Hoofstuk een
’n Profeet uit die ou tyd met ’n boodskap vir vandag
1, 2. (a) Watter droewige toedrag van sake sien ons vandag in die wêreld? (b) Hoe het een Amerikaanse senator sy kommer oor die agteruitgang in die wêreld beskryf?
IS DAAR vandag enigiemand wat nie na verligting smag van die probleme waarmee die mens te kampe het nie? Maar hoe dikwels bly ons begeertes tog onvervuld! Ons droom van vrede, maar ons word deur oorlog geteister. Ons smag na wet en orde, maar ons kan nie die toename in roof, verkragting en moord stuit nie. Ons wil ons medemens vertrou, maar ons moet ons deure sluit om ons te beskerm. Ons is lief vir ons kinders en probeer hulle heilsame waardes leer, maar alte dikwels moet ons hulpeloos toekyk terwyl hulle voor die onheilsame invloed van hulle maats swig.
2 Ons stem heel moontlik saam met Job, wat gesê het dat die mens gedurende sy kort lewe “sat van ontsteltenis” is (Job 14:1). Dit lyk of dit veral vandag die geval is, want die wêreld gaan vinniger agteruit as ooit tevore. Een Amerikaanse senator het gesê: “Die Koue Oorlog is nou verby, maar die wêreld is nou, tragies genoeg, veiliger gemaak vir geweld en wreedheid tussen etniese groepe, stamme en godsdiensgroepe. . . . Ons het ons sedelike standaarde so afgewater dat baie van ons jongmense verward, moedeloos en diep in die moeilikheid is. Ons pluk nou die vrugte van ouerlike verwaarlosing, egskeiding, kindermishandeling, tienerswangerskappe, skooluitsakkers, dwelms en strate vol geweld. Dis asof ons huis die groot aardbewing wat ons die Koue Oorlog noem, deurstaan het, maar nou deur termiete opgevreet word.”
3. Veral watter Bybelboek bied hoop vir die toekoms?
3 Maar ons is nie heeltemal sonder hoop nie. Sowat 2 700 jaar gelede het God ’n man in die Midde-Ooste geïnspireer om ’n reeks profesieë uit te spreek wat spesiale betekenis vir ons dag het. Hierdie boodskappe is opgeteken in die Bybelboek wat die profeet se naam dra—Jesaja. Wie was Jesaja, en waarom kan ons sê dat sy profesie, wat byna drieduisend jaar gelede opgeteken is, vandag lig vir die hele mensdom verskaf?
’n Regverdige man in onstuimige tye
4. Wie was Jesaja, en wanneer het hy as Jehovah se profeet gedien?
4 Jesaja stel homself in die eerste vers van sy boek bekend as “die seun van Amos”,a en hy vertel ons dat hy as God se profeet gedien het “in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda” (Jesaja 1:1). Dit beteken dat Jesaja ten minste 46 jaar lank God se profeet vir die nasie Juda was, waarskynlik van die einde van Ussia se heerskappy af—ongeveer die jaar 778 v.G.J.
5, 6. Waarvan is ons seker in verband met Jesaja se gesinslewe, en waarom?
5 In vergelyking met wat ons van party ander profete weet, weet ons maar min van Jesaja se persoonlike lewe. Ons weet wel dat hy ’n getroude man was en dat hy sy vrou “die profetes” genoem het (Jesaja 8:3). Volgens McClintock en Strong se Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature toon hierdie beskrywing dat Jesaja se huwelikslewe “nie alleen by sy roeping ingeskakel het nie, maar dat dit ’n baie noue verband daarmee gehad het”. Dit is heel moontlik dat Jesaja se vrou, net soos party ander godvresende vroue in eertydse Israel, haar eie profetiese toewysing gehad het.—Rigters 4:4; 2 Konings 22:14.
6 Jesaja en sy vrou het ten minste twee seuns gehad, en elkeen van hulle is ’n naam met profetiese betekenis gegee. Die eersgeborene, Sear-Jasub, het saam met Jesaja gegaan toe hy God se boodskappe aan die goddelose koning Agas oorgedra het (Jesaja 7:3). Jesaja en sy vrou het klaarblyklik die aanbidding van God ’n gesinsaak gemaak—’n uitstekende voorbeeld vir hedendaagse egpare!
7. Beskryf die toestande in Juda in Jesaja se dag.
7 Jesaja en sy gesin het gedurende ’n onstuimige tyd in Juda se geskiedenis gelewe. Politieke onrus was algemeen, die regstelsel was met omkopery besmet en geveinsdheid het die godsdiensstruktuur van die nasie verswak. Oral op die heuwels was daar altare van valse gode. Selfs party van die konings het afgodsaanbidding bevorder. Agas het byvoorbeeld nie net afgodediens onder sy onderdane geduld nie, maar het self daaraan deelgeneem en het sy eie kinders “deur die vuur laat gaan” as deel van ’n rituele offerande aan die Kanaänitiese god Molog (2 Konings 16:3, 4; 2 Kronieke 28:3, 4).b En al hierdie dinge het plaasgevind onder ’n volk wat in ’n verbondsverhouding met Jehovah was!—Eksodus 19:5-8.
8. (a) Watter voorbeeld het die konings Ussia en Jotam gestel, en het die volk hulle voorbeeld gevolg? (b) Hoe het Jesaja vrymoedigheid aan die dag gelê te midde van ’n wederstrewige volk?
8 Dit is prysenswaardig dat ’n paar van Jesaja se tydgenote—ook ’n paar van die heersers—ware aanbidding probeer bevorder het. Onder hulle was koning Ussia, wat “bly doen [het] wat reg was in Jehovah se oë”. Nogtans het die volk gedurende sy heerskappy “op die hoogtes offerandes gebring en offerrook laat opgaan” (2 Konings 15:3, 4). Koning Jotam het ook “bly doen wat reg was in Jehovah se oë”. “Die volk het egter nog verderflik gehandel” (2 Kronieke 27:2). Ja, gedurende die grootste deel van Jesaja se profetiese bediening was die koninkryk van Juda geestelik en sedelik gesproke in ’n haglike toestand. Oor die algemeen het die volk enige positiewe invloed wat hulle konings kon uitoefen, geïgnoreer. Dit is te verstane dat dit glad nie ’n maklike taak sou wees om God se boodskappe aan hierdie wederstrewige volk oor te dra nie. Jesaja het nietemin nie gehuiwer toe Jehovah gevra het: “Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?” nie. Hy het uitgeroep: “Hier is ek! Stuur my.”—Jesaja 6:8.
’n Boodskap van redding
9. Wat beteken Jesaja se naam, en hoe hou dit verband met die tema van sy boek?
9 Jesaja se naam beteken “Redding van Jehovah”, en dit kan heel tereg die tema van sy boodskap genoem word. Van Jesaja se profesieë het weliswaar met veroordeling te doen. Maar die tema van redding kom nogtans baie duidelik na vore. Jesaja het keer op keer vertel hoe Jehovah die Israeliete op sy bestemde tyd uit ballingskap in Babilon sou vrylaat en ’n oorblyfsel sou toelaat om na Sion terug te keer en die land tot sy vorige prag te herstel. Die voorreg om profesieë oor die herstelling van sy geliefde Jerusalem uit te spreek en op te teken, het Jesaja ongetwyfeld groot vreugde verskaf!
10, 11. (a) Waarom stel ons vandag in die boek Jesaja belang? (b) Hoe vestig die boek Jesaja die aandag op die Messias?
10 Maar wat het hierdie boodskappe van veroordeling en redding met ons te doen? Jesaja profeteer gelukkig nie bloot vir die voordeel van die tweestammeryk van Juda nie. Inteendeel, sy boodskappe het spesiale betekenis vir ons dag. Jesaja skets ’n pragtige prentjie van die manier waarop God se Koninkryk binnekort wonderlike seëninge oor ons aarde gaan bring. In hierdie verband vestig ’n groot deel van Jesaja se geskrifte die aandag op die voorspelde Messias, wat as die Koning van God se Koninkryk sou regeer (Daniël 9:25; Johannes 12:41). Dit is beslis nie toevallig dat die name Jesus en Jesaja omtrent dieselfde gedagte uitdruk nie, want die naam Jesus beteken “Jehovah is Redding”.
11 Jesus is natuurlik eers sowat sewe eeue ná Jesaja se dag gebore. En tog is die Messiaanse profesieë in die boek Jesaja so vol besonderhede en so akkuraat dat hulle soos ’n ooggetuieverslag van Jesus se lewe op aarde klink. Volgens een bron word die boek Jesaja as gevolg daarvan soms die “Vyfde Evangelie” genoem. Dit is derhalwe glad nie verbasend nie dat Jesaja die Bybelboek was waaruit Jesus en sy apostels die meeste aangehaal het om die Messias duidelik te identifiseer.
12. Waarom is ons gretig om die boek Jesaja te begin bestudeer?
12 Jesaja gee ’n pragtige beskrywing van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” waarin ‘’n koning vir regverdigheid sal regeer’ en vorste vir geregtigheid sal heers (Jesaja 32:1, 2; 65:17, 18; 2 Petrus 3:13). Die boek Jesaja wys dus na die hartverblydende hoop op God se Koninkryk, onder die Messias Jesus Christus as die gekroonde Koning. Wat ’n aansporing is dit tog vir ons om elke dag in die vreugdevolle verwagting van “redding deur [Jehovah]” te lewe! (Jesaja 25:9; 40:28-31). Laat ons dan die kosbare boodskap in die boek Jesaja gretig ondersoek. Terwyl ons dit doen, sal ons vertroue in God se beloftes grootliks versterk word. Dit sal ons ook help om te groei in ons oortuiging dat Jehovah wel die God van ons redding is.
[Voetnote]
a Jesaja se vader, Amos, moenie verwar word met die Amos wat aan die begin van Ussia se heerskappy geprofeteer het en die Bybelboek geskryf het wat sy naam dra nie.
b Party sê dat die uitdrukking “deur die vuur laat gaan” moontlik bloot op ’n reinigingseremonie dui. In hierdie konteks lyk dit egter of die frase na ’n letterlike offerande verwys. Daar bestaan geen twyfel dat die Kanaäniete en afvallige Israeliete hulle kinders geoffer het nie.—Deuteronomium 12:31; Psalm 106:37, 38.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Wie was Jesaja?
BETEKENIS VAN SY NAAM: “Redding van Jehovah”
GESIN: Getroud, met ten minste twee seuns
WOONPLEK: Jerusalem
DIENSTYD: Ten minste 46 jaar, van ongeveer 778 v.G.J. tot die een of ander tyd na 732 v.G.J
KONINGS VAN JUDA IN DAARDIE TYD: Ussia, Jonatam, Agas, Hiskia
PROFETE IN DAARDIE TYD: Miga, Hosea, Oded
[Prent op bladsy 6]
Jesaja en sy vrou het die aanbidding van God ’n gesinsaak gemaak