Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ct hfst. 10 bl. 165-183
  • Waarom is daar soveel lyding as die Skepper vir ons omgee?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom is daar soveel lyding as die Skepper vir ons omgee?
  • Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Word lyding deur ’n vorige lewe veroorsaak?
  • Hoe het lyding ontstaan?
  • Die een wat vir die lyding verantwoordelik is
  • Tyd verloop—met goeie rede
  • Wanneer sal daar verligting kom?
  • Die allergrootste lyding word ongedaan gemaak
  • Wat sê die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Waarom laat God lyding toe?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Waarom ondervind goeie mense lyding?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Waarom laat God lyding toe?
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
ct hfst. 10 bl. 165-183

Hoofstuk Tien

Waarom is daar soveel lyding as die Skepper vir ons omgee?

TERWYL jou horlosie 60 sekondes aftik, sterf meer as 30 mense weens aansteeklike siektes, verloor 11 die stryd teen kanker en sterf 9 weens hartkwale. En jy weet dat dit net ’n paar van die siektes is wat mense teister; baie ly en sterf weens ander oorsake.

In 1996 het ’n horlosie in die voorportaal van die Verenigde Nasies se gebou in die stad New York simbolies getik vir elke baba wat vir ’n arm gesin gebore word—47 keer per minuut. Uit ’n ander oogpunt beskou, gaan 20 persent van die aarde se bevolking honger bed toe elke keer dat die aarde om sy as draai. En kan jy jou voorstel as jy die hoeveelheid misdaad in jou omgewing sou probeer bereken.

Ons moet die feit onder die oë sien dat die wêreld om ons vandag vol lyding is.

“Nietemin”, sê ’n oudpolisieman, “staan baie van ons onverskillig teenoor die onreg wat oral om ons voorkom.” Maar ons onverskilligheid sal moontlik net voortduur totdat dit ons lewe of die lewe van ’n dierbare raak. Stel jou byvoorbeeld in die plek van Masako, wat haar moeder en vader versorg het toe albei weens kanker gely het. Terwyl hulle gewig verloor en van die pyn gekerm het, het Masako heeltemal magteloos gevoel. Of dink aan die wanhoop van Sjarada, ’n Asiatiese meisietjie wat nege jaar oud was toe haar vader haar vir R68 verkoop het. Sy is uit haar dorpie na ’n vreemde stad geneem en gedwing om elke dag aan ses mans seksuele gunste te bewys.

Waarom is daar soveel lyding? En waarom maak die Skepper nie ’n einde daaraan nie? Sulke lyding veroorsaak dat baie mense hulle rug op God draai. Die moeder van die voorgemelde oudpolisieman het die slagoffer van ’n psigopaat geword. Hy verduidelik hoe hy gevoel het: “Die idee van ’n soewereine, liefdevolle God wat in beheer van die heelal is, was nog nooit vir my onwerkliker nie.” Jy vra dalk ook: ‘Waarom?’ Ja, waarom is daar soveel lyding? Wat is die oorsaak, en is die Skepper besorg daaroor?

Word lyding deur ’n vorige lewe veroorsaak?

Miljoene mense regoor die wêreld glo dat lyding deur jou verlede veroorsaak word; jou huidige lyding is ’n straf vir wat jy in ’n vorige lewe gedoen het. “Menselyding is daaraan te wyte dat ons in Karma vasgevang is, want sodra ons gebore word, dra ons almal ’n swaar las van vorige Karma.”a Dit was die beskouing van Daisetz T. Suzuki, ’n filosoof wat Zen in die Westerse samelewing bekend gemaak het. Hindoewysgere het “die wet van Karma” uitgedink toe hulle rondgetas het na ’n verklaring vir menselyding. Maar is hulle verklaring vir lyding redelik of waarlik bevredigend?

