Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dp hfst. 15 bl. 256-269
  • Die mededingende konings in die 20ste eeu

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die mededingende konings in die 20ste eeu
  • Gee ag op Daniël se profesie!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GENEIG “OM KWAAD TE DOEN”
  • “TEEN DIE HEILIGE VERBOND”
  • DIE KONING RAAK “MOEDELOOS” IN ’N OORLOG
  • DIE KONING ‘TREE DOELTREFFEND OP’
  • DIE “LEËRS” GAAN VAN DIE KONING UIT
  • ‘DIE WALGLIKE DING WORD OPGESTEL’
  • ’n Koning ontheilig Jehovah se heiligdom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “Die koning van die noorde” in die tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Die strydende konings nader hulle einde
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • ‘Geen vrede vir die goddeloses nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Gee ag op Daniël se profesie!
dp hfst. 15 bl. 256-269

Hoofstuk vyftien

Die mededingende konings in die 20ste eeu

1. Wie was volgens een geskiedkundige die leiers van 19de-eeuse Europa?

“DAAR is ’n dinamiek in negentiende-eeuse Europa wat enigiets wat voorheen bekend was ver oortref”, skryf die geskiedkundige Norman Davies. Hy voeg by: “Europa het gepols met krag soos nooit tevore nie: tegniese krag, ekonomiese krag, kulturele krag, interkontinentale krag.” Die leiers van “Europa se triomfantelike ‘krageeu’”, sê Davies, “was in die eerste plek Groot-Brittanje . . . en in die latere dekades Duitsland.”

GENEIG “OM KWAAD TE DOEN”

2. Watter moondhede was aan die einde van die 19de eeu “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide”?

2 Toe die 19de eeu sy einde genader het, was die Duitse Ryk “die koning van die Noorde” en Brittanje “die koning van die Suide” (Daniël 11:14, 15). “Wat die twee konings betref”, het Jehovah se engel gesê, “hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek.” Hy het voortgegaan: “Maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees.”—Daniël 11:27.

3, 4. (a) Wie het die eerste keiser van die Duitse Ryk geword, en watter bondgenootskap is gevorm? (b) Watter beleid het keiser Wilhelm gevolg?

3 Op 18 Januarie 1871 het Wilhelm I die eerste keiser van die Duitse Ryk geword. Hy het Otto von Bismarck as kanselier aangestel. Bismarck het hom daarop toegelê om die nuwe ryk op te bou en het konflikte met ander nasies vermy. Hy het ook ’n bondgenootskap met Oostenryk-Hongarye en Italië gevorm, wat as die Drievoudige Verbond bekend gestaan het. Maar die belange van hierdie nuwe koning van die Noorde het sommer gou met dié van die koning van die Suide gebots.

4 Nadat Wilhelm I en sy opvolger, Frederik III, in 1888 gesterf het, het die 29-jarige Wilhelm II die troon bestyg. Wilhelm II, of keiser Wilhelm, het Bismarck gedwing om te bedank en het ’n beleid gevolg waarvolgens hy Duitsland se invloed dwarsdeur die wêreld uitgebrei het. “Onder Wilhelm II”, sê een geskiedskrywer, “het [Duitsland] ’n arrogante en veglustige gesindheid geopenbaar.”

5. Hoe het die twee konings “aan een tafel” gesit, en waaroor het hulle daar gepraat?

5 Toe Tsaar Nikolaas II van Rusland op 24 Augustus 1898 ’n vredeskonferensie in Den Haag, Nederland, gehou het, het ’n atmosfeer van internasionale spanning geheers. Hierdie konferensie en die een wat in 1907 daarop gevolg het, het daartoe gelei dat die Permanente Arbitrasiehof in Den Haag gestig is. Deur lede van hierdie hof te word, het die Duitse Ryk sowel as Groot-Brittanje dit laat lyk asof hulle ten gunste van vrede was. Hulle het “aan een tafel” gesit en voorgegee dat hulle mekaar goedgesind is, maar ‘hulle hart was om kwaad te doen’. Die diplomatieke taktiek om ‘aan een tafel leuens te spreek’ kon nie ware vrede bring nie. Wat hulle ambisie op politieke, handels- en militêre gebied betref, ‘dit sou nie geluk nie’, want die einde van die twee konings “sal eers op die vasgestelde tyd wees”, dit wil sê op Jehovah God se vasgestelde tyd.

“TEEN DIE HEILIGE VERBOND”

6, 7. (a) Hoe het die koning van die Noorde ‘na sy land teruggegaan’? (b) Hoe het die koning van die Suide op die uitbreiding van die koning van die Noorde se invloed gereageer?

6 God se engel gaan voort en sê: “En hy [die koning van die Noorde] sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan.”—Daniël 11:28.

7 Keiser Wilhelm het na die “land”, of aardse toestand, van die eertydse koning van die Noorde teruggekeer. Hoe? Deur ’n keiserlike heerskappy tot stand te bring wat die Duitse Ryk en sy invloed sou uitbrei. Wilhelm II het koloniale doelwitte in Afrika en ander plekke nagestreef. Hy wou die Britse oppermag op see uitdaag en het ’n sterk vloot opgebou. “Duitsland se seemag het in bietjie meer as ’n dekade uitgebrei van iets gerings tot een wat slegs aan dié van Brittanje ondergeskik was”, sê The New Encyclopædia Britannica. Om sy oppermag te behou, moes Brittanje ook sy vloot uitbrei. Brittanje het ook die entente cordiale (vriendskaplike verstandhouding) met Frankryk gesluit, sowel as ’n soortgelyke ooreenkoms met Rusland, waarvolgens die Drievoudige Entente gevorm is. Europa was nou in twee militêre kampe verdeel—die Drievoudige Verbond aan die een kant en die Drievoudige Entente aan die ander.

8. Hoe het die Duitse Ryk “baie goed” verkry?

8 Die Duitse Ryk het ’n aggressiewe beleid gevolg wat “baie goed” na Duitsland laat kom het, aangesien hy die vernaamste lid van die Drievoudige Verbond was. Oostenryk-Hongarye en Italië was albei Rooms-Katoliek. Gevolglik het die Drievoudige Verbond ook pouslike guns geniet, terwyl die koning van die Suide, met sy grotendeels nie-Katolieke Drievoudige Entente, dit nie gehad het nie.

9. Hoe was die koning van die Noorde in sy hart “teen die heilige verbond”?

9 Wat van Jehovah se volk? Hulle het al lank gesê dat “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 sou eindig (Lukas 21:24).a In daardie jaar is God se Koninkryk in die hande van koning Dawid se Erfgenaam, Jesus Christus, in die hemel opgerig (2 Samuel 7:12-16; Lukas 22:28, 29). Die Watch Tower het al in Maart 1880 die heerskappy van God se Koninkryk met die einde van “die vasgestelde tye van die nasies”, of “die tye van die Heidene”, gekoppel (King James Version). Maar die hart van die Germaanse koning van die Noorde was ‘teen die heilige Koninkryksverbond’. Pleks van die Koninkryksheerskappy te erken, het keiser Wilhelm doeltreffend ‘opgetree’ deur sy planne vir wêreldoorheersing voort te sit. Sodoende het hy egter die weg vir die Eerste Wêreldoorlog gebaan.

DIE KONING RAAK “MOEDELOOS” IN ’N OORLOG

10, 11. Hoe het die Eerste Wêreldoorlog begin, en hoe was dit “op die vasgestelde tyd”?

10 “Op die vasgestelde tyd sal hy [die koning van die Noorde] terugkeer en in die Suide kom”, het die engel voorspel, “maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie” (Daniël 11:29). God se “vasgestelde tyd” om Heidense oorheersing oor die aarde te beëindig, het in 1914 aangebreek toe hy die hemelse Koninkryk opgerig het. Op 28 Junie van daardie jaar is die Oostenrykse aartshertog Frans Ferdinand en sy vrou deur ’n Serwiese terroris in Sarajevo, Bosnië, vermoor. Dit was die vonk wat die Eerste Wêreldoorlog laat ontvlam het.

11 Keiser Wilhelm het Oostenryk-Hongarye aangespoor om weerwraak op Serwië te neem. Verseker van Duitse ondersteuning het Oostenryk-Hongarye op 28 Julie 1914 teen Serwië oorlog verklaar. Maar Rusland het Serwië te hulp gekom. Toe Duitsland teen Rusland oorlog verklaar, het Frankryk (’n bondgenoot in die Drievoudige Entente) Rusland gesteun. Daarna het Duitsland teen Frankryk oorlog verklaar. Sodat Parys makliker toeganklik sou wees, het Duitsland België, wie se neutraliteit deur Brittanje verseker is, binnegeval. Gevolglik het Brittanje teen Duitsland oorlog verklaar. Ander nasies het by die stryd betrokke geraak, en Italië het sy lojaliteit verander. Gedurende die oorlog het Brittanje Egipte tot ’n protektoraat verklaar om te verhoed dat die koning van die Noorde die Suez-kanaal afsny en Egipte, die eertydse land van die koning van die Suide, inval.

12. Hoe was dit gedurende die Eerste Wêreldoorlog ‘nie soos die eerste keer nie’?

12 “Ondanks die grootte en mag van die Geallieerdes”, sê The World Book Encyclopedia, “het dit gelyk of Duitsland op die punt gestaan het om die oorlog te wen.” In vorige konflikte tussen die twee konings het die Romeinse Ryk, as die koning van die Noorde, altyd die oorwinning behaal. Maar hierdie keer ‘was dit nie soos die eerste keer nie’. Die koning van die Noorde het die oorlog verloor. Die engel het die rede hiervoor verstrek en gesê: “Skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word” (Daniël 11:30a). Wat was die “skepe van die Kittiërs”?

13, 14. (a) Hoofsaaklik wat was die “skepe van die Kittiërs”, wat teen die koning van die Noorde gekom het? (b) Hoe het daar gedurende die verloop van die oorlog meer skepe van die Kittiërs gekom?

13 Die land Kittim van Daniël se tyd was Siprus. Vroeg in die Eerste Wêreldoorlog het Brittanje Siprus geannekseer. Daarbenewens word die naam Kittim volgens The Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible “in breër sin gebruik sodat dit die W[este] oor die algemeen, maar veral die seevarende W[este], insluit”. Die New International Version gee die uitdrukking “skepe van die Kittiërs” as “skepe van die westelike kusgebiede” weer. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was die skepe van die Kittiërs hoofsaaklik Brittanje se skepe, wat langs die weskus van Europa gelê het.

14 Gedurende die verloop van die oorlog is die Britse vloot versterk deur meer skepe van die Kittiërs. Op 7 Mei 1915 het die Duitse duikboot U-20 die burgerlike lynboot Lusitania naby die suidkus van Ierland gekelder. Onder dié wat gesterf het, was 128 Amerikaners. Later het Duitsland duikbootoorlogvoering tot in die Atlantiese Oseaan uitgebrei. As gevolg daarvan het die Amerikaanse president Woodrow Wilson op 6 April 1917 oorlog teen Duitsland verklaar. Versterk deur Amerikaanse oorlogskepe en troepe was die koning van die Suide—nou die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid—ten volle in die stryd teen sy mededingende koning gewikkel.

15. Wanneer het die koning van die Noorde “moedeloos” geword?

15 Onder die aanval van die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid het die koning van die Noorde “moedeloos” geword en in November 1918 die stryd gewonne gegee. Wilhelm II het in ballingskap na Nederland gegaan en Duitsland het ’n republiek geword. Maar dit was nog nie die einde van die koning van die Noorde nie.

DIE KONING ‘TREE DOELTREFFEND OP’

16. Hoe sou die koning van die Noorde volgens die profesie op sy nederlaag reageer?

16 “Dan sal hy [die koning van die Noorde] teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree [“doeltreffend optree”, NW]; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het” (Daniël 11:30b). Die engel het dit so voorspel, en so het dit gebeur.

17. Wat het aanleiding gegee tot die opkoms van Adolf Hitler?

17 Nadat die oorlog in 1918 tot ’n einde gekom het, het die seëvierende Geallieerdes ’n vredesooreenkoms as straf op Duitsland afgedwing. Die voorwaardes van die ooreenkoms was ’n swaar las op die Duitse volk, en die nuwe republiek was uit die staanspoor swak. Duitsland het etlike jare lank weens ernstige probleme gewankel en het die Groot Depressie deurgemaak wat uiteindelik sesmiljoen werkloos gelaat het. Teen die vroeë 1930’s was toestande reg vir die opkoms van Adolf Hitler. Hy het in Januarie 1933 kanselier geword en het die daaropvolgende jaar die president geword van wat die Nazi’s die Derde Ryk genoem het.b

18. Hoe het Hitler ‘doeltreffend opgetree’?

18 Onmiddellik nadat Hitler aan die bewind gekom het, het hy ’n verwoede aanval teen “die heilige verbond” gerig, wat verteenwoordig is deur die gesalfde broers van Jesus Christus (Matteus 25:40). In hierdie opsig het hy “doeltreffend” teen hierdie lojale Christene opgetree en baie van hulle wreed vervolg. Hitler het op ekonomiese en diplomatieke gebied sukses behaal en het ook op daardie gebiede “doeltreffend” opgetree. Binne ’n paar jaar het hy Duitsland ’n belangrike moondheid op die wêreldtoneel gemaak.

19. By wie het Hitler ondersteuning gesoek?

19 Hitler het ‘ag gegee op die wat die heilige verbond versaak het’. Wie was dit? Klaarblyklik was dit die leiers van die Christendom, wat beweer het dat hulle ’n verbondsverhouding met God het, maar wat nie meer dissipels van Jesus Christus was nie. Hitler het ’n suksesvolle beroep gedoen op die ondersteuning van “die wat die heilige verbond versaak het”. Hy het byvoorbeeld ’n konkordaat met die pous in Rome aangegaan. In 1935 het Hitler die Departement van Kerksake in die lewe geroep. Een van sy doelstellings was om Evangeliese kerke onder staatsbeheer te kry.

DIE “LEËRS” GAAN VAN DIE KONING UIT

20. Wat was die “leërs” wat deur die koning van die Noorde gebruik is, en teen wie het hy geveg?

20 Hitler het kort daarna begin oorlog voer, net soos die engel voorspel het: “Deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf” (Daniël 11:31a). Hierdie “leërs” was die krygsmag wat deur die koning van die Noorde gebruik is om gedurende die Tweede Wêreldoorlog teen die koning van die Suide te veg. Op 1 September 1939 het Nazi-“leërs” Pole binnegeval. Twee dae daarna het Brittanje en Frankryk teen Duitsland oorlog verklaar om Pole te help. So het die Tweede Wêreldoorlog begin. Pole het gou geval, en kort daarna het Duitse magte Denemarke, Noorweë, Nederland, België, Luxemburg en Frankryk beset. “Teen die einde van 1941”, sê The World Book Encyclopedia, “het Nazi-Duitsland die vasteland oorheers.”

21. Hoe het sake gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n negatiewe wending vir die koning van die Noorde geneem, en wat was die gevolg?

21 Al het Duitsland en die Sowjetunie ’n Vriendskaps-, Samewerkings- en Grensverdrag aangegaan, het Hitler Sowjetgebied op 22 Junie 1941 binnegeval. Hierdie daad het die Sowjetunie aan Brittanje se kant laat kom. Die Sowjetleër het sterk weerstand gebied ondanks die indrukwekkende vroeë sukses deur die Duitse magte. Hulle het selfs op 6 Desember 1941 die Duitse leër by Moskou verslaan. Die volgende dag het Duitsland se bondgenoot Japan ’n bomaanval op Pearl Harbor, Hawaii, geloods. Toe Hitler hiervan hoor, het hy vir sy adjudante gesê: “Dit is nou vir ons onmoontlik om die oorlog te verloor.” Op 11 Desember het hy oorhaastig besluit om teen die Verenigde State oorlog te verklaar. Maar hy het die krag van die Sowjetunie sowel as die Verenigde State onderskat. Met die Sowjetleër wat uit die ooste aanval en die Britse en Amerikaanse magte wat uit die weste naderkom, het sake gou ’n negatiewe wending vir Hitler geneem. Duitse magte het die een gebied na die ander begin verloor. Ná Hitler selfmoord gepleeg het, het Duitsland op 7 Mei 1945 aan die Geallieerdes oorgegee.

22. Hoe het die koning van die Noorde ‘die heiligdom ontheilig en die voortdurende offer afgeskaf’?

22 “[Die Nazi-leërs sal] die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf”, het die engel gesê. In eertydse Juda was die heiligdom deel van die tempel in Jerusalem. Maar toe die Jode Jesus verwerp het, het Jehovah hulle en hulle tempel verwerp (Matteus 23:37–24:2). Sedert die eerste eeu G.J. is Jehovah se tempel in werklikheid ’n geestelike tempel, met sy allerheiligste in die hemel en ’n geestelike voorhof op die aarde, waarin die gesalfde broers van Jesus, die Hoëpriester, dien. Van die 1930’s af het die “groot skare” saam met die gesalfde oorblyfsel aanbid en kan daar dus gesê word dat hulle ‘in God se tempel’ dien (Openbaring 7:9, 15; 11:1, 2; Hebreërs 9:11, 12, 24). In lande onder die beheer van die koning van die Noorde het hy die aardse voorhof van die tempel ontheilig deur die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle genadeloos te vervolg. Hierdie vervolging was so wreed dat “die voortdurende offer”—die openbare lofofferande tot Jehovah se naam—afgeskaf is (Hebreërs 13:15). Maar ondanks verskriklike lyding het getroue gesalfde Christene saam met die “ander skape” gedurende die Tweede Wêreldoorlog aangehou om die predikingswerk te doen.—Johannes 10:16.

‘DIE WALGLIKE DING WORD OPGESTEL’

23. Wat was “die walglike ding” in die eerste eeu?

23 Toe die Tweede Wêreldoorlog sy einde genader het, het iets anders plaasgevind, net soos God se engel voorspel het. “Hulle sal . . . die ontsettende gruwel [“die walglike ding wat verwoesting veroorsaak”, NW] opstel” (Daniël 11:31b). Jesus het ook van “die walglike ding” gepraat. In die eerste eeu was dit die Romeinse leër wat in 66 G.J. na Jerusalem gekom het om die Joodse opstand te onderdruk.c—Matteus 24:15; Daniël 9:27, vgl. NW.

24, 25. (a) Wat is “die walglike ding” in hedendaagse tye? (b) Wanneer en hoe is ‘die walglike ding opgestel’?

24 Watter “walglike ding” is in hedendaagse tye ‘opgestel’? Dit is klaarblyklik ’n “walglike” vervalsing van God se Koninkryk. Dit was die Volkebond, die skarlakenkleurige wilde dier wat in die afgrond ingegaan het, of wat toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, opgehou het om as ’n organisasie vir wêreldvrede te bestaan (Openbaring 17:8). “Die wilde dier” sou egter ‘uit die afgrond opkom’. Dit het gebeur toe die Verenigde Nasies, met 50 lidlande, onder andere die voormalige Sowjetunie, op 24 Oktober 1945 gestig is. So is “die walglike ding” wat die engel voorspel het—die Verenigde Nasies—opgestel.

25 Duitsland was gedurende albei wêreldoorloë ’n vername vyand van die koning van die Suide en was self die koning van die Noorde. Wie sou daardie posisie hierna beklee?

[Voetnote]

a Sien Hoofstuk 6 van hierdie boek.

b Die Heilige Romeinse Ryk was die eerste ryk, en die Duitse Ryk die tweede.

c Sien Hoofstuk 11 van hierdie boek.

WAT HET JY GELEER?

• Watter moondhede was aan die einde van die 19de eeu die koning van die Noorde en die koning van die Suide?

• Hoe was die uitslag van die stryd tydens die Eerste Wêreldoorlog vir die koning van die Noorde ‘nie soos die eerste keer nie’?

• Hoe het Hitler Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog ’n belangrike moondheid op die wêreldtoneel gemaak?

• Wat was die gevolg van die mededinging tussen die koning van die Noorde en die koning van die Suide gedurende die Tweede Wêreldoorlog?

[Tabel/Prente op bladsy 268]

KONINGS IN DANIËL 11:27-31

Die koning Die koning

van die Noorde van die Suide

Daniël 11:27-30a Duitse Ryk Brittanje, daarna die

(Eerste Wêreldoorlog) Anglo-Amerikaanse

Wêreldmoondheid

Daniël 11:30b, 31 Hitler se Derde Ryk Anglo-Amerikaanse

(Tweede Wêreldoorlog) Wêreldmoondheid

[Prent]

President Woodrow Wilson saam met koning George V

[Prent]

Baie Christene is in konsentrasiekampe vervolg

[Prent]

Leiers in die Christendom het Hitler ondersteun

[Prent]

Motor waarin aartshertog Ferdinand vermoor is

[Prent]

Duitse soldate, Eerste Wêreldoorlog

[Prent op bladsy 257]

By Jalta in 1945 het die Britse eerste minister Winston Churchill, die Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt en die Russiese premier Josef Stalin op planne ooreengekom om Duitsland te beset, ’n nuwe regering in Pole te vorm en ’n konferensie te hou om die Verenigde Nasies te stig

[Prente op bladsy 258]

1. Aartshertog Ferdinand 2. Duitse vloot 3. Britse vloot 4. Lusitania 5. Amerikaanse oorlogsverklaring

[Prente op bladsy 263]

Adolf Hitler was oortuig van oorwinning toe Duitsland se oorlogsbondgenoot Japan ’n bomaanval op Pearl Harbor geloods het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel