Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 11/1 bl. 13-18
  • ’n Koning ontheilig Jehovah se heiligdom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Koning ontheilig Jehovah se heiligdom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Konflik in die tyd van die einde
  • Die koning verloor ’n oorlog
  • Die koning tree doeltreffend op
  • “Die ontsettende gruwel”
  • Die koning en die verbond
  • ’n Reiniging vir God se volk
  • Die strydende konings nader hulle einde
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Die mededingende konings in die 20ste eeu
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • “Die koning van die noorde” in die tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • ‘Geen vrede vir die goddeloses nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 11/1 bl. 13-18

’n Koning ontheilig Jehovah se heiligdom

“Wat die volk betref wat hulle God ken, hulle sal seëvier.”—DANIËL 11:32, NW.

1, 2. Watter dramatiese konflik is al meer as 2 000 jaar kenmerkend van die mensegeskiedenis?

TWEE mededingende konings is in ’n verbete stryd om oppermag gewikkel. Eers kry die een en dan die ander die oorhand in hierdie stryd wat al meer as tweeduisend jaar duur. In ons dag het die stryd al ’n uitwerking op die meeste mense op aarde gehad, en dit het die onkreukbaarheid van God se volk op die proef gestel. Dit eindig met ’n gebeurtenis wat nie deur een van die twee magte verwag word nie. Hierdie dramatiese geskiedenis wat vooruit gegee is, is aan die eertydse profeet Daniël geopenbaar.—Daniël, hoofstukke 10 tot 12.

2 Die profesie het te doen met die voortgesette vyandskap tussen die koning van die noorde en die koning van die suide en is breedvoerig bespreek in die boek “Laat u wil geskied op aarde”.a In daardie boek is daar getoon dat die koning van die noorde oorspronklik Sirië, ten noorde van Israel, was. Daarna is die rol deur Rome oorgeneem. Die koning van die suide was aanvanklik Egipte.

Konflik in die tyd van die einde

3. Wanneer sou die profesie oor die koning van die noorde en die koning van die suide volgens die engel verstaan word, en hoe?

3 Die engel wat hierdie dinge aan Daniël geopenbaar het, het gesê: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder” (Daniël 12:4). Ja, die profesie het betrekking op die tyd van die einde—’n tydperk wat in 1914 begin het. Gedurende daardie spesifieke tyd sal baie die Heilige Skrif “deursoek” en met behulp van die heilige gees sal ware kennis, onder andere ’n begrip van Bybelprofesieë, vermeerder (Spreuke 4:18). Namate ons dieper in daardie tyd inbeweeg, word al hoe meer besonderhede oor Daniël se profesieë opgeklaar. Hoe moet ons dan, in 1993, nou 35 jaar ná die uitreiking van die boek “Laat u wil geskied op aarde”, die profesie oor die koning van die noorde en die koning van die suide verstaan?

4, 5. (a) Waar vind ons die jaar 1914 in Daniël se profesie oor die koning van die noorde en die koning van die suide? (b) Wat sou volgens die engel in 1914 gebeur?

4 Die begin van die tyd van die einde in 1914 is gekenmerk deur die Eerste Wêreldoorlog en die ander wêreldbenoudhede wat Jesus voorspel het (Mattheüs 24:3, 7, 8). Kan ons daardie jaar in Daniël se profesie vind? Ja. Die begin van die tyd van die einde is “die vasgestelde tyd” waarvan Daniël 11:29 praat. (Sien “Laat u wil geskied op aarde”, bladsye 270-1.) Dit was ’n tyd wat Jehovah in Daniël se dag reeds vasgestel het, aangesien dit aan die einde van die 2 520 jaar gekom het waarna die belangrike profesie in Daniël hoofstuk 4 verwys.

5 Daardie 2 520 jaar, van die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. tydens Daniël se jeug tot 1914 G.J., is “die vasgestelde tye van die nasies” genoem (Lukas 21:24, NW). Watter politieke gebeurtenisse sou die einde daarvan kenmerk? ’n Engel het dit aan Daniël geopenbaar. Die engel het gesê: “Op die vasgestelde tyd sal hy [die koning van die noorde] terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie.”—Daniël 11:29.

Die koning verloor ’n oorlog

6. Wie was in 1914 die koning van die noorde, en wie was die koning van die suide?

6 Teen 1914 het Duitsland onder leiding van Kaiser Wilhelm die rol van die koning van die noorde oorgeneem. (“Kaiser”, van die Romeinse titel “Keiser”.) Die uitbreek van vyandelikhede in Europa was maar net nog ’n konfrontasie tussen die koning van die noorde en die koning van die suide. Die rol van laasgenoemde, die koning van die suide, is in daardie stadium deur Brittanje vervul, wat Egipte, die domein van die oorspronklike koning van die suide, gou verower het. Later in die oorlog het Brittanje se voormalige kolonie, die Verenigde State van Amerika, by hom aangesluit. Die koning van die suide het die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, die magtigste ryk in die geskiedenis, geword.

7, 8. (a) Hoe was dinge tydens die Eerste Wêreldoorlog ‘nie soos die eerste keer nie’? (b) Wat was die resultaat van die Eerste Wêreldoorlog, maar hoe het die koning van die Noorde volgens die profesie gereageer?

7 Tydens vorige konflikte tussen die twee konings het die Romeinse Ryk, as die koning van die noorde, deurgaans geseëvier. Hierdie keer ‘was dinge nie soos die eerste keer nie’. Waarom nie? Omdat die koning van die noorde die oorlog verloor het. Een rede was dat die “skepe van die Kittiërs” teen die koning van die noorde gekom het (Daniël 11:30). Wat was hierdie skepe? In Daniël se tyd was Kittim Ciprus, en Ciprus is vroeg in die Eerste Wêreldoorlog deur Brittanje geannekseer. Daarbenewens word die naam Kittim volgens The Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible “in ’n breër sin gebruik sodat dit die W[este] oor die algemeen, maar veral die seevarende W[este], insluit”. Die New International Version gee die uitdrukking “skepe van die Kittiërs” as “skepe van die westelike kusgebiede” weer. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was die skepe van Kittim Brittanje se skepe wat langs die weskus van Europa gelê het. Die Britse Vloot is later deur die skepe van die westelike vasteland van Noord-Amerika versterk.

8 Die koning van die noorde het tydens hierdie aanval “moedeloos” geword en in 1918 oorgegee. Maar hy was nie klaar nie. “Dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en [“doeltreffend”, NW] optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het” (Daniël 11:30). Dit is wat die engel voorspel het, en dit is wat gebeur het.

Die koning tree doeltreffend op

9. Wat het tot die opkoms van Adolf Hitler gelei, en hoe het hy ‘doeltreffend opgetree’?

9 Ná die oorlog, in 1918, het die seëvierende Geallieerdes ’n strawwe vredesverdrag aan Duitsland opgedwing wat blykbaar ontwerp was om die Duitse volk vir die onbepaalde toekoms in ’n toestand van byna-verhongering te hou. Nadat Duitsland gevolglik etlike jare onder uiters moeilike omstandighede gesukkel het, was hulle gereed vir die opkoms van Adolf Hitler. In 1933 het hy oppermag verkry en onmiddellik “die heilige verbond”, wat deur die gesalfde broers van Jesus Christus verteenwoordig is, wreed aangeval. Hy het sodoende doeltreffend teen hierdie lojale Christene opgetree en baie van hulle wreed vervolg.

10. Met wie het Hitler ter wille van steun ’n bondgenootskap aangegaan, en wat was die gevolge?

10 Hitler het op ekonomiese en diplomatieke gebied welslae geniet en het dus in daardie opsig ook doeltreffend opgetree. Binne ’n paar jaar het hy Duitsland opgebou tot ’n mag waarmee daar rekening gehou moes word, en diegene wat “die heilige verbond versaak het”, het hom hiermee gehelp. Wie was hulle? Klaarblyklik die leiers van die Christendom, wat beweer het dat hulle in ’n verbondsverhouding met God was, maar wat lank reeds nie meer dissipels van Jesus Christus was nie. Hitler het met welslae ’n beroep om steun gedoen op dié wat “die heilige verbond versaak het”. Die pous in Rome het ’n konkordaat met hom gesluit, en die Rooms-Katolieke Kerk, asook die Protestantse kerke in Duitsland, het Hitler dwarsdeur sy 12 jaar lange skrikbewind gesteun.

11. Hoe het die koning van die noorde ‘die heiligdom ontheilig’ en ‘die voortdurende offer afgeskaf’?

11 Hitler het soveel welslae behaal dat hy oorlog verklaar het, soos die engel tereg voorspel het. “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf” (Daniël 11:31a). In eertydse Israel was die heiligdom ’n deel van die tempel in Jerusalem. Maar toe die Jode Jesus verwerp het, het Jehovah hulle en hulle tempel verwerp (Mattheüs 23:37–24:2). Jehovah se tempel is sedert die eerste eeu in werklikheid ’n geestelike tempel, met sy allerheiligste in die hemel en met ’n geestelike voorhof op die aarde waarin Jesus, die Hoëpriester, se gesalfde broers dien. Sedert die dertigerjare aanbid die groot menigte saam met die gesalfde oorblyfsel; daarom word daar gesê dat hulle ‘in God se tempel’ dien (Openbaring 7:9, 15; 11:1, 2; Hebreërs 9:11, 12, 24). Die aardse voorhof van die tempel is ontheilig omdat die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle meedoënloos vervolg is in lande waar die koning van die noorde heerskappy gevoer het. Die vervolging was so erg dat die voortdurende offer—die openbare lofoffer tot Jehovah se naam—afgeskaf is (Hebreërs 13:15). Tog toon die geskiedenis dat getroue gesalfde Christene, asook die “ander skape”, ten spyte van verskriklike lyding aangehou het om ondergronds te preek.—Johannes 10:16.

“Die ontsettende gruwel”

12, 13. Wat was “die ontsettende gruwel”, en wanneer en hoe is dit weer opgerig—soos deur die getroue en verstandige dienskneg vooruitgesien?

12 Toe die einde van die Tweede Wêreldoorlog in sig was, was daar nog ’n verwikkeling. “Hulle sal . . . die ontsettende gruwel [“wat verwoesting veroorsaak”, NW] opstel” (Daniël 11:31b). Hierdie “ontsettende gruwel”, waarvan Jesus ook gepraat het, is reeds as die Volkebond uitgeken, die skarlakenrooi dier wat volgens Openbaring in die afgrond ingegaan het. (Mattheüs 24:15; Openbaring 17:8; sien Lig, Boek Twee, bladsye 99-100.) Dit het gebeur toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Maar by die Nuwe Wêreld- Teokratiese Byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1942 het Nathan H. Knorr, die derde president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die profesie van Openbaring 17 bespreek en gewaarsku dat die dier weer uit die afgrond sou opkom.

13 Die geskiedenis het die waarheid van sy woorde bevestig. Tussen Augustus en Oktober 1944 is daar by Dumbarton Oaks in die Verenigde State aan ’n handves begin werk vir wat as die Verenigde Nasies bekend sou staan. Die handves is deur 51 nasies aangeneem, waaronder die voormalige Sowjetunie, en toe dit op 24 Oktober 1945 in werking getree het, het die uitgediende Volkebond in werklikheid uit die afgrond opgekom.

14. Wanneer en hoe het die koning van die noorde se identiteit verander?

14 Duitsland was gedurende die twee wêreldoorloë ’n vername vyand van die koning van die suide. Ná die Tweede Wêreldoorlog het ’n deel van Duitsland hergroepeer om ’n bondgenoot van die koning van die suide te word. Maar die ander deel van Duitsland het in daardie stadium by ’n ander magtige ryk aangesluit. Die Kommunistiese blok, wat nou ’n deel van Duitsland ingesluit het, het die Anglo-Amerikaanse alliansie sterk teëgestaan, en die wedywering tussen die twee konings het ’n Koue Oorlog geword.—Sien “Laat u wil geskied op aarde”, bladsye 265-85.

Die koning en die verbond

15. Wie is “die wat goddeloos handel teen die verbond”, en wat was hulle verhouding tot die koning van die noorde?

15 Die engel sê nou: “Die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak” (Daniël 11:32a). Wie is dié wat goddeloos teen die verbond handel? Hulle kan weer eens net die leiers van die Christendom wees, wat beweer dat hulle Christelik is, maar deur hulle dade die naam van die Christelike godsdiens ontheilig. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het “die Sowjetregering ’n poging aangewend om die materiële en sedelike hulp van die Kerke vir die verdediging van die moederland te verkry” (Religion in the Soviet Union deur Walter Kolarz). Ná die oorlog het kerkleiers daardie vriendskap probeer behou ondanks die ateïstiese beleid van die moondheid wat toe die koning van die noorde was.b Die Christendom het gevolglik meer as ooit ’n deel van hierdie wêreld geword—’n walglike afvalligheid in Jehovah se oë.—Johannes 17:14; Jakobus 4:4.

16, 17. Wie is “die verstandiges”, en hoe het hulle onder die koning van die noorde gevaar?

16 Maar wat van ware Christene? “Maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree [“seëvier en doeltreffend handel”, NW]. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank” (Daniël 11:32b, 33). Christene wat onder die koning van die noorde gelewe het, was op gepaste wyse “onderdanig aan die hoër owerhede”, maar hulle was geen deel van hierdie wêreld nie (Romeine 13:1, NW; Johannes 18:36). Hulle het nougeset aan die keiser betaal wat die keiser toekom, maar hulle het ook ‘aan God gegee wat God toekom’ (Mattheüs 22:21). As gevolg hiervan is hulle onkreukbaarheid op die proef gestel.—2 Timotheüs 3:12.

17 Die gevolg? Hulle het ‘geseëvier’ en ‘gestruikel’. Hulle het gestruikel in die sin dat hulle vervolg is en intense lyding verduur het, terwyl sommige selfs doodgemaak is. Maar hulle het geseëvier in die sin dat die meeste van hulle getrou gebly het. Ja, hulle het die wêreld oorwin, net soos Jesus die wêreld oorwin het (Johannes 16:33). Daarbenewens het hulle nooit opgehou preek nie, selfs nie wanneer hulle hulle in die gevangenis of in ’n konsentrasiekamp bevind het nie. Daardeur het hulle ‘baie tot insig gebring’. Ondanks vervolging in die meeste lande waaroor die koning van die noorde heerskappy gevoer het, het Jehovah se Getuies se getalle toegeneem. Danksy die getrouheid van “die verstandiges” het ’n immer groeiende groep van die “groot menigte” in daardie lande verskyn.—Openbaring 7:9-14.

18. Watter “klein hulp” het die gesalfde oorblyfsel ontvang wat onder die koning van die noorde lewe?

18 Die engel het oor die vervolging van God se volk voorspel: “En terwyl hulle struikel, sal hulle met ’n klein hulp ondersteun word” (Daniël 11:34a). Hoe het dit gebeur? Om maar een ding te noem, die koning van die suide se oorwinning tydens die Tweede Wêreldoorlog het tot groot verligting gelei vir Christene wat onder die mededingende koning gelewe het. (Vergelyk Openbaring 12:15, 16.) Daarna het diegene wat deur die nuwe koning van die noorde vervolg is van tyd tot tyd verligting ondervind, en namate die Koue Oorlog ten einde geloop het, het baie leiers begin besef dat getroue Christene geen bedreiging inhou nie en het hulle dus wetlike erkenning aan hulle verleen.c Groot hulp het ook gekom in die vorm van die toenemende getalle van die groot menigte wat gunstig reageer op die getroue predikingswerk van die gesalfdes en dié wat hulle help, soos beskryf word in Mattheüs 25:34-40.

’n Reiniging vir God se volk

19. (a) Hoe het sommige ‘uit listigheid by hulle aangesluit’? (b) Wat word met die uitdrukking “tot die tyd van die einde” bedoel? (Sien voetnoot.)

19 Nie almal wat daarin belanggestel het om God gedurende daardie tyd te dien, het goeie bedoelings gehad nie. Die engel het gewaarsku: “Dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit. En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde—want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Daniël 11:34b, 35).d Party het belangstelling in die waarheid getoon, maar hulle was nie bereid om hulle waarlik vir diens aan God toe te wy nie. Ander wat oënskynlik die goeie nuus aangeneem het, was in werklikheid spioene vir die owerheid. ’n Verslag uit een land lui: “Party van hierdie beginsellose karakters was erkende Kommuniste wat in die Here se organisasie ingesluip het, ’n groot vertoon van ywer gemaak het en selfs in hoë posisies van diens aangestel is.”

20. Waarom het Jehovah toegelaat dat sommige getroue Christene vanweë skynheilige infiltreerders “struikel”?

20 Die infiltreerders het veroorsaak dat party van die getroues in die hande van die owerheid geval het. Waarom het Jehovah toegelaat dat sulke dinge gebeur? Ter wille van ’n loutering, ’n reiniging. Net soos Jesus ‘gehoorsaamheid geleer het uit wat Hy gely het’, het hierdie getroue siele deur die beproewing van hulle geloof geleer om te volhard. (Hebreërs 5:8; Jakobus 1:2, 3; vergelyk Maleagi 3:3.) Hulle word dus ‘gelouter, gereinig en gesuiwer’. Groot vreugde wag op hierdie getroues wanneer die vasgestelde tyd aanbreek dat hulle vir hulle volharding beloon word. Ons sal dit sien wanneer ons Daniël se profesie verder bespreek.

[Voetnote]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., en in 1958 by die “Goddelike Wil”- Internasionale Byeenkoms van Jehovah se Getuies in Engels uitgereik.

b Die World Press Review vir November 1992 het ’n artikel uit The Toronto Star bevat wat gesê het: “Die Russe het oor die afgelope paar jaar gesien hoe tientalle eens onbetwiste illusies oor hulle land se geskiedenis voor die feite verbrokkel. Maar die blootlegging van die kerk se samewerking met die Kommunistiese regime was die vernietigendste slag.”

c Sien Die Wagtoring, 15 Julie 1991, bladsye 8-11.

d “Tot die tyd van die einde” kan “gedurende die tyd van die einde” beteken. Die woord wat hier met “tot” vertaal word, verskyn in die Aramese teks van Daniël 7:25 en beteken daar “gedurende” of “vir”. Die woord het ’n soortgelyke betekenis in die Hebreeuse teks van 2 Konings 9:22, Job 20:5 en Rigters 3:26. In die meeste vertalings van Daniël 11:35 word dit egter as “tot” weergegee, en as dit die juiste begrip is, móét “die tyd van die einde” hier die tyd van die einde van die volharding van God se volk wees.—Vergelyk “Laat u wil geskied op die aarde”, bladsy 287.

Onthou jy?

◻ Waarom moet ons verwag om vandag ’n duideliker begrip van Daniël se profesie te hê?

◻ Hoe het die koning van die noorde ‘sy toorn geopenbaar en doeltreffend opgetree’?

◻ Hoe het die diensknegklas vooruitgesien dat “die ontsettende gruwel” weer sou verskyn?

◻ Hoe het die gesalfde oorblyfsel ‘gestruikel, geseëvier en ’n klein hulp’ ontvang?

[Prent op bladsy 15]

Onder Hitler het die koning van die noorde ten volle van sy nederlaag teen die koning van die suide in 1918 herstel

[Prent op bladsy 16]

Die leiers van die Christendom het probeer om ’n verhouding met die koning van die noorde aan te knoop

[Erkenning]

Zoran/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel