STUDIE 13
Visuele kontak
ONS oë verraai gesindhede en emosies. Dit kan verbasing of vrees weerspieël. Dit kan medelye of liefde openbaar. Soms kan ’n mens twyfel of smart daarin lees. ’n Bejaarde man het van sy landgenote, wat baie gely het, gesê: “Ons praat met ons oë.”
Ander kan op grond van waar ons kyk, gevolgtrekkings maak oor ons en wat ons sê. In baie kulture is mense geneig om iemand te vertrou wat vriendelike oogkontak met hulle behou. Aan die ander kant sal hulle dalk die opregtheid of bevoegdheid van iemand in twyfel trek wat na sy voete of iets anders kyk in plaas van na die persoon met wie hy praat. In party ander kulture word dit as ongemanierd, aggressief of uitdagend beskou as ’n mens stip na iemand anders kyk. Dit geld veral wanneer ’n mens met ’n lid van die teenoorgestelde geslag, ’n stamhoof of ’n ander getitelde persoon praat. En in sommige gebiede sou dit as oneerbiedig beskou word as ’n jonger persoon wat met ’n ouer persoon praat, direkte oogkontak sou maak.
Maar waar dit nie aanstoot gee nie, kan dit groter trefkrag aan ’n belangrike verklaring gee as ’n mens iemand reg in die oë kyk. Dit kan as ’n aanduiding van die spreker se oortuiging beskou word. Let op hoe Jesus gereageer het toe sy dissipels groot verbasing uitgespreek en gesê het: “Wie kan dan gered word?” Die Bybel sê: “Jesus het hulle reguit in die oë gekyk en vir hulle gesê: ‘By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik’” (Matt. 19:25, 26). Die Skrif toon ook dat die apostel Paulus die reaksies van die mense in sy gehoor sorgvuldig waargeneem het. By een geleentheid was ’n man wat van geboorte af lam was, teenwoordig toe Paulus gepraat het. Handelinge 14:9, 10 sê: “Hierdie man het geluister terwyl Paulus gepraat het, en dié het, toe hy hom stip aankyk en sien dat hy geloof het om gesond gemaak te word, met ’n harde stem gesê: ‘Staan regop op jou voete.’”
Wenke vir die veldbediening. Wanneer jy aan die veldbediening deelneem, moet jy vriendelik en hartlik wees wanneer jy mense nader. Waar dit gepas is, kan jy gedagteprikkelende vrae gebruik om ’n gesprek aan te knoop oor iets wat moontlik van gemeenskaplike belang is. Terwyl jy dit doen, moet jy oogkontak probeer maak—of die persoon ten minste op ’n eerbiedige en vriendelike manier in die oë kyk. ’n Hartlike glimlag op die gesig van iemand wie se oë innerlike vreugde uitstraal, trek mense aan. So ’n gesigsuitdrukking kan vir iemand baie sê oor watter soort persoon jy is en hom meer op sy gemak laat voel terwyl julle gesels.
As jy, waar dit gepas is, na die uitdrukking in die ander persoon se oë kyk, kan dit jou ’n aanduiding gee van hoe jy die situasie moet hanteer. As hy kwaad is of werklik nie belangstel nie, sal jy dit moontlik kan sien. As hy jou nie verstaan nie, sal jy dit dalk agterkom. As hy ongeduldig raak, sal jy dit gewoonlik kan opmerk. As hy opreg belangstel, sal dit ook duidelik wees. Jy sal dalk aan die uitdrukking in sy oë kan sien dat jy jou tempo moet aanpas, harder moet probeer om hom by die gesprek te betrek, die gesprek moet beëindig of moontlik moet demonstreer hoe om die Bybel te bestudeer.
Hetsy jy aan die openbare getuieniswerk deelneem of ’n tuisbybelstudie hou, jy moet probeer om op ’n eerbiedige manier oogkontak te behou met die persoon met wie jy praat. Moet egter nie na hom staar nie, aangesien dit verleentheid kan veroorsaak (2 Kon. 8:11). Maar kyk die ander persoon van tyd tot tyd op ’n natuurlike, vriendelike manier in die oë. In baie lande is dit ’n blyk van opregte belangstelling. Wanneer jy uit die Bybel of ’n ander publikasie lees, sal jy natuurlik na die gedrukte materiaal kyk. Maar as jy ’n punt wil beklemtoon, kan jy gerus direk na die persoon kyk, al is dit net kortliks. As jy van tyd tot tyd opkyk, sal jy kan sien hoe hy reageer op wat gelees word.
Moenie moed opgee as jy skaam is en dit aan die begin moeilik vind om oogkontak te maak nie. Met oefening sal gepaste oogkontak later vanself kom, en dit sal jou help om beter te kommunikeer.
Wanneer jy ’n toespraak hou. Die Bybel sê vir ons dat Jesus “sy oë na sy dissipels opgeslaan” het voordat hy sy Bergpredikasie begin het (Luk. 6:20). Leer uit sy voorbeeld. As jy voor ’n groep gaan praat, kyk na hulle en pouseer ’n paar sekondes voordat jy begin praat. In baie plekke sal dit insluit dat jy oogkontak met ’n paar in die gehoor sal maak. Hierdie kort pouse kan jou help om jou aanvanklike senuweeagtigheid te oorkom. Dit sal die gehoor ook help om hulle by die gesindheid of emosie wat jou gesig weerspieël, in te stel. As jy dit doen, sal dit ook die gehoor kans gee om rustig te word sodat hulle gereed sal wees om hulle aandag aan jou te gee.
Kyk gedurende jou toespraak na jou gehoor. Moenie net na die hele groep kyk nie. Probeer om na individue in die groep te kyk. In byna alle kulture word daar van ’n openbare spreker verwag om ’n mate van oogkontak te maak.
Om na jou gehoor te kyk, beteken meer as om net jou oë heen en weer oor die gehoor te beweeg. Maak op ’n eerbiedige wyse oogkontak met iemand in die gehoor, en sê ’n volle sin vir daardie persoon indien dit gepas is. Kyk dan na iemand anders, en sê ’n sin of twee vir daardie persoon. Moenie so lank na enigiemand kyk dat hy ongemaklik begin voel nie, en moenie na slegs ’n paar mense in die hele gehoor kyk nie. Gaan voort om so met die gehoor oogkontak te maak, maar terwyl jy met iemand praat, moet jy werklik met daardie persoon praat en sy reaksie waarneem voordat jy na iemand anders kyk.
Sit jou aantekeninge op die rostrum neer of hou dit in jou hand of in jou Bybel sodat jy slegs met ’n oogbeweging daarna kan kyk. As jy jou hele kop moet beweeg om jou aantekeninge te sien, sal jou kontak met die gehoor daaronder ly. Jy moet let op hoe dikwels jy na jou aantekeninge kyk, sowel as wanneer jy dit doen. As jy na jou aantekeninge kyk terwyl jy ’n hoogtepunt in jou toespraak bereik, sal jy nie jou gehoor se reaksie sien nie en boonop sal jou aanbieding trefkrag verloor. As jy gedurigdeur na jou aantekeninge kyk, sal jy ook kontak met jou gehoor verloor.
Wanneer jy ’n bal na iemand gooi, kyk jy of hy dit gevang het. Elke gedagte in jou toespraak is soos ’n “bal” wat jy na jou gehoor gooi. Hulle reaksie—’n knik, ’n glimlag, ’n geïnteresseerde gesigsuitdrukking—sal toon of hulle die gedagte “gevang” het. As jy goeie oogkontak behou, kan dit jou help om seker te maak dat jou gedagtes “gevang” word.
Moet jy, as jy gevra word om by die vergadering te lees, na die gehoor probeer kyk terwyl jy lees? As die gehoor in hulle Bybels volg terwyl jy lees, sal die meeste van hulle nie weet of jy opkyk of nie. Maar as jy na jou gehoor kyk, kan dit jou help om lewe aan jou voorlesing te gee omdat jy ten volle bewus sal wees van hulle reaksie. En oogkontak met die spreker kan enigiemand in die gehoor wat nie sy Bybel gebruik nie en wie se gedagtes dalk begin dwaal het, help om weer aandag te skenk aan wat gelees word. Jy sal natuurlik net vlugtig kan opkyk, en dit moet nie op so ’n manier gedoen word dat jy oor jou woorde struikel terwyl jy lees nie. Daarom is dit goed om jou Bybel in jou hand te hou, met jou kop regop, en nie jou ken op jou bors te laat hang nie.
Soms word ouer manne gevra om ’n manuskriptoespraak by ’n byeenkoms te hou. Om dit goed te kan doen, verg ondervinding, deeglike voorbereiding en baie oefening. Die gebruik van ’n manuskrip beperk natuurlik visuele kontak met die gehoor. Maar as die spreker goed voorberei het, behoort hy van tyd tot tyd na die gehoor te kan kyk sonder om sy plek te verloor. As hy dit doen, sal dit help om die aandag van die gehoor te boei sodat hulle ten volle by die belangrike geestelike onderrigting baat kan vind.