenskaplikes verduidelik hoe die son biljoene jare lank bly skyn het. Daar is voortdurend termokernreaksies in die son. Sodoende sit die son elke sekonde ongeveer 564 miljoen ton waterstof in 560 miljoen ton helium om. Dit beteken dat omtrent 4 miljoen ton materie in sonenergie omgesit word, waarvan ’n fraksie die aarde bereik en lewe onderhou.
Dit is noemenswaardig dat die omgekeerde proses ook moontlik is. “Energie verander in materie wanneer subatomiese deeltjies teen ’n hoë snelheid met mekaar bots en nuwe, swaarder deeltjies skep”, verduidelik The World Book Encyclopedia. Wetenskaplikes doen dit op ’n beperkte skaal deur groot masjiene te gebruik wat deeltjieversnellers genoem word, waarin subatomiese deeltjies teen ’n ontsaglike snelheid met mekaar bots en materie skep. “Ons doen een van die wonderwerke van die heelal na—om energie in materie om te sit”, verduidelik Nobelpryswenner en fisikus dr. Carlo Rubbia.
‘Goed’, sê jy dalk, ‘maar wat het dit te doen met die skeppingsverslag wat ek in die Bybel kan lees?’ Wel, die Bybel is nie ’n wetenskaplike handboek as sodanig nie, maar dit is op die hoogte van die tyd en in ooreenstemming met wetenskaplike feite. Van die begin tot die einde wys die Bybel op die Een wat al die materie in die heelal geskep het, die Wetenskaplike (Nehemia 9:6; Handelinge 4:24; Openbaring 4:11). En dit toon duidelik wat die verband tussen energie en materie is.
Die Bybel nooi lesers byvoorbeeld om die volgende te doen: “Slaan julle oë op in die hoogte en sien. Wie het hierdie dinge geskep? Dit is die Een wat hulle leër selfs volgens getal uitlei, wat hy almal selfs by die naam roep. Vanweë die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk is in krag, ontbreek nie een van hulle nie” (Jesaja 40:26, NW). Ja, die Bybel sê dat ’n bron van geweldige dinamiese energie—die Skepper—die stoflike heelal in aansyn laat kom het. Dit strook volkome met die moderne tegnologie. Om hierdie rede alleen verdien die Bybelse skeppingsverslag ons diep respek.
Nadat die Skepper en sy eersgebore Seun onsigbare sowel as sigbare dinge in die hemele geskep het, het hulle hulle aandag op die aarde gerig. Waar het dit vandaan gekom? Die verskeidenheid chemiese elemente waaruit ons planeet bestaan, kon regstreeks voortgebring gewees het deurdat God onbeperkte dinamiese energie in materie omgesit het, wat fisici vandag sê uitvoerbaar is. Of die aarde kon, soos baie wetenskaplikes glo, gevorm gewees het uit materie wat deur die ontploffing van ’n supernova uitgeskiet is. Maar wie kan sê of daar nie dalk ’n kombinasie van metodes was nie, dié wat so pas gemeld is en ander wat wetenskaplikes nog nie uitgepluis het nie? Wat die proses ook al was, die Skepper is die dinamiese Bron van die elemente waaruit ons aarde bestaan, met inbegrip van al die minerale wat noodsaaklik is vir ons om aan die lewe te bly.
Jy kan sien dat die grondlegging van die aarde baie meer behels het as die voorsiening van al die stowwe in die regte verhoudings. Die aarde se grootte, sy aswenteling en sy afstand van die son, sowel as die helling van sy as en sy feitlik sirkelvormige wentelbaan om die son, moes ook net reg wees—presies soos hulle is. Dit is duidelik dat die Skepper natuurkringlope in werking gestel het wat ons planeet geskik maak om volop lewe te onderhou. Ons het alle rede om ons oor al hierdie dinge te verwonder. Maar stel jou die reaksie voor van hemelse geesseuns terwyl hulle die skepping van die aarde en lewe daarop aanskou het! Een Bybelboek sê dat hulle “saam ’n vreugdegeroep aangehef” en “jubelend begin uitroep het”.—Job 38:4, 7, NW.
Duidelikheid oor Genesis hoofstuk 1
Die eerste hoofstuk van die Bybel verstrek sekere besonderhede van party uiters belangrike stappe wat God gedoen het om die aarde vir die mens se genot voor te berei. Die hoofstuk verstrek nie elke besonderheid nie; wanneer ons dit lees, moet ons nie dat dit ons ontmoedig as besonderhede uitgelaat word wat lesers in die ou tyd in elk geval nie sou kon verstaan het nie. Toe Moses dié hoofstuk geskryf het, het hy byvoorbeeld nie die werking van mikroskopiese alge of bakterieë gemeld nie. Sulke lewensvorme het eers ná die uitvinding van die mikroskoop in die 16de eeu vir die mens sigbaar geword. Ook het Moses nie spesifiek melding gemaak van dinosourusse nie, wie se bestaan afgelei is uit fossiele wat in die 19de eeu gevind is. Moses is eerder geïnspireer om woorde te gebruik wat deur mense van sy dag verstaan kon word—maar woorde wat juis was in alles wat dit oor die aarde se skepping gesê het.
Wanneer jy Genesis hoofstuk 1, vanvers 3 af, lees, sal jy sien dat dit in ses ‘skeppingsdae’ ingedeel is. Party beweer dat dit letterlike dae van 24 uur was, wat sou beteken dat die ganse heelal en lewe op die aarde in minder as ’n week geskep is! Maar jy kan maklik uitvind dat die Bybel dit nie leer nie. Die boek Genesis is in Hebreeus geskryf. In daardie taal verwys “dag” na ’n tydperk. Dit kan ’n lang tydperk of ’n letterlike dag van 24 uur wees. Selfs in Genesis word al ses “dae” gesamentlik een lang tydperk genoem—‘die dag waarin Jehovah die aarde en die hemel gemaak het’. (Genesis 2:4; vergelyk2 Petrus 3:8.) Feit is dat die Bybel toon dat die ‘skeppingsdae’, of -tydperke, duisende jare lank is.
’n Mens kan dit sien uit wat die Bybel oor die sewende “dag” sê. Die verslag oor elk van die eerste ses “dae” eindig met die woorde: “En dit was aand en dit was môre, die eerste dag”, en so meer. Maar jy sal nie daardie kommentaar ná die verslag oor die sewende “dag” vind nie. En in die eerste eeu G.J., sowat 4 000 jaar later in die geskiedenis, het die Bybel na die sewende “dag” van rus verwys as ’n dag wat steeds voortduur (Hebreërs 4:4-6). Die sewende “dag” was dus ’n tydperk wat oor duisende jare gestrek het, en ons kan logieserwys tot die gevolgtrekking kom dat dit ook die geval met die eerste ses “dae” was.
Die eerste en vierde “dag”
Blykbaar was die aarde ’n waterbedekte bol en reeds in sy wentelbaan om die son geplaas voor die ses “dae”, of tydperke, van spesiale skeppingswerke begin het. “Daar was duisternis op die oppervlak van die waterdiepte” (Genesis 1:2, NW). Op daardie vroeë tydstip moes iets—miskien ’n mengsel van waterdamp, ander gasse en vulkaniese stof—verhinder het dat sonlig die oppervlak van die aarde bereik. Die Bybel beskryf die eerste skeppingstydperk soos volg: “God het voortgegaan om te sê: ‘Laat daar lig wees’; en lig het geleidelik in aansyn gekom”, of die oppervlak van die aarde bereik.—Genesis 1:3, in Engels vertaal deur J. W. Watts.
Die uitdrukking “het geleidelik . . . gekom” is ’n juiste weergawe van ’n vorm van die betrokke Hebreeuse werkwoord wat ’n progressiewe aksie aandui wat ’n ruk duur voordat dit voltooi word. Iemand wat Hebreeus lees, kan hierdie vorm nagenoeg 40 keer inGenesis hoofstuk 1 vind, en dit help ons om die hoofstuk te verstaan. Waarmee God in die figuurlike aand van ’n skeppingstydperk begin het, het ná die oggend van daardie “dag”b geleidelik duidelik, of sigbaar, geword. En waarmee in een tydperk begin is, hoef nie heeltemal voltooi te gewees het wanneer die volgende tydperk begin het nie. Ter toeligting: Lig het geleidelik op die eerste “dag” begin verskyn, maar eers in die vierde skeppingstydperk kon die son, maan en sterre gesien word.—Genesis 1:14-19.
Die tweede en derde “dag”
Voordat die Skepper op die derde ‘skeppingsdag’ droë grond laat verskyn het, het hy van die waters opgehef. Gevolglik was die aarde deur ’n waterdampkombers omhul.c Die verslag uit die ou tyd beskryf nie die proses wat gebruik is nie—en dit hoef ook nie. Die Bybel vestig eerder die aandag op die uitspansel tussen die boonste waters en dié op die oppervlak en noem dit die hemel. Selfs vandag gebruik mense hierdie woord vir die atmosfeer waar voëls en vliegtuie vlieg. Mettertyd het God hierdie atmosferiese hemel met ’n mengsel van lewensnoodsaaklike gasse gevul.
Gedurende die ‘skeppingsdae’ het die oppervlakwater egter gesak sodat droë grond verskyn het. Dit wil voorkom of God bulte in die see laat opstoot het om vastelande te vorm, miskien deur geologiese kragte te gebruik wat steeds die plate van die aarde laat beweeg. Dit het droë grond bo die oppervlak teweeggebring en diep seevalleie daaronder, waarvan oseanograwe nou kaarte geteken het en wat hulle ywerig bestudeer. (VergelykPsalm 104:8, 9.) Nadat droë grond gevorm is, het nog iets wonderliks plaasgevind. Ons lees: “God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so.”—Genesis 1:11.
Soos in die vorige hoofstuk (“Die handewerk—Wat sit daaragter?”) bespreek is, is fotosintese noodsaaklik vir plante. ’n Groen plantsel het ’n aantal kleiner deeltjies wat chloroplaste genoem word, wat energie uit sonlig verkry. “Hierdie mikroskopiese fabrieke”, verduidelik die boek Planet Earth, “vervaardig suikers en stysels . . . Geen mens het nog ooit ’n doeltreffender fabriek as ’n chloroplas ontwerp nie, of een met produkte waarna daar ’n groter aanvraag is nie.”
Die toekomstige dierelewe sou inderdaad van chloroplaste afhanklik wees vir oorlewing. En sonder groen plante sou die aarde se atmosfeer te veel koolstofdioksied hê, en ons sou weens hitte en ’n gebrek aan suurstof sterf. Party vakkundiges gee verstommende verklarings vir die ontwikkeling van lewe wat van fotosintese afhanklik is. Hulle sê byvoorbeeld dat, toe die voedsel van eensellige organismes in die water opgeraak het, “’n paar baanbrekerselle uiteindelik ’n oplossing gevind het. Hulle het fotosintese uitgevind.” Maar kan dit werklik die geval wees? Fotosintese is so ingewikkeld dat wetenskaplikes steeds probeer om die geheime daarvan te ontrafel. Dink jy dat selfvoortplantende fotosintetiese lewe op onverklaarbare wyse en vanself ontstaan het? Of is dit vir jou redeliker om te glo dat dit weens intelligente, doelbewuste skepping bestaan, soos Genesis sê?
Die verskyning van nuwe plantsoorte het moontlik nie op die derde ‘skeppingsdag’ geëindig nie. Dit kon selfs tot die sesde “dag” voortgeduur het, toe die Skepper ‘’n tuin in Eden geplant het en allerhande bome uit die grond laat uitspruit het, begeerlik om te sien en goed om van te eet’ (Genesis 2:8, 9). En soos gemeld is, moes die aarde se atmosfeer op die vierde “dag” helder geword het, sodat meer lig van die son en ander hemelliggame die planeet Aarde bereik het.
Die vyfde en sesde “dag”
Gedurende die vyfde ‘skeppingsdag’ het die Skepper die oseane en die atmosferiese hemel met ’n nuwe lewensvorm gevul—“lewende siele”—wat van die plantegroei verskil het. Interessant genoeg, bioloë praat onder meer van die planteryk en die diereryk, wat hulle dan in subklasse verdeel. Die Hebreeuse woord wat met “siel” vertaal word, beteken “’n asemhaler”. Die Bybel sê ook dat “lewende siele” bloed het. Ons kan dus die gevolgtrekking maak dat skepsele wat ’n asemhalingstelsel sowel as ’n bloedsomloopstelsel het—die wesens in die oseane en in die lug wat asemhaal—in die vyfde skeppingstydperk begin verskyn het.—Genesis 1:20, NW;9:3, 4.
Op die sesde “dag” het God meer aandag aan die land geskenk. Hy het “mak” diere en “wilde” diere geskep, wat betekenisvolle benamings was toe Moses die verslag neergeskryf het (Genesis 1:24, NW). Dit was dus gedurende hierdie sesde skeppingstydperk dat landsoogdiere gemaak is. Maar wat van die mens?
Die verslag uit die ou tyd vertel ons dat die Skepper uiteindelik besluit het om ’n waarlik unieke lewensvorm op die aarde voort te bring. Hy het vir sy hemelse Seun gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:26). Die mens sou derhalwe die geestelike beeld van sy Maker weerspieël deur Sy eienskappe te openbaar. En die mens sou in staat wees om ’n ontsaglike hoeveelheid kennis in te neem. Mense kon dus met ’n intelligensie optree wat dié van enige dier oortref. En in teenstelling met die diere is die mens gemaak met ’n vermoë om ooreenkomstig vrye wil op te tree, sodat hy nie hoofsaaklik deur instink beheer word nie.
In die laaste jare het wetenskaplikes ’n omvattende studie van mensegene gemaak. Deur menslike genetiese patrone regoor die aarde te vergelyk, het hulle duidelike bewys gevind dat alle mense ’n gemeenskaplike voorouer het, ’n bron van die DNS van alle mense wat nog ooit gelewe het, met inbegrip van elkeen van ons. In 1988 het die tydskrif Newsweek hierdie bevindings in ’n verslag met die titel “Die soeke na Adam en Eva” gepubliseer. Hierdie studies is gegrond op ’n soort mitochondriale DNS, genetiese inligting wat slegs deur die vrou oorgedra word. Verslae in 1995 oor navorsing oor die manlike DNS dui op dieselfde gevolgtrekking—dat “daar ’n voorouerlike ‘Adam’ was, wie se genetiese inligting op die [Y-]chromosoom eie is aan elke man wat nou op die aarde bestaan”, soos die tydskrif Time dit gestel het. Hetsy daardie bevindings in elke besonderheid juis is of nie, dit lig toe dat die geskiedenis wat ons in Genesis vind uiters geloofwaardig is, aangesien die Outeur daarvan destyds self op die toneel was.
Wat ’n hoogtepunt was dit tog toe God van die elemente van die aarde saamgevoeg het om sy eerste menseseun te formeer, wat hy Adam genoem het! (Lukas 3:38). Die geskiedkundige verslag vertel ons dat die Skepper van die aardbol en lewe daarop die mens wat hy gemaak het in ’n tuinagtige gebied geplaas het “om dit te bewerk en te bewaak” (Genesis 2:15). Op daardie tydstip het die Skepper dalk nog steeds nuwe diersoorte voortgebring. Die Bybel sê: “God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees” (Genesis 2:19). Die Bybel gee geensins te kenne dat die eerste mens, Adam, bloot ’n mitiese karakter was nie. Inteendeel, hy was ’n werklike persoon—’n mens met denkvermoë en gevoelens—wat dit kon geniet om in daardie Paradystuiste te werk. Hy het elke dag meer geleer van wat sy Skepper gemaak het en watter soort persoon Hy is—sy eienskappe, sy persoonlikheid.
Toe, ná ’n ongenoemde tydperk, het God die eerste vrou geskep om Adam se huweliksmaat te wees. Ook het God groter sin aan hulle lewe gegee met hierdie sinvolle toewysing: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:27, 28). Niks kan hierdie verklaarde voorneme van die Skepper verander nie, naamlik dat die hele aarde omskep moet word in ’n paradys vol gelukkige mense wat in vrede met mekaar en met die diere lewe.
Die stoflike heelal, met inbegrip van ons planeet en lewe daarop, getuig onteenseglik van God se wysheid. Dit spreek dus vanself dat hy die moontlikheid kon voorsien dat party mense later sou kies om onafhanklik of opstandig op te tree, ten spyte van die feit dat hy die Skepper en Lewegewer is. So ’n opstand kon die wonderlike werk ontwrig om ’n aardwye paradys te maak. Die verslag sê dat God Adam en Eva aan ’n eenvoudige toets onderwerp het wat hulle daaraan sou herinner dat hulle gehoorsaam moet wees. Ongehoorsaamheid, het God gesê, sou daartoe lei dat hulle die lewe verbeur wat hy vir hulle gegee het. Dit was liefdevol van die Skepper om ons eerste voorouers teen ’n verkeerde weg te waarsku wat die geluk van die hele menseras sou raak.—Genesis 2:16, 17.
Teen die einde van die sesde “dag” het die Skepper alles gedoen wat nodig was om sy voorneme te vervul. Hy kon tereg verklaar dat alles wat hy gemaak het “baie goed” was (Genesis 1:31). Hier bring die Bybel ’n ander belangrike tydperk in deur te sê dat God “op die sewende dag begin rus [het] van al sy werk wat hy gemaak het” (Genesis 2:2, NW). Aangesien die Skepper ‘nie moeg of mat word nie’, waarom sê dit dan dat hy rus? (Jesaja 40:28). Dit toon dat hy opgehou het om fisiese skeppingswerke te verrig; daarbenewens rus hy in die wete dat niks, nie eens opstand in die hemel of op die aarde, die vervulling van sy wonderlike voorneme kan dwarsboom nie. God het vol vertroue ’n seën oor die sewende ‘skeppingsdag’ uitgespreek. God se lojale intelligente skepsele—mense en onsigbare geesskepsele—kan dus daarvan seker wees dat vrede en geluk teen die einde van die sewende “dag” dwarsdeur die heelal sal heers.
Kan jy die Genesisverslag vertrou?
Maar kan jy werklik glo in hierdie skeppingsverslag en die vooruitsigte wat dit bied? Soos ons gesien het, begin moderne genetiese navorsing tot die gevolgtrekking kom wat lank gelede in die Bybel gemeld is. En party wetenskaplikes het gelet op die volgorde van die gebeure wat in Genesis beskryf word. Die bekende geoloog Wallace Pratt het byvoorbeeld gesê: “As ek as geoloog gevra sou word om ons hedendaagse idees omtrent die oorsprong van die aarde en die ontwikkeling van lewe daarop kortliks te verduidelik aan ’n eenvoudige herdersvolk, soos die stamme tot wie die boek Genesis gerig is, sou ek nouliks beter kon doen as om baie van die bewoording vandie eerste hoofstuk van Genesis taamlik noukeurig te volg.” Hy het ook gesê dat die volgorde wat in Genesis beskryf word met betrekking tot die oorsprong van die oseane en die verskyning van droë grond, asook die verskyning van seelewe, voëls en soogdiere, in wese die volgorde van die vername geologiese tydvakke is.
Dink hieraan: Hoe het Moses—duisende jare gelede—geweet wat die regte volgorde was as sy inligtingsbron nie die Skepper en Ontwerper self was nie?
“Deur die geloof”, sê die Bybel, “verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie” (Hebreërs 11:3, AB). Baie wil nie hierdie feit aanvaar nie en verkies om in die toeval te glo of in die een of ander lukrake proses wat kwansuis ons heelal en lewe voortgebring het.d Maar soos ons gesien het, is daar baie redes om te glo dat die heelal en lewe op die aarde—ons lewe inkluis—hulle oorsprong het by ’n intelligente Eerste Oorsaak, ’n Skepper, God.
Die Bybel erken ronduit: “Geloof is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Geloof is egter nie liggelowigheid nie. Geloof is op die werklikheid gegrond. In die volgende hoofstuk gaan ons bykomende grondige en oortuigende redes bespreek waarom dit moontlik is om vertroue te stel in die Bybel en in die Grootse Skepper, wat vir elkeen van ons omgee.
[Voetnote]
a Energie is gelyk aan massa maal die snelheid van lig kwadraat.
b Die Hebreërs se dag het in die aand begin en tot die volgende sonsondergang geduur.
c Die Skepper kon natuurlike prosesse gebruik het om hierdie waters op te hef en omhoog te hou. Dié waters het in Noag se dag neergestort (Genesis 1:6-8; 2 Petrus 2:5; 3:5, 6). Hierdie geskiedkundige gebeurtenis het ’n onuitwisbare indruk op die oorlewendes en hulle nakomelinge gemaak, soos deur antropoloë bevestig word. Vloedverslae wat deur volke regoor die aarde bewaar word, bevat weergawes van hierdie gebeurtenis.
d Sien Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n verdere studie van die geskiedenis van lewensvorme op die aarde.
[Prent op bladsy 86]
Stofskywe, soos hierdie een in die sterrestelsel NGC 4261, is bewys van kragtige gravitasiekolke, wat nie gesien kan word nie. Die Bybel praat van die bestaan, in ’n ander ryk, van skepsele wat magtig is maar nie gesien kan word nie
[Prent op bladsy 89]
Eksperimente het die wetenskaplike teorie gestaaf dat massa in energie en energie in massa omgesit kan word
[Prent op bladsy 94]
Skeppingswerke op die eerste tot die derde “dag” het ’n ontsagwekkende verskeidenheid plantsoorte moontlik gemaak
[Prente op bladsy 99]
Die Bybel gee in eenvoudige taal ’n juiste beskrywing van die volgorde waarin lewensvorme op die aarde verskyn het
[Prent op bladsy 101]
“As geoloog . . . sou ek nouliks beter kon doen as om baie van die bewoording vandie eerste hoofstuk van Genesis taamlik noukeurig te volg.”—Wallace Pratt