Hoofstuk ses
Die geheim van die groot boom word verklaar
1. Wat het met koning Nebukadnesar gebeur, en watter vrae laat dit ontstaan?
JEHOVAH het koning Nebukadnesar toegelaat om ’n wêreldheerser te word. As koning van Babilon het hy groot rykdom gehad, smaaklike kos, ’n pragtige paleis—materieel gesproke, alles wat hy wou hê. Maar skielik is hy verneder. Nebukadnesar het geestelik versteurd geraak en hom soos ’n dier gedra! Hy is van die koninklike tafel en uit die vorstelike woning verdryf en het in die veld gewoon en gras geëet soos ’n bees. Wat het tot hierdie ramp aanleiding gegee? En waarom moet ons daarin belangstel?—Vergelyk Job 12:17-19; Prediker 6:1, 2.
DIE KONING VERHEERLIK DIE ALLERHOOGSTE
2, 3. Wat het die koning van Babilon sy onderdane toegewens, en hoe het hy die allerhoogste God beskou?
2 Kort nadat Nebukadnesar van daardie algehele geestesineenstorting herstel het, het hy ’n merkwaardige verslag van wat gebeur het deur sy hele ryk versprei. Jehovah het die profeet Daniël geïnspireer om hierdie gebeure akkuraat op te teken. Dit begin met hierdie woorde: “Koning Nebukadnesar aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees! Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen het, te verkondig. Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag!”—Daniël 4:1-3.
3 Nebukadnesar se onderdane het “op die hele aarde” gewoon, aangesien sy ryk die grootste deel van die wêreld ingesluit het wat in Bybeltye bekend was. Van Daniël se God het die koning gesê: “Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk.” Hoe het hierdie woorde Jehovah tog in die hele Babiloniese Ryk verheerlik! Dit was ook die tweede keer dat daar aan Nebukadnesar getoon is dat dit alleenlik die Koninkryk van God is wat ewig is en “vir ewig” sal bestaan.—Daniël 2:44.
4. Hoe het Jehovah se “tekens en wonders” met betrekking tot Nebukadnesar begin?
4 Watter “tekens en wonders” het “die allerhoogste God” gedoen? Dit het begin met die koning se persoonlike ondervinding wat hy in hierdie woorde vertel: “Ek, Nebukadnesar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis. Ek het ’n droomgesig gesien wat my verskrik het—droombeelde op my bed en die gesigte van my hoof het my verontrus” (Daniël 4:4, 5). Wat het die Babiloniese koning omtrent hierdie ontstellende droom gedoen?
5. Hoe het Nebukadnesar Daniël beskou, en waarom?
5 Nebukadnesar het Babilon se wyse manne laat kom en hulle die droom vertel. Maar hoe droewig het hulle tog misluk! Hulle kon dit glad nie uitlê nie. Die verslag het verder gesê: “Totdat eindelik Daniël voor my ingekom het, wie se naam Beltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die droom vertel” (Daniël 4:6-8). Daniël se naam aan die hof was Beltsasar, en die valse god wat die koning “my god” noem, was dalk Bel of Nebo of Mardoek. Nebukadnesar het baie gode aanbid en het Daniël beskou as iemand in wie “die gees van die heilige gode” is. En weens Daniël se posisie as die hoofowerste oor al die wyse manne van Babilon het die koning hom die “owerste van die geleerdes [“towerpriesters”, NW]” genoem. (Daniël 2:48; 4:9; vergelyk Daniël 1:20.) Die getroue Daniël het natuurlik nooit die aanbidding van Jehovah laat vaar en towery beoefen nie.—Levitikus 19:26; Deuteronomium 18:10-12.
’N ONTSAGLIKE BOOM
6, 7. Hoe sou jy beskryf wat Nebukadnesar in sy droom gesien het?
6 Wat het die Babiloniese koning gedroom wat hom bang gemaak het? “Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref”, het Nebukadnesar gesê, “ek het gesien, en kyk, daar was ’n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot. Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was. Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed” (Daniël 4:10-12). Nebukadnesar het na bewering van die groot seders van die Libanon gehou, daarna gaan kyk en daarvan as timmerhout na Babilon laat terugbring. Maar hy het nog nooit iets soos die boom in sy droom gesien nie. Dit het ’n opvallende posisie “in die middel van die aarde” gehad, kon in die hele wêreld gesien word en was so vrugbaar dat dit vir alle vlees voedsel voorsien het.
7 Die droom het veel meer behels, want Nebukadnesar het verder gesê: “Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, ’n bode, naamlik ’n heilige, het uit die hemel neergedaal; hy het hardop geroep en só gesê: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke. Maar laat sy penwortel [“wortelstomp”, NW] in die aarde staan, en dit met ’n band van yster en koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere deel hê aan die plante van die aarde.”—Daniël 4:13-15.
8. Wie was die “bode”?
8 Die Babiloniërs het hulle eie godsdienskonsep van goeie en bose geeste gehad. Maar wie was hierdie “bode” uit die hemel? Hy word “’n heilige” genoem en was ’n regverdige engel wat God verteenwoordig het. (Vergelyk Psalm 103:20, 21.) Stel jou die vrae voor wat Nebukadnesar moes gekwel het! Waarom moet hierdie boom omgekap word? Watter nut het die wortelstomp wat deur bande van yster en koper verhinder word om te groei? Wat is nou eintlik die doel van ’n blote stomp?
9. Wat het die bode gesê, en watter vrae laat dit ontstaan?
9 Nebukadnesar was seker heeltemal uit die veld geslaan toe hy die bode se volgende woorde hoor: “Laat sy hart anders word as dié van ’n mens en ’n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan. Op ’n besluit van die bodes berus die bevel, en ’n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens [“die koninkryk van die mensdom”, NW] en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel” (Daniël 4:16, 17). Die wortelstomp van ’n boom het nie ’n mensehart wat binne-in hom klop nie. En selfs ’n dierehart kan nie aan ’n boom se wortelstomp gegee word nie, of hoe? Wat is die “sewe tydperke”? En wat het al hierdie dinge met heerskappy oor “die koninkryk van die mensdom” te doen? Nebukadnesar wou dit sekerlik weet.
SLEGTE NUUS VIR DIE KONING
10. (a) Wat kan bome in die Skrif voorstel? (b) Wat word deur die groot boom afgebeeld?
10 Toe Daniël die droom hoor, het hy ’n oomblik verstom gestaan en toe bang geword. Toe Nebukadnesar by hom aandring om dit te verklaar, het die profeet gesê: “My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom. Die boom wat u gesien het—wat groot en sterk geword het, . . . dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde” (Daniël 4:18-22). In die Skrif kan mense, heersers en koninkryke deur bome voorgestel word (Psalm 1:3; Jeremia 17:7, 8; Esegiël, hoofstuk 31). Soos die ontsaglike boom in sy droom het Nebukadnesar “groot en sterk geword” as die hoof van ’n wêreldmoondheid. Maar die groot boom stel “heerskappy tot aan die einde van die aarde” voor en dit raak die hele koninkryk van die mensdom. Daarom beeld dit Jehovah se universele soewereiniteit af, veral oor die aarde.—Daniël 4:17.
11. Hoe het die koning se droom getoon dat ’n vernederende verandering op hom gewag het?
11 ’n Vernederende verandering het vir Nebukadnesar voorgelê. Daniël het die aandag op hierdie verwikkeling gevestig en verder gesê: “Dat die koning ’n bode, naamlik ’n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy [“wortelstomp”, NW] in die aarde staan, en dit met ’n band van yster en koper in die groen gras van die veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het—dit is die uitlegging, o koning, en dit is die besluit van die Allerhoogste wat oor my heer die koning kom” (Daniël 4:23, 24). Dit het sonder twyfel moed geverg om daardie boodskap aan die magtige koning oor te dra!
12. Wat sou Nebukadnesar oorkom?
12 Wat sou Nebukadnesar oorkom? Stel jou sy reaksie voor toe Daniël verder sê: “Hulle sal u uit die mensdom verstoot [“onder die mense uit verdryf”, NW], en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:25). Blykbaar sou selfs Nebukadnesar se hofdienaars hom “onder die mense uit verdryf”. Maar sou liefdevolle veewagters of herders hom versorg? Nee, want God het bepaal dat Nebukadnesar saam met “die diere van die veld” moes woon en dat hy plante moes eet.
13. Wat het die droom van die boom getoon sou met Nebukadnesar se posisie as wêreldheerser gebeur?
13 Net soos die boom omgekap is, sou Nebukadnesar as wêreldheerser verwyder word—maar net tydelik. Daniël het verduidelik: “Dat hulle bevel gegee het om die [“wortelstomp”, NW] van die boom te laat staan—u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers” (Daniël 4:26). In Nebukadnesar se droom is die wortelstomp van die omgekapte boom toegelaat om daar te bly, al was dit gebind sodat dit nie sou groei nie. Die “wortelstomp” van Babilon se koning sou eweneens bly staan, al sou daar “sewe tydperke” lank gekeer word dat dit uitloop. Sy posisie as wêreldheerser sou wees soos die boomstomp wat gebind was. Dit sou bewaar word totdat sewe tydperke daaroor verbygegaan het. Jehovah sou toesien dat niemand Nebukadnesar gedurende daardie tyd as die alleenheerser van Babilon opvolg nie, hoewel sy seun Evil-Merodag moontlik namens hom as heerser waargeneem het.
14. Wat het Daniël Nebukadnesar aangespoor om te doen?
14 Met die oog op wat aangaande Nebukadnesar voorspel is, het Daniël hom moedig aangespoor: “Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees” (Daniël 4:27). As Nebukadnesar hom van sy sondige weg van onderdrukking en trotsheid sou afkeer, sou sake dalk vir hom anders verloop het. Jehovah het immers sowat twee eeue tevore besluit om die mense van Assirië se hoofstad, Nineve, te vernietig, maar omdat die koning en sy onderdane hulle bekeer het, het hy dit nie gedoen nie (Jona 3:4, 10; Lukas 11:32). Wat van die trotse Nebukadnesar? Sou hy sy weë verander?
DIE EERSTE VERVULLING VAN DIE DROOM
15. (a) Watter gesindheid het Nebukadnesar steeds aan die dag gelê? (b) Wat toon inskripsies in verband met Nebukadnesar se werke?
15 Nebukadnesar het trots gebly. Twaalf maande ná sy droom van die boom het hy op die dak van die paleis geloop en gespog: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” (Daniël 4:28-30). Nimrod het Babilon (Babel) gestig, maar Nebukadnesar het grootheid daaraan verleen (Genesis 10:8-10). In een van sy spykerskrifinskripsies spog hy: “Ek is Nebukadresar, Koning van Babilon, die hersteller van Esagila en Ezida, seun van Nabopolassar. . . . Ek het die verskansings van Esagila en Babilon versterk en die naam van my heerskappy verewig” (Archaeology and the Bible, deur George A. Barton, 1949, bladsye 478-9). ’n Ander inskripsie noem ongeveer 20 tempels wat hy herstel of herbou het. “Onder Nebukadnesar se heerskappy”, sê The World Book Encyclopedia, “het Babilon een van die pragtigste stede van die antieke wêreld geword. Hy het selde in sy eie verslae melding gemaak van sy militêre bedrywighede, maar hy het geskryf van sy bouprojekte en die aandag wat hy aan die gode van Babilon gegee het. Nebukadnesar het moontlik die Hangende Tuine van Babilon, een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld, gebou.”
16. Hoe sou Nebukadnesar verneder word?
16 Al het hy so gespog, sou die trotse Nebukadnesar verneder word. Die geïnspireerde verslag sê: “Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ’n stem uit die hemel: Koning Nebukadnesar, jou word aangesê—die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.”—Daniël 4:31, 32.
17. Wat het met die trotse Nebukadnesar gebeur, en in watter omstandighede het hy hom kort daarna bevind?
17 Nebukadnesar het net daar van sy verstand af geraak. Hy is onder die mensdom uit verdryf en het plante geëet “soos die beeste”. Buite, tussen die diere van die veld, het hy beslis nie heeldag rustig op die grasperke van ’n paradysagtige tuin rondgesit en die verfrissende windjie geniet nie. In hedendaagse Irak, waar die ruïnes van Babilon geleë is, wissel die temperatuur tussen 50 grade Celsius in die somermaande tot ver onder vriespunt in die winter. Omdat Nebukadnesar onversorg en aan wind en weer blootgestel was, het sy lang, saamgekoekte hare later soos die vere van arende gelyk en sy ongeknipte vinger- en toonnaels het soos die kloue van voëls geword (Daniël 4:33). Wat ’n vernedering vir hierdie trotse wêreldheerser!
18. Wat het gedurende die sewe tydperke met die troon van Babilon gebeur?
18 In Nebukadnesar se droom is die groot boom omgekap en sy stomp gebind sodat dit sewe tydperke lank nie boontoe kon groei nie. Op dieselfde manier is Nebukadnesar “van die troon van sy koningskap afgestoot” toe Jehovah hom met kranksinnigheid getref het (Daniël 5:20). Die koning se hart is hierdeur as ’t ware van dié van ’n mens na dié van ’n bees verander. En tog het God Nebukadnesar se troon vir hom bewaar totdat die sewe tydperke geëindig het. Terwyl Evil-Merodag moontlik die tydelike regeringshoof was, het Daniël as “heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel” gedien. Sy drie Hebreeuse metgeselle het steeds ’n aandeel in die bestuur van daardie streek gehad (Daniël 1:11-19; 2:48, 49; 3:30). Die vier ballinge het gewag dat Nebukadnesar tot die troon herstel word as ’n koning wat by sy volle verstand is en geleer het dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil”.
NEBUKADNESAR SE HERSTEL
19. Tot watter besef het Nebukadnesar gekom nadat Jehovah sy geestesgesondheid herstel het?
19 Jehovah het Nebukadnesar se geestesgesondheid aan die einde van sewe tydperke herstel. Die koning het toe erkenning gegee aan die allerhoogste God en gesê: “Ná verloop van tyd het ek, Nebukadnesar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ’n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” (Daniël 4:34, 35). Ja, Nebukadnesar het tot die besef gekom dat die Allerhoogste inderdaad die Soewereine Heerser in die koninkryk van die mensdom is.
20, 21. (a) Watter ooreenkoms was daar tussen die verwydering van die metaalbande rondom die wortelstomp van die boom in die droom en wat met Nebukadnesar gebeur het? (b) Wat het Nebukadnesar erken, en het dit beteken dat hy ’n aanbidder van Jehovah geword het?
20 Toe Nebukadnesar weer op sy troon gesit het, was dit asof die metaalbande rondom die wortelstomp van die boom in die droom verwyder is. Van sy herstel het hy gesê: “In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref—my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg” (Daniël 4:36). As enige hofdienaars die kranksinnige koning verag het, het hulle hom nou in absolute onderdanigheid “opgesoek”.
21 Watter “tekens en wonders” het die allerhoogste God tog gedoen! Dit behoort ons nie te verbaas nie dat die herstelde Babiloniese koning gesê het: “Nou prys ek, Nebukadnesar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel” (Daniël 4:2, 37). So ’n erkenning het egter nie beteken dat Nebukadnesar ’n nie-Joodse aanbidder van Jehovah geword het nie.
IS DAAR SEKULÊRE BEWYS?
22. As watter versteuring het party Nebukadnesar se geestesiekte geïdentifiseer, maar wat moet ons aangaande die oorsaak van sy versteuring besef?
22 Party het Nebukadnesar se kranksinnigheid as weerwolfswaansin geïdentifiseer. Een mediese woordeboek sê: “WEERWOLFSWAANSIN . . . Hierdie naam is aan die siekte gegee van mense wat dink dat hulle in ’n dier verander het, en wat die geluid, die liggaamshouding of gedrag van daardie dier naboots. Hierdie mense dink gewoonlik dat hulle in ’n wolf, ’n hond of ’n kat verander het; soms ook in ’n bees, soos in die geval van Nebukadnesar” (Dictionnaire des sciences médicales, par une société de médicins et de chirurgiens, Parys, 1818, Deel 29, bladsy 246). Die simptome van weerwolfswaansin is soortgelyk aan dié van Nebukadnesar in sy versteurde toestand. Maar aangesien sy geestesiekte deur God oor hom gebring is, kan dit nie met sekerheid as enige bekende siekte geïdentifiseer word nie.
23. Watter sekulêre getuienis is daar van Nebukadnesar se kranksinnigheid?
23 Die geleerde John E. Goldingay noem ’n paar dinge wat met die kranksinnigheid en herstel van Nebukadnesar ooreenstem. Hy sê byvoorbeeld: “’n Fragment van ’n spykerskrifteks verwys blykbaar na die een of ander geestesiekte van Nebukadnesar en moontlik na die feit dat hy Babilon verwaarloos en verlaat het.” Goldingay haal ’n dokument aan wat “Die Babiloniese Job” genoem word en sê dat dit “daarvan getuig dat hy deur God gestraf is, siek was, verneder is, gesoek het na die uitlegging van ’n skrikwekkende droom, omvergewerp is soos ’n omgekapte boom, na buite toe verdryf is, dat hy gras geëet het, sy verstand verloor het, soos ’n os was, dat Mardoek op hom gereën het, dat sy naels beskadig is, sy hare gegroei het, dat hy geboei is en toe herstel is, waarvoor hy die god loof”.
SEWE TYDPERKE WAT ONS RAAK
24. (a) Wat stel die groot boom in die droom voor? (b) Wat is sewe tydperke lank beperk, en hoe het dit gebeur?
24 Net soos die groot boom wêreldheerskappy voorgestel het, het Nebukadnesar dit ook voorgestel. Maar onthou dat die boom vir heerskappy en soewereiniteit staan wat ver verhewe is bo dié van Babilon se koning. Dit verteenwoordig die universele soewereiniteit van Jehovah, “die Koning van die hemel”, veral oor die aarde. Voor die Babiloniërs Jerusalem vernietig het, was die setel van die koninkryk in daardie stad, waar Dawid en sy erfgename op “die troon van die HERE” gesit het en God se soewereiniteit oor die aarde verteenwoordig het (1 Kronieke 29:23). God self het hierdie soewereiniteit in 607 v.G.J. laat omkap en bind toe hy Nebukadnesar gebruik het om Jerusalem te vernietig. Die uitoefening van Goddelike soewereiniteit oor die aarde deur ’n koninkryk in die lyn van Dawid is sewe tydperke lank beperk. Hoe lank was hierdie sewe tydperke? Wanneer het dit begin, en wat het die einde daarvan aangedui?
25, 26. (a) Hoe lank was die “sewe tydperke” in Nebukadnesar se geval, en waarom sê jy so? (b) Wanneer en hoe het die “sewe tydperke” in die groter vervulling begin?
25 In die tyd toe Nebukadnesar kranksinnig was, het “sy hare lank geword . . . soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls” (Daniël 4:33). Dit het langer geneem as sewe dae of sewe weke. Etlike vertalings gebruik “sewe tydperke”, en alternatiewe daarvoor is “vasgestelde (definitiewe) tye” of “periodes” (Daniël 4:16, 23, 25, 32). ’n Variant van die Ou Grieks (Septuagint) sê “sewe jare”. Die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josefus het die “sewe tydperke” as “sewe jare” beskou (Antiquities of the Jews, Deel 10, hoofstuk 10, paragraaf 6). En sekere Hebreeuse geleerdes het gesê dat hierdie “tydperke” “jare” was. “Sewe jare” is die vertaling in An American Translation, Today’s English Version en die vertaling deur James Moffatt.
26 Nebukadnesar se “sewe tydperke” het klaarblyklik sewe jaar lank geduur. In profesieë het ’n jaar gemiddeld 360 dae, of 12 maande van 30 dae elk. (Vergelyk Openbaring 12:6, 14.) Die koning se “sewe tydperke”, of sewe jare, was dus 360 dae vermenigvuldig met 7, of 2 520 dae lank. Maar wat van die groter vervulling van sy droom? Die profetiese “sewe tydperke” het baie langer as 2 520 dae geduur. Dit is aangedui deur Jesus se woorde: “Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, tot die vasgestelde tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). Daardie ‘vertrapping’ het in 607 v.G.J. begin toe Jerusalem vernietig is en die tipiese koninkryk van God opgehou het om in Juda te bestaan. En wanneer sou die vertrapping eindig? Met “die tye van die herstel van alle dinge”, wanneer God se soewereiniteit weer deur die simboliese Jerusalem, die Koninkryk van God, oor die aarde uitgeoefen word.—Handelinge 3:21.
27. Waarom sou jy sê dat die “sewe tydperke” wat in 607 v.G.J. begin het nie 2 520 letterlike dae later geëindig het nie?
27 As ons 2 520 letterlike dae van Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. af tel, bring dit ons maar tot by 600 v.G.J., ’n jaar wat geen skriftuurlike betekenis het nie. Selfs in 537 v.G.J., toe die bevryde Jode terug was in Juda, is Jehovah se soewereiniteit nie oor die aarde uitgeoefen nie. Dit was omdat Serubbabel, die erfgenaam van Dawid se troon, nie koning nie, maar net ’n goewerneur van die Persiese provinsie Juda gemaak is.
28. (a) Watter reël moet op die 2 520 dae van die profetiese “sewe tydperke” toegepas word? (b) Hoe lank was die profetiese “sewe tydperke”, en wanneer het dit begin en geëindig?
28 Aangesien die “sewe tydperke” profeties is, moet ons die skriftuurlike reël: “’n Dag vir ’n jaar”, op die 2 520 dae toepas. Hierdie reël word in ’n profesie aangaande die Babiloniese beleëring van Jerusalem uiteengesit. (Esegiël 4:6, 7, NW; vergelyk Numeri 14:34.) Die “sewe tydperke” van die aarde se oorheersing deur heidense moondhede sonder inmenging deur God se Koninkryk het dus 2 520 jaar geduur. Dit het begin toe Juda en Jerusalem in die sewende maanmaand (15 Tisjri) van 607 v.G.J. verwoes is (2 Konings 25:8, 9, 25, 26). Van daardie tyd af tot 1 v.G.J. is 606 jaar. Die oorblywende 1 914 jaar strek van toe af tot by 1914 G.J. Die “sewe tydperke”, of 2 520 jaar, het dus teen 15 Tisjri, of 4/5 Oktober, 1914 G.J. geëindig.
29. Wie is “die geringste onder die mense”, en wat het Jehovah gedoen om hom op die troon te plaas?
29 In daardie jaar is “die vasgestelde tye van die nasies” vervul, en God het die heerskappy gegee aan “die nederige [“geringste”, NW] onder die mense”—Jesus Christus—wat deur sy vyande as so veragtelik beskou is dat hulle hom selfs aan ’n folterpaal laat hang het (Daniël 4:17). Om die Messiaanse Koning op die troon te plaas, het Jehovah die simboliese yster- en koperbande om die “wortelstomp” van sy eie soewereiniteit losgemaak. Die allerhoogste God het dus ’n koninklike “loot” daaruit laat groei as ’n openbaring van Goddelike soewereiniteit oor die aarde deur middel van die hemelse Koninkryk in die hande van Dawid se grootste Erfgenaam, Jesus Christus (Jesaja 11:1, 2; Job 14:7-9; Esegiël 21:27). Hoe dankbaar is ons tog teenoor Jehovah vir hierdie geseënde afloop van sake en omdat hy die geheim van die groot boom verklaar het!
WAT HET JY GELEER?
• Wat het die groot boom van Nebukadnesar se droom voorgestel?
• Wat het Nebukadnesar oorgekom tydens die eerste vervulling van sy droom oor die boom?
• Wat het Nebukadnesar erken ná die vervulling van sy droom?
• Hoe lank was die “sewe tydperke” in die groter vervulling van die profetiese droom oor die boom, en wanneer het dit begin en geëindig?
[Volbladillustrasie op bladsy 83]
[Volbladillustrasie op bladsy 91]