’n Boeddhistevrou het gesê: “Na my mening het dit nie sin gemaak om vir iets te moet ly waarmee ek gebore is maar waarvan ek niks geweet het nie. Ek moes dit as my lot aanvaar.” Hierdie verklaring vir lyding was vir haar onbevredigend. Dit is dalk ook met jou die geval. Hoewel die idee van hergeboorte miskien nie algemeen is waar jy woon nie, berus dit op ’n lering wat dwarsdeur die Christendom en elders gevind kan word—die lering dat mense ’n onsterflike siel het wat ná die dood van die liggaam voortlewe. Hierdie “siel” is kwansuis by lyding betrokke—hetsy in ’n teenswoordige lewe of in ’n hiernamaals.

Sulke idees kom algemeen voor, maar watter bewys is daar dat dit gegrond is? Is dit nie verstandiger om ons te laat lei deur wat ons Skepper sê wanneer dit by sulke belangrike sake kom nie? Terwyl menslike idees en onwrikbare opvattings verkeerd kan wees, het ons gesien dat God se woorde betroubaar is.

Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het die sonde van ons eerste menseouers die allergrootste mensetragedie teweeggebring—die dood. Die Skepper het Adam gewaarsku: “Die dag as jy [ongehoorsaam is, of sondig], sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:17; 3:19). God het nooit gesê dat Adam ’n onsterflike siel het nie; hy was ’n mens. In Bybelse terme beteken dit dat hy ’n siel was. Toe hy gesterf het, het die siel genaamd Adam dus gesterf. Hy was daarna van niks bewus nie en het ook nie gely nie.

Ons Skepper bevorder nie die lering van Karma, wedergeboortekringlope of ’n onsterflike siel wat moontlik in ’n latere bestaan ly nie, en hy keur dit ook nie goed nie. Maar as ons besef wat die gevolge van Adam se sonde is, kan ons beter verstaan waarom daar vandag lyding is.

Hoe het lyding ontstaan?

Hoewel dit moeilik is om die hele omvang van menselyding te verstaan, kan die regte instrument help. Net soos verkykers ons help om voorwerpe in die verte duideliker te sien, stel die Bybel ons in staat om te sien wat die oorsaak van lyding is.

Om maar een ding te noem, die Bybel waarsku ons dat “tyd en lotgeval” alle mense tref (Prediker 9:11). Jesus het byvoorbeeld na ’n nuusbrokkie van sy dag verwys—18 mense het gesterf toe ’n toring op hulle geval het. Hy het dit duidelik gestel dat hierdie slagoffers nie groter sondaars as ander was nie (Lukas 13:1-5). Hulle het gely omdat hulle op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Maar die Bybel gaan nog verder en verskaf bevredigende inligting oor die hoofoorsake van lyding. Watter inligting?

Nadat die eerste mense gesondig het, het die Goddelike Regter, Jehovah, beslis dat hulle alle reg op voortbestaan verbeur het. In die jare wat verloop het totdat hulle uiteindelik gesterf het, het Adam en Eva groot lyding verduur. Dit was lyding wat hulle oor hulleself gebring het—die gevolge van veroudering en siekte, die stryd om ’n bestaan te maak en die smart wat dit hulle besorg het om te sien hoe hulle gesin deur jaloesie en geweld verwoes word (Genesis 3:16-19; 4:1-12). Dit is belangrik om in gedagte te hou waaraan al daardie lyding hoofsaaklik te wyte was. Hulle het dit oor hulleself gebring. Maar hoe kan ons verstaan waarom lyding vandag nog voortduur?

Hoewel baie mense daarteen kapsie sou maak om as ’n sondaar beskou te word, bring die Bybel die feite in die regte perspektief en sê: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde, en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Die eerste mensepaar het die vrugte van hulle eie skadelike weg gepluk, maar hulle nakomelinge is ook daardeur geraak (Galasiërs 6:7). Hulle nageslag het onvolmaaktheid geërf, wat tot die dood lei. Party vind dit makliker om dit te verstaan wanneer hulle dink aan die wetenskaplike feit dat kinders selfs nou kwale en gebreke van hulle ouers kan erf. Dit kan die geval wees met hemofilie, talassemie (Middellandse See-anemie), koronêre hartvatsiekte, een soort suikersiekte en selfs borskanker. Dit is nie die kinders se skuld nie, maar hulle ly moontlik as gevolg van wat hulle geërf het.

Ons genetiese voorouers, Adam en Eva, het gekies om Jehovah se heerskappy oor die mensdom te verwerp.b Uit die geskiedenis weet jy dat mense allerhande regerings probeer het in ’n poging om oor die aarde te heers. Party mans en vroue wat by hierdie pogings betrokke was, het goeie bedoelings gehad. Maar wat dink jy van die gevolge van die mens se selfbestuur? Is menselyding grotendeels verlig? Glad nie. Talle beleidspunte en volksoorloë het lyding eerder vererger. Ongeveer 3 000 jaar gelede het ’n wyse heerser gesê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9.

Lyk dit vir jou of die situasie nou baie anders, miskien beter, is? Die meeste sou nee antwoord. Baie mans, vroue en kinders ly nie net weens oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid nie, maar ook as gevolg van wat hulle of ander gedoen het. Dink aan die mens se wanbestuur van die aarde, wat dikwels uit gierigheid spruit. Mense is ook daaraan skuldig dat hulle besoedeling veroorsaak, armoede meebring en tot honger of tot siekte-epidemies bydra. Selfs party natuurrampe, wat baie mense dade van God noem, word deur die mens veroorsaak. Daar is nog ’n vername oorsaak van lyding wat gewoonlik oor die hoof gesien word.

Die een wat vir die lyding verantwoordelik is

Een Bybelboek in die besonder toon wat die hoofoorsaak van lyding is en waarom die liefdevolle Skepper dit toelaat. Hierdie boek, Job, kan enige onduidelikheid oor die kwessie van lyding opklaar. Die boek doen dit deur ons insig in die onsigbare ryk te gee, waar sekere belangrike gebeure plaasgevind het.

Ongeveer 3 500 jaar gelede, kort voordat Moses die eerste Bybelboeke geskryf het, het die man Job gelewe in wat nou Arabië is. Die verslag toon dat Job opreg, vrygewig en hooggeag was. Hy was baie ryk, aangesien hy groot troppe vee gehad het, en is selfs “die grootste van al die Oosterlinge” genoem. Job het ook ’n gelukkige gesin gehad—’n vrou, sewe seuns en drie dogters (Job 1:1-3, NW; 29:7-9, 12-16). Eendag het ’n boodskapper in aller haas daar aangekom en vertel dat ’n stroopbende party van Job se waardevolle veetroppe geroof het. Kort daarna het ’n ander een kom sê dat van Job se skaapkuddes uitgewis is. Toe het die Chaldeërs sy 3 000 kamele geroof en al die dienaars op een na doodgemaak. Laastens het die ergste nuus gekom. ’n Buitengewone wind het die huis van sy eersgeborene verwoes, en al sy kinders, wat daar vergader was, het gesterf. Sou Job God vir al hierdie lyding blameer? Hoe sou jy gevoel het as jy in sy skoene gestaan het?—Job 1:13-19.

Maar dit was nie die einde van die rampspoed nie. Job is getref deur ’n verskriklike siekte wat hom met kwaadaardige swere bedek het.c Hy het so siek en walglik geword dat sy vrou God blameer het. “Vervloek God en sterf!” het sy gesê. Job het nie geweet waarom hy ly nie, en tog het hy God nie daarvan beskuldig dat hy dit veroorsaak het nie. Ons lees: “In dit alles het Job nie met sy lippe gesondig nie.”—Job 2:6-10, NW.

Drie kennisse het van Job se ellendes gehoor en na hom toe gekom. “Waar is opregtes [ooit] verdelg?” het Elifas gevra, wat aangeneem het dat Job goddeloos moes gehandel het (Job, hoofstukke 4, 5). Hy het Job van verborge sondes beskuldig en selfs daarvan dat hy die behoeftige brood ontsê en weduwees en wese verdruk het (Job, hoofstukke 15, 22). Die ander twee valse vertroosters het Job ook berispe asof hy vir sy lyding verantwoordelik was. Was hulle reg? Glad nie.

Die boek Job help ons om die grondoorsaak van Job se lyding te identifiseer en te sien waarom God dit toegelaat het.Hoofstukke 1 en 2 toon wat kort tevore in die onsigbare hemel, in die geesteryk, plaasgevind het. Die opstandige gees met die naam Satand het saam met ander geeste in God se teenwoordigheid vergader. Toe Job se onberispelike lewenswyse gemeld is, het Satan uittartend gevra: “Is dit verniet dat Job God gevrees het? . . . Steek by wyse van verandering asseblief u hand uit en raak alles aan wat hy het en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie.”—Job 1:9-12, NW.

Met ander woorde, Satan het God daarvan beskuldig dat hy Job omkoop. Hierdie uittartende geesskepsel het beweer dat Job Jehovah sou vervloek as hy sy rykdom en sy gesondheid ontneem sou word. By uitbreiding het Satan beweer dat geen mens wat lyding verduur God sou liefhê en aan hom lojaal sou bly nie. Daardie aantyging het ’n wêreldwye en blywende uitwerking gehad. Die geskille wat Satan geopper het, moes besleg word. God het Satan dus die vryheid gegee om teen Job op te tree, en Satan het daardie verskillende vorme van lyding oor die man gebring.

Dit is te begrype dat Job nie geweet het of kon geweet het van die universele geskil wat in die hemel geopper is nie. En Satan het dinge so bewerkstellig dat dit gelyk het of God al Job se ellendes veroorsaak het. Toe weerlig byvoorbeeld Job se skaapkuddes getref het, het die dienaar wat dit oorleef het tot die gevolgtrekking gekom dat dit “die vuur van God” was. Hoewel Job nie geweet het waarom hierdie dinge gebeur nie, het hy Jehovah God nie vervloek of verwerp nie.—Job 1:16, 19, 21.

As jy die omstandighede agter Job se ondervinding ontleed, sal jy sien die geskil is: Sal mense Jehovah ondanks moeilikhede uit liefde dien? Job het gehelp om dit te beantwoord. Net ware liefde vir God kon iemand beweeg het om aan Jehovah getrou te bly, soos Job gedoen het. Wat ’n getuienis was dit tog teen Satan se valse aantygings! Maar hierdie saak het nie destyds met Job begin en geëindig nie; dit strek oor eeue. Ons is ook daarby betrokke.

Hoe reageer baie wanneer hulle lyding sien of verduur, ongeag wat die oorsaak daarvan is? Hulle is dalk onbewus van die geskille wat in Job se dag geopper is, of hulle glo miskien nie eens dat Satan bestaan nie. Gevolglik twyfel hulle dikwels of daar ’n Skepper is, of hulle blameer hom vir die lyding. Hoe voel jy hieroor? Sal jy nie, uit wat jy van die Skepper weet, met die Bybelskrywer Jakobus saamstem nie? Ondanks lyding was hy van die volgende oortuig: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie en beproef hy self ook niemand nie.”—Jakobus 1:13.

Ons het ’n waardevolle hulpmiddel om die wyse beskouing te verkry. Dit is dat ons Jesus se geval kan ondersoek. Ons weet dat Jesus hooggeag word weens sy insig, kennis en vermoë as onderrigter. Wat was sy standpunt ten opsigte van Satan en lyding? Jesus was daarvan oortuig dat Satan die Duiwel nie net bestaan nie, maar dat hy ook lyding kan veroorsaak. Satan, wat probeer het om Job sy onkreukbaarheid te laat prysgee, het dit openlik ook met Jesus probeer doen. Dit bewys nie net dat Satan werklik bestaan nie, maar toon ook dat die aantyging wat in Job se dag gemaak is, voortgeduur het. Soos Job het Jesus aan die Skepper getrou gebly, selfs ten koste van rykdom en mag en hoewel dit vir hom fisiese lyding en die dood aan ’n folterpaal meegebring het. Jesus se geval toon dat God mense steeds toegelaat het om te bewys dat hulle ondanks probleme teenoor hom lojaal sou bly.—Lukas 4:1-13; 8:27-34; 11:14-22; Johannes 19:1-30.

Tyd verloop—met goeie rede

Ten einde lyding te verstaan, moet ons besef dat ongelukke, sondige menseneigings, die mens se wanbestuur van die aarde en Satan die Duiwel oorsake van lyding is. Maar dit is nie genoeg om net te weet waarom daar lyding is nie. Wanneer ’n mens ly, is dit maklik om te voel soos die eertydse profeet Habakuk toe hy gesê het: “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld!—maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin” (Habakuk 1:2, 3). Ja, waarom ‘aanskou Jehovah die moeite’ skynbaar sonder om op te tree? As die Almagtige het hy die mag en die liefde vir geregtigheid wat nodig is om lyding te beëindig. Wanneer sal hy dit dan doen?

Toe die eerste mensepaar algehele onafhanklikheid gekies het, was die Skepper seker dat party van hulle nakomelinge anders sou optree, soos reeds gemeld is. Jehovah het in sy wysheid tyd laat verloop. Waarom? Om te bewys dat heerskappy wat onafhanklik van die Skepper is net tot ongelukkigheid lei en dat ’n lewenswyse in harmonie met die Skepper daarenteen reg is en geluk meebring.

Intussen het God die aarde as ’n redelik aangename plek in stand gehou. Die apostel Paulus het geredeneer: “In die vergange geslagte het hy al die nasies toegelaat om in hulle weë voort te gaan, hoewel hy homself inderdaad nie sonder getuienis gelaat het nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul” (Handelinge 14:16, 17). Dit is duidelik dat die Skepper nie lyding veroorsaak nie, maar hy het dit toegelaat ten einde uiters belangrike geskille te besleg.

Wanneer sal daar verligting kom?

Die feit dat menselyding toeneem, toon in werklikheid dat dit binnekort sal eindig. Hoe kan ons so sê? Die Bybel openbaar wat in Job se dag in die onsigbare ryk plaasgevind het en doen dit weer met betrekking tot ons dag. Die laaste Bybelboek, Openbaring, vestig die aandag op ’n oorlog wat in die hemel plaasgevind het. Die gevolg? Satan is saam met sy demoonhordes “na die aarde neergeslinger”. Hierdie Bybelboek sê voorts: “Wees om dié rede bly, o hemele en julle wat daarin woon! Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het.”—Openbaring 12:7-12.

’n Indringende studie van Bybelprofesieë dui op hierdie eeu as die tyd toe hierdie gebeurtenis plaasgevind het. Soos jy moontlik weet, erken gesiene geskiedkundiges dat daar in 1914, toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, ’n groot keerpunt in die geskiedenis gekom het.e Sedertdien het lyding en ellendes toegeneem. Jesus het na hierdie selfde tydperk heengewys toe sy intieme dissipels hom oor “die teken van [sy] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” gevra het. Jesus het gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk; en daar sal groot aardbewings wees, en op die een plek na die ander peste en voedseltekorte; en daar sal vreesaanjaende gesigte wees, en groot tekens van die hemel af” (Matteus 24:3-14; Lukas 21:5-19). Hierdie woorde, wat op groot lyding dui, word vir die heel eerste keer in die geskiedenis ten volle vervul.

Die Bybel beskryf hierdie gebeure as ’n voorspel tot ’n “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Dít sal God se besliste ingryping in menseaangeleenthede wees. Hy sal optree om ’n einde aan die goddelose stelsel van dinge te maak, wat eeue lank lyding veroorsaak het. Maar dit sal nie die ‘einde van die wêreld’ deur ’n kernslagting beteken wat die mensdom vernietig nie. God se Woord verseker ons dat daar oorlewendes sal wees. “’n Groot skare . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” sal lewend uit daardie verdrukking kom.—Openbaring 7:9-15.

As jy ’n volledige beeld wil hê, moet jy kyk wat volgens die Bybel daarna sal gebeur. Die tuinagtige tuiste wat oorspronklik vir die mensdom as hulle woonplek bedoel was, sal herstel word (Lukas 23:43). Jy sal geen haweloses sien nie. Jesaja het geskryf: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet . . . ; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle. . . . Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees . . . ; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.”—Jesaja 65:21-25.

Wat van persoonlike lyding? Daar sal geen oorlog, geweld of misdaad wees nie (Psalm 46:9, 10; Spreuke 2:22; Jesaja 2:4). Die mens se Maker en Lewegewer sal gehoorsame mense help om algehele gesondheid te verkry en te geniet (Jesaja 25:8; 33:24). Daar sal geen hongersnood meer wees nie, aangesien die aarde se ekologie weer in ewewig en sy opbrengs oorvloedig sal wees (Psalm 72:16). Ja, oorsake van lyding wat ons nou sien, sal tot die verlede behoort.—Jesaja 14:7.

Dit kan beslis as die allerbeste nuus beskou word. Maar party meen dalk dat daar nog as ’t ware twee donker wolke is. ’n Mens se genieting van hierdie seëninge sou beperk wees as jy moes verwag dat jy ná net 70 of 80 jaar sou sterf. En sou jy nie hartseer wees oor geliefdes wat gesterf het voordat die Skepper menselyding beëindig het nie? Wat is die oplossing?

Die allergrootste lyding word ongedaan gemaak

Die Skepper het die oplossing. Hy is die Maker van die heelal en menselewe hier op die aarde. Hy kan doen wat mense nie kan doen nie of wat mense maar net begin besef moontlik is. Beskou slegs twee voorbeelde hiervan.

Ons het die potensiaal om vir ewig te lewe.

Die Bybel bied mense onteenseglik die vooruitsig om ewige lewe van God te ontvang (Johannes 3:16; 17:3). Nadat dr. Michael Fossel die gene in menseselle bestudeer het, het hy gesê dat die gehalte van manlike voortplantingselle nie met die ouderdom agteruitgaan nie. “As die gene wat ons reeds het reg gelees word, kan hulle ons selle sonder veroudering onderhou.” Dit stem ooreen met wat ons in Hoofstuk 4 gesien het, naamlik dat ons brein ’n vermoë het wat skaars gedurende ’n huidige lewensduur benut word; dit is blykbaar ontwerp om vir ewig te funksioneer. Dit is natuurlik maar net bykomstige punte ter aanvulling van wat die Bybel regstreeks sê—Jehovah sal dit vir ons moontlik maak om vir ewig sonder lyding te lewe. Let op wat hy in die laaste boek van die Bybel belowe: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:4.

Die Skepper kan iemand help wat gely en gesterf het—hy kan hom weer lewend maak deur hom op te wek.

Lasarus was iemand wat opgewek is. (Johannes 11:17-45; sien bladsye 158-60.) Professor Donald MacKay het die voorbeeld van ’n rekenaarlêer gebruik. Hy het geskryf dat die vernietiging van ’n rekenaar nie noodwendig die algehele einde beteken van ’n vergelyking of ’n program wat daarop was nie. Dieselfde vergelyking of program kan in ’n nuwe rekenaar ingevoer en daarop gebruik word “as dit die wiskundige se wens is”. Professor MacKay het voorts gesê: “Dit lyk of die meganistiese breinwetenskap net so min kapsie maak teen die hoop op ewige lewe wat in [die Bybel] gemeld word, met sy kenmerkende klem op die ‘opstanding’.” As ’n mens gesterf het, kan die Skepper hom later weer lewend maak, soos hy met Jesus en soos Jesus met Lasarus gedoen het. MacKay het tot die gevolgtrekking gekom dat iemand se dood geensins sou verhinder dat hy in ’n nuwe liggaam tot lewe herstel word “as dit ons Skepper se wil is” nie.

Ja, die uiteindelike oplossing berus by ons Skepper. Hy alleen kan lyding heeltemal uit die weg ruim, die gevolge van die sonde ongedaan maak en die dood vernietig. Jesus Christus het sy dissipels van ’n uitsonderlike gebeurtenis vertel wat nog vir ons voorlê. Hy het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29.

Dink net daaraan! Die Soewereine Heerser van die heelal is bereid en in staat om diegene in sy geheue weer lewend te maak. Hulle sal ’n geleentheid gebied word om te toon of hulle waardig is om “die werklike lewe” te ontvang.—1 Timoteus 6:19; Handelinge 24:15.

Maar word daar van ons verwag om nou iets te doen terwyl ons op die algehele verlossing van menselyding wag? En kan dit, indien dit die geval is, ons lewe vandag selfs sinvoller maak? Kom ons kyk.

[Voetnote]

a Karma is glo “die invloed wat iemand se dade van die verlede op sy toekomstige lewens, of reïnkarnasies, het”.

b Genesis 2:17 meld God se gebod aan Adam om nie van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie. In ’n voetnoot hieroor lewer The New Jerusalem Bible (1985) kommentaar oor wat hierdie kennis verteenwoordig het: “Dit is die mag om self te besluit wat goed en wat kwaad is en om dienooreenkomstig op te tree, ’n verklaring van absolute morele onafhanklikheid waarvolgens die mens weier om sy posisie as ’n geskape wese te erken, sienJes[aja] 5:20. Die eerste sonde was ’n aanval op God se soewereiniteit.”

c Ander gedeeltes wei uit oor Job se lyding. Sy vlees was bedek met wurms, sy vel het korse gevorm en sy asem was weersinwekkend. Job is deur pyn gefolter, en sy vel het swart geword en afgeval.—Job 7:5; 19:17; 30:17, 30.

d In ’n vorige hoofstuk, “Wat kan jy van die Skepper uit ’n boek leer?”, het ons Satan die Duiwel se rol in Adam en Eva se sonde bespreek.

e Sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster op bladsy 168]

Geen onsterflike siel nie

Die Bybel leer dat elke persoon ’n mensesiel is; wanneer ’n persoon sterf, sterf die siel. Esegiël 18:4 sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.” Die dooies is nie êrens in ’n bewuste of lewende toestand nie. Salomo het geskryf: “Die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5, 10). Nie die Jode of die vroeë Christene het oorspronklik geleer dat die siel onsterflik is nie.

“Die siel in die O[u] T[estament] verwys nie na ’n deel van die mens nie, maar na die hele mens—die mens as ’n lewende wese. In die N[uwe] T[estament] dui dit insgelyks op menselewe . . . Die Bybel praat nie van die voortbestaan van ’n onstoflike siel nie.”—New Catholic Encyclopedia.

“Die opvatting van die onsterflikheid van die siel en geloof in die opstanding van die dooies . . . is twee begrippe op heeltemal verskillende vlakke.”—Dopo la morte: immortalità o resurrezione? deur teoloog Philippe H. Menoud.

“Aangesien die mens in sy geheel ’n sondaar is, sterf hy derhalwe by sy dood heeltemal met liggaam en siel (die volle dood) . . . Daar is ’n onderbreking tussen die dood en die opstanding.”—Die Lutherse kategismus Evangelischer Erwachsenenkatechismus.

[Venster op bladsy 175]

Was dit so lank?

Van Job se dag tot Jesus s’n lyk miskien na ’n lang tyd vir lyding om voort te duur—ongeveer 1 600 jaar. Vir ’n mens sou 100 jaar na ’n lang tyd lyk om te wag dat lyding moet eindig. Maar ons moet besef dat die vernaamste geskille wat Satan geopper het die Skepper in ’n slegte lig gestel het. In God se oë was die gevolglike toelating van lyding en goddeloosheid kortstondig. Hy is “die Koning van die ewigheid” vir wie ‘duisend jaar soos die dag van gister is as dit verbyskiet’ (1 Timoteus 1:17; Psalm 90:4). En vir mense wat ewige lewe ontvang, sal hierdie tydperk van lyding in die geskiedenis ook taamlik kort lyk.

[Venster op bladsy 178]

’n Keerpunt in die geskiedenis

“As ons vandag terugkyk, sien ons duidelik dat die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog ’n twintigste-eeuse ‘Tyd van moeilikheid’—om die raak uitdrukking van die Britse geskiedskrywer Arnold Toynbee te gebruik— ingelui het waarvan ons beskawing nog lank nie herstel het nie.”—The Fall of the Dynasties, Edmond Taylor.

“Dit is inderdaad eerder die jaar 1914 as dié van Hirosjima wat die keerpunt in ons tyd is, want teen hierdie tyd kan ons sien dat . . . dit die eerste wêreldoorlog is wat die tydperk van wanordelike oorgang ingelui het waarin ons voortsukkel.”—Dr. René Albrecht-Carrié, Barnard-kollege.

“In 1914 het die wêreld ’n samehang verloor wat dit nog nie weer teruggekry het nie. . . . Dit is ’n tyd van buitengewone wanorde en geweld, dwarsoor landsgrense sowel as daarbinne.”—The Economist.

[Venster op bladsy 181]

Is opwekking van die persoon moontlik?

Neuroloog Richard M. Restak het kommentaar gelewer oor die mensebrein en sy neurone. “Alles wat ons is en alles wat ons gedoen het, kan gelees word deur ’n waarnemer wat in staat is om die verbindings en stroombane te ontsyfer wat daar in ons 50 miljard senuselle is.” Sal ons liefdevolle Skepper dan nie met die inligting wat hy het ’n persoon weer kan saamstel nie?

[Venster op bladsy 182]

Jou verbindings is getel

Jesus het gesê: “Selfs die hare op julle kop is almal getel” (Matteus 10:29-31). Wat van die grysstof in jou kop? Breinselle (wat neurone genoem word) is so klein dat hulle net met ’n kragtige mikroskoop gesien kan word. Stel jou voor dat jy nie net neurone probeer tel nie, maar ook die kleiner tussenverbindings (sinapse), waarvan party neurone tot 250 000 kan hê.

Dr. Peter Huttenlocher het tydens lykskouings met behulp van die kragtige elektronmikroskoop baanbrekerswerk gedoen met die tel van neuronverbindings—van fetusse, afgestorwe babas en ou mense. Verbasend genoeg, al die monsters, wat elk omtrent so klein soos ’n speldekop was, het nagenoeg dieselfde aantal neurone gehad, ongeveer 70 000.

Toe het dr. Huttenlocher die aantal neuronverbindings, oftewel breinselverbindings, in sulke klein monsters begin tel. Die fetus se neurone het 124 miljoen verbindings gehad; dié van ’n pasgeborene het 253 miljoen gehad; ’n agt maand oue baba het 572 miljoen gehad. Dr. Huttenlocher het gevind dat die getal daarna geleidelik afneem namate ’n kind groei.

Hierdie bevindings is interessant in die lig van wat die Bybel oor die opstanding sê (Johannes 5:28, 29). ’n Volwassene het vir sy hele brein omtrent duisendbiljoen neuronverbindings, dit wil sê 1 met 15 nulle. Is die Skepper in staat om nie net hierdie verbindings te tel nie, maar hulle ook te herskep?

Die sterre in die heelal tel volgens The World Book Encyclopedia 200 triljoen, oftewel 2 met 20 nulle. Die Skepper ken al hierdie sterre by name (Jesaja 40:26). Hy kan dus beslis die neuronverbindings onthou en herskep wat die herinneringe en gevoelens uitmaak van mense wat hy wil opwek.

[Prent op bladsy 166]

Baie glo in die kringloop van Karma, van geboorte tot die dood

[Prent op bladsy 171]

Alexis, die seun van tsaar Nikolaas II en Alexandra, het hemofilie geërf. Ons het onvolmaaktheid van ons voorvader, Adam, geërf

[Prente op bladsy 179]

Selfs terwyl die Skepper lyding toelaat, maak hy baie genietinge vir mense moontlik

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel