Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • T-25 bl. 2-6
  • Het jy ’n gees wat ná die dood voortleef?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy ’n gees wat ná die dood voortleef?
  • Het jy ’n gees wat ná die dood voortleef?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die gees?
  • “Tot stof sal jy terugkeer”
  • “Die gees keer terug na die ware God”
  • ’n Vaste hoop
  • Het jy ’n onsterflike gees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Gees
    Redenering uit die Skrif
  • “Siel” en “gees”—Wat beteken hierdie terme werklik?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wat gebeur by die dood met die siel?
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
Sien nog
Het jy ’n gees wat ná die dood voortleef?
T-25 bl. 2-6

Het jy ’n gees wat ná die dood voortleef?

IS DAAR lewe ná die dood? Dit is ’n vraag waaroor die mens al duisende jare lank wonder. Deur die eeue heen het mense in elke samelewing oor die onderwerp nagedink en met verskillende opvattings vorendag gekom.

Baie mense glo dat ’n “gees” ná die dood van ’n persoon voortlewe. Is daar werklik iets binne-in ’n mens wat die liggaam by die dood verlaat en voortlewe? Wat is die gees in ’n lewende persoon? Wat gebeur daarmee wanneer ons sterf? God se geïnspireerde Woord, die Bybel, gee betroubare en bevredigende antwoorde op hierdie vrae.

Wat is die gees?

In die Bybel beteken die woorde wat met “gees” vertaal word basies “asem”. Maar dit slaan op baie meer as om net asem te haal. Die Bybelskrywer Jakobus sê byvoorbeeld: “Die liggaam sonder gees [is] dood” (Jakobus 2:26). Die gees is derhalwe dit wat die liggaam aan die lewe hou.

Hierdie lewenskrag kan nie net die asem, of lug, wees wat deur die longe beweeg nie. Waarom nie? Want nadat asemhaling opgehou het, is daar nog vir ’n kort rukkie—“’n paar minute”—lewe in die liggaamselle, volgens The World Book Encyclopedia. Dit is waarom iemand bygebring kan word nadat sy liggaamsfunksies opgehou werk het en waarom liggaamsorgane van een persoon op ’n ander oorgeplant kan word. Maar wanneer die lewensvonk in die liggaamselle geblus is, is alle pogings om iemand weer te laat lewe tevergeefs. Al die asem in die wêreld kan nie eens een sel weer laat lewe nie. Die gees is dus die onsigbare lewenskrag—die lewensvonk—wat die selle aan die lewe hou. Hierdie lewenskrag word deur asemhaling onderhou.—Job 34:14, 15.

Het net mense so ’n gees? Die Bybel help ons om die regte gevolgtrekking in hierdie verband te maak. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Wie ken die gees van die mensekinders, of dit opstyg boontoe; en die gees van die diere, of dit neerdaal ondertoe na die aarde?” (Prediker 3:21). Daar word dus van diere sowel as mense gesê dat hulle ’n gees het. Hoe is dit moontlik?

Die gees, of lewenskrag, kan vergelyk word met ’n elektriese stroom wat deur ’n masjien of toestel vloei. Die onsigbare elektrisiteit kan gebruik word om verskillende funksies te verrig, afhangende van die soort toestel wat dit van krag voorsien. Dit kan byvoorbeeld ’n stoof laat warm word, ’n rekenaar inligting laat verwerk en berekeninge laat doen en ’n televisiestel beelde en klank laat voortbring. Tog neem die elektriese stroom nooit die kenmerke aan van die toestelle waardeur dit werk nie. Dit bly slegs ’n krag. Net so neem die lewenskrag nie enige van die kenmerke aan van die skepsele wat daardeur lewend gemaak word nie. Dit het geen persoonlikheid, geen denkvermoë nie. Mense en diere “het [almal] net een gees” (Prediker 3:19). Wanneer iemand dus sterf, lewe sy gees nie in ’n ander ryk as ’n geesskepsel voort nie.

Wat is dan die toestand van die dooies? En wat gebeur met die gees wanneer iemand sterf?

“Tot stof sal jy terugkeer”

Toe die eerste mens, Adam, God se gebod opsetlik oortree het, het Jehovah vir hom gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Waar was Adam voordat Jehovah hom uit die stof gemaak het? Hy was nêrens nie! Hy het eenvoudig nie bestaan nie. Toe Jehovah God dus gesê het dat Adam “na die grond [sou] terugkeer”, het hy bedoel dat Adam sou sterf. Adam sou nie na die geesteryk oorgaan nie. By sy dood sou hy weer eens leweloos word, nie bestaan nie. Sy straf was die dood—die afwesigheid van lewe—nie ’n oorplasing na ’n ander ryk nie.—Romeine 6:23.

Wat van ander wat gesterf het? Die toestand van die dooies word duidelik gemaak in Prediker 9:5, 10, waar ons lees: “Die dooies weet niks nie . . . Daar is geen strewe, geen planne, geen kennis of intelligensie in die graf nie” (Moffatt). Die dood is dus ’n toestand van niebestaan. Wanneer ’n mens sterf, het die psalmis geskryf, ‘gaan sy gees uit, keer hy terug na sy grond toe; op daardie dag vergaan sy gedagtes’.—Psalm 146:4.

Dit is duidelik dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid, onbedrywigheid, is. Hulle weet niks nie. Hulle kan jou nie sien, hoor of met jou praat nie. Hulle kan jou nie help of skaad nie. Jy hoef beslis nie vir die dooies bang te wees nie. Maar hoe is dit dat iemand se gees ‘uitgaan’ wanneer hy sterf?

“Die gees keer terug na die ware God”

Die Bybel sê dat, wanneer iemand sterf, “die gees [terugkeer] na die ware God wat dit gegee het” (Prediker 12:7). Beteken dit dat die gees letterlik deur die ruimte na God self terugkeer? Glad nie! Volgens die manier waarop die Bybel die woord ‘terugkeer’ gebruik, hoef dit nie noodwendig ’n letterlike verplasing van een plek na ’n ander te wees nie. Daar is byvoorbeeld vir die ontroue Israeliete gesê: “‘Keer terug tot my, en ek sal tot julle terugkeer’, het Jehovah van die leërs gesê” (Maleagi 3:7). Israel moes na Jehovah ‘terugkeer’ deur ’n verkeerde weg te laat vaar en weer in ooreenstemming met God se regverdige weg te wandel. En Jehovah sou na Israel ‘terugkeer’ in die sin dat hy weer guns aan sy volk sou betoon. In albei gevalle het die ‘terugkeer’ ’n gesindheid behels, nie ’n letterlike verskuiwing van een geografiese ligging na ’n ander nie.

By die dood is daar eweneens geen letterlike verplasing van die aarde na die hemelse ryk wanneer die gees na God ‘terugkeer’ nie. Onthou, die gees is die lewenskrag. Wanneer daardie krag nie meer in iemand is nie, het slegs God die vermoë om dit aan hom terug te gee. Die gees ‘keer dus terug na die ware God’ in die sin dat enige hoop op toekomstige lewe vir daardie persoon nou uitsluitlik by God berus.

Dink byvoorbeeld aan wat die Skrif oor Jesus se dood sê. Die evangelieskrywer Lukas vertel: “Jesus het met ’n harde stem geroep en gesê: ‘Vader, aan u hande vertrou ek my gees toe.’ Toe hy dit gesê het, het hy die laaste asem uitgeblaas” (Lukas 23:46). Toe Jesus se gees uit hom uitgegaan het, was hy nie letterlik op pad hemel toe nie. Jesus is eers op die derde dag uit die dood opgewek. En dit was eers ná 40 dae dat hy na die hemel opgevaar het (Handelinge 1:3, 9). By sy dood het Jesus egter sy gees aan sy Vader oorgegee, met volkome vertroue in Jehovah se vermoë om hom weer lewend te maak.

Ja, slegs God kan iemand weer lewend maak (Psalm 104:30). Watter wonderlike vooruitsigte maak dit tog moontlik!

’n Vaste hoop

Die Bybel sê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Ja, Jesus Christus het belowe dat almal in Jehovah se geheue opgewek, of weer lewend gemaak, sal word. In plaas van hartseer aankondigings dat mense gesterf het, sal vreugdevolle berigte vertel van diegene wat weer lewend gemaak is. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om geliefdes uit die graf te verwelkom!

Sal jy graag meer wil weet oor hoe jy by hierdie godgegewe hoop baat kan vind? Ons nooi jou om na een van die adresse hieronder te skryf vir ’n eksemplaar van die brosjure Geeste van die dooies—Kan hulle jou help of jou skaad? Bestaan hulle werklik?

Tensy anders aangedui, kom alle Skrifgedeeltes uit die Nuwe-Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel