Stel sake reg tussen jou en God
“Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu.”—JESAJA 1:18.
1, 2. (a) Wat sou jy dink as iemand sê: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak”? (b) Waarom moet ons nie verwag dat ons ’n skikking met God kan tref nie?
GESTEL die verhouding tussen jou en iemand anders is gespanne weens die een of ander fout of onvriendelike optrede in die verlede. Hoe sou jy op hierdie woorde reageer: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak”? Dit kan ’n uitnodiging wees om te gaan sit en deur wedersydse toegewings en kompromisse ’n skikking te tref. Elkeen kan sy mening uitspreek, en dan sal elkeen dalk erken dat hy in sekere mate gefouteer of iets misverstaan het.
2 Maar kan jy jou voorstel dat die Skepper in daardie sin sou pleit: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak”, soos Jesaja 1:18 in baie Bybels lui? Glad nie. Geeneen van ons sal verwag om dit met Jehovah “uit te stry” (The New English Bible) of om ’n skikking met hom te tref, asof hy moontlik skuld moet erken en moet toegee nie. Maar wat verg Jesaja 1:18 as ons vrede met God wil geniet?
3. Wat is die werklike betekenis van die Hebreeuse woord wat soms in Jesaja 1:18 met “uitmaak” weergegee word?
3 Die Hebreeuse woord wat met “uitmaak” weergegee word, beteken basies “besluit, beslis, bewys”. Dit het ’n regskonnotasie en behels meer as dat twee persone bloot saam redeneer. ’n Besluit was daarby betrokkea (Genesis 31:37, 42; Job 9:33, NAV; Psalm 50:21; Jesaja 2:4). Wilson’s Old Testament Word Studies gee die betekenis “om reg te hê; te redeneer, te toon wat reg en waar is”. God het beveel: “Kom nou en laat ons sake in die reine bring” (The New American Bible) of “Laat ons sake regstel” (NW).
4-6. Wie was Jesaja, en wanneer het hy as profeet gedien?
4 Jehovah God het die profeet Jesaja gebruik om hierdie kragtige boodskap oor te dra. Wie was Jesaja, en waarom was sy boodskap in sy tyd gepas? En hoe kan ons daarby baat vind?
5 Wanneer die woord “profeet” gemeld word, dink baie vandag dalk aan ’n asketiese jongman wat sy verdraaide beskouing van die werklikheid verkondig het. Ander dink moontlik aan ’n eksentrieke bejaarde wat hom as ’n beoordelaar van die heersende toestande aanstel. Die gebalanseerde en redelike man Jesaja, wat deur Jehovah God gebruik is om die Bybelboek wat sy naam dra te skryf, het inderdaad hemelsbreed van sulke persone verskil.
6 “Jesaja, die seun van Amos”, het in Juda gewoon en het Jehovah “in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, die konings van Juda”—meer as 40 jaar lank—daadwerklik gedien. Jesaja het, in alle beskeidenheid, nie veel inligting oor homself voorsien nie. Volgens tradisie was hy verwant aan die koninklike familie van Juda. Ons weet met sekerheid dat hy ’n gesin gehad en dat sy vrou vir hom twee seuns gebaar het. Hy het moontlik weer getrou nadat sy gesterf het en nog ’n seun verwek wat profeties Immanuel genoem is.—Jesaja 1:1; 7:3, 14; 8:3, 18.
7. Waarom moet ons in Jesaja se profesie belangstel?
7 Daar is ooreenkomste tussen Jesaja se tyd en ons s’n. Jy weet dat ons in ’n tyd van internasionale spanning, van oorloë of die bedreiging van oorloë lewe. Hoewel godsdiens- en politieke leiers wat beweer dat hulle God aanbid hulle voordoen as voorbeelde wat gevolg moet word, sien ons gereeld persberigte oor hulle finansiële en sedelike skandale. Hoe beskou God sulke leiers, veral diegene wat aan die Christendom verbonde is? Wat lê vir hulle en hulle aanhangers voor? In die boek Jesaja vind ons goddelike kommentare wat baie toepaslik is op sulke hedendaagse sake. Ons vind ook lesse vir ons almal terwyl ons persoonlik daarna strewe om God te dien.
Profeet vir ’n skuldige nasie
8. Wat bevat die boek Jesaja, en in watter styl is dit geskryf?
8 Wanneer jy die boek Jesaja lees, sal jy boodskappe vind omtrent Juda en Jerusalem se oortredinge, geskiedkundige besonderhede oor invalle deur die vyand, uitsprake van verwoesting vir omringende nasies en bemoedigende voorspellings van herstel en redding vir Israel. Dit is in ’n lewendige, boeiende styl geskryf. Dr. I. Slotki sê: “Geleerdes bring heelhartig hulde aan Jesaja se verbeeldingrykheid en sy beeldende en aanskoulike beskrywings, sy vaardige gebruik van kragtige beeldspraak, alliterasie, assonansie en die fyn balans en ritmiese gang van sy sinne.” Laat ons in die besonder die inleidende boodskap van Jesaja—wat in hoofstuk 1 opgeteken is—ondersoek.
9. Wat weet ons omtrent die tyd en omstandighede toe die eerste hoofstuk van Jesaja geskryf is?
9 Die profeet sê nie presies wanneer hy hierdie hoofstuk geskryf het nie. Jesaja 6:1-13 dateer uit die jaar toe koning Ussia gesterf het. As Jesaja sy eerste hoofstukke dus vroeër opgeteken het, weerspieël hulle moontlik die ware toedrag van sake gedurende Ussia se koningskap. Ussia (829-777 v.G.J.) het in wese “gedoen wat reg was in die oë van die HERE”, en God het sy bewind derhalwe met voorspoed geseën. Ons weet nietemin dat alles nie pluis was nie, want “die volk het nog geoffer en op die hoogtes rook laat opgaan” voordat God Ussia (of, Asarja) met melaatsheid geslaan het omdat hy op vermetele wyse reukwerk in die tempel geoffer het (2 Kronieke 26:1-5, 16-23; 2 Konings 15:1-5). Die onderliggende verdorwenheid in Ussia se tyd het moontlik gelei tot die oes van goddeloosheid waarvan ons lees en waarby sy kleinseun, koning Agas (762-745 v.G.J.), betrokke was, wat dalk ook is wat Jesaja beskryf het. Maar belangriker as ’n spesifieke datum vir hoofstuk 1, is wat God beweeg het om te sê: “Laat ons sake regstel tussen ons.”
10. Watter situasie het gedurende koning Agas se bewind in Juda geheers, veral onder die leiers?
10 Jesaja het onomwonde gesê: “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. . . . Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie” (Jesaja 1:4-6). Koning Agas se 16 jaar lange heerskappy is gekenmerk deur flagrante afgodediens. Hy het “sy seuns [as offers] met vuur verbrand, volgens die gruwels van die nasies . . . Hy het ook [gereeld] . . . rook laat opgaan op die hoogtes en op die heuwels en onder elke groen boom” (2 Kronieke 28:1-4, vgl. NW; 2 Konings 16:3, 4). Onregverdigheid, omkopery en onsedelikheid was algemeen onder die prinse, wat meer geskik was om owerstes in eertydse Sodom te wees (Jesaja 1:10, 21-23; Genesis 18:20, 21). God kon hulle beslis nie goedkeur nie. En hoe sou die volk onder sulke leiers vaar?
11. Hoe moet ons Jesaja 1:29, 30 verstaan?
11 Die profeet Jesaja het die betreurenswaardige situasie van die volk toegelig deur die heilige bome en tuine te noem waar hulle afgodsoffers gebring en reukwerk vir heidense godhede gebrand het. Hierdie “magtige bome” sou ’n oorsaak van skaamte word (Jesaja 1:29, NW; 65:3). Jesaja het die beeldspraak tot die afgodedienaars self gerig en het geskryf: “Julle sal wees soos ’n [groot boom] waarvan die blare verdor, en soos ’n tuin wat geen water het nie” (Jesaja 1:30, vgl. NW). Ja, mense wat Jehovah verlaat, sou “omkom”. Hulle sou soos brandbare vlas word, en hulle afgode sou ’n vonk word—albei sou verbrand word.—Jesaja 1:28, 31.
12, 13. Watter ooreenkomste is daar tussen ons tyd en dié van Jesaja?
12 Vergelyk dit nou met die hedendaagse situasie. Binne die bestek van ’n maand het die pers in die Verenigde State berig: ’n Vername kandidaat vir die presidentskap het hom onttrek te midde van ’n skandaal oor berigte van sy onsedelikheid; ’n vooraanstaande geestelike is vervang nadat hy erken het dat hy owerspel gepleeg het en beskuldig is van homoseksualiteit, vroueruilery en die misbruik van fondse om omkoopgeld te betaal. (Hy “het na bewering sedert 1984 ’n verstommende [R9,2-miljoen] ter vergoeding ontvang”. Time, 11 Mei 1987.) In Oostenryk is die kloostervader van Rein verlede jaar ‘afgesit en daarvan beskuldig dat hy R12-miljoen verkwis het aan ’n jaghuis en partytjies vir lede van die voormalige vorstehuis en vir jong vroue met ’n minder adellike agtergrond’. Jy kan waarskynlik ander voorbeelde van sulke leiers gee. Hoe dink jy beskou God hulle?
13 Wat mense oor die algemeen betref, is daar toenemende godsdienspolarisasie. Sommige draai hulle met afkeer of uit onverskilligheid van godsdiens weg. Net 3 persent van Engeland se bevolking woon byvoorbeeld die staatskerk by. By die ander pool vind ons godsdienstigheid in hoë mate. Dit blyk uit die groeiende charismatiese kerke, met hulle emosionele benadering om “gered” te wees, in tale te spreek of te sien hoe die siekes “genees” word. Menigtes stroom na heiligdomme in die hoop dat wonderwerke sal plaasvind. Ander doen opofferinge as “geloofsdade”, soos om op bloeiende knieë te kruip om die Maagd van Guadalupe [in die stad Mexiko] te sien. ’n Koerant het gesê: “Hoewel haar bestaan en die ywer waarmee sy aanbid word dalk vir buitestaanders soos ’n skreiende vermenging van die Christelike godsdiens en die heidendom lyk, is die Maagd moontlik die belangrikste figuur in Mexikaanse Katolisisme.”
Hoe kan jy sy guns verkry?
14. Hoe het Jehovah dit deur Jesaja duidelik gestel dat Hy nie almal aanvaar wat beweer dat hulle Hom aanbid nie?
14 Jehovah God sorg dat daar geen verwarring bestaan oor sy beskouing van diegene wat beweer dat hulle aan sy kant is maar nie “die Vader in gees en waarheid . . . aanbid” nie (Johannes 4:23). As ’n nasie, ’n godsdiensgroep of ’n persoon nie ooreenkomstig God se geopenbaarde standaarde optree nie, is enige godsdiensbeoefening sinloos. Godsdiensfeeste en -offers was byvoorbeeld ’n verpligte deel van ware aanbidding in eertydse Israel (Levitikus, hoofstukke 1-7, 23). Maar Jesaja het God se beskouing uiteengesit—misnoeë met die ontroue Jode wat hierdie feeste gevier het. God het gesê: “As julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie” (Jesaja 1:11-15). Dit geld vandag ewe veel. Pleks van blote godsdiensplegtighede of gememoriseerde geloofsbelydenisse en gebede, verlang God gebede en regte dade wat van ganser harte gedoen word.
15. Waarom gee Jesaja 1:18 ons rede tot hoop, en wat beteken die woorde: ‘Kom en laat ons sake regstel’?
15 Hierdie wete voorsien die grondslag vir hoop. Mense kan God se guns verkry. Hoe? Jesaja het vermaan: “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg.” Op dié stadium het Jesaja God se bevel uiteengesit: “Kom nou, en laat ons [sake regstel tussen ons].” Jehovah het dus nie ’n sitting gevra tussen gelykes om ’n skikking te tref nie. God het geweet wat reg is. Sy beslissing was: Enige veranderinge wat nodig is, moet deur mense aangebring word, wat hulle na sy regverdige en geregtige standaarde moet skik. Dit is ook vandag die geval. Dit is moontlik om veranderinge aan te bring en sodoende guns te verkry. Selfs iemand wie se handelwyse onteenseglik sleg was, kan verander. Jesaja het geskryf: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu.”—Jesaja 1:16-18.
16. Hoe het sommige op Bybelse raad ten opsigte van oortreding gereageer?
16 Daar is egter ’n neiging om van sulke raad kennis te neem, maar om te dink dat dit op ander van toepassing is. Klaarblyklik het talle in Jesaja se dag dit gedoen. In werklikheid moet elke individu homself ondersoek. As ’n Christen hom aan ernstige sonde skuldig maak, hetsy leuentaal, bedrog, geslagsonsedelikheid of ander ernstige oortredings, is berou en werke wat by berou pas noodsaaklik (Handelinge 26:20, NW). Dit is prysenswaardig dat sommige stappe gedoen het om ‘sake tussen hulle en Jehovah reg te stel’. Die Wagtoring van 15 April 1985 het byvoorbeeld bespreek hoe foute reggestel kan word wat dalk vir buitestaanders verborge is, maar wat deur God gesien word (Mattheüs 6:6; Filippense 4:13). Drie gebiede is genoem waaraan aandag geskenk moet word: om in die geheim ’n bloedoortapping te aanvaar, masturbasie en alkoholmisbruik. Na ’n bespreking van daardie materiaal het heelparty lesers dankbriewe geskryf; hulle het erken dat hulle daardie foute gehad het, maar hulle is beweeg om berou te toon en te verander.
17. Hoe kan Jesaja 1:18 op ons van toepassing wees en ons help al maak ons ons nie aan growwe oortredings skuldig nie?
17 Die meeste Christene wat hierdie saak oorweeg, is natuurlik nie skuldig aan growwe wangedrag nie. Nietemin behoort Jesaja se boodskap ons tot diepgaande selfondersoek te beweeg. Moet ons dalk die een of ander saak met God regstel? ’n Noodsaaklike beginsel van Jesaja se boodskap was die regte beweegrede. ’n Mens kan in verband met gebed vra: ‘Is my gebede hartgrondig, en strook my dade na my beste vermoë met my gebede?’ Sommige wat so ’n ondersoek gedoen het, het besef dat hulle kan verbeter. Hulle het byvoorbeeld gebid om meer kennis van God se wil, maar het min tyd aan ’n studie van die Bybel en Christelike publikasies bestee. Ander het gebid dat hulle ’n groter aandeel in die bediening kan hê, maar het ’n lewenswyse gevolg wat dit vir hulle onmoontlik gemaak het om hulle inkomste te verminder deur minder sekulêre werk te doen. Of het jy gebid om God se seën op jou dissipelmaakwerk? In watter mate lê jy jou dan daarop toe om ’n bekwamer onderrigter te word? Doen jy gewetensgetrou meer herbesoeke en is jy bereid om tyd daaraan af te staan om ’n gereelde Bybelstudie met iemand anders te hou? As jy jou in ooreenstemming met jou gebede inspan, toon jy dat jy opreg wil hê dat God moet luister.
18. Waarom moet ons aandag daaraan gee om sake tussen ons en God reg te stel?
18 Dit is heeltemal gepas dat ons almal daarna strewe om alle aspekte van ons lewe met God, ons Skepper, ‘reg te stel’. Let op hoe Jesaja in hierdie verband geredeneer het: “’n Os ken sy besitter en ’n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie” (Jesaja 1:3). Geeneen van ons sal daarvan hou om beskryf te word as iemand wat minder kennis of waardering as ’n os of ’n esel het nie. Daardie beskrywing sal egter van toepassing wees as ons meen dat dit nie vir ons nodig is om ons in te span om ons Lewegewer en sy vereistes te leer ken en dan opreg daarvolgens te probeer lewe nie.
19. Watter vooruitsig het Jesaja geskets vir diegene wat sake met God regstel, en wat beteken dit vir ons?
19 Jesaja het sy volk rede tot optimisme gebied. Hy het gesê dat hulle posisie voor Jehovah in ’n reine verander kon word. Dit kon wees soos ’n skarlakenrooi doek wat so wit sou word soos wol of soos die sneeu wat die piek van die berg Hermon bedek (Jesaja 1:18; Psalm 51:9; Daniël 7:9; Openbaring 19:8). Al het die meerderheid nie gunstig gereageer nie, en is die volk gevolglik aan die swaard en gevangenskap oorgelewer, kon ’n getroue oorblyfsel terugkeer. Ons kan eweneens Jehovah se guns verkry, moontlik met die hulp van gewetensgetroue opsieners, wat as liefdevolle ‘regters en raadsmanne’ in die gemeente dien (Jesaja 1:20, 24-27; 1 Petrus 5:2-4; Galasiërs 6:1, 2). Wees dus daarvan seker dat jy sake tussen jou en God kan regstel. Of jy kan jou verhouding met God versterk as jy reeds sy guns geniet. Dit is voorwaar al jou inspanning werd.
[Voetnoot]
a Dr. E. H. Plumptre verduidelik: “Die [vertaling in die Afrikaanse Bybel] dui op ’n bespreking tussen gelykes. Die Hebreeus impliseer eerder die toon van iemand wat ’n gebiedende ultimatum stel, soos van ’n regter aan die beskuldigde.”
Gedagtes ter hersiening
◻ Wat was die betekenis van die bevel: ‘Kom en stel sake met God reg’?
◻ Hoe het Jesaja se tyd met ons tyd ooreengekom?
◻ Wat was volgens Jesaja nodig vir individue om God se guns te verkry?
◻ Op watter gebiede, buiten growwe sonde, moet ons dalk sake tussen ons en God regstel?
[Prent op bladsy 10]
Besneeude hange van die berg Hermon, met ’n suidwestelike uitsig oor die boonste deel van die Jordaanvallei tot by die heuwels van Galilea
[Erkenning]
Foto’s bladsye 10, 31: Prente-argief (Nabye-Oosterse geskiedenis)
[Prent op bladsy 13]
Jesaja het gesê dat ‘’n esel die krip van sy eienaar ken’. Watter les bevat dit?