Jy kan voor ’n gehoor praat!
MARIE onthou met ’n glimlag die eerste keer toe sy probeer het om voor ’n groot groep te praat. “Kort nadat ek my toespraak begin het”, sê sy, “het ek flou geword!”
Hoewel Marie se geval ’n uiterste een is, lig dit toe hoe teësinnig baie mense is om voor ’n gehoor te praat. Party beskou dit as ’n lot wat erger as die dood is! Dit is getoon deur ’n meningspeiling waarin mense gevra is wat hulle grootste vrees is. Soos ’n mens sou verwag het, was “hoogtes”, “geldprobleme”, “om te vlieg”, “ernstige siekte” en “die dood” van die grootste vrese. Maar bo aan die lys—die grootste vrees van almal—was “om voor ’n groep te praat”!
Selfs bekende mense in die Bybel was eers bang om in die openbaar te praat. “Ek weet werklik nie hoe ek moet praat nie”, het Jeremia gesê. “Ek is nog jonk” (Jeremia 1:6, NW). Moses het só op sy opdrag gereageer: ‘Ek kan nie goed praat nie. Stuur liewer iemand anders’ (Exodus 4:10, 13, NAV). Tog het beide Jeremia en Moses uitstekende sprekers geword wat voor vername leiers en groot skares gepraat het.
Dit kan ook in jou geval waar wees. Openbare redevoering is ’n latente vermoë wat enigiemand kan ontwikkel. Jy kan jou vrees om voor ’n gehoor te praat, oorwin deur hierdie wenke toe te pas:
1. Moenie jouself klassifiseer nie
“Ek is te skaam.” “Ek is te jonk.” “Ek is te oud.” “Ek is te selfbewus.” Só klassifiseer sommige mense hulleself. Dit verhinder jou om doelwitte te bereik wat eintlik binne jou vermoë lê.
As jy jouself só klassifiseer, kan jy dit ’n werklikheid laat word. Iemand wat homself byvoorbeeld as “skaam” klassifiseer, sal nie geleenthede benut waartydens hy sy skaamheid kan oorwin nie. Hierdie optrede oortuig hom weer daarvan dat hy werklik skaam is. ’n Kringloop word gevolglik geskep waarin hy volgens sy selfopgelegte klassifikasie optree en dit versterk. Een sielkundige sê: “As jy glo dat jy iets nie kan doen nie, . . . sal jy so optree en selfs so wees.”
Dr. Lynne Kelly van die Universiteit van Hartford (VSA) sê dat skaamheid aangeleerde gedrag kan wees. Wat ons aanleer, kan ons afleer. Dieselfde kan ook geld vir selfbewustheid, verhoogvrees en ander dinge wat openbare redevoering belemmer.
2. Gebruik senuweeagtigheid tot jou voordeel
Toe ’n veteraanaktrise eenkeer gevra is of sy ná jare se ondervinding steeds voor ’n optrede senuweeagtig raak, het sy gesê: “Natuurlik. Ek kry steeds voor elke optrede so ’n hol gevoel op my maag. Maar ek het deur die jare heen geleer om my senuweeagtigheid te beheer.”
Die oogmerk is dus om senuweeagtigheid te beheer en dit nie heeltemal uit te skakel nie. Waarom nie? Omdat nie alle senuweeagtigheid nadelig is nie. Daar is twee soorte senuweeagtigheid. Een is die gevolg van ’n gebrek aan voorbereiding. Maar die ander een is ’n positiewer angstigheid. Hierdie soort senuweeagtigheid is nuttig omdat dit jou sal aanspoor om jou beste te lewer. Hierdie soort senuweeagtigheid bewys net dat jy omgee. Jy kan gerus die volgende probeer om jou senuweeagtigheid te beperk:
Beskou jou praatjie as ’n gesprek en nie as ’n toespraak nie. “Dit is net soos om gewoonweg te praat”, sê veteraan Charles Osgood, “en ’n mens praat tog baie.” Die gehoor maak gesamentlik die persoon uit met wie jy praat. Dit sal gepas wees om af en toe te ontspan en te glimlag. Hoe gemakliker jou geselstrant is, hoe meer ontspanne sal jy wees. Maar daar is tye wanneer die materiaal en die geleentheid moontlik ’n formeler, ernstiger en selfs meer dinamiese stemtoon sal vereis.
Onthou dat die gehoor aan jou kant is! Selfs wanneer dit duidelik is dat jy senuweeagtig is, het die meeste gehore empatie daarmee. Daarom moet jy die gehoor as jou vriend beskou. Hulle wil hê dat jou toespraak geslaagd moet wees! Beskou hulle as jou gaste en jouself as die gasheer. Pleks van te dink dat die gehoor jou op jou gemak moet stel, moet jy vir jouself sê dat jy as die gasheer hulle op hulle gemak gaan stel. As jy die bordjies só verhang, sal dit jou help om minder senuweeagtig te wees.
Konsentreer op jou boodskap en nie op jouself nie. Beskou jouself as ’n boodskapper wat maar net ’n telegram aflewer. Die boodskapper is nie belangrik nie; dit is die telegram wat die ontvanger wil hê. Dieselfde geld ook wanneer jy ’n boodskap aan ’n gehoor oordra. Hulle aandag is hoofsaaklik op die boodskap gerig en nie op jou nie. Hoe entoesiastieser jy oor die onderwerp is, hoe minder bekommerd sal jy oor jouself wees.
Moenie voor die tyd te veel eet nie. Een professionele spreker onthou dat hy eenkeer ’n groot maaltyd geniet het voor hy ’n lesing van twee uur moes hou. Hy sê die volgende van sy toespraak: “Die bloed wat in my brein moes wees, het onder in my maag met biefstuk en aartappels geworstel.” ’n Groot ete kan jou grootste vyand wees wanneer jy voor ’n gehoor moet praat. Let ook op wat jy drink. Kafeïen kan jou senuweeagtig maak. Alkohol kan jou konsentrasie belemmer.
Jy sal moontlik altyd voel hoe senuweeagtigheid in jou opwel wanneer jy voor ’n gehoor begin praat. Maar deur ondervinding sal jy leer dat hierdie aanvanklike senuweeagtigheid niks meer as juis dit is nie—aanvanklike senuweeagtigheid wat verdwyn kort nadat jy begin praat.
3. Berei voor!
“’n Toespraak is ’n reis met ’n doel en dit moet goed beplan word”, het Dale Carnegie gesê. “’n Toespraak sonder ’n doel kan geen doel bereik nie.” As jy ’n doel wil bereik, moet jy goed voorbereid wees. ’n Gladde tong gaan nie vir jou gehoor veel beteken nie. Hoe kan jy dus voorberei?
Doen navorsing en sif deur die materiaal. Jy moet nooit jou navorsing afskeep nie. “Jy kan slegs op jou gemak voor ’n gehoor wees as jy weet waarvan jy praat”, sê John Wolfe, ’n kenner op die gebied van kommunikasie. Jy moet ’n kenner van jou onderwerp word. Versamel baie meer inligting as wat jy kan gebruik. Sif dan deur jou materiaal en skei die “kaf” van die “koring”. Selfs die “kaf” sal nie vermors word nie—dit sal jou meer vertroue gee in die inligting wat jy wel gebruik.
Dink. Dink na oor jou onderwerp. Dink daaroor na wanneer jy ook al ’n oomblikkie vry het. “Dink sewe dae lank daaroor; droom sewe nagte lank daaroor”, het Dale Carnegie gesê. Die apostel Paulus het Timotheüs vermaan: “Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou onderrigting.” Maar voordat Paulus dit gesê het, het hy hierdie aansporing gegee: “Dink diep oor hierdie dinge na; leef daarin.” Ja, ’n goeie spreker moet eerstens ’n goeie denker wees.—1 Timotheüs 4:15, 16, NW.
Dink na oor jou boodskap totdat die belangrikheid en dringendheid daarvan die oorhand oor jou senuweeagtigheid kry. Dít het Jeremia in staat gestel om die volgende oor sy boodskap te sê: “In my hart [was dit] soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jeremia 20:9). En dit kom van dieselfde man wat aanvanklik die volgende oor sy toewysing gesê het: ‘Ek weet nie hoe om te praat nie.’
Neem jou gehoor in ag. Dra jou netjiesste klere. Jou navorsingsmateriaal moet ook by jou gehoor aangepas word. Neem dus hulle denkwyse in ag: Wat glo hulle? Wat weet hulle reeds van jou onderwerp? Hoe pas jou stof by hulle daaglikse lewe in? Hoe deegliker jy dié vrae beantwoord, hoe aandagtiger sal jou gehoor luister, aangesien hulle jou inligting sal beskou asof dit by hulle spesifieke behoeftes aangepas is.
Sit jou beste voetjie voor
Ons hedendaagse wêreld het elke moontlike soort kitskommunikasiemiddel. Tog sê die boek Get to the Point dat “kommunikasie van aangesig tot aangesig in die meeste gevalle die doeltreffendste kommunikasiemiddel is”. Die bogenoemde wenke sal jou help om hierdie soort kommunikasie onder die knie te kry. Pleks van te huiwer omdat jy onnodig bang is, sal jy ontdek dat jy voor ’n gehoor kan praat!
[Venster op bladsy 22]
Oefeninge wat jou senuwees sal kalmeer
Indien die omstandighede dit toelaat, kan die volgende oefeninge jou senuweeagtigheid laat bedaar voordat jy voor ’n gehoor moet praat.
● Wikkel jou vingers, skud jou gewrigte en arms. Trek jou skouers hoog op en ontspan hulle dan. Herhaal dit verskeie kere.
● Buig jou kop vorentoe, beweeg dit dan heen en weer.
● Beweeg jou kakebeen heen en weer. Rek jou mond wyd oop.
● Neurie saggies in ’n afwisselende hoë en lae toonhoogte.
● Haal ’n paar keer stadig en diep asem.
[Venster op bladsy 23]
Verbeterde voordrag
Pas jou aan by die grootte van jou gehoor. ’n Groot gehoor sal meer volume vereis. Gebare moet sterker wees, en jou stem moet kragtiger wees.
Laat jou stem lewe. Stel jou voor hoe dit sou klink as jy ’n musiekinstrument speel wat net een noot het! Jou stem is jou instrument. As jou voordrag op “een noot”—eentonig—is, sal jy jou toehoorders verveel.
Let op jou liggaamshouding. ’n Slap liggaamshouding wek die indruk dat jy onverskillig is. ’n Stram liggaamshouding wys dat jy bekommerd is. Streef daarna om ’n balans te vind—ontspanne en wakker, maar nie onverskillig of gespanne nie.
Gebruik gebare. Dit is nie net vir nadruk nie. Gebare ontspan die spiere en verbeter asemhaling, wat weer die stem en die senuwees kalmeer.
Trek beskeie aan. Jy dra die boodskap oor, en nie jou klere nie. Die gehoor se mening oor hoe jy lyk is net so belangrik indien nie belangriker nie as jou eie.
Behou oogkontak. Wanneer jy tydens ’n balspel ’n bal gooi, kyk jy om te sien of iemand dit gevang het. Elke gedagte in jou toespraak is ’n “gooi” na die gehoor toe. ’n “Vangs” word deur hulle reaksie aangedui—’n kopknik, ’n glimlag, ’n aandagtige uitdrukking. Behou goeie oogkontak sodat jy seker kan wees dat jou gedagtes “gevang” word